Christus roep die gelowiges op om saam te kom

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-06-22
Teks: 
Handelinge 2 : 41-42
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 22 Junie 2014
AD, 10:15 (nagmaal)

Liturgie:

Voorsang: Ps
91:1,2,3

Votum

Seën

Ps 31:1

Wet

Ps 38:1

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed

Onse Vader
(sing)

Geloofsbelydenis

Ps 38:8
(tafel in gereedheid)

1e
tafel: Skriflesing: Handelinge 2:22-47; Ps 103:7

2e
tafel: Teks: Handelinge 2:41-42; Ps 103:10

3e
tafel: Lofverheffing & Gebed; Ps 103:11

Preek

Ps 150:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 150:3

Seën

Preek: Handelinge 2:41-42

In
Suid-Afrika beskou die grootste deel van die bevolking hulleself as Christene.

Volgens
statistieke was dit in 2001 80% van die bevolking, en in 2007 84% van die
bevolking.

Tog is dit
so dat ’n groot aantal Christene nie elke Sondag kerk toe gaan nie.

Kan mens ’n
Christen wees, sonder om gereeld kerk toe te gaan?

Hierdie vraag
het baie met ons teks te make.

 

Christus roep die gelowiges op om saam te kom

1      
Die noodsaak
van die erediens

2      
Die
basiselemente van ‘n erediens

 

1          Die noodsaak van die
erediens

Ons lees
hier oor die begin van die kerk in die Nuwe Testament.

Na
Pinksterdag het drie duisend mense gehoor gegee aan Petrus se oproep.

Hulle is
gedoop, en ons teks sê dat hulle toegebring is.

Ons kan ook
vertaal: toegevoeg.

Hierdie
woord is belangrik.

Dit was nie
so dat hierdie mense hulle tot Christus bekeer het, na Petrus se oproep, dat
hulle gedoop is, en dat hulle daarna weer vertrek het, elkeen op sy eie pad nie.

Nee, hulle
is toegebring.

Hulle het
deel geword van die groep van Jesus.

Die groep
wat later Christene sou gaan heet – sien Handelinge 11:26.

Bekering is
nie iets sonder toewyding, iets sonder behoort nie.

Bekering
bind jou aan ander.

Om tot
bekering te kom, om gedoop te word, is nie net ’n insident in jou lewe, ’n
datum wat jy in jou dagboekie kan skryf, waarna jou lewe weer aangaan nie.

Jy word toegevoeg.

Toegevoeg
aan die gemeenskap.

Jy kan nie
’n gelowige op jouself wees nie.

Dan sal jou
geloof nie standhou nie.

Elkeen wat
in Christus glo, is bereid om toegevoeg te word aan die gemeente.

Dit is die
boodskap wat uit die teks na ons kom.

Iemand wat
dink sy geloof is sterk genoeg, hy hoef nie elke Sondag kerk toe te kom nie, hy
hoef nie altwee dienste by te woon nie, hy hoef nie saam Bybelstudie te doen
deur die week nie, miskien is jou geloof juis nie sterk genoeg, met die gevolg dat jy nie die belang hiervan
besef nie.

Want iemand
met ’n sterk geloof besef juis hoe swak hy self is.

Dit klink
teenstrydig, maar dit werk juis so.

Iemand met
’n swak geloof dink hy is sterk genoeg.

Iemand met
’n sterk geloof besef hy is swak.

En daarom
het hy die geestelike voeding baie nodig, en baie gereeld nodig, en daarom het
hy die ondersteuning van ander ook nodig.

 

Mens kan dit
met ’n bokkie in die wiltuin vergelyk.

’n Bokkie
wat alleen op homself staan, is ’n maklike prooi vir die leeus.

Die wat in
die trop bymekaar staan, is veiliger.

As ’n klomp
leeus ’n trop aanval, probeer hulle altyd een bokkie te isoleer, en gaan dan
vir hom.

Solank die
trop bymekaar bly, verwar dit die leeus en kan hulle nie ’n prooi maak nie.

Dis presies
soos die duiwel ook werk.

Hy probeer
jou isoleer.

Dan’s jy ’n
maklike prooi vir hom.

Moenie
jouself isoleer, of toelaat dat jy geïsoleer word as gevolg van watter
omstandighede ook al nie.

Sorg dat jy
deel bly van die gemeenskap van gelowiges, ’n toegewyde, aktiewe lid.

 

Die tweede
vers uit ons teks vertel vervolgens vir ons iets oor die eerste gemeente se
samenkomste.

Dit gee die
basiselemente van hulle samekomste.

Dit is die
tweede punt waarna ons gaan kyk:

 

2      
Die
basiselemente van ‘n erediens

Wat het die
eerste Christene gedoen as hulle bymekaar gekom het?

Vers 42 noem
vier dinge.

Hierdie vier
dinge kan mens sien as die basiselemente van ’n kerkdiens.

Die vier
pote van ’n stoel.

Sonder een
van die vier pote, begin die stoel te wankel.

 

In die
eerste plek het hulle volhard in die
leer van die apostels
.

Hulle leer,
dit beteken die onderrig van die Here Jesus Christus.

Die
Evangelie.

In hulle
byeenkomste, en dit geld ook vir ons kerkdienste vandag, staan die Bybel
sentraal.

Die onderrig
van Christus.

Dit is
hoekom daar in elke erediens, tot vandag toe, Skriflesing moet wees.

Dit kan
nooit oorgeslaan word nie.

Dit is die
kern van die erediens.

Daarna moet
die Skriflesing verklaar en toegepas word.

’n Diens
waar die Bybel nie oopgemaak word nie, is nie ’n kerkdiens nie.

’n Diens
waarin net een versie uit die Bybel gelees word, waarna die prediker ’n lang
verhaal hou, is eintlik al op die randjie.

In ’n
erediens behoort daar behoorlike Skriflesing te wees.

Daar is
kerke, byvoorbeeld in die Presbiteriaans tradisie, wat vereis dat in elke diens
’n gedeelte uit sowel die Ou as die Nuwe Testament gelees word.

’n Goeie
gewoonte.

In ’n
kerkdiens moet die Woord sentraal staan.

Daar moet
sigbare en hoorbare respek wees vir God se eeue oue maar nog steeds kragtige
Woord.

As mense die
Bybel behandel as ’n boek wat net deur mense geskryf is; as die Bybel nie
gehanteer word as ’n boek waarin die lewende God met mense praat nie, dan mis
’n erediens sy kern, sy hart.

 

Die tweede
element wat in vers 42 genoem word is: hulle
het volhard in die gemeenskap
.

Ons het
eintlik al hieraan aandag geskenk in die eerste punt, toe ons na vers 41 gekyk
het.

Iemand wat
in Jesus Christus glo en Hom dien, kan dit nie op sy eie doen nie.

In ’n
kerkdiens kom gelowiges saam as ’n groep mense.

’n Kerkdiens
sonder mense – en dan bedoel ek lojale, toegewyde getroue mense – is nie ’n
kerkdiens nie.

Dit gaan ook
nie oor die kerkgebou nie.

In sommige
kerklike tradisies is die kerkgebou op Sondag oop, en die priesters doen hulle
werk, en die mense kan enige tyd wat hulle pas binnekom, ’n gebed doen, ’n
kersie brand , of wat ook al.

Maar dan is
dit dus nie ’n groep mense wat bewus saamkom nie.

Volharding
in die gemeenskap beteken dat jy saamkom, dat jy saam een liggaam vorm, dat dit
sigbaar is, en dat jy vir mekaar ’n hand en ’n voet is.

 

Die derde
element wat genoem word is die breking
van die brood
.

Dit is ’n
verwysing na die nagmaal.

Die Here
Jesus het dit ingestel, toe Hy saam met sy dissipels die pasga gevier het, kort
voor sy kruisiging.

In sy vorige
boek het die evangelis Lukas daaroor geskryf.

Dat Christus
gesorg het dat ’n groot bovertrek gereed gemaak is waar hulle dit kon vier
(Lukas 22:12).

Heel
moontlik is dit dieselfde bovertrek waar die gemeente ook na hemelvaart
saamgekom het (Hand 1:13).

Of hulle nou
nog steeds daarin gepas het, ten tyde van ons teks, is ’n ander vraag.

Want sedert
Pinksterdag het die gemeente met minstens drie duisend mense gegroei.

In elk geval
het hulle voortgegaan om die brood te breek, die nagmaal te vier, soos Jesus
dit ingestel het.

Elf van die
dissipels was in elk geval daarby, toe Jesus die nagmaal ingestel het, en hulle
het sy instruksies goed onthou.

 

Hierdie
verwysing na die nagmaal kan ons ook breër sien as ’n verwysing na die
sakramente wat Jesus ingestel het: die nagmaal en die doop.

Die
sakramente vorm ook ’n vaste onderdeel van die erediens.

In die
kerkdiens ontvang die sakramente hulle regte plek.

Dis nie die
bedoeling dat sakramente in isolasie bedien word nie.

Soos in
sommige kerke die gewoonte is, dat mense deur die week kerk toe kan kom om
hulle kind te laat doop, terwyl die gemeente nie aanwesig is nie.

 

Die laaste
element wat in ons teks genoem word, is die gebede.

Dit is ook
’n element waarsonder ’n kerkdiens nie ’n kerkdiens is nie.

In ’n
kerkdiens praat God nie net met die mense nie, maar hulle praat ook met God.

Dit gebeur
in die gebed.

Om die
waarheid te sê, dit gebeur ook as die gemeente sing.

Baie psalms
en gesange is ’n gebed tot God.

Of dit nou
’n loflied is, of ’n klaaglied, dit alles hoort by ons gebedslewe: om die Here
te loof en prys, om die Here te dank, om die Here te bid en dinge vir Hom te
vra; om voorbede te doen; om ons nood by Hom te klaag, ensovoorts.

In ons sang
en gebede kom ons tot God met al ons vreugdes, maar ook ons teenslae en
verdriet.

 

Dit is,
gemeente, die vier hoofelemente van ’n kerkdiens.

So het dit
begin direk na Jesus se hemelvaart.

As jy vandag
enige kerk sou besoek, dan is jy in staat om te bepaal of daardie kerkdiens in
lyn is met die oorspronklike begin.

Jy kan sien
of die stoel vier pote het.

As een
element afwesig is, kan mens nie praat oor ’n kerkdiens in sy oorspronklike
vorm nie.

Natuurlik
kan daar baie variasies in ’n kerkdiens wees.

Dit is nie
erg nie, solank die vier elemente aanwesig is.

 

Natuurlik is
die kerkdiens nie die enigste elemente waarop ons moet beoordeel of ’n kerk ’n
ware kerk is nie.

En dan praat
ek nie net oor ander kerke nie, maar ook oor onsself.

Ons moet
onsself voortdurend ook evalueer, of ons wel trou bly aan God se wil met sy
kerk.

In die
belydenisgeskrif, die Nederlandse Geloofsbelydenis, word spesifiek aandag
geskenk aan wat beskryf kan word as noodsaaklike elemente vir ’n lewende
gemeente, ’n ware kerk.

Daar word
genoem die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die
sakramente, en die bediening van die tug.

Die NGB
skenk nie net aandag aan wat ’n ware kerk is nie, maar ook wat ’n ware Christen
is.

 

Elkeen van
ons het die taak – en soos ons in hierdie preek gesien het – dis tot ons eie
beswil, tot ons eie behoud, dat ons trou die eredienste bywoon.

Dat jy
jouself nie isoleer en so ’n prooi vir die satan word nie.

Ons word
opgeroep om die kerkdienste by te woon.

Om dit
positief te stel: ’n kerkdiens is werklik ’n EREDIENS as alle lede aanwesig is.

Sonder jou
is elke diens ’n bietjie minder ’n EREDIENS.

Maar hoe meer
mense kom, hoe meer word die kerkdiens ’n EREDIENS vir God.

’n Diens wat
die volle eer aan God bring.

 

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)