Kerstyd is God se tyd

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-12-28
Teks: 
Matthéüs 1 : 20-23
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 28
Desember 2014 AD, 10:15

Voorsang:
Ps 135:2,4,5,6,7

Votum

Seën

Sb
1:1,2

Wet

Ps
119:63

Gebed

Skriflesing:
Jesaja 7

Ps
118:11,12

Skriflesing:
Mattheus 1:18-25

Sb
2:2,3

Teks:
Mattheüs 1:20-23

Preek

Sb
1:3-6

Gebed

Kollekte

Ps
150:1,2,3

Seën

Preek: Mattheüs 1:20-23

Sommige dae
sien mens al ’n maand vantevore aankom.

Orals word
jy daaraan herinner.

Net vir die
duidelikheid: histories gesproke is 25 Desember nie Christus se geboortedag
nie.

Die tradisie
het dit so gelei dat ons op 25 Desember Christus se geboorte vier.

Daar is baie
dinge wat ons uit tradisie doen, al het die inhoud deur die loop van die eeue
heeltemal verander.

Twintig eeue
gelede was niemand voorbereid op Kersdag nie.

Vir die
meeste mense het dit gekom soos ’n donderslag by heldere hemel.

Dink aan
Herodes, toe hy die berig ontvang het van die wyse manne, die waarsêers uit die
Ooste.

Van die een
op die ander oomblik het hy in sy gedagtes sy eie koninkryk sien wankel.

Ook die
priesters en Skrifgeleerders in Jerusalem het nie op die nuus sit en wag nie.

Hulle het ’n
ander verwagting gehad.

Hierdie
berig het nie met hulle verwagting gestrook nie.

Vir die
meeste, eintlik vir almal, was dit onverwags.

Ook vir
hulle wat die nuus uit engele se mond ontvang het – Josef, Maria en die
herders.

Die tema vir
die preek lui soos volg:

Tema: Kerstyd is God se tyd

1                  
Hy gryp in

2                  
Hy bring
redding

 

1                  
Hy gryp in

Herodes, die
Skrifgeleerdes, die priesters en nog baie ander in Jerusalem het die berig van
die manne uit die Ooste maar snaaks gevind.

Sou hulle vir die Jode kom wysmaak dat hulle
koning sopas gebore is, en dan nie eers in Jerusalem nie?

Die God van
die Jode sou dit aan hulle met ’n
ster duidelik gemaak het, terwyl Hy die Joodse leiers, sowel polities as
godsdienstig, nie sou ingelig het nie?

Hulle het
hulle in hulle eer aangetas gevoel.

Hulle
verwagting het anders gelyk.

Hulle
tydsbeplanning ook.

Maar volgens
die manne uit die Ooste, het God se tyd inderdaad nou aangebreek.

 

God se tyd,
gemeente, is God se tyd.

Ons as mense
het nie sig op God se tyd nie.

Te vroeg, of
te laat, vir ’n mens in sonde verlore kom dit altyd ongeleë.

Sy tyd pas
nie by ons verwagting nie.

Dieselfde
geld vir sy optrede.

Hoe Hy ingryp.

Ons het dit
gelees.

Josef is
skielik gekonfronteer met iets wat hy nooit verwag het nie.

Beslis nie
van sy verloofde nie.

Dit het soos
’n donderslag by heldere hemel gekom.

Sy is in
verwagting.

Het hy hom
in haar vergis?

In haar
manier van lewe?

Hy het haar
tog as ’n betroubare persoon leer ken?

God se
optrede het regtig onverwags gekom.

En Josef het
‘n toekomstige gelukkige huwelikslewe skielik sien vervaag.

 

Nou is dit
goed gemeente, voordat ons verder hierdie geskiedenis volg, om eers aan iets
anders aandag te skenk.

Dit is nou
kerstyd.

Die
kerssfeer hang om ons heen.

Daarby hoort
deesdae, behalwe vir alle kersbome, verligting, geskenke, ook die verhaal oor
Jesus en sy geboorte.

’n Verhaal
wat pas in die kerstyd, die sprokiesagtige atmosfeer om ons heen.

Die verhaal
van ’n maagd wat in verwagting raak, sonder dat sy omgang met ’n man gehad het.

Dit is
fabelagtig.

Vergelykbaar
met sneeuwitjie en ander sprokies.

So beleef
baie mense die kerstyd.

Daarom is
dit goed om eers by hierdie punt stil te staan.

Want
Mattheüs is nie besig om ’n godsdienstige sprokie uit te dink nie.

As mens die
Mattheüsevangelie lees, kry jy te make met nugter geskiedskrywing.

En wat
Mattheüs vertel oor die maagdelike geboorte, is net so nugter en reeël as
wanneer hy byvoorbeeld later skryf dat Jesus baklei het met die Fariseërs, dat
hulle ’n ernstige woordewisseling gehad het.

Of dat Hy,
soos Johannes later vertel, gehuil het toe sy beste vriend Lasarus gesterf het.

Die
evangeliste het maar net opgeskryf wat eg gebeur het.

 

Ons as mense
is geneig om iets wat vir ons vreemd klink, iets wat ons nie sou verwag nie, om
dit dan maar ’n sprokie te noem.

Dink maar
aan die optrede van die wagte by Jesus se graf later, nadat Jesus uit die dood
opgestaan het.

Hulle moes
op las van die Jode, teen betaling, ’n leuen vertel.

’n Leuen,
naamlik dat Jesus se lyk gesteel is.

Soms is ’n
leuen meer geloofwaardig as die werklikheid.

 

Met hierdie
probleem kry ons as mense veral te make as ons in God se nabyheid kom.

Want God is
nie ’n mens nie.

Hy tree dus
ook anders op as ’n mens.

En daarom
word sy optrede as onverwags beleef deur mense, veral deur sondige mense, wat
ons almal tog is.

 

Gemeente, as
ons nou die geskiedenis van Jesus se geboorte verder gaan volg, is dit goed om
hiermee rekening te hou.

Sommige
dinge sal gewoon vreemd klink.

Sommige
dinge sal op weerstand in ons stuit.

Miskien
omdat ons dit nie met ons verstand kan verklaar nie,

en veral
omdat ons mense is, sondige mense.

Dit is
weerstande wat die Heilige Gees met sy Woord wil opruim.

 

God gryp in.

Hy doen dit
op ’n wonderbaarlike manier.

Hy gaan aan sommige
mense verby, en Hy skakel ander in wat dit nooit sou kon droom nie.

So het dit
ook met Josef gegaan.

’n Gewone
timmerman, soos daar ook in Suid-Afrika baie is.

Hy het die
vrou van sy lewe gevind, en sy was al van hom.

Die huwelik
was in feite al gesluit.

Om te trou
het destyds in Israel anders gewerk as by ons.

As ’n
jongman wou trou, het hy sy pa gevra om met die pa van die meisie te gaan
onderhandel, om ’n huwelikskontrak te sluit.

As alle
ouers saamgestem het, is daar ’n huwelikskontrak opgestel.

Die jongman
moes, meestal met die hulp van sy ouers, ’n bepaalde bedrag aan die ouers van
die meisie betaal.

Sodra die
huwelikskontrak gesluit is, was hulle wettig getroud, oftewel, het hulle aan
mekaar behoort.

Maar hulle
het eers begin saamwoon na die fees.

Tussen die
huwelikskontrak en die fees kon daar soms nog ’n hele periode wees.

Wanneer
binne hierdie periode een van beide die verlowing sou verbreek, dan het dit as
’n egskeiding gegeld.

Volgens die
wet was hulle al getroud, alhoewel hulle nog nie saamgewoon het nie.

Josef en
Maria was dus in hierdie tussentyd.

En in
hierdie tussentyd het Maria in verwagting geraak.

 

Nou sou mens
die vraag kon vra: hoekom het Josef van niks geweet nie?

Hoekom het
hy aan Maria begin twyfel?

Hoekom het
die berig van die engel vir hom totaal onverwags gekom?

Daar het mos
ook ’n engel aan Maria verskyn, net voordat sy in verwagting geraak het?

Die engel
het aan haar verduidelik wat daar sou gaan gebeur.

So kan mens
in die Lukasevangelie lees.

Hoekom het
sy dit nie aan Josef, haar aanstaande vertel nie? – met die gevolg dat Josef
aan Maria begin twyfel het.

Ons kry nie
’n direkte antwoord van Mattheüs of Lukas op hierdie vraag nie.

Skynbaar was
dit God se bedoeling dat die engel dit aan hom moes meedeel.

Wat wel
opvallend in hierdie geskiedenis is, is dat sowel Mattheüs as Lukas duidelik
maak dat alles op presies die regte oomblik gebeur het.

God het die
regie in hande gehad, en Hy het alles met sorg hanteer.

Neem
byvoorbeeld die volgende: toe Maria swanger word, het die engel haar die advies
gegee om na Elisabet te gaan.

Maria, wat
as verloofde nog by haar ouers gewoon het, het van daaraf vir 3 maande na Judea
vertrek, aan die ander kant van die land.

In hierdie
drie maande het sy Josef haar verloofde waarskynlik nie te sien gekry nie.

 

God gryp in,
en Hy het alles in beheer.

Dit sien ons
dus ook as die engel aan Josef verskyn.

Tydens
hierdie verskyning word die groot misterie aan Josef vertel.

Sy Maria is
swanger, omdat God ’n kind in haar geskape het.

Sonder
toedoen van ’n man, sonder dat Maria iets agtergekom het.

Nie omdat
seksuele omgang tussen man en vrou verkeerd sou wees nie, maar om die volgende
rede: God is hier besig, en nie ’n mens nie.

En die beeld
van seksuele omgang word in die Bybel nêrens vir God en sy optrede gebruik nie.

Nogmaals,
nie omdat dit verkeerd sou wees nie, God het ons juis so geskape.

Maar God
word in die Bybel aan ons geopenbaar as die skeppende God.

Die God wat
iets uit niks kan laat ontstaan, sonder dat ’n mens kan kontroleer hoe dit
presies gebeur het.

So beskryf
Mattheüs God se optrede by Maria ook.

God die
Heilige Gees gaan onsigbaar en skeppend te werk.

Dit is
totaal iets anders as byvoorbeeld ‘n griekse god, wat sy seksuele drifte nie
kan bedwing nie.

Die griekse
god – afgode – is eintlik maar net projeksies van die Grieke self, soort van
supergrieke.

Maar in die
Bybel het ons met die skeppende God te make.

Hy gryp in.

Op
soewereine wyse.

Sonder dat
mense dit kan kontroleer of verklaar.

En Hy laat
alles gebeur presies soos Hy dit wou gehad het.

 

Dit sien ons
ook in die volgende:

Hy sorg
daarvoor dat Maria in verwagting raak eers nadat hulle wettig verloof – oftewel
volgens die wet – al getroud was.

Maria
behoort dus al aan Josef.

En Josef is
die afstammeling van koning Dawid.

Hy is
weliswaar geen koning meer nie, helaas, maar hy is nog steeds wel die
verteenwoordiger van die huis van Dawid.

Jesus sal
dus wettig gebore word in die huwelik van Josef.

As Josef se
seun, en dus ook as seun van Dawid.

God gryp in.

Mens kan
eintlik van ‘n omgekeerde adopsie praat.

God neem
Josef aan as pa vir Jesus.

 

God sorg
egter ook daarvoor dat Maria in verwagting raak al voordat hulle saam begin bly
het.

Dit om elke
vermoede van mense in die omgewing weg te neem dat Josef tog eintlik die egte
vader moes wees.

Die engel
het Maria die advies gegee om na Elisabet in Judea te gaan.

Daar het sy
die eerste drie maande gebly.

Hierdeur het
die mense haar swangerskap
geassosieer met die wonderbaarlike swangerskap van Elisabet.

Sy het toe
al op die einde van haar swangerskap geloop.

‘n Stokou
vrou wat ‘n kind gekry het.

Niemand het
getwyfel dat dit ‘n wonder was nie!

En nou die
jong vrou daar by haar, daar moes dan seker ook iets besonders mee aan die hand
wees!

So het God
die mense gehelp om hierdie onverklaarbare wonder nie weg te redeneer nie, maar
juis te aanvaar.

Ons goeie
God het meesterlik te werk gegaan.

Uit die
Kersevangelie blyk dat hy sondige, eiewillige mense by die hand neem.

Hy lei
hulle, ook as hulle van nature geneig is om sy wonderdade nie te glo nie.

 

Ons goeie
God het meesterlik te werk gegaan.

Hy het dit
ook op die vir Hom so tiperende manier gedoen.

Dit sien ons
uit die gedeelte waar die engel uit die profesie van Jesaja aanhaal.

Met hierdie
aanhaling wil die engel sê: Josef, God is nog steeds dieselfde en Hy het nie
verander nie.

Sy werkstyl
is nog steeds dieselfde.

Gelukkig
maar.

Neem
byvoorbeeld Jesaja 7, vir ‘n Jood soos Josef ongetwyfeld ‘n bekende gedeelte.

Neem die
geskiedenis van koning Agas – ons het dit gelees – en die uitspraak van die
profeet: “Kyk, die maagd sal
swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.” (Jes 7:14)
Josef, dink bietjie terug aan hierdie geskiedenis, en vergelyk dit dan met
wat God nou vir jou sê.

Vergelyk dit
met wat God nou van plan is om te gaan doen.

 

Gemeente, as
ons die bedoeling wil begryp, dan is dit goed om eers ons geheue te verfris oor
wat daar in Jesaja 7 gebeur het.

In kort die
volgende.

Die Joodse
volk bevind hulle op ’n tydstip dat die stad Jerusalem beleër word deur die
vyand, onder leiding van Resin en Peka.

En koning Agas,
gevange binne die mure van Jerusalem, vra homself met knikkende knieë af hoe sy
volk ooit uit hierdie penarie gaan kom.

En nadat hy
met sy raadsmanne die politieke skaakbord van sy tyd intensief bestudeer het,
blyk daar slegs een opsie te wees om gered te kan word:

naamlik om
so gou as moontlik ’n politieke bondgenootskap met ’n ander mag te sluit,
byvoorbeeld met Assirië of Egipte.

Miskien sou
hulle kom om Jerusalem te bevry.

Tydens sy
beraadslagings verskyn die profeet Jesaja dan skielik met ’n boodskap van God.

’n Boodskap
wat werklik absurd klink in daardie situasie.

Hy sê: “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar
en hom Immánuel noem.” (Jes 7:14)
Jesaja bedoel hiermee:

U, koning
Agas, ervare politikus, kan niks meer aan die situasie doen nie.

God het jou
nie nodig nie.

U wat dink
dat die God van die Jode in hierdie situasie ook magteloos is.

U wat dit
nie eers nodig ag om Hom te raadpleeg
nie.

Koning Agas,
God het u nie nodig nie.

Hy verkies
om die dienste van iemand anders te gebruik.

Hy verkies
’n jong onervare meisie, wat niks van politiek af weet nie, maar wel iemand wat
alles van God verwag.

Sy sal haar
seuntjie Immanuël noem, wat beteken: God
is met ons.

Waardeur sy
bely: God sal ons wel bewaar.

Hy sal ons
red, ook uit hierdie situasie uit.

En daarvoor
het Hy u, o koning, wat uself so onmisbaar ag, nie nodig nie.

 

Gemeente,
hierdie is presies God se manier van optrede.

Hy het mense
nie nodig nie.

As Hy
ingryp, doen Hy dit op sy eie manier.

Sy manier is
nie afhanklik van die prestasies van mense nie.

As die engel
dus na Jesaja 7 verwys, dan wil hy daarmee sê:

Josef,
vertrou maar op God, ook as alles nou nog nie so duidelik is nie.

Volg sy
Woord. Dit is betroubaar.

Veral in ’n
krisistyd, as jy self nie meer ’n oplossing kan bedink nie.

God het
gekies om julle huwelik te gebruik.

Hy het nie
die hulp nodig van een van die vername priesters of Skrifgeleerdes in Jerusalem
nie.

Maria sou
later hieroor sing:

“Hy het deur
sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy
verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.” (Luk
1:51-52)

God het die
huwelik van Josef en Maria gebruik.

Josef,
weliswaar erfgenaam van die huis van Dawid, maar wel op so ’n oomblik dat
daardie koningshuis hoegenaamd niks meer voorgestel het nie.

Van die
glorie van Dawid was niks meer oor nie.

Israel se
koningshuis het gedevalueer tot ’n timmermansbedryf.

Tog het God
se tyd juis nou aangebreek.

Die
timmermansbedryf was vir hom meer werd as al Jerusalem se prag en praal.

Hy gryp in.

Al eeue het
Hy na hierdie oomblik toegewerk.

Die oomblik
waarop die koningshuis van Dawid betekenisloos was.

Die oomblik
waarop die kroonopvolger gebore word in die dorpie Betlehem, en die mense van
Jerusalem het nie belang stel nie.

God se tyd
het aangebreek.

Die Ou
Testament getuig daarvan.

Wie dit
lees, kan dit kontroleer.

Kerstyd is God se tyd.

Op sy tyd kom God in aksie.

’n Tyd wat
niemand anders uit sou gekies het nie, maar God wel.

Omdat God
God is en nie ’n mens nie.

God wat altyd
dieselfde bly.

Op Hom kan
jy vertrou.

Dit was die
1e punt van die preek.

Ek herhaal
die tema: Kerstyd is God se tyd.

Eerste punt
was: Hy gryp in.

En wel op sy tyd.

’n Tydstip
wat mense nie verwag het nie, maar wat wel deur God voorberei is, al vir eeue
lank.

 

Ons kom nou
by die 2e punt:

 

2                  
Hy bring
redding

Ons is nou
in die kerstyd – altans wat tradisioneel gevier word as die tyd van Christus se
geboorte.

Wie die
afgelope maand ’n winkel besoek het, om nie te praat van ’n winkelsentrum nie,
kon nie al die liggies misgekyk het nie.

Vir ons het
Kersfees nie onverwags gekom nie.

Destyds wel.

Sowel die
tydstip as die inhoud van die boodskap.

Die
allereerste wat die engel oor die kind sê, is die volgende:

Sy naam moet
Jesus wees, want Hy sal sy volk red van hulle sondes.

Hy bring dus
redding, bevryding, in die eerste plek van
hulle sondes.

En moenie
dink hierdie is net ’n interpretasie van die evangelis Mattheüs nie, want as
mens die ander evangeliste lees, dan beklemtoon hulle almal presies dieselfde.

Johannes sê
byvoorbeeld: Kyk, die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem.

En Markus sê
oor die voorganger van Jesus, Johannes die Doper: hy het die doop van bekering
tot vergewing van sondes gepreek.

En die
evangelis Lukas skryf: hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die
Here hulle God.

Jesus bring
dus redding van die sondes.

Mens hoef
maar net te blaai deur die res van die Mattheüsevangelie om te sien dat alles
hierom draai.

En dat
hierin ook die onverwagte lê.

Vandaar die
woordewisseling, die verskil van mening met die Fariseërs.

Jesus bring
geen nasionale of politieke bevryding nie.

Hy bring ook
nie ’n luilekkerland vir die Jode nie.

Nee, Hy
bring redding van die sondes.

Vergewing
van die sondes.

En dit was onverwags.

Broer,
suster, die doel van Jesus se geboorte was dat mense anders oor hulleself begin
dink.

Die feit dat
Jesus as mens gebore moes word, het alles te make met die feit dat mense sondig is.

Wie na Jesus
kyk, word bewus van sy eie sondigheid.

Sy
menswording is daarom per definisie konfronterend.

Sy
reddingswerk is konfronterend.

Maar wie sy
sonde erken, sy hulpeloosheid en ellende, begin ook die noodsaak besef om gered
te word.

Die
Kersevangelie is bedoel as medisyne.

Dit kan
bitter smaak, maar dit is bedoel om ons te genees.

Die HERE wil
hê dat ’n mens eerlik is met jouself.

Ons kan nie
onsself red nie.

Ons kan net
op Hom vertrou.

Die
Kersevangelie beteken in die eerste plek dat jy jou eie onmag besef.

 

Gemeente,
Kerstyd is God se tyd.

Die tydstip
waarop God die tyd neem vir ons mense in sonde verlore.

Hy het die
tyd geneem, en Hy neem tyd vir ons.

Hy wil dat
ons loskom van die sonde.

Christus het
mens geword, om die geregtigheid vir ons te verdien.

Die Heilige
Gees eien ons dit toe.

Hy is met
ons besig.

Hy verander
ons.

Hy timmer
aan ons lewe.

Die plek
waar hy dit by uitstek doen, is in die kerk.

 

Kerstyd is God se tyd.

In feite is
God se tyd die hele jaar deur.

In Desember
word ons tradisiegetrou veral daarby bepaal.

En opgeroep
om ja te sê vir hierdie konfronterende, maar oneindige blye en ryke Evangelie.

Die goeie
nuus dat daar meer is in Kerstyd.

Oneindig
meer as net die liggies en kersbome, geskenke en maaltye, meer as net ’n
sprokie.

Dit is
werklikheid.

Dit gaan oor
God se tyd.

God se tyd
van genade.

Die goeie
God, wat reddend ingegryp het in die gang van hierdie wêreld.

Die goeie
God, wat tyd neem vir sondige mense.

Die goeie
God, wat ons danksy Jesus Vader mag noem.

 

Dit is die
dag deur God geskenk, wat elke Christen tans herdenk

Laat heel
die skepping hulde bring en feestlik Jesus’ Naam besing.

As ek die wonder wil deurgrond, verstar my denke,
swyg my mond

Ek sien
alleen die wonder aan en bly aanbiddend daarvoor staan.

Roem almal
sy geboortedag – sy lig verdryf die sondenag.

Juig,
mensdom, loof u Koning saam, groot is sy Naam bo elke naam.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)