PRETORIA-MARANATA, 21 Augustus 2016 AD, 10:15
(nagmaal)
Votum
Seën
Ps 147:1
Wet
Ps 119:30
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed
(afgesluit met sing van Onse Vader)
Apostoliese
Geloofsbelydenis (sing)
1e tafel:
Skriflesing: Jesaja 44:24-45:16; Ps 44:5,7
2e tafel:
Ester 1:1-12, 2:1-4; Ps 44:9
3e tafel:
Danksegging & Gebed; Ps 78:20,21
Teks: Ester
2:5-7
Preek
Ps 137:4-6
Gebed
Kollekte
Ps 36:2,3
Seën
Preek: Ester 2:5-7
Ons begin
vandag met ‘n serie preke oor die Bybelboek Ester.
Ester is ‘n
baie bekende figuur uit die Bybel, waarmee die meeste van ons seker al as kind
uit die Kinderbybel mee kennis gemaak het.
Ongelukkig
is dit so dat baie Kinderbybels Ester skets as ‘n heldin en ‘n
skoonheidskoningin, met al die bybehorende prentjies van die prag en praal in
Ahasveros se paleis.
In hierdie
serie gaan ons dieper delf, en kyk hoekom staan hierdie boek eintlik in die
Bybel, en wat die Heilige Gees se werklike bedoeling was om ons met hierdie
geskiedenis te leer.
Tema: God se trou ten spyte van sy
verbondskinders se ontrou
-
Ontrou soos dit blyk uit die
datering -
Ontrou soos dit blyk uit die name
1 Ontrou
soos dit blyk uit die dateringUit die datering
van hierdie geskiedenis van Ester en Mordegai kan ons belangrike lesse leer. Hulle
het in die jare rondom die jaar 470 vC gelewe.Om sin uit
hierdie datum te maak, is dit belangrik om die historiese konteks te skets. Ons
begin dan meer as ‘n halwe eeu voor Ester, naamlik in die jaar 538 vC. Dit was
‘n baie belangrike jaar in die Ou Testament.In daardie
jaar ontvang die Joodse ballinge in Babel die vryheid om na Jerusalem terug te
keer en die tempel te herbou. ‘n Aantal, maar lank nie almal, van die Joodse
ballinge het toe van hierdie geleentheid gebruik gemaak. Hulle het na Jerusalem
teruggekeer.Dit het
daartoe gelei dat ‘n jaar later, in 537, die brandofferaltaar in Jerusalem
herstel is. Die offerdiens aan die HERE
is toe weer hervat.U kan meer
daaroor lees in Esra 3:1-5. Nog ‘n jaar later, in 536, is toe ‘n begin gemaak
met die herbou van die tempel, hoewel die arbeid al gou weer gestaak is, en die
werk vervolgens 16 jaar lank stil bly lê het.In hierdie
periode vind daar ‘n troonswisseling in Babel plaas, Kores word opgevolg deur
Cambyses, wat ongeveer 8 jaar lank regeer, en self opgevolg word deur Darius,
dit was ongeveer 520vC.Ten tye van
Darius het die profete Haggaï en Sagaria opgetree, onder die teruggekeerde
ballinge in Jerusalem en omstreke.Na die
onderbreking van 16 jaar word die tempelbou dan weer hervat, onder leiding van
Josua en Serubbabel (Esra 4:24), kragtig gesteun deur die profete Haggai en
Sagaria. Toe kom daar besware en
teenkanting van die stadhouer Tattenai en sy partygenote teen die herbou van
die Godshuis en die muur. (Esra 5:3) Hierdie besware teen die werk word egter
gelukkig deur koning Darius afgewys. Hy
handhaaf die edik van Kores en verleen die tempelbou selfs finansiële steun
(Esra 5:1-6:12). Dan in die jaar 516 word die tempel voltooi en die pasga word
gevier, Esra 6:13-22.Vanaf hierdie
oomblik, die inwyding van die nuwe tempel, 516, duur dit nog 30 jaar voordat
Ahasveros aan bewind kom. Hy was die seun van koning Darius en het hom
opgevolg. Weer was daar teenslag vir die Jode in Jerusalem. Want aan die begin
van Ahasveros se regeringsperiode dien die heidense bevolking van Juda ‘n
skriftelike aanklag by hom in teen die Jode wat besig was om die mure van
Jerusalem te herbou – Esra 4:6.Dit is, in
kort gemeente, die historiese konteks van wat in Jerusalem gebeur het na die
terugkeer uit ballingskap, en tot en met die begin van Ahasveros se regering.En dan lees
ons oor die groot feesmaal, dat dit in die derde jaar na Ahasveros se troonsbestyging
plaasgevind het (Ester 1:3).Die eerste
paar jare van sy bewind moes Ahasveros naamlik gebruik om opstande her en der
te onderdruk.Maar daarna
was daar dus geleentheid vir die groot feesmaal.Tog het die
feesmaal ‘n bitter afloop gehad, want in die jaar 483 is koningin Vasti
verstoot.Die oomblik
waarop Ester vervolgens in die vrouehuis opgeneem word (Es 2:12) kan ongeveer
vier jaar later gedateer word, in 479 vC.En ‘n jaar
daarna, 478, word sy verhef tot koningin (Es 2:16v).Gemeente, hierdie
oorsig van datums leer ons dat Ester se wedervaringe ruim sestig jaar na die
edik van Kores plaasgevind het, wat vir God se volk die moontlikheid gebied het
om terug te keer uit die ballingskap.Ook was dit veertig
jaar na die voltooing van die tempel, en die optrede van profete soos Haggaï en
Sagaria. Die konklusie lê dus voor die hand.Mordegai en
Ester het nie teruggekeer na Jerusalem nie.Of meer
presies, Ester was nog nie gebore toe Kores die edik uitgevaardig het nie:
Ester se grootouers het nie teruggekeer nie, en hulle nageslag het gewoon in
Babel bly woon.Om eerlik te
wees, gemeente, die geskiedenis leer ons
dat na 70 jaar, toe die HERE die moontlikheid van wederkeer geskenk het,
daar eintlik maar min Jode daarvan gebruik gemaak het.Die
meerderheid het gebly in die land van ballingskap.Hulle het
vir hulle ondertussen in die land van ballingskap ‘n goeie bestaan opgebou en
wou dit nie loslaat vir ‘n emigrasie en ‘n sware pionierstaak in Kanaän nie. As ons hier vir Mordegai en Ester ontmoet, is
dit al ruim 60 jaar na die terugkeer uit die ballingskap. Mordegai ontmoet ons
nie by die swoegende Jerusalemmers nie, maar in die koninklike residensie van
Babel, waar hy as aansienlike amptenaar, hooggeplaaste, in die poorte van die
paleis vertoef het. Want as ons in Ester lees dat Mordegai in die poort van die
koning gesit het, is dit ‘n aanduiding van status (Es 2:19). Hy het ‘n hoë
posisie beklee. In die Persiese Ryk was
dit die gewoonte dat die aansienlike beamptes en hooggeplaastes elke dag in die
poort gesit en wag het vir die bevele van die koning.Aan die
einde van die eerste punt vra ons nou die vraag:Was dit
verkeerd van Mordegai en Ester, of meer spesifiek, hulle grootouers en ouers,
dat hulle nie ook teruggekeer het na Jerusalem nie?Was dit
verkeerd van Mordegai om nie later ook na Jerusalem terug te keer, saam met die
dogter van sy broer wat onder sy voogdyskap geplaas is nie.Die eerste
punt lui: ontrou soos blyk uit die datering.En
inderdaad, mens moet konkludeer dat Mordegai gekies het vir ‘n lewe ver van die
tempel en offerdiens. Ons sou vandag sê: ‘n lewe los van die kerk. Skynbaar het
Mordegai sy belangrike posisie aan die koninklike paleis verkies bo die
pionierslewe in Jerusalem, ‘n stad wat weer opgebou moes geword het. Hulle het voortgegaan
in die lewensrigting wat hulle ouers en grootouers gekies het, naamlik die weg
van minste weerstand, die keuse om in Babel te bly.Het hulle
ooit krities oor hierdie beslissing van hulle voorgeslag nagedink?Of het die
gedagte om self terug te gaan na die stad, waar die HERE se tempel herbou is,
nie eers by hulle opgekom nie?Soos in die
wet staan: God besoek die sondes van die vaders aan die kinders, aan die derde
en vierde geslag.Ester en
Mordegai het gestaan in ‘n lyn van Jode wat nie so ernstig was met hulle geloof
nie.Maar ten
spyte van sy verbondskinders se ontrou, was God wel trou.Ons kom
later hierop terug.Ons kyk nou
eers, in die tweede plek, dat die verbondskinders se ontrou wat ook blyk uit
die name.(Tema: God
se trou ten spyte van sy verbondskinders se ontrou
-
ontrou soos dit blyk uit die datering)
-
Ontrou soos dit blyk uit die name
Soos dit nog
die gewoonte is onder swartmense in Suid-Afrika, was die mense destyds ook meer
bewus van die feit dat ‘n naam ook ‘n betekenis gehad het. As ons nou na die
name Ester en Mordegai kyk, is dit ook name met ‘n betekenis. Om presies te
wees, Ester het eintlik twee name gehad.Volgens
hoofstuk 2:7 was haar ander naam Hadassa. Dit is waarskynlik ‘n Hebreeuse naam
wat afgelei is van die woord vir ‘n mirteboom.Dit was
moontlik haar oorspronklike Joodse naam, net soos Daniël in Babel ‘n nuwe naam
gekry het: Beltsassar. Ester is egter ‘n Persiese naam.Dit kom van
Isjtar, wat die neem van ‘n Babiloniese godin is.Ester is dus
vernoem na ‘n Babiloniese godin.Vanuit ‘n
Bybelse perspektief laat dit mens se wenkbroue lig.Moet mens
hieruit aflei dat Ester glad nie ‘n gelowige meisie was nie?Dat sy glad
nie die HERE, die Verbondsgod van haar volk, gedien het nie?Nou moet
mens nie te vinnig uit ‘n naam iets konkludeer nie.Was dit nie
ook moontlik dat dit maar net ‘n baie algemene meisiesnaam in Babel was nie? Net
soos ‘n naam soos Diana vandag ‘n baie algemene naam is, en deesdae is daar
dink ek ook Christenmeisies wat hierdie naam dra, hoewel Diana die naam is van
‘n Griekse godin.Maar as ons
nou na die naam van Mordegai kyk, dan word dit tog wel duideliker dat dit nie
net toevallig kon gewees het nie.Dat dit,
soos die tweede punt sê, tog waar is dat die ontrou ook uit die name blyk. Want
die naam Mordegai kom van Mardoek, die naam van die stadsgod van Babel. In Jeremia
50:2 word hy Merodag genoem. Mordegai beteken: vereerder van Mardoek.
Hierdie name asem inderdaad ‘n atmosfeer van verbondsverlating. En
dan ook nog die feit dat Mordegai Ester verbied het om aan mense te vertel dat
sy ‘n Jodin is. Hieruit blyk dat hy ook nie baie vertroue gehad het op die God
wat sy naam juis aan die Joodse volk verbind het nie.
En dit bring ons by ‘n Naam wat glad nie in die boek Ester genoem
word nie, selfs nie eers as onderdeel van ander name nie.
Baie Jode
het naamlik die gewoonte gehad om na die HERE se verbondsnaam in hulle eie name
te verwys.
Dan dink ons
aan name soos Josua, Jonatan, Jesaja, Jeremia, Jedidja, Jegonja, ensovoorts,
name wat almal begin met die HERE se verbondsnaam: Jahweh.
Maar
inderdaad, God se naam kom nêrens voor nie.
Op ‘n manier
is dit ‘n weerspieëling van die hoofkarakters se geestelike lewe. Mens kan
konkludeer dat die skrywer van Ester bewus nie die naam van die HERE gebruik
het nie. Nietemin maak die skrywer wel duidelik dat God wel baie bewus aanwesig
is in hierdie geskiedenis! Hy Israel se Bondsgod, almagtig, Koning oor alle
konings, ook oor Ahasveros.
Ahasveros
het oor ‘n magtige ryk geregeer.
Van Indië
tot Ethiopië. In hedendaagse terme, die lande waaroor Ahasveros geregeer het:
Griekeland, suide van Rusland, Turkye, Sirië, Irak, Iran, Libanon, Israel,
Arabië, Egipte, noorde van Sudan (hier Ehtiopië genoem), Libië, Afghanistan en
Pakistan.
Die ryk was
verdeel in 127 distrikte of medina’s, geregeer deur stadhouers, landvoogde en
vorste (Es 8:9). Een van die talryke distrikte was die provinsie Juda (Esra
2:1; Neh 1:3, 7:6, 11:3). Dus, as Juda
een distrik was, dan was daar behalwe Juda nog 126 ander disktrikte.
Dink net
watter oormag Haman teen die Jode sou gehad het, as hy daarin sou geslaag het
om sy wetsontwerp deur te voer.
Maar uit
elke hoofstuk blyk egter die dade van die HERE.
Hoewel sy
Naam nie genoem word nie, blyk egter dat Hy omgegee het vir sy volk, selfs vir
sy afvallige kinders. God het gedink aan
sy belofte aan Abraham. Hy het met die Joodse volk, ernstig bedreig op hierdie
stadium, ‘n verbond gesluit en daarin belowe dat Hy hulle tot ‘n seën sou stel
vir alle volke (Gen 12:3). Daarom word daar aan die hemelse hof ander
beslissings oor Israel geneem as aan die Persiese hof.
Ons sien in
hierdie boek die groot antitese, die groot stryd van die Satan, wat probeer om
die koms van die Messias te verhinder, en hoe God sorg dat sy belofte vir die
toekoms dat juis uit hierdie volk alle nasies geseën sal word, veilig gestel word.
In die
seriepreke wat gaan volg, gemeente, gaan ons baie teleurstellende dinge oor
mense hoor, ook daardie mense uit God se bondsvolk wat in hierdie boek genoem
word. Maar daarenteen gaan ons baie troosvolle
en glorieryke dinge hoor oor die God van die verbond. Is Ester en Mordegai vir
u rolmodelle? Identifikasiefigure? Helde?
Na hierdie
preek sal dit nie meer so kan wees nie..
Altans, net
so min as wat ander Bybelfigure rolmodelle was.
Abraham,
Isak, Dawid, Salomo, hulle was almal sondige mense met baie misstappe.
Vir Ester en
Mordegai het dit ook gegeld, en nog erger:
hulle het
struktureel gelewe buite die invloedsfeer van God se vergaderende werk. Ver weg
van die tempel wat reeds herbou is, waar die offerdiens weer vir jare
gefunksioneer het, ver weg van die invloedsfeer van die profete wat God na sy
volk gestuur het, manne soos Haggaï en Sagaria. Hulle was in die sin afvallige
Jode.
Hulle het
die welvaart van Babel verkies bo die pionierslewe, die heropbou, swaar en
risikovol, terug in die beloofde land. Tog het die HERE, die Verbondsgod, sy
kinders nie vergeet nie. Dit sal blyk dat Hy hierdie gemaksugtige Jode, wat
verkies het om in Babel agter te bly, later weer ‘n kans gegee het. Want
twintig jaar na alles wat met Ester gebeur het, het God dit so gelei dat daar
vanuit Babel ‘n tweede terugkeer op gang gekom het. Dit is toe dat Esra vanuit
Babel na Jerusalem vertrek het, en nog tien jaar later het Nehemia ook vertrek,
met die doel om Jerusalem se stadsmure te voltooi. Die HERE het vir ‘n nuwe opwekking
gesorg, ‘n tweede golf van duisende Jode wat saam met Esra na Jerusalem
teruggekeer het. En hulle sou beslis
omgekom het, as die HERE dit nie so gelei het dat Haman se moordplan verydel was
nie.
Dalk het u
of gaan u op Bybelstudie ook na die boek Ester kyk, en dan gaan u waarskynlik ook
in aanraking kom met die apokriewe gedeeltes uit die boek Ester. Want
inderdaad, later is daar gedeeltes aan die boek Ester toegevoeg. Maar daardie
gedeeltes is nie oorsrponklik nie, hulle is – soos ons dit noem – apokrief. Hulle
hoort nie in die Bybel nie.
In die
eerste plek ken ons die apokriewe hoofstukke net in Grieks, en nie in Hebreeus,
waarin die oorspronklike Ester geskryf is nie.
In die
tweede plek is dit opvallend dat in die apokriewe hoofstukke die HERE se naam
wel veelvuldig voorkom.
Tog maak dit
hierdie toevoegsels nie kanoniek nie.
In
teenstelling tot die Bybelboek, skets die apokriewe hoofstukke vir Ester en
Mordegai wel as helde, volkshelde, geloofshelde.
Maar dit
doen, soos ek hierbo genoem het, die Bybelboek dus juis nie.
Dit lyk
teenstrydig, maar dit is so. Die Bybelboek noem nie die HERE se naam nie, tog
spreek alles in hierdie boek van Hom.
Mens kan dit
vergelyk met ‘n skildery van ‘n meester.
Sê nou maar
daar word ‘n skildery van Rembrandt gevind, maar dit het nie sy naam op nie. Dan
sal tog die meesterlike skilderwerk getuig dat dit deur ‘n meester geskilder
is. Die apokriewe hoofstukke noem wel die HERE se naam, maar desondanks val die
fokus in die apokriewe hoofstukke eerder op Ester en Mordegai as helde.
Ek herhaal,
Ester en Mordegai is nie rolmodelle nie.
Net soos
iemand wat vandag as skoonheidsmodel op die Huisgenoot se voorblad verskyn, nie
vir u as gelowige ‘n rolmodel kan en mag wees nie, so ook nie Ester nie.
Dit bring
ons by Wie eintlik in hierdie boek die ‘Rolmodel’ is.
Dit is Hy
wie se Naam nie een keer genoem word in hierdie boek nie.
Hy hou sy
beloftes. Die geskiedenis wat ons in Ester lees, is ‘n bewys dat Hy sy eeue oue
belofte nie vergeet het nie, maar dat Hy nog steeds doelgerig daarnatoe gewerk
het, ook in die afvallige tyd van Ester en Mordegai.
En so sit
ons dan vandag aan ‘n nagmaalstafel, en ons gedenk dat God sy Seun as Messias
inderdaad na die aarde gestuur het, gebore uit die Joodse volk. Die planne wat
daar beraam is om daardie volk uit die weg te ruim, deur Haman en sy trawante,
is verydel.
God het
besef dat dit ‘n groot offensief van Satan was om sy belofte te fnuik.
In Haman het
die Antichris na vore gekom.
Maar deur al
die sameloop van omstandighede waarvan ons in Ester lees, het God dit so gelei
dat sy volk in hierdie kritieke periode gespaar is.
Vandag is
ons deel van God se volk, al is ons nie Jode nie.
In ons het
die belofte uitgekom, dat God al die nasies van die aarde sou seën.
Amen.
(kyk in preek)