God sluit sy genadeverbond met Abram

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-04-13
Teks: 
Génesis 15 : 17-18a
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 13 April 2014
AD, 10:15 (nagmaal)

Voorsang: Ps 55:1,2,3

Votum

Seën

S: Ps 47:1

Wet

S: Sb 26:11

Gebed

Nagmaalsviering:

-         
Lees formulier

-         
Gebed

-         
Ps 25:2 (tafel in gereedheid)

-         
1e tafel: Skriflesing: Genesis 15:1-6;
Ps 25:5

-         
2e tafel: Skriflesing: Genesis
15:7-21; Ps 25:6

-         
3e tafel: Lofverheffing &
Dankgebed; Ps 25:7

Teks:
Genesis 15:17-18a

Preek

S: Ps 47:2,3

Gebed

Kollekte

S: Ps 47:4

Seën

Preek: Genesis 15:17-18a

Ons teks
vind plaas ‘n aantal jare nadat God vir Abram weggeroep het uit Ur van die
Chaldeërs.

Hy het na
die beloofde land Kanaän getrek, en ondertussen het heelwat dinge gebeur.

Hy en sy
huishouding het o.a. afgetrek Egipte as gevolg van ’n hongersnood.

Hulle het
danksy die HERE se genade weer heelhuids teruggekom.

Daar was die
episode dat die familieverhoudings tussen Abram en Lot versuur het.

Hulle het
toe besluit om nie bymekaar te bly nie, en Lot het in Sodom gaan woon.

Daar was die
episode toe die konings van Sodom en Gomorra in ’n oorlog betrokke was, en
hulle die onderspit gedelf het.

Abram het toe
gehelp om Lot weer te bevry.

Hy het ook
vir die koning van Sodom ’n guns bewys deurdat hy heelwat goed wat buitgemaak
is, teruggebring het.

En dan volg
ons teks, noudat Abram al heelwat jare in die beloofde land is.

 

Tema: God sluit sy genadeverbond met Abram

-         
Om sy twyfels aan te spreek

-         
Elemente van verbondsluiting

-         
Onewewigtige verbond

-         
Ritueel

-         
Die HERE alleen sluit die verbond

-         
Wat dit Hom sou kos

 

Intussen het
daar dus heelwat jare verloop, en Abram, en moenie vergeet sy vrou Sarai, het somtyds begin wonder oor al God se
beloftes.

Want wanneer
sou God nou begin om sy beloftes te vervul?

Hulle was
nog kinderloos, en hulle was nog vreemdelinge in die land.

Wanneer sou
daar verandering in kom?

Abram het
toe vir die HERE gevra of hy Hom wel reg verstaan het.

Het ek U reg
verstaan dat u vir my persoonlik bedoel het?

Het u nie
dalk bedoel dat my dienskneg, Eliëser, die erfgenaam sou word nie?

Die HERE het
toe baie eksplisiet verduidelik dat dit nie die geval was nie.

Nee Abram,
jy en jou vrou, julle ’n kind kry.

Die HERE het
hom buitentoe gevat, hom die sterre gewys, gevra of hy hulle kon tel.

Só sal jou
nageslag wees.

 

Ook ten
aansien van die belofte oor die land Kanaän wou Abram meer duidelikheid hê.

Hy vra toe
of die HERE vir hom ’n teken kon gee.

Waaraan sal
ek weet dat ek dit in besit sal neem?

Ons teks
vorm deel van die teken wat God toe vir Abram gegee het.

Hy het met
hom ‘n verbond gesluit, sê ons teks in vers 18.

Die
oorspronklike, tegniese term, in Hebreeus is: om ‘n verbond te sny.

Die
werkwoord sny word gebruik.

Dit verwys
na die seremonie wat daarmee gepaard gegaan het, soos ons dit in hierdie
hoofstuk gelees het.

Die diere is
naamlik in die middel deurgesny.

 

Dit was ’n
seremonie.

In Genesis
15 vind ons verskillende aspekte wat
tipies was vir ’n verbondsluitingsseremonie
.

Een aspek is
dat die verbondspartners hulleself aan mekaar voorgestel het.

In vers 1 sê
die HERE vir Abram: Ek is vir jou ’n skild.

Nog ’n vaste
element van ’n verbondsluiting was ’n historiese proloog.

Die
verbondspartners vertel dan watter goeie dinge hulle reeds in die verlede vir
mekaar gedoen het.

So sê die
HERE dat Hy die een was wat vir Abram uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs
(vers 7) en hom na die beloofde land gebring het.

 

Nog ’n vaste
onderdeel van die verbondsluiting was die beloftes.

Hierdie
hoofstuk staan vol beloftes wat God aan Abraham maak.

Later in
hoofstuk 17 vind ons nog veel meer beloftes.

God se beloftes
aan Abram kan mens groepeer in basies vier soorte:

-         
die belofte van persoonlike seën (dinge soos
welvaart en rykdom);

-         
die belofte dat hy ’n groot volk sou word;

-         
die belofte dat die land Kanaän vir hulle
bestem is;

-         
en, die Messiaanse belofte tot seën van alle
volke.

 

Die verbond wat
die HERE hier met Abram gesluit het, was eintlik baie onewewigtig.

Dit was nie
’n verbond tussen twee gelykwaardige partners nie.

Die HERE
neem die inisiatief tot die verbond, Hy is soveel groter en magtiger.

Hy kan so baie belowe.

Abram kan
eintlik niks belowe nie.

Al wat Hy
kan doen is beloof om gehoorsaam te wees aan die verbond.

En om te glo
wat God hom beloof.

Soos in vers
6 staan: en hy het in die HERE geglo.

Dis die
eerste keer wat die woordjie ‘glo’ in die Bybel staan.

Die
Hebreeuse woord vir glo is ‘aman’, dis waar die woord Amen vandaan kom.

Glo dat dit
wat die HERE sê waar en betroubaar is.

 

Daar was nog
ander onderdele van ’n tipiese verbondsluiting, wat ons nie alles in hierdie
hoofstuk vind nie, dit kom later, byvoorbeeld in Genesis 17.

Behalwe vir
beloftes, was daar vervloekinge, oftewel sanksies.

Wat naamlik
sou gebeur as een van die partye die verbond breek.

’n Vaste
onderdeel was ook ’n seën wat uitgespreek is.

En ’n vaste onderdeel
was afsprake oor hoe die verbond bewaar, of geargiveer moes word,

Op
kleitablette byvoorbeeld, en hoe dikwels die partye dit moes voorlees om weer
daaraan herinner te word.

Ook was daar
’n teken van die verbond, sodat mense elke keer daaraan herinner sou word.

Die teken was
die instelling van die besnydenis.

Dit vind ons
in Genesis 17.

 

Maar wat ons
hier in Genesis 15 nog verder vind, is die ritueel.

Die HERE gee
Abram opdrag om van sy beste diere te neem, drie jaar oud, dws volwasse maar
nog jonk en gesond, en die moes hy in die middel deursny.

Daarna moes
hy die twee helftes teenoor mekaar lê, sodat daar ’n paadjie tussen hulle
deurloop.

Die voëls
moes hy bo-op die gesnyde stukke lê.

Dit spreek
vanself dat hierdie ritueel baie bloederig was.

Mens kon die
bloed en rou vleis ruik.

Die aasvoëls
het die reuk op opgetel, en al gou sirkel hulle bo die karkasse.

Abram moes
hulle wegjaag.

 

Dis
belangrik om te besef dat hierdie ritueel vir Abram nie onbekend was nie.

In daardie
dae was dit algemene praktyk, as mense, of konings, met mekaar ’n verbond
gesluit het.

Die HERE
sluit hier dus aan by ’n algemeen bekende ritueel, wat Abram kon verstaan.

By ’n
verbondsluiting het beide partye saam tussen die stukke vleis aan weerskante
deurgeloop, die paadjie vol bloedspore.

Die ritueel
was sodat beide partye sou besef: as ek die verbond breek, as ek ontrou is aan
die verbond, dan moet daar met my gebeur wat ook met hierdie diere gebeur het.

Dan het ek
geen reg om langer te lewe nie.

Die bloed
van hierdie diere beseël die verbond, wys hoe sterk die verbond is.

Die verbond
is ’n kwessie van lewe en dood.

Abram moes besef,
hy gaan nou saam met die HERE tussen die diere deurloop.

Hy moes besef,
ek moet trou bly aan die HERE, my Bondgenoot.

Dis ’n
kwessie van lewe en dood.

 

Toe Abram
alles gereed gesit het, het hy gewag.

Gewag dat
die HERE moes opdaag, om saam met hom oor die bloedstraat te loop.

Die HERE het
vir hom gesê om die ritueel voor te berei, dus, Abram het verwag dat die HERE
nou ook sou opdaag.

Maar die
HERE het nie opgedaag, op die gewone manier, soos ’n mens sou opdaag nie.

Abram het
bly wag, maar toe die son sak, raak hy aan die slaap.

Dit was nie
omdat hy moeg was nie.

Hierdie was
’n anderste soort slaap.

Die HERE het
hom laat slaap.

En toe praat
die HERE met hom.

Toe daag die
HERE op, die Almagtige.

Ja die HERE
is betroubaar, wat Hy sê, sal Hy doen.

Maar die
HERE is nie altyd voorspelbaar nie.

By Hom is
betroubaar en voorspelbaar nie altyd dieselfde nie.

Hy is die
Almagtige.

Hy is groot
en onbegryplik.

En so
verskyn die HERE aan Abram, maar anders as wat hy verwag het.

In sy slaap
praat die HERE met Abram.

Die HERE
beloof hom weer dat Hy hom sal beskerm.

Abram se
toekoms gaan nie maklik wees nie – God praat oor vreemdelingskap, slawerny,
verdrukking vir hom en sy nageslag, selfs vierhonderd jaar lank, maar nog
steeds, die HERE sal met hulle gaan, op die pad wat hulle sal moet stap.

Ja, die
belofte sal waar word, die land Kanaän sal hulle besit word.

Maar die
HERE is ook duidelik, nie nou al nie, Abram, eers jou nageslag sal die land in
besit neem.

Die HERE se
belofte is betroubaar, maar Hy vervul dit op SY tyd.

 

En dan lees
ons in ons teks – weer eens anders as wat Abram verwag het – dat die HERE alleen tussen die stukke diere heengaan.

Die HERE is
bereid om alleen waarborg te staan vir hierdie verbond.

Daar het ’n
rokende oond en vurige fakkel tussen die stukke vleis deurgegaan.

Oorspronklik
staan daar: ’n oond van rook en ’n fakkel van vuur.

Dit gaan dus
nie oor iets soos ’n oond en iets soos ’n fakkel nie.

Die oond en
die fakkel simboliseer die vuur en die rook.

Is dit nie
soos die Here Homself meer dikwels in die Bybel aan mense openbaar nie?

In die vorm
van vuur – dink aan die brandende doringbos, toe Hy aan Moses verskyn het.

Dink aan die
weerlig op Sinaï, toe Hy aan die volk verskyn het.

Dink aan die
vuur op Pinksterdag, toe die Heilige Gees uitgestort is.

En so ook in
ons teks: vuur en rook.

Die HERE se
teenwoordigheid, sy aanwesigheid, is vir Abram duidelik.

 

God die
almagtige sluit ‘n verbond met sy skepsel.

Dit is ’n genadeverbond.

Abram het
niks om vir die HERE te bied nie, maar die HERE bied hom alles.

Miskien was
Abram wel bereid om saam met die HERE tussen die diere deur te stap.

Maar God
voorkom dit – Hy laat Abram slaap.

Want al is
Abram bereid, al het hy die beste bedoelings, hy sal dit nie kan waarmaak nie.

God weet hoe
Abram is.

Hy is ’n
mens, hy is onbetroubaar.

Hy sal nie
sy belofte kan hou nie.

God stap
alleen oor die bloedstraat, Hy neem alle verantwoordelikheid op sy skouers.

Inderdaad,
’n genadeverbond.

Sodat die
vlees nie sal kan roem nie.

Deftig word
daar in die dogmatiek gesê: hierdie genadeverbond is eensydig in sy ontstaan,
maar tweesydig in sy voortbestaan.

Die HERE
sluit alleen die verbond, maar voortaan verwag Hy van Abraham lojaliteit,
toewyding en gehoorsaamheid.

 

Vir Abram
was hierdie wending in die ritueel onverwags.

Verbasend,
dat die HERE dít doen.

Abram kon
nog nie volledig bevat waarmee die HERE hier besig was nie.

Maar die
HERE self het baie goed besef waarmee Hy besig was.

Hy het toe
al baie goed besef wat dit Hom sou kos.

Ons weet
vandag wat dit die HERE gekos het.

Sy
verbondstrou het daartoe gelei dat Hy sy eie Seun laat offer het.

Christus se
bloed het gevloei, om die verbond te herstel.

Die verbond
wat nie Hy, maar ons verbreek het.

Toe die HERE
tussen die stukke diere heengaan, het Hy besef,

eendag gaan
my geliefde Seun se bloed ook vloei.

 

Ons jy is
vandag deel van Abram se nageslag, jy is een van die ontelbare sterre wat God
aan Abram getoon het.

Jy lewe ook
in die genadeverbond wat God daardie aand met Abram gesluit het.

Ons het
nagmaal gevier, en herdenk dat Christus deur sy bloedstorting hierdie verbond
van genade – woorde van die nagmaalsformulier – vir ewig bekragtig het toe Hy
gesê het: dit is volbring.

Dankbaar mog
ons herdenk dat God, volgens die beloftes wat aan die aartsvaders gegee is, ons
Here Jesus Christus in hierdie wêreld gestuur het.

 

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)