Die Bybel is betroubaar

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-05-10
Teks: 
Kolossense 4 : 7-18
Preek Inhoud: 


Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
10 Mei 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 13:1-5

Votum

Seën

Ps 24:4,5

Wet

Ps 107:2,4

Skriflesing: Handelinge 23:12-35

Ps 94:9,10

Skriflesing: Filemon 1

Ps 107:20,21

Teks: Kolossense 4:7-18

Preek

Ps 119:39,60

Gebed

Kollekte

Ps 89:6

Seën

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 


 

Preek:
Kolossense 4:7-18

Die afgelope weke het ek ‘n
aantal preke uit Kolossense gehou.

Ons het ons verdiep in hierdie
brief van Paulus, en ons het probeer uitvind watter boodskap dit vir ons vandag
het.

Ons het dit gedoen omdat hierdie
brief deel van die Bybel is.

Daarom neem ons aan dat hierdie
brief betroubaar is.

Maar hoe kan ons dit seker weet?

Hoekom is die Bybel, inklusief
Kolossense, wel God se Woord en die Koran byvoorbeeld nie?

 

In hierdie preek kyk ons na die
laaste gedeelte uit die Kolossensebrief.

‘n Klomp los opmerkings,
sydelingse opmerkings, lyk dit.

Groeteboodskappe.

Was dit werklik nodig om al
hierdie opmerkings ook in die Bybel op te neem?

 

Tema: Die
Bybel is betroubaar

 

Die Bybel is betroubaar.

Dit sien ons juis ook, gemeente,
in hierdie sydelingse opmerkings van ons teks.

Wat bedoel ek hiermee?

Ek bedoel dat mens juis ook uit
die klein detail in die Bybel kan aflei dat dit nie maar net ‘n verhaal is wat
op ‘n later stadium versin is nie.

Hierdie klein op eerste gesig onbelangrike
opmerkings onderstreep juis die historiese betroubaarheid.

Dat hierdie werklik ‘n baie ou
brief is, en dat dit ook werklik deur die apostel Paulus geskryf is.

Neem byvoorbeeld die volgende.

Ons kan uit ons teks aflei dat
Paulus in die tronk was.

Dit stem ooreen met Paulus se
lewensgeskiedenis.

Paulus het naamlik in elk geval
twee keer vir geruime tyd gevange gesit.

‘n Keer in Caesarea, en ‘n keer
in Rome.

In Caeserea het hy maar liefs
twee jaar lank in die tronk gesit.

Caeserea was ‘n stad naby
Jerusalem.

Ons het hieroor gelees in
Handelinge 23.

In hierdie periode, dit was
ongeveer die jare 58-60 nC, het hy waarskynlik drie briewe geskryf wat ‘n plek
in die Bybel gekry het.

Filippense, Kolossense en
Filemon.

Ons het ook die kort brief aan
Filemon gelees.

Wat het dit alles te make met die
betroubaarheid van die Bybel?

Uit hierdie gedeeltes kry ons
inligting oor Paulus se lewe.

Dit stem ooreen met die tyd en
omstandighede waarin hy gelewe het.

Ons vind ook in ons teks name van
mense wat toe regtig gelewe het.

Name van gewone mense, met ‘n
kort opmerking by elkeen van hulle.

 

So skryf Paulus oor Tichikus.

Paulus was van plan om die brief
met Tichikus saam te stuur.

Ook lees ons oor Onesimus.

In die brief aan Filemon het ons
sy naam ook teengekom.

Onesimus was die slaaf wat
weggeloop het.

Hy was die aanleiding waarom
Paulus die kort briefie aan Filemon geskryf het.

Filemon, Onesimus se baas, het na
alle waarskynlikheid in Kolosse gewoon.

Want, as mens die briefie aan
Filemon vergelyk met Kolossense, sal jy sien dat Paulus daarin dieselfde mense
groet.

En dis opvallend dat Paulus hier
in ons teks vir Onesimus, wat ondertussen tot bekering gekom het, ook ‘n
getroue en geliefde broeder noem.

Nie net sy baas Filemon, maar die
hele gemeente mag dit weet!

Verder is dit so, dat Paulus
waarskynlik die briefie aan Filemon tegelykertyd saam met die Kolossensebrief
na Kolosse gestuur het.

Paulus het die briefie aan
Filemon naamlik ook in die gevangenis te Caesarea geskryf.

En ons lees ook hier dat
dieselfde Onesimus, saam met Tichikus, vanaf Paulus na Kolosse sou vertrek.

Wat het hierdie name – Tichikus,
Onesimus en Filemon -  eintlik te make
met die betroubaarheid van die Bybel?

Wel, dit is so mooi, gemeente, as
jy agterkom dat die een detail in die Bybel die ander detail nie weerspreek
nie, maar juis aanvul.

 

Tichikus en Onesimus was dus so
te sê die posbodes.

Dit was nie snaaks nie, dat was
die gewone manier in daardie tyd.

‘n Betroubare manier om die brief
op die regte adres te kry, was om dit met ‘n bekende persoon saam te stuur.

Dit lees ons ook hier.

Paulus het dit nie eens nodig
geag dat alles opgeskryf moes word nie, want – so lees ons – Tichikus sal
mondeling aan die mense oordra hoe Paulus se omstandighede in die gevangenis
is.

 

Ek noem verder nog ‘n paar name
waaroor Paulus skryf, name van mense wat regtig gelewe het:

Aristarchus, ‘n medegevangene van
Paulus.

Ons weet uit die boek Handelinge
dat hierdie Aristarchus vir Paulus sou vergesel op sy reis na Rome, nadat
Paulus hom op die keiser beroep het.

 

Verder is daar Markus, die neef
van Barnabas.

Paulus skryf oor hom: “Markus, die neef van Bárnabas, oor wie julle
bevele ontvang het--as hy by julle kom, ontvang hom” (vers 10)

Hierdie woorde klink ‘n bietjie
vaag.

Wat het Paulus daarmee bedoel?

As jy dit wil verstaan, moet mens
iets meer oor die voorgeskiedenis weet.

Ons lees naamlik oor hierdie
Markus ook in Handelinge (Hand 12 & 15).

Hy was Barnabas se neef.

Hierdie Markus was destyds die
aanleiding dat daar verwydering, verbittering, onenigheid tussen Paulus en
Barnabas ontstaan het.

Nou lees ons egter die
omgekeerde.

Paulus beveel die gemeente in
Kolosse om Markus gasvry te ontvang!

Dit lyk dus of die konflik tussen
Paulus aan die een kant, en Barnabas en Markus aan die ander kant, in die
tussentyd beëindig is.

Paulus klink hier baie positief
oor Markus.

In die brief aan Timotheüs vra
Paulus selfs vir Timotheüs om Markus saam te neem, omdat Paulus Markus goed kan
gebruik.

Dis pragtig om dit alles te lees.

So sien mens dat onenigheid
tussen Christene, wat ook maar gewone mense is, tog opgelos word!

As jy luister na en leef volgens
die evangelie, bring dit vrede en los konflikte op.

 

En wat het dit alles met die
betroubaarheid van die Bybel te make?

Dit naamlik: wat ons in die Bybel
lees, is histories.

Ons lees nie net vae sprokies,
buite-aardse wyshede nie, maar konkrete riglyne vir die lewe in God se
koninkryk.

Die evangelie het hande en voete
gekry in die eerste Christelike gemeentes, in die lewens van die vroë
Christene, waaroor ons in Paulus se briewe lees.

 

Ons gaan verder met die ry name.

Paulus skryf ook oor Jesus wat
Justus genoem word.

Jesus, dit was ‘n gewone naam in
daardie tyd.

En Justus is die Latynse vorm
daarvan.

Ons lees hier dat hierdie Justus
‘n Messiasbelydende Jood was, net soos Aristarchus en Markus.

Hulle was waarskynlik drie Joodse
vriende in die geloof.

Uit wat hier staan kom ons agter
dat hulle geweldig baie vir Paulus beteken het.

En mens kan dit jou voorstel.

Dit feit naamlik dat Paulus in
die tronk gesit het, dit was die skuld van die Jode.

Hulle het geprobeer om ‘n
sluipmoord op hom te pleeg.

Ons lees daarvan in Handelinge.

Maar gelukkig het Paulus
ongedeerd daarvan afgekom, en was dit ‘n bedekte seën dat hy nou veilig in ‘n
Romeinse tronk gesit het.

Dink net hoe bemoedigend dit vir
hom moes gewees het, dat daar ten minste wel drie van sy eie volksgenote was,
wat agter hom gestaan het en die evangelie wat hy verkondig het.

 

Ook Epafras groet julle, skryf
Paulus aan die Kolossense.

Hy is een van julle!

Hy is ‘n dienskneg van Christus
Jesus.

Paulus gee hier ‘n goeie
getuienis oor Epafras.

Epafras het geweldig baie vir
julle gedoen, en ook vir die Christene in Laodicea en Hiërapolis.

Vers 13: hy het ‘n groot ywer vir
julle.

Wat beteken dit presies?

Gemeente, uit die res van die
Kolossensebrief het duidelik geword dat Paulus die mense in Kolosse op ‘n paar
punte indringend moes vermaan.

Epafras, Paulus se medewerker,
dit ook gedoen.

Byvoorbeeld teen ‘n verkeerde
Griekse wysheid.

En teen die dwaasheid van vertroue
op menslike tradisies.

Hy was waarskynlik die een wat
die gemeente daar geplant het.

Epafras het ook vermaan.

Maar, Epafras is nie nou meer in
Kolosse nie.

Tussen die reëls deur kom mens
agter dat Paulus dit vir Epafras opneem.

Miskien het die mense in Kolosse,
Laodicea en Hiërapolis bietjie moeg vir hom geword, gehoop dat hy na elders
beroep sou word.

Omdat hy hulle onophoudelik
gewaarsku het.

Maar Paulus neem dit dus op vir
Epafras.

Hy het belangrike werk verrig in
die gemeentes.

Aan die begin van die brief,
Kolossense 1:7, vermeld Paulus sy naam ook op eervolle wyse.

 

Die Bybel is betroubaar.

Die Skrifte pas soos ‘n legkaart
in mekaar.

Dit sien ons ook in die
mededeling oor die geneesheer Lukas.

Die geneesheer Lukas, die
geliefde, staan daar.

Paulus bedoel: hy is my vriend.

Lukas was naamlik ‘n goeie
bekende vir Paulus.

Ons weet dit uit die boek
Handelinge.

En wat ook baie opvallend is, is
dat ons hier lees dat Lukas ‘n dokter was.

Lukas, dieselfde persoon wat die
evangelie geskryf het.

Hierdie opmerking verklaar ook baie
van dit wat ons in die Lukasevangelie lees.

Want as mens hierdie evangelie
lees, en dit vergelyk met die ander drie evangelies, val dit op dat in Lukas se
beskrywing veel meer aandag geskenk word aan al die genesings wat die Here
Jesus verrig het.

En ook die manier waarop Jesus mense
gesond gemaak het.

Dit is dus nie toevallig nie, kan
ons uit hierdie opmerking van Paulus aflei.

Lukas was naamlik self ‘n dokter,
en dit was vir hom ekstra interessant.

 

Die Bybel is betroubaar.

Die historiese details wat ons
daarin vind, werk verhelderend.

Nie verduisterend nie, soos mens
dit kan sê van byvoorbeeld die Koran, die boek van die moslims.

As mens na die details in die
Koran kyk, laat dit mens eerder kopkrap.

So word die persoon Maria, Jesus
se ma, in die Koran verwar met Mirjam, die suster van Moses.

Dit was ‘n historiese vergissing
wat Mohammed gemaak het.

Want Maria en Mirjam het eeue uit
mekaar geleef.

Tussen hakies, as ek hierdie so
openlik sou sê as ek in ‘n Midde-Oosterse land is, kry ek gevangenisstraf.

Dit is verbode om ‘n smadelike
woord oor Mohammed te spreek.

Maar so word die mense in die
Midde-Ooste dus gekeer om die waarheid te hore te kry.

Onder andere dat Maria, Jesus se
ma, nie die suster van Moses was nie.

Mohammed het waarskynlik hierdie
fout gemaak omdat Maria in Arabies Mariam is, net soos Mirjam.

In Arabies dus naamgenote.

Maar dit beteken nie hulle was
dieselfde persoon nie.

Daar was meer as duisend jaar
tussen hulle.

Laat ons bid dat die waarheid mag
klink ook in die Midde-Ooste.

Nie net wat betref hierdie
historiese vergissing nie, maar veral wat betref Jesus Christus se kruisdood,
sy opstanding, sy genade, ja sy evangelie!

 

Die Bybel is betroubaar, ook in
die details van ons teks.

Wie was Demas eintlik, oor wie
ons ook in die teks lees?

Paulus bring naamlik die groete
oor van Demas.

Ons weet nie soveel van Demas
nie.

Maar dit lyk asof dit met Demas
presies andersom gegaan het as met iemand soos Onesimus, wat ‘n weggelope slaaf
was, en later Christen geword het.

Ons lees in Kolossense niks meer
oor Demas nie.

Maar wel in 2 Timotheüs.

Daar lees ons dat Demas
onverskillig geraak het.

Hy het Paulus verlaat, hy het die
teenwoordige wêreld liefgekry (2 Tim 4:10).

 

Gemeente, in die Bybel lees ons
nie net die suksesverhale nie.

Die Bybel gee die werklikheid
weer.

En daarom sien ons van digby die
stryd tussen goed en kwaad.

Die uitbreiding van die
evangelie, maar ook die teenstand wat sy kop opgesteek het.

Tog het die evangelie wel verder
gegaan, die teenstand ten spyt.

Want die Heilige Gees het die
apostels gelei.

Sy inspirasie het die apostels
aangevuur.

 

Die gelowiges in Kolosse moes
Paulus se groete ook oordra aan die susterkerke (vers 15-16).

Byvoorbeeld in Laodicea en
Hiërapolis.

Hierdie twee stede was naamlik
buurstede van Kolosse, altwee ongeveer 20 km vanaf Kolosse verwyderd.

Hierin sien ons ‘n aansporing om
te funksioneer as kerkverband.

Onderlinge belangstelling vir
mekaar.

Onderlinge bemoediging, veral ook
in moeilike sake.

Dit leer ons uit so ‘n oproep van
Paulus om mekaar te groet.

Dit is daarom nie sommer net dat
daar dinge bestaan soos ‘n klassis en ‘n sinode nie.

‘n Klassis waar susterkerke
bymekaar kom om mekaar te help.

Is daar byvoorbeeld in ons kerk
‘n tugsaak, word die susterkerke daarin betrek.

En is daar ‘n meningsverskil tussen
kerke, dan word dit op ‘n broederlike wyse opgelos.

Dit is ‘n seën as daar meer as
een gemeente in ‘n bepaalde gebied is.

Maar dit vra ook wysheid en
toegewydheid om die band dan gesond te hou.

As Paulus skryf: groet die
susterkerke, deel hierdie brief ook met hulle, sodat dit ook in Laodicea
voorgelees word, en sorg dat julle ook die brief lees wat ek aan Laodicea
geskryf het – as Paulus al hierdie dinge skryf – dan is dit ‘n oproep ook aan
ons:

Toon belangstelling in jou
sustergemeentes.

Dit is ‘n voorreg dat hulle so
naby aan ons is,

Pretoria-kerk, so 5 km na die
weste, Mamelodi, so 15 km na die ooste, Soshanguve, 40 km na die noordweste,
Johannesburg, 60 km na die suidweste.

Leef saam met hulle.

Hulle probleme is ook jou
probleme.

En jou swakhede as gemeente het
ook hulle liefdevolle aandag.

Wees suinig op die
susterkerkband.

Dit is so maklik om praatjies te
hê en te polariseer.

Laat ons moeite doen, en wysheid
voor die dag lê, om die bande gesond te hou.

En mag die Here dit so lei dat
daar in die toekoms nog baie susterkerke mag bykom, wat met ons op dieselfde
fondament bou.

 

Die Bybel is betroubaar.

In vers 16 leer ons iets oor die
ontstaan van die Bybel.

Paulus het geskryf aan die
gemeente in die stad Kolosse.

In sy brief maak Hy God se wil
aan hulle bekend, die evangelie toegepas op hulle situasie.

Tog is hierdie brief nie tot
Kolosse beperk nie.

Die brief is eers daar voorgelees
– onthou in daardie tyd kon die meeste mense nog nie self lees nie.

Die brief is, kan ons ons
voorstel, tydens die erediens op Sondag voorgelees.

Heel moontlik was daar ‘n persoon
wat kon skryf en as skriba dit gekopieer het.

Maar daarna, beklemtoon Paulus,
moes hulle sorg dat die brief ook in die gemeente te Laodicea voorgelees word.

En omgekeerd ook, dat Laodicea se
brief ook in Kolosse gelees word.

Ons kan hieruit opmaak dat Paulus
ook ‘n brief aan die Laodicense geskryf het.

Ons het in die Bybel ‘n brief aan
die Laodicense, maar dit is geskryf deur die apostel Joahnnes, as deel van die
boek Openbaring.

Hoekom hierdie brief van Paulus
aan die Laodicense nie in die Bybel ‘n plek gekry het nie, weet ons nie presies
nie.

 

Moontlik het hierdie brief van
Paulus aan Laodicea nie bewaar gebly nie.

Ek sê, moontlik.

Want daar is wel ‘n moontlikheid
dat die brief van Paulus aan die Laodicense wél in die Bybel staan.

U wonder dalk, nou waar dan?

Wel, die brief van Paulus aan die
Efesiërs, ‘n vir ons bekende brief, kan moontlik die brief van Paulus aan die
Laodicense wees.

As ons lees in Efesiërs 1:1:
“Paulus... aan die heiliges wat in Efese is...”, dan is dit so dat die woorde
“in Efese” in baie van die ou en betroubare Griekse manuskripte nie voorkom
nie.

Aan die ander kant, ons lees ook
nêrens in Efesiërs die naam van die stad Laodicea nie.

Dit is goed moontlik was dat die
Efesiërsbrief ‘n rondsendbrief van Paulus was aan verskillende gemeentes in
Klein-Asië, waaronder Efese en Laodicea.

Hoe dan ook, hierdie twee stede
lê nie ver uitmekaar nie, ongeveer 150 km.

Dalk is die Efesiërsbrief die
brief wat hier in vers 16 bedoel word.

Die besluit van die
Bybelvertalers om te kies vir die naam Efesiërs bo aan die brief, het egter
goeie papiere.

Dit is in ooreenstemming met hoe
die kerk deur die eeue daardie brief genoem het.

 

Die Bybel is betroubaar.

Ook in die beeld wat dit skets
van die toenmalige omstandighede.

Deur so ‘n enkele paar opmerkings
word ‘n hele konteks, ‘n hele leefwêreld vir ons bekend.

Hoe die christelike kerke gefunksioneer
het.

Dit was toe nog maar baie jong
gemeentes.

As ons vandag deur ons land ry,
sal jy in elke dorp wel ‘n kerktoring sien.

Dit was toe nog nie so nie.

Toe Paulus deur Klein-Asië gereis
het, het hy orals tempels gevind.

Die eerste christene het
bymekaargekom in huise.

Sien byvoobeeld vers 15:
“Groet... Nimfas en die gemeente wat in sy huis is.”

 

Aan Archippus, vers 17, gee
Paulus nog ‘n spesiale aanmoediging.

“Gee ag op die bediening wat jy
ontvang het in die Here, dat jy dit vervul.”

Oor watter bediening dit gaan,
weet ons nie.

Daar is verder niks bekend oor
Archippus en wie hy was nie.

Moontlik dat hy deur Paulus as
oudste of ouderling aangestel is.

Moontlik dat Paulus gehoor het
dat hy bietjie lyf wegsteek, en daarom kry hy ‘n persoonlike aanmoediging.

 

Ten slotte, gemeente, nog een
aspek wat die historiese betroubaarheid van hierdie brief onderstreep.

Ons kyk nou na vers 18.

“Die groete van Paulus, met my
eie hand.”

Dit beteken dus dat Paulus
hierdie brief gedikteer het.

Miskien was dit wel Tichikus of
Onesimus wat die brief daar in die tronk vir hom opgeskryf het.

Dit het meer dikwels gebeur dat
iemand vir Paulus ‘n brief opgeskryf het.

Byvoorbeeld Tertius, wat die
Romeinebrief vir Paulus opgeskryf het.

Paulus was dalk minder goed
daarin om Grieks korrek te skryf, wat betref spelling en grammatika.

Paulus was naamlik ‘n Jood, en sy
moedertaal was Aramees.

Om ‘n brief in grammaties
korrekte Grieks te skryf, het hy moontlik van ander se dienste gebruik gemaak.

Daar is ook nog ‘n ander
moontlikheid.

In die brief aan die Galasiërs
lees ons naamlik dat Paulus ‘n bepaalde oogsiekte gehad het.

Miskien het hy iets soos ‘n
katarak gehad en kon hy nie meer self alles opskryf nie.

Toe hy hierdie brief geskryf het,
was hy al om en by die sestig jaar.

Tog wil Paulus onderstreep dat
hierdie brief regtig van hom afkomstig was, en daarom het hy aan die einde nog
‘n paar woorde in sy eie handskrif geskryf.

 

En dan vra Paulus nog vir
voorbede.

Hy sit in die tronk.

Gemeente, uit die res van die
Nuwe Testament ken ons pragtige verhale oor Paulus, toe hy her en der in die
tronk gesit het.

Hoe hy en sy metgeselle in die
nag gesing het.

Hoe hy gesprekke gevoer het oor
Jesus Christus met medegevangenes, hoe hy geëvangeliseer het en medegevangenes
na die Verlosser gelei het.

Maar tog was Paulus nie ‘n
volmaakte mens, wat nooit soms moed verloor het nie.

Ook hierin is die Bybel betroubaar.

Die Bybel skets nie ‘n beeld van
supergelowiges wat nooit gepla is deur sonde of aanvegtinge nie.

Paulus skryf in vers 18: Dink aan
my boeie.

Met ander woorde: doen voorbede
vir my, nou ek hier in die tronk sit.

Hoewel Paulus nie met naam en
toenaam skryf dat hy swaar kry in die tronk nie, soos ons ook vandag weet – as
iemand depressief is – sal hy dit nie altyd reguit vir jou sê nie.

Hy sal dalk iets sê soos: dit sal
baie gaaf wees as jy ‘n keer ‘n draai maak.

So kan ons hier tussen die reëls
deur lees dat Paulus waarskynlik swaar gekry het in die gevangenis.

Tichikus en Onesimus was by hom
op besoek gewees.

Dit het ons in verse 7-9 gesien.

Hulle het hom pastoraal vertroos,
en dit het hom waarskynlik baie opgebeur.

Dink aan my boeie, skryf hy vir sy
medegelowiges.

Ek het julle voorbede baie nodig!

 

Die Bybel is betroubaar.

Hoekom is dit die tema van
hierdie preek?

Omdat ons aan die hand van ons
teks gesien het hoe die Bybel, met sy boodskap van ewige lewe, stewig veranker
is in die geskiedenis.

Hoekom glo jy dit wat die Bybel
sê?

Is dit omdat jy nou maar eenmaal in
’n Christelike omgewing opgegroei het?

Maar sê nou maar jy sou in ‘n
moslem omgewing opgegroei het, êrens in die Midde Ooste of Indonesië, sou jy
dan geglo het wat die Koran sê?

 

Gemeente, juis daarom hierdie
preek.

U, as belydende Christen, behoort
alle dinge te ondersoek en argumente te weeg.

Soms is dit goed om ‘n keer die
boek van ‘n ander godsdiens te lees, soos die Koran.

Lees dit ‘n bietjie, dis in elk
geval baie dunner as die Bybel.

Lees dit bietjie en vergelyk dit
met die Bybel.

Miskien is dit wel die beste
propaganda teen die Islam.

Deur die Bybel en die Koran ‘n
keer langs mekaar te lê en te vergelyk.

 

Ons het vanoggend gesien, uit ‘n
hoofstuk soos Kolossense 4, hoe God die geskiedenis so gelei het, dat daar ‘n
bundel boeke tot stand gekom het, wat ons vandag die Bybel noem.

Die Bybel is betroubaar.

Daarvoor is ons oneindig
dankbaar, want dit is ons kompas in die lewe.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)