Op aarde loop daar twee weë wat nie gekombineer kan word nie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-08-03
Teks: 
Psalms 1
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 3 Augustus
2014 AD, 17:30

Voorsang: Ps 106:1-4

Votum

Seën

Ps 146:1,2

Gebed

Skriflesing:
Jeremia 17:5-18

Ps 104:1,10

Teks: Psalm
1

Preek

Ps 1:1,2

Gebed

Geloofsbelydenis:
Nicea

Ps
104:19,20,21

Kollekte

Ps 1:3,4

Seën

Preek: Psalm 1

Onder
Christene bestaan daar verskillende opvattings oor psalms en gesange.

Maar waaroor
die Skrif baie duidelik is, is dat ons opgeroep word om die HERE te prys met
ons stem.

Ons stem,
die mooiste instrument wat daar bestaan.

In
Kolossense 3:16 word ons aangemoedig tot die sing van psalms en lofsange en
geestelike liedere.

Ons as
gereformeerdes is oor die algemeen huiwerig om gesange te sing, in elk geval te
veel gesange.

Dit het te
make met die rol wat gesange in die verlede in die kerkgeskiedenis gespeel het.

Dit was soms
’n agterdeur waardeur dwaling die kerk binne gekom het.

Tog moet
mens besef dat misbruik die goeie gebruik nie ophef nie.

Terselfdertyd
is dit ’n feit dat die psalms verwaarloos kan word, omdat mense ’n voorkeur het
aan gesange en nie die diepe geestelike rykdom van die psalms besef nie.

Die gevaar
is dat gesange oppervlakkig kan wees, maklik toeganklik soos kitskos in
vergelyking met ’n stewige maaltyd.

Maar iets
wat nog erger is, is as daar glad nie meer gesing word nie.

By die huis
staan die radio of televisie aan, in die motor die radio, heeltyd luister ons
na musiek, maar self sing ons amper nooit meer nie.

Moderne
mense kan nie meer sing nie.

Om ’n nuwe
wysie te leer word al hoe moeiliker.

Laat staan
om meerstemmig te sing.

Dink net hoe
mooi sou die gemeentesang wees, as dit meerstemmig was.

’n Lewende gemeente
is ’n gemeente wat wil sing, en wat kan sing.

“Ek wil die
HERE prys solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek
nog daar is.”

Verwoord
hierdie sin uit Psalm 146 ook jou wens?

Wil jy graag
vir die HERE sing?

Is dit ’n
behoefte wat jy voel?

Daar is so
baie psalms wat hierop wys.

“Hoe rus, o
God, my hart in my nou ‘k U ‘n môrelied kan wy.” (Psalm 108:1 ber.)

“’k Wil in
my lied van reg en goedheid sing en U daarvoor my hoogste hulde bring.” (Psalm
101:1 ber.)

“Sing nuwe
lof aan God die HERE, die God wat wonders het gedaan” (Psalm 98:1 ber.)

“Sing vir
die HEER ’n nuwe lied!” (Psalm 96:1 ber.)

“Kom, laat
ons jubel voor die HEER, laat ons Hom toesing lof en eer” (Psalm 95:1 ber.)

“My hart,
ontroer deur mymering, sal lieflik van ’n Koning sing.” (Psalm 45:1 ber.)

 

Om te sing
is nie meer vanselfsprekend in ons samelewing nie.

As gelowiges
is dit egter ’n behoefte wat ons voel, om te sing vir die HERE.

Nie verniet
het die HERE baie liedere in sy Woord vir ons gegee nie.

En boonop
roep Hy ons op om nog meer liedere te maak.

Die psalms
is ’n skat aan liedere.

Deur die
eeue het die psalmboek gelowiges gehelp deur die lewe.

In jou lewe
maak jy vreugde en verdriet mee.

God bied jou
in die psalms ’n steun en houvas.

Hierdie
liedere help ons om dinge te begryp, dinge te verwerk, die fokus op jou Skepper
en Verlosser te hou.

Deur die
eeue het die psalms blydskap en vreugde, troos en houvas gebied aan miljoene
mense.

In hierdie
preek kyk ons na die 1e psalm.

Dit sal
hooplik duidelik word dat dit nie toevallig die 1e psalm is nie.

Dit staan
nie verniet aan die begin van die Psalmboek nie.

Tema: Op aarde loop daar twee weë wat nie gekombineer kan word nie

Dit is wat die
HERE ons wil leer met hierdie lied.

Psalm 1 vorm
eintlik ’n inleidende lied op die psalmbundel.

Dit gaan oor
die twee weë op aarde.

Die groot
stryd tussen goed en kwaad.

Elke
gelowige kry in sy lewe daarmee te make.

Hierdie lied
gaan oor die feit dat jy nie op altwee hierdie weë gelyktydig kan loop nie.

Hierdie lied
wens elkeen geluk wat die regte pad gekies het.

Welgeluksalig
is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg
van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;

maar sy
behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.

Hierdie is
die groot skeidslyn, wat deur die wêreld loop.

Psalm 1 sou
mens die sleutel kon noem om die res van die Psalmboek oop te sluit.

As jy begryp
waaroor dit in hierdie psalm gaan, dan het jy die sleutel om ook die ander
psalms te verstaan.

Want hierdie
teenstelling, hierdie antitese tussen mense wat die HERE wil dien, en hulle wat
vir hulleself lewe, loop deur die hele Psalmboek.

Dit is ’n
reële weerspieëling van die daaglikse lewe.

Hoe staan jy
in die daaglikse lewe?

Psalm 1
begin deur jou geluk te wens met jou rykdom.

Welgeluksalig
is jy.

Geseënd.

Hoekom?

Omdat jy
gekies het om die weg van God se wet te bewandel.

En die ander
weg het jy agter jou gelaat.

’n Bewuste
keuse.

Jy wandel
nie in die raad van die goddelose nie.

Hulle wat
God se gebooie ignoreer en hulle eie prinsipes volg.

Hulle raad
en hulle adviese dra vir jou geen gewig nie.

Die
Hebreeuse woord wat hier vir ‘raad’ gebruik word, vind ons ook in die geskiedenis
van die jong koning Rehabeam.

Hy moes kies
of hy die RAAD van die ou wyse manne sou volg, of die RAAD van sy vriende.

Hy het toe
die raad van die wyse manne geïgnoreer, en die onsinnig raad van sy makkers
gevolg.

Die Bybel
beskryf watter erge gevolge dit gehad het.

Die hele
land het in twee geskeur.

Watter raad
weeg vir jou die swaarste?

Die raad van
God, of die adviese van allerlei mense?

Welgeluksalig
is die man wat ’n behae het in die wet van die HERE.

Sy gebooie
weeg die swaarste, by elke beslissing wat hy maak.

 

Dan gaan
hierdie lied verder met: welgeluksalig is die man wat nie staan op die weg van
die sondaars nie.

Die woord
‘weg’ wys op ’n lewenswyse.

Die
lewenswyse van die sondaars.

Dan hoef ons
nie net te dink aan skurke en boewe nie.

Maar meer in
die algemeen.

Die mees
kenmerkende van die weg van die sondaars, hulle lewenswyse, is dat hulle die
HERE en sy wil ignoreer.

Hulle kan
dalk baie netjies, beskaafde en goedgeaarde mense wees.

Maar hulle
lewe asof God nie bestaan nie.

Hulle lewe
vir hulleself.

So ’n
lewenshouding kan in die praktyk nie sonder gevolge bly nie.

Hiervoor
waarsku Psalm 1 ons.

Welgeluksalig
is hy wat nie leef asof God nie daar is nie.

Maar sy wet
juis oordink dag en nag.

 

Die psalm
gaan verder.

Welgeluksalig
is die man wat nie sit in die kring van die spotters nie.

Hierdie
eerste vers van die psalm laat ’n progressie sien.

Of eerder:
’n agteruitgang.

Wandel –
staan – sit.

Waarby sit
dan die ergste vorm is.

As jy
wandel, kan jy nog redelik maklik jou koers verander.

Maar as jy
eers êrens gaan sit het, staan jy nie sommer weer op nie.

Sit in die
kring van die spotters.

Dan het
iemand dus bewus gekies om God te ignoreer.

Om nie by
God te wil wees nie, maar in die kring van die spotters.

 

Vervolgens
verskuif die aandag na die persoon wat welgeluksalig is.

Want hy
wandel en staan en sit anders as die ongelowiges.

Hy wandel op
die weg van God se instruksies.

Hy staan op
die weg van sy gebooie.

Hy sit in
die kring van hulle wat die HERE vrees.

Dit wil nie
sê dat hierdie persoon in ’n soort klooster lewe, waar hy hom afsydig hou van
die ongelowiges nie.

Nee, soos
dit vandag is, was dit ook vroeër.

Jy deel
dieselfde stad, dieselfde straat, en soms selfs dieselfde huis met die
ongelowiges.

Maar,
hierdie persoon hou hom afsydig van die prinsipes van die ongelowiges.

Hy hou hom
nie afsydig van die sondaars nie, maar van hulle weg.

Nie afsydig
van kontak met spotters nie, maar wel afsydig van hulle vriendskap.

Hierdie
afsydigheid, hierdie skeidslyn is kenmerkend vir die gang van sake in die
wêreld.

As jy dit
ignoreer, is dit tot jou eie skade.

Jy hoef
hierdie skeidslyn ook nie te soek nie.

Want as jy
trou leef in diens van God, openbaar hierdie skeidslyn hom vanself.

So vorm
Psalm 1 dus ’n begin, ’n inleiding op die Psalmboek.

Hierdie
eerste verse gaan oor die diep teenstelling tussen twee lewenswyses.

Twee
houdings teenoor die HERE en sy Woord.

As ons in
vers 2 die woord ‘wet’ lees, in die oorspronklike staan ‘Torah’, dan mag ons
die hele Woord daaronder verstaan.

Die woord
‘Torah’ is vroeër nie net gebruik vir die 10 gebooie nie, maar vir heel God se
openbaring.

 

Hieraan
herken jy dus ’n gelowige, ’n regverdige.

Een: hy hou
homself apart van die lewensstyl van die goddelose.

Twee: hy
laat sy lewensstyl beheers deur die Woord van God.

 

En dan gaan
die psalm verder deur uit te lê hoe hierdie lewenstyl lyk.

Vers 3: hy
sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy
tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy
voorspoedig uit.

Hierdie
beeld van ’n boom aan waterstrome het in die droë Midde-Ooste tot mense se
verbeelding gespreek.

Waterstrome,
mens kan dalk beter vertaal: waterkanale.

Want wat die
mense in die Midde-Ooste gedoen het, is om ’n kanaal te grawe oor ’n baie lang
afstand.

Vanaf ’n hoë
berg, waar daar meer reënval is, het die kanaal geleidelik ondertoe geloop,

oor ’n lang
afstand van kilometers ver.

En so was
dit moontlik dat mens in die middel van die woestyn ’n vrugteboord kon aanlê.

Olywe, of vye, of druiwe.

En hoewel
hierdie bome die hele somer lank geen druppeltjie reën gekry het nie, staan
hulle tog fris en gesond.

Want die
wortels kan na hartelus drink uit die kanaal.

En daar
hange kilo’s en kilo’s vrugte aan die boom.

Met hierdie
beeld – bekend vir die Israeliet – word ’n gelowige in hierdie psalm vergelyk.

’n
Sprekender beeld van lewenskrag en vrugbaarheid is daar nie.

En net soos
die boom sy lewenssappe uit die kanaal trek, so put die regverdige sy
lewenskrag uit die voortdurende omgang met God se Woord.

En daardeur
dra hy ryke vrug.

Alles wat hy
doen, voer hy voorspoedig uit.

Oppervlakkig
beskou kan ’n Godvresende persoon se lewe dalk nie na ’n sukses lyk nie.

Hy is dalk
nie ’n miljoenêr nie.

Maar wie
beter kyk, sien watter ryke vrugte daar in sy lewe bloei.

Neem byvoorbeeld
regverdiges uit die Bybel soos Moses, Josef, Elia, die profete, die apostels.

Talryk is
die rampe van die regverdige, staan daar êrens.

Hiermee kon
hierdie mense ook instem.

Maar tog het
daar in die lewens van hierdie mense die kosbaarste vrugte rypgeword vir God se
koninkryk.

Dieselfde
kan gesê word vir heel gewone mense soos byvoorbeeld Hanna en Elkana.

Hanna het
uiteindelik net een kind gekry.

Dit in
teenstelling tot die baie wat Penina gekry het.

Maar hierdie
kind wat sy opgevoed en gewy het vir die diens aan die tempel, sou later ’n
ryke vrug word, waaraan die HERE se volk veel meer gehad het as aan al die
kinders van Penina.

 

In vers 4 en
5 beklemtoon die psalm weer die teenstelling.

So is die
goddelose mense nie.

Hulle is
veel eerder soos kaf wat die wind verstrooi.

’n Groter
teenstelling is daar nie.

’n Stewige
boom, gewortel in vrugbare grond.

En kaf, wat
by die ligste briesie al wegstuif.

Die boom,
toonbeeld van krag en stabiliteit.

En kaf,
toonbeeld van dorheid en waardeloosheid.

Ook dit was
in die Midde-Ooste ’n bekende prentjie.

In oestyd
kon mens oral boere sien wat besig was om die kaf van die koring te skei.

As saans die
koel seewind opgesteek het, het die boer sy koring in die lug opgegooi.

Die kaf het
dan weggewaai en die koring weer afgeval grond toe.

Die kaf mog
wegwaai.

Mens kon dit
nêrens voor gebruik nie.

 

Hierdie
skerp teenstellings staan juis hier om die gelowiges te bemoedig.

Is die
goddelose goedaf en die regverdiges slegaf?

Dit dink
mens soms.

Ongelowiges
kan al hulle tyd gebruik om vinnig ryk te word.

Hulle gaan
nie kerk toe nie, op Sondag is hulle winkels ook oop.

Ongelowiges
kan deelneem aan die lotery.

Ongelowiges
gee nie om om te kroek met die belasting nie.

Ongelowiges
gee nie om om geld te maak uit dwelms en sulke slegte dinge nie.

Hulle is nie
gebonde aan die kerk en alle reëls nie.

Maar is dit
goedaf?

Kom nou tog,
sê Psalm 1.

Bly tog
nugter.

As iemand
beter weet, is dit God.

God is ewig,
Hy kan ’n menselewe oorsien.

Waaroor gaan
dit eintlik in die lewe?

Moenie jou sommer
iets laat wysmaak nie.

Die HERE
weet beter.

Die
gelowiges is soos ’n boom, geplant aan waterstrome.

Die
ongelowiges is kaf, wat die wind verstrooi.

Dit is soos
die lewe werk.

So sê die
HERE, en Hy kan dit weet.

 

Psalm 1 voeg
dan nog ’n dimensie hieraan toe.

Want hierdie
lewe is nie die enigste nie.

Na hierdie
lewe staan daar die mens nog iets te wagte.

Vers 5:
Daarom sal die goddelose nie standhou in die oordeel nie.

Net soos
vandag het die mense toe ook al geweet dat die HERE sal kom om die wêreld te
oordeel.

Op die
jongste dag sal des te meer blyk dat die regverdige gelukgewens kan word.

En dat die
goddelose beklaenswaardig is.

Want dan –
om die woorde van die Here Jesus te gebruik – sal die sagmoediges die aarde
beërwe (Mattheüs 5:5).

Maar die sondaars
sal omkom van die aarde af (Psalm 104:35).

 

Tog hoef ons
by hierdie vers nie net aan die jongste dag te dink nie.

Ook vir die
hede geld dat die goddelose nie standhou in die oordeel nie.

Want ook in
die hede regeer God die aarde.

Ook vandag
sorg God dat die waarheid sal seëvier.

Soms duur
dit wel lank, maar dit gebeur wel.

Agab en
Isebel het na die moord op Nabot nog baie jare gelewe, maar hulle straf het
gekom.

Elkeen wat
in sonde leef, moet besef dat te bestemder tyd die saak oopgevlek sal word.

Die sondaars
hou nie stand in die vergadering van die regverdiges nie.

Want die
HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal
vergaan.

Met ken word
bedoel: Hy weet alles daarvan.

Daar is
intensief kontak tussen die HERE en die regverdige.

Daagliks wys
Hy die weg vir die regverdige.

En so slaag
die regverdige daarin om sy bestemming te bereik.

Omdat hy
gelei word deur die HERE self.

Maar die
goddelose, wat vir homself ’n pad probeer oopkap in die oerwoud van hierdie
bestaan, hy is op ’n doodloopspoor.

 

Gemeente,
dit is dus wat die HERE by ons wil inprent met hierdie allereerste lied in die
Psalmbundel.

Die twee
weë, wat nie gekombineer kan word nie.

Wat mekaar
uitsluit.

Dit is die
HERE se liefde dat Hy sy kinders se oë hiervoor oopmaak.

My kind,
wees in jou lewe tog goed bewus van hierdie skeidslyn.

Dit loop
naamlik deur die hele wêreld.

Jy sal dit
orals agterkom.

Ek wil nie
dat jy jouself afsonder van die wêreld nie.

Jy staan met
albei bene in hierdie wêreld.

Maar moenie
naïef wees nie.

Sorg dat jou
kontak met My optimaal is.

Hou vas aan
my Woord.

Oordink dit
dag en nag.

Dan sorg Ek
dat jy kan groei en vrugte dra.

Reik jou
wortels uit na My, dan voorsien Ek jou van lewende water.

 

In die Nuwe
Testament sê Christus dat Hy die lewende Woord is.

Hy is die
lewende water.

Wie in
Christus bly, dra veel vrug.

Ingeplant in
Christus.

 

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)