God se regspraak boesem ontsag in

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-02-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) Sondag 4
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 14 Februarie 2016 AD,
17:30

Votum

Seën

Ps 90:1

Skriflesing:
Exodus 34:1-9

Ps 90:4,5,6

Skriflesing:
Psalm 92

Ps 92:3,4

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 4

Preek

Ps 76:4-6

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Ps 92:5-7

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 4

Sondag 4 is
die laaste Sondag van die eerste deel van die Kategismus, wat handel oor ons
ellende.

In die
voorafgaande preke het ons gesien dat hierdie deel ‘n konfronterende diagnose
stel.

Net soos
wanneer jy na die dokter gaan, en nadat hy jou deeglik ondersoek het, maak hy
sy bevindings bekend.

Dit kan
gebeur dat hy sê: u is ongeneeslik siek.

Dit is dan
beslis ‘n konfronterende diagnose.

Dis nie
goeie nuus nie.

Tog is dit
die stand van sake, en die dokter kan moeilik iets anders sê.

Dokters
gebruik dikwels verkleinwoordjies, om dinge sagter te stel, maar dit verander
nog steeds nie die werklike stand van sake nie.

As mens nou
vra: is dit nie oneerlik as die dokter ‘n objektiewe diagnose maak nie?

Hoe kan hy
die pasiënt soiets aandoen, veral as dit oor ‘n doodsberig gaan?

U begryp dat
hierdie vraag nie werklik tereg is nie.

Hoe kan die
dokter die skuld kry vir die siekte van die pasiënt?

Dis nie soos
dit werk nie.

‘n Goeie
dokter is juis daardie dokter wat ‘n objektiewe diagnose maak, ook al gaan dit
oor ‘n doodsberig.

In hierdie
sin kan mens God ook met ‘n dokter vergelyk.

God maak ‘n
diagnose.

In sy
diagnose hanteer Hy as maatstaf dit wat gesond is.

En vir God
is die paradystoestand gesond.

Die
Kategismus vra dan die vraag: doen God die mens dan nie onreg nie?

Is God nie
oneerlik nie?

Is dit wel
tereg dat Hy sulke hoë eise stel?

Gemeente,
vanaand handel die preek hieroor.

Wat is
eerlik en wat is oneerlik?

Wat is reg
en wat is onreg?

Wat is die
maatstaf waaraan ons gemeet moet word?

Tema: God se regspraak boesem ontsag in

  1. Hy is so eerlik en regverdig

  2. Hy is so vindingryk en barmhartig

  1. Hy is so eerlik en regverdig

    In Sondag 4
    lees ons ‘n paar baie konfronterende uitsprake.

    En die
    eerste vraag wat by mens opkom, is: hoekom?

    Hoekom is
    God so onbuigsaam?

    Dit stry
    eintlik met ons regsgevoel.

    As God sê
    dat Hy almagtig is, hoekom moet Hy mense dan nog straf?

    Hoekom moet
    daar soiets soos ‘n hel wees?

    As God
    almagtig is, dan kan Hy mos almal verlos?

    Dan kan Hy
    mos maar die hel ophef?

    Gemeente,
    het u nie soms ook hierdie gevoel nie?

    Die feit dat
    mense ewig gestraf moet word, vloek met ons regsgevoel.

    Maar,
    geliefdes, voordat ons verder luister na ons regsgevoel, is dit dalk goed om
    die gemaakte diagnose eers goed onder oë te sien.

    Voordat ons
    self beoordeel wat reg is en wat onreg is, kom ons bestudeer eers die aanklag.

    Die Bybel
    leer ons naamlik dat God die mens geskape het met ‘n vrye wil.

    Dit wil sê
    hy het ‘n volledige verantwoordelikheid oor homself.

    As ‘n mens
    dus oppad hel toe is, en jy jouself sou afvra hoekom dit nog moet, dan kan mens
    dus die vraag die beste aan daardie mense self vra.

    Want mense
    wat oppad hel toe is, kies self daarvoor.

    Hulle dra
    mos verantwoordelikheid oor hulle eie lewe.

    Hulle kies
    daarvoor om hulle rug op God te draai.

    En om van
    God verlate te wees, dit is wat die hel is.

    Die
    definisie van die hel is, dit is daardie plek waar die God van die lewe nie
    meer is nie.

    God se straf
    is dat Hy hulle in hulle keuse vrylaat, dat Hy nie meer aan hulle trek nie.

    Dit is dus,
    gemeente, die diagnose van die Bybel.

    En die
    dokter, dit is God, hanteer as maatstaf wat gesond is.

    Wat gesond
    is, is die paradystoestand.

    Die wet
    herinner ons aan die paradystoestand.

    Nou vra die
    Kategismus die vraag:

    is dit wel
    eerlik dat God sulke hoë eise aan die mens stel.

    Dat sy
    maatstaf vir gesond so hoog is?

    Kan mens God
    hiervoor blameer?

    Gemeente,
    kom ek probeer dit met ‘n voorbeeld te verduidelik.

    Sê nou maar
    jy is ‘n baas van ‘n fabriek, en jy het ‘n drywer in diens geneem.

    Jy verlang
    van die drywer om ‘n vrag produkte in Johannesburg te gaan aflewer.

    Wat jy egter
    nie doen nie, is om vir die drywer ‘n bakkie of trokkie beskikbaar te stel,
    sodat hy die vrag kan gaan aflewer nie.

    In so ‘n
    geval sou mens kon sê dat die baas ‘n onredelike eis aan die drywer stel.

    Hoe moet die
    drywer die vrag aflaai as hy geen vervoermiddel het nie?

    Die drywer,
    al wil hy, is nie in staat om die opdrag uit te voer nie.

    Nou ‘n
    tweede voorbeeld.

    Sê nou maar
    die drywer kom op ‘n dag by die werk aan, en die bakkie staan gereed.

    Maar die
    drywer is self nog dronk van die vorige aand.

    In hierdie
    geval lê die saak natuurlik anders.

    In hierdie
    geval kan die baas nie geblameer word nie.

    Die drywer
    is onbekwaam om agter die stuurwiel plaas te neem, en dit is sy eie skuld.

    Uit hierdie
    twee voorbeelde kan ons nou die konklusie trek: daar is ‘n verskil tussen onskuldige
    en skuldige onbekwaamheid.

    En volgens
    die Kategismus moet die onbekwaamheid van die mens om God se wet na te kom,
    bestempel word as skuldige onbekwaamheid.

    Want God het
    die mens so geskape dat hy dit wel kon doen.

    Maar Adam
    het homself vrywillig en doelbewus van hierdie gawe beroof.

    En nie net
    Adam nie, maar ook al sy nasate.

    Want die
    hele menslike geslag vorm ‘n eenheid.

    Vir hierdie
    werklikheid maak die Bybel ook ons oë oop.

    Wat jou
    voorouers gedoen het, het ‘n invloed op die nageslag.

    Nie dat God
    die sondes van die pa straf op die kind nie.

    Maar wanneer
    die kind in die voetspore van sy pa volg deur voort te gaan met die sonde, dat
    straf God dit natuurlik wel.

    En hoe
    dikwels sien mens nie hoe maklik sondige gewoontes van pa en ma op die kinders
    oorgedra word nie.

    Mense is nie
    los individue nie, hulle is aan mekaar verbonde.

    Dit wat jy
    doen, het ‘n groot invloed op jou nageslag.

    Om ‘n
    voorbeeld te noem – raar maar waar: as jou verre voorouers op hulle troudag met
    die huwelikskoets by ‘n krans afgetuimel het, dan sou jy vandag nie hier gewees
    het nie.

    In feite het
    jy, jou toekoms, toe saam met hulle in die koets gesit.

    Wat ‘n mens
    doen, het konsekwensies vir die nageslag.

    Dit geld ook
    vir wat Adam gedoen het.

    Die Bybelse
    openbaringsgeskiedenis leer ons: deur die oortreding van Adam het die dood in
    die wêreld gekom.

    Die
    Kategismus praat oor die erfsonde.

    In die preek
    oor Sondag 3 het ons veral hierna gekyk.

    Die
    erfsonde, die wortel van die sonde.

    Ook hierop
    staan as straf die dood.

    Maar is dit
    nie oneerlik nie?

    Stry dit nie
    met ons regsgevoel nie?

    Gemeente, of
    dit nou wel of nie met jou regsgevoel stry nie, dit is wel die diagnose.

    Sê nou maar
    ‘n kind word gebore en op dieselfde dag sterf daardie kind ook.

    Dan het die
    kind self geen sondes kon doen nie.

    Wat is dan
    die oorsaak van sy dood?

    Dit is die
    ellende waaraan hy ook deel het as nakomeling van Adam.

    Want deur
    die keuse van Adam het die dood in die wêreld gekom.

    Voordat Adam
    die keuse gemaak het teen God se wil in, het die dood nie vir die mensheid
    bestaan nie.

    Adam se
    sondeval, sy opstand teen God, het dinge dus verander vir die hele menslike
    geslag, wat uit hom sou voortkom.

    Net soos die
    feit dat jou voorouers gelukkig nie met hulle koets by ‘n krans afgetuimel het
    nie, ‘n impak het op jou – anders sou jy nie nou hier gewees het nie;

    so het Adam
    se opstand teen God ook ‘n impak op ons, sy nakomelinge.

    Ons is
    sondig en sterflik in Adam.

    Dit sit as’t
    ware in ons gene.

    En of dit
    nou wel of nie stry met ons regsgevoel, dit is helaas gewoon die manier hoe ons
    as mense is.

    As mense is
    ons nie los individue nie.

    Soos ‘n boom
    se blare almal vassit aan dieselfde stam, so sit die mensdom vas op die
    stamboom van Adam.

    Alle mense
    het dus deel aan die ellende in Adam.

    Saam met
    Adam is dit ons regsposisie voor God.

    Naamlik
    ellendig.

    Ons staan te
    boek as oortreders, kriminele.

    Dis die
    werklikheid, en jou regsgevoel, as jy dit oneerlik vind, gaan niks daaraan
    verander nie.

    Hierdie
    werklikheid kla jou aan.

    En as jou
    eie regsgevoel jou nie aankla nie, dan is jou eie regsgevoel nie op datum met
    die werklikheid nie.

    Ons as mense
    wys maklik ons vinger na God.

    As Hy
    almagtig is, hoekom kan Hy die probleme nie oplos nie.

    Hoekom is Hy
    so veeleisend?

    Maar laat
    ons, geliefdes, goed besef wat ons nou besig is om te doen.

    Ek, as
    ellendige mens, ek is nou besig om God raad te gee, om God ‘n alternatief voor
    te lê.

    Ek as
    aangeklaagde.

    Sê nou maar
    ‘n dronk drywer ry ‘n kind op sy fiets dood.

    En as die
    ouers van die kind vervolgens die drywer hof toe vat, vervies die drywer hom en
    sê:

    Hoekom kan
    ons dit nie deur die vingers sien nie, julle kan mos weer ‘n kind kry...

    Gemeente,
    hierdie is ‘n absurde voorbeeld.

    Maar dit is
    met ‘n rede absurd.

    Hierdie
    voorbeeld moet jou teen die bors stuit.

    Sodat jy en
    ek begin besef wat ons doen as ons
    met God redekawel.

    Laat ons as
    skuldige party liewerste ons woorde tel.

    Laat ons wat
    skuldig is, baie versigtig wees om vir die Regverdige ‘n alternatief voor te
    stel.

    Laat staan
    om Hom te verwyt.

    As jy vir ‘n
    oomblik stilstaan by wat die mens alles stukkend gemaak het van God se skepping
    en nog steeds doen, dan lê jy jou hand op die mond.

    Voor God se
    regterstoel staan ons as aangeklaagdes, krimineel.

    Daar is
    ernstige misdrywe op ons naam.

    As ons dan
    voor die Regter te staan kom, kan ons liewerste maar swyg.

    Ondeurdagte
    opmerkings agterweë laat.

    Laat staan
    om met ‘n beskuldigende toon teen God uit te vaar.

    Net soos by
    die dronk drywer, het ons geen enkele rede om te verwag dat die Regter ons
    oortreding deur die vingers sal sien nie.

    Ja die
    hemelse Regter eis ‘n regverdige oordeel.

    En enigste
    en dan ook die enigste wat jy as
    aangeklaagde aarselend sou kon vra, is:

    Maar God, U
    is mos ook barmhartig?

    En dit is
    met hierdie vraag wat die eerste deel van die Kategismus, oor ons ellende,
    eindig.

    As skuldige,
    as aangeklaagde, as krimineel, hang jou lewe slegs aan een draadjie:

    God se
    barmhartigheid.

    (Tema: God
    se regspraak boesem ontsag in

  1. Hy is so eerlik en regverdig)

  2. Hy is so vindingryk en barmhartig

    Geliefde
    broer en suster, as jou eie regsgevoel nie strook met die werklikheid, die
    werklike objektiewe diagnose nie, watter sin het dit om jou eie regsgevoel te
    handhaaf?

    Jy sal
    jouself vasloop, vroeër of later.

    Ons kan baie
    vrae hê oor God se handelswyse.

    Maar die
    werklikheid bly die werklikheid.

    Die
    werklikheid in Adam.

    Die mens is
    skuldig.

    Moet God nou
    maar net sy oordeel ophef, alles deur die vingers sien, omdat ons so voel?

    Omdat God
    vir ons gevoel nie eerlik is nie?

    Sê nou maar
    God sou sy aanklag laat waar, wat beteken dit dan eintlik?

    Sê nou maar
    God sou vir Adam sê, en vir sy nageslag: nou goed dan, Ek los julle uit.

    As julle My
    nie meer nodig het nie, Ek sal julle uitlos.

    Weet u wat
    dit sal beteken?

    Weet u wat
    die impak sal wees as God ons uitlos?

    Dat ons ons
    eie gang kan gaan...

    Gemeente,
    dit is nou presies wat die ewige dood is.

    Want as God
    die mens uitlos, waarvan sal hy dan leef?

    Elke asemteug
    is afhanklik van sy voorsienigheid.

    As God ons
    uitlos beteken dit dat ons ewig verlore is.

    Wat ons dus
    doen as ons sê dat God ons verder met rus moet laat, wat ons doen is dat ons
    die oordeel juis oor onsself afroep.

    Ons lewe
    hang maar net aan een draadjie: God se barmhartigheid.

    As jy self
    daarop aandring dat hierdie draadjie deurgeknip moet word, dan gee jy jouself
    prys aan die ewige afgrond.

    Daar is dus
    slegs een moontlikheid.

    Dat jy jou
    eie regsgevoel die swye oplê.

    Jou eie
    subjektiewe regsgevoel hou nie rekening met die werklikheid nie en dryf jou op die
    rand van die afgrond.

    Maar God se
    reg daarenteen maak vir jou deure oop.

    Geliefdes,
    dit is die houding wat ‘n mens pas.

    Die houding
    wat ons as gelowiges moet leer om aan te neem.

    Dat jou eie
    mening nie die botoon voer nie.

    Maar dat jy
    jou verwonder oor God se besluit.

    Dat jy diep
    ontsag het vir die groot Regter van hemel en aarde.

    God se
    karakter vervul ons met ontsag.

    Dink maar
    aan wat Moses gesê het toe Hy ‘n glimps van God opgevang het:

    “HERE, HERE,
    barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou;
    wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding
    en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van
    die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan
    die vierde geslag.” (Ex 34:6-7)

    Dink ook aan
    Psalm 92:

    “Hoe groot
    is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!

    ‘n Dom mens
    weet nie, en ‘n dwaas verstaan dit nie” (vers 6-7)

    God is
    volkome regverdig.

    Die kwaad
    kan Hy gewoon nie duld in sy skepping nie.

    En dit ter
    wille van die behoud van dit wat goed is in sy skepping.

    Die kwaad,
    waarvan die duiwel die oorsprong is, en waaraan die mens nou deelneem, wil God
    verwyder, Hy wil alles desinfekteer.

    Dit is God
    se regverdigheid.

    Hy handhaaf
    die standaarde van die paradystoestand.

    Maar
    daarnaas vind ons sy barmhartigheid.

    Dit hef sy
    regverdigheid nie op nie.

    Sy
    barmhartigheid bied wel ‘n nuwe kans.

    Daarom,
    geliefde broer en suster, wees tog nugter.

    As die
    Regter jou inderdaad genade betoon,

    as Hy vir
    jou deur sy Seun Jesus Christus die deur na die vryheid oopmaak,

    hoekom sou
    jy dan nie so gou as moontlik jou eie regsgevoel oorboord gooi nie?

    Hoekom sou
    jy nie die redding met beide hande aangryp nie?

    Veral as jou
    regsgevoel nie op die werklikheid berus nie, maar God se reg wel deeglik.

    Hoe is dit
    moontlik dat jy God dan nog steeds van onregverdigheid sou wou beskuldig?

    Ja God se
    regspraak boesem ontsag in.

    In die
    eerste plek omdat Hy so deur en deur eerlik en regverdig is.

    In die
    tweede plek omdat Hy so ondeurgrondelik vindingryk is om ‘n verlossingsplan te
    bedink, waarby Hy besluit het om sy eie Seun te betrek, om Hom op te offer.

    ‘n
    Verlossingsplan waarin sy barmhartigheid op so ‘n pragtige manier skitter.

    En dit
    terwyl Hy geen millimeter inlewer op die gebied van sy regverdigheid nie.

    So ‘n
    prestasie het niemand nog ooit gelewer nie.

    Laat ons dit
    met beide hande aangryp!

    Doen jy dit
    nie, dan is jy verlore.

    As jy die
    deur na die vryheid, Jesus Christus, nie deurgaan nie, dan wag die hel vir jou.

    En moenie
    dan waag om vir die Regter die skuld te gee nie.

    Mense wat
    die aanbod van die Regter van die hand wys, omdat hulle vassit aan hulle eie
    regsgevoel, hulle eie oortuigings, sulke mense is beklaenswaardig.

    As hulle in
    die hel tereg kom, dan weet hulle self presies hoekom.

    Broer,
    suster, God is nog steeds genadig.

    Sy
    barmhartigheid duur baie lank.

    Laat vaar
    jou hoogmoed.

    Laat vaar
    jou eie regsgevoel.

    Moenie dink
    jy weet beter as God nie.

    Loop deur
    die deur wat Hy vir jou oopgemaak het.

    God se reg
    is goed vir jou.

    Soos ons
    sing met die woorde van Psalm 92:

    Ek sal
    “verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.”

    Wat ‘n
    pragtige belydenis!

    Sal u dit
    nasê?

    Ek verkondig
    dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.

    En as daar
    êrens in jou hart nog ‘n plekkie is, iets wat jy God verwyt,

    iets wat jy
    teen God hou,

    dan is daar
    huiswerk vir jou hierdie week.

    Hierdie week
    wat voorbereiding is op die nagmaal.

    Want as jy
    nagmaal toe kom, bely jy deur daardie daad:

    God is 100%
    regverdig.

    Ek moes
    andersins die ewige dood gesterf het.

    So groot is
    God se toorn teen my sonde.

    Ek erken
    dit, ek hou niks terug nie, dis die waarheid.

    Ja, dis die
    objektiewe reine waarheid.

    Maar ek bely
    ook, dat hierdie selfde God, eerder as om al my sondes ongestraf te laat bly
    het, dit op sy eie Seun gelaai het.

    Hy het sy
    geliefde Seun met die bittere en smadelike kruisdood gestraf.

    As ek
    nagmaal toe kom, kom ek na die kruis.

    Ek erken, ek
    het die kruis nodig, 100%.

    Geliefdes,
    laat ons volgende week Sondag weer hier saamkom in die kerk, met hierdie
    houding.

    Maak nie
    saak wat ons omstandighede is nie.

    Maak nie
    saak hoe sleg die lewe jou, vir jou gevoel, behandel het nie.

    Jou eie
    regsgevoel gooi ons hierdie week opnuut oorboord.

    Ons kom
    volgende week daarsonder kerk toe.

    Sodat die
    kruis weer kan skitter in ons lewe!

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)