Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon
Kopiereg word
voorbehou.
PRETORIA-MARANATA,
21 Junie 2015 AD, 17:30
Voorsang: Sb 22:1-5
Votum
Ps 23:1 (2e beryming)
Nagmaalsformulier
Gebed
Sing Onse Vader
Tafel in gereedheid
Skriflesing aan tafel: Galasiërs
3:24-4:7; sing aan tafel: Sb 33:1-3
Lofverheffing en Dankgebed
Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 18
Preek
Sb 24:5,6
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
(sing)
Kollekte
Ps 67:1-3
Seën
Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 18
Ons mog vandag aan die nagmaal
die menswording van God se Seun herdenk.
Dit is ook die onderwerp van
artikel 18 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.
‘n Baie toepaslike onderwerp vir
‘n nagmaalspreek.
Tema: Die
menswording van Jesus Christus in die volheid van die tyd
Ons bely met die NGB dat God sy
eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld gestuur het op die tyd deur Hom
bepaal.
In die gedeelte wat ons gelees
het uit die Bybel (Galasiërs 4), word gepraat oor die volheid van die tyd.
Ons gaan vanaand veral stilstaan
by die betekenis van, die geweldige rykdom van, en ook die impak op ons, van
die volheid van die tyd.
Ons Here Jesus Christus het in
alles aan sy broers gelyk geword, soos Hebreërs 2:17 dit verwoord: “sodat Hy ‘n
barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot
God staan, om die sondes van die volk te versoen.”
Die enigste uitsondering was dat
Hy nie sondig was nie.
“ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons
swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos
ons, maar sonder sonde.” (Hebreërs 4:15)
Hy is gebore as mens uit die
geslag van Dawid, volgens al God se beloftes in die Ou Testament.
Dink aan Jeremia 33:15 “In die
dae en in die tyd sal Ek vir Dawid ‘n Spruit van geregtigheid laat uitspruit,
en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land.”
En Jesaja 11:1-2 “daar sal ‘n
takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortesl sal vrugte
dra; en op Hom sal die Gees van die HERE rus...”
Ja God het sy beloftes wat Hy
deur die profete van die Ou Testament geopenbaar het, vervul in die volheid van
die tyd.
Dit was die tyd wat deur God
bepaal is.
Die begrip ‘volheid van die tyd’
kom uit Gal 4:4: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun
uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet
was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.”
Mens kan ook vertaal vervulling van die tyd.
Paulus definieer dit as die
oomblik toe God sy Seun vanuit die hemel gestuur na die aarde.
Hy is op aarde uit ‘n vrou gebore
– Paulus verwys hier indirek na die maagdelike geboorte uit Maria.
En God se Seun is onder die wet
gebore, dit wil sê as deel dus van God se Oudtestamentiese verbondsvolk.
In die Galasiërsbrief skenk
Paulus baie aandag daaraan dat die Jode met die onderhouding van die wet hulle
redding probeer verdien het.
Hulle het nie op God se genade
gefokus nie, maar hulle het gepronk met hulle eie wetswerke.
Hulle het God se wet gebruik om
hulle te onderskei van die heidenvolke, pleks van om ‘n lig vir hulle te wees.
Daardie risiko was ook onder die
Galasiërs aanwesig, en Paulus vermaan hulle met klem om nie die genade wat
hulle in Christus ontvang het, in te ruil met ‘n nuwe lewe onder die wet nie.
Wat was naamlik die geval.
Die Jode het gepoog om redding te
verkry, oftewel die erfenis, deur hulle onderhouding van die wet.
Deur al die eeue van die Ou
Testament het hulle dit egter nie reggekry nie.
Hulle wetswerke was onvoldoende.
Hulle sou tot in oneindigheid
aangesukkel het.
Maar gelukkig, die Vader in die
hemel het toe besluit om sy Seun te stuur.
En sy Seun het deur sy lyde en
sterwe die redding, die erfenis, verwerf.
Ja die Seun het in die eerste
plek gekom vir die Jode, God se ou verbondsvolk.
En dit wat hulle nie met die wet
kon regkry nie, dit het die Messias aan hulle gegee.
Maar die feit dat Hy dit gedoen
het, en die feit dat God se volk nou versoening ontvang het buite die wet om, daardie feit op sig
het nou ook die onderskeid opgehef tussen Jood en heiden.
Want die verskil was altyd, dis
mos waar die Jode hulle op beroem het, dat hulle die Goddelike wet gehad het,
en dat hulle daarvolgens geleef het, in teenstelling tot die heidene.
Dit was die groot verskil tussen
Jood en Griek, Jood en heiden.
Maar in Christus word hierdie
skeidsmuur nou afgebreek.
Die Jode kan hulle nie meer op
hulle wet beroem nie.
Hulle wet het hulle nêrens
gebring nie.
Hulle het geen enkele saligheid
verkry deur die onderhouding van hulle wet nie, inteendeel hulle het elke keer
weer gefaal.
Maar hulle het nou, noudat God sy
Seun gestuur het, wel saligheid verwerf deur Hom, Jesus Christus, buite die wet
om, bloot uit genade.
En soos dit nou vir die Jood
geld, in hierdie nuwe dispensasie, in hierdie nuwe bedeling, hierdie nuwe kans
wat God bied, naamlik redding uit genade, soos hierdie geleentheid nou vir God
se ou volk beskikbaar gekom het, saligheid buite wetswerke om, so bied God nou
ook hierdie selfde geleentheid aan vir die heidene.
Saligheid nie deur wetswerke, nie
deur besnydenis nie, maar saligheid deur geloof in Jesus Christus, deur genade
alleen.
En dit is wat hier genoem word,
gemeente, die volheid van die tyd.
Dit is die groot skarnierpunt in
die geskiedenis, sowel vir God se eie volk, as vir die heidenvolke.
Wat ‘n geweldige geleentheid om
aan te gryp, eerste vir die Jood, maar nou ook vir die Griek!
Hierdie is die unieke oomblik wat
God in sy ondeurgrondelike raadsplan vooruit beplan het, en waarna Hy toegewerk
het.
Hy het die geskiedenis van sy
volk so gelei.
Hy het die wêreldgeskiedenis so
gelei.
Dit is die volheid van die tyd.
Nou is daar al op gewys dat die
tyd toe Christus op aarde was, deur God so beplan is as ‘n buitengewoon
geskikte tyd vir die verspreiding van die Evangelie.
En dat dit ook met hierdie term,
die volheid van die tyd, bedoel word.
Daar was toe naamlik een
wêreldtaal, Grieks.
Dit is ook die taal waarin die
Nuwe Testament geskryf is.
Daar was toe een politieke mag
wat oor ‘n baie groot wêrelddeel, oor baie verskillende nasies, geheers het.
Die Romeinse Ryk.
Daardeur was daar vir iemand wat
‘n Romeinse burger was, baie min grense om oor te steek.
Die apostel Paulus was so iemand.
Verder is daarop gewys dat daar
by die volke in die Romeinse Ryk ‘n sekere geestelike moegheid geheers het vir
hulle eie godsdienste.
Dit het onder andere na vore
gekom in die kritiek wat die filosowe, mense soos Socrates, op die Griekse en
Romeinse godsdiens uitgespreek het, met al sy baie gode en godeverhale.
Verhale oor gode wat nog veel
meer korrup en oneties as die mense geleef het.
Daar het by baie ‘n skeptisisme
geheers oor hierdie veelgodedom.
Al hierdie dinge, word beweer,
het ook te make met die volheid van die tyd.
Aan die ander kant is daar ook op
gewys dat die omstandighede vir die verspreiding van die Evangelie dalk gunstig
was, maar dat die omstandighede vir die aanneming van die Evangelie nie so
gunstig was nie, juis vanweë hierdie skeptisisme wat die mense gehad het.
Dink as ‘n voorbeeld aan hoe die
mense op die Areopagus in Athene op Paulus se prediking gereageer het.
Hulle het nogal skepties
gereageer met die woorde: “Ons sal u weer hieromtrent hoor.” (Hand 17:32)
Daar was maar net enkeles wat
gelowig geword het, soos Dionisius en Damaris.
In Handelinge 17 word ook
spesifiek verwys na die Epikureïese wysgere, wat Paulus as ‘n praatjiesmaker
uitgekryt het.
Die Epikureïese lewensuitkyk was
baie skepties, veral ook ten opsigte van godsdiens.
Epicurus het naamlik geleer dat ‘n mens se hoogste lewensdoel
daarin bestaan het, dat jou eie wense moes bevredig.
‘n Mens het jou ulieme lewensdoel bereik, as jy aan die einde
van jou lewe geen wense meer oor gehad het nie.
As jy elke item op jou wenslysie wat jy in jou lewe graag wou
gedoen of ervaar het, afgetiek het.
Maatgewend vir of jou wense bevredig was, was jou eie gevoel.
Wat genot gee, is goed.
Wat geen genot en bevrediging skenk nie, is sleg.
Die tipiese epikureër wou nie hard werk nie, maar maksimaal
geniet.
Die tipiese epikureër wou homself ook nie bemoei met familie,
politiek of godsdiens nie.
Want dit was alles dinge wat verpligtinge met hulle meegebring
het.
Die tipiese epikureër het net gekonsentreer op sy eie
bevrediging.
Hy het gelewe asof God nie bestaan nie, of altans, asof God
hom nie met die wêreld bemoei nie.
Dus hoef jy jou ook nie oor God te bekommer nie.
Moenie tyd mors met godsdiens nie, gebruik jou tyd net om te
geniet.
Mens kan verstaan dat so ‘n
lewenshouding nou nie juis bevorderlik was vir die dankbare toeëiening van die Evangelie
nie.
Maar gemeente, onder volheid van
die tyd moet mens dus nie verstaan dat mense skielik in geweldige menigtes op
die Evangelie afgekom het nie.
Dis nie die beeld wat ons van in
die Nuwe Testament vind nie.
Dit was nie soos ‘n paar eeue
later, in die 4e eeu nC, toe die
Christendom die staatsgodsdiens geword het, en hordes mense Christene
geword het, dikwels met bymotiewe, omdat hulle anders hulle werk sou verloor
het, of nie in aanmerking sou kom vir ‘n pos in die staatsdiens nie.
So was die situasie beslis nie
met die volheid van die tyd nie.
Maar wat dus wel so was, is dat
die Evangelie vinnig kon versprei oor landsgrense heen na verskillende volke en
nasies.
Dit is deur God so gelei, in sy
wyse raad en beplanning.
Maar ook dit is nie die eerste
betekenis van hierdie term, die volheid van die tyd, of die vervulling van die
tyd nie.
Die primêre betekenis is dat die
tyd aangebreek het dat God, deurdat Hy sy Seun uit die hemel gestuur het,
redding gebring het vir alle mense,
eerstens redding vir sy ou verbondsvolk, die Jode, ‘n redding nie uit hulle eie
wetswerke nie, maar uit genade alleen, en tweedens op dieselfde wyse redding
ook vir alle ander volke, ja vir die hele heidenwêreld.
In hierdie verband is daar nog ‘n
element wat geweldig belangrik is, as ons oor die volheid van die tyd praat.
En dit was die feit dat daar
tussen al die verskillende heidenvolke in daardie tyd Jode woonagtig was.
Die Jode van die Diaspora.
Om die waarheid te sê, daar het
meer Jode buite Palestina gewoon as daarbinne – ek bedoel die landstreke Judea,
Samaria, Galilea, ongeveer die gebied van die onverdeelde volk Israel uit die
Ou Testament.
Van Persië in die Ooste, Egipte
in die Suide tot Rome in die Weste, selfs Spanje, orals was daar Joodse
gemeenskappe.
Hulle het die Woord van God, die
Ou Testament, saamgeneem na daardie gebiede.
Hulle het interaksie gehad met
die heidene.
Daar het Jodegenote en Proseliete
gekom uit die heidene, wat die ware God begin dien het.
Die feit dat daar orals Jode
gewoon het, het natuurlik alles te make gehad met die ballingskap.
Die eerste ballingskap van die
10-stammeryk, ten tye van die Assiriese oorheersing.
En die ballingskap van die
2-stammeryk, ten tye van die Babiloniese oorheersing.
Uit hierdie ballingskappe het
maar ‘n handjievol Jode teruggekeer na die beloofde land.
Die oorgrote meerderheid het in
die Diaspora bly woon.
Of dit reg was, dat hulle nie
teruggekeer het nie, dit is ‘n ander saak.
Dikwels het hulle uit verkeerde,
dalk materialistiese oorwegings, nie teruggekeer nie.
Maar feit is wel dat God die Diaspora
gebruik het om toe te werk na die volheid van die tyd.
Want toe Paulus op sy
sendingsreise gegaan het, het hy orals ‘n Joodse gemeenskap en ‘n sinagoge
aangetref.
En hy het ook heidene aangetref
wat die ware God van Israel alreeds vereer het.
As mens die Ou Testament goed
lees, dan is dit duidelik dat God se verbondsvolk alreeds die opdrag gehad het
om na die heidenvolke uit te reik met die waarheid van God se Woord.
Hulle moes ‘n lig wees onder die
nasies.
Dink aan Psalm 67: God laat sy
aangesig oor Israel skyn, Hy is hulle genadig, sodat al die mense op aarde sy
weg sal ken, al die nasies sy heil.
En die apostel Paulus verwys self
na die profeet Jesaja, waar dieselfde punt gemaak word.
Jesaja 49:6: “Dit is te gering
dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die
gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te
wees tot aan die einde van die aarde.”
Toe Paulus op sy sendingsreis in
Antiochië in Pisidië aankom, en nadat hy in die sinagoge daar gepreek het op die
sabbat, en nadat die week daarna hy weer op die sabbat gepreek het, en byna die
hele stad saamgekom het om die woord van God te hoor, en nadat die Jode, toe
hulle al die skare sien, met nydigheid vervul is en Paulus en Barnabas begin
teëwerk het, toe het Paulus hierdie vers uit Jesaja aangehaal.
Dit was God se plan met Israel.
En toe sy verbondsvolk die
kosbare skat net vir hulleself gehou het, ja dit self nie eers op waarde geskat
het nie, toe het die HERE hulle in ballingskap laat gaan, en so het die HERE
self gesorg dat die heidenvolke kennis maak met sy Woord.
Ja met die ballingskappe van
Israel en Juda, eeue gelede, was God al besig om die volheid, die vervulling
van die tyd voor te berei.
Sodat orals waar Paulus aangekom
het, hy eers die sinagoge kon besoek, en daar Jode en Jodegenote aangetref het.
Toe die volheid van die tyd
aangebreek het, het daar redding beskikbaar gekom, uit genade, nie uit
wetswerke nie.
Toe die volheid van die tyd
aangebreek het, is die skeidsmuur opgehef, tussen Jood en Griek.
Ja so lief het God die wêreld
gehad, dat Hy sy eie Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige
lewe sal hê. (Joh 3:15)
Ook vandag, en in besonder na
hierdie nagmaalsviering, mag ons dit beaam.
Hy is waarlik ons Immanuël!
Ook vandag was Christus baie naby
ons.
Hy was met ons.
Ons was by Hom aan tafel.
Hy het mens geword.
En ter gedagtenis aan sy tyd op
aarde het ons die brood en wyn genuttig.
Ons mog herdenk dat Hy in die
volheid van die tyd sy liggaam en bloed aan die kruis opgeoffer het, tot
versoening van al ons sondes.
Ja toe, in die volheid van die
tyd, het Hy ons ook al in gedagte gehad.
Dat ons vandag hier in
Suid-Afrika, in die 21e eeu, ons wat gelowiges uit die heidenvoke is, blank en
swart, dat ons saam hier nagmaal sou vier, dit het Hy toe al, in die volheid
van die tyd, op die oog gehad.
Kom ons loof en prys God vir wat
in die volheid van die tyd gebeur het.
Christus se menswording, die
vervulling van God se beloftes, in die volheid van die tyd.
Kom ons prys Hom vir wat die
volheid van die tyd ook vir ons beteken het.
Kom ons dank Hom dat dit ook ‘n
impak gehad het op my en jou lewe.
Kom ons sing dit:
Nou bring
die tyd in volheidskringe
die vrug van Gods geheimenis
Gods werk, eers eind'loos hoog verhewe,
daal op 'n aarde in sonde oud,
sodat nou uit ons donker lewe
sy lof kan opstyg duisendvoud.
In toebereide harte en ore,
van volk tot volk, van oord tot oord,
ruis nou - 'n mensheid word herbore! -
die nuwe reddingsboodskap voort.
(Sb 24:5,6 – Efesiërs 1)
Amen.
(kyk in preek)