Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds FJ Bijzet
Kopiereg word voorbehou.
Preek oor Esegiël 3:16-27
Bellville, 9 November 2014
Liturgie:
Votum en seëngroet
Ps 105:1,2
Lesing van God se
Wet
Ps 103:2,5
Gebed
L. Esegiël 33:30-33
T. Esegiël 3:16-27
Ps 74:7
Verkondiging
Ps 85:3
Gebed
Kollekte
SB 60 (of 1-3):2,3
Seën
Knegte van die HERE
moet praat. Dis die belangrikste taak wat Hy vir hulle gegee het: sy woorde aan
ander mense oordra: “So sê die HERE”.
Dis hoe die HERE ons soek: met sy Woord.
Maar moet ‘n kneg
van die HERE af en toe ook juis swyg?! Niks sê nie?
Ons het gelees
watter eienaardige pad die HERE met sy kneg Esegiël gestap het. Esegiël is
geroep om die HERE se woorde te gaan praat. Vir sy volksge-note. Medeballinge
in Babel. Hy sal vir hulle ‘n moeilike boodskap van oor-deel en straf moet gaan
bring. Die verwoesting van Jerusalem aankon-dig. Vertel dat die HERE sal padgee
uit sy tempel. En dat die heiligdom dan platgebrand word.
Esegiël was self so
van stryk van hierdie boodskap, dat hy 7 dae lank nie kón praat nie. Maar toe
kom die HERE weer in ‘n visioen na hom toe en sê nog ‘n keer dat hy namens Hom
met sy volksgenote sal moet praat. Soos ’n wag moet hy vir hulle op die trompet
blaas en waarsku. Maar wan-neer Esegiël, wat van ontsag weer plat op die grond
geval het, weer op sy voete kom, gehelp deur die krag van God se Gees, mag hy
juis níe gaan praat nie. Hy moet homself in sy huis opsluit en die HERE sal sy
tong aan sy verhemelte laat kleef, sodat hy stom word. God het hom geroep om vir
die Israëliete te bestraf. Maar as Esegiël reg lyk om dit dan maar te gaan
doen, hoe moeilik ook al, maak die HERE dit vir hom onmoontlik.
Wanneer moet
Esegiël nou praat en wanneer moet hy swyg?!
Dit is ook vir ons
steeds ‘n aktuele vraag, broers en susters. Wanneer moet ek praat en wanneer
swyg? En dan bedoel ek natuurlik: die HERE se woorde praat. Iemand anders
waarsku: “So sê die HERE”. Dit is ‘n
vraag vir ‘n vrou wie se man ongelowig is. Of vir ouers as een of meer van
hulle kinders besig is om die rug op die HERE en sy kerk te draai. Of dit klaar
gedoen het. Vir ons as ons ongelowige ouers, of broers of susters het.
Dis ‘n vraag vir
ons almal so dikwels ons in aanraking kom met mense wat nie glo nie. Ons is mos
vandag deur Christus se Gees almal tot profete en profetesse gesalf.
Kom ons probeer
verstaan wat die HERE Self ons hieroor leer in ons teksgedeelte. Daarin sien
ons, as ek die boodskap van hierdie Bybelge-deelte in my eie woorde saamvat:
Die HERE soek ons met sy Woord.
1. Laat die wat ‘n oor het, daarom hoor
2. Wie niet wil hoor nie, sal voel.
1. Die hooftaak van ‘n profeet is nog altyd dat hy moet praat. God soek
ons mense met sy Woord. Sy lewendmakende woord waardeur Hy ons wegroep uit die
mag van die satan en terugbring in sy koninkryk. Waar-deur Hy ons vervolgens
ook verander, vernuwe om weer soos egte burgers van sy ryk ons te gedra.
Sy woorde is daarom
nooit vryblywen-de woorde nie. ‘n Mens kan dit nie aanhoor en daarna weer na
die orde van die dag oorgaan nie.
Daar is wel mense
wat dit doen. Esegiël sou ook daarmee te make kry. Ons het in hoofstuk 33
gelees dat van sy volksgenote na hom sou kom luister soos ‘n mens ‘n konsert
bywoon van ‘n sanger wat pragtig sing met mooi begeleiding- lekker om na te
luister. Maar as hulle weer by die huis is het hulle dit wat hy gesê het lankal
weer vergeet. Hulle doen niks daarmee nie.
Daar is vandag
steeds mense wat so kerk toe kom: hulle hoor graag ‘n ‘mooi’ preek. Sodat hulle
met ‘n lek-ker gevoel weer huis toe kan gaan. Hulle sit gereeld in ‘n ander
kerk om daardie een leraar te kan hoor wat so ‘n wonderlik atmosfeer in sy
dienste kan skep. Miskien lees u op so ‘n manier ook wel in die Bybel: u soek
veral gedeeltes waarvan u hou: ‘n mooi psalm, ‘n profesie met ‘n be-moedigende
boodskap... Maar boete-preke van Jeremia of Amos of Esegiël sal u nie so gou
kies nie. Dis te swaar-moedig.
Maar knegte van die
HERE is geen sangers nie, broers en susters, maar wagters. Die HERE self
gebruik twee keer, hier in Esegiël 3, maar nog ‘n keer in hoofstuk 33, die beeld
van manne wat op die stadsmuur geplaas is om die om-gewing dop te hou en te waarsku
as daar gevaar dreig. Dan moet hulle God se volk wakker roep en aanspoor om
hulleself te bewapen. Laat almal wat ‘n oor het, hoor!
Daar was eenkeer ‘n
lidmaat wat glad nie van waarskuwende preke gehou het nie. “Dominee”, het hy
gesê, “dit voel asof jy besig is om my verant-woordelikheid van my oor te
neem. Dit is mos my eie verantwoordelikheid teenoor die HERE hoedat ek leef?” Sy
predikant het geantwoord: “Moenie
bekommerd wees nie,
my broer, ek sal jou verantwoordelikheid beslis nie van jou oorneem nie. My eie
verant-
woordelikheid druk
al swaar genoeg op my. Want dit is mý verantwoorde-likheid om vir jou en die
ander lid-mate te vra of julle bepaalde dinge in julle gedragings wel teenoor
die HERE kan verantwoord. Daarna los ek dit by julle en moet julle self maar
sien wat julle met my waarskuwings maak. Ék moet teenoor die HERE verantwoord
of ek jou wel betyds en duidelik gewaarsku het, jý moet vervolgens
teenoor Hom
verantwoord wat jy met
daardie waarskuwing
gedoen het.”
Van daar af het
daardie broer anders na die waarskuwende preke van sy predikant begin luister.
Maar dan moet so ‘n
wag wat namens die HERE moet waarsku, self natuurlik wel baie seker wees dat hy
mag sê: “So sê die HERE”. Hy sal eers
self baie mooi na die HERE moet luister en hom deur die Heilige Gees laat
verlig. So-dat hy met ander oë rondkyk in hier-die wêreld. Hy moet leer om te on-derskei wat baie mense glad nie
sien nie. Om alreeds gevare te sien op-doem terwyl die meeste mense nog meen
daar is geen wolkie aan die lug nie. Hy moet waaksaam wees.
En dis mos presies
hoe ‘n wag behoort te wees. So ‘n man skrik self as eerste van die opdoemende
gevaar. Dit be-dreig mos nie net sy volksgenote nie. Dit bedreig homself net so.
Hy is mos deel van God se volk. Ja, die vyand soek juis as eerste die wag, om
hom stil te maak. Want as die wag swyg, bly die volk ongewaarsku.
Miskien klink dit
vir u veels te neg-tief. Verkondigers van God se Woord is tog nie in die eerste
plek daar om te wáársku nie?! Hulle mag mos die evan-gélie verkondig! Bye
boodskap. Hoe mooi sê die HERE dit Self in Jesja 52: “Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring,
wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan
Sion sê: jou God is Koning”. U sien: ek ken ook daardie bybelgedeel-te.
Maar moenie die verlossende evan-gelieverkondiging én die waarskuwen-de
prediking teenoor mekaar plaas nie, broers en susters. Daardie twee is
onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Juis omdat God ons Koning is, ons uit die mag
van die ergste vyand, die duiwel en die sonde kom verlos het, laat die satan
ons nie met rus nie. Vir wat het Christus, ons Redder, ons geleer om daagliks
te bid: “Lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die Bose”? Omdat die Bose tot op die allerlaaste sal
aanhou probeer om ons in sy mag terug te kry. Johannes op Patmos het die engele
in die hemel hoor roep, toe Christus daar as oor-winnaar weergekeer het: “Wee julle daar op die aarde, want die duiwel
het met groot woede na julle neerge-daal omdat hy weet dat hy min tyd oor het”
(Openb 12:12).
Maar as die HERE
dan wagte gee, wat ons betyds teen sy aanvalle waarsku, is dit steeds
evangelie! Ook met waarskuwende woorde soek die HERE ons redding. Iemand wat
goddeloos begin leef het, kan hom nog betyds bekeer. En moet dan by die woordjie
‘goddeloos’ nie aan die ergste krimi-nele
dink nie, broers en susters. Of aan verstokte heidene. ‘Godde-loos’ beteken nie meer as: sonder God. Jy hou God buite jou lewe. Maar jy kan ook ‘n christen
wees, ‘n gereelde kerkgang-er, en nogtans God buite ‘n deel van jou lewe hou.
Keuses maak waarby die HERE, jou kerkgang, buite beskouwing gelaat word. Dan is
jy daarin godde-loos besig. En kyk
bietjie in vs 18: daar praat die HERE
van ‘n goddelose “weg”. Voor jy
jouself kom kry word jou verkeerde keuse ‘n weg, waarop jy van kwaad na erger
gaan. En nie sommer meer kan terugkeer nie. Soos wanneer ‘n mens –op ‘n snelweg
die verkeerde afrit neem,’n ander snelweg op. Jy kan dan nie sommer dadelik op
die verkeerde weg omdraai en teruggaan nie. Jy ry eers ‘n hele endjie voordat
daar ‘n omdraaikans is.
As ‘n mens die
afrit van die sonde kies –en dit gebeur nie per ongeluk nie- gebeur dieselfde.
En dit is nie
alleen die gevaar wat goddeloses bedreig nie. Moet maar kyk in vs 20: ook regverdiges kan ‘n verkeerde koers
inslaan. Die duiwel is slim en ken talle maniere om ons tot sonde te verlei.
Daarom moet ook hul-le betyds gewaarsku word vir daardie verleidinge. En ook
dan moet die wat ‘n oor het, hoor en hom láát waarsku.
Verstaan u nog, broers
en susters, dat hier HERE ons ook dan steeds soek? Dat ‘n getroue wag op die
kerkmure ‘n ge-skenk van ons Koning is om voor dank-baar te wees?
En sal u, ampsdraers,
bewus bly daar-van dat dit ‘n nie onbelangrike taak van u is nie? ‘n Ampsdraer
se eerste taak is nie om lidmate te soek wat verjaar of ‘n huwelikherdenking vier
of so iets nie. Selfs nie om siekes te besoek nie. Hulle eerste taak is om die
lede van God se volk by God en Christus te bewaar. En te wys op die gevare wat ons aanhoudend be-dreig. En wat
so onopvallend gevaarlik na ons toe kan kom. Dit kan ook op ‘n verjaarsdag
gedoen word, of by ‘n huweliksherdenking,ek weet, of in die hospitaal. Want die
vyand is orals. As ons maar bewus bly daarvan wat ons eerste taak is.
Die taak het ons as
broers en susters almal na mekaar toe. Het ons nog die moed om mekaar te
waarsku? Ons sien wel taamlik gou raak wat iemand an-der verkeerd doen. En dan praat
ons ook maklik met ander daaroor. Dikwels veels te gou en veels te veel. Maar praat
ons dan ook in liefde met daardie broer of suster sélf?
Hoe dikwels praat
ons met mekaar oor die gemeenskaplike vyand en sy taktieke?
Besef ons nog wel
hoe groot die ge-vaar is as hy in ons lewe weer ‘n in-komplek kry? Mense,
broers en susters van ons, kan vir ewig verlore gaan!
As ons gewaarsku
het, maar hulle het nie ore gehad om te wil hoor nie, hulle het ons
waarskuwings geïgno-reer, weg gelag- is dit verskiklik maar kon ons dit nie
verhoed nie. Maar as dit ook ons skuld is dat iemand in die kloue van die satan
kom omdat ons nie gewaarsku het nie, stel die HERE ons mede aanspraaklik. Ons
kon dit miskien wél verhoed het! En hoe ver-skriklik is dit: om voor God te
moet staan sonder ‘n verskoning.
Die apostel Paulus
het dit geweet. Hy skryf aan die kerk te Korinte: “Wee my, as ek die evangelie nie verkondig nie!”. En vir die broers
en susters in Efese kan hy verklaar dat hy onskuldig is aan almal se bloed,
want hy het nie teruggedeins om die volle heilsplan van God, waarskuwings
ingesluit, aan hulle te verkondig.
Kan u ook so
sê? Ek? Indien nie, laat ons dan
asseblief op hierdie waarsku-wing wat vanoggend uit Esegiël 3 na ons toe kom,
reageer met ore wat hoor.
2. Tog kan daar ook ‘n tyd kom dat ‘n kneg van die HERE moet swyg. Dit is
mos die vreemde wending in die pad wat die HERE met Esegiël stap. As Esegiël
sover gekom het dat hy die taak wat hom opgedra is, kan begin uitvoer, roep die
HERE hom uit die kring van sy volksgenote weg. Na ‘n dal waar net hy man-alleen
teenoor die HERE te staan kom. Nogmaals kry hy die HERE is sy indrukwekkende
koninklike glorie te sien. Net hy. As ‘n ekstra aansporing dat dit regtigwaar
die HERE is wat hom stuur. Maar dan stuur die HERE hom nie na die ander
Israëliete toe nie. Maar huis toe. Daar moet hy die deur toemaak. En daar sal
die HERE sorg dat hy voorlopig nie weer buite toe kan gaan nie en geen woord
kan praat nie. Sy tong is so te sê aan sy verhemelte vasgekleef.
Hoekom?!
Wel, die HERE soek
ons met sy woord, broers en susters. En laat die wat ‘n oor het, dan hoor! Maar
wie nie wil hoor nie, moet dan maar voel. En blykbaar wou Esegiël se broers en
susters in daardie dae nie meer na die HERE se woorde hoor nie. Hulle was ‘n “wederstrewige huis”. Ek het
‘n Afrikaanse vertaling wat aansprekend vertaal: “hulle is ‘n moeilike klomp, ‘n lastige spul”.
Maar as mense weier
om hulle te laat waarsku, kom daar ‘n dag wat die HERE ophou praat. En Hom in
‘n drei-gende swye hul.
En hoe erg is dit!
Hy het dit in die
dae van die hoëpries-ter Eli en sy goddelose seuns Hofni en Pinehas gedoen: “Die woord van die HERE was skaars in daardie
dae”. Koning Saul het dit ervaar: op ‘n sta-dium het die profeet Samuel hom
aan Saul onttrek. En as Saul dan doods-bang die HERE wil raadpleeg omdat die
Filistyne ‘n geweldige leër in die veld gestoot het, antwoord die HERE op geen
enkele manier meer nie.
In die dae van die
goddelose koning Agab kondig die profeet Elia eers ‘n uitputtende droogte aan, as
‘n straf van God, maar daarna steek die HERE hierdie profeet meer as drie jaar
weg. Onvindbaar.
Dit mag dalk aanvanklik
voel dat dit hoegenaamd nie ‘n straf is as die HERE maar nie meer praat nie. As
daar geen profeet meer is wat jou elke nou en dan kom waarsku of vermaan. Om nie meer preke waarin met die hel gedreig
word, te hoef aanhoor nie.
Saul het so gedink.
Agab.
Maar ‘n mens flous jouself
as jy so dink. Want algaande kom jy agter dat God besig is om Hom uit jou lewe
te ont-trek. As God swyg, gebeur die omge-keerde van wat Hy elke Sondag in sy
seën vir ons sê: dat Hy sy aangesig oor ons wil laat laat skyn. God verberg dan
sy aangesig, en dit voel bitterder as die dood, bely ons in die DL V. ‘n God
wat swyg- dis ‘n God wat Homself afsydig
hou en niks meer van Hom laat hoor nie.
Wat die lewe láát vasloop.
Soos ons ook lees
in Romeine 1, dat God mense op die ou end aan hul sondes kan oorgee. Dis die ergste wat ‘n mens kan
oorkom.
Maar dis wel altyd ‘n
mens se eie skuld. Wie nie wil hoor nie, sal voel. Daar kan ‘n stadium bereik
word wat dit nie meer help om te praat nie. En dan mag God se knegte swyg. Ja,
dan moet hulle liewerste swyg. As alles meer as een keer gesê is wat gesê moes
word. Ons hoef nie eindeloos dieselfde te herhaal nie.
Daar kom op ‘n dag
‘n end aan die waarskuwing van ampsdraers. Dan moet daar ‘n onttrekking
gekonstateer word. Of ‘n afsnyding plaasvind.
Ons sal op ‘n
sekere oomblik moet ophou en waarsku as ons kinders, of ‘n ander familielid van
ons bly weier om regtig te luister. Ons het ons verant-woordelikheid nagekom,
nou is dit hulle verantwoordlikheid wat hulle daarmee maak.
Ek weet: dis
ontsaglik moeilik! ‘n Mens kan dit dikwels nie sonder trane besluit nie. Om nou
eers te moet laat los.
Gelukkig hoef dit
nie altyd die finale afskeid te wees nie. God kan in sy genade op sy tyd weer
‘n nuwe ge-leentheid gee om tog weer te kan praat. Soos Hy dit ook by sy volk
Israel in die jare van die ballingskap gedoen het. En selfs toe Hy vir Esegiël ver-hinder het om
met sy volksgenote te praat, het die HERE hom swygend tot ‘n waarskuwende, maar
ook steeds soekende voorbeeld vir hulle gemaak. Ons lees dit in die volgende
hoofstuk-ke. Die HERE laat Esegiël allerhande opvallende dinge voor die oë van
sy volk doen. Sodat hulle begin wonder wat hy daarmee bedoel. En miskien weer sal
begin nadink, besin. Sodat hulle daarna miskien weer meer be-reid sal wees om
ook na Esegiël se woord te luister. As hulle dan nie meer ore het om te hoor
nie, probeer die HERE hulle eers ‘n hele ruk d.m.v. hul oë te bereik.
Eintlik het ons
Here Jesus Christus dieselfde gedoen toen Hy op ‘n sta-dium net storietjies
voor die oë van sy hoorders begin skilder het: gelykenis-se. Sonder ‘n
toepassing. Die uitleg-ging en toepassing het Hy net gegee vir die wat Hom kom
vra het.
So kan ons vandag
ook vir die wat nie meer wil luister nie, deur ons opval-lende gedragings dwing
om oor hul verhouding tot die HERE weer ‘n slag na te dink. Ouers wat ‘n
ongeneeslike siekte, of die afstwerwe van ‘n gelief-de in ‘n baie sterk geloof
verwerk, of wat na ‘n maaltyd waar van hul weg-gedwaalde kinders by is, soos
hulle gewoond is ook nou blymoedig ‘n paar psalms sing, maak op ‘n stadium meer
indruk, as ouers wat alewig preek.
En solank daar lewe
is, is daar hoop.
Want is dit nie om
stil van te raak dát daar vandag orals hier op aarde steeds soekende woorde van
God gepraat word? Is dit nie om stil van te word dat ons genadige God sondige
mense bly soek het nie? Dat Hy ons op die ou end kom soek het in sy enigste ge-hoorsame
Kind, Jesus Christus, in Wie Hy sy hoogste en laaste Woord kom spreek het? Sou
dit daarom wees dat die evangelis Johannes Christus “die Woord” noem? Alles wat
God vir die mens altyd al wou sê, het Hy eens en vir altyd in hierdie Seun
gesê. Duideliker kan Hy sy soekende liefde nie bewoord nie.
Maar as ‘n mens nou
nog altyd nie na God wil luiser nie, het God ook niks meer om te sê nie. Dan is
dit klaar-praat.
En dit sê Hy
vanoggend/aand maar weereens vir ons sodat ons almaal ore sal hou wat hoor.
Amen.
(kyk in preek)