Die almagtige God duld onreg nie vir ewig nie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-05-18
Teks: 
Joël 3
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 18 Mei 2014
AD, 17:30

Liturgie:

Voorsang: Ps
69:7,8,10,11,12

Votum

Seën

Ps 84:1,2

Gebed

Skriflesing:
Joël 3

Ps 48:1,2

Teks: Joël 3

Preek

Ps
48:3,5 

Geloofsbelydenis
(sing)

Gebed

Kollekte

Ps 87:1,3,4

Seën

Preek: Joël 3

Ons is hier
in Suid-Afrika al redelik gewoond aan die feit dat onreg nie altyd gestraf word
nie.

Mense wat
verkeerde dinge doen, kom daarmee weg.

Selfs wat
betref ons president is dit objektief vasgestel deur die openbare beskermer,
die instansie wat sulke gevalle moet ondersoek, dat hy publieke geld vir
privaatgewin aangewend het.

En soos dit
tot op hede lyk, gaan dit sy posisie as president nie affekteer nie.

Daar is baie
mense in ons land, blank swart en bruin, wat moet leef met die wete dat die
onreg wat hulle aangedoen is, nooit reggestel sal word nie.

Uit ons eie
gemeente is daar al lidmate vermoor, jare gelede, en die moordenaars loop nog
steeds op vrye voet.

 

Suid-Afrika
is nie die enigste land waar dit so gaan nie.

In ander
lande is dit nog erger, en dan bedoel ek dit spesifiek in die sin dat Christene geteiken word.

In lande
soos Noord-Korea, Saudi-Arabië, Sirië, Irak en Iran word Christene se lewens
letterlik bedreig.

Hierdie
lande staan almal in die top 10 van die ranglys van lande wat Christene vervolg
of diskrimineer.

Die
internasionale organisasie Open Doors
staan op vir die belange van vervolgde Christene wêreldwyd, en hulle publiseer
elke jaar die ranglys.

Dit is
maklik om dit op internet te vind.

Dalk ’n
goeie idee vir ons kerkraad of diakens om aan hierdie organisasie ’n donasie te
gee.

 

Dit is egter
nie net lande in die Midde- en Verre Ooste wat Christene vervolg nie.

Dit gebeur
ook digterby, hier in Afrika.

Somalië
staan nr. 2 op die ranglys.

As dit
uitkom dat ’n Somaliese burger Christen is, dan beteken dit vir hom in feite
die doodstraf.

Verder kan
mens dink aan ’n land soos Nigeria, nr. 14 op die lys.

Onlangs is
ongeveer 200 meisies ontvoer, deur Boko Haram.

Dit is ’n
militante moslimgroep uit die noorde van Nigeria.

Hulle naam, Boko Haram, beteken soiets soos: Westerse onderwys is sondig.

Dit verwys
dan spesifiek na: Christelike onderwys.

In ’n video
wat hulle onlangs vrygestel het, vertel hulle dat hulle die ontvoerde meisies
bevry het.

Want hulle
dra nou moslimklere en hulle leer die Koran nou uit hulle kop.

 

Gelukkig het
daar uiteindelik baie internasionale aandag gekom vir hierdie ontvoerde
meisies.

Gelukkig het
dit die regering van Nigeria ook laat wakker skrik, om iets te doen om die
meisies te bevry.

Maar los van
hulle is daar baie anonieme mense, Christene,
wat ontvoer, of vervolg, of gediskrimineer word, en wat tien teen een nooit
sal ervaar dat daar reg geskied nie.

Al hoop wat
hulle het, is om te wag op die hoogste Regter, dat Hy op sy tyd die reg sal
laat seëvier.

 

Tema: Die almagtige God duld onreg nie vir ewig nie.

1 Hy besoek die wêreld met sy straf

2 Hy besoek die wêreld met sy seën

 

1 Hy besoek die wêreld met sy straf

Wat bedoel
ek met die woordjie ‘wêreld’?

Alle mense
wat op die aarde woon, dus ook die Christene.

Net soos die
bekende teks Johannes 3:16 sê:

“Want so
lief het God die wêreld gehad, dat Hy
sy eniggebore Seun gegee het...”

God se Seun
het op aarde gekom om die straf vir die wêreld te dra.

In die
eerste plek het Hy uiteraard vir God se volk gekom.

Maar ook vir
alle ander.

Soos in die
Nuwe Testament staan: eers vir die Jood, maar ook vir die Griek, ook vir die
heidene.

As die 1e
punt lui: God besoek die wêreld met sy straf, dan bedoel ek dus ook dat Hy sy
eie volk, oftewel kerkmense, kom straf.

 

Laasweek het
die preek oor Joël 1 & 2 gegaan.

Dit was oor
die sprinkaanplaag.

Swart
dreigende wolke van sprinkane wat aangekom vlieg het.

Hulle het
alles opgevreet wat te vinde was.

Ons het
gesien hoe God met hierdie natuurramp sy volk tot stilstand gebring het.

Daar was
akute hongersnood, in Jerusalem het mense daardeur gesterf.

Duisende
diere het ook gesterf.

Daar het
epidemies ontstaan.

God het sy
eie volk met hierdie straf besoek.

Hy laat nie
eindeloos toe dat sy volk in hulle welvaart gemaak het asof hulle Hom nie nodig
het nie.

Met hierdie
straf het Hy hulle tot bekering geroep.

As daar
naamlik opregte berou is, is daar altyd terugkeer tot God moontlik.

Dit het ons
in die vorige preek oor Joël gesien.

 

Vandag kyk
ons verder.

Die almagtige
God duld onreg nie vir ewig nie.

Hy het met
sy straf oor sy eie kinders gekom.

Vandag sien
ons uit hoofstuk 3 dat Hy ook met sy straf oor alle ander volke gekom het.

Hy besoek
die wêreld met sy straf.

In Joël 3
word die nasies opgeroep om na die dal van Josafat te gaan.

Wat word
presies hiermee bedoel?

As twee
nasies vroeër teen mekaar oorlog wou voer, het hulle mekaar vir ’n veldslag in
’n dal uitgedaag.

’n Dal, waar
daar nie klippe en rotse was nie, en waar die strydwaens maklik kon ry, daar is
die veldslae gevoer.

Dink
byvoorbeeld aan die dal van Jisreël.

Dit was ’n
baie bekende vlakte in Palestina, waar menige veldslag uitgeveg is.

Waar die dal
van Josafat, waarvan ons in hierdie hoofstuk lees, presies geleë was, weet ons
nie.

Na alle
waarskynlikheid gaan dit hier nie oor ’n konkrete plek nie.

Ons het hier
naamlik te make met woordspeling.

Die naam Josafat beteken in Hebreeus: die HERE oordeel.

Dit is dus
die dal waar die HERE gerig sal hou, sy oordeel sal vonnis oor alle onreg.

God sal daar
aan die skuldiges hulle welverdiende straf gee.

 

Veral drie
volke word in hierdie hoofstuk met naam en toenaam genoem.

Drie volke
wat geprobeer het om God se volk te vernietig.

Tirus,
Sidon, en Filistea.

Aldrie
hierdies was buurvolke van Israel.

Wat het
hulle God se volk eintlik aangedoen?

Dit staan in
verse 2 en 3:

Daar sê die
Here:

Ek sal met
hulle ’n strafgerig hou “ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle
onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het. En oor my
volk het hulle die lot gewerp en ’n jong seun weggegee vir ’n hoer en ’n meisie
verkoop vir wyn”

Gemeente,
waaroor gaan dit hier?

Dit gaan
hier oor slawehandel.

Tirus, Sidon
en Filistea was aldrie seevarende volke.

Hulle het
aan die kus gewoon.

En hulle het
hulle dus aan slawehandel skuldig gemaak.

Net soos die
Portugese, Nederlanders, Franse, Dene en Britte hulle die afgelope eeue aan
slawehandel skuldig gemaak het.

Al hierdies
was ook seevarende volke in die Goue Eeu.

 

Ons lees in
hierdie hoofstuk dat die Tiriërs, Sidoniërs en Filistyne in mense handel gedryf
het.

Hulle het
die Israeliete ontvoer, om hulle per skip na verre streke te vervoer, waar
hulle verkoop is.

Veral aan
die kinders van Jawan – sien vers 6.

Die kinders
van Jawan, dit was die Grieke, wat in die noordelike kusstreke van die
Middellandse See gewoon het.

 

Volgens die
wet van God, die wet wat deur Moses opgeskryf is, het die doodstraf op
slawehandel gestaan.

Dit staan in
Exodus 21:16:

“En hy wat
’n mens steel en hom verkoop – of as hy in sy besit gevind word – dié moet
sekerlik gedood word.”

Dit was dus
’n ernstige misdryf.

Iets wat tot
God geroep het om vergelding.

 

In hierdie
hoofstuk sien ons dat God se tyd nou aangebreek het.

Hy duld
onreg nie vir ewig nie.

Almal moes
bymekaarkom in die dal van Josafat, die plek waar die straf sou plaasvnd.

Daar sou God
afreken met elkeen wat sy wette verontagsaam het.

 

Inderdaad,
God straf die hele wêreld.

Nie net sy
eie volk nie, met hulle begin Hy dikwels.

Hoekom
eintlik?

Dit is
genade, dit het ons in die vorige preek uit Joël ook al gesien.

Dit is pure
genade dat God ons deur sy strawwe met die neus op die feite druk.

So dwing Hy
ons om na Hom toe terug te keer.

So betoon God Homself as die lewende.

Hy leef en
regeer – kerkmense kom dit agter.

Maar ook
heidene, ongelowiges, sal agterkom dat Hy leef en regeer.

Die onreg
kan Hy nie vir ewig verdra nie.

 

Vanaf vers
13 word met baie beeldmateriaal verduidelik hoe God die volke straf.

Ons vind in
vers 13 beelde uit die agrariese wêreld.

Steek die
sekel in.

Trap die
parskuip.

Dit herinner
aan die drie belangrikste landbouprodukte van Palestina: graan, druiwe en
olywe.

Die tyd van
die oes het gekom.

Die tyd dat
die koring van die kaf geskei gaan word.

Al die kaf,
alles wat nie deug nie, word met vuur verbrand.

 

Ook word op
’n baie beeldende wyse beskryf hoe God met die volke praat, hoe sy stem klink.

In vers 16
staan: die HERE brul.

Die woord
laat mens dink aan onweer.

Soos ’n
sware donderslag klink God se stem.

Hemel en
aarde bewe.

Swaar donker
wolke skuif voor die son in.

Son, maan en
sterre trek hulle glans in.

Helder
oordag word dit donker.

Almal
verkeer in doodsgevaar.

Gemeente,
dis belangrik om te besef dat hierdie net beelde is.

Beelde vir
hoe God met sy oordeel oor die wêreld kom.

Want hoe
straf God eintlik werklik?

Daarvoor
gebruik Hy verskillende metodes.

 

Ons het al
in die vorige preek gesien dat Hy natuurrampe kan gebruik: sprinkane, of ’n
aardbewing, of ’n orkaan.

Maar God kan
ook die een volk gebruik om die ander een te straf.

So het God
die Assiriërs as instrument gebruik om sy volk te straf.

Die
Assiriërs het die noordelike 10-stammeryk in ballingskap gevoer.

En God het
die Babiloniërs gebruik om Juda weg te voer.

Dit wil nie
sê dat die Assiriërs en die Babiloniërs vryuit kon gaan nie.

Want die
wyse waarop hulle God se opdrag uitgevoer het, was van so ’n aard dat dit op sy
beurt weer om straf geroep het.

En dit sien
ons in hierdie hoofstuk dus ook.

Die
Filistyne, Sidoniërs en Tiriërs het die lewe vir die mense van Juda baie swaar
gemaak.

Telkens het
hulle weer as bendes deur die land getrek en alle goud en silwer geroof, en
selfs mense vir die slawehandel.

 

Enersyds was
hulle deur God gestuur, net soos die sprinkane, om God se volk te straf.

Maar
andersyds het hulle buite hulle boekies gegaan.

En dit het
die almagtige God ook nie verdra nie.

En daarop
volg nou dus die straf.

Die profeet
Joël vertel oor die dal van Josafat, die dal van beslissing.

Daarheen
dryf God alle volke, die Filistyne, die Sidoniërs en die Tiriërs.

En daar
ontbrant hulle teen mekaar.

Daar straf
hulle mekaar.

Daar
vernietig die kwaad homself.

En so
herstel God reg op aarde.

Die onreg
word weggevaag, dit kry sy welverdiende straf.

 

Gemeente,
ons weet ook dat dit regtig gebeur het.

Tirus, Sidon
en Filistea is verslaan deur die Assiriërs.

En die
Assiriërs, wat die 10-stammeryk in ballingskap gevoer het, is op sy beurt
verslaan deur die Babiloniërs.

So gebruik
God die een volk om die sonde en wreedheid van ’n ander volk te beëindig.

En dit
gebeur vandag ook nog.

Die
almagtige God herstel die reg op aarde.

As sy tyd
gekom het, dan word alle kaf op aarde, alles wat nie deug nie, verbrand.

God is
regverdig.

Hy duld geen
onreg.

Hy duld dit
nie binne sy eie volk nie.

Daarmee
reken Hy eerste af.

Maar ook
alle onreg buite sy volk, word vroeër of later getermineer.

 

Gód regeer
hierdie wêreld.

En met die
kwaad reken Hy af.

Ook die
onreg wat Christene aangedoen word.

Die
christene wat vervolg of ontvoer word, of dit is in Noord-Korea, Sirië, Somalië
of Nigerië,

hulle saak
roep tot God, net soos die bloed van die vermoorde Abel.

Ook alle
diskriminasie teen Christene, en diskriminasie teen ’n Christelike lewensstyl,
ook in westerse lande, dit ontgaan God se oog nie.

God besoek
die tradisioneel Christelike lande in die Weste met sy seën.

Hy oorlaai
hulle met welvaart.

Maar God
besoek mense ook daadwerklik met sy straf.

As jy goeie
raad soek vir die toekoms, hou hiermee rekening.

Sowel God se
seën as sy straf is ’n werklikheid.

 

(Tema: Die
almagtige God duld onreg nie vir ewig nie.

1 Hy besoek
die wêreld met sy straf)

 

 

2 Hy besoek die wêreld met sy seën

Dit is nie
die bedoeling dat die boodskap van die eerste punt van hierdie preek, nou in
die tweede punt geneutraliseer gaan word nie.

Die
werklikheid van God se straf bly staan, vir kerklede en nie-kerklede.

God is
regverdig en Hy reken met die kwaad af.

Dit is sy
aard.

Hy wil die
beste vir sy skepping.

Hy duld die
kwaad nie vir ewig nie.

Mens kan nie
sê dat God se seën hierteenoor staan nie.

Mens kan nie
sê dat sy seën, oftewel sy barmhartigheid, die teenpool is van sy regverdigheid
nie.

Sy seën, sy
barmhartigheid, loop juis parallel aan sy regverdigheid.

Hy straf
inderdaad alle onreg.

Hy tref dit
met die banvloek, sodat niks van die kwaad oorbly nie.

Maar
tegelykertyd bied Hy aan alle mense, kerkmense en nie-kerklikes, die
moontlikheid tot ontvlugting.

Om te
ontsnap aan die oordeel.

Hiermee – om
te ontsnap aan die oordeel – bedoel ek nie dat ’n mens vir God kan weghardloop,
soos ’n stout kind vir sy ma kan weghardloop wat vir hom ’n pak slaag wil gee
nie.

So word dit
nie bedoel nie.

Ontsnap aan
die oordeel, dit is ’n moontlikheid wat God sélf aanreik.

En ons as
mense kry die kans om dit met beide hande aan te gryp.

 

In die
vorige preek oor die sprinkaanplaag het ons gesien dat die straf juis bedoel
was om mense na God toe terug te bring.

Daar is
geleentheid vir bekering en boete.

Juis in ’n
tyd van straf, in ’n tyd van rampe, roep God vir die mense.

En is dit
nie ook so dat dikwels juis in oorlogstyd die kerke vol sit nie?

So het God
die sprinkaanplaag gebruik om die onreg op te ruim.

Die onreg
wat byvoorbeeld ontstaan het deur al die welvaart en die verkeerde gebruik
daarvan.

God se volk
het weer geleer wat dit is om jou hart te skeur, en nie jou klere nie.

Egte berou.

En, net soos
by ’n aardse pa, is dit ook so by ons hemelse Vader.

Die oomblik
as Hy sien dat sy kinders werklik berou het, dan is toorn gou verby.

Dan breek
die sonstrale vinnig deur die wolke van toorn.

Ons lees dit
in Joël hoofstuk 2.

Toe het God
dit weer vir sy volk opgeneem.

Hy belowe om
die sprinkane te verdryf, die see in.

Daar sal
almal verdrink.

Uit die see
sal die stank opstyg van al die dooie sprinkane.

Die volk
hoef geen sprinkaanwolke aan die horison meer te vrees nie.

God se
aangesig het weer vrolikheid en lig gestraal.

 

En,
gemeente, presies dieselfde geld ook vir nie-kerkmense.

Of, in terme
van die Ou Testament, vir alle ander nasies.

Hulle het
agtergekom dat God regverdig is, en die onreg nie vir altyd duld nie.

Maar hulle
het ook agtergekom dat God tegelykertyd barmhartig is.

Ook vir
hulle is daar ’n ontsnappingsmoontlikheid.

’n
Vlugroete, wat God sélf aanwys.

In die boek
Joël, net soos by die ander profete, is dit naamlik opvallend watter rol die
stad Jerusalem speel.

In die Ou
Testament klink dit telkens as ’n refrein:

in Jerusalem
sal daar ontkoming wees (Joël 2:32).

In Jerusalem
is daar ’n skuilplek teen die oordeel.

As die
oordeel begin, as God begin oes, dan word die kaf van die koring geskei.

Dan word die
kaf verbrand.

Dan verdwyn
die onreg.

Die aarde
word gesuiwer.

En daar is
dan slegs een plek waar jy kan gaan wegkruip.

Daar is
slegs een vlugroete.

Sorg dat jy
in Jerusalem kom!

Mens kan die
stad Jerusalem in hierdie opsig vergelyk met die ark van Noag, baie eeue
vroeër.

Toe God se
oordeel oor die toenmalige wêreld gedreig het, die sondvloed, toe was daar net
een vlugroete.

Sorg dat jy
in die ark van Noag kom.

Slegs in die
ark sou jy veilig wees teen God se straf wat oor die wêreld gespoel het.

Net so geld
dit nou hier in Joël wat betref die stad Jerusalem.

Gelukkig,
welgeluksalig is elkeen wat die geleentheid aangryp om die Sionsburg in te vlug.

Die poort
staan nog wyd oop, juis met die oog op die op hande synde oordeel.

God roep
dringend, tot alle mense.

Vlug! Kom
hierheen! Hier is geopende deure.

 

Gemeente,
net soos vandag was God toe ook begaan met die lot van die hele wêreld.

Die feit dat
God vir Israel as sy eie volk uitgekies het, was nie omdat Hy van die res
vergeet het nie.

Dit was nie
omdat Israel beter as die res was nie.

Inteendeel.

Israel was
juis die kleinste en onaansienlikste volk.

God het vir
Israel uitgekies, juis omdat Hy ’n boodskap gehad het vir alle volke van die
wêreld.

En wat
vroeër vir die stad Jerusalem gegeld het – naamlik dat dit bedoel was as ’n
veilige hawe – dit geld vandag vir die kerk.

’n Veilige
hawe om heen vlug, as die storms woed.

’n Veilige
hawe te midde van oordeel en straf.

’n Veilige
hawe vir elkeen wat hom vanuit die wêreld tot God bekeer.

 

Dit is wat
so mooi was in hierdie stad, Jerusalem, in die Ou Testament.

En wat so
mooi is in die kerk vandag.

Naamlik dat
God volkome regverdig is.

Die sonde en
onreg sal Hy verwyder van die aarde af.

En ook alle
mense wat bly vasbyt aan die sonde en onreg.

Hulle loop
die risiko om vir ewig verlore te gaan.

Terselfdertyd
wys God, die Regverdige én Barmhartige, ’n vlugroete aan.

As jy nie
vir ewig verlore wil gaan nie, vlug dan na Jerusalem toe, oftewel, vlug na die
kerk toe.

In die kerk
ontvang jy die boodskap:

Jy hoef nie
gestraf te word vir die onreg wat jy gedoen het nie.

God het sy
eie Seun gestuur om die straf te dra.

In die kerk
ontmoet jy jou Heiland.

Maar wie nie
hierheen vlug nie, en homself verhard, hy moet maar van sy pik ’n swaard smee,
en van sy snoeimes ’n spies.

Hy sal moet
baklei, en hy sal self in die geveg sneuwel.

In die groot
veldslag as die dag van God se afrekening, sy oordeel kom.

 

Maar wie na Jerusalem
vlug, kry iets anders te hore.

Luister
byvoorbeeld wat die profeet Jesaja sê oor Sion, die berg waarop Jerusalem gebou
is:

Jesaja 2:2 “En aan die einde van die dae sal die
berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe
wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. 
2:3 En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die
HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in
sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die
HERE uit Jerusalem. 
2:4 En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle
sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie
teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer
nie.“

Inderdaad, swaarde word pikke; spiese
snoeimesse.

Presies die omgekeerde as wat ons in Joël 3
lees.

Geliefdes,
glo in Jesus Christus, vlug na Hom.

Dan neem Hy
jou straf op Hom.

In die Ou
Testament was die vlugroete na Jerusalem.

In die Nuwe
Testament is dit nog makliker.

In die nuwe
bedeling, waar die kerk nou die funksie van Jerusalem oorgeneem het.

In elke land
staan die kerk van Christus.

Vlug
daarheen.

God besoek
die wêreld met sy straf, maar in die kerk daar is veiligheid.

Daar mag ons
leer raaksien hoe regverdig en barmhartig die HERE is, juis ook in sy oordele.

 

God luister
na die bloed van Abel, wat na die hemel roep.

God luister
na die noodkreet van alle Christene wat vervolg word, wat ontvoer word,
gediskrimineer word.

Hy luister
na die siele onder die altaar, soos die boek Openbaring dit verwoord.

Alle
martelare, wat tot Hom roep.

Hoe lank
nog, Here Jesus, hoe lank duur dit nog voordat U ons bloed kom wreek?

 

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)