Loflied op die HERE van die skepping

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-11-16
Teks: 
Psalms 104
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 16 November 2014 AD, 10:15

Voorsang: Ps
130:1-4 (2e ber.)

Votum

Seën

Ps 104:1,2

Wet

Ps 119:42

Gebed

Skriflesing:
Psalm 104

Ps
104:4,6,7,8,9

Teks: Psalm
104

Preek

Ps
104:10,12,15,16,17

Gebed

Kollekte

Ps
104:14,20,21

Seën

Preek: Psalm 104

In hierdie
psalm gaan dit oor alles wat die HERE geskape het.

Kinders,
weet julle nog in hoeveel dae die Here alles geskape het?

Weet julle
nog op watter dag Hy wat geskape het?

In hierdie
psalm lees ons weer daarvan.

Hierdie lied
is ’n ego van al die skeppingsdae, soos ons dit vind in Genesis 1.

Tema: Loflied op die HERE van die skepping

Kom ons kyk
’n bietjie na hierdie lied.

En dan wil
ek u vra om u Bybel te vat, en oop te maak by Psalm 104.

Maar maak
hom ook oop by Genesis 1.

Sit ’n
boekmerk of so by Genesis 1.

 

Ons begin
met Psalm 104.

HERE, my
God, U is baie groot!

So begin die
lied.

Hoekom is
God baie groot?

Dit het te
make met waaroor Psalm 104 gaan.

Ek wil dit
met ’n voorbeeld verduidelik.

’n Tydjie
terug was ek met my gesin in die dieretuin.

Toe ons by
die olifanthok kom, het die diertuinpersoneel net sy ontbyt reggelê voor die
hek.

Dit was
nogal ’n hoop kos.

Vergelykbaar
met ’n maand se inkopies vir ons gesin.

Daardie hoop
kos – die olifant se ontbyt – het my laat nadink oor hoe so ’n dieretuin werk.

Hoeveel
tonne kos elke dag nodig is om al die verskillende diere te voer.

’n
Logistieke beplanning waarby ’n vyfsterhotel se spyskaart eenvoudig is.

Elke dier
het sy eie dieet.

Vir die
krokodil kan jy nie brood voer nie, ook nie vir die leeu of seeleeu nie.

En die
vrugte in die ape se hokke – veral die uit Madagaskar – laat die vrugteskaal by
ons tuis maar vaal lyk.

Dis nie
kinderspeletjies om ’n dieretuin aan die gang te hou nie.

En dan praat
ons nog maar net oor ’n dieretuin.

Wat dan van die
hele skepping?

Dis hoekom
hierdie psalm begin met: HERE, my God, U is BAIE groot!

Vir elke
lewende wese het God ’n spyskaart uitgewrk.

Al ooit
gewonder hoekom daar so baie boomsoorte is, blaarsoorte, vrugtesoorte, sade,
bessies, wortels, ensovoorts.

Al ooit
besef dat diere ook fynproewers is?

Dat ’n bok
sy neus optrek vir die verkeerde blaar, en ’n bobbejaan vir die verkeerde
wortel?

Die regte
spyskaart vir elke spesie.

 

Ek het vir u
gevra om ook Genesis 1 op te soek.

As mens
Psalm 104 langs Genesis 1 lê, sien jy ’n opvallende ooreenkoms.

Genesis 1
begin met die eerste dag.

Op die eerste
dag het God die lig geskape.

“En God het
gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.”

Daaroor sing
ons in hierdie psalm: “Met majesteit en heerlikheid is U bekleed – wat Uself
omhul met die lig soos met ’n kleed” (v1-2).

Hy is die
bron van alle lig, of dit nou die lig van die son of die sterre is, vuur of wat
ook al, dit kom alles by Hom vandaan.

Hy het die
groot onderskeid gemaak tussen lig en duisternis.

 

Op die tweede
dag het God skeiding gemaak tussen die waters bo (dink aan die wolke) en
waters onder (dink aan die see).

Daaroor sing
ons ook in hierdie psalm: “wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke
sy wa maak” (v3).

Wat ’n
goddelike grootheid!

Hoeveel
tonne water giet Hy nie elke jaar weer oor die aarde uit nie?

In die vorm
van tropiese donderstorms, as die water uit die lug uit giet,

of in die
vorm van ’n sagte deurdringende reën,

of in die
vorm van ’n verfrissende dou, soos die Israeliete dit elke môre soos ’n laken
oor die aarde sien lê het.

Of in die
vorm van hael- of sneeubuie.

Die
majesteit van God sien mens as die swaar donkergrys wolke naderkom.

As die hael
op ’n sinkdak kletter; of as – in kouer dele van die wêreld – dik sneeuvlokke
toesak op die aarde.

O God, hoe
groot is U!

U het dit
alles geskape!

Met
goddelike gemak reël Hy die ongelooflike waterhuishouding bo ons koppe.

Hoog- en
laagdrukgebiede; lugvogtigheid; die dampkring.

Net soos Hy
ook al die water op aarde sy plek gegee het: die oseane, die riviere, die mere.

 

As die
psalmis hier sing oor die tweede skeppingsdag, lewer hy tegelykertyd kritiek op
sy tydgenote.

Want die
Kanaänitiese volke het reën en wind, wolke en weerlig aan hulle afgod Baäl
toegeskryf.

Ons heidense
voorouers het dieselfde gedoen.

Die
Germaanse afgod Wodan het met sy wolkewa deur die lug gery.

Maar Psalm
104 sê: daar is slegs een God.

Hy wat in sy
Woord na ons toekom.

Hy beheer
alle waters in sy almag.

 

Gemeente,
sien ons dit wel?

Dikwels word
die HERE se naam verswyg.

Byvoorbeeld
met die daaglikse weerberig.

En dit
terwyl Hy vir alles sorg: vir reën, wind en son.

Tog word Hy
dikwels geïgnoreer.

Deesdae is
die afgod die natuur, asof dit nie ’n geskape werklikheid is nie, maar ’n
ongeskape oerkrag.

‘Moeder
natuur’.

’n Denkbeeldige
superkrag, waaruit alles te voorskyn kom,

Wolke en
reën, bome en blomme, lig en donker, diere en selfs baba’s.

‘Moeder
natuur’ sorg daarvoor.

En as mens
deurvra, hoor jy woorde soos:

Die natuurwette.

En as jy nog
dieper deurvra, hoor jy daardie magiese woord: die oerknal.

Daaruit moes
alles skynbaar ontstaan het.

Maar verder
is daar geen antwoord nie.

Wat ’n
armoede.

Gelukkig is
ons ryk.

Ons ken die
naam van die groot Dirigent van wolke en winde, water, hael en sneeu.

Die weer is
’n skitterende bewys van God se skepping en voorsienigheid.

Hy ontwerp elke
dag se weerpatrone.

Vir elke
klimaatstreek.

Daarom mag
ons ekstra geniet van ’n onweersbui, of van ’n sagte deurdringende reën, of van
sonskyn, of van ‘n reënboog, ensovoorts.

Ja elke dag
sorg God vir ’n unieke weerbeeld.

Dit is
waaroor die digter van Psalm 104 sing: Hy maak van die wolke sy wa.

Hy wandel op
die vleuels van die wind.

Hy maak
winde sy boodskappers.

Weerligstrale
sy dienaars.

 

Ons gaan na
die derde dag.

Op die derde
dag het God water en land geskei.

“berge het
opgerys, laagtes het weggesak – na die plek wat U vir hulle reggemaak het. ’n
Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie” (vers 8-9)

As gevolg
van hierdie feit kan mense sonder angs op die land woon, selfs aan die kus met
die see in sig.

Iets soos ’n
tsunami is ’n uitsondering op die reël.

Die reël is
dat water en land elk hulle eie plek ken.

En as daar
nie spesiale redes is nie – dink aan die sondvloed – sorg God in sy voorsienigheid
dat dit so bly.

Hy hou die
oseane in bedwang.

Hoe ’n
ingewikkelde sisteem God daarvoor uitgewerk het – ons weet ietsie daarvan.

Die getye,
die invloed van die maan op die water.

So hou God
alles in balans.

Dit is
ongelooflik, hoe Hy dit alles regkry.

Om ’n
voorbeeld te noem:

Sê nou maar
die Noordpool, wat bestaan uit ys, sou heeltemal smelt.

Dan sou die
seespieel skielik met 50 meter styg.

Dit sou
beteken dat sommige lande nie meer sal bestaan nie – Nederland byvoorbeeld, en
Bangladesh.

Ons hoor
deesdae baie berigte in die media oor aardverwarming.

Ook die
vrees dat die seespieel stadig maar seker styg.

Dat die
ysberge van die Noord- en Suidpool smelt.

Sommige van
hierdie dinge is feite, ander is ideologie.

Hoe dit ook
sy, in hierdie hele diskussie is dit opvallend dat daar nooit aan God se
voorsienigheid aandag geskenk word nie.

Nie dat dit
ons van ons verantwoordelikheid ontslaan nie.

Maar feit
bly dat die aarde aan God behoort, Hy het dit geskape, Hy sorg daarvoor.

Moederaarde
sorg nie vir haarself nie.

Haar
mensekinders is nie haar heel laaste hoop nie.

Die aarde lê
in God se hand.

En niks
gebeur sonder sy wil nie.

 

Hy hou alles
volgens sy plan in balans.

As die aarde
’n paar grade uit sy baan om die son sou raak, sou dit die einde van alle lewe
op aarde kon beteken.

Of soiets
gebeur of nie, hang volledig van Hom af.

En aan
hierdie wonderlike balans dink die psalmis as hy sing:

“Hy het die
aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie”
(vers 5)

 

Daar is nog
iets wat God op die derde dag gedoen het.

Ons lees in
Genesis 1:

“Laat die
aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle
soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde.” (vers 11)

Hiervan hoor
ons ook ’n ego in die psalm.

Vers 14: “Hy
laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens, om
broodkoring uit die aarde te laat voortkom, en dat wyn die mens se hart kan bly
maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan
versterk.”

Psalm 104
beskryf die fauna en flora wat daar op aarde voorkom.

Die plante,
van die jong gras tot die ou magtige sederbome.

’n Loflied
op God se voorsienigheid.

Ja, die
Bybel ken ook hongersnode, droogte, oorstromings.

Maar hierdie
dinge is op aarde nie die reël nie.

Dit is
uitsonderings.

Die reël is
dat God daagliks sy hand oopmaak en sy skepsels met die goeie versadig.

Soos die
Here Jesus gesê het: “Julle Vader wat in die hemele is ... laat sy son opgaan
oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.”
(Mattheüs 5:45)

Die bome van
die HERE word versadig.

Die feit dat
die bome groei, elke seisoen weer, is God wat skep.

In Israel
was daar baie vrugtebome – olywe, vye, druiwe, amandels...

Die
vrugtebome is natgelei met slootjies wat die mense gegrawe het.

By sulke
vruteboorde kon mens dalk nog gedink het – hulle het God nie nodig nie – die mense
lei hulle mos nat – al sou so ’n gedagte kortsigtig wees.

Maar wat dan
– vra die digter – van die seders van die Libanon?

Die Libanon
is ’n hoë berg, ’n onherbergsame gebied.

Wie lei die
seders van die Libanon nat?

Inderdaad –
vers 16 – God het die seders geplant.

Hy sorg dat
hulle water kry – of dit nou reën is, of dou, of grondwater, of water uit ’n
stroompie.

En daardie
seders en sipresse staan nie doelloos daar hoog in die berge waar geen mens
hulle sien nie.

Nee, die
voëls bou in hulle neste, en die ooievaar vind sy huis in die sipres.

 

God sorg vir
’n huis en vir water en vir voedsel vir elke lewende wese.

So mag jy as
gelowige na die aarde kyk.

’n Bokkie
wat bly rondspring na ’n reënbui.

’n Voël wat
sy vere was in ’n plas water.

’n Grasveld
wat groen kleur na die eerste lentereëns.

Almal proe
en geniet God se goedheid.

En dit geld
ook vir die mens.

Hy word
vrolik van God se gawes.

Die digter noem
’n voorbeeld: wyn.

Van wyn word
mens vrolik.

Ten minste,
as mens die vrug van die wynstok met mate gebruik.

’n Glas wyn,
of ’n yskoue bier, na ’n dag se harde werk.

In hierdie
hele psalm tintel ’n gevoel van vreugde.

Skepsels
geniet van die lewe, op hierdie aarde wat God stewig gegrondves het.

Skepsels
geniet van alles wat die vrugbare grond van die aarde voortbring.

 

Ons gaan nou
na die vierde dag.

Op die vierde
dag het God die groot ligte geskep.

Daaroor sing
ons in vers 19:

“Hy het die
maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.”

Die son, wat
sorg vir die helder warm lig oordag.

Dit is deur
God geskape.

Ek dink dat
die gemiddelde Israeliet baie meer waardering hiervoor gehad het as ons vandag.

Met alle
elektriese ligte om ons heen kan ons die dag so lank maak as wat ons wil.

In Israel
het hulle nog geweet wat inkswart duisternis is.

Daar moes
almal ophou werk as die son ondergegaan het.

En hulle het
eers weer opgestaan as dit die volgende dag begin lig word het.

’n
Natuurlike dag- en nagritme.

Tog kan ons
die son ook nog waardeer, veral op ’n koue wintersoggend.

Op so ’n dag
mag ons met ekstra dankbaarheid terugdink aan die dag toe die son geskape is.

 

Die feit dát
die son geskape is, is op sig al ’n geloofsbelydenis.

Nie net vandag
nie, maar ook vroeër.

Die hele
wêreld rondom die volk Israel het die hemelliggame vereer as gode.

Koning
Manasse het op die dak van sy paleis geklim en gekniel voor die son.

Soos hy was
dalk nie elke Israeliet bly met dit wat die psalmis hier geskryf het nie.

Ook vandag
roei ons dikwels teen die stroom in, as ons sê:

Ek glo in
God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde.

Vandag kniel
mense voor die afgod ‘natuur’.

Dalk nie
letterlik kniel nie, maar u begryp wat ek bedoel.

So word daar
deesdae gepraat.

Die natuur
dit, die natuur dat.

Die natuur
kom in reaksie.

Die natuur
wreek homself.

Die natuur
herstel die balans.

Die natuur
het ’n antwoord hierop.

Ensovoorts.

Uitsprake
wat op sig nie verkeerd hoef te wees nie.

Maar dit wel
is verkeerd as mens die voorsienige God nie meer agter die natuur sien staan
nie.

Steenkool,
olie, aardgas, windkrag, hout, edelgesteentes, dit is nie geskenke van die
natuur nie, ook nie net toeallige sedimente in die aarde nie, maar geskenke van
God!

En God
verwag dat ons dit as goeie rentmeesters gebruik.

 

Dit is wat
die psalm ons leer.

En ouers,
julle het die taak om julle kinders so na die skepping te leer kyk.

En
onderwysers ook.

Daarom stuur
ouers hulle kinders na ’n Gereformeerde skool.

Soos ’n
onderwyser ’n keer in die klas gesê het.

Kinders,
vandag gaan ek vir julle God se grootheid toon in die voelers van ’n insek.

 

En noudat
ons tog oor diere praat, kan ons maar aanbeweeg na die vyfde dag.

Op die vyfde
dag het God die visse en voëls geskape.

In vers 25
sing ons: “Daar is die see, groot en alkante toe wyd – daar is ’n gewemel
sonder getal, klein diere saam met grotes.”

Die digter
noem ook dat God die Leviatan geformeer het.

Wat is ’n
leviatan?

Die digter
sê hy speel in die oseane.

Die
heidenvolke het vroeër gedink die leviatan is ’n soort oermonster.

Eintlik ’n
soort god, ’n wrede god, wat in die diepsee gebly het.

’n ‘God’ wat
die oseane vir mense gevaarlik gemaak het, as hulle met hulle skepe daarop
gevaar het.

Die heidene was
bang vir verskillende gode.

Die
heidenvolke het ook heel ander opvattings oor die ontstaan van die aarde gehad
as wat ons hier in Psalm 104 en in Genesis 1 lees.

Volgens
heidense verhale het die skepping ontstaan deur ’n oergeveg tussen verskillende
gode.

Die aarde is
vol gode wat moontlik ’n slegte invloed op jou kon hê.

Dus moet jy
offers bring vir die verskillende gode, om hulle tevrede te hou.

Verder moet
jy offers bring vir daardie gode wat verantwoordelik is vir die reën en
vrugbaarheid.

Ook vir gode
soos son en maan.

As mens Psalm
104 so lees, kry mens vandag dalk die indruk dis net ’n mooi lied oor die
skepping.

Maar teen
die agtergrond van dit wat ek nou gesê het – al die sogenaamde gode in die
skeping –besef mens dat Psalm 104 nie net ’n mooi liedjie is nie.

Dit is eintlik
’n strydlied.

Dit trek ten
stryde teen kettery in God se volk.

Teen hulle
in God se volk wat die afgode aanbid het.

Baäl, die
reëngod, of Astarte, die vrugbaarheidsgodin.

Baie
Israeliete het ook die son en maan aanbid.

Maar die
digter maak ’n punt.

Vers 19: God
het die son en maan gemaak.

Dis nonsens
dat son en maan ook gode is.

En dit bring
ons terug by die leviatan.

Die heidene
het hom as ’n soort god beskou.

Net soos ons
vandag soms seemonsters in die oseaan kan sien speel – dink aan die walvisse by
Hermanus byvoorbeeld – so het die mense ook die seemonsters vroeër gesien.

Vanaf die
wal, of dalk – nog beangstigender – terwyl hulle in hulle bootjie op die water
was.

Hierdie
monsters het hulle as gode beskou.

Dit is
tipies heidens – die wêreld om jou heen beskou jy as ’n bedreiging.

So het die
heidenvolke in Afrika ook gedink, en dink baie nog steeds vandag.

Orals is
daar gode, of bose geeste om jou heen, in die bome, in diere, in die lug, in
die water, dink aan die waterslang.

Maar wat die
digter oor die leviatan skryf, is eintlik gerusstellend.

Hy sê: HERE,
U het die leviatan geformeer.

U het die
oseaan so groot gemaak, sodat hy daarin kan speel.

Die
leviatan, die walvis, of watter groot seediere ook, hoef ons nie bang te maak
nie.

 

Ek het ’n
keer ’n film in ’n Imax, so ’n groot skerm, gesien oor die lewe onder water.

Die see, hoe
dit wemel met tallose diere.

Soveel
soorte, soms die mees bisarre en lagwekkende vorms.

Vorms en
soorte wat almal, by nader insien, ’n duidelike doel het.

Die psalmis
het dalk nie ’n BSc graad gehad nie.

Maar hy het
wel oog gehad vir die doelmatigheid in God se skepping.

Vers 24:
“Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak”

U is die
groot Kunstenaar van die planeet aarde.

Niks is
nutteloos nie

Alles pas harmonieus
in mekaar.

Riviere
stroom nie toevallig deur die landskap nie.

Fonteine kom
nie toevallig uit die holtes uit nie.

Hulle laat
die diere van die veld drink.

Die wilde
esels les hulle dors.

Dit reën ook
nie toevallig nie.

Ook die
berghelling word bevogtig, sodat gras en mos daar kan groei.

En ook die
koring groei nie toevallig nie.

Dit is sodat
daar brood gebak kan word.

Om die mens
se hart te versterk (vers 15).

Kortom dus:
hoe talryk is u werke. U het hulle almal met wysheid gemaak.

 

Vyftig jaar gelede
het ons oupas en oumas, dalk oupa en oumagrootjies, ’n Gereformeerde laerskool
gestig.

Hoekom
eintlik?

Nie omdat 1
plus 1 nie ook vir ’n christen 2 is nie.

Nie omdat
hulle bly dink het dat die aarde plat is nie.

Nie omdat
hulle nie met die natuurwette saamgestem het nie.

Maar op ’n
Gereformeerde skool word kinders geleer om anders na die wêreld te kyk.

Om
verantwoordelike rentmeesters van hierdie wêreld te wees.

En dat die
natuurwette niks help, as God nie trou aan sy verbond is nie.

Dat geen
lewe op aarde moontlik sou gewees het, as God nie daarvoor die regte balans
geskape het nie.

Dat die
idees van die ewolusioniste nie wetenskap is nie, maar ’n ideologie wat in
opstand kom teen die lewende en voorsienige God.

Soos iemand
’n keer genoem het:

Dat die hele
ekosisteem toevallig uit die oerknal ontwikkel het,

is nog
onmoontliker as wat ’n groot passasiersvliegtuig vanself uit ’n skrootwerf met
ou geroeste yster sal ontwikkel.

Net soos ’n
indrukwekkende vliegtuig, ja nog veel meer, vertel die aarde met alles wat
daarop leef vir ons ’n verhaal,

nie ’n
verhaal van toevallighede nie,

maar die
verhaal van ’n ingenieur, ’n intelligente Skeppershand.

Soos NGB
art. 2 sê: dit is voor ons oë soos ’n mooit boek waarin alle skepsele, groot en
klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God duidelik laat sien,
naamlik sy ewige krag en Goddelikheid.

 

En die
hoogtepunt van hierdie intelligente Skeppershand is op die sesde dag bereik.

Op die sesde
dag het God die diere en die mens geskape.

Ook die
mens, hoe intelligent hy self is, is tog afhanklik van Hom, net soos al die
ander diere.

“Hulle almal
wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.” (vers 27)

“U maak u
hand oop, hulle word versadig met die goeie. U verberg u aangesig, hulle word
verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.”
(vers 28-29)

Dus, as God
dit wil, kan Hy enige oomblik die lewensasem uit alle mense, diere, voëls,
visse, insekte, ensovoorts weer tot Hom neem.

Net soos Hy
dit geskape het deur ’n woord te spreek, kan Hy dit wegneem deur ’n woord te
spreek.

Laat hierdie
besef vir ’n oomblik op jou inwerk.

Ons is in sy
hand.

Dit maak ons
nederig.

Maar hierdie
besef stel ons ook gerus.

Hy sorg, en
wat Hy doen, is goed.

 

En dit bring
ons by die laaste dag.

Op die sewende
dag het God tyd geneem om te rus.

Om van sy
werk te geniet.

’n Ego van
hierdie rus en vreugde hoor ons in vers 31: “laat die HERE bly wees oor sy
werke”.

Die sewende
dag was nie meer ’n skeppingsdag nie.

Dit was ’n
dag van vreugde en rus.

“Toe sien
God alles wat Hy gemaak het, en – dit was baie goed.” (Gen 1:31)

 

Psalm 104
eindig met ’n voorneme en ‘n bede.

’n Voorneme
in vers 33: “Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil
psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.”

Wat ander
mense gaan doen, moet hulle weet, maar EK gaan psalmsing tot eer van my God
solank as wat ek daar is.

Ek sal my in
my Skepper verheug.

 

En dan ‘n
bede, vers 35:

“Mag die
sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie!”

Anders
gestel: mag hierdie pragtige skepping spoedig bevry word van God se groot
teenstander, en van almal wat sy skepping stukkend maak, van almal wat hierdie
groot vreugde nie met ons wil deel nie.

So laat
hierdie psalm ons verlang na die laaste dag, die jongste dag, as Jesus Christus
terugkom, die dag waarop die sugtende skepping bevry sal word.

Die dag van
die groot herskepping.

 

Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)