Die wonderlike werklikheid van die verkiesing

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-05-31
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 16
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
31 Mei 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 18:1-4

Votum

Seën

Ps 132:5

Geloofsbelydenis: Nicea

Ps 132:9

Skriflesing: Efesiërs 1:1-14; 2
Timotheüs 1:1-11; 2 Petr 1:1-12

Ps 120:1

Gebed

Kollekte

Sb 24:1,2

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 16

Preek

Sb 24:4,7

Gebed

Ps 65:1,2,6

Seën

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 16

Tema: Die
wonderlike werklikheid van die verkiesing

Dubbele en
enkele predestinasie

Fatalisme

Doel van die
uitverkiesing

 

 

Dubbele en
enkele predestinasie

‘n Ander woord vir uitverkiesing,
wat veral in die teologie gebruik word, is predestinasie, oftewel
voorbeskikking.

Daar word onderskei tussen
uitverkiesing en verwerping.

Uitverkiesing is God se
onveranderlike voorneme van voor die grondlegging van die wêreld om ‘n menigte
mense uit te kies tot die saligheid, mense wat nie beter of waardiger is as die
ander in die menslike geslag, maar net uit die genade van Christus.

Verwerping is dat nie alle mense
uitverkies is nie, maar dat God in sy ewige verkiesing sommige verbygegaan het,
waardeur hulle in hulle ellende gebly het, waarin hulle hulleself deur hulle
eie skuld gestort het.

 

Hierdie uitverkiesing is nie
omdat God vooruit gesien het watter mense sou gaan glo nie.

Nee, soos die Skrif sê, hierdie
verkiesing is nie uit geloof nie, maar tot geloof.

Die geloof veroorsaak nie die
verkiesing nie.

Maar die verkiesing veroorsaak
die geloof.

Ons is verkore, sodat ons heilig
en onberispelik kan wees – Efesiërs 1:14.

 

Die Here sou nie onregverdig
gewees het, as hy alle mense in hulle ellende gelos het, en nie een uitverkies
het nie.

Hierdie wete maak ons baie
nederig.

Om dit te besef maak ons ook
dubbel so dankbaar.

En maak ons versigtig om met God
te wil debatteer, hoekom Hy sommiges verbygegaan het.

As ons geneig is om met God te
debatteer, dan is dit soos of ons langs God op die troon plaasneem, pleks van
dat ons ons posisie as nietige mense bly besef.

Wie is ons om met Hom te
twis? 

“Maar tog, o mens, wie is jy wat
teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so
gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp
die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?” (Rom 9:20-21)

 

In die teologie word daar wel
gepraat oor dubbele of enkele predestinasie.

Dubbel sou beteken dat God sowel
besluit het om sommiges uit te kies aan die een kant, en om ander te verwerp aan
die ander kant.

Enkele predestinasie sou beteken
dat God slegs vanuit die mensdom die uitgekies het om te red, en die ander in hulle
ellende gelaat het.

Hy het dus enkel gekies om te
red.

Hy het nie gekies om te verwerp
nie.

Dit word bedoel met enkele
predestinasie.

As mens na die woordkeuse in art.
16 kyk, dan dui dit in die rigting van enkele predestinasie.

God is naamlik nie aanspreeklik
vir die feit dat mense nie gered word nie.

Die feit dat mense verlore gaan,
is hulle eie keuse.

Terselfdertyd moet mens ook noem
dat hierdie ons verstand te bowe gaan.

Want as jy dit logies wil
benader, en mens sou redeneer: God het voor die grondlegging van die wêreld al
hulle uitgekies wat gered sou word, dan was dit voor die grondlegging van die
wêreld, dus selfs voor die sondeval, ook al duidelik wie verwerp sou word.

Dis mos ‘n eenvoudige sommetjie
om te maak.

Van die totale mensdom trek jy
hulle af wat gered sou word, en dan hou jy diegene oor wat verlore gaan...

Inderdaad, as mens dit so logies
benader, kom jy in die vaarwater om God aan die een kant verantwoordelik te hou
vir die feit dat mense hel toe gaan,

of aan die ander kant sal jy dalk
redeneer dat God eers tot na die sondeval moes gewag het om sy beslissing te
maak...

Maar in beide gevalle loop mens
vas, as jy dit met bloot menslike logika benader.

 

In die teologie word daar ook wel
gepraat van supra- en infralapsarisme.

Kom ek probeer verduidelik wat
hierdie duur terme beteken, en dan kyk ons ook na die praktiese implikasie.

Die woord lapsarisme verwys na
die sondeval.

Dink aan die Engelse woord
“lapse” wat val beteken.

Dan beteken die woord ‘supra’ bo
of voor en ‘infra’ beteken onder of na.

Supralapsarisme beweer dat
verkiesing en verwerping voor die
skepping en sondeval plaasgevind het.

Infralapsarisme beweer dat
verkiesing en verwerping eers na die
skepping en sondeval plaasgevind het.

In die belydenisskrifte word geen
uitspraak gedoen ten gunste van die een of ander nie.

In die Skrif vind ons ook nie so
‘n streng kronologiese volgorde nie.

Want om so te redeneer, beteken
dat mens God en sy dade eintlik probeer inpas in ons kronologiese stelsels, ons
denkraamwerk wat tyd en oorsaak en gevolg betref.

Maar God is ver daarbo verhewe.

As ons na die Skrif kyk, en die
belydenis formuleer ook so, dan staan daar dat God deur sy genade die gevalle mens uitverkies het.

Hierdie woordkeuse is duidelik
infralapsaries.

Dit wil sê, God bewys barmhartigheid
aan die in sonde gevalle mens, deur Hom uit te kies.

In die sin is die uitverkiesing
‘n gevolg van die sondeval.

Want as daar geen sondeval sou
plaasgevind het nie, sou die uitverkiesing ook nie nodig gewees het nie.

 

Terselfdertyd besef ons ook dat
God se genadige verkiesing plaasvind volgens sy ewige raad.

Mens moet altyd met twee woorde
praat wat betref hierdie onderwerp.

Of, om ‘n ander beeld te gebruik,
‘n muntstuk het twee kante.

Mens kan nie altwee kante tegelyk
sien nie.

Tog maak altwee kante saam die
muntstuk.

 

 

(Tema: Die wonderlike werklikheid
van die verkiesing

Dubbele en
enkele predestinasie

Fatalisme

Doel van die
uitverkiesing)

 

 

Fatalisme

Ek wil, gemeente, hier baie
nadruk op lê.

Wat betref hierdie onderwerp, die
uitverkiesing, moet jy oppas dat jou gedagtes nie op hol raak nie.

As jy eensydig aanhou fokus op
net die een kant van die muntstuk, dan gaan jy verstrengel raak in jou eie
gedagtes.

Dan gaan jy ongelukkig raak, dan
gaan jy uitkom op ‘n soort determinisme.

Determinisme maak ‘n mens
ongelukkig.

Dan is om na te dink oor die
uitverkiesing nie meer iets wat jou gerusstel en vertroos nie, maar iets wat
jou eerder onrustig maak.

Nounou nog meer hieroor.

 

Pasop dus dat jou gedagtes op hol
raak, en jy uitkom by ‘n soort determinisme of fatalisme.

Wat is fatalisme?

Dit beteken in hierdie verband
dat God lank gelede, van ewigheid af, alles beslis het, en alles
voorgeprogrammeer het, en nou gebeur dit presies so.

Mens kan dit vergelyk met ‘n film
en die vertoning van die film.

As die film geskiet word, dan
word dit vasgelê op ‘n filmrol – deesdae is dit dalk digitaal.

Daarna word die film in ‘n
projektor gesit, en dan word dit vertoon.

Soos die film geskiet is, soos
dit vasgelê is op die filmrol, so word dit op die skerm vertoon.

Daar is nie ‘n verskil tussen die
een en die ander nie.

Nou is fatalisme is as ons op
hierdie manier oor God se raad dink.

Voor die skepping sou God alles
voorgeprogrammeer het, en nou draai die film van die wêreldgeskiedenis af,
presies soos dit in God se gedagtes lank gelede gemaak is.

Maar gemeente, let wel, hierdie
is NIE soos die Skrif praat nie.

Hierdie is ‘n eensydige
fatalistiese voorstelling.

Dit moet baie duidelik wees, en
dit is nie goed om so te dink nie.

 

Neem byvoorbeeld ‘n Bybelteks
soos 2 Petrus 1:10:

“Daarom, broeders, moet julle jul
des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle
dit doen, sal julle nooit struikel nie.”

As fatalisme korrek was, dan sou
hierdie teks onmoontlik wees, dan sou hierdie teks nie sin maak nie.

Hoe is dit moontlik om jou
verkiesing vas te maak?

Verkiesing is verkiesing en
verwerping is verwerping.

Daaraan kan niks verander word
nie.

Dis die fatalistiese uitkyk.

MAAR die Skrif praat dus NIE SO
NIE.

Die Skrif roep ons op tot aktiewe
inspanning, sodat ons ons verkiesing nie versuim nie...

Die Skrif fokus nie eensydig net
op die een kant van die muntstuk nie.

Die Skrif sê èn dat alles gebeur
volgens God se wil, èn dat God bedroef en vertoornd kan wees oor dit wat gebeur
het.

Hierdie klink vir ons
teenstrydig.

Ons kan nie altwee kante van die
muntstuk tegelyk sien nie.

Ons sou self God moes wees om dit
te kan verstaan, hoe God alles reeds van ewigheid af bepaal het en volgens sy
raad bestuur, maar God hoe terselfdertyd ook geen mens dwing nie en elke mens
vrylaat.

Die Skrif spreek sowel oor God se
besturing en oor ons optrede, ons verantwoordelikheid.

Dink maar aan ‘n Bybelvers soos
Handelinge 2:23, waar Petrus vir die Jode sê: “Hom wat deur die bepaalde raad
en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose
manne geneem en gekruisig en omgebring”.

Petrus sê nie: Julle het die
Messias gekruisig, julle het Hom aan die Romeine oorgelewer het, maar eintlik
kon julle dit nie gehelp het nie, want eintlik was dit gewoon God se raad en
voorkennis...

As Petrus so sou gepraat het, sou
dit fatalisties gewees het.

Maar dit is nie wat Petrus sê
nie.

Ja, daar is God se raad en
voorkennis, maar terselfdertyd is die Jode 100% skuldig vir wat hulle gedoen
het.

 

Gemeente, hierdie soort
determinisme of fatalisme is iets wat baie van ons in sy greep het.

Dit plaas ‘n domper op jou
geloofslewe.

Dit het al selfs gesorg dat
sommige mense, Gereformeerdes, die geloof vaarwel gesê het.

Jy dink dis wat die Bybel leer,
jy dink dit is wat die Dordtse Leerreëls ook sê.

Dit veroorsaak dat niks meer sin
maak nie, want alles is vooruit bepaal, geprekondisioneer.

Sulke denke maak jou moedeloos,
dit maak jou onverskillig.

 

Gemeente, dit is geweldig
belangrik dat ons met sulke soort denke breek.

Net om dinge in perspektief te
plaas.

In die dae van die Reformasie, en
toe die NGB geskryf is, was die aandag meer op iets anders gerig.

Toe was daar die polemiek, die
debat, oor goeie werke, en of hulle bydra tot jou saligheid.

Maar in ons tyd dink ek nie daar
is iemand hier in die kerk wat nog meen dat sy goeie werke iets doen aan sy
saligheid nie.

Dit is nie meer iets wat ons
werklik besig hou nie.

Ons aanvaar die Protestantse
belydenis van sola gratia, en dit
veroorsaak by ons nie werklik geloofstwyfel nie.

In ons tyd egter, beïnvloed deur
die rasionalisme en sogenaamde Verligting, gaan die debat eerder oor die
fatalisme.

Ek dink daar is heelwat mense hier
in die kerk wat die neiging het tot fatalistiese denke, veral wat betref die
uitverkiesing.

Dit is iets wat ons deesdae baie
meer pla.

Daarom is dit belangrik om
hieraan aandag te skenk.

Die fatalisme, die noodlotsleer,
en die determinisme, dat alles ‘n geslote ketting van oorsaak en gevolg is, dit
is ‘n manier van denke wat indruis teen die Skrif.

Want die Woord van God openbaar
aan ons dat God se beskikking, sy ewige raad, nie ons eie verantwoordelikheid
wegneem nie.

Hy behandel ons nie as ‘stokke en
blokke’ nie, om die Dordtse Leerreëls se uitdrukking te gebruik.

Dit is nie die bedoeling van die
uitverkiesingsleer om ‘n aktiewe geloofslewe lam te lê, om ‘n Christen onder te
dompel in twyfel en fatalisme nie.

Ja die Skrif openbaar aan ons dat
God onveranderlik is, dat sy raad onbeweeglik is.

Terselfdertyd openbaar die Skrif
ons God as die verhoorder van gebede, die God wat berou kan hê, die God wat
begaan is oor die lot van sondaars op aarde.

 

 

(Tema: Die wonderlike werklikheid
van die verkiesing

Dubbele en
enkele predestinasie

Fatalisme

Doel van die
uitverkiesing)

 

Doel van die
uitverkiesing

Dit bring ons by die doel.

Met watter doel het God in sy
Woord die uitverkiesing aan ons geopenbaar?

Uit die Skrif kan ons twee redes
aflei, waarom God die werklikheid van die uitverkiesing nou al, tydens hierdie
aardse lewe, onder ons aandag wil bring.

Die eerste doel is dat dit strek
tot heerlikheid van God.

Die uitverkiesing is geopenbaar sodat
ons God nog meer sal verheerlik.

Met die belydenis van die
uitverkiesing gee ons alle eer vir ons verlossing aan die Here.

En dan, in die tweede plek, is die
uitverkiesing geopenbaar om ons te troos.

Om ‘n voorbeeld uit die Skrif te
noem: in 2 Timotheüs 1 troos en bemoedig Paulus vir Timotheüs.

Timotheüs is deur God geroep vir
‘n spesifieke taak en hy het ook gawes ontvang om dit te kan doen.

Die rede hoekom hy geroep is was
nie omdat Timotheüs self deur sy eie werke daarvoor gekwalifiseer het nie.

Want as dit so was, dan sou daar
die risiko bestaan dat hy homself in die toekoms dalk ook weer kon
diskwalifiseer, deur verkeerde werke.

Maar gelukkig, dit is nie so nie.

Sy roeping berus nie op sy eie
wankelrige kwalifikasies nie.

Sy roeping berus op uit God se
genadige voorneme, wat Hy al vir Timotheüs reeds van ewigheid af gehad het.

Paulus skryf dit vir Timotheüs,
want dit kan vir hom ‘n troos wees, en dat hy goeie moed sal hou.

Hy “wat ons gered en geroep het
met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme
en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is” (2 Tim 1:9)

En dieselfde geld vir ons ook.

Jou roeping berus op God se
genadige verkiesing.

Soos ons in Romeine 9 lees: “So
hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van
God wat barmhartig is.” (Rom 9:16)

 

In die Skrif word daar eintlik
gereeld oor God se uitverkiesing gepraat.

Dit is nie ‘n obskure onderwerp
nie.

Die Skrif gebruik verskillende
woorde hiervoor.

Ons kan dink aan God se
voorkennis, sy voorneme, sy bepaalde raad, sy ewige raad, sy onveranderlike
raad, sy besluit, sy welbehae.

Verskillende woorde wat wys op
God se verkiesing.

Telkens as in die Skrif die
uitverkiesing ter sprake kom, het dit ten doel om God te verheerlik deur ons op
sy soewereiniteit te wys, en om tot ons vertroosting te wees.

 

Gemeente, as hierdie die doel is
vir die openbaring van die uitverkiesing, is dit belangrik dat ons hierdie
leerstuk, hierdie werklikheid, ook so hanteer.

As jou nadenke oor die
uitverkiesing vir jou twyfel en onsekerheid gee, dan hanteer jy die
uitverkiesing verkeerd.

Dan het jy die kat aan die stert
beet.

Dan het jy eensydig geraak, en
oorbeklemtoon jy die een kant van die muntstuk.

Want nadenke oor die
uitverkiesing behoort, as dit goed is, nooit tot twyfel en onsekerheid te lei
nie.

Dit moet juis lei tot
vertroosting, tot gemoedsrus, lei.

Tot die begeerte om God te
verheerlik.

 

Dit is belangrik dat ons as ouers
ons kinders leiding gee om juis op hierdie manier met die uitverkiesing kennis
te maak.

En dit geld ook vir die leiers
van die jeugvereniging, onderwysers op skool, ensovoorts.

‘n Paar jaar gelede het ons op
die sendingveld ook besin of ons die uitverkiesing ‘n plek sou gee in die
kursus vir nuwe lede.

Sou dit wys wees?

Sou dit die mense nie dalk verwar
nie?

Sou dit hulle nie dalk passief en
fatalisties maak, terwyl hulle juis hulle aktief moet bekeer, en by die kerk
moet aansluit?

Inderdaad, gemeente, as mens die
uitverkiesing verkeerd benader, dan lei dit tot fatalisme.

Maar die Skrif wys ons ‘n ander
weg.

 

In die ‘new member classes’ wat
ek aangebied het op die sendingsveld, het ek nie met die uitverkiesing begin
nie.

Ons het eers baie nadruk op die
persoon se verantwoordelikheid gelê.

Die oproep tot bekering.

Die oproep tot toewyding aan
Christus.

Die oproep om by die kerk aan te
sluit.

En teen tweederde of driekwart
van die kursus was daar ‘n moment dat spesifiek gevra is:

Het jy jou bekeer?

Het jy jou lewe aan Christus
toegewy?

Het jy besluit om kerklid te
word?

As die persoon met oortuiging ja hierop geantwoord het, het daar nog
‘n paar lesse gevolg, oor wat dit beteken om lid van die kerk te wees.

En lesse oor die sakramente, oor deelname
aan die nagmaal.

En dan, rigting die einde van die
kursus, het ek ook aan die uitverkiesing aandag geskenk.

Deur heel prakties die vraag te
vra:

Jy het nou besluit om jou lewe
aan die Here te wy, jy het besluit om kerklid te word.

Jy het jou bekeer.

Maar, dink nou bietjie terug.

Hoe het jy eintlik tot by hierdie
punt gekom?

Het jy al daaroor nagedink of dit
toevallig was dat ‘n sendeling op ‘n goeie dag op jou deur geklop het?

Het jy al daaroor nagedink of dit
toevallig was dat juis binne loopafstand van jou huis, ‘n paar jaar gelede daar
‘n kerk gebou is?

Was dinge soos hierdie toevallig?

As mens so na die saak kyk, begin
jy besef dat God al langer besig was om dinge voor te berei.

Dit was God wat die sendeling op
jou deur laat klop het.

Dit was God wat hom in diens
geneem het.

Dit was God wat gesorg het dat hy
êrens in die verlede as sendeling opgelei is.

Dit was God wat gesorg het dat
daar ‘n kerk, êrens ver weg, die noodsaak gesien het om ‘n nuwe kerk te plant
hier in jou omgewing.

Dit was God wat vir daardie
sendende kerk gesorg het.

Dink aan die woorde van die Here
Jesus:

“Niemand kan na My toe kom as die
Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Joh 6:44)

En Johannes 15:16: “Julle het My
nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te
gaan dra”

 

En so kan mens aangaan, tot in
oneindigheid, oor alles wat God in die verlede gedoen het, om jou tot op
hierdie punt te bring.

Inderdaad, uiteindelik kom jy uit
by God se ewige raadsplan.

Dus, om saam te vat, die ‘new
member classes’ het begin met die een kant van die muntstuk.

Maar later is ook aandag geskenk
aan die ander kant.

God het ons “in Hom uitverkies
het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in
liefde te wees” (Efesiërs 1:4)

“En toe die heidene dit hoor, was
hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig
geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Hand 13:48)

Hierdie woorde is vandag nog net
so van toepassing, op die sendingsveld, en op elkeen wat die stap neem om hom
of haar tot die Here te bekeer.

 

En so mag ons ook die volle
rykdom van die Skrif op ons laat inwerk, as ons oor die uit

verkiesing nadink.

 

Beide kante van die muntstuk, wat
ons nie tegelyk kan sien nie, wat ons nie logies kan beredeneer of aan mekaar
vas kan knoop nie.

Tog is altwee kante daar, en die
Skrif openbaar hulle duidelik.

 

Gemeente, as ons so, met die
gebalanseerdheid van die Skrif, die uitverkiesing benader, sal dit minder
debatte tot gevolg hê, en meer verwondering.

En dit was God se bedoeling.

Verwondering en verheerliking van
sy Naam.

En vertroosting en gemoedsrus vir
elkeen wat sy knieë voor Hom buig.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)