PRETORIA-MARANATA,
1 Maart 2015 AD, 10:15
Voorsang: Ps 149:1-4
Votum
Seën
Wet
Ps 116:4,5
Gebed
Skriflesing: Esegiël 24
Psalm 89:1,3,8
Teks: Esegiël 37:1-14
Preek
Ps 89:9,10,11,17
Gebed
Kollekte
Ps 116:6,7
Seën
Preek: Esegiël 37:1-14
Ons teks gaan oor iets wat
ongelooflik is.
Die volk van God word uitgebeeld
as ‘n groot menigte uitgedroogde skelette – dorre doodsbeendere – wat êrens in
‘n dal in die versengende son lê en vergaan.
Die mense wat hulle ooit eers
was, is lankal nie meer herkenbaar nie.
Al wat van hulle oorgebly het, is
droë wit bene wat daar deurmekaar gelê het.
Tog lyk dit of ‘n voorsienige
hand hulle nog nie vergeet het nie.
Of ‘n onsigbare hand hulle weer
tot lewe gaan bring.
Ja dit is die HERE God self, wat
sy volk weer tot lewe bring.
Dit is die tema vir die preek:
Tema: Nuwe
lewe in dorre doodsbeendere
-
Die visioen
-
Die betekenis van die visioen
-
Die visioen
Voordat ons na die teks kyk, kom
ons probeer net weer die rooi draad van die boek Esegiël vind.
Die boek Esegiël bestaan uit twee
dele.
Tot dusver het ek in my serie net
uit die eerste deel gepreek.
Die oorgang tussen die 1e en 2e
deel lê in hoofstuk 24, wat ons gelees het.
Daar ontvang Esegiël, wat homself
onder ballinge in Babilonië bevind het, die berig dat die stad Jerusalem
ingeneem is, verwoes is, en dat selfs die tempel afgebrand het.
Tot die tyd van hierdie berig was
die profesië van Esegiël steeds waarskuwend van karakter.
Dit was soos preke wat die mense
moes wegtrek van hulle selfgenoegsaamheid af.
Wegtrek van hulle vertroue op
stad en tempel.
Profesië wat die hoorders moes
oortuig dat bekering nie net nodig was vir die bure nie, of vir die ander
gemeentelid nie, maar ook vir jouself.
Maar nou is die tempel verwoes,
en alle hoop was weg.
Nou, noudat ieder en elk in ‘n
roustemming was, ontvang Esegiël die opdrag om juis blye en vreugdevolle preke
te hou.
Want nou dat hulle nie meer op
hulle eie stad en tempel kon vertrou nie, nou het daar uiteindelik ruimte
ontstaan om op God te vertrou.
Jersulem is verwoes, God se volk
het ‘n nederlaag gely.
Maar Esegiël mog nie rou oor die
nederlaag van die volk nie.
Hy moes vir die mense gaan vertel
hoe God oor dit alles dink.
Want uiteindelik was daar nou
weer, vanuit God se perspektief, die moontlikheid tot vreugde.
Dat dit vir Esegiël swaar was om
hierdie blye profesië uit te spreek, so teen die stroom in, is wel duidelik.
Veral as mens in ag neem dat daar
in sy familiekring ook iets ergs gebeur het.
Sy vrou het gesterf.
Juis in hierdie turbulente tyd.
En Esegiël moes maar net aanhou
preek.
Eers baie profesië wat God se
straf aankondig vir die volke wat sy volk so verneder het.
En vervolgens die mooiste
profesië oor die herstel van God se eie volk.
Juis deur hierdie skitterende
beloftes kry Esegiël ook die moontlikheid om sy eie verdriet te verwerk.
Ons teks, die hele hoofstuk 37, is
‘n voorbeeld hiervan.
Ons konsentreer in hierdie preek
op die eerste deel van die hoofstuk.
‘n Ongelooflike profesie oor die
verrysenis van God se volk.
Asemrowend, verbasingwekkend, bo-menslik.
Ons lees in vers 1 dat Esegiël
weer ‘n visioen ontvang.
Hy word saamgevat na ‘n dal, ‘n
laagte.
Die dal was vol skelette, dorre
doodsbeendere.
In vroeër tye het die mense
meestal op ‘n heuwel of ‘n berg gewoon.
Die rede was dat dit veiliger
was.
‘n Stad op ‘n berg kon mens
makliker verdedig.
In die dal, of die laagte, was
die landerye.
Wanneer daar ‘n oorlog was, ‘n
veldslag, het dit meestal ook in die laagte gebeur.
Die een leër teen die ander.
Wat Esegiël hier in die laagte
gesien het, was die oorblyfselfs van ‘n baie groot veldslag.
God se volk het die oorlog
verloor en hulle manskappe is neergemaai.
Hulle lyke is nie opgeruim nie,
nie eers in ‘n massagraf gegooi nie, maar het net daar bly lê vir die wilde
diere en aasvoëls.
Ondertussen het baie jare
verbygegaan.
En wanneer Esegiël in die dal
aankom, staan hy tussen die skelette.
Dit was ‘n groot menigte
doodsbeendere wat daar orals rondgelê het.
Doodsbeendere, nie van onlangse
datum nie, want hulle was al heeltemal uitgedroog en het al wit geword deur die
son.
Wat Esegiël hier te sien kry, is
luguber.
Maar dit was nie ‘n ongewone
gesig in daardie tyd in die Midde-Ooste nie.
Net soos dit vandag helaas ook
maar al te goed bekend is dat daar soiets soos massagrafte bestaan.
Solank daar mense op aarde is,
sal oorloë nooit ophou nie.
‘n Dal vol doodsbeendere was so
‘n bekende verskynsel, dat mense in die Bybelse tyd dit as ‘n uitdrukking begin
gebruik het.
Dit sien ons byvoorbeeld in vers
11 van ons teks.
Hier is die Israëliete aan die
woord, hulle wat op daardie stadium in ballingskap verkeer het.
Hulle het by wyse van spreke in
konsentrasiekampe in Babel gesit.
Hulle hoop op oorlewing was maar
skraal.
En toe hulle ook nog die berig
ontvang dat die stad Jerusalem geval het, en verwoes is deur die Babiloniërs,
toe was alle hoop uitgedoof.
Daarom dat ons hulle hoor praat
in vers 11:
Ons bene is verdor, en ons
verwagting is verlore. Dit is klaar met ons!
Hierdie was dus ‘n uitdrukking:
ons bene is verdor.
‘n Skelet kan natuurlik nie praat
nie.
Dit is mense wat nog lewe, wat hierdie dinge sê.
Maar wel mense wat geen enkele
hoop in die toekoms meer het nie.
In feite is ons geraamtes, dorre
doodsbeendere, sê hulle oor hulleself.
Nadat Esegiël ‘n rukkie sit en
staar het na die dal vol doodsbeendere, geskok en verbysterd, vra die HERE hom
‘n vraag.
Esegiël, wat dink jy?
Dink jy dat hierdie bene weer kan
herleef?
En Esegiël, nog steeds in
gepeins, besluit om maar veilig te speel, en die vraag terug te kaats na God
toe.
HERE, U weet dit.
Nou moet u hierdie vraag van God
wel goed begryp.
Hierdie vraag gaan hier nie oor
die opstanding uit die dood in die algemeen nie.
Natuurlik is God daartoe in
staat, om uit ‘n skelet weer ‘n mens weer te voorskyn te roep.
Dat God dit kan doen, kan ons op
verskillende plekke in die Bybel lees.
As God hierdie vraag vra, gaan
dit hier spesifiek oor die Joodse ballinge in sê maar die konsentrasiekampe.
Hulle wat oor hullself sê: ons
beendere is verdor, alle hoop is weg.
En dan bedoel God dus:
Esegiël, dink jy dat Ek wel in
staat is om hierdie ballinge te help?
Noudat Jerusalem verwoes is, en
die tempel in puin...
Is daar nog ‘n toekoms vir die
volk Israel?
Dit is dus die vraag wat God aan
Esegiël vra.
En Esegiël besluit, waarskynlik
uit kleingeloof, om die antwoord maar in die midde te laat.
Laat God maar doen wat Hy wil...
Ons is so murw geslaan, ons hoop
en verwag eintlik niks meer nie.
En dan, op hierdie absolute
nulpunt van hoop, gebeur daar iets ongeloofliks.
God sê vir Esegiël in sy visioen:
Esegiël, profeteer!
Praat met hierdie doodsbeendere!
Sê vir hulle: dorre bene, luister
na die woord van die HERE!
Gemeente, het u al ooit iemand op
‘n begrafplaas sien preek?
Ja, as daar ‘n begrafnis is.
Dan staan ‘n groep mense rondom
‘n graf.
En as die kis sak, klink die
geloofsbelydenis en die Onse Vader.
Maar mens sal nie sommer iemand
vind wat preek vir oorlede mense onder die grond nie.
En presies dit sê die HERE nou
vir Esegiël.
Esegiël, sê vir hierdie
doodsbeendere:
“Dor bene, hoor die woord van die
HERE!”
Ek bring weer gees in julle in, sodat
julle lewendig kan word.
Ek sorg dat daar weer weer vleis
aan julle bene kom.
Ek sal spiere op julle lê, julle
met vel oortrek.
Ek sal asem in julle neus blaas.
Julle sal weer tot lewe kom!
Esegiël, nogal verbysterd oor
alles wat hy nou al weer moet doen, het begin profeteer.
Vers 7, daar sê hy:
“Toe het ek geprofeteer soos my
beveel was.”
Waarskynlik meer uit
gehoorsaamheid as wat hy gedink het dat sy woord die geringste beweging in
hierdie doodbeendere tot stand sou bring.
Maar die woorde was nog maar
amper uit sy mond, of daar het iets ongeloofliks gebeur!
Sodra hy begin praat het, het daar ‘n gedruis ontstaan.
Alle beendere het in beweging
gekom.
Mens kan jou voorstel hoe dit
moes geklink het, al daardie hol doodsbeendere.
En die dorre bene het nie net ‘n
bietjie heen en weer ‘gerattle’ nie, nee, baie doelgerig.
Elkeen het na die regte plek
beweeg.
Sodat daar komplete skelette
ontstaan het.
Alle bene een beentjies op hulle
plek, van kop tot tone.
Toe skielik sien Esegiël hoe die
wit kleur van die bene verdwyn, hulle het rooi begin word.
Spiere en senings is oor hulle
gespan.
En na ‘n rukkie het Esegiël
gesien hoe hulle bruin word, die velkleur van die mense in die Midde-Ooste.
En swart plekke waar die hare
weer teruggekom het.
Volledige mense het ineens daar
gelê.
Voordat Esegiël hom volledig kon
realiseer wat hier gebeur het, het die HERE weer met hom gepraat.
Esegiël, profeteer nou tot die
gees, die lewensasem.
Kom van die vier windstreke, en
blaas in hierdie dooie mense, sodat hulle herleef.
Esegiël het dit gedoen, hy het
God se woorde herhaal, en direk was daar weer resultaat.
Die mense het begin asem haal en
het op hulle voete gaan staan.
Soos vers 10 sê: ‘n ontsaglike
groot leër!
Tot sover, gemeente, die visioen
wat Esegiël te sien gekry het.
Verbasingwekkend, dat dit
moontlik is.
En dan lees ons vervolgens in die
laaste verse die betekenis van
hierdie visioen.
(Tema: Nuwe lewe in dorre
doodsbeendere
-
Die visioen)
-
Die betekenis van die visioen
God sluit hier aan by ‘n
opmerking van die Israeliete:
Ons beendere is verdor, ons hoop
uitgeblus, dit is met ons gedaan.
Die Jode in ballingskap wat
heeltemal, mens sou sê, agnosties geraak het.
Alle hoop was weg.
Jerusalem verwoes, die tempel wat
in vlamme opgegaan het.
Hulle het maar net voortgelewe,
maar net asem gehaal, soos ‘n baie ou mens lê en wag om te sterf.
God het hulle vergeet.
Het die God van Israel ooit nog
wel bestaan?
Gemeente, by hierdie mentaliteit
sluit die HERE aan.
Hy spreek dit aan.
Esegiël, jy moet vir hierdie
mense sê:
Ek sal
julle grafte oopmaak.
Ek sal julle uit julle grafte
laat opkom.
Ek sal my Gees in julle blaas, sodat julle herleef.
Ek sal julle laat woon in julle
land.
EN JULLE SAL WEET DAT EK, DIE
HERE, DIE GESPREEK EN GEDOEN HET, lui
die woord van die HERE.
Weer die bekende refrein in
Esegiël:
Julle sal weet, dat Ek die HERE
is, wat dit gedoen het.
Ongelooflik, wat God telkens
doen.
Eers die strawwe wat Hy oor sy
volk laat kom het.
Ongelooflik as mens dit lees,
maar tog waar.
Maar nou, ook ongelooflik watter
herstel God skenk!
Julle sal weet dat Ek die HERE
is.
Slegs God doen sulke soort dinge.
Slegs God kan dit doen.
Skitterend!
God se optrede is onnavolgbaar.
Sy weë is hoër as ons weë.
Hy doen dinge waartoe ons nie in
staat is nie.
Dinge wat nie eers in ons
gedagtes opgekom het nie.
Dit geld telkens vir die pad wat
Hy met sy volk Israel in die Ou Testament gestap het.
Die boek Esegiël is hiervan ‘n
pragtige illustrasie.
Hoe juis uit God se straf die
toekomstige redding gebore is.
Die Jode, wat die lewende band
met die HERE verruil het vir ‘n vertroue op die gebou van die tempel.
‘n Vertroue op hulle eie afkoms,
as uitverkore volk van God.
Al hierdie dinge wat vir hulle ‘n
houvas was, het God van hulle weggeneem.
Tot hulle letterlik niks meer
gehad het nie.
Toe eers het God wonders van
redding begin verrig.
Om hulle te leer om op Hom alleen
te vertrou.
En so het die HERE gesorg dat
Israel sal herleef.
Gemeente, wie is Israel eintlik?
Vandag is daar bepaalde kriteria,
wat bepaal wanneer jy jouself as ‘n Jood mag beskou.
Die bekendste kriterium is dat
jou ma ‘n Jodin moet wees.
Dit is bepalend.
Verder word daar deesdae baie
navorsing gedoen, genealogie, stambome, of mense Joodse bloed in hulle are het,
en daarom dus lid sou kon wees van die volk Israel.
Dan praat ons dus oor die
bloedlyn.
Maar wat ons in die Bybel leer, sowel in die Nuwe as die Ou
Testament, is dat die bloedlyn nie deurslaggewend is nie, vir of jy by Israel
oftewel God se volk hoort nie, maar die geloof.
Wie glo is ‘n kind van Abraham.
Hoe word mens lid van God se
volk?
Iedereen kan in beginsel lid
word, van watter ras of nasionaliteit ook.
Elkeen wat leer glo het in die
God van Abraham, dieselfde God wat vandaag nog steeds die wêreld regeer.
Abraham moes self ook leer glo.
Abraham was ‘n baie ryk man, ‘n
miljoenêr sou ons vandag sê.
En soos dit dikwels werk, ryk
mense sukkel soms om te glo.
Want hulle kan op hulle rykdom
vertrou.
Met hulle rykdom kan hulle hulleself
teen alle gevare indek en verseker.
Maar God het ook vir die ryk
Abraham geleer om te glo.
Abraham kon veel, maar hy het
geen kinders gekry nie.
En toe hy uiteindelik ‘n seun van
God ontvang het, moes hy hom weer aan God gaan offer.
Dit was God se toets of Abraham
wel werklik geglo en op Hom vertrou het.
Ons lees in die Hebreërbrief oor
Abraham, toe hy so deur God beproef is:
Abraham “het gereken dat God mag
het om selfs uit die dode op te wek” (Hebr 11:18).
Dit is die geloofsbelydenis wat
God uit elke mens se mond wil hoor.
God is by magte om my, en my
kinders, wie ook al, uit die dood op te wek!
Hierdie geloof moes die Joodse
ballinge in Babel ook leer.
En die profesie in ons teks wat
God aan Esegiël gegee het, het hulle op hierdie pad na geloof en vertroue
gehelp.
Geliefde broer, suster, glo jy
dit ook?
Glo jy dat God lewend maak wat
gesterf het?
Glo jy dat God jou nie loslaat
nie?
Glo jy dat God sy kinders vashou?
Wat Esegiël hier in ons teks in
visioenvorm gesien het, het in werklikheid gebeur toe die Here Jesus aan die
kruis gehand het.
Toe Hy sterf, het baie grafte in
Jerusalem oopgegaan.
Mense het uit hulle grafte
opgestaan en uitgegaan, en in Jerusalem aan baie verskyn (Matth 27:52-53).
En na drie dae het Jesus se eie
graf ook opgegaan, en Hy het dit in majesteit verlaat.
God doen wat Hy sê.
Dit is die refrein in Esegiël.
Julle sal weet dat Hy die HERE
is.
Wat Hy beloof, dit doen Hy ook.
En daarom is daar toekoms vir God
se volk.
Toekoms vir elke persoon wat by
God se volk hoort.
Nogmaals, wanneer hoort jy by God
se volk?
Wanneer jy dieselfde geloof het
as wat Abraham gehad het:
Ek glo dat God die God van
lewendes is.
Ek glo dat Hy die lewe aan my sal
teruggee.
Die onverganklike lewe, wat Jesus
verwerf het.
Glo jy dit?
Dit is God se plan.
Wat Hy wil, dit gebeur.
Wat Hy wil, dit profeteer Esegiël
hier ook vir jou en my:
“Ek sal my Gees in julle gee, dat
julle lewendig kan word, en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet
dat Ek, die HERE, die gespreek en gedoen het, spreek die HERE.” (Esegiël 37:14)
Ja hierdie is ook ‘n profesie wat
vervul sal word op kosmiese skaal, met die koms van die nuwe hemel en aarde.
Wanneer alle grafte oop sal gaan,
wanneer die heiliges, dws die gelowiges, sal opstaan om die nuwe aarde te
beërwe.
Amen.
(kyk in preek)