God se Seun Jesus Christus maak God se geredde kinders aan Homself gelyk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2016-04-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) Sondag 32
Preek Inhoud: 

Preek
oor Sondag 32 HK

Bellville,
17 April 2016

 

Liturgie:

 

Votum en groetseën

SB 24:1,2

Gebed

L. 1 Johannes 2:24, 28-29

    1 Johannes 3:1-11 en 16-24

SB 33:1,2

Preek Sondag 32 HK

SB 33:3

Geloofsbelydenis: SB 27:1-5

Gebed

Kollekte

Ps 33:11

Seën

 

Móet ons goeie werke doen, broeders
en susters?! ‘n Mens sou amper skrik as jy Sondag 32 lees. Na al die pragtige
Sondae oor die verlossingswerk wat die Here Jesus vir ons gedoen het, oor God se
beskamende groot genade omdat ons dit sélf nooit meer kon regmaak tussen Hom en
ons nie, lees ons nou ons moet goeie
werke doen. Nou toe nou: ons het in een van die vorige Sondae pertinent geleer
dat selfs ons beste werke almal onvolmaak en met sonde besmet is. Maar dat
Christus met sý goeie werk vir al my sonde-skuld reeds volkome betaal he, en
dat ons daarom deur ons geloof in Christus weer God se kinders mag wees. Hoekom
sê die Kategismus dan dat ons nogtans goeie werke moet doen!

Word ons nou tog weer bedolwe
onder allerhande ‘moets’ om daarmee ons dankbaarheid aan God te bewys?

Ons is  tog nie meer onder die wet nie, maar onder
die genade?

 

Maar weet julle wat, broeders en
susters, dis nie die Kategismus wat sê dat dit moet  nie. Dis die Here Jesus Self. Hý wil dit so
hê. Vir Hom is dit ‘n ‘moet’.

 

Maar dis nie ‘n eis wat Hy aan
‘ons stel nie, nie iets wat Hy nou van ons kant af verwag nie. Dis ‘n eis wat
Hy aan homself gestel het. En daarom sal Hy Self daarvoor sorg dat daar goeie
werke in ons lewe kom.

Want kyk nog ‘n keer saam met my
in die antwoord wat die Kategismus in Sondag 32 gee op die vra hoekom daar by
ons goeie werke moet kom: die  antwoord
gaan glad nie oor dit wat óns nou
moet doen na alles wat Christus eerste vir ons gedoen het nie. Nee, dit gaan
oor wat Chrístus nog meer vir ons
doen, deur sy Heilige Gees, nadat Hy ons met sy bloed van ons sondeskuld
vrygekoop het. Hy verlos ons nie net van die straf op die sonde nie, maar ook van die mag van die sonde. Hy maak ander mense van ons. Mense wat al hoe
meer word soos Hy Self is. Sodat ons, as Hy na hierdie aarde terugkom, aan hom
gelyk sal wees aan Hom.

Hy wil ons in sy Koninkryk inneem,
maar vir afgodsdienaars, onkuise mense, egbrekers, diewe, gierigaards, dronkaards,
lasteraars rowers en sulkes is daar in sy ryk geen plek nie. Daarom sal Hy
ander mense van ons maak.

Sondag 32 trek ons dus glad nie
weer terug in ‘n slawelewe nie. Ons word nie weer belas met ondraaglik ‘moets’
en ‘moenies’ nie. Ons hoor van ‘n voortgesette verlossing na Christus se
kruisdood vir ons.

Ons, gebore sondaars, word aan God
se Seun gelyk gemaak!

 

Ek mag u dan ook verkondig, as ek
dit probeer saamvat:

God
se Seun Jesus Christus maak God se geredde kinders aan Homself gelyk.

 

 

 

Hy
doen dit:

  1. vir
    sy Vader

  2. vir
    onsself

  3. vir
    ander mense

     

    1.
    Dit bly maar ‘n pragtige lied, broeders en susters: SB 33. “Wat ‘n liefde en volheidslewe het die Vader
    ons gegewe, dat Hy ons sy kinders noem!
    ” 
    Ons het vanaand die gedeelte in die Bybel gelees wat in daardie lied
    berym is. “Kyk, wat ‘n groot liefde het
    die Vader aan ons bewys, dat ons kinders van God genoem kan word
    ” .  “Kyk”,
    skryf Johannes, as ‘n uitroep van verbasing en ontroering. Hoe ‘n wonder! Om dit
    met die woorde van vr 86 uit Sondag 32 te sê: Noudat ons sonder enige
    verdienste van ons kant, alleen uit genade, deur Christus uit ons ellende
    verlos is, kan ons weer God se kinders genoem word.

    Sing u SB 33 nog altyd met
    daardie verbasing en ontroering? Leer u dit vir u kinders?

     

    Daar is genoeg rede om dit te
    doen. Want, ja, ons mag weer God se kin-ders wees. Deur God se liefste Seun
    gered. Maar gedra ons ons nou ook in alles as kinders van God? Hoe goed ken u
    uself? Jy?

    Die Kategismus het in Sondag 32
    opgesom vir watter mense daar geen plek in God se ryk kan wees nie en ons stem
    natuurlik saam. Ons hou ook nie van daardie soort mense nie!

    Maar gaan daardie omskrywing ook
    maar nie op ‘n manier oor my en u nie? Hier word gepraat van:

    Onkuise
    mense
    : wat hulle drange nie beteuel nie, pornoverslaaf
    is. Wat hulle selfs aan hul eie kinders kan vergryp......

    Afgodsdienaars:
    mense wat sport-helde of popsangers verheerlik en aanbid; of begaafde dokters,
    natuur-genesers......

    Egbrekers:
     mense wat hul man of vrou verlaat vir
    iemand anders, hul huweliksmaat bedrieg....

    Gierigaards:
    hebsugtige materialis-tiese mense, wat altyd oor geld praat.....

    Dronkaards:
    drankverslaafdes, mense wat die atmosfeer by die huis en by partytjies bederf
    deur hul luidrug-tigheid as gevolg van hul alkoholge-bruik.....

    Lasteraars:
    mense wat nie met nie, maar steeds oor ander mense op ‘n negatiewe manier
    praat, skoolkinders wat  ander leerders
    boelie, hulle swartsmeer op die internet.....

    Rowers:
    mense wat belasting ontduik, wat geld uitleen teen ‘n veels te hoë rentekoers....

     

    Nee, dis nie presies hoe ons is
    nie. Gelukkig nie. Maar herken ons niks daarvan by onsself nie, broeders en
    susters? Voel u dan nie verskriklik skaam teen-oor ons God en Vader nie? Want dis
    nie hoe Hy eendag sy mensekinders wil ontvang nie. Hoe sou dit vir ons
    Hemelvader voel? Óns ly onder allerhande gevolge van die sonde. Maar hoe sou Hý
    ly onder ons sondes self?

     

    Dis díe dat God se Seun ons,
    noudat Hy ons van ons sondeskuld verlos het,  weer wil maak soos Adam en Mannin was. Mense
    soos Hy Self geword het: wat God se beeld vertoon. En dus pleks van slegte werke
    goeie werke doen.

     

    Ons het grootgeword by daardie
    bena-ming: ‘goeie werke’. Die Bybel self praat heelparty keer daarvan. Maar dit
    kan die indruk skep asof dit gaan oor ekstra dinge wat ‘n kind van God in sy
    lewe doen. ‘n Rojale bydrae en vir ‘n goeie doel. Hand bysit by die bure of
    iewers in die gemeente, in die sendinggemeentes. Maandeliks die kerkblad of Kompas help gereedmaak en in die posvakkies
    sit. Alles goeie dinge, maar eintlik maar net die kersie op die koek.

    In die Bybel gaan dit, as dit by
    ‘goeie werke’ kom, egter nie net oor toegif-te by ons gewone lewe nie. Asof die
    gewone lewe ook smaaklike, gesonde koek is nie.

    Sonde is nie maar net dat ons
    party dinge nie meer goed doen nie. Ons meen partymaal so. As u saans verge-wing
    vra vir al u sondes, waaraan dink u dan? Aan al die dinge wat u ver-keerd
    gedoen het? Sodat u partymaal eers mooi moet nadink watter dinge dit dié keer
    was? 

    Maar u sondes is elke dag baie
    meer as net ‘n paar blapse. “Sonde is wet-teloosheid
    het ons in 1 Joh 3:4 gelees. Jy gedra jou nie meer volgens God se wet nie. Maar
    wat vra die HERE is sy wet van ons? Ons het dit mos in die Kategismus al in
    Sondag 2 geleer: “Ons moet die HERE, ons
    God, LIEFHÊ met ons hele hart, met ons hele verstand, met al ons kragte
    ”.

    ‘n Aantal Kategismussondae
    verder, Sondag 44 HK, vat dit in hierdie woorde saam: “Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag
    nooit meer in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heel-hartig vyande van alle
    sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê”
    ‘n lewe dus waarin dit
    nie net om myself draai nie, maar in alles, totaal en al, om God en my naaste.

     

    Sulke mense moet ons meer en
    meer, opnuut, weer word. Kinders van God wat SY liefde weerspieël. Wat nie vir
    90% net soos al ander mensen leef: ons eet, werk of gaan skool toe, ons kyk
    televisie, beoefen ‘n sport, slaap, hou vakansie, terwyl ons vir 10% ander
    dinge doen: ons bid ook en lees Bybel, ons gaan kerk toe, katkisasieklas,ons is
    ‘n ouderling of diaken....

    Nee, ons hele lewe moet anders
    word. Sodat ons op ‘n ander manier tv kyk, of op die internet besig is, op ‘n
    ander manier die koerant lees, op ‘n ander manier besigheid doen en ons
    belastingvorm voltooi, anders met ons bure en kollegas praat, op ‘n ander manier
    ons vakansies beleef. In al die dinge van ons lewe moet God weer eerste kom. En
    dus ook die mense wat Hy in hierdie lewe langs ons geplaas het. In alles moet ons
    Hom en ons naaste ons liefde wys. Soos Christus is, so moet ons ook word.

    Soos die Vader kon sê: “Hierdie is my Seun, ek het ‘n welgevalle in
    Hom (oor Hom verheug Ek My)
    ”, so wil Christus hê moet God dit ook van u,
    van jou en van my kan sê: “Kyk, My kind, Ek kyk met plesier na hom, na haar”. 

    Omdat óns ook ‘n plesier het in
    die lewe as sy kinders. Omdat ons elke dag beïndruk is met so ‘n Vader. Om-dat
    ons lewe die ene dankbare ver-wondering is.

    Met die doel het God die mens mos
    geskape: om Hom te loof en te prys. Ons
    het dit al bely in Sondag 3 HK. En moet maar kyk in Sondag 32: dít moet weer by
    ons terugkom. Dus werk die Here Jesus Christus nou daaraan deur sy Heilige Gees

     

    Maar dis tog ook wat óns graag
    wil hê, broeders en susters? ‘n Vader in die hemel wat bly kan wees met ons as
    sy kinders? Wat Hom nie aanhoudend deur ons seergemaak voel nie, maar met plesier
    kyk na hoe ons in sy wêreld en met mekaar besig is? Vol goeie werke pleks van
    slegte werke?

    Maar dan skrik u mos nie as u in
    Son-dag 32 lees dat ons goeie werke MOET doen nie? Dan is die doen van goeie
    werke, ‘n lewe weer volgens God se liefdeswet, tog ook vir usself ‘n moet? En
    dan is u tog diep dankbaar dat Christus, omdat ons dit van ons eie nooit sou
    regkry nie, nou daaraan werk?

     

    2. Dan
    sal ons ook agterkom dat Christus, ook terwille van onsself, goeie werke in ons
    tevoorskyn bring.

    Die Kategismus sê dat Hy dit ook
    doen: “...sodat ons vir onsself van ons
    geloof uit die vrugte sekerheid kan kry
    ”.

    Dis dalk effens moeilik
    geformuleer.

    Maar wat hier staan is baie
    troosvol vir mense wie se geloof nie altyd ewe sterk is nie. Wat partymaal twyfel
    of hulle wel regtig ‘n kind van God is. Of God eintlik wel bestaan. Omdat  die satan soos aasvoëls op hul toesak om hulle
    aan te veg: “Jý, ‘n kind van God? Dit sal
    die dag wees
    ”  Met as gevolg dat ‘n
    mens amper nie meer durf te bid nie. Nie meer die nagmaal durf saam te vier
    nie. Uit die kerk begin wegbly....

    Ons het in Johannes se brief
    gelees (3:6): “Elkeen wat in Christus
    bly, sondig nie meer nie. En elkeen wat wel sondig, het Christus nie geken en
    nie gesien nie
    ”   Maar ek doen mos
    nog baie sondes? Elke dag? My lewe is glad nie volmaak nie. Is ek dan wel God
    se kind?

     

    En nou sê die Kategismus nie: ‘Nee wat, daardie sondes stel niks meer voor
    nie, moet jou nie meer daaroor bekommer nie
    ’. Die Kategismus noem juis ‘n
    paar keer dat ons ook na ons redding deur Christus steeds ‘n son-dige natuur oorgehou
    het waarteen ons ons lewe lank sal moet bly stry. Maar die Kategismus sê wel:
    ‘Daar is mos nie net sondes nie? Kyk bietjie watter vrugte daar terselfdertyd
    ook in jou lewe groei as gevolg van die werk van Christus se Heilige Gees! Ja,
    jy doen steeds sonde. Maar jy lééf tog nie meer in die sonde nie? Want dit is
    wat Johannes bedoel het: ‘n kind van God aanvaar nie meer die sonde as normaal
    in sy lewe nie. Maar dit is by jou mos ook nie meer so nie? Sonde doen is vir
    jou tog ook nie meer van-selfsprekend nie? ‘n Lewe vol sonde is tog nie meer
    die klimaat waarin jy tuisvoel nie.

    Jy voel skuldig? Jy wéét jy stel
    God nog maar alte dikwels teleur? Jy wíl nie meer so aangaan nie?

    Lees dan nog ‘n slag wat Johannes
    geskryf het in 1 Joh 3:20: Ons gewete kla ons aan, ons eie hart veroordeel ons.
    Ja, en daarvoor is daar ook redes genoeg. Maar: God ken ons hart. Hy weet
    hoekóm ons hart ons veroordeel: omdat daar klaar weer liefde vir Hom leef.
    Omdat ons so graag weer as sy kind wil leef. By iemand wat uit die duiwel
    gebore is, is daar glad nie so ‘n begeerte nie, en dus ook geen skuld-gevoel
    nie. Wel by jou. Berou oor al die sondes wat daar steeds is. Maar besef jy dat daardie
    skaamte en berou ook baie belangrike vrugte van Christus se voortgesette
    verlossings-werk in jou lewe is?

     

    En daardie vrugte mag jou help om
    die twyfel of jy wel regtig ‘n kind van God is en tog dalk nie miskien ‘n kind
    van die duiwel nie, te bowe te kom. Dit kan help om nie steeds te wonder of jou
    geloof wel goed genoeg is nie. Die vrugte is mos klaar daar!

     

    So bring Christus nie net met
    beloftes nie, maar ook met dit wat ons reeds in ons lewe mag ervaar, ons hart
    tot rus. En daardie rus gee ons ook die vrymoedigheid om na God te gaan en om vir
    meer te vra: “HERE, van my eie kry ek dit
    nie reg om te leef soos u dit graag wil hê nie. Ek is nog so swak. Maar sal U u
    Gees aan my aanhou gee asseblief? Sodat ander mense Christus in my doen en late
    kan herken
    ”,

     

    3.
    Ja, ook ander mense... Want die Here Jesus Christus het nog ‘n derde doelwit ook
    om ons as God se verloste kinders aan Homself gelyk te maak. Te wete dat
    miskien ook ons naaste daardeur gered kan word. Ons nuwe, godvresende lewe kan
    daaraan bydra dat meer mense op’n sekere dag dankbaar en verwonderd gaan saamsing:
    Wat ‘n liefde en volheidslewe, waar ons
    bly ons in beroem, het die Vader ons gegewe dat Hy ons sy kinders noem
    ”.

    Want die wêreld weet van die wat
    uit God gebore is nie. Hulle verstaan ons nie, hulle weet nie presies wat ons
    besiel om te maak soos ons maak nie. Terwyl ons Hemelvader Hom al hoe meer
    verheug oor die terugkeer van ‘n lewe soos Hy dit altyd wou gehad het, raak
    ongelowige mense al hoe meer verbaas. Vererg ook dikwels. Want hulle ken nie
    vir Christus en sy Vader nie.

     

    Dit is ‘n hartseer waarmee ons
    moet saamleef, broeders en susters. Dit sal ook nie sommerso verander nie.
    Eendag sal dit verander. As Christus na hierdie aarde terugkom en aan al die
    mense terselfdertyd verskyn. En as ons dan heeltemal aan Hom gelyk sal wees.

    Dan sal ook die ongelowiges
    verstaan wat ons besiel het.

    Tog werk Christus daaraan dat van
    daardie mense vandag al wel iets begin agterkom van die verskil tussen kinders
    van God en kinders van die duiwel. Kinders van God is ánders. En nie slegs in
    ‘n paar opsigte nie. Nee, hulle hele doen en late is anderste. Die aangename
    vrug van die Gees kom orals tevoorskyn. Hulle neem afstand van seksuele
    uitspattighede, hulle huwelike hou stand, selfs 50, of 60 jaar, hulle is eerlik
    in hul geldsake, bederf nie partytjies deur oormatige gebruik van sterk drank,
    hulle skinder nie oor ander mense nie, maar  

    hulle staan voor, bekend vir hul broe-derliefde,
    iets wat spesiaal deur Johannes in sy brief beklemtoon word. Hulle handel
    volgens die tweede deel van God se wet: “Jy
    moet jou naaste liefhê soos jouself
    ”.  Want hulle  het die liefde van Christus geleer, ’n liefde
    nie maar net met woorde of met die tong nie, maar met die daad, in opregtheid.
    ‘n Liefde wat bereid is om selfs jou lewe vir die ander op te offer.

     

    En so skakel Christus ons vandag
    in, broeders en susters, om die aandag van ook ander mense te trek. Om hul
    aandag op Christus te rig. Ons mag elkeen waardevolle evangeliste word. Nie net
    deur ons mooi woorde nie. Maar veral ook deur ons goeie dade wat die mooi
    woorde onderstreep.

    In die eerste eeue het die kerk
    nie  deur sendingsaksies en evangelisasie-veldtogte
    gegroei nie. Daarvoor het hulle nie die ruimte gekry nie. Chris-tene is met
    argwaan bekyk. Daar kon sommer weer vervolging losbars. Dus moes kinders van
    God hulleself rustig hou. Nogtans het die kerk gegroei. As gevolg van die
    opvallende lewensstyl van die Christene. Hulle was ooglo-pend ánders. Beter.

    So het Christus bewerk dat van
    die heidene nes die Christene wou word. Om vervolgens agter te kom, dat hulle
    dan nes Christús sou word.

    Ook daarom moet daar by ons goeie
    werke kom.

    xxxxxx

     

    Moet ons dus tog weer self dinge
    pro-beer verander? Nee, ons moet maar net met oop ore luister na wat die Gees vir
    Christus se gemeente sê, naamlik dat ons die lewe buite onsself, in Christus mag
    soek. En dan doen sy Gees die res.

    Dan is Christus se doelwit ook
    ons doelwit. Want as Christus eendag (maar dit kan mos vandag al wees!)
    terugkom, wil ons tog gelyk wees aan Hom?  Dan mag dit tog nie so wees, soos ons by
    Johannes gelees het, dat ons beskaamd van Hom moet weggaan nie?  Amen.

     

                                

Liturgie: 

(kyk in preek)