PRETORIA-MARANATA, 31 Julie 2016 AD, 17:30
Votum
Seën
Ps 100:2,3
Gebed
Skriflesing:
Johannes 15:1-19
Ps 87:1,2
Skriflesing:
Filippense 1:1-11
Ps 87:3,4
Skriflesing:
1 Petrus 2:1-10
Ps 87:5
Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 54
Preek
Sb 18:5-8
Gebed
Geloofsbelydenis
(sing)
Kollekte
Sb 24:3
Seën
Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 21vraag
en antwoord 54
Die
onderwerp vir hierdie diens is die kerk.
Kerk is ‘n bekende woord.
Wie jy ook
vra, kerklid of nie, ieder en elk sal wel ‘n mening oor die kerk hê.
Die
Kategismus vra die vraag: wat glo jy
van die kerk?
Hierdie
vraag is bewus so geformuleer.
Dit sou iets
anders wees om te vra:
Wat is jou
mening oor die kerk?
Sê nou maar
daar sou ‘n meningsopname gedoen word onder gemeentelede, of onder al die mense
wat hier in Waverley woon.
‘n
Meningsopname met verskillende vrae oor die kerk.
Wat die
mense van die kerk dink, wat hulle van kerklidmate dink, wat hulle mening is
oor die toekoms van die kerk, ens.
Wat dink u,
watter antwoorde sal daaruit kom?
Sal daar ‘n
soortgelyke antwoord uitkom as dit wat in Sondag 21 staan?
Wat glo u van die kerk?
Die antwoord
wat Sondag 21 op hierdie vraag gee, is baie spesifiek.
Ons gaan
vanaand aan hierdie antwoord aandag skenk.
Tema: Die kerk van Jesus Christus as
toevlugsoord deur alle eeue
1 Die identiteit van die kerk
2 Die funksie van die kerk
1 Die identiteit van die kerk
Wat die mees
bepalende vir die Kategismus se antwoord is, is die bron waaruit dit gehaal
word. Daardie bron is die Bybel.
Kyk maar na
die lang lys Skrifverwysings in die voetnota’s onder aan hierdie antwoord. Daar
is ten minste 28 verwysings na aanhalings uit die Bybel. Hierdie antwoord is
dus van begin tot einde ontleen aan die Bybel.
In hierdie
antwoord word nie sommer die mening van iemand gegee wat hy oor die kerk dink
nie.
Daar word
geluister na wat die Bybel ons openbaar oor die kerk.
Nou sou mens
jouself kon afvra: ja maar is dit wel in ooreenstemming met die werklikheid? As
jy byvoorbeeld ‘n empiriese ondersoek sou doen, as jy ‘n statistiese buro sou
inskakel om ‘n studie te doen na die identiteit van die kerk, sê maar spesifiek
die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika,
sal daar dan
‘n soortgelyke antwoord uitkom?
Ek dink dit
sal tien teen een nie die geval wees nie.
Nie net
omdat norm en werklikheid dikwels van mekaar verskil nie, maar veral omdat die
uitgangspunte verskil.
Watter
uitgangspunt kies jy as jy iets oor die kerk sê?
Aan watter
maatstaf meet jy die groep mense wat in ‘n kerkgebou saamkom? Meet jy dit aan
die maatstawwe vir ‘n klub?
Meet jy dit
aan die maatstawwe vir ‘n art. 21 organisasie?
Meet jy dit
aan die maatstawwe vir ‘n besigheid?
Meet jy dit
aan die maatstawwe vir ‘n politieke party?
Meet jy dit
aan die maatstawwe vir ‘n familiebyeenkoms?
Watter maatstaf?
Die
Kategismus maak hier ‘n duidelike keuse.
Die maatstaf
is, as die kerk ter sprake kom, die Woord van God.
Dit wil nie
sê dat die werklikheid oor die hoof gesien word nie.
Alleen, dit
is stap 2.
Stap 1 is om
te kyk na wat God se bedoeling met die kerk is.
Dit is die
norm. In die lig daarvan gaan in stap 2 die werklikheid bekyk word. In die lig
van hierdie norm – God se bedoeling met die kerk soos ons dit in die Bybel vind
– kan daar dan ook beoordeel word of iets wat ons in die praktyk sien gebeur,
reg of verkeerd is.
Dit is dan
ook die doel van hierdie preek.
Ons kyk nie
in die eerste plek na wat ons eie ervarings is met die kerk nie, na wat ons
persoonlik oor die kerk dink nie, maar in die eerste plek na wat die Bybel ons
oor die kerk leer. Nie dat die res onbelangrik is nie, inteendeel, maar dit is
nie maatgewend nie.
Die Bybel
gee ons sig op wat die kerk is, hoe die kerk lyk, of behoort te lyk.
Dit wil nie
sê dat die Bybel net ‘n ideaalbeeld skets, wat in die praktyk nooit
realiseerbaar is nie.
Dit is nie
so nie.
Die kerk,
hoewel onvolmaak, is tog ‘n realiteit in hierdie gebroke wêreld.
Die
Kategismus sê daar doelbewus: Die Seun van God vergader.
Jesus
Christus is die Een wat organiseer.
Hy sorg dat
die kerk van die grond af kom.
Verder sê
die Kategismus ook:
Jesus
versamel vir Hom ‘n kerk uit die hele menslike geslag.
Sy kerk
bestaan dus uit gewone mense, soos ons, mense wat onvolmaak en sondig is. Verder
sê die Kategismus ook dat Jesus dit deur alle eeue heen doen. Hierdie groep
onvolmaakte mense vorm inderdaad die kerk, die liggaam van Christus. Hulle is
empiries waarneembaar in ‘n gebroke wêreld. Dus, hoewel die Kategismus die norm
van die Bybel hanteer as dit oor die kerk gaan, wil dit nie sê dat die kerk net
‘n soort ideaalbeeld sou wees wat bo die werklikheid sweef nie.
Christus kry
dit reg om vir Homself ‘n liggaam te vergader uit sondige en onvolmaakte mense.
Dit is met reg ‘n Godswonder!
Ons gebruik
dikwels die woord kerk om ‘n
kerkgebou aan te dui.
As iemand
byvoorbeeld vir jou sou vra: waar is die Vrye Gereformeerde Kerk, dan sou jy
antwoord: in Bergtuin, Koekoekweg.
Maar dit is
opvallend dat hier in Sondag 21 nêrens oor ‘n gebou gepraat word nie. Dit is
miskien voor die handliggend, maar dit is tog goed om dit weer te noem. Die
kerk is nie ‘n gebou nie.
Sondag 21
praat oor die kerk as ‘n gemeente.
Die Bybel
praat oor die kerk as die liggaam van Christus.
Daarmee word
bedoel alle mense wat saam lid is van die liggaam of groep wat op Sondag in
hierdie gebou bymekaar kom.
Maar as
hierdie gebou sou afbrand of gesloop word, dan bly die kerk wel bestaan.
Die kerk van
Christus kan ook bymekaarkom onder ‘n boom, in ‘n tent, in ‘n huiskamer, in ‘n
fabrieksruimte, waar ook al.
Die
kwaliteit van ‘n kerk lê nie primêr in sy gebou nie.
‘n Spreekwoord
uit die tyd van die Reformasie het gesê: as die kerke van goud word, word die
priesters van hout.
Hierdie
spreekwoord mag nie vir ons ‘n verskoning word om die onderhoud van ons
kerkgebou af te skeep, of te sorg dat ons kerkgebou ook esteties op standaard
is nie. Dink maar net hoeveel estetiese aandag daar aan die tabernakel en
tempel in die Ou Testament bestee is.
Maar
prioriteit nr. 1 bly dat in die kerk van Christus die goud van die Evangelie
moet skitter, en nie verduister word nie.
Dat die goud
van die Evangelie uitgedeel word.
Tot sover,
gemeente, die eerste punt, oor die identiteit van die kerk.
Die
wesenlike van die kerk lê nie in die gebou nie, maar in daardie mense wat deur
Christus saam vergader word. Die identiteit van die kerk is dat dit die liggaam
van Christus is. Die kerk het ‘n eie karakter danksy Jesus Christus, wat die
Hoof is van die kerk.
Ons gaan nou
na die tweede punt, wat die funksie van die kerk is.
(Die kerk
van Jesus Christus as toevlugsoord deur alle eeue
1 Die identiteit
van die kerk)
2 Die funksie van die kerk
Dit is weereens
die Bybel wat ons hierop sig gee, ek dink veral aan Efesiërs hoofstuk 1. Daar
lees ons oor God se voorneme om deur Christus baie mense uit Jode- en
heidendom, uit alle volke en tale, te red.
Mense wat
anders vir ewig verlore sou gegaan het.
Dit is die
funksie van die kerk, om te sorg dat mense gered word.
Hierdie
funksie mag die kerk vervul, ook in ons omgewing, ook in ons tyd.
Dalk het u
al ‘n keer die kerkvader Cyprianus se stelling gehoor: buite die kerk is daar
geen saligheid nie.
Want laat
ons eerlik wees, is daar buite die kerk ‘n bevredigende antwoord op die
moeilikste lewensvrae?
Wie het ‘n
antwoord op ongeneeslike siekte, op die dood, op die kwaad wat maar net nie
uitgeroei kan word nie?
Wie kan ‘n
sinvolle lewe lei met ‘n wêreldbeskouing dat alles maar net toeval is? Maar in
die kerk word die goud van die Evangelie uitgedeel.
Die
Evangelie kom met ‘n duidelike visie op al die moeilike lewensvrae.
Wie deel van
die kerk word, kry ‘n sinvolle lewe, met perspektief.
Kry ook die
geestelike krag om staande te bly as die storms van die lewe oor jou heengaan. Siekte,
dood, gemis, verdriet, gebroke verhoudings, werkloosheid, ensovoorts. As deel van
die liggaam van Christus word jy gevoed met die besef dat die lewe sinvol is.
Dat jy
opgeneem is in die groot plan van God, wat jou Skepper is.
Ja, dus, so
te hore, is dit heerlik om lid van die kerk te wees!
Dink net wat
jy alles mis as jy geen lid sou wees nie! Tog, desnieteenstaande, is daar ook
heelwat mense om ons heen wat baie ander persepsies oor die kerk het. Soos
byvoorbeeld dat die kerk ouderwets is, en nie saamgaan met die tyd nie. Is
hierdie persepsies heeltemal ongegrond?
Laat ons
eerlik wees, om lid van die kerk te wees hou inderdaad in dat bepaalde dinge
vir jou verbode is.
Maar dit is
nie uit tradisionalisme nie, dit is vanuit ‘n bewuste oortuiging.
In die kerk
van Christus word naamlik nie met die kwaad gespeel nie.
Daar is
dinge wat pertinent verbied word, vanuit die besef dat dit jou stukkend gaan
maak.
Die kerk,
eintlik moet ek sê, Christus, laat nie toe dat jy jouself in die naweek dronk
drink nie.
Ook nie dat
jy in jou arbeidspraktyke jouself verryk ten koste van ‘n ander nie. Ook nie
dat jy jou in die verkeer soos ‘n maniak gedra nie.
Ook nie dat
jy owersel pleeg of aan pornografie verslaaf is nie.
Wie lid van
die kerk wil wees, van hom of haar word verwag om sulke dinge agter hom te
laat. Om tot inkeer te kom.
Sodat sy
lewe gered kan word.
Wil dit sê dat
kerkmense super braaf is?
Aan die een
kant, kerkmense is baie voorspelbare mense, inderdaad.
Jy weet wat
jy aan hulle het. Hulle staan vir hulle beginsels, en hulle betuig ook berou as
hulle dit oortree het.
As kerklid
hoef jy nie jou foute goed te praat om jou gesig te behou nie.
In die kerk
weet ons dat God van sondaars verwag om hulle sondes te bely, en dat hulle daarna
‘n nuwe kans kry.
Tog is die
woordjie braaf nie heeltemal die
regte benaming nie.
Kerklede
probeer inderdaad gehoorsaam te wees aan die reëls wat gestel word. Reëls wat
daar is vir elkeen se beswil.
Maar dit
beteken nie dat kerkmense alles braaf sal sluk wat ander verwag nie. Kerkmense
is nie mense wat braaf agter alle nuutste modes aan hardloop nie. In die kerk
word alles eers geweeg, beoordeel in die lig van die Bybel. Die Woord van God
bly die hoogste norm, deur alle eeue heen.
Dit kan
beteken dat kerkmense soms juis nie brawe burgers is nie, maar eerder lastige
vlieë vir die owerheid.
Dit kan
beteken dat kerkmense se beursies nie oopgaan vir elke nuwe mode en elke nuwe fliek
wat vrygestel word nie.
Nie omdat
hulle ouderwets is nie, maar omdat hulle besef dat nie alles nuttig is vir die
diens aan die Here nie.
Die gevaar
is dat ons begin dink dat as iets maar net Afrikaans is, dat dit wel goed sal
wees. As dit ‘n Afrikaanse fliek is, dan sal dit wel goed wees.
Dit is nie
soos ‘n gelowige behoort te dink nie. Dit is ronduit gevaarlik.
Ons
identiteit moet nie lê in ons taal of volk nie, maar in ons geloof, in ons
kerklidmaatskap. Lid van die kerk wees beteken om bewus te kies vir ‘n
lewenswyse in diens van God en jou naaste. ‘n Lewenswyse wat konstant is deur
alle eeue heen, oor alle kultuur, taal en landsgrense heen.
Dit sal
nooit so wees dat kerkgrense en kultuurgrense gelyk loop nie.
Kerklid wees
staan vir ‘n lewenswyse wat al so oud is as wat die kerk oud is. Christus
vergader, beskerm en onderhou sy kerk deur alle eeue heen, van die begin van
die wêreld tot die einde toe.
Wie lid van
die kerk word, mag dit ook ervaar.
Wie aansluit
by die liggaam van Christus, mag deel word van die gemeente, wat God tot die
ewige lewe uitverkies het.
Wie lid van
die kerk word, kry ‘n sinvolle lewe met geluk wat nie by die dood ophou nie.
Dit is nie
noodwendig ‘n luilekker lewetjie nie.
Of ‘n lewe
waarin daar niks ergs gebeur nie.
Maar God sal
nie toelaat dat sy kinders daaraan ten gronde gaan nie.
Wie lid is
van die kerk, is daarom goed voorbereid vir die toekoms.
Want
Christus waak oor die kerk.Die kerk is sy liggaam.
Die Bybel
spreek op verskillende maniere oor die verhouding tussen Christus en die kerk. Byvoorbeeld,
Christus is die Herder en die kerk is sy kudde. Christus is die Hoeksteen, en
die kerk is ‘n tempel wat daarop gebou word. Christus is die Hoof, en die kerk
is sy liggaam.
Christus is
die Bruidegom, en die kerk is sy bruid.
Die
Kategismus noem die kerk verder heilig.
Dit beteken:
dit behoort aan die Here.
Dit is
afgesonder van die sonde en toegewy aan Hom.
Hierdie
woord gee die funksie van die kerk treffend weer.
Die kerk is
‘n suiwerende liggaam in die samelewing.
In die kerk
mag die sonde geen wettige, geen blywende plek hê nie.
In die kerk
is daar helaas ook sondes, want die kerk bestaan uit lidmate wat almal sondig
is. Maar, die sonde het nie ‘n blywende plek in die kerk nie.
Kwaad word
kwaad genoem en goed goed.
Wie sondig,
moet breek met die sonde, moet vergewing van God vra, en ontvang ook vergifnis
in Christus, en kan weer met ‘n skoon bladsy begin.
‘n Kerklid
mag nooit ‘n gewoonte van die sonde maak nie.
Wanneer dit
gebeur, moet daar getugtig word. Konsekwent en liefdevol.
Wie self nie
aan die sonde kan ontsnap nie, moet deur sy medebroers en susters by die sonde
weggetrek word. Is dit nie bemoeisugtig nie?
Is daar wel
privaatheid in die kerk?
Daar is nie
privaatheid in die sin dat mense ‘n ogie toeknyp vir dit wat sondig is nie. Ons
is mos een liggaam, en die een se sondes affekteer die hele liggaam. As een lid
ly, ly alle lede saam.
Die
Kategismus sê: ek is van hierdie gemeente ‘n lewende lid.
‘n Lewende
lid, suggereer dit dat daar ook dooie lede is?
Inderdaad,
helaas wel. Soos Jesus in Mattheüs 7 gesê het:
“Nie elkeen
wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar
hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (vers 21) Elders sê
Jesus: “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg” (Joh 15:2). Daarom
is die kerk verplig, ter wille van die behoud van die goeie in hierdie wêreld,
om alle hipokriete en huigelaars, alle dooie lede uit haar liggaam uit te sny.
Vraag en
antwoord 54 sluit af met die opmerking dat ek vir ewig ‘n lid van die kerk sal
bly. Geld dit ook vir my en jou?
Ons besef
maar al te goed dat ons so sondig is.
Kan mens dan
so ‘n uitspraak oor jouself maak?
Dat ek ewig
lid sal bly?
Is dit nie
bietjie aanmatigend, bietjie oorversekerd nie?
Gemeente, die
Kategismus sluit bewus met hierdie woorde af.
Die
Kategismus is in die 16de eeu geskryf.
Die Roomse
kerk van toe het juis twyfel aangemoedig.
Volgens
hulle sou dit hoogmoedig wees, om seker te wees van jou saligheid.
En dit sou
‘n bewys van nederigheid wees, as jy aan jou saligheid twyfel.
Dit sou
volgens hulle ‘n mens aanspoor om net nog meer goeie werke te doen. Maar,
gemeente, dit is nie die boodskap wat uit die Bybel tot ons kom nie. Volgens
die Bybel mag ‘n kerklid wel versekerd wees.
Christus
bied aan hulle wat deel is van sy liggaam, wel daardie sekerheid.
Nogmaals,
soos hierbo genoem, dit geld nie vir hipokriete en huigelaars nie.
Maar wie met
‘n gelowige hart opkyk na Christus en alles van Hom verwag, mag versekerd wees.
God sal sy kinders nie verlore laat gaan nie.
Christus
noem ons selfs sy vriende. En daarom sorg Christus, juis ook deur sy liggaam
die kerk, dat wanneer een lid in sonde val, dat daar medebroers en susters is
wat ons weer regop help.
Die apostel
Paulus bedoel presies dit, as hy in Filippense 1 skryf:
“Ek dank my
God elke maal as ek aan julle dink – en ek bid altyd in al my gebede vir julle
almal met blydskap – oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag
af tot nou toe, omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle
begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” (vers 3-6)
Die Seun van
God bou sy kerk, van geslag tot geslag, van eeu tot eeu.
Hy is die
Hoeksteen van die kerk. Hy gee sin en sekerheid aan die kerk.
Hy sorg dat
daar lewende lede in die kerk is en ewig sal bly.
Amen.
(kyk in preek)