Die HERE spreek tot sy volk deur middel van ‘n profeet uit u eie midde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-07-17
Teks: 
Deuteronómium 18 : 15
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 17 Julie 2016 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 25:1

Wet

Ps 19:5,7

Gebed

Skriflesing:
Deuteronomium 5:22-33

Ps 99:1,2

Skriflesing:
Deuteronomium 18:9-22

Ps 99:3

Teks:
Deuteronomium 18:15

Preek

Ps 99:4,5

Gebed

Kollekte

Ps 25:2,4,6

Seën

Preek: Deuteronomium 18:15

Daar is op
die oomblik ‘n aantal vakatures in ons kerkverband.

Dit laat
mens onwillekeurig nadink oor die toekoms.

Dit laat
mens die noodsaak besef om in die hede jongmanne, jong seuns, aan te moedig om
vir predikant te gaan studeer.

Dit is ‘n
saak van roeping, dit is ‘n geloofsaak. Nie net vir daardie seuns nie.

Maar ook vir
hulle ouers. ‘n Ouer sal nie so maklik sy seun aanmoedig om vir predikant te
gaan studeer nie. Is daar dalk ‘n bietjie kleingeloof by betrokke? Om predikant
te wees is nie altyd ‘n maklike beroep nie.

Dit is ook
‘n lang studie. Om predikant te wees is ‘n publieke taak.

Dit is
maklik om oor ‘n predikant te praat, totdat dit jou eie seun is.

Want dit is ‘n
feit: ‘n predikant is ‘n gewone mens net soos ons almal.

En die seuns
wat teologie gaan studeer, is gewone jongmanne, wat uit gewone gesinne kom, net
soos by elkeen van ons die geval is.

Tydens hulle
studie word hulle bekwaam om herder en leraar te word.

Tog word die
basis al gelê met die gelowige opvoeding wat ‘n seun by die huis ontvang. Daarsonder
is teologie studeer soveel moeiliker.

Dit sien ons
veral op die sendingsveld, waar teologiestudente nie altyd in ‘n gelowige huis
opgegroei het nie.

Die
teologiestudie bou, as dit goed is, verder op die basis wat tuis gelê is.

Die studie
is daarop toegespits om die werksaamhede wat by die roeping van ‘n predikant
hoort, te kan uitvoer. Om te kan preekmaak vanuit die grondteks, om die
Evangelie te kan verkondig, om katkisasie te kan gee, om sielsorg te kan bied,
pastorale besoeke, en om die kerkraad te lei.

Al het hy
dan tydens sy studie ‘n klomp kennis en vaardighede opgedoen, dit bly nog
steeds ‘n gewone jongman.

Wat dan ‘n
beroep ontvang van ‘n kerk, en daar predikant word.

En as die
HERE hom seën, ‘n vrou vind wat saam met hom hierdie lewensroeping wil uitvoer.
Saam met hom die eise wat die amp stel, die hoof te bied. Dit bly ‘n gewone
mens, jongman, wat deur God geroep word tot hierdie amp.

Ek verkondig
u die boodskap van die teks vanoggend met hierdie tema:

Tema: Die HERE spreek tot sy volk deur middel
van ‘n profeet uit u eie midde

  1. Hy spreek u aan deur ‘n gewone
    mens

  2. Hy vra u vertroue deur ‘n gewone
    mens

  3. Hy laat u onberispelik voor Hom
    staan deur ‘n gewone mens

  1. Hy spreek u aan deur ‘n gewone
    mens

    Ons is
    gewoond aan die opset van ‘n kerkdiens.

    Ons kom na
    die kerk toe, waar die stoele of banke so neergesit is dat almal na die
    preekstoel kan kyk. Op die preekstoel verskyn aan die begin van die erediens ‘n
    gewone man, met gewone klere aan. Hierdie man praat nie in ‘n onverstaanbare
    taal nie, hy praat gewoon Afrikaans.

    Eintlik is
    ‘n erediens heel gewoon.

    Dit is iets
    wat eintlik in kontras staan met die meeste ander godsdienste of kultusse waar
    mense met God kontak probeer soek.

    Dikwels is
    religieuse leiers gekleed in lang en indrukwekkende gewade, dikwels is dit
    mense wat ver bo die volk staan, mense wat met ingewikkelde en onbegryplike
    rituele kontak met die gode probeer lê.

    Al met al ‘n
    ware skouspel vir die oog.

    Dink maar
    aan die voorbeelde wat ons uit Deuteronomium 18 gelees het.

    Waarsêers,
    goëlaars, towenaars, besweerders, persone wat die dooies raadpleeg. Op verskeie
    manier probeer mense so om met die gode kontak te maak. Selfs het hierdie waarsêers
    soms – het ons in vers 10 gelees – geeïs dat iemand sy seun of dogter moes
    offer, as prys vir die raadpleeg van die gode. Dit was gruwelik, en die HERE
    het dit streng onder sy volk verbied: daar mag niemand by jou gevind word wat
    sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan nie.

    Gruwelik,
    dat jy jou eie seun of dogter so doodmaak op bevel van die towenaar, om so
    kontak met die gode te kan maak, om so sy seën te verseker en sy vloek af te
    weer.

    Hierdie
    gebruik klink dalk ver en vreemd, maar hier in Afrika gebeur dit nog steeds, al
    is dit minder openlik, as daar ‘n tweeling gebore word, dat een doodgemaak
    word, uit angs vir die bose geeste.

    En, om
    eerlik te wees, al die kinders wat deur aborsies sterf is ook maar offers op
    die altaar van die moderne afgode van loopbaan en materialisme. 

     

    In elk
    geval, deur alle eeue het mense geprobeer om kontak te lê met die goddelike,
    met die onsigbare wêreld, met die werklikheid anderkant die dood. Ook vandag
    betaal mense nog baie geld om meer te wete te kom, baie geld aan hulle wat
    aanspraak daarop maak dat hulle heldersiende is, wonderdoeners, gebedsgenesers,
    spirituele terapeute, dink ook aan dinge soos yoga en mantra.

    Mense
    probeer om ‘n houvas te kry in die lewe, met behulp van inligting uit die
    geestelike wêreld. Spiritualiteit is in die mode.

    Hoe
    snaakser, hoe spektakulêrder, hoe okkulter, hoe beter.

    Mense, selfs
    Christene, stort hulle in spirituele avonture, min wetende waar hulle gaan
    opeindig.

    Vergeleke by
    al hierdie dinge is ‘n kerkdiens in die VGK maar heel gewoon, miskien vir die
    gevoel van baie mense eentonig.

    Maar
    gemeente, dit is nie toevallig, of dit is nie net uit tradisionalisme, dat ons
    erediens gewoon is nie.

    Dit is nie
    omdat ons nie iets wat spektakulêr is, aandurf nie.

    Die rede
    hoekom die eredienste gewoon is, lê in iets anders.

    En dan moet
    u vir ‘n oomblik terugdink aan, ek sê dit dalk bietjie oneerbiedig, die
    spektakel wat die volk Israel by die berg Sinaï beleef het.

    Dit was
    asemrowend en angsaanjaend, ‘n skouspel van wolke en wind, bliksem en
    donderweer. Toe God op die berg Sinaï verskyn het en sy volk toegespreek het. En
    dit was toe nie net ‘n skouspel nie, maar dit was werklikheid! Ons het die
    reaksie van die volk gelees.

    Pleks
    daarvan dat hulle ‘n geweldige godsdienstige inspuiting gekry het, ‘n
    wow!-gevoel, deur hierdie spektakel, was hulle doodsbenoud!

    Hulle het op
    die grond geval, en niemand het dit gewaag om op te kyk nie.

    En toe die
    HERE klaar gepraat het, het die volk vir Moses gesoebat:

    Help ons,
    ons wil nie langer die stem van die HERE, ons God, hoor nie.

    En ons wil
    nie langer hierdie groot vuur sien nie, sodat ons nie sterf nie.

    Ieder en elk
    het besef dat God so heilig is, dat jy as sondige mens nie oog in oog met Hom
    kan staan nie. Die gloed van sy heiligheid sal elke mens verteer! Dit is wat
    die Israëliete toe letterlik ervaar het.

    Daarom het
    hulle vir Moses gesmeek.

    En Moses het
    op sy beurt hierdie berig aan die HERE oorgedra.

    Die volk kon
    hierdie manier van kommunikasie nie hanteer nie.

    Die HERE se
    reaksie op hierdie versoek van die volk was, soos ons gelees het, nie negatief
    nie.

    God het
    verstaan dat sy volk dit nie uit ongehoorsaamheid, maar uit angs, gevra het. Dat
    die volk nou goed besef het hoe groot hulle onreinheid was, dat hulle nie so
    voor God kon verskyn nie.

    En daarom
    het die HERE besluit om sy volk op ‘n ander manier toe te spreek. Hierdie was
    eintlik ‘n leerskool vir die volk.

    Hulle het
    bewus geword van hulle eie ellende, en ook van die heiligheid van God. Daarom
    het die HERE besluit om voortaan op ‘n ander manier met sy volk te spreek. En
    hoe, dit lees ons in ons teks:

    “’n Profeet
    uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek;
    na Hom moet julle luister” (vers 15).

    ‘n Profeet
    soos ek is, sê Moses. Let wel, hiermee bedoel Moses nie dat hy baie besonders
    of uniek was nie. Hiermee bedoel hy dat hy maar net ‘n gewone mens was, gebore
    net soos al die ander Israeliete in Egipte, ‘n gewone sondige mens, selfs nie
    eers ‘n welsprekende mens nie, maar een wat gehakkel het.

    Maar tog het
    dit God behaag om Moses in diens te neem as sy profeet.

    En daarom
    moet die volk na hom luister.

    Omdat hy,
    hoewel ‘n gewone man, wel ‘n goddelike mandaat ontvang het.

    Deur hierdie
    profeet wens die enige ware en almagtige God te spreek.

    God wil met
    sy volk so kommunikeer, op ‘n ander manier as die heidense volke, soos die
    Kanaäniete, gewoond was. Deur ‘n profeet, ‘n gewone man uit hulle eie midde. Geen
    towenaar of waarsêer of iemand wat geheimsinnige en bonatuurlike kragte het
    nie.

    Maar ‘n
    profeet net soos Moses, ‘n gewone sterflike man.

    So spreek
    God tot sy volk, deur ‘n profeet. Hy doen dit omdat Hy genadig is.

    Want ‘n
    direkte gesprek met God, van aangesig tot aangesig, sou die sondaar verteer. Selfs
    die profeet kry God nie van aangesig tot aangesig te sien nie. Want hy is self
    ook ‘n sondaar.

    Tog neem God
    hom as mens in diens.

    Dalk het dit
    u opgeval dat in ons teks, as daar na die profeet verwys word met die woordjie
    Hom, daardie woordjie met ‘n hoofletter geskryf word.

    Nou is daar
    nie in die Hebreeuse grondteks hoofletters en kleinletters nie.

    Daardie
    verskil het toe nog nie bestaan nie.

    Tog het die
    vertalers van die ou Afrikaanse Bybelvertaling besluit om Hom hier met ‘n
    hoofletter te skryf.

    Hulle het
    dit gedoen vanuit die besef dat hierdie teks veral in Jesus Christus vervul is.
    Hoewel ons teks dui op alle profete wat God deur alle tye na sy volk gestuur
    het en sal stuur, is ons Here Jesus wel die grootste profeet wat God ooit
    gestuur het en sal stuur. Petrus het daarvan getuig toe hy vir die Israeliete
    gesê het, Handelinge 3:22 en verder:

    “Want Moses
    het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek
    uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat
    Hy met julle sal spreek. En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal
    uit die volk uitgeroei word. En ook al die profete van Samuel af en die wat
    gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig. En julle
    is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vader gesluit het
    toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde
    geseën word. God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle
    gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.”

    Ja Jesus was
    ook ‘n Profeet uit die volk se midde.

    Jesus het sy
    goddelike heerlikheid afgelê, Hy het ‘n mens geword net soos ons. Ondanks alle
    verskil, die feit dat Jesus geen sonde gehad het nie en alle ander profete wel,
    ondanks alle verskil, is hierdie wel dieselfde.

    God laat sy
    woorde deur ‘n gewone mens aan ons deurgee.

    Deur Jesus,
    deur God as Profeet gestuur, leer ons die hemelse Vader en sy wil ken. So het
    Christus tot ons gekom, nie met magsvertoon nie, maar met die Woord. Heel
    gewoon.

    (Die HERE
    spreek tot sy volk deur middel van ‘n profeet uit u eie midde

    1 Hy spreek
    u aan deur ‘n gewone mens)

    2         Hy
    vra u vertroue deur ‘n gewone mens

    Die feit dat
    dit so gewoon is, kan vir sommiges ‘n struikelblok wees.

    Dit het
    reeds met Moses gebeur. Dink aan die optrede van Korag, Datan en Abiram. Hulle
    het hulleself gewip oor die feit dat Moses en Aäron hulle sogenaamd bo die res
    verhef het. Wat verbeel hulle hulle?

    Hoekom sou
    God deur hulle met die volk spreek, en nie deur almal nie?

    Numeri 16:3:
    “Dit is nou genoeg;
    want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle
    midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?” Moses, jy is maar net ‘n gewone
    mens, wat verbeeld jy jou eintlik? Moet ons na jou luister? Moet ons jou
    vertrou, asof dit God se stem is? Ha ha.

    En presies
    dieselfde het die Jode ook met Jesus gedoen.

    Johannes
    6:42: “Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie?
    Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal?”

    Moenie jou
    iets verbeel nie, Jesus, jy is ‘n gewone mens.

    Moenie dink
    ons moet na jou luister, asof God in die hemel met ons praat nie. Wat verbeel
    jy jou?

    Dieselfde
    houding, gemeente, kan ampsdraers vandag ook meemaak.

    So
    Leermeester, so leerling. As hulle dit al met Jesus gedoen het, hoeveel te meer
    nie met ampsdraers vandag nie.

    Eintlik lyk
    dit wel of God ‘n baie kwetsbare metode gebruik, om naamlik gebruik te maak van
    ‘n profeet wat self ook ‘n sondige mens is.

    Dit is ‘n
    realiteit wat ook soms tot misbruik lei.

    Daar was en
    daar is en daar sal altyd ook profete wees, wat oormoedig is en in God se naam
    dinge durf te sê wat God heeltemal nie gespreek het nie.

    Maar oor so
    ‘n profeet sê Moses, Deuteronomium 18:20: “die profeet wat so vermetel is om ‘n
    woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat
    in die naam van ander gode spreek, die profeet moet sterwe.” Dus ja, ‘n
    kwetsbare metode, maar om die erns van die saak aan te dui, ook ‘n baie swaar
    straf vir misbruik. Daar hang ‘n swaard bo elke profeet se kop: laat hy daarop
    ag gee om nie ‘n woord te veel of te min te spreek nie.

    Maar tog,
    ten spyte van die profeet se gebrekkigheid, neem God hom in diens. En God
    waarsku sy volk (vers 19): elkeen wat nie luister na my woorde wat hy in my
    Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.

    God verdra
    dit nie dat sy kinders na towenaars, besweerders, waarsêers, wie of wat ook al
    gaan vir hulle godsdienstige behoeftes nie.

    God kies
    self die weg waarlangs Hy sy volk ontmoet.

    Hy spreek
    hulle toe in hulle eie taal, deur die mond van ‘n gewone man, een uit hulle
    midde. En dan eis Hy ook dat die volk daardie profeet hoogag.

    Uiteraard
    mag die profete nie hulle eie gang gaan nie en dinge sê wat die HERE nie
    gespreek het nie.

    Ons lees in
    vers 22 dat die volk valse profete maklik kan uitken:

    As die
    profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom
    nie uit nie, dan was dit nie die HERE se woord nie.

    So eenvoudig
    is dit.

    En vir die
    res, vir sover ons die toekoms nog nie ken nie, kan ons gewoon afgaan op wat
    die HERE alreeds gespreek het – sy Woord.

    Daaraan moet
    ons die woorde van die profete toets.

    Maar laat
    dit duidelik wees, die feit dat die profeet ‘n gewone man is, een uit u midde,
    dus ook beperk, soms sieklik, ja selfs sondig, dit mag geen rede wees om die
    profeet nie te eer nie. Dit is vandag nog presies dieselfde.

    Laat dit u
    houding bepaal, teenoor ampsdraers, hulle wat u God se Woord bring. Sien God
    agter hulle wat sy Woord verkondig.

    Luister na
    hulle. Bid vir hulle. Dit is God wat u vertroue vra vir dit wat hulle sê. Ja
    deur ‘n gewone mens vra Hy u vertroue.

    (Die HERE spreek
    tot sy volk deur middel van ‘n profeet uit u eie midde

    1 Hy spreek
    u aan deur ‘n gewone mens

  1. Hy vra u vertroue deur ‘n gewone mens)

    3 Hy laat u onberispelik voor Hom staan deur
    ‘n gewone mens

    Onberispelik
    beteken: sonder vlek of rimpel.

    Heeltemal ongeskonde,
    skoon, mooi.

    ‘n Kind wat
    die hele dag buite gespeel het, is vuil.

    Maar as die
    kind gebad het, en mamma met seep alle vuiligheid afgeskrop het, en as die kind
    dan in sy pyjama staan, dan is hy as’t ware onberispelik.

    So wil die
    HERE u ook ter hand neem, om ons onberispelik voor Hom te laat staan. Die
    manier waarop God dit doen is deur die Evangelieprediking.

    En vir die
    Evangelieprediking gebruik God gewone manne.

    Dit is sy
    metode.

    Hulle is
    dienaars van die Woord, en onder hulle gehoor gebeur dit dat mense tot bekering
    kom, dat mense hulle lewenstyl verander, dat mense wedergebore word. Deur die
    bad van die wedergeboorte kom ons onberispelik voor God te staan.

    Deur hierdie
    middel, die Evangelieprediking van sy diensknegte, maak God u ‘n erfgenaam van die
    ewige lewe. Hy wil u onberispelik maak.

    Met die oog
    daarop roep Hy u op om vol vertroue te luister na sy diensknegte, die profete,
    die predikante.

    Uiteraard
    het u altyd die taak om dit wat hy sê te toets aan sy Woord.

    Maar sorg
    dat u die Evangeliebediening nie misloop nie.

    Want langs
    hierdie weg word u erfgeneem van die ewige lewe.

    Nie op ‘n
    ander manier nie. As jy jou geestelike toevlug tot iets anders neem as tot die
    Evangelieprediking elke Sondag weer, dan sal jy nie erfgeneem van die ewige
    lewe word nie.

    Ander
    metodes om jou geestelike, spirituele behoeftes te bevredig, sal jou nie die
    ewige lewe oplewer nie. Dit sal jou net met ‘n leë beursie agterlaat.

    Die ware God
    leer jy maar net op een manier ken.

    Die manier
    waarop Hy Homself openbaar. Dit is deur die diens van gewone mense. Die
    duidelikste voorbeeld hiervan is hoe Hy dit gedoen het deur sy eie Seun, toe Hy
    ook ‘n gewone mens geword het, om God se Woord, sy wil, aan ons op ons menslike
    vlak in ons eie taal bekend te maak.

    Gemeente,
    respekteer hierdie weg van God. Dit hou konkreet in:

    Ten eerste:
    respekteer die dienaar van die Woord wat God aan u geskenk het. Sien in hom ‘n
    instrument waarmee God u ewige redding wil bewerkstellig.

    Ten tweede: maak
    gebruik van die metode wat God wys om gered te word, naamlik die
    Evangelieprediking.

    Of dit u eie
    dominee is, of ‘n ander een, of ‘n ouderling wat in die diens voorgaan, sorg
    dat jy in die kerk is.

    En as jy die
    kerk weer verlaat, vat die boodskap saam en verwerk dit, pas dit toe in jou eie
    lewe.

    Want so is
    God besig om jou onberispelik te kry. Van binneuit rein.

    En ten
    derde: lewer ook jou eie aandeel in die voortgang van die Evangelieprediking.

    Dan dink ek
    terug aan wat ek in die inleiding van die preek genoem het.

    Vir die
    toekoms van die Evangelieprediking is dit belangrik dat daar ook in ons tyd
    seuns, onder aansporing van hulle ouers, hulle beskikbaar stel vir die
    bediening. Moenie te gou dink: o, ek is nie daarvoor geskik nie.

    Moses het
    homself nie geskik geag nie, Hy het gehakkel, tog het die HERE hom geroep.

    Dit is nou
    juis wat ons uit die teks vandag geleer het.

    God neem
    gewone mense in diens. l

    Laat ons nie
    te gou dink, ag, daar is ander wat dit wel sal doen nie.

    Gemeente,
    laat ons onsself positief toewy aan hierdie drie dinge.

    So werk ons
    mee aan ons eie redding, soos die Bybel sê, 2 Petrus 1:10: “Daarom, broeders,
    moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak”.

    Langs hierdie
    weg werk ons ook mee aan die redding van toekomstige generasies.

    Elke
    generasie het in die hede die taak om die fakkel van die Evangelie oor te dra
    na die toekomstige generasie. Laat ons in ons tyd nie hierin agter raak nie. Sodat
    ook in die toekoms, as ons nie meer daar is nie, ons nageslag, kerklede en
    selfs hulle wat nou nog ver van die HERE en sy diens af leef, dat hulle ook in
    die toekoms onder die gehoor van God se diensknegte sal sit, soos ons vandag.

    Die HERE sal
    dit gee, ons kan Hom vir die toekoms vertrou.

    Maar die
    HERE gee dit langs die middelike weg, dit wil sê, deurdat ons in die hede in gehoorsaamheid
    ag gee op sy roepstem.

    Hy werk die
    gehoorsaamheid.

    God vervul
    sy beloftes wanneer u en ek gehoorsaam handel volgens sy Woord.

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)