God gee my deur sy wet 'n nuwe lewe

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2016-05-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) Sondag 34 vraag en antwoord 92
Preek Inhoud: 

Preek oor Sondag 34a Heidelbergse Kategismus

Bellville, 1 Mei 2016

 

Liturgie:

 

Ps 119:1,3,6
Gebed
Lees. Psalm 119:1-8, 33-37, 54-60, 169-176

Ps 119:63

Preek Sondag 34a
Ps 40:3,4
Geloofsbelydenis (sing)
Ps 33:11

Gebed
SB 36:1,4,5 (Geredde kinders wat weer leef volgens God se gebooie)

 

 

U het sopas gesing dat dat die HERE se wet ‘n groot
vreugde by u teweegbring. En dat u altyd met sy gebooie besigbly, want dit is u
soetste oorpeinsing. Was u heeltemal eerlik toe u so gesing het? Het daardie
woorde reguit uit u hart gekom? Doen u dit regtig: op ‘n gereelde basis oor God
se gebooie mediteer? Wie van u gaan, as jy snags nie kan slaap nie, ‘n rukkie
oor die wet van die HERE lê en nadink: ‘Hoekom sou die HERE nou dit van ons
vra? Hoekom wil Hy nie hê dat ons so maak nie?’ En dan op so ‘n manier daarmee
besig wees dat dit ons bly maak, opgewonde?

Ons gaan ons in die reeks Kategismus preke ‘n hele
paar weke met God se gebooie besig hou. Gebod vir gebod so te sê oorpeins. Want
ons het in die Sondae 32 en 33 geleer dat daar ‘goeie werke’ by ons moet kom.
En goeie werke is nie dade wat in ons eie of ander mense se oë goed is nie, maar
wat volgens God se wet gedoen word. Dis dié dat die Kategismus nou God se wet
met ons gaan bespreek.

Sien u met blydskap uit na die preke hieroor?

Ek het die jare wat ek ‘n predikant is verskillende mense
ontmoet wat glad nie bly was met preke oor die wet nie. Inteendeel, hulle het
nie daarvan gehou nie. Hulle ervaar sulke preke, maar eintlik ook alleen al die
voorlesing van die HERE se wet elke sondagoggend, as ‘n klomp ‘moets’  en ‘moenies’. As ‘n inperking van ‘n mens se
vryheid en eie verantwoordelikheid. Ja, en veral: word die vryheid wat die Here
Jesus Christus vir ons terugverdien het, daardeur nie weer aangetas nie? Is die
wet nie iets uit die tyd van die Ou Testament nie? Hulle het “onder die wet”
geleef. Vir hulle was die wet ‘n soort van strenge koshuisvader wat hulle
opgevoed het vir die tyd wat Christus sou kom. Maar Christus hét mos gekom? En
ons leef nou mos nie meer onder die wet nie, maar onder die genade?

 

                                                       xxxxxxxxxx                       

 

Maar is dit dan nie vreemd dat die digter van Psalm
119 so uitbundig vrolik oor God se wet kon sing nie, broeders en susters?
Miskien moet u by die huis ‘n slag met ‘n potlood onderstreep hoe dikwels hy
woorde soos “vreugde”, “verlustiging” en so meer gebruik. En hy
raak ook nie klaar gesing nie. Dis dié dat hierdie Psalm so lang geword het.
Die langste in die hele Psalmboek. In telkens nuwe bewoordings besing hy sy
vreugde in die besig wees met God se voorskrifte. En hy hóór die HERE Self
daarin praat. En hy wil die HERE wel die woorde uit sy mond neem. Sal u gou
saam met my kyk in vs 13? Daar praat die digter van “die verordeninge van u mond”. En as ons dan verder blaai na
vs 72, lees ons nog ‘n keer dat die digter van “die wet van u mond” sing. 
En nog ‘n keer in vs 88: “die
getuienis van u mond
”.

Hierdie man hang so te sê aan God se lippe! So gretig
is Hy om voorskrifte van Hom te ontvang.

Blykbaar ervaar hy die HERE se wet glad nie as ‘n juk
nie. Dis vir hom geen sweep wat hom aanjaag nie. Inteendeel.

Was dit net Outestamenties? Het daar soveel verander
dat dit wat vir ons broer destyds ‘n bron van vreugde was, vir ons vandag ‘n
vermoeiende en frusterende las geword het?

Kan dit nie ook so wees, dat u aan óns lippe hang as ds
Linus en ek die komende weke God se wet, gebod vir gebod, in ons preke gaan
toelig en konkreet gaan toepas nie?

Wat het die digter van Psalm 119 besiel?

 

                                                     xxxxxxxxx

 

Wat het hom besiel? Wel, vir hom was hierdie wet nie
‘n afstandelike wet nie. Nie die een of ander klomp bepalings van ‘n owerheid
wat duidelik daarvan blyk gee dat hy nie verstaan wat jou land die oomblik die
meeste nodig het nie. Nie ‘n aantal kinderagtige skoolreëls van ‘n skoolhoof en
van onderwysers wat nie mooi weet wat in tieners se koppe aangaan nie.

Nee, vir die Psalmis van Ps 119 is dit geen afstandelike
wet nie. Kyk weer bietjie saam met my in hierdie Psalm. Hy praat nie aanhoudend
van “daardie wet” of “daardie gebooie” nie, maar ons hoor hom
regdeur die psalm met die Wetgewer Self oor sy wet praat: vs 4: “U het u bevele gegee”, vs
7: “Ek sal U loof as ek u
regverdige verordeninge leer. Ek sal u insettinge onderhou...
” En so
aan. Hy ken die Wetgewer en sy goeie bedoelings. Hy leef met Hom op vertroulike
voet. Soos die Wetgewer hom ook persoonlik ken: “Ek is die HERE, jou God, wat jou uit Egipteland gelei het. En hom persoonlik aanspreek: “Jy mag geen andere gode voor my aangesig
hê nie, jy mag nie...
.”

En hóe ken hy vir die HERE! God is vir hom nie ‘n
taamlik onbekende minister wat die een of andere wet uitgevaardig het nie. Hy ken die HERE as sy Maker! Kom ons lees gou vs 73: “U hande het my gemaak en toeberei”. Die
psalmis ken die HERE as sy Hemelvader. Wie se hande hom, klein mensie, vol
liefde gevorm het in die moederskoot en hom opgevang het by sy geboorte, en hom
van toe af verder gevorm het om ‘n mens te word soos Hy dit graag wil hê. En wat
ook sy wet, sy voorskrifte en gebooie daarby gebruik.

Hy ervaar Vader se liefde ook daarin.

Wet en Evangelie staan by hom nie teenoormekaar nie.
Daardie twee strook baie goed.

 

                 
                                      xxxxxxxxx

 

Al vanaf die eerste twee mensekinders wat deur die
HERE se hande in die paradys gevorm is, het God se liefde vir hulle en sy wet
hand in hand gegaan. Die HERE het Man en Mannin al dadelik met gebooie omring
en dit nie gedoen om hul lewe bietjie moeiliker te maak nie maar om hul lewe mooi
en leefbaar te hou. Want die HERE het nie allerhande moeilike dinge van sy
kinders gevra nie. Eintlik het sy wet maar uit een groot gebod bestaan: God het die ene LIEFDE van sy mensekind gevra. Ons
weet dit mos van sy hemelse Seun Jesus Christus.  God het maar net ‘n samelewing in liefde
gesoek. Tussen Hom en die mens en tussen die mense onder mekaar. Daarom kon Jakobus,
Jesus se halfbroer, in sy brief in die Bybel God se wet ook “die volmaakte wet, die wet van die vryheid
noem.  Hierdie wet ontneem ‘n mens nie ‘n
stuk vryheid nie  maar dit bewaar jou
juis by ‘n lewe as ‘n vry en gelukkige kind van God.

Daardie een groot gebod moes later wel in 10 gebooie
nader uitgewerk word: geen andere gode nie, God nie deur middel van ‘n beeld
vereer nie, sy Naam met respek in die mond neem... jou medemens nie doodmaak
nie, trou bly aan jou huweliksmaat, nie steel nie...... En daar het ook nog
ander aanvullende bepalings bygekom. Maar in wese het God daarin maar steeds op
‘n lewe in liefde bly aandring. Want dit alleen is lewe. So alleen bly die lewe
goed of word dit weer goed.

En dit het die digter van psalm 119 leer besef. As hy
sê: “U hande, HERE, het my gemaak en
toeberei
”, bedoel hy met daardie woordjie “toeberei”: vir so ‘n lewe, waarin u liefdesgebod in alle opsigte my
beheers, het U my toeberei. Dis hoe U my bedoel het.

U gebooie is die ABC van my lewe.

Sou dit die rede wees hoekom hy hierdie psalm volgens
die 22 letters van die Hebreeuse alfabet opgebou het? Hy het eweveel groepies
van telkens agt verse gemaak as daar letters in sy alfabet was. Die eerste agt
verse begin met die letter A, die volgende een met die B, en so voort.

‘n Dankbare psalm van A tot Z. Van ‘n kind van God wat
vir God A gesê het, en daarom ook B wil sê. En C.....

 

                
                                        xxxxxxxxxx

 

Ja, wie A sê moet ook B sê. Want alhoewel
die HERE ons met sy liefde soek, kom Hy in sy wet wel met gesag, met outoriteit
na ons toe. Sy gebooie is geen vryblywende adviese nie. Dit is wel degelik
‘moets’ en ‘moenies’: “Jy mag geen ander
gode voor my aangesig hê nie....., Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen,
maar die sewende dag is ‘n rusdag. Dan moet jy rus.....Jy mag nie steel nie, jy
mag nie egbreek nie.....”

In ons Ou Bybelvertaling praat
die psalmis aanhoudend van God se “insettinge”.
Mens sou daardie outydse woord vandag met “voorskrifte
kan vertaal. “Vereistes”.

God bemoei Hom in sy wet baie
direk met ons doen en late: “Nee, moenie! Dis verkeerd en gevaarlik. Pas op, jy
gaan spyt wees as jy dit doen. Wag,  dis
iets wat Ek nie kan verdra nie”.

Maar mag ‘n Vader nie so maak met
sy kind nie? Dis mos hoe ‘n Pa en ook ‘n Ma maak as hulle hul kinders in liefde
wil grootmaak?

Het u grootgeword in ‘n liefdevolle
gesin? Het jy ‘n Pa en Ma wat jy weet hulle is baie lief vir jou? Maar as jy
ook lief is vir hulle verstaan jy mos wanneer hulle bepaalde duidelike
voorskrifte in hul gesin handhaaf? Dat hulle ook daarin die beste vir jou soek?
Of gesoek het? Ook Pa en Ma sê gereëld: “Nee,
nee, dis nie hoe ons dit hier doen nie! Luister mooi, ek gaan dit nie nog ‘n
keer toelaat nie!

Ja, dan meng hulle in, in jou
lewe. Hulle kom dan baie naby aan jou. Maar hoe dankbaar mag jy wees dat hulle
so maak! Want so berei julle voor vir ‘n mooi lewe wat die HERE en ook ander
mense van kan geniet.

Wel, dis hoe die digter van Psalm
119 sy Hemelvader ook ervaar het. Ook in God se gebooie en voorskrifte het Hy
die HERE naby gevoel. Hy sê dit ook iewers in psalm, vs 151: “U, o HERE, is naby. Maar dan ervaar Hy sy God nie op ‘n onaangename bemoeisugtig
manier steeds om hom nie. Nee, hy sê in een asem: “En al u gebooie is waarheid”. U gebooie hou my met albei voete op
die grond en hou my weg by ‘n skynwêreld wat wonderlik lyk maar my ondergang
word.

Hy voel Vader se sorgsame hande
in daardie voorskrifte, die hande wat hom nie net in die moederskoot gevorm het
nie maar hom ook in hierdie lewe begelei en lei.

 

                                                     xxxxxxxxxx

 

Daar is baie kinders -ek is
seker: ook hier in die kerk vanaand- wat dankbaar terugkyk op die opvoeding van
hulle ouers. Ook as Pa en Ma ‘n huweliksherdenking vier en nog ‘n slag
kenmerkende huisreëls van vroeër vertel.

As God se kinders kyk ons nie
terug nie. Maar boontoe. Want ons Pa en Ma hier op aarde word ouer en ons word
self ouer. Daar kom ‘n dag wat jy jou vader en moeder verlaat en met ‘n
huweliksmaat jou eie gesin begin. En, as die HERE dit gee, self kinders moet grootmaak
en dit gebeur ook wel dat jy dan as kind soms jou ouers moet teregwys en
korrigeer.

Maar so gaan dit nie met ons as
God se kinders nie. Daar kom nooit ‘n dag wat ons op ons eie bene kan staan
nie; dat ons na die gebooie van die HERE nie meer hoef te luister nie. Die
digter van Psalm 119 kan wel sing (kyk vs 99) dat die HERE se gebooie hom wyser,
verstandiger gemaak het as al sy leermeesters. Maar wyser as sy hemelse Leermeester
sal hy nooit word nie. Teenoor sy Hemelvader bly hy altyd ‘n kind wat sal moet
vra: “Maak my verstandig, HERE, dat ek u
gebooie kan leer...

Dit is ‘n gebed wat van nature
nie meer by ons pas nie. Ons meen al gou dat ons die wysheid in pag het. Ons is
verstandig genoeg om ons eie keuses te maak. Ook kerkmense sê soms, as hulle op
hul gedrag of hul kerkbywoning aangespreek word: “Ek maak my eie keuses. Ek het
hiervoor gekies en is nie van plan om dit te verander nie”. Nou sal ons elkeen inderdaad
ons eie keuses moet maak, maar vra ons ons wel altyd af of dit ‘n verstándige
keuse was? En of ons wel verstandig genoeg is om sélf te bepaal wat reg of
verkeerd is, wat goed vir ons is en wat nie?

Die digter van Psalm 119 het
geweet hoe onverstandig hy van nature is sins Adam se sondeval. Toe het die
mens gemeen hy kan net soos God word en self besluit oor wat reg en verkeerd
is.
Ons kan ons eie reëls maak. Maar
daardie einste oomblik het die mens dom en kortsigtig geraak. Hy het sy rug
gedraai op sy Maker en Vader en verdwaal in God se wêreld.

Kyk bietjie saam met my aan die
einde van hierdie psalm, broeders en susters. Die laaste letter van die
Hebreeuse alfabet. Weereens vra die Psalmis, in vs 169, of die HERE hom
verstandig wil maak. En dan kom in die allerlaaste vers die belydenis: “Ek het gedwaal soos ‘n verlore skaap”.
‘n Groot en volwasse mens, verstandiger as al sy leermeesters, voel homself
teenoor sy God dom en skuldig.

Besef ons nog hoe dikwels ons,
ook as deur Christus verloste mense, soos verlore skape dwaal? In ons
hoogmoedige eie wysheid en kortsigtigheid?

Voel u nog dat ons as God se
kinders ons nog maar alte dikwels as kleuters gedra? Of as tieners wat nog baie
moet leer? 

 

                                                     xxxxxxxxxxx

 

Maar besef ons dan ook hoe groot
die wonder is dat die HERE sulke dwalende skape nie vir ewig verlore wou laat
gaan nie?; maar die Goeie Herder uit die hemel gestuur het om hulle te roep en
te red? Besef ons nog hoe groot die wonder is dat ons Hemelvader daardie eiewyse
kinders van Hom kom terugsoek het deur sy enigste Seun?

Ja, ons hoef nie self ‘n pad na
God terugsoek en oopkap nie. Dit het Christus gedoen. Uit genade. Ons word nie
eers in God se huis weer toegelaat as ons aan al sy gebooie gehoorsaam is nie.
Christus het daardie gehoorsaamheid volbring. Hy het die deur van Vader se huis
weer vir ons oopgemaak.

Maar noudat ons mog terugkom in
Vader se huis, kom tog ook Vader se huisreëls terug in ons lewe?

Christus het ons by die Vader
terug gebring om weer, net soos Hyself, Vader se kind te wees. En Hy is deur sy
Heilige Gees nou besig om ons aan Homself gelyk te maak. (Onthou u nog my preek
daaroor, van twee weke terug? Sondag 32 HK.)

Dit is sy lus en sy lewe om in
alle opsigte die wil van sy Vader te doen. Vader se woord is sy wet. En so moet
ons ook weer word. Ons moet ons hoogmoed en eiewysheid afleer en weer word soos
‘n leergierige kind. ‘n Gehoorsame kind. Soos Adam en sy vrou voor die sondeval
was.

 

                                                         xxxxxxxxxx

 

Dis waarom gemeente,  die Kategismus,  opnuut ons weer  geleer het hoe Christus ons by die Vader teruggebring
het, Vader se huisreëls nog ‘n slag aandagtig met ons deur gegaan het.

‘n Vermoeiende besigheid?
Outestamenties? ‘n Terugval in wettisisme?  

Nee wat! Om ons weer al hoe meer
kind van God te maak. Om ons te leer hoe ons ons Hemelvader en ons oudste Broer
vir ons verlossing dankbaar sal wees! Om God se wet al hoe meer te leer ervaar
as die ABC van ons lewe.

Om die lied op God se goeie
gebooie met die digter van Psalm 119 te leer saamsing. En om agter te kom dat
‘n mens, as jy hierdie lied eenkeer leer sing het, in hierdie lewe nooit meer
klaar gesing is nie. Al het ons A en B en C gesê sal ons in hierdie lewe nooit
by die Z uitkom nie.

En ook wanneer Christus na
hierdie aarde sal terugkom sal hierdie lied ons lus en ons lewe wees. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)