Die HERE verander oornag die lot van sy volk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-10-16
Teks: 
Ester 5 : 4-8
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 16 Oktober 2016 AD, 10:15
(nagmaal)

Votum

Seën

Ps 10:1,5,7

Nagmaalsformulier

Lees van wet
saam met deel oor selfondersoek uit Nagmaalsformulier

Ps 119:27
(tussensang tydens Nagmaalsformulier)

Gebed
(afgesluit met sing van Onse Vader)

Geloofsbelydenis
(sing)

1e tafel:
Skriflesing: Ester 5-6:3; Sb 16:1,2

2e tafel:
Skriflesing: Ester 5:4-8 (teks); Sb 16:3,4

3e tafel:
Lofverheffing; Sb 16:5,6

Dankgebed

Preek

Ps 126:1,2

Gebed

Kollekte

Ps 126:3

Seën

Preek: Ester 5:4-8

In hierdie
hoofstuk lees ons ‘n beskrywing hoe Ester dit gewaag het om voor die koning te
verskyn. Dit was, staan daar in vers 1, op die derde dag, dit wil sê dit was na
die drie dae vas waartoe Ester al die Jode opgeroep het.

Ester het
haar koninklik aangetrek. En net toe die koning Ester sien staan in die
voorhof, het sy genade in sy oë gevind. Die koning het sy goue septer na haar
uitgesteek. Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak.

Hierdie is
‘n wonder dat God dit so gelei het. God is in beheer, selfs oor Ahasveros se
gemoedstoestande. En Ahasveros was duidelik daardie dag in ‘n goeie bui. Hy het
haar joviaal uitgenooi om haar versoek bekend te maak.

Ester het reeds
haar strategie uitgewerk. Sy nooi die koning slegs uit na ‘n maaltyd later die
dag, hom en sy belangrikste minister, Haman. Tydens die maaltyd het die koning
weer sy joviale versoek herhaal. Maar nou sak die moed Ester in die skoene. Sy
kon die onthulling nie oor haar lippe kry nie.

En die
eerste wat in haar opkom is om die koning weer uit te nooi vir die volgende
dag, saam met Haman, om weer te kom na die maaltyd wat sy sal berei. Ons lees
dan hoe Haman bly en opgeruimd huis toe gegaan het, omdat Ester hom so behandel
het. Maar toe hy deur die poort kom, en sien dat Mordegai nog steeds nie wil
buig nie, was hy skielik weer woedend.

Dan beskryf
die boek hoe Haman sy vrou en vriende alles vertel.

Nie net hoe
die koning hom groot gemaak het nie, nie net dat Ester hom spesiaal uitgenooi
het nie, maar ook sy haat teenoor die Jood Mordegai, wat maar net nie wil buig
nie. Haman is ‘n eergevoelige man.

Dit alles
baat my niks, sê hy, solank Mordegai my lewe suur maak nie.

Daarna lees
ons hoe Haman sy vrou se dwase raad opvolg en ‘n yslike galg laat opstel het. Yslik
inderdaad, 50 el is omtrent 23 meter.

Nog veel
hoër as ons kerktoring.

Tema: Die HERE verander oornag die lot van sy
volk

  • Geloofsgroei by Ester

  • Onverwagte gebeurtenisse tussen
    die eerste en tweede maaltyd

  • Geloofsgroei by Ester

    Wie presies
    die kanonieke boek Ester geskryf het, is nie meer bekend nie.

    Daar is al
    geopper dat Mordegai self die outeur was, omdat ons uit Ester 9:20 weet dat hy
    self kon skryf en ook die gebeure opgeskryf het. Tog word desondanks in die ou
    Joodse tradisie Mordegai nie as skrywer beskou nie.

    Daar is
    enkele aanwysings wat daarop dui dat die boek eers ‘n hele tyd na die gebeure
    geskryf is. In hoofstuk 1:1 word koning Ahasveros voorgestel as ‘n vors uit die
    verlede, wie se naam by die lesers in herinnering geroep word. En uit die slot
    van Ester blyk verder dat die Purimfees al ‘n bestaande fees was. Wel is Esther
    in Hebreeus geskryf, en die skrywer beskryf die Persiese gewoontes en toestande
    op so ‘n manier dat dit duidelik is dat hy daaraan gewoond was.  Dit dui daarop dat die boek ontstaan het
    voordat die Griek Alexander die Grote die Persiese Ryk vernietig het. Dit was
    in ongeveer 330 voor Christus. Toe die moeilike tyd van die Griekse oorheersing
    aanbreek, het God se volk die boek Ester ontvang om hulle te troos en
    perspektief te gee.

    Aanvanklik
    het Mordegai Ester verbied om te vertel dat sy ‘n Jodin was.

    Dit teken
    hulle nie as beginselvaste gelowiges nie. Maar later het die HERE hulle in die
    nou gedryf, en so die omstandighede gelei dat hulle wel geforseer was om
    daarvoor uit te kom. So doen die HERE dit vandag ook nog met sy kinders. As
    hulle nie die moed het om vir hulle geloof uit te kom nie, dan lei Hy ons in
    beproewings, om te sien of ons die versoeking sal weerstaan, en daarbo sal
    uitrys, of dat ons dan finaal ingee. God sy dank vir sy genade dat Mordegai en
    Ester deur hierdie groot beproewing wat op hulle pad geplaas is, nie beswyk het
    nie, maar uiteindelik opgestaan het en daarvoor uitgekom het dat hulle Jode
    was.

    As mens die
    Bybelboek Ester lees, is dit duidelik dat dit hoogstaande literatuur is. Nie
    almal van ons het dalk interesse in literatuur nie.

    Sommiges,
    dalk meer dikwels die vroue onder ons, hou van boeke lees, romans byvoorbeeld,
    ook historiese romans. Die boek Ester het iets weg van ‘n historiese roman, al
    is dit moeilik om hierdie Bybelboek in ‘n spesifieke genre of kategorie te
    plaas. Feit is wel dat dit ‘n literêre werk van hoogstaande gehalte is. In die
    Bybel vind ons boeke van verskillende soorte of genres. Al is elke Bybelboek
    100% deur die Heilige Gees geïnspireer, is nie almal literêr van hoogstaande
    gehalte nie. Dit hang af van die persoon wie die Heilige Gees gekies het om die
    Bybelboek op skrif te stel. Om ‘n voorbeeld te noem: Amos was ‘n boer uit
    Tekoa. Uit die boek Amos word duidelik dat hy nie werklik opgelei was as
    skrywer of literêre kenner nie.

    Nietemin is
    sy profesie duidelik, kragtig, indrukwekkend. Die Heilige Gees het hom as boer
    met sy unieke talente gebruik. Die Bybelboek Jesaja daarenteen is van
    hoogstaande literêre gehalte.  Uit sy
    profesie kom mens duidelik agter dat hy ‘n geleerde profeet was wat in die stad
    gebly het, nie op die platteland soos Amos nie. So het die Heilige Gees ‘n
    verskeidenheid van mense ingespan om die Heilige Skrif saam te stel. Ons weet
    nie presies wie die outeur van die Bybelboek Ester was nie. Duidelik is wel dat
    dit iemand was met literêre gawes. In die verloop van die boek Ester word treffend
    die karakterontwikkeling van sowel Mordegai as Ester beskryf.

    Karakterontwikkeling,
    mens kan dit ook in hierdie geval geloofsgroei noem.

    Aan die
    begin van die boek ontmoet ons Ester naamlik as ‘n jong meisie, wat afkomstig
    was uit ‘n afvallige Joodse familie. ‘n Familie wat nie teruggekeer het uit die
    ballingskap nie, maar wat gekies het om in Babel te bly. Haar oom, Mordegai,
    het ‘n vooraanstaande posisie aan die Persiese hof beklee. Hulle het
    kritiekloos aan die skoonheidskompetisie deelgeneem.

    Selfs hulle
    name het daarvan getuig dat hulle geen hulp van die Verbondsgod van die Jode meer
    verwag het nie. Beide van hulle is vernoem na Babiloniese afgode. Mordegai het
    selfs vir sy niggie Ester verbied om haar Joodse afkoms bekend te maak. Hulle
    het hulle geskaam vir hulle afkoms. En die God van hulle verlede, die HERE,
    Jahweh, het nie ‘n rol in hulle lewe gespeel nie. Tog het hierdie God, die
    HERE, deur sy voorsienigheid, ooreenkomstig sy raadsplan, sake so gestuur dat
    hulle in ‘n hoek gedryf is. So is hulle geleer om tog op Hom te vertrou. U moet
    onthou dat in die ou wêreld van die Naby Ooste daar altyd ‘n nou verband gelê
    is tussen ‘n volk en sy God. Die feit dat Mordegai en Ester haar Joodse afkoms
    verswyg het, was dus ‘n bewys vir mense dat hulle geen vertroue meer gehad het
    op die God van daardie volk nie. En inderdaad, dit was die geval by baie van
    die ballinge. Die God van hulle vaders was nie meer vir hulle relevant nie. Dis
    die God wat toegelaat het dat hulle land, stad, en tempel verwoes is. Hy het,
    so het hulle gekonkludeer, verloor teen die gode van die Babiloniërs. Hulle het
    nie meer op Hom vertrou nie.

    Maar nou, vanaf
    hoofstuk 5, sien ons karakterontwikkeling, geloofsgroei, ook by Ester. Dit is
    so mooi hoe die boek Ester dit subtiel maar nie mis te verstane beskryf. Nou lei
    hierdie einste God die gebeurtenisse so, dat sy kinders in Babel wel sal moet
    erken dat Hy nie dood is nie, dat Hy nie magteloos is nie, dat Hy nie net ver
    weg bly staan nie (Psalm 10), dat Hy nie verborge in die nood is nie (Psalm
    10). Ester het verantwoordelikheid geneem. Sy verskyn voor die koning en nooi
    hom en Haman na ‘n maaltyd uit. Die koning het goed besef dat Ester haar lewe
    nie net vir ‘n maaltyd gewaag het nie. Hy vra daarom ook eksplisiet tydens die
    maaltyd: wat is jou bede? Heel joviaal bied hy haar sommer die helfte van sy
    koninkryk aan.

  • Onverwagte gebeurtenisse tussen
    die eerste en tweede maaltyd

    Maar dan
    ineens twyfel Ester. En sy nooi hulle weer vir ‘n maaltyd uit, nou môre. Hoekom
    het Ester van hierdie uitsteltegniek gebruik gemaak?

    Was dit
    bewus? Was dit deel van haar strategie? Of was dit omdat sy te veel daarteen
    opgesien het? Omdat sy nog nie die moed gehad het nie om te onthul dat sy ‘n
    Jodin is, lid van daardie volk teen wie Haman sy moordplan gesmee het? Gemeente,
    alles wys daarop dat dit op daardie oomblik vir Ester te veel geword het. In
    vers 5 nooi sy die koning en Haman uit na die maaltyd wat sy reeds berei het. Dit
    was volgens haar plan.

    Maar in vers
    8 nooi sy hulle uit na ‘n maaltyd wat sy nog moes berei. Dit dui daarop dat
    hierdie tweede maaltyd nie deel van haar oorspronklike plan was nie. Ook het
    Ester nie geweet wat daar alles daardie nag en volgende dag sou gebeur nie. As
    sy dit kon geweet het, ja, dan kon mens konkludeer dat hierdie tweede maaltyd
    ‘n baie strategiese skuif van Ester was. Maar Ester het nie geweet nie en kon
    nie geweet het nie. Sy was ook net ‘n gewone mens. Sy kon nie die toekoms
    voorspel nie, ook nie eers die nabye toekoms nie.

    Terselfdertyd
    vestig die skrywer van Ester ons aandag daarop dat hier wel baie strategiese
    dinge besig was om te gebeur! Was dit nie vir hierdie uitstel nie, dan sou Ester
    se onthulling waarskynlik totaal anders afgeloop het. Maar, net soos in die
    ander hoofstukke, vestig die skrywer ons aandag in hoofstuk 5 en 6 daarop dat
    daar ‘n God is, al word sy naam nie eksplisiet genoem nie, maar dat Hy wel
    aktief besig is, en dat Hy alle dinge stuur volgens sy plan. Soos ons al eerder
    in hierdie geskiedenis geleer het, lê God se leiding nie net in spektakulêre
    wonders nie, maar ook in onopvallende en onverwagte dinge. Soos ons in Spreuke
    19:21 kan lees: “Baie planne is in ‘n man se hart, maar die raad van die HERE,
    dié sal bestaan.”

    Ester se
    moed het in haar skoene gesak, sy kon nog nie daarvoor uitkom nie. Sy het
    uitstel gevra, tot môre. Maar ondertussen was God almagtig, wat ook in beheer
    is oor Ester se gemoedstoestande, intussen gebruik Hy dit om weer ‘n paar
    strategiese skuiwe te maak. Heel toevallig, maar let wel, toeval bestaan nie,
    heel opmerklik kon die koning daardie nag nie slaap nie.

    Heel
    opmerklik word daardie nag juis vir hom uit die kronieke voorgelees wat
    Mordegai vir hom beteken het. Dat Mordegai sy lewe gered het. En dit lei
    daartoe dat die koning die volgende dag vir Haman opdrag gee om Mordegai
    uitsonderlike eer te bewys. Wat ‘n sameloop van omstandighede was dit nie!

    Haman het
    bewus nie vir die koning vertel dat sy moordplan onstaan het omdat Mordegai nie
    vir hom wou buig nie. Die koning was dus nog nie van Mordegai se hardkoppigheid
    op die hoogte nie. En dan hoor hy ineens daardie nag wat Mordegai vir hom
    beteken het. Al hierdie dinge kon nie net toevallig gewees het nie. In daardie
    rigting, heel subtiel maar oortuigend, lei die skrywer van Ester ons gedagtes. Hier
    is God besig! Hy wat almagtig is. Dit kon alles nie net toeval gewees het nie!

    Danksy die
    uitstel wat Ester gevra het, begin alles in plek te val, die daaropvolgende nag
    en dag. Ester kon dit in die verste verte nie vermoed het nie. Maar haar God,
    die Verbondsgod, het dit wel so gelei! Waar tydens hierdie eerste maaltyd die
    moed haar in die skoene gesink het,  sou
    sy môre, met die tweede maaltyd, heel ander omstandighede aantref.

    Omstandighede
    wat dit vir haar maklik gemaak het om haar boodskap aan die koning oor te dra.

    Geliefde
    gemeente, die boek Ester bied ryke, ja baie ryke troos. Veral vir Christus se
    kerk vandag. Waar ons dalk ook soms die gevoel mag hê: God is ver weg, God
    bemoei Hom nie meer met sy kinders nie, God is nie meer oor ons bekommerd nie,
    God hou Homself verborge as ons in die nood is.

    Waar ons
    hierdie gevoelens deel, leer die boek Ester ons, heel subtiel maar tot
    indringend en oortuigend: God slaap nie, God is bekommerd oor sy kinders, God
    lei hulle lewenslot. Ja, soms dryf Hy sy kinders in ‘n hoek.

    Dwing Hy
    hulle om kleur te beken. Maar as hulle dan tot Hom terugkeer, dat is Hy vinnig
    om te help. Dan maak Hy dit vir hulle maklik om kleur te beken. Dan verander Hy
    hulle lot, onverwags, skielik, en totaal.

    Soos Psalm
    126 sing: “o HERE, verander ons lot soos waterstrome in die Suidland.” Die
    Suidland in Israel, dit is die woestyngebied. Daar is geen waterstrome nie, net
    droë rivierlope. Maar as dit ‘n keer goed reën, kan daardie rivierlope binne
    die kortste tye vol water wees. Dit was ‘n begrip: waterstrome in die Suidland.

    Dalk onthou
    sommiges van u nog die Laingsburg vloed van 1983. Die waterlope van die Karoo
    kan goed vergelyk word met die waterstrome in Israel se Suidland. Meestal lê
    hulle droog, maar as dit ‘n keer goed gereën het, kan hulle ineens verradelik
    vinnig vol en woeste rivierstrome word.

    Ja so
    verander die HERE die lot van sy volk. Skielik, onverwags, totaal.

    Waar by hierdie
    eerste maaltyd Ester se moed in haar skoene gesink het.

    Waar dinge
    baie donker gelyk het. Het die prentjie volledig verander by die tweede
    maaltyd. So het die HERE uitkoms verskaf.

    Vandag het
    ons ook deelgeneem aan ‘n maaltyd. Nie saam met koning Ahasveros nie, maar ons
    was aan tafel by die Koning van die konings.

    Kom ons prys
    en dank ons Heiland, Jesus Christus, dat Hy ons lot totaal verander het. Ons
    mog dit herdenk en vier met die nagmaal.

    Destyds in
    Ester se dae het die Verbondsgod dinge so gelei dat die Joodse volkie nie
    uitgemoor is nie. So het Hy die pad oopgehou vir die geboorte van die Messias. Inmiddels
    het die Messias gekom, Hy het sy taak op aarde vervul. Hy het gerertigheid en
    vryheid vir sy volk verwerf. Hy het weer opgevaar na die hemel, en Hy is daar
    nou gesete, as Koning van die konings.

    Kom ons
    aanbid Hom, prys Hom, dank Hom, omdat ons vandag saam met Hom maaltyd mag vier.

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)