Die rede waarom Christus gesterf het en begrawe is

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-06-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 16 Vraag en antwoord: 40-43
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 5 Junie 2016 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 29:2,5

Gebed

Skriflesing:
Johannes 19

Ps 30:5,6

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 16 v/a 40-43

Preek

Sb
10:1,2,3,5,6

Gebed

Apostoliese
Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 16:4,5

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 16
vraag en antwoor: 40-43

Wie van
julle het ‘n diamant vandag hier in die kerk?

Dalk die
getroude dames onder ons, het ‘n diamant in hulle ring?

‘n Diamant
skitter, vanaf welke kant mens ook al daarna kyk.

Dit het
verskillende kante, en die ligval weerkaats elke keer op ‘n ander manier.

Dit maak ‘n
diamant so besonder.

Nou wil ek
u net daaraan herinner, gemeente, dat elkeen van u, ons almal ‘n diamant het.

Want die
Evangelie is ‘n diamant.

Nog veel
kosbaarder as ‘n diamant.

En die
Evangelie het ook verskillende fasette.

Dit skitter
vanuit verskillende oogpunte.

En ook die
aspek wat vandag aan die orde is, skitter.

Al lyk dit
na ‘n donker kant van die Evangelie, tog skyn daaruit ook ‘n diepe gloed.

Hoekom moes
Christus eintlik gesterf het?

Ons is
gewoond aan die realiteit dat elke mens ‘n keer moet sterf.

Maar hoekom
moes Christus sterf?

Hy was mos
nie ‘n gewone mens nie?

In die
Koran staan dat Christus nie gesterf het nie.

Volgens die
Koran kan ‘n profeet van God nie sterf nie.

Mohammed
het ook nie gesterf nie.

Volgens die
Koran is dit wat ons vanaand uit die Nuwe Testament gelees het, nie die
waarheid nie.

Christus
het nie aan ‘n kruis gehang nie.

Dit was
iemand wat baie op Jesus gelyk het, wat aan daardie kruis gehang het.

Dit was ‘n
misverstand dat Christus sou gesterf het.

Dit is die
verklaring wat die Koran bied.

Die
Kategismus volg egter die Bybel.

Waarin ons
tot vier keer toe die betroubare historiese veslag vind dat Jesus wel gesterf
het, en dat Hy wel begrawe is.

Ek
verkondig u die evangelie, die goeie nuus, en spesifiek vandag hierdie kant van
die Evangelie, wat ons vind in die feit dat Christus wel gesterf het en begrawe
is.

Tema: Die rede waarom Christus gesterf het
en begrawe is

1 Besien vanuit die oogpunt van mense

2 Besien vanuit die oogpunt van God

1 Besien vanuit die oogpunt van mense

Die laaste
week van Christus se lewe op aarde was baie dramaties.

Op ‘n
abrupte wyse het Hy aan die einde van sy lewe gekom.

Ongeveer
drie jaar lank het Hy in die land Palestina, in Judea en Galilea, sy arbeid
verrig.

Soos ‘n
rabbi uit daardie dae, het Hy deur die land getrek en onderrig gegee an die
mense uit die Woord van God.

Hy was geen
onbekende in die land nie, en Hy was ook, eerlik gesê, omstrede.

Sommiges
het Hom as God vereer, gesien die wonders wat Hy verrig het.

Ander wou
so gou as moontlik van Hom ontslae raak.

Dit omdat
Hy nie teruggedeins het om mense die waarheid te sê nie.

Hy was nie
‘n oproermaker nie, Hy was gehoorsaam aan die owerhede.

Maar as
prediker en profeet het Hy die leiers van die volk wel die waarheid voorgehou.

Dit is Hom
nie in dank afgeneem nie.

Kortom, dit
het uiteindelik daartoe gelei dat hulle Hom nie meer kon uitstaan nie.

In die
Evangelies word daar meerdere male verwys na komplotte wat gesmee is om Jesus
om die lewe te bring.

Maar
telkens het Hy op wonderbaarlike wyse daaraan ontsnap.

Tot hierdie
laaste week van sy lewe, toe sy teenstanders uiteindelik hulle sin gekry het.

Altans,
daardie indruk word gewek.

Want hoe
het dit gebeur? Hoe het dit sover gekom dat Jesus gedood is?

Ons het
hierdie geskiedenis gelees uit die Johannesevangelie.

As mens dit
so lees, kom die vraag in jou op:

Hoekom het
die Joodse leiers Jesus nie self doodgemaak nie?

Hoekom het
hulle Hom na Pilatus toe gevat.

As mens dit
wil begryp, moet mens bietjie meer weet oor die Joodse reg in daardie dae. Ons
weet dat Jesus gekruisig is tydens die Paasfees.

Die
Paasfees was ‘n Outestamentiese fees wat elke jaar ‘n week lank geduur het, van
die 14e tot die 21e Nisan.

Nisan is
die naam van die maand, ons sou vandag sê die maand April.

Dit was
tydens hierdie feesweek dat Jesus gesterf het.

Volgens die
tradisie het dit op Vrydag gebeur, Goeie Vrydag soos ons dit deesdae noem.

Al is daar
goeie aanduidings dat Jesus eintlik op Donderdag gekruisig is.

Dan maak sy
opmerking dat Hy drie dae en nagte in die graf sou wees, ook meer sin.

Maar nou
die vraag: as die Joodse leiers Jesus so graag om die lewe wou bring, hoekom
het hulle Hom aan Pilatus, die Romeinse regeerder, oorgelewer?

Die Romeine
het in daardie tyd die Jode oorheers.

Hoekom het
hulle nie self vir Jesus gedood nie?

Gemeente, dit
het te make met die Joodse reg.

Hulle wou
Jesus so gou as moontlik ombring, by voorkeur voordat die groot fees sou begin.

Eerdere
pogings om Hom om te bring het misluk.

Tydens die
Paasfees was daar altyd geweldig baie mense in Jerusalem.

Baie van
hulle het gehoop dat Christus ook daar sou wees.

Hulle het
Hom mos enkele dae gelede met groot gejuig in Jerusalem ingebring.

Baie mense
het gehoop dat Jesus op die fees iets besonders sou doen.

Daar was ‘n
gespanne verwagting.

Juis daarom
het die leiers van volk uit alle mag probeer om van Hom ontslae te raak,
voordat die fees sou begin.

Maar, hulle
het dit nie reggekry nie.

Die feesdae
is as sabbatdae beskou.

En die
Joodse reg het verbied dat daar op ‘n sabbat regspraak mog plaasvind.

Ook het die
Joodse reg verbied dat iemand op ‘n sabbat of feesdag tereggestel mog word.

Ook mog,
volgens die Joodse reg, iemand nie op dieselfde dag as waarop hy veroordeel is,
tereggestel word nie.

Daar moes
altyd ‘n nag tussen wees.

Al met al,
volgens die Joodse reg kon die leiers van die volk nie meer van Jesus voor die
fees ontslae raak nie.

Hulle kon
Hom nog wel veroordeel, maar die eksekusie moes dan wag tot na die fees.

Maar ook
dit was teen die Joodse reg.

Daar mog
naamlik nie meer as een nag tussen die veroordeling en die teregstelling wees
nie.

Dus was
daar volgens hulle eie reg net een moontlikheid:

Om te wag
tot na afloop van die fees, sowel met die veroordeling as met die
teregstelling.

Voor
hierdie dilemma het die Joodse leiers gestaan.

En dit
terwyl hulle goed besef het dat derduisende mense na Hom uitgekyk het tydens
die fees, in afwagting dat Hy iets groots sou doen.

Dus,
ondanks alle pogings om Christus reeds eerder gevange te neem en uit te skakel,
het hulle Hom eers na die Paasmaaltyd met sy dissipels in die hande gekry. Vir
hulle regstelsel was dit te laat.

En dit was
oor hierdie rede dat die Sanhedrin, die hoogste raad van die Jode, toe besluit
het om ‘n uiters sluwe plan uit te voer.

Nadat
hulle, voor hulle eie regbank, Jesus se skuld vasgestel het, maar Hom dus self
nie meer kon teregstel vanweë die fees wat ophande was nie, het hulle Hom aan
die Romeinse stadhouer oorgedra. Hoekom?

Omdat hy,
Pontius Pilatus, immers as synde Romein nie aan die Joodse wette gebonde was
nie.

Hy sou
Jesus dus volgens die  Romeinse reg kon
veroordeel en ook direk laat teregstel.

Alhoewel,
die presiese aanklag was nog ‘n probleem.

Jesus is
naamlik voor die Sanhedrin volgens die Joodse reg gevonnis.

Hy is
gevonnis omdat Hy Homself God se Seun, d.w.s. ook God, genoem het.

Toe die
Sanhedrin aan Hom die vraag voorgelê het: is u die Seun van God, het Jesus
positief daarop geantwoord.

Hulle het
Hom dus gevonnis op grond van Godslastering.

En volgens
Joodse reg was die straf vir Godslastering die dood deur steniging.

Maar,
hierdie doodstraf kon hulle nie meer uitvoer, omdat die fees die volgende dag
sou begin – en daardie dag soos ‘n sabbat was.

By Pilatus
kon die Sanhedrin egter nie aankom met ‘n beskuldiging van Godslastering nie,
want daarin was die Romeine nie geïnteresseerd nie.

Dit was die
Joodse reg.

Dus het die
Joodse leiers by Pilatus gekom met ‘n ander aanklag.

Dit staan
in Lukas 23:2:

“Ons het gevind dat hierdie man die
volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy sê dat
Hy self Christus, die Koning, is.” 

Hoekom het
hulle juis hierdie aanklag geformuleer?

Omdat dit
iets was wat volgens die Romeinse reg verbode was.

Dat iemand homself
as Koning uitroep.

Dit het
opstand teen die keiser in Rome beteken, iets waarvoor volgens Romeinse reg die
doodstraf gestaan het.

 

Na die
verhoor van Jesus het Pilatus egter tot die gevolgtrekking gekom dat Jesus
onskuldig was.

En ondanks
alle dreigemente en geskreeu van die Jode het Pilatus by sy oordeel gebly. Sien
Lukas 23:22:

“En vir die derde keer sê hy vir hulle:
Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien
nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat.” Uit die Johannesevangelie het ons gelees
hoe dit verder gegaan het.

Die Joodse leiers het nog verder gegaan
met hulle sluwe manipulering.

Hulle het die doodstraf op Jesus
afgedwing deur Pilatus in ’n hoek te dryf.

“As u Hom loslaat, is u nie die keiser
se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die
keiser.” – Johannes 19:12.

Hierdie opmerking het Pilatus laat
skrik, en uit vrees het Hy daarom toestemming gegee om Jesus te laat kruisig.

Hierdie was, gemeente, ’n baie gemene
spel van die Joodse leiers.

Judea was naamlik ’n provinsie binne
die Romeinse Ryk waar daar dikwels opstande was. En as dit die keiser in Rome
ter ore sou kom dat Pilatus ’n potensiële opstandeling, iemand wat homself tot
koning uitgeroep het, weer vrygelaat het, sou dit vir Pilatus en vir sy
loopbaan ernstige gevolge kon hê. So is hy dus deur die Jode in ’n hoek gedryf,
en moes Hy uit lyfbehoud hulle hulle sin gee. En so het dit inderdaad gelyk:
die Jode het hulle sin gekry. Jesus is nog voor die Vrydagaand, of soos ek
hierbo genoem het, heel moontlik voor die Donderdagaand, tereggestel.

Die Jode hoef dit ook self nie te
gedoen het nie, wat hulle in botsing met hulle eie reg sou gebring het, maar
die Romeinse soldate het Hom aan ’n kruis opgehang. Dit is dus soos dit gebeur
het.

Die dramatiese laaste dae van Christus
se lewe.

So het Hy aan die einde van sy lewe
gekom.

Altans, as mens dit vanuit die oogpunt
van mense beskou.

Maar nou gaan ons na die 2e
punt.

(Tema: Die
rede waarom Christus gesterf het en begrawe is

1 Besien
vanuit die oogpunt van mense)

2 Besien vanuit die oogpunt van God

Mens kan na ’n gebeurtenis uit
verskillende oogpunte kyk.

As mens ’n speurverhaal lees, en ’n
moord moet ontrafel word, werk dit meestal so. Die speurder moet agterkom wie
die moord begaan het.

Dit kan soms baie lastig wees om uit te
vind.

As jy die gebeure vanuit een oogpunt
bekyk, lyk dit of een persoon die skuldige was.

Maar vanuit ’n ander oogpunt lyk ’n
ander persoon dalk skuldig.

In hierdie tweede punt gaan ons die
sterwe van Jesus Christus uit God se oogpunt bekyk.

As mens dit doen, blyk dat daar veel en
veel meer aan die hand was as wat mens op eerste gesig sou verwag het.

As mens vanuit God se oogpunt kyk, is
daar ’n asemrowende plan wat sigbaar word, waarop niemand sig gehad het nie,
daardie dae toe die moord daadwerklik plaasgevind het.

Die Evangelie is soos ’n diamant.

En in die tweede punt gaan ons sien hoe
ook hierdie donker kant van die gebeure, tog ’n glans vertoon. ’n Baie diep en
kosbare glans.

Maar kom ons begin by die begin. So te
sien het die Jode in hulle opset geslaag. Hulle het die saak op ’n slinkse wyse
in hulle voordeel beslis.

En self sou hulle gedink het: nou is
ons uiteindelik van hierdie man ontslae.

Maar, toe blyk dat dit maar net vir
enkele dae was.

En daarom bekyk ons nou dieselfde
gebeurtenis vanuit God se oogpunt.

Ons kyk hoe God sy plan uitgevoer het.

Dit is naamlik baie opvallend dat Jesus
self al vooraf aangekondig het, dat dit so sou gebeur.

Skynbaar het hierdie gang van sake Hom
nie oorrompel nie.

Luister net na wat Hy ruim ’n week
gelede vir sy dissipels gesê het:

Ons gaan op na Jerusalem en die Seun
van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en Skrifgeleerdes en
hulle sal Hom doodmaak.

En hulle sal Hom oorlewer aan die
heidene om Hom te bespot en te gesel en te kruisig, maar op die derde dag sal
Hy opgewek word.

Dus, sonder om te weet, het die Jode,
en Pilatus, meegewerk aan die uitvoering van God se plan.

God se plan het naamlik ingehou dat
Jesus nie net onopvallend om die lewe gebring sou word nie – sê maar ’n
sluipmoordaanslag.

Daarom het al die pogings om Hom eerder
uit te skakel misluk.

God wou dat Hy veroordeel sou word deur
’n bevoegde regter.

Pilatus was so ’n bevoegde regter.

Hy was deel van die owerheid deur God
self aangestel.

God wou ook dat die bevoegde regter
duidelik sou uitspreek dat Jesus onskuldig was. En dit het ook gebeur.

Tot vyf keer toe het Pilatus
gekommunikeer dat Hy geen skuld in hierdie man kon vind nie.

Jesus was volledig gehoorsaam teenoor
die Romeinse regering.

Hy was nie ’n oproermaker nie.

Hy is dus deur Pilatus onskuldig
verklaar, maar tog veroordeel.

Ook met hierdie tragiese gang van sake
het God ’n bedoeling gehad.

As onskuldige man het Hy vrywillig die
skuld van ons op Hom geneem.

Hy is dus gestraf vir ander.

En dan is
daar nog ‘n belangrike aspek in God se asemrowende plan.

Naamlik dat
Jesus juis tydens die Paasfees gekruisig is.

Ook dit was
nie toevallig nie.

Die Joodse
leiers het alles probeer doen om Hom voor die fees om die lewe te bring. Maar
hulle het dit nie reggekry nie.

Tydens die
feesweek het Hy gesterf.

God het die
gang van sake so gestuur dat Hy op die Paasfees gesterf het.

Ook dit was
dus nie toevallig nie. Want hoekom het die Jode die Paasfees gevier? Dit was ‘n
fees van bevryding.

God se volk
het herdenk dat hulle lank gelede bevry is uit die slawerny in Egipte. Meer
nog, dat God sy volk bevry uit die mag van satan, sonde en dood. Daarvoor was
hierdie fees bedoel. Dit is herdenk.

Daarvoor
het hulle ook die paaslam geoffer.

‘n
Simboliese handeling om dit aan te dui.

Veelbetekenend
het Jesus juis op hierdie fees gesterf.

Jesus die
Messias, die Christus, die egte Paaslam wat geoffer is, wat aan die dood
prysgegee is, om die sonde weg te neem.

Heel die
offerdiens van die Ou Testament het op hierdie oomblik in vervulling gegaan.

Hierdie
oomblik, toe Christus aan die kruis gehang het, tydens die fees.

Geliefdes,
God het die laaste woord.

Dit blyk
uit hierdie geskiedenis.

Die Joodse
leiers het uiteindelik maar net God se plan uitgevoer.

God
almagtig, wat alles en almal beheer.

En die
allermooiste is hoe God verder gaan.

Aanvanklik
het die Joodse leiers gedink dat hulle nou uiteindelik ontslae was van hierdie
figuur.

Dat Hy nie
meer in die land van die lewendes was nie.

Dat hulle
ten minste nou hulle fees rustig kon vier.

Maar al gou
het geblyk dat dit nie so was nie.

Want daar
was belangstelling vir Jesus se liggaam.

By Pilatus
is toestemming gevra om sy dooie liggaam van die kruis af te haal en te
begrawe.

Pilatus het
toestemming gegee, aan ‘n sekere Josef van Arimatea.

Op daardie
oomblik het die Joodse leiers toe skielik tot hulle skrik onthou wat Jesus meer
as een keer gesê het dat Hy uit die dood sou opstaan.

Hulle het
geskrik, nie dat hulle dit geglo het nie, of dalk tog?

Maar in elk
geval was daar die risiko dat sy dissipels kon kom en sy lyk steel en dan met
die verhaal vorendag kom dat Hy uit die dood opgestaan het.

Gemeente,
hier uit die mond van die Joodse leiers, onverdagte getuies, hoor u dus dat
Jesus al voor sy sterwe gepraat het oor die feit dat Hy uit die dood sou
opstaan. En dit wou die Sanhedrin dus verhoed.

Hulle het
al genoeg oproer gehad met die opstanding van Lasarus, wat Jesus kort gelede uit
die dood opgewek het.

Duisende
mens het gekom om na hierdie wêreldwonder te kyk, en om met hom te praat.

Soiets wou
die Sanherdin nie weer hê nie.

So ‘n
gebeurtenis soos met Lasarus het hulle gesag ondermyn.

Soos mens
in Johannes 12 kan lees: “En die owerpriesters het besluit om
Lasarus ook om die lewe te bring, omdat baie van die Jode deur hom weggegaan
en in Jesus geglo het.” (Joh 12:10,11) 

Daarom het
hulle nou vinnig ‘n ad hoc besluit geneem: laat ons sorg dat die graf waarin Hy
neergelê is, goed verseël is.

Dit sou
moontlike diefstal voorkom.

Dan kan
mens sien of daar iemand in die graf, in die spelonk, was.

Die
grafsteen is verseël, en die Joodse leiers het Pilatus selfs so ver gekry dat
hy Romeinse soldate gestuur het om die graf te bewaak.

Toe het
hulle seker gedink: nou is ons uiteindelik van hierdie Man af.

Maar bekyk
mens hierdie gebeurtenis vanuit God se oogpunt, dan is ons weer verwonderd oor
sy planne.

Dit was nie
so dat God magteloos staan en kyk het, toe ‘n regverdige mens gedood word nie.

Nog steeds
het dit volgens sy plan gebeur.

Christus
moes sterf, dit was deel van die plan.

Die
Kategismus, wat hierdie gebeure vanuit God se oogpunt beskryf, wys ons op die
bedoeling hiervan.

Op hierdie
wyse is daar vir die sonde betaal.

Hierdie
plan is so opgestel, dat dit voldoen het aan die eise van God se geregtigheid
en waarheid.

Die sonde,
die ellende van die mens, loop onvermydelik op die dood uit.

Die dood is
die straf op die sonde.

Hierdie
straf ondergaan God se Seun nou.

Dit was die
bedoeling.

Maar dan
gaan God se plan verder.

Daarom is
Christus ook begrawe.

Mens sou
jouself kon afvra: as God in die hemel tog geweet het dat Christus weer
lewendig sou word, hoekom was dit nog nodig om Hom te begrawe?

Ook dit was
deel van God se plan.

Omdat God
almagtig rekening hou met mense wat sukkel om te glo.

Wat sukkel
om te glo dat dit alles waar is.

Daarom is
Christus begrawe.

Daarom is
sy dooie liggaam ook behandel met ‘n mengsel van mirre en alewee. Daarom is sy
liggaam ook in linnedoeke toegedraai.

Daarom is
sy graf ook verseël.

Daarom het
daar selfs soldate gekom om voor sy graf wag te hou.

Dit alles
om te onderstreep dat Hy regtig gesterf het.

Dit was nie
net ‘n skyndood nie.

Dit was ook
nie iemand anders wat gesterf het nie, soos die Koran beweer.

Dit alles
wat deel van God se wonderlike plan.

Die woord wonderlik sê eintlik nog nie genoeg nie.

Mens sou
ook die woord ontsagwekkend kan
gebruik.

Dit wil sê:
iets wat ongelooflik indrukwekkend is, wat respek inboesem.

So is die
plan van God. Ons kan dit nie begryp nie.

Op eerste
gesig lyk dit vir ons onaanvaarbaar, oneties, onverteerbaar.

Dat God
meewerk aan die dood van sy eie Seun.

Nie net
meewerk nie, maar selfs die leiding daarin neem.

Op eerste
gesig lyk dit baie baie onverklaarbaar.

Die meeste
van u het al die begrafnis van ‘n geliefde meegemaak.

‘n
Begrafnis is iets wat, behalwe dat dit verdrietig is, ook vernederend is.

In die mees
letterlike sin.

Die liggaam
van ‘n mens word verneder, tot onder die grond.

Nie net sy
liggaam nie, ook al sy glorie, al die vreugde, alles wat mooi was, dit word
alles verneder.

Die dood
spot daarmee.

Vir elke
mens is die dood ‘n vernedering.

Dit was dit
ook vir Christus.

Maar tog
was dit God se plan.

Ontsagwekkend.

Maar
gemeente, God se plan het verder gegaan.

Die
Kategismus leer ons, in navolging van die Evangelies, om na hierdie gebeure
vanuit God se perspektief te kyk.

Vanuit sy
oogpunt het die dood van Christus vir ons veel betekenis.

Met sy dood
word ‘n bepaalde tydperk afgesluit.

Daarmee
bedoel ek nie net die tydperk van die Ou Testament nie.

Die dood
van Christus sorg ook dat ‘n bepaalde tydperk in u eie lewe afgesluit word.

Die
Kategismus noem dit u ou mens.

Dit word
ook gekruisig, gedood, begrawe.

Die tema
van hierdie preek is:

Die rede
waarom Christus gesterf het en begrawe is.

Die rede is
nou duidelik.

Dit was
naamlik onderdeel van God se plan.

Maar laat
ons verder deurvra.

Hoekom was
dit onderdeel van sy plan?

En dit is
die eintlike rede: om daardeur van u ‘n nuwe mens te maak.

Om in u
plek die dood as straf op die sonde te dra.

Dit is die
rede.

En sodat,
die dag as u te sterwe kom, dat u met hoop kan sterwe.

Dat u
sterwe ‘n deurgang gaan wees na die ewige lewe.

Dat u mag
sterwe met die vaste oortuiging dat daar vir u ‘n lewe wag, ook al het u
gesterwe, en ook al word u liggaam begrawe.

Net soos
wat met Christus gebeur het.

Soos ek aan
die begin genoem het: mens kan na elke gebeurtenis vanuit verskillende oogpunte
kyk.

Dit het ons
ook gesien wat betref die geskiedenis van Christus se sterwe.

Maar weet
u, dit geld ook vir u lewe.

Ook u lewe
kan uit meerdere oogpunte beskou word.

Hiermee wil
ek afsluit.

Probeer om
na u eie lewe te kyk vanuit God se oogpunt.

Dat jy nie
self in beheer van jou lewe is nie, maar God.

En verder
nog, en dit is nie ‘n angstige gedagte nie, inteendeel.

Dat dit jou
rus gee, dat dit sin maak, en jou gelukkig maak, en jou hoop gee vir die
toekoms, juis die feit dat God jou lewe beheer.

Christus
het tydens sy lewe op aarde enduit daardie perspektief vasgehou.

Die Vader
in die hemel lei sy lewe, ook deur die dal van doodskaduwee, en dus sal alles
goedkom.Dit is die enige korrekte lewensuitkyk, God se oogpunt.

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)