Die gemeente ontvang ampsdraers as geskenke van Christus

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-10-25
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 31
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
25 Oktober 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 49:1,2,4,7

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 71:10,11,14

Gebed

Skriflesing: Handelinge 8:14-24

Ps 92:3,4

Skriflesing: 2 Korinthiërs
10:7011:6

Ps 92:5,6,7

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 31

Preek

Ps 95:4,5,6

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 61:3,6

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 31

Verlede week het die kerkraad aan
u gevra om name op te gee van broeders wat u geskik ag om in die amp te dien.

Afgelope Dinsdag het die kerkraad
die name oorweeg, om ‘n aantal broeders aan die gemeente te kan voorstel om
ampsdraers uit te kies.

Artikel 31 van die NGB, wat
vandag aan die orde van behandeling is, gaan spesifiek oor die ampsdraers in
die kerk.

In die vorige preek oor die NGB (art.
30) het ons gesien dat Christus in sy Woord leer hoe sy kerk geregeer moet
word.

Dit moet op ‘n geestelike wyse
gebeur.

Daar moet spesiale ampsdraers
aangestel word, wat aan die vereistes voldoen wat in die Skrif geopenbaar is.

Vandag vervolg ons hierdie
onderwerp deur verder aandag te skenk aan die ampsdraers in die kerk.

 

Tema: Die
gemeente ontvang ampsdraers as geskenke van Christus

-         
ampsdraers word ontvang en moenie
hulleself opdring nie

-         
elke ampsdraer is ‘n ewe groot
geskenk

-         
die gemeente moet elke ampsdraer
beskou as ‘n geskenk van Christus

 

1          Ampsdraers word ontvang en moenie
hulle self opdring nie

Die drie kerklike ampte –
bedienaar van die Woord, ouderlinge en diakens – behoort tot hulle ampte
verkies te word deur middel van ‘n wettige verkiesing deur die kerk.

Die historiese agtergrond van
hierdie stelling is die manier waarop geestelikes in die Roomse kerk hulle
ampsposisies verkry het.

In die 16de eeu, toe die NGB
geskryf is, was dit ‘n algemene verskynsel om ‘n geestelike amp te bemagtig
deur daarvoor te betaal.

Die Reformatore het dit natuurlik
omkoopgeld genoem.

Dit was ‘n bron van inkomste vir
die pous, as daar geld betaal is vir ‘n biskopsetel of om kardinaal te word.

Daar was selfs mense wat meer as
een biskopsetel beklee het, wat daarvoor betaal het.

Dit het hulle kanse om verder op
te klim in die hiërargie verhoog.

Die Reformatore het hierdie as ‘n
sonde beskou, ‘n onwettige manier om ‘n kerklike amp te verkry.

Terugverwysend na die Skrif het
hulle dit simonie genoem.

Die woord simonie verwys terug na Simon
die towenaar, waaroor ons in Handelinge 8 lees.

Hierdie Simon, toe hy sien hoe
die apostels deur handoplegging die Heilige Gees aan mense gegee het, wou dit
ook doen.

Hy het toe die apostels geld
aangebied en gesê: “Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande
oplê, die Heilige Gees kan ontvang.”

Petrus het hom hieroor bestraf:
“Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God
deur geld te verkry. Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart
is nie reg voor God nie. Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid
God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word.” (Hand 8:18-24)

Daar is nêrens ‘n voorbeeld in
die Skrif wat die praktyk dat mens ‘n kerklike amp kan koop, ondersteun nie,
inteendeel.

Bybelgedeeltes soos hierdie wys
dit juis ten sterkste af.

Die kerk van die Reformasie is
daarom ge-reformeer om weer in lyn te wees met die Skrif, ook wat die
aanstelling van kerklike ampsdraers betref.

Die NGB skryf: dit moet gebeur
deur middel van ‘n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die
Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer.

Met kerk word hier nie bedoel die
pous, wat in die Roomse kerk ampsdraers benoem het nie, maar die kerk is die
gemeenskap van die heiliges.

Nie net die pous, maar al die
volwasse belydende gelowiges saam het hierdie verantwoordelikheid ontvang.

In Handelinge 6 kan ons
byvoorbeeld lees hoe die gemeentelede ingeskakel is met die kiesing van die
sewe diakens.

As ons na ons plaaslike reëling
kyk vir die verkiesing van ouderlinge en diakens, is dit ‘n konkretisering van
die beginsels wat hier in art. 31 genoem word.

Die gemeente word in die proses
betrek, nie net wat betref die stemming nie, maar veral ook wat betref die
geleentheid wat gegee word om name in te dien vir broeders wat geskik geag word
vir die amp.

En in ons plaaslike reëling vir
die verkiesing van predikante, word die gemeente ook betrek.

Slegs wanneer 70% of meer ten
gunste is, sal die kerkraad oorgaan tot die beroeping van ‘n predikant.

Die kerk is nie ‘n demokrasie
nie.

Die kerkraad het die
eindverantwoordelikheid, hulle regeer die gemeente op ‘n geestelike wyse, soos
ons in art. 30 van die NGB gesien het.

Maar onderdeel van hierdie
regeerstyl is wel dat die gemeente aktief betrek word in die identifisering,
verkiesing en bevestiging van ampsdraers.

Elke gemeentelid staan in die amp
van elke gelowige, en lewe vanuit daardie amp ‘n waardevolle bydrae, ook wat
betref die koers van die kerk in die toekoms, ook met betrekking tot die
beroeping van ampsdraers.

Elke gemeentelid is dus en
behoort dus aktief betrokke te wees by die aanstelling van ampsdraers vir die
toekoms.

 

Die NGB roep vervolgens elkeen op
om daarteen te waak om nie op ‘n onbehoorlike manier die amp te probeer
bemagtig nie.

Hy moet wag totdat hy deur God
geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees, en sekerheid kan hê dat
dit van God kom.

Hoe roep God vir jou?

Ons kan in die Bybel die
geskiedenis van Samuël lees, hoe die HERE aan hom verskyn het (1 Samuël 3).

Ons kan in die Bybel lees hoe die
Here Jesus sy twaalf dissipels elkeen persoonlik geroep het, om Hom te volg.

Ons kan lees hoe God vir Paulus
geroep het, op die weg na Damaskus (Handelinge 9).

Maar nie alle ampsdraers is en
word egter so direk geroep nie.

Timotheüs en Titus is nie so
geroep nie, en ook nie al die ouderlinge wat hulle in die verskillende
gemeentes die hande opgelê het nie.

Die eerste sewe diakens is ook
nie so geroep nie.

Die Here Jesus se roeping het vir
hulle gekom deur middel van die gemeente.

En so gebeur dit vandag ook nog.

Mens kan die Here se roeping
eintlik in twee dele opdeel.

Naamlik ‘n inwendige en ‘n
uitwendige roeping.

Inwendige roeping beteken: as
iemand binne-in homself ervaar dat hy graag sal wil dien in die amp.

Hy voel geroepe, en hy begeer dit
ook om ouderling of diaken te word.

Dieselfde geld vir iemand wat die
begeerte voel om predikant te word.

Dit noem mens die inwendige
roeping.

Die uitwendige roeping is wanneer
hierdie inwendige roeping ook van buite af bevestig word.

As byvoorbeeld die gemeente ook
dink dat jy die gawes het om in die amp te kan dien, en gevolglik word daar
tydens ‘n ampsdraersverkiesing op jou gestem.

En die kerkraad, wat die
eindverantwoordelikheid het, sien ook die gawes in jou raak, en het geen
beswaar ontvang wat hulle sou belet om jou in die amp te bevestig nie.

So het die HERE se roeping dus ‘n
inwendige en ‘n uitwendige kant.

Hy werk in jou eie hart, en Hy
werk ook deur die gemeente.

 

NGB art. 31 benadruk die belang
van die uitwendige roeping, as daar staan: elkeen moet terdeë daarteen waak om
hom met onbehoorlike middele in te dring.

‘n Onbehoorlike middel sou wees
omkopery, simonie, waaraan al aandag geskenk is.

Ons verkeer tans in ‘n fase dat
oor die algemeen in die samelewing mense dit nou nie juis as ‘n groot eer
beskou om in die spesiale ampte te dien nie.

Mense sal eerder verkies om uit
die kerkraad te bly.

Die gevaar dat iemand hom op ‘n
onbehoorlike wyse sou opdring, is dalk vandag minder aanwesig.

Hoewel, vandag manifesteer
hierdie gevaar homself dalk op ‘n ander wyse as destyds in die tyd van die
Reformasie.

Want wat vandag wel aktueel is,
is die druk om byvoorbeeld vroue in die spesiale ampte te kry, of praktiserende
gay-mense.

Mens kan hierdie drukgroepe net
soseer in hierdie verband noem, omdat met onbehoorlike middele iets opgedring
word, iets wat nie in lyn met God se Woord is nie.

 

Ampsdraers word ontvang en moenie
hulleself opdring nie.

Die gemeente het die taak om
hulle, op grond van die riglyne wat die Skrif openbaar, te identifiseer en te
verkies.

In die amp van elke gelowige is
kerklede in staat om dit te doen, en so werk die Here ook deur hulle.

 

(Tema: Die gemeente ontvang
ampsdraers as geskenke van Christus

-         
ampsdraers word ontvang en moenie hulleself opdring nie)

 

2       Elke ampsdraer is ‘n ewe groot geskenk

‘n Volgende aspek waaraan art. 31
aandag skenk, is die prinsipiële gelykheid van ampsdraers.

Die feit dat die NGB dit so
benadruk, is natuurlik goed verstaanbaar teen die agtergrond van die geweldige
hiërargie in die Roomse kerk.

Ook hier het die Reformasie
teruggekeer na die Woord, wat nêrens vir ons aanleiding gee om te dink dat een
gemeente bo ‘n ander een sou staan, of een ampsdraer oor ‘n ander een sou
regeer nie.

Op watter plek die bedienaars van
die Woord ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag beklee hulle.

Hulle is almal dienaars van Jesus
Christus, die enigste Hoof van die kerk.

Die kerk van die Reformasie het
gebreek met die euwel van hiërargie.

Tog het deur die eeue geblyk dat
hierdie euwel dikwels deur die agterdeur weer die kerk binnegekom het.

Dit het homself weer, dikwels op
meer subtiele wyses, gemanifesteer.

So het dit gebeur in bepaalde
denominasies dat die sinode se mag vergroot is, dat die sinode ‘n permanente
orgaan geword het, met permanente lede, ‘n permanente dagbestuur, ‘n permanente
moderator ensovoorts ensovoorts.

Volgens die beginsel van
gelykheid tussen kerke en ampsdraers is byvoorbeeld ons kerkorde opgestel.

Daaruit is duidelik dat die
sinode nie ‘n permanente orgaan is nie.

Die sinode is eenvoudigweg
daardie gebeurtenis, een keer in drie jaar, as alle kerke bymekaar kom, en
dinge bespreek word van gesamentlike belang.

Daarna gaan alle afgevaardigdes
weer huis toe en die sinode bestaan nie meer nie.

Die kanker van die hiërargie het
egter in sommige denominasies die sinode tot ‘n permanente orgaan verhef, wat
oor die kerkverband regeer.

Dit word spottend sinodokrasie
genoem.

In die belydenis word die sinode
nie eers genoem nie.

Net die kerkraad word genoem
(art. 30).

Hoewel ‘n sinode tot seën van die
kerke kan wees, is die sinode nie wesenlik tot die bestaan van die kerk nie.

Daar kan omstandighede wees
waardeur ‘n sinode vir ‘n lank ruk nie kan vergader nie.

Tog sal die kerke bly
voortbestaan.

Sonder ‘n kerkraad kan ‘n kerk
egter nie voortbestaan nie.

Die kerkraad is belangriker as
die sinode, en staan wat gesag betref bo die sinode.

Tussen die kerkraad en Christus
is daar geen gesag nie.

Die kerkraad is direk aan
Christus verantwoording verskuldig.

Die Bybelboek Openbaring begin
met 7 briewe, wat Christus skryf aan sewe gemeentes.

Christus skryf aan elke gemeente
afsonderlik, en Hy addresseer sy brief direk aan elke gemeente.

Hy skryf nie aan sy gemeentes
deur ‘n superstruktuur wat tussen Hom en die gemeentes in staan nie.

 

In die Gereformeerde tradisie is
dit verder ‘n gewoonte dat ‘n sinode deputate aanstel.

Dit is mense wat die taak van die
kerke kry om ‘n opdrag uit te voer, ‘n opdrag wat in die kerke se gesamentlike
belang is.

Deputate moet dan weer aan die
volgende sinode rapporteer wat hulle gedoen het.

Ook by deputaatskappe kan die
euwel van hiërargie by die agterdeur insluip.

As byvoorbeeld persone ‘n
permanente posisie op ‘n deputaatskap beklee, en nooit meer aftree nie.

Dit word spottend deputatokrasie
genoem.

Om daardie rede het die kerke
besluit dat deputate slegs twee keer herbenoem mag word, daarna moet hulle
aftree.

So het die kerke saam
verskillende afsprake gemaak om te sorg dat die euwel van hiërargie nie op een
of ander manier binnedring en die gesonde Skriftuurlike kerkregering versiek
nie.

Dit is elkeen van ons se taak om
hieraan by te dra, dat die kerk ook wat betref sy regering gesond bly.

Dat die euwel van hiërargie nie
êrens ‘n vatplek kry nie.

Om ware kerk te wees is ‘n
werkwoord.

Want elke ampsdraer is ‘n ewe
groot geskenk.

 

(Tema: Die gemeente ontvang
ampsdraers as geskenke van Christus

-         
ampsdraers word ontvang en moenie hulleself opdring nie

-         
elke ampsdraer is ‘n ewe groot geskenk)

 

 

3       Die gemeente moet elke ampsdraer beskou as ‘n geskenk van Christus

Behalwe dat die NGB uitdruklike
aandag skenk aan die feit dat ampsdraers met die regte houding hulle amp moet
vervul, en hulleself nie mag opdring of op onregmatige wyse mag na hulleself
toetrek nie, skenk die NGB ook aandag aan die houding van die gemeente teenoor
die ampsdraers.

Dit is die ander kant van die
muntstuk.

Art. 31 maak die volgende
dringende oproep: elkeen moet vir die bedienaars van die Woord en die
ouderlinge van die kerk besondere agting hê.

Ter wille van die werk wat hulle
doen.

Sover moontlik moet hulle in
vrede en sonder murmurering, twis of tweedrag met hulle saamleef.

Hierdie woorde, dink ek, is
helder en het nie verdere verduideliking nodig nie.

Dit is dalk maklik vir die
kinders in die gemeente om vir die ampsdraers respek te hê.

Maar as jy al 70 of 80 jaar oud
is, en jy het moontlik meer Skrifkennis as die ampsdraers self, reken maar dat
die duiwel gaan probeer om misbruik te maak van die situasie.

Of dalk is die ampsdraer ‘n broer
van jou, of iemand wat saam met jou op skool in dieselfde klas was.

Jy ken hom, ook sy swak punte.

Gemeente, net soos hiërargie, kan
hierdie ook ‘n kanker wees wat ‘n kerk begin versiek.

Soos Jesus ‘n keer oor Homself
gesê het toe Hy in Nasaret was: “'n Profeet is nie
ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis.” (Mattheüs 13:57)

As ‘n gemeente skepties begin
raak oor sy eie ampsdraers, as die gemeente nie meer die Opperherder sien wat
hierdie manne tot die amp geroep het nie, dan is dit ernstige saak.

Dis is gevaarlik, want dit tas
die geloof van die gemeentelede self aan.

Die NGB skryf: die heilige bevel
van God moet nie verkrag of geminag word nie.

Laat ons daarvan deurdronge bly
dat die ampsdraers nie dienaars van die gemeente is nie, maar dienaars van die
Woord van God.

Die Here Jesus was onberispelik,
sonder sonde, Hy het die mense van Nasaret geen enkele aanleiding gegee dat
hulle met sy gebreke en swakhede geduld moes hê nie.

Tog het hulle Hom verag.

Hoeveel makliker sal die satan
nie vir ons as gemeente ‘n strik kan span nie, want al ons ampsdraers, die
predikant, ouderlinge en diakens, hulle almal het gebreke en swakhede.

 

Die apostel Paulus, van wie ons
gelees het, het ook sy gebreke gehad.

En daar was ‘n gemeente wat
openlik Paulus se apostelskap bevraagteken het.

As mens die tweede brief aan die
Korinthiërs lees, kan mens agterkom dat dit vir Paulus diep seergemaak het.

Nie net oor homself nie, maar
veral oor die gevaar wat die gemeente self geloop het.

In die kerk van Korinthe was daar
baie begaafde gemeentelede, begaafde gemeentelede wat egter nie genoeg werk
daarvan gemaak het om hulle sondige ou mens te kruisig en nederig te bly nie.

En die gemeente van Korinthe het
nie meer bly fokus op die Evangelie nie, maar op die eienskappe van hulle wat
dit verkondig het.

Hulle het Paulus nie welsprekend
genoeg gevind nie.

Paulus was die een wat die
Evangelie onder hulle gebring het, hy was die eerste, maar daarna het ander
gekom, wat volgens die Korinthiërs veel beter as Paulus was.

Paulus was volgens hulle dalk
baie oortuigend in sy briewe wat hy vanaf ‘n afstand geskryf het.

Maar sy persoonlikheid, en sy
voordrag, as hy teenwoordig was, was nie so imponerend nie.

 

Nou was dit vir Paulus nie erg
dat ander beter en oortuigender as hy kon praat nie, wat hom bekommer het was
egter dat die Korinthiërs saam met die badwater ook die kind wou weggooi.

Hulle het nie net Paulus geminag
nie, maar hulle het die boodskap wat hy gebring het, ook begin minag.

Dit het die gemeente op die rand
van die afgrond gebring.

Juis daarom druk Paulus hom so
fel uit in 2 Korinthiërs.

“ek vrees dat” skryf hy in 2
Korinthiërs 11:3-4 “net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle
sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor
Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig
het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander
evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.”

 

Hierdie risiko is vandag nie
minder aanwesig nie.

Dit steek dikwels die kop op as
die gemeente ‘n nuwe predikant moet beroep.

Is die hooffokus op die
verkondiging van die Evangelie, of is daar ander aspekte wat swaarder begin
weeg, of dit sy uiterlik is, sy ouderdom, sy pryskaartjie, sy welsprekendheid,
of wat ook al?

Ampsdraers word juis aangestel om
die gemeente by die Evangelie te bewaar, die gemeente in die Evangelie te laat
groei en bloei.

Dit is waarop hulle geëvalueer
moet word, nie of hulle kort of lank is nie, donker of blank, oud of jonk, of
wat ook al is nie.

As gemeente beloof ons elke keer
as ‘n ouderling bevestig word (woorde uit die bevestigingsformulier): ons
aanvaar van harte hierdie ouderling as opsiener en herder van die gemeente.

Ons ag hom hoog weens sy werk.

Ons sal aan ons voorgangers
gehoorsaam wees en onderdanig, want hulle waak oor ons siele en sal eendag
daarvan rekenskap aan God moet gee.

Die gemeente ontvang ampsdraers
as geskenke van Christus.

En of jy nou goed kliek met ‘n
ampsdraer of nie, die gemeente moet elke ampsdraer beskou as ‘n geskenk van
Christus.

Elke ampsdraer is ‘n ewe groot
geskenk.

 

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)