Christus kondig die aangename jaar van die HERE aan

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-01-01
Teks: 
Lukas 4 : 18-21
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 1 Januarie 2017
AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 93:1,2,4

Wet

Ps 119:20

Gebed

Skriflesing: Levitikus 25:1-22

Ps 99:1,2

Skriflesing: Lukas 4:14-32

Ps 9:1,6,7

Teks: Lukas 4:18-21

Preek

Ps 9:10,14,15

Gebed

Kollekte

Ps 150:1,2,3

Seën

Preek: Lukas
4:18-21

Ons staan op die drumpel van ‘n nuwe jaar. Dit
is alweer die 17e jaar van die nuwe eeu, die derde millenium na Christus. Hoe
lank die wêreldgeskiedenis nog sal voortrol, weet ons nie. Wat ons wel weet, is
dat ons in genadetyd lewe. Aan die begin van die nuwe jaar staan ons hierby
stil. Genadetyd vir ‘n wêreld, wat so ver van die HERE en sy bedoeling met sy
skepping afgewyk het. Genadetyd vir ‘n mensdom, wat hulle hoe langer hoe meer
van die Skepper en sy goeie wette probeer losmaak.

Tema: Christus
kondig die aangename jaar van die HERE aan

  • ‘n teleurstellende konstatering

  • ‘n hoopvolle nuwe begin

  • ‘n teleurstellende konstatering

    In ons teks lees ons oor die aangename jaar. Dit
    word aangekondig vir hulle wat verbryseld is, vir die gevangens, vir die armes,
    vir die blindes. Is hierdie jaar dan bedoel vir ‘n selekte groepie mense in die
    kerk? As jy nie verbryseld of gevange of arm of blind is, het die teks vir jou
    dan wel ‘n boodskap? Om antwoord op hierdie vraag te kry, moet mens eers
    verstaan wat bedoel word met die aangename jaar van die HERE. Ons staan vandag,
    die 1e Januarie, stil by die aangename jaar van die HERE. En dit sal blyk dat
    dit ‘n jaar is waarmee elkeen van ons te make sal kry. Selfs hulle wat nie
    vanoggend in die kerk is nie. Elke mens op die hele aardbodem. Ons teks
    openbaar dat die Here Jesus gekom het om die aangename jaar van die HERE aan te
    kondig.

    Die Here Jesus verwys hier terug na die
    jubeljaar. Net soos die profesie in Jesaja 61 waaruit Hy aanhaal. Oor die
    jubeljaar het ons vandag ook gelees uit Levitikus 25. Daar, in die Torah, die
    wetboek van Moses, vind ons die instelling van die jubeljaar, asook die
    wetgewing ten aansien van hierdie besondere jaar.

    Dit was naamlik so dat God wou hê dat sy volk
    bewus met die tyd sou omgaan. Dat hulle werklik sou besef dat dit God is wat
    die tyd aan hulle gee.

    Hy, die Skepper van hemel en aarde, is ook
    die Skepper van die tyd. Elke dag, elke maand, elke jaar. En behalwe dat Hy
    Skepper van die tyd is, het Hy ook ‘n ritme in die tyd gelê. Elke maand met sy
    dae, elke jaar met sy seisoene. Net soos musiek oewerloos sou klink sonder ‘n
    ritme, ‘n vaste maatslag, so geld dit ook vir die tyd. God het ‘n ritme in die
    tyd gelê.

    Dink maar terug aan die skeppingsgeskiedenis.
    In ses dat het God die hemel en aarde geskape, en op die sewende dag het Hy
    gerus. God is ook die Skepper van die ritme in die tyd. Dat ‘n week uit sewe
    dae bestaan.

    En dat daar elke sewende dag ‘n ruspunt is.

    Die ritme wat God in die tyd gelê het, het
    egter nie net uit weke, maande en seisoene bestaan nie. In Levitikus 25 het ons
    gelees dat  God ook ‘n ritme in die jare
    gelê het. Ons lees hier oor ‘n sabbatsjaar en ‘n jubeljaar. Elke sewende jaar
    ‘n sabbatsjaar, en elke vyftigste jaar ‘n jubeljaar. En ook vir hierdie twee
    spesiale soort jare geld wat vir die sabbatdag geld, naamlik dat dit ‘n
    bepaalde rusperiode behoort te wees.

    Maar, gemeente, hoekom wil God eintlik dat sy
    skepping elke soveelste dag, en ook elke soveelste jaar, rus? Die antwoord vind
    ons in die vierde gebod.

    In die eerste plek omdat God die mens, en die
    res van sy skepping, so geskape het. God ag dit belangrik om elke sewende dag
    te rus. So Skepper, so skepping. God se skepping sit op dieselfde manier in
    mekaar. Dit is soos die vierde gebod in Exodus 20 gemotiveer word. En in die
    tweede plek, God wil ook dat sy volk tyd apart sit om aan hulle bevryding te
    dink. Hulle bevryding nie slegs uit slawerny van Egipte nie, maar uit die
    slawerny van die sonde. ‘n Bevryding wat nie ‘n eenmalige gebeurtenis lank
    gelede is nie, maar wat ons mens sabbat na sabbat, oftewel Sondag na Sondag,
    weer nodig het. Bevryding wat God beloof het, en ook daadwerklik skenk.

    So word die vierde gebod in Deuteronomium 5
    gemotiveer. ‘n Dag om af te vat, om te fokus op jou verlossing, om God daarvoor
    te dank, en om daaroor te besin hoe jy in die komende week jou verlossing gaan
    uitleef, hande en voete daaraan gaan gee. Daarvoor het God die sabbat, die
    Sondag, ingestel.

    En gemeente, die sabbats- en jubeljaar lê in
    die verlengde hiervan.

    Soos ‘n gelowige Israeliet elke sewende dag
    moes dink aan sy sonde van die vorige week, daarvoor vergewing vra, en bly wees
    oor die skuldvergifnis, so  dieselfde beeld
    vir die sabbats- en jubeljaar.

    Maar dan het dit veral gehandel oor sake wat
    hulle oor ‘n langer termyn uitgestrek het. Die volk moes breek met sondige
    praktyke wat daar in die afgelope 6, of in die afgelope 49 jaar gegroei het.

    Sondige praktyke, skeefgroei, wat in die
    samelewing plaasgevind het.

    Sondige praktyke wat die samelewing begin
    versuur het, begin uithol het.

    Vir hierdie rede het God die sabbats- en
    jubeljaar ingestel.

    Laat ek my ter illustrasie vir ‘n oomblik tot
    die jubeljaar beperk.

    In die jubeljaar, elke vyftigste jaar, ‘n
    gemiddelde Israeliet sou dit dus slegs een keer in sy lewe meemaak, moet daar
    ‘n jaar van besinning wees. Ons sou vandag sê: die hele samelewing moet
    onderwerp word aan ‘n ingrypende reorganisasie. Dit met die doel om die
    maatskappy te suiwer van dinge wat skeefgegroei het. Om die samelewing weer
    gesond te maak.

    In die jubeljaar moes daar veral aan die
    volgende sake aandag gegee word, vergelyk Levitikus 25:

    In die eerste plek die vrylating van slawe. Israeliet
    wat in die voorafgaande 50 jaar so diep in die skuld gekom het dat hulle selfs
    hulleself moes  verkoop, hulle sou in die
    jubeljaar ‘n nuwe kans kry.

    In die tweede plek die natuur.

    In hierdie jaar mag daar geen
    landbou-aktiwiteite wees nie. Die land moes rus. Wat vanself nog opgekom het
    gedurende daardie jaar, Moses noem byvoorbeeld die druiwe aan ‘n ongesnoeide
    wingerd, dit was spesiaal vir die armes bestem: vir die mense wat self nie
    genoeg reserwes gehad het om hierdie jaar van rus deur te kom nie. Hulle mog in
    hierdie jaar geen gebrek ly nie. En dan in die derde plek het die jubeljaar ook
    konsekwensies gehad vir die mense se besit, vir alle onroerende goed.

    Wanneer mense byvoorbeeld in die afgelope 50
    jaar hulle familieplaas, of hulle huis moes verkoop om uit die skulde te kom,
    dan het hulle in die jubeljaar ‘n nuwe kans gekry.

    ‘n Nuwe kans.

    Tog was dit nie die bedoeling van hierdie
    jaar om die skulde van die mense wat nie met geld kon werk nie, deur die
    vingers te sien nie. Skelms mog ook nie misbruik maak van hierdie jaar van
    gulheid nie. Dit blyk wel uit verse 14-17 van Levitikus 25. Daar waarsku God
    vir misbruik van die jubeljaar.

    Dit was nie moontlik om jou stuk grond
    byvoorbeeld vlak voor die jubeljaar vir baie geld te verkoop, en om dit dan in
    die jubeljaar weer gratis terug te kry nie. Jy kon slegs die vruggebruik van
    jou grond verkoop, soos dit heet.

    Dit grond het joune gebly. Of, nog meer
    korrek, die grond het van God gebly. Die grond was nie eers jou eiendom nie. Die
    grond behoort aan God.

    Jy mag daarvan gebruik maak vir die tydjie
    wat jy op aarde lewe. Jy mag geniet van God se skeppingsgawes, juis met die
    doel om Hom te dien.

    Jou lewe sal hooguit 100 jaar duur. Daarna
    gee God die grond weer aan ‘n ander.

    Die jubeljaar was dus bedoel om misstande,
    konkrete gevolge van die sondige geaardheid van die mens, weer op te ruim. In
    die jubeljaar moes God se bevryding hande en voete kry. God se verlossing nie
    slegs van jou siel nie, maar ook van harde misstande op aarde. Met die
    jubeljaar wou God ‘n duursame samelewing waarborg. ‘n Ekonomie tot sy eer en
    tot voordeel van almal. ‘n Duursame ekonomie waar elkeen besef dat hy hierdie
    aarde slegs in bruikleen het.

    Alles met die doel om die Skepper te eer.

    Broeders en susters, hoekom vier ons eintlik
    nie so ‘n jubeljaar nie? Ons vier tog elke week Sondag, die Dag van die Here? Ons
    vier die bevryding van die sonde, danksy Christus se opstanding op die eerste
    dag van die week. Sou dit nie ‘n goeie idee wees om weer ‘n keer ‘n jubeljaar
    uit te roep nie? Of ten minste net ‘n sabbatsjaar? ‘n Jaar om te gebruik om al
    die misstande, al die gemors van die afgelope jare, op te ruim? In ons land sal
    ons maklik ‘n jaar daarmee kan vul. En dan dink ons nog nie eers aan alle
    skeefgroei op internasionale vlak nie. ‘n Jaar om mense los te wikkel uit die
    wurggreep van materialisme, of kapitalisme, of kommunisme. Eintlik smag mens en
    dier, ja die hele skepping, na ‘n jubeljaar.

    Gemeente, miskien kom dit as ‘n ontnugtering,
    veral nadat ons hierdie pragtige hoofstuk uit Levitikus 25 gelees het, so
    propvol goeie bedoelings en instruksies. Maar feit is, as mens die geskiedenis
    naspeur, sedert hierdie wetgewing uitgevaardig is, sedert Moses hierdie
    bepalings namens God aan die volk voorgehou het, feit is dat die jubeljaar,
    hierdie indrukwekkende instelling van God, nooit werklik gevier is nie. Selfs
    nie in die Ou Testament nie. Die volk Israel het dit wel reggekry om die
    sabbatdag te vier. Om vaste afsprake in hulle samelewing, in hulle wetgewing,
    neer te lê wat gesorg het dat die sabbatdag onderhou is. Al het dit nie altyd
    maklik gegaan nie, lees maar die profete van die Ou Testament wat die volk
    aangevat het op hulle gebrek aan onderhouding van die sabbatdag. Maar, by die
    onderhouding van die jubeljaar het hulle nooit uitgekom nie. Altans, ons het
    nie historiese bewys dat hierdie jaar ooit gevier is soos hy bedoel is hier in
    Levitkus 25 nie. Dat daar ooit ‘n jaar was wat ingerig is volgens die voorskrifte
    in die wet van Moses. Ons het selfs nie eers ‘n bewys dat die sabbatsjaar, dus
    elke sewende jaar, ‘n vaste instelling in Israel geword het nie. God se eie
    volk het vasgehaak by ‘n gebroke samelewing. Hulle het nie die moed gehad om ‘n
    jaartjie daarvan af te sien nie. Hulle het te vas gesit aan die sonde. Hierdie
    goedbedoelde wetgewing kon geen ingang in die praktyk vind nie. En die verwyt
    dat hulle hulle nie aan die sabbats- en jubeljaar gehou het nie, klink soos ‘n
    refrein deur die Ou Testament. Dit word selfs aangevoer as rede waarom die volk
    in ballingskap gegaan het. In 2 Kronieke 36 staan: die volk het in ballingskap
    gegaan, totdat die land sy sabbatsjare vergoed gekry het.

    Al die dae wat die land woes gelê het, het
    dit gerus, om 70 jare vol te maak.

     

    Waarom, ek herhaal my vraag, sou dit nie ‘n
    goeie idee wees om ‘n jubeljaar te vier nie? Waarom sou ons dit nie probeer
    nie? Gemeente, die antwoord moet ons maar eerder eerlik onder oë sien. Ook al
    sou ons as mense dit wou, ons gaan dit nie regkry nie. Ons sit te vas aan die
    sonde. Die jubeljaar, die aangename jaar van die HERE, dit sal maar net iets
    bly om na te smag.

    ‘n Teleurstellende konstatering, inderdaad!

    (Tema: Christus kondig die aangename jaar van
    die HERE aan

  • ‘n teleurstellende konstatering)

  • ‘n hoopvolle nuwe begin

    In ons teks praat die Here Jesus oor die
    aangename jaar van die Here. Hy bedoel dan nie net aangenaam in die gewone sin van die woord nie. Sê maar iets soos
    dat dit lekker voel nie, of dat dit voor die wind gaan nie. As Jesus die woord aangenaam gebruik, skuil daar ‘n diep
    betekenis agter.

    Ons Heiland verwys hier naamlik na die
    instelling van die jubeljaar. Net soos trompette volgens die wet van Moses die
    jubeljaar moes aankondig, so doen Jesus dit nou. Sy stem klink soos ‘n trompet
    vanuit die sinagoge te Nasaret. Deur sy prediking, deur sy optrede staan daar vir
    die volk iets groots te wagte!  Iets wat
    die hele samelewing in beroering gaan bring.

    Elkeen sal daarmee in aanraking kom, arm en
    ryk, gevangene en vrye, blinde en siende, gebrokene en gesonde, elkeen, en dan
    ook in die diepste sin van die woord. Naamlik bevryding van sonde, bevryding
    van die satan.

    Ons teks is ‘n aanhaling uit ‘n profesie van
    Jesaja. Jesus het voorgelees uit die boekrol Jesaja. Hy het ‘n profesie
    voorgelees wat ook oor die jubeljaar gehandel het. Jesaja 61.

    Jesaja het daarna gesmag dat so ‘n jaar ooit
    ‘n keer sou aanbreek. En in opdrag van die Gees van die HERE profeteer hy oor
    hierdie jaar. Dit sal ‘n keer
    aanbreek in die toekoms. God sal self
    daarvoor sorg!

    En nou, gemeente, met Jesus se koms, was dit
    so ver! Jesus roep die aangename jaar van die HERE uit. Nadat Hy die profesie
    van Jesaja voorgelees het, sê Hy: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul!

    Geliefde gemeente, slegs ons Heiland waag Hom
    aan so ‘n uitspraak. Slegs ons Heiland is in staat om die konsekwensies van
    hierdie uitspraak te trek, om daarvoor pa te staan. Die aangename jaar van die
    HERE: Ek hoop om dit vir julle te bring!

    Broeders en susters, ons staan vandag op die
    drumpel van die jaar 2017.

    Of ons dit besef of nie, ook hierdie jaar
    ontvang ons as ‘n geskenk van God.

    Sal dit ‘n aangename jaar word? U het tien
    teen een al begin beplan vir die jaar 2017. Wat jy hierdie jaar wil doen, in
    jou werk. Of word dit miskien die jaar waarin jy gaan aftree? Na watter graad
    jy gaan, op skool. Watter studie jy wil volg, hierdie jaar. Dalk is daar
    gelukkiges onder ons wat al selfs vakansieplanne gemaak het vir êrens in 2017.

    Maar miskien gebeur daar hierdie jaar ook
    onverwagte dinge in jou lewe, goed of sleg. Dalk ontmoet jy jou lewensmaat. Dalk
    kry jy ‘n nuwe werk.

    Dalk word jy getref deur ‘n terugslag, ‘n
    ongeluk. Dalk breek jou eie sterfdag aan in hierdie jaar. Sal dit ‘n aangename
    jaar word?

    Wat is eintlik ‘n aangename jaar?

    Gemeente, laat ons vandag, op die drumpel van
    2017, in die eerste plek besef van wie ons ons tyd ontvang. God skenk ons elke
    dag, elke week, elke maand, elke jaar. En of dit aangenaam sal wees, hang van
    Hom af. Deur alle eeue heen het geen mens, geen samelewing, dit nog gewaag om
    ‘n jubeljaar uit te roep nie. Om hierdie gesondmakende, maar wel ingrypende
    wetgewing in praktyk te bring nie. Geen mens, of liewer, daar is een uitsondering.
    Want in ons teks het Christus dit wel aangekondig. Hy het wel daardie moedige
    stap geneem. Aan die begin van sy ampsperiode kondig Hy in die sinagoge van
    Nasaret sy program aan. En die skare was verslae oor sy leer, staan daar in
    vers 32. Want sy woord was met gesag.

    Dit was nie sommer net mooi woorde nie, Hy
    het self daarvoor ingestaan.

    Dus gemeente, danksy Jesus Christus weet ons
    dat daar soiets bestaan, kan bestaan, nie net in wetboeke nie, maar ook in die
    praktyk. ‘n Jubeljaar.

    Die wet van Moses is nooit uitgevoer nie. Dit
    is slegs op papier, of destyds was dit ‘n kliptafel, gerealiseer. Maar Christus
    het gesorg dat die bedoeling van hierdie wet tog voortgang vind. In die nuwe
    bedeling plant Christus vir Homself ‘n kerk. En juis vanuit die kerk begin die
    aangename jaar van die Here in die nuwe bedeling gestalte kry. Vanuit die kerk
    word mense se lewens herstel. Vanuit die kerk word, ja behoort!, die misstande
    in die samelewing aangekaart te word, en daarnatoe gewerk te word dat dit ook
    opgeruim word! Asof die kerk geen boodskap vir die samelewing sou hê nie.  Dit is die kerk se roeping, trou aan haar hoof
    Christus. Soos iemand ‘n keer gesê het. Daar is slegs een ekonimie wat goed is
    vir die hele skepping.

    Geen kapitalisme, geen kommunisme. Nee, dit
    is die nagmaalsekonomie.

    Slegs as ‘n mens leer om uit genade te lewe,
    alles van Christus te verwag, slegs so ‘n mens kan verantwoordelik omgaan met
    die skepping.

    Met sy naaste, met grond, met geld, met sy
    liggaam, met sy tyd.

    Ek roep u vandag daarom op, gemeente, aan die
    begin van ‘n nuwe jaar:

    Gee u lewe vir 2017 vorm vanuit die kerk. Die
    kerk, daar waar die Woord verkondig word. Dieselfde Woord wat Christus destyds
    in die sinagoge van Nasaret gebring het. Kom elke Sondag in 2017 trou kerk toe,
    oggend en aand. Sodat die prioriteite van jou lewe daar, aan die begin van elke
    nuwe week, weer reggestel kan word, weer op skerp gestel kan word.

    Moenie jou lewe, jou lewenskoers, laat
    bepaal, deur enigiets anders nie.

    Moenie op sleeptou geneem word deur wat die
    media jou voorskotel, faceboekvriende, moenie jou deur die politiek laat lei
    nie, moenie jou deur geld laat lei nie, moenie jou deur ‘n wêreld wat los van
    God leef laat lei nie.

    Kom trou kerk toe in 2017. Dit is wat saak
    maak! Laat dit jou voorneme vir 2017 wees. Stel jouself 100% beskikbaar om
    mede-arbeider in Christus se koninkryk te wees. Jy’t nie ‘n keuse nie. Christus
    beveel jou.

    Hy is ernstig om sy planne vir ‘n jubeljaar
    op aarde te verwesenlik, ‘n permanente jubeljaar. Dit is of in of uit. Wees toegewyd.
    Jou lewe, jou tyd behoort nie aan jouself nie. Alles is van Christus.

    Mag 2017 ‘n jaar van bloei word vir Christus
    se kerk, ook sy gemeente hier plaaslik. Dra jou deel by, moenie lyf wegsteek
    nie. Die ouderlinge kan dalk roukol hou, watter gemeentelede ontrou begin word
    in kerkbywoning.

    Maar die ouderlinge is nie in staat om alles
    te sien nie. Christus sien wel alles. Hy sien alles in jou lewe. Hy kyk binne
    in jou hart, na jou motiewe.

    Jy kan nie vir Hom om die bos lei nie.

    Ons lewe in God se genadetyd. Hy gee alles,
    tyd, geld, grond, liggaam, aan ons in bruikleen. Genadetyd. Nie tyd waarop ons
    reg het nie.

    Ons lewe is in sy hand. Laat ons daarom ook
    in DV 2017 ons tyd op ‘n bewuste manier gebruik.

    In ons teks het Christus die aangename jaar van
    die HERE aangekondig.

    Hy het ‘n hoopvolle nuwe begin gemaak. Die
    feit dat jy hier is, hier in die kerk, op hierdie eerste dag van die nuwe jaar,
    dit is onderdeel van sy kerkvergaderende werk. Hy span jou in. Hy soek nie lou
    arbeiders in sy koninkryk nie. Jy sit hier vandag, en Hy roep jou op om vir
    100% in sy diens te staan in 2017. Niks niks minder nie. En waarom sou ons nie
    vir Hom in brand staan nie? Wees maar net bewus van sy genade wat alles
    moontlik maak. Ook 2017 is tyd wat Christus, wat heers aan God se regterhand, wil
    gebruik om te werk na die koms van die jongste dag, die werklike aanbreek van
    die aangename tydperk.

    Die dag waarop Hy die jubeljaar vergoed sal
    laat aanbreek.

    Die dag waarop daar restitusie sal plaasvind,
    eerlike restitusie.

    Waarop elkeen aan God die eer sal gee wat Hy
    toekom.

    Die dag waarop Christus vrede op aarde sal
    aankondig.

    Amen. 

Liturgie: 

(kyk in preek)