Esegiël profeteer oor die wonder van kerklike eenwording

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-03-08
Teks: 
Eségiël 37 : 15-28
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 8 Maart 2015 AD, 10:15

Voorsang: Ps 149:1-4

Votum

Seën

Ps 42:1,2

Wet

Ps 119:52

Gebed

Skriflesing: Esegiel 37:1-14

Ps 118:9,10

Teks: Esegiel 37:15-28

Preek

Ps 133:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 118:13,14

Seën

 

 

 

 

Preek:
Esegiël 37:15-28

Dit is baie tipies menslik dat
daar verdeeldheid voorkom.

Orals waar mense in ‘n groep
bymekaar kom, bestaan die risiko van verdeeldheid, of van skeuring.

Of dit nou in familieverband is,
of dit gaan oor ‘n huweliksband, of dit in die politiek is, en ook as dit oor
godsdiens gaan.

In alle godsdienste van die
wêreld sien mens ook verdeeldheid, en skeurings, wat voorkom.

In elke generasie kom dit weer
terug.

Ook in die kerk vind mens
verdeeldheid.

Daar het skeurings in die verlede
plaasgevind, en vandag gebeur dit nog steeds.

Dit lê nie aan die kerk, of die
godsdiens nie, dit lê aan die mense.

Dit is tipies menslik om verdeeld
te wees, om in konflik te lewe.

Eintlik is dit normaal.

En as dit goed gaan, as mense in
harmonie lewe, bv. in die huwelik, of in ‘n familie, of waar ook al, dan is dit
besonder, uitsonderlik.

Hierdie tipies menslike, sondige
karaktertrek, om verdeeld te wees, het ook ‘n invloed op die kerk.

 

Kerkskeurings is ‘n bekende
verskynsel.

Dit lyk wel of elke generasie
daarmee te make kry.

Dit is iets wat baie pynlik is.

Wie die een is wat die kerk
geskeur het, is altyd ‘n punt van diskussie.

Beide partye sal mekaar natuurlik
beskuldig en verwyt.

Meestal is die ander een die
skuldige.

 

In die Ou Testament was
verdeeldheid onder God se volk ook al nie onbekend nie.

Dit het al baie vroeg begin, toe
die Israeliete nog maar net in die beloofde land gewoon het.

Ek dink byvoorbeeld aan ‘n
gebeurtenis, toe Josua rigter was, ons kan daaroor lees in Josua 22.

Die stamme het nog maar net hulle
gevestig in hulle onderskeie gebiede, of daar het al ‘n skeuring gedreig.

Daar was gerugte dat die stamme
aan die oostekant van die Jordaan apart begin offer het.

Apart, los van die plek wat God
aangewys het, naamlik die tabernakel.

Maar na ondersoek ingestel is,
het gelukkig geblyk dat die gerugte nie heeltemal waar was nie, en die vrede
kon weer herstel word.

 

Tog het dit nie lank geduur
voordat daar weer verdeeldheid gekom het nie.

En so het dit steeds gegaan.

Mens kan eintlik sê:

Die lang geskiedenis van die volk
Israel is ‘n geskiedenis van een groot verdeeldheid.

Die periode wat hulle eensgesind
was, was eintlik uitsonderlik.

Dan dink ons aan die periode
vanaf koning Saul, want voor daardie tyd het elke stam gedoen wat goed was in
sy eie oë.

Maar vanaf Saul tot en met die
dood van koning Salomo was daar ‘n soort eenheid.

Selfs in hierdie periode van
eenheid, met die troonopvolging van Dawid, was daar nog tydelik verdeeldheid.

Isboset, die seun van Saul, het
twee jaar oor Israel geregeer, terwyl Dawid aanvanklik slegs koning oor Juda
was.

Na sewe jaar het hy egter sy
heerskappy in Jerusalem gevestig en het die volk weer een geword.

Maar soos gesê, na die dood van
Salomo het daar weer verdeeldheid ontstaan wat vir eeue sou duur.

Die koninkryk het gesplits in
twee.

Salomo se seun Rehabeam het
koning geword oor die suidelike ryk, en Jerobeam oor die noordelike ryk.

 

Tema:
Esegiël profeteer oor die wonder van kerklike eenwording

 

Ons teks volg op die asemrowende
visioen waarvan ons in vers 1-14 gelees het.

Die uitgeteerde ballinge, wat oor
hulleself gekla het: alle hoop is verlore; ons is dorre doodsbeendere.

Hulle kry die boodskap van God:

Ek bring nuwe lewe in julle dorre
skelette.

En ter bevestiging van hierdie
pragtige boodskap ontvang Esegiël ‘n visioen.

‘n Dal vol doodsbeendere word opgewek
tot lewende mense.

Kyk, ek maak julle grafte oop.

Ek laat julle uit julle grafte
uitkom.

Julle sal weet dat ek dit
gespreek en gedoen het, die HERE, wat doen wat Hy sê.

Dit was vers 1-14, die gedeelte
voorafgaande aan ons teks.

 

In ons teks vir vandag lees ons
weer oor ‘n wonder, ‘n wonder wat minstens so groot is as die wonder uit vers
1-14.

Naamlik die wonder van vrede
tussen broers wat baklei.

Die hereniging van Juda en
Israel.

 

Die HERE gee Esegiël die opdrag
om ‘n simboliese handeling te verrig, met die bedoeling om sy boodskap aan die
ballinge duidelik te maak.

Esegiël moet twee stukke hout vat
en op beide iets opskryf.

Op die eerste stuk hout moet hy
skryf: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote (vers 16).

Hierdie opskrif dui op die
suidelike ryk van Juda, alhoewel, dit is ‘n baie noukerige aanduiding.

Ons is gewoond om te praat oor
Juda, die suidelike ryk aan die een kant, en Israel, die noordelike ryk aan die
ander kant.

Oftewel die Tweestammeryk en die
Tienstammeryk.

Met Tweestammeryk bedoelende:
Juda en Benjamin.

En met Tienstammeryk die ander
stamme.

Maar Esegiël moet skryf:

Vir Juda en vir die kinders van
Israel, sy bondgenote.

Hiermee word bedoel, behalwe vir
Juda en Benjamin, ook byvoorbeeld al die Leviete in die suidelike ryk, hulle
wat die priesterwerk verrig het.

Onder hierdie Leviete was nie net
hulle wat al vanaf die begin in die suidelike ryk gewoon het nie.

Daar was ook baie Leviete wat in
die loop van die tyd oorgeloop het, soms selfs gevlug het, van die
Tienstammeryk na die Tweestammeryk toe.

Ons lees byvoorbeeld in 2
Kronieke 11 dat baie Leviete hulle toevlug geneem het na die suidelike ryk,
nadat koning Jerobeam die diens aan die HERE heeltemal verander het.

In 2 Kronieke 11:13 en vervolgens
lees ons dat die priesters en Leviete uit Israel hulle by die suidelike ryk
gevoeg het.

Hulle het hulle weivelde en
besittings verlaat en na Juda en Jerusalem getrek, omdat Jerobeam en sy seuns
dit vir hulle onmoontlik gemaak het om die priesteramp te beklee.

Vers 14: “want Jerobeam en sy
seuns het hulle verwerp, sodat hulle geen priesters van die HERE meer kon wees
nie.”

Jerobeam het sy eie priesters
aangestel, soos vers 15 sê “vir die hoogtes en die veldduiwels en die kalwers
wat hy gemaak het.”

Die getroue priesters het dus
hulle toevlug geneem na Juda, die suidelike ryk...

En behalwe vir die priesters en
Leviete, was daar ook ander mense uit die noordelike stamme wat na die
suidelike ryk getrek het, byvoorbeeld, volgens 2 Kronieke 15, afkomstig uit
onder andere Efraïm, Manasse en Simeon.

Vir geruime tyd het hulle dus ook
al in die suidryk gewoon.

En daarom moes Esegiël juis spesifieke
hierdie woorde op die stuk hout skryf:

Vir Juda en vir die kinders van
Israel, wat sy bondgenote is.

 

Op die ander stuk hout moes
Esegiël skryf:

Vir Josef (die hout van Efraim)
en die hele huis van Israel, sy bondgenote.

Dit is ‘n aanduiding van die
noordelike ryk, ook wel genoem Efraïm, want dit was in die stamgebied van
Efraïm wat die hoofstad Samaria geleë was.

 

Nadat Esegiël die opskrifte op
elke stuk hout geskryf het, moes hy die twee stukke hout styf teen mekaar druk,
sodat dit soos een stuk hout lyk.

In vers 18-23 gee die HERE
vervolgens ‘n verklaring vir hierdie simboliese handeling.

As iemand aan die profeet sou vra
wat die bedoeling was, dan moes hy antwoord:

Die HERE sal die verdeeldheid in
sy volk, tussen die noordelike en suidelike ryk, laat verdwyn.

Die HERE vat as’t ware hierdie
twee stukke hout.

Hy plak hulle nie net aan mekaar
vas nie.

As jy twee stukke aan mekaar
vasplak, bly daar altyd ‘n naat oor.

Nee, die HERE maak een nuwe
geheel daarvan.

Sonder dat daar ‘n naat oorbly.

‘n Naat waarlangs daar moontlik
in die toekoms weer ‘n skeur kan ontstaan.

 

Sedert die afsterwe van Salomo
(in Esegiël se tyd was dit meer as drie eeue gelede), het daar naamlik twee
koninkryke langs mekaar bestaan, wat elkeen sy eie koning gehad het.

Jerobeam en Rehabeam, met hulle
opvolgers.

Maar, en dit is Esegiël se
profesie:

As die HERE sy volk weer
terugbring uit die ballingskap, sal Hy dit weer een volk maak, en dan sal daar
geen verdeeldheid meer wees nie.

Bowendien sal dit ook met die
afgodery gedaan wees.

Die HERE sal weer werklik Israel
se God wees, en Israel die volk van die HERE.

Heel Israel.

Die terugkeer uit ballingskap sal
dus nie net ‘n uitsluitend Judese aangeleentheid wees nie.

Die HERE sal ook die Israeliete
uit die landstreke van die volke waaronder hulle verstooi is, terugbring.

Vanaf alle kante sal Hy hulle
saambring.

Onthou, die ballingskap van die
noordelike ryk het al veel eerder plaasgevind, en die noordelike stamme is oor
die toenmalige wêreld verstrooi.

 

Hierdie profesie ryk daarom baie
verder as net die eie belang van daardie groep ballinge in Babilonië, onder wie
Esegiël homself bevind het, en aan wie hy die simboliese handeling moes laat
sien.

Die terugkeer uit ballingskap sal
nie net verkeer op die pad Babel-Jerusalem tot gevolg hê nie.

Maar daar sal ook druk verkeer
wees op ander paaie, uit alle windrigtings.

Soos die pad van Egipte na
Jerusalem; en die pad van Sirië na Jerusalem; en die pad van Klein-Asië na
Jerusalem, selfs oor die see sal die ballinge terugkom!

Orals vandaan, waarheen die
Israeliete, nie net uit die suidelike, maar ook uit die noordelike ryk, in ballingskap
gevoer is.

Hulle almal sal herenig word.

Ek sal een volk van hulle maak,
sê die HERE.

En een koning sal oor hulle almal
heers.

 

Nou kan ons onsself afvra, of
hierdie profesie ooit uitgekom het.

Want toe die terugkeer uit die
ballingskap op gang gekom het, lees ons nêrens oor byvoorbeeld een koning oor
die volk nie.

En dit is wel wat Esegiël hier sê
– vers 22: een Koning sal vir hulle almal koning wees.

In die na-ballingskapse tyd was
daar hoogestens ‘n goewerneur aangestel oor die volk, maar dan wel in diens van
‘n buitelandse mag wat hulle oorheers het.

Die Perse, of die Grieke, of die
Romeine...

Nog onduideliker word dit as ons
in vers 24 lees:

My kneg Dawid sal oor hulle
koning wees.

Dawid was mos al lankal oorlede?

Drie en ‘n halwe eeu gelede.

Kom Dawid dan weer terug uit die
dood?

Hoe werk dit presies?

 

Gemeente, dit is so dat ons in
die Ou Testamentiese profesië koning Dawid dikwels vind as die prototipe vir ‘n
ideale koning.

Nie dat Dawid die volmaakte
koning was nie.

Die Bybel bly nie stil oor sy
sondes en mislukkinge nie:

-         
Owerspel en moord

-         
Hoogmoed soos na vore gekom het in die telling van die volk

-         
Iemand wie se gesinslewe vol konflikte was, dink aan Absalom en
Adonia...

Maar een ding kon daar wel oor
Dawid gesê word.

Hy was iemand wat, deur God se
genade, sy foute erken het.

Sy sondes bely het.

Kortom, iemand wat uit vergewing
geleef het.

So ‘n koning was hy.

En juis daarin het hy ‘n
prototipe geword van die ideale koning.

“My kneg Dawid sal koning oor
hulle wees” – vers 24.

Hier hoor ons Esegiël profeteer
oor die ideale koning wat God sal stuur.

Ons weet dat God hom gestuur het,
‘n spruit uit Dawid se huis, en selfs Seun van God.

Jesus Christus, koning tot in
ewigheid, wat al God se verdeelde kinders onder een kroon verenig.

 

Dit is die boodskap van hierdie
profesie: eenheid.

Geen verdeeldheid meer nie.

Eenheid in die toekoms.

Eenheid wat tot stand kom deur
diepgaande berou.

Breek met die sonde.

Sien vers 23: “hulle sal hul nie
meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle
oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle
gesondig het, en sal hulle reinig.”

 

Wat ook opmerklik is, is dat God
hier geen onderskeid maak nie.

Byvoorbeeld vanuit die gedagte
dat Israel, die Tienstammeryk, die afvallige kerk was, en dat Juda voortgegaan
het in die ortodokse lyn.

Mens sou kon dink dat daar dan
eintlik moes staan:

God sal Israel, die
Tienstammeryk, reinig, en húlle gruwels en oortredinge verwyder, sodat hulle
weer een kon word met die ware kerk, met Juda.

Maar dit staan dus nie daar nie.

Geen onderskeid nie.

Sowel teen Israel as teen Juda sê
die HERE:

Ek sal hulle verlos van alle
afval.

Ek sal hulle verenig.

‘n Nuwe eenheid.

Nie dat die een by die ander een
ingelyf word nie.

Nee, ‘n nuwe eenheid.

En my woning sal by hulle wees.

My heiligdom sal vir ewig in
hulle midde staan.

God se heiligdom, die tempel.

Dan dink ons aan die stad
Jerusalem.

 

Maar was dit nie veral die
noorderlinge wat afvallig geword het nie?

Was dit nie Jerobeam wat sy eie heiligdomme
opgerig het, sodat die volk nie meer na Jerusalem hoef te gegaan het nie?

Inderdaad, dis soos dit gegaan
het, die afval van die tempeldiens in Jerusalem, waarin Jerobeam die voortou
geneem het.

Maar, die ballinge aan wie
Esegiël hierdie boodskap bring, sal nie minder moet besef, dat ook Juda afvallig geword het.

Al het hulle nog in Jerusalem
gewoon, en al het hulle daagliks hulle offers by die tempel gebring, het ook
hulle afvallig geword.

Soseer selfs dat God se
heerlikheid die tempel verlaat het.

En die gebou is verwoes.

Juda en Israel kan mekaar dus
geen verwyte maak nie.

Laat hulle beide maar begin met
die balk in hulle eie oog.

Beide het afvallig geraak.

En nou bied God aan beide
verlossing aan, verlossing van hulle afvalligheid.

 

Hierdie profesie reik dus baie
verder as die eiebelang van die groep ballinge in Babilonië, aan wie Esegiël
die boodskap moes bring.

God belowe herstel, nie net aan
die Judese ballinge nie, maar ook aan die Tienstammeryk.

Hulle wat al vir meer as een en
‘n halwe eeu voor Juda in ballingskap gevoer is, deur die Assiriërs.

Hulle is verstrooi onder al die
volke, van Griekeland in die weste tot Persië in die ooste.

Ja uit alle windrigtings sal God
hulle terugbring.

Liturgie: 

(kyk in preek)