PRETORIA-MARANATA, 27 Maart 2016 AD, 10:15
(Paasfees)
Votum
Seën
Ps 149:1,2
Wet
Ps 119:23
Gebed
Skriflesing:
Lukas 24:1-35
Ps 149:3,4
Teks: Lukas
24:11
Preek
Ps
68:1,13,14
Gebed
Kollekte
Ps 118:12-14
Seën
Preek: Lukas 24:11
Groot
besighede bestee baie aandag aan hulle PR.
‘n Positiewe
uitstraling is van lewensbelang vir ‘n besigheid wat homself respekteer.
Dat jy ‘n
goeie naam het in die media.
Baie geld
word bestee aan advertensieveldtogte.
Baie navorsing
word gedoen oor wat die publiek weet, en wat die publiek dink, oor ‘n
besigheid, oor ‘n produk.
Baie tyd en
geld word bestee aan die beïnvloeding van die publieke opinie.
Vanoggend
gaan ons aandag bestee aan die PR rondom die opstanding van Christus.
Tema: Ligsinnige praatjies het geblyk dat dit
die Evangelie was!
Ons het die
gedeelte gelees oor die Emmaüsgangers.
Kleopas en
sy metgesel.
Hulle was
oppad van Jerusalem na die dorpie Emmaüs.
Dit was ten
noordweste van Jerusalem, op afstand van ongeveer agt myl, oftewel elf
kilometer.
Sê maar
ongeveer vanaf hier tot by UNISA.
Kleopas en
sy metgesel was druk besig om te praat oor die onderwerp wat heel Jerusalem
besig gehou het.
Die
kruisiging van Jesus van Nasaret en die vermeende berigte oor sy opstanding.
Op ‘n
bepaalde stadium was daar toe ‘n medereisiger wat hierdie roete langs hulle
begin loop het.
Ons moet
onthou dat mense in daardie dae geen karre gehad het nie, hulle het baie
geloop.
Daar was
meerdere mense op die pad, sommiges het verby jou geloop in die teenoorgestelde
rigting.
Ander het in
dieselfde rigting as jy geloop.
Nie almal
het ewe vinnig geloop nie, afhanklik van jou ouderdom, of dat jy ‘n las moes
dra.
Maar Kleopas
en sy metgesel het dus na ‘n rukkie agtergekom dat daar iemand was, wat al ‘n
ruk lank langs hulle geloop het in dieselfde rigting.
Hy het begin
saamluister na hulle gesprek.
Kleopas en
sy metgesel was verbaas dat hierdie persoon blykbaar nie op die hoogte was van
die onderwerp van die dag nie.
Alles
naamlik wat gebeur het met Jesus die Nasarener, ‘n man, wat ‘n Profeet was,
magtig in werk en woord voor God en die hele volk (Luk 24:19).
En hoe die
owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig
het (vers 20).
Ons egter,
het hulle openlik vertel – dit is dus duidelik dat hulle volgelinge van hierdie
Man was – ons het geleef met die hoop, dat dit Hy was, wat Israel sou verlos.
En dit was
nou alreeds drie dae gelede.
Maar, vertel
die twee, ons is nog meer ontsteld oor die berigte van sommige vroue uit ons
midde.
Hieruit kan
ons opmaak dat die volgelinge van Jesus ‘n hegte groep was wat mekaar opgesoek
het, veral in hierdie moeilike dae.
Daardie
vroue was dus uit hulle groep.
En hulle was
ontsteld oor die berig van die vroue.
Hulle het
vertel dat hulle Sondagoggend vroeg by die graf was, maar dat hulle sy lyk nie
daar gevind het nie.
Hulle het
vertel dat hulle ook ‘n verskyning van engele gesien het, wat gesê het dat Hy
leef.
Daarna was
daar ander uit die groep, manne in hierdie geval, wat ook na die graf gehaas
het en dit so gevind het, soos die vroue dit vertel het.
Maar hulle
het Hom nog nie gesien nie, nie dood nie en ook nie lewend nie.
Geliefde
gemeente, eintlik was die PR rondom die opstanding van Jesus nogal sleg
voorberei.
So lyk dit
altans op eerste oogopslag.
Dit is
eintlik ‘n wonder dat die opstanding van Christus so beroemd geword het, ten
spyte van die feit hoe dit gebeur het.
‘n Wonder,
vanuit menseoog bekyk.
As daar
deesdae iets belangriks gaan plaasvind, dan sorg ‘n groot besigheid, of dalk
die regering, dat alles goed voorberei is.
Hulle bestee
baie aandag aan die PR.
Mens kan
dink aan mediadekking, die beïnvloeding van die publieke opinie ensovoorts.
Baie ure van
voorbereiding gaan aan ‘n groot gebeurtenis vooraf.
Maar as mens
nou na die opstanding van Christus kyk, dan lyk dit op eerste oogopslag asof
God niks aan PR gedoen het nie.
‘n Groot
fout was alreeds dat dit vroue was wat die allereerste getuies was.
Dit was
vroue wat eerste by die graf aangekom het, wat eerste gesien het dat die graf
leeg was.
Dit was
vroue wat eerste die verskyning deur die engele gesien het.
Voor die hof
het in daardie dae gegeld dat die getuienis van ‘n vrou geen gewig gedra het
nie.Toe die
vroue daarna die geweldige nuus in Jerusaelm versprei het, is dit al gou
afgemaak as onsinnige praatjies.
Mens vra
jouself inderdaad af: hoekom het dit so gegaan?
Jesus kon
mos baie meer effek boek, as dit anders gebeur het?
Kon God dit
dan nie so beskik het dat daar juis op die oomblik van die opstanding, dat juis
op daardie oomblik, die hoëpriester seël op die graf kom kontroleer het nie?
Of dat
Pilatus inspeksie kom doen het van die soldate wat hy by die graf geplaas het?
En, vra mens
jouself af, hoekom het Jesus, direk na sy opstanding, nie dadelik na die tempel
toe gegaan nie?
Hoekom het
Hy sy verheerlikte liggaam nie vir die mense by die tempel gaan wys nie?
Hoekom het
Hy nie nog ‘n keer, nou met sy verheerlikte liggaam, die tempelplein gaan
reinig nie?
Ja, vanuit
menslike oogpunt was die PR sleg voorberei en sleg uitgevoer met die opstanding
van Christus.
Dit is
daarom met reg ‘n wonder dat sy opstanding tog so beroemd geword het.
Dat hierdie
feit tot in die 21e eeu gevier word!
En dit stem
ons tot nadenke, gemeente.
Dit dwing
ons om verder te dink.
Om onsself
af te vra of die PR, vanuit God se oogpunt, nie heeltemal anders gelyk het, en
dat dit – hoewel mense dit nie direk besef het nie – tog veel effektiewer was.
Die eerste
wat ons opval is dat die PR van God, en op hierdie stadium moet ons hierdie
aanduiding PR vervang met ‘n beter woord wat meer gepas is, naamlik God se
raadsplan, die eerste wat opval was dat God se raadsplan glad nie polities of
maatskaplik korrek was nie.
U weet al te
goed watter keurslyf dit kan wees.
Om polities
korrek te moet wees.
Om
maatskaplik korrek te moet dink en optree.
Dit is ‘n
keurslyf wat die media gedurigdeur aantrek.
As Christene
moet ons weekliks veg om nie ook in hierdie keurslyf van maatskaplik en
polities korrek ingedruk te word nie.
Christene
wat twee keer per Sondag kerk toe gaan.
Christene
wat groot gesinne het.
Christenvroue
wat bewus kies om huisvrou te wees.
Christene
wat protesteer teen gay-huwelike, teen aborsie, en nog soveel dinge wat nie
polities korrek in hierdie tyd is nie.
Dit is die
keurslyf van die tydsgees.
In die dae
van Christus se opstanding het dit ook al bestaan.
Ook toe mog
mense bepaalde dinge nie sê nie, of nie doen nie.
En so was
die nuus oor die opstanding van Christus by voorbaat al gedoem tot afwysing,
juis omdat vroue die eerste getuies was.
Dit was toe
polities nie korrek nie.
Maar God
steur Hom in sy raadsplan dus nie aan wat mense as polities korrek beskou nie.
Om nog ‘n
voorbeeld te noem.
Was dit nie
so dat die Joodse leiers ‘n spreekverbod aan alle mense opgelê het nie?
Niemand mog
meer oor Jesus praat nie.
Elkeen wat
sou beweer dat Jesus ‘n Profeet was, Iemand deur God gestuur, Iemand wat dit
werd was om na te luister, sou uit die sinagoge uit geban geword het.
Sien
Johannes 9:22.
In daardie
maatskappy was dit dus ‘not done’, onaanvaarbaar, om oor Jesus te praat.
En indien
mense dit wel gedoen het, het hulle sanksies en sosiale diskriminasie ervaar.
Tog steur
God hom in sy raadsplan nie aan die kleinmenslike optrede op aarde nie.
Later sou
Christus se apostels dieselfde weer te hore gekry het.
‘n
Spreekverbod oor Jesus, hulle opgelê deur die Sanhedrin, die Joodse Raad.
Maar hulle
het hulle nie daaraan gesteur nie.
Hulle het
hulle nie laat lei deur wat polities korrek was nie.
Hulle het
hulle, inteendeel, laat lei deur God se raadsplan.
Hulle het
nie toegelaat dat hulle aan die kantlyn geskuif sou word nie.
Vryuit het
hulle oortuiging geklink:
“Of dit reg
is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;
want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor
het nie.” skryf Lukas in Handelinge 4:19-20.
Die
Emmaüsgangers was verbaas.
Weet hierdie
man, wat by hulle oppad aangesluit het, niks van Jesus af nie?
Terwyl hulle
hart vol vrae was, hoekom alles so moes afgeloop het.
Hoekom alles
rondom Jesus so ‘n onverwagte wending moes geneem het.
Hoekom alles
nou vergoed verby was .
Ja, die
getuienis van die vroue het skynbaar nog nie werklik tot hulle deurgedring nie.
Ook hulle
gedagtes was nog besmet met dit wat polities korrek was: dat jy geen waarde aan
die getuienis van ‘n vrou moes heg nie.
Maar min
wetende dat hierdie Man self, hierdie Jesus waaroor die vroue die berig gebring
het dat Hy leef, dat Hy nou langs
hulle geloop het.
Min wetende
dat ook hulle ‘n bousteentjie sou word in die groot raadsplan van God.
Ek het
eerder genoem dat dit aanvanklik gelyk het asof die PR rondom Christus se
opstanding nie goed voorberei was nie.
Maar
gemeente, nou blyk dat hierdie opmerking glad nie korrek was nie.
Ons eerste
vermoede was dat daar aan die PR geen aandag bestee is nie.
Dit het
mense afgelei uit die feit dat vroue die eerste ooggetuies was.
Maar by
nader insien blyk nou dat God se raadsplan buitengewoon akkuraat voorberei is.
Maar, dat Hy
as Skepper en Regeerder van alles, Homself nie deur mense en hulle opinies laat
lei nie.
Al eeue lank
was Hy al besig om sy raadsplan uit te voer.
Al eeue het
Hy gewerk aan die voorbereiding van hierdie dag.
En was dit
toevallig dat Christus self persoonlik alles aan Kleopas en sy metgesel kom verduidelik
het?
Dat die
opgestane Here self by Moses en by al die profete begin het, om vanuit die hele
Ou Testament te verduidelik, wat alles in die Skrifte op Hom betrekking gehad
het?
God se
raadsplan het toe vir hulle begin leef, hulle oë het oopgegaan, hulle het sig
begin kry op sy grootse planne.
Hulle het
later die aand vir mekaar erken:
“Was ons
hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die
Skrifte uitgelê het nie?” (vers 32)
Geliefde
gemeente, dit bring ons by die volgende belangrike punt:
Uit
hulleself kon die Emmaüsgangers nie hierop sig kry nie.
En geen van
die ander dissipels, selfs nie uit die binneste kring, die twaalf, of nou was
dit elf, het dit begryp nie.
Alhoewel
Christus eksplisiet tot drie keer toe voorafgaande aan sy kruisiging vir hulle
verduidelik het dat Hy sou sterf, maar dat Hy daarna weer uit die dood sou
opstaan!
Tog het
hulle dit nie begryp nie.
Hulle
gedagtes het dit nie toegelaat nie.
Gemeente,
dit is dus ook iets waarmee die raadsplan van God rekening hou.
Dat op mense
nie vertrou kan word nie.
Dat Jesus
selfs op sy twaalf dissipels nie kon vertrou nie.
Dit bring
ons by die volgende belangrike insig:
As Christus
sy sterwe en opstanding tot drie keer toe aangekondig het aan sy dissipels,
maar as hulle tot drie keer toe nie in staat was om dit te verstaan en te
aanvaar nie, wie sou dit dan wel geglo het?
In elk geval
nie die Fariseërs, die Joodse leiers, en net so min die Sadduseërs nie.
Op geen
enkel mens op aarde kan jy vertrou nie.
Is dit dan
‘n gemiste kans dat God juis nie die hoëpriester, of Pilatus, of die Fariseërs,
en ook nie die apostels, uitgekies het om eerste getuies van die opstanding van
sy Seun te wees nie?
Is dit dan
so snaaks dat Hy die vroue uitgekies het?
Vroue wat
geen stem gehad het in die hof nie, wie se getuienis nie getel het nie.
Maar wel die
vroue wat tot die laaste oomblik, toe Hy aan die kruis gehang het, by Hom gebly
het?
Mens kan
ronduit sê, ten spyte van die ongeloof van al die belangrike mense in daardie
tyd, ten spyte daarvan, het Christus se opstanding tog beroemd geword.
En leer
hierdie les veral: as God mense in diens neem in sy raadsplan, dan kies Hy vir
die onaansienlikstes.
Dit is iets
van alle tye, dat die mees onaansienlike mense ook die mees onbevooroordeeld
staan teenoor die waarheid.
Hoe hoër jy
opklim, hoe hoër jou posisie, hoe meer moet mense rekening hou met wat hulle
sê, wat hulle wel en wat hulle nie mag sê nie, en hoe minder ongedwonge hulle
vir die waarheid kan uitkom.
Christus het
eerste aan daardie vroue verskyn.
Die geloof
in sy opstanding het Hy as eerste in hulle gewerk.
Eers daarna
sou Hy aan die apostels verskyn.
Die apostels
waaroor daar in ons teks geskryf staan: “en hul woorde het vir hulle na
onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie”.
Jesus sou
hulle hul ongeloof verwyt.
En ook in
hulle harte sou Hy persoonlik, as die lewende Heer, die geloof in sy opstanding
werk.
En presies
dieselfde doen Hy nou met die Emmaüsgangers.
Ook Kleopas
en sy metgesel het geen waarde geheg aan die berig van die vroue nie.
Dit was
Christus self wat hulle moes oortuig.
Hy het dit
gedoen deur as Skrifgeleerde aan hulle die Skrif uit te lê.
Hy het dit
gedoen deur by hulle te bly eet.
Uit sy
prediking het hulle Hom nog nie herken nie, hoewel hulle harte brandende was.
Maar eers
toe Hy sy hande omhoog gesteek het om te bid – dit was mos die gebedshouding in
daardie tyd – eers toe hulle sy littekens gesien het, eers toe het hulle Hom
herken.
So het dit
dus gebeur.
Die Vader in
die hemel het sy raadsplan nougeset uitgevoer.
Sy raadsplan
is nie afhanklik van mense nie.
Sy raadsplan
is wel gerig op die redding van mense.
Een vir een
het Hy die mense oortuig van die opstanding van sy Seun, beginnende by daardie
vroue.
Gemeente, is
dit nie in die sendingswerk ook dikwels die geval, dat vroue eerste tot geloof
kom nie?
Maar God sal
sorg dat die manne ook volg.
Baie sou
daar volg.
Dit het
begin met Kleopas en sy metgesel.
Nadat hulle
Jesus se hande met die littekens gesien het, was daar geen twyfel meer moontlik
nie.
Hulle het
opgespring en direk na Jerusalem teruggekeer – te voet.
Onthou u,
daardie afstand van 8 myl, ongeveer 11 km, ongeveer vanaf UNISA weer terug
hiernatoe
Dit het
ondertussen al donker geword.
Hulle het
direk na die elftal gegaan, wat bymekaar was.
En hulle het
vertel dat die Heer waarlik opgestaan het!
En hoe Hy
deur hulle herken is by die breking van die brood en die dankgebed.
God sy dank
het hulle nie ook ‘n koue stort van ongeloof oor hulle heen gekry, soos wat die
vroue gekry het toe hulle dit aan die elftal kom vertel het nie.
Want
inmiddels het die Here ook al persoonlik aan Simon, aan Petrus, verskyn.
Geliefdes,
die opstanding van Christus is die groot wending in die wêreldgeskiedenis.
Menslik
gesproke kon dit nooit gebeur het nie, menslik gesproke was dit ligsinnige
praatjies.
Menslik
gesproke was die PR power voorberei.
Om nog ‘n
enkele voorbeeld te noem.
Die
bekendste teken van die Christelike geloof, die kruis, dat dit as die mees
herkenbare teken van die Christelike geloof die geskiedenis sou ingaan, dit is
nog so ‘n wonder.
Die kruis,
wat in daardie tyd ‘n moordwerktuig was.
‘n
Vergelykbare simbool vandag vir die kruis sou ‘n galg wees, of ‘n elektriese
stoel.
Dit was ‘n
walglike simbool.
Tog het dit
in God se raadsplan dit belangrikste simbool geword van Christus se
middelaarswerk.
En dit alles
was nie ligsinnige praatjies nie.
Dit was
wêreldnuus.
Dit was die
Evangelie.
Met hierdie
Evangelie werk God tot op vandag die geloof in mense se harte.
Ook in jou
en my hart.
Ek sluit af
met die bekende woorde uit Romeine 1:16
“Want ek skaam my
nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo”.
Amen.
(kyk in preek)