Die waarde van Christus se opstanding

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-06-19
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 17
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 19 Junie 2016 AD, 17:30
(Nagmaal)

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 75:1-3

Gebed

Nagmaalsformulier
(p.23)

Gebed
(afgesluit met sing van Onse Vader)

Aan tafel:
Skriflesing: 1 Korinthiërs 15:1-22 & 54-58; Romeine 12:1-8; sing: Ps 116:2,3

Lofverheffing

Dankgebed

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 17

Preek

Ps 48:1,5

Geloofsbelydenis:
Nicea

Ps 30:2

Gebed

Kollekte

Ps 75:4,5,6

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 17

Dit is
onmoontlik om oor die kerk te praat, sonder om die naam van Jesus Christus ter
sprake te bring.

Dit is ook
onmoontlik om oor sending en kerkplanting te praat, sonder om Jesus Christus se
naam te noem. Jesus Christus is die fondament, die hoeksteen, van die kerk. Dit
is Christus wat deur sy Woord en Gees mense bymekaar bring in ‘n kerk.

Allerlei
soorte mense, tale, kulture, rasse, wat desondanks ‘n eenheid begin vorm.

In die
Apostoliese Geloofsbelydenis bely ons die opstanding van Christus.

Christus
staan daarom sentraal vanaand. In die viering van die nagmaal.

En ook as
ons nou in die prediking aandag gaan skenk aan sy opstanding uit die dood.

Tema: Die waarde van Christus se opstanding

1 Vir elkeen persoonlik

2 Vir die kerk

1 Vir elkeen persoonlik

Christus is
die hoeksteen van die kerk.

Christus se
opstanding is, soos Paulus in 1 Korinthiërs 15 beskryf, die raison d’être, die rede hoekom die kerk
bestaan.

Deur die
eeue was daar al verskeie godsdienstige bewegings, wat opgehou het om te
bestaan.

Die raad van
Gamaliël aan die Sanhedrin, wat gewonder het wat hulle met Jesus se dissipels
moes aanvang, Gamaliël se raad was eenvoudig: los hulle, en wag af. Gee dit die
tyd.

As hierdie
beweging uit ‘n mens is, loop dit vanself dood.

Maar as dit
uit God is, is ons nie in staat om dit te keer nie.

In dieselfde
gees skryf Paulus in 1 Korinthiërs 15:

Sê nou maar
Christus was nie opgewek uit die dood nie, sê nou maar dit was alles net ‘n
mooi verhaaltjie en het nooit regtig gebeur nie – dan, sê Paulus, is ons die
beklaenswaardigste van alle mense.

Dan sal ons
net soos die ongelowiges sterf en nooit opgewek word nie.

Dan is ons
nog in ons sondes, dan kan hulle nie vergewe word nie.

Dan glo ons
tevergeefs. Dan gaan ons tevergeefs kerk toe.

Dan gee ons
tevergeefs baie geld aan die kerk.

Maar nee,
gelukkig, Christus is opgewek uit die
dood.

Hy was die
eerste mens, wat die onverganklike lewe ontvang het.

En ons sal
Hom volg. Paulus skryf in vers 22:

“Want soos
hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak
word”. Dit is die waarde van die
opstanding van Christus.

Sondag 17
noem drie dinge hoekom sy opstanding van waarde is

In die
eerste plek kry die dood die genadeslag toegedien.

Deur
Christus se plaasvervangende lyde en sterwe het Hy vir jou sondes betaal. Ons
mag deel in die geregtigheid.

Die straf op
die sonde – die ewige dood – geld nie meer vir hulle wat aan Christus behoort
nie.

In die
tweede plek is die waarde dat ons deur sy krag nou al opgewek word tot ‘n nuwe
lewe. Dit het te make met wat ons gelees het uit Romeine 12:

Vers 2:
“word verander deur die vernuwing van julle gemoed”

Dit beteken:
vernuwing van jou denke. ‘n Totale denkskuif.

Dit wat
Christus gedoen het, sy lyde, sterwe en opstanding, het die loop van die
wêreldgeskiedenis verander.

Dit gee ‘n
totaal nuwe wêreldbeeld, wêreldbeskouing.

So word ons
deur die krag van Christus se opstanding nou al opgewek tot ‘n nuwe lewe. Jy
kan in jou gedagtes die toekoms al begin inkleur.

Ek hoef – as
dit sover is – nie in wanhoop te sterf nie.

Maar ek kan
sterf met die besef dat ek deur die poort van die dood die onverganklike lewe
by Christus tegemoet gaan.

Ook nou al
kan ek anders lewe. Ek kan gerus wees, sonder angs.

Elke ding
wat ek vandag aanpak, kan ek al vanuit daardie perspektief doen.

Mens kan dit
vergelyk met ‘n jongman en meisie wat besluit het om te trou.

Dit kan dalk
nog ‘n jaar of langer duur, maar hulle doen nou al alles met die oog daarop. Dit
wat hulle koop, en dit wat hulle besluit om nie te koop nie, is al gerig op die
toekoms, as hulle saam in dieselfde huis gaan intrek.

Alles stem
hulle af op daardie toekomsplanne, sodat hulle byvoorbeeld nie altwee ‘n yskas
koop nie. Dit sou onnodig wees...

Hulle gaan
mos binnekort in dieselfde huis woon.

En so
bestaan jou nuwe lewe in Christus daaruit dat alles wat jy vandag doen, elke
uitdaging wat jy aanpak, of alles wat jy nalaat om te doen, alles wat jy koop,
of verkoop, alles doen jy vanuit die besef dat jy later saam met Christus vir
ewig sal lewe.

En eintlik
het ons nou ook al aan die derde aspek geraak, wat die waarde van Christus te
opstanding is, volgens Sondag 17.

Daar staan:
die opstanding van Christus is vir ons ‘n onderpand, oftewel ‘n betroubare
waarborg, van ons opstanding in heerlikheid.

‘n Onderpand
is soos ‘n ring. ‘n Ring is die bewys dat jy met iemand getroud is. Jou
lewensmaat het ook ‘n ring. Die ringe bind twee mense aan mekaar.

Dit is die
bewys dat hulle by mekaar hoort. So is Christus se opstanding soos ‘n ring. Dit
is die bewys dat ons net soos Christus ook uit die dood sal opstaan, omdat ons
by Hom hoort.

Christus se
opstanding is ‘n feit, dit het al gebeur.

Elkeen kan
dit nagaan in die Bybel.

Daardie
historiese gebeurtenis vorm die betroubare waarborg dat jy ook eendag sal
opstaan, as jy by Christus behoort.

Dit is dus,
gemeente, die drievoudige waarde van sy opstanding vir ons.

Vir elkeen
persoonlik. Kortliks net weer:

Een: vir ons
wag nie meer die dood as straf op die sonde nie, maar net ‘n deurgang tot die
ewige lewe.

Twee: sy
opstanding sorg dat ons in hierdie lewe al ‘n denkskuif maak, dat ons in
hierdie lewe al met ‘n nuwe lewe begin.

En drie: sy
opstanding is onderpand, betroubare waarborg, dat ons liggame ook in
heerlikheid sal opstaan.

Dit is,
gemeente, die waarde van Christus se opstanding vir elkeen persoonlik, elkeen
wat aan Hom behoort.

(Tema: Die
waarde van Christus se opstanding

1 Vir elkeen
persoonlik)

2 Vir die kerk

Ons het tot
dusver aandag geskenk aan die waarde van die opstanding vir elkeen persoonlik. Elkeen
wat in Christus glo. Maar dit geld ook vir die kerk as geheel. Vir kerk-wees.

Christus het
op aarde nie net ‘n los aantal volgelinge nie.

Maar deur sy
Gees en Woord bring Hy hulle saam, sodat hulle een volk begin vorm, al praat
hulle verskillende tale, kom hulle uit verskillende kulture. Ja hulle vorm
selfs saam een liggaam.

Uit 1
Korinthiërs 15 kan ons leer dat Christus se opstanding die ‘raison d’être’ van
die kerk is, die rede van sy bestaan.

Sonder
opstanding, geen kerk.

Wel
opstanding, ook ‘n kerk, ja ‘n bloeiende gemeenskap deur alle eeue heen.

Uit Romeine
12 kan ons leer dat die vernuwing van ons denke nie net ‘n individuele saak is
nie, maar ook kollektief.

In vers 5
skryf Paulus: “so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen
afsonderlik lede van mekaar.”

Soveel
lidmate as wat daar is, soveel persoonlikhede is daar.

Niemand is
dieselfde nie. Dit beteken ook dat elkeen sy eie gawes en talente het. Deur die
vernuwing van ons denke leer ons om die talente nie net aan te wend vir onsself
en eie gewin nie, maar juis vir die gemeenskap, vir die liggaam van Christus,
die kerk.

Hierdie
talente gebruik ons nie net om onsself te ontplooi, desnoods ten koste van die
ander, nie.

Ons gebruik
ons gawes en talente om die kerk van Christus te ontplooi.

Ten dienste
van die ander. Paulus skryf:

“ons besit
genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is:

is dit
profesie, na die maat van die geloof;

of
bediening, in die werk van bediening;

of wie leer,
in die lering;

of wie
vermaan, in die vermaning;

wie uitdeel,
in opregtheid;

wie ‘n
voorganger is, met ywer;

wie
barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.” (Rom 12:6-8)

Hierdie
vernuwing van jou denke het dus ‘n direkte invloed op hoe jy jou talente
gebruik.

En dit is,
heel konkreet, die waarde van Christus se opstanding vir die kerk.

In die kerk
kom mense saam, deur die Heilige Gees, mense wat welwillend is en steeds meer
gemotiveerd is om mekaar van diens te wees, elkeen met sy eie talent.

Dit doen ons
nou reeds, in ‘n gebroke wêreld, waar mense net vir hulleself leef. Ons doen
dit met die oog op die toekoms: God se volmaakte koninkryk.

Die kerk is
op aarde die allereerste begin van God se volmaakte koninkryk.

Hier, te
midde van ‘n gebroke en egoïstiese wêreld, kry die vreugde en blydskap, die
norme en waardes, wat tuis hoort op die nuwe aarde, alreeds hande en voete. Gemeente,
laat ons dit terdeë besef.

Dit is die
funksie van die kerk, die karakter van die kerk.

Laat ons
daarop fokus om kerk te wees soos Christus dit bedoel het.

Graag deel
jy jou talente en gawes met die kerk.

Jy skeep dit
nie af nie, maar gee jou beste.

 

In die kerk
het Christus die ampte ingestel.

Die
ampsdraers het die taak om toe te sien dat die kerk funksioneer soos Christus
dit bedoel het. Daarvoor bring hulle huisbesoeke.

Laat die
huisbesoeke ook diensbaar wees aan die nuwe lewe, wat ons danksy Christus se
opstanding ontvang.

Die gevaar
is soms dat ‘n huisbesoek maar net ‘n algemene gesprek is.

Dit gaan oor
die ditjies en datjies in die kerk, oor die orrelis, oor die koster, oor die
dominee, oor die waaiers in die kerk, ensovoorts.

Klagtes word
na vore gebring. Dit waai te veel in die kerk.

Of ons sing
te vinnig, of ons sing te stadig.

Gemeente,
laat ons besef wat huisbesoek is.

Die
opgestane Christus vaardig ampsdraers na u af.

Oppervlakkige
praatjies pas nie. Kerk wees gaan oor dieper dinge.

En
huisbesoek is bedoel om na te vra na u geloofslewe, u toewyding, u
betrokkenheid, die gebruik van u gawes, u groei in die Gees.

Alledaagse
dinge kom hierby natuurlik ook ter sprake, in die lig van Christus se
opstanding.

Dinge soos
gesondheid, werk of werkloosheid, salarisbesteding, manier van vakansie hou,
werk en dagindeling, tydsbesteding, leeskultuur, gebruik van die verskillende
soorte media, kinders se skoolwerk, kinders se beroepskeuse.

Daar is
immers geen duimbreed van ons lewe wat nie onder Christus se heerskappy staan
nie. Elke aspek van ons lewe mag, moet vernuwe word.

Vernuwe
vanuit die besef dat Christus opgestaan het uit die dood.

Jou hele
lewe word met hierdie werklikheid deurdrenk.

In hierdie
proses is die ampsdraers, die ouderlinge en diakans, as gesante van Christus,
diensbaar. Soms lewer dit lastige vrae op.

Direkte vrae
oor onderwerpe wat jy liewer nie wil aanroer nie.

Maar,
gemeente, moenie aan hulle goeie bedoelings twyfel nie.

Dit is hulle
taak om te waak oor u sieleheil.

Hulle het
van Christus die verantwoordelikheid gekry om te sorg dat die kerk ook regtig
kerk is. As ampsdraers u vra om iets te doen, doen dit van harte. Dit is juis
hulle taak om die verskeidenheid van gawes in die gemeente te aktiveer.

Ons is nie
soos passasiers wat net saamry in die bus wat die ampsdraers bestuur nie. Laat
ons toesien op mekaar.

Oplettend
wees, of daar dalk ‘n lidmaat is wat begin wegraak, wat afdwaal van die pad.

Ook is die
tug nie die eksklusiewe taak van die ouderlinge nie.

Nie vir niks
nie praat ons oor onderlinge tug.

Dit is nie
net die dominee wat vanaf die preekstoel moet vermaan nie.

Onderlinge
vermaan word makliker as ons besef waarheen ons oppad is: die skitterende nuwe
lewe wat ons mag ontvang danksy Christus se opstanding. Dit is ‘n baie ryk
erfenis waarheen ons oppad is.

Daar is
beslis kragte wat ons daarvan wil aftrek.

Die
Kategismus verwys na die duiwel, ons ou mens, die sondige wêreld.

Onderlinge
tug beteken dat ons mekaar vashou by hierdie erfenis.

Dat iemand
nie oppad wegraak nie. Onderlinge tug het tweëerlei doel:

Om die
sondaar betyds onder die invloed van die sonde uit te kry, voordat dit hom of
haar heeltemal oormeester.

En tweedens
om die gemeenskap te beskerm teen die invloed van die sonde. Die sondige
gewoonte van een lid kan soos ‘n kankerplek in ‘n gemeente word. Laat ek ‘n
voorbeeld noem.

Daar is ‘n
gemeentelid wat ontrou begin raak in sy kerkgang.

Hy, of sy,
bly in die aand tuis. Hy slaan soms ‘n Sondag oor.

Hy maak ‘n
gewoonte daarvan om elders kerk toe te gaan, waar hy nie lid is nie. Sien u dit
raak gemeente?

Dikwels sien
ons dit nie raak nie, as dit net oor een persoon gaan.

Maar as
hierdie gewoonte ander aansteek, dan kry mens op den duur dat die aanddienste
net half vol is, of net ‘n derde vol, of net ‘n kwart vol.

So word die
genadewerk van Christus skade aangedoen, nie net vir homself, ook vir sy gesin
as hy dit het, ook vir die res van die gemeente.

‘n Sonde wat
nie aangespreek word nie, kan aanhou om sy invloed uit te oefen. Onderlinge tug
se bedoeling is daarenteen om saam gesond te bly.

Ons versterk
mekaar op aanhoudende basis.

“laat ons op
mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;

en laat ons
ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar
laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader
kom.” Hebreërs 10:24-25

Die woordjie
tug het ‘n negatiewe klank.

Maar
oorspronklik kom die woord tug van
die woord trek.

Dit is nog
steeds die bedoeling. Tug is om mekaar in die goeie rigting te trek. Saam te
trek, te ondersteun, in die regte rigting weer in te help.

Ek besef
goed dat onderlinge tug soms makliker gesê as gedaan is.

Dit kan
gebeur dat jy jou uiterste bes doen om iemand nie te kwes nie, maar dat daar
tog ‘n bose reaksie kom.

Dit is nou
maar vir elkeen van ons moeilik om op ons sonde, op ons swakhede, aangespreek
te word.

Miskien
oorkom dit jou wel dat die persoon wat jy in liefde probeer vermaan, jou begin
beskuldig, teen jou begin te laster.

Of miskien ontvang
jy in reaksie ‘n stortvloed aan afbrekende opmerkings oor die gemeente, oor die
kerkraad, oor die dominee, die ampsdraers, dat niks deug nie.

Dis nie
altyd maklik nie. Soms moet jy jou nek uitsteek.

Nog steeds,
laat ons dit doen.

Uit liefde
vir mekaar, uit liefde vir Christus se kerk, uit die verlange om saam te deel
in die ewige vreugde.

Christus se
opstanding gee ons die krag om vol te hou, om die goeie stryd te bly stry. Wie
gedryf word deur die liefde, staan sterker, kan ook meer verdra. Wie weet
hoeveel mense is daar al gered van dwaalweë deur die liefdevolle en volgehoue
belangstelling, oftewel onderlinge tug, van broers en susters nie? Die grootste
wonders in die wêreld gebeur onopvallend.

Miskien kom
die dominee of ouderling niks daarvan agter nie.

Maar die
opgestane Heer sien dit wel, hoe in ongeveinsde liefde die een lid van die
gemeente dit regkry om die ander te behou.

Dit is ‘n
pragtige taak, wat ons almal het. Saam is ons kerk van Christus.

As kerk
ontleen ons ons bestaansreg aan die opstanding van Christus.

Hierdie
heilsfeit aktiveer ons, sowel indiwidueel en as kerkgemeenskap, om mooi dinge
vir mekaar te doen.

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)