Die eerste gebod plaas die HERE op die eerste plek

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-01-15
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34 vraag en antwoord 94 en 95
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
15 Januarie 2017 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 1:1

Gebed

Skriflesing: 1 Konings 18:20-40

Sb 26:1-4

Skriflesing: Mattheüs 10:24-42

Ps 1:2,3

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 34, v/a
94-95

Preek

Ps 107:1,2,18-21

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 1:4

Seën

Preek:
Heidelbergse Kategismus 34,94-95

Ons begin vandag met die behandeling van die
eerste van die tien gebooie, aan die hand van die Kategismus. Aan die begin van
‘n nuwe jaar kom dit goed uit. Dat ons onsself weer opskerp, die komende
Sondae, hoekom die HERE elkeen van hierdie gebooie uitgevaardig het. Die tien
gebooie is in die eerste plek, om dit deftig te sê, kenbron van ons ellende. Ons
kyk soos in ‘n spieël, figuurlik, en sien waar daar mankemente is. Ons leer ons
ellende raaksien. Maar die tien gebooie is ook, soos dit eweneens deftig gesê
word, reël vir ons dankbaarheid. Want hier, in die derde deel van die
Kategismus, mag ons leer hoe ons ons dankbaarheid hande en voete kan gee.

Dankbaarheid vir ons Here Jesus Christus se
verlossing. Wat al ons skuld afbetaal het, wat ons nou wil verbeter, vernuwe,
met sy Heilige Gees. En noudat die Heilige Gees in ons woon, gebruik Hy die
tien gebooie om aan ons toewyding te werk. Beide hierdie twee funksies van die
wet is vir ons dus onverminderd van belang:

  • die wet as kenbron van ons ellende

  • en die wet as reël vir ons dankbaarheid.

    Tema: Die
    eerste gebod plaas die HERE op die eerste plek

  1. Plek van die gebooie in ‘n
    bekeerde lewe

  2. Aktualiteit van die eerste gebod

  3. Oproep om die HERE te vrees

  1. Plek van die gebooie in ‘n bekeerde lewe

    Selfs vir die grootste sondaar is daar
    vergewing. Dit is die boodskap van die Evangelie, wat die Kategismus ook
    beklemtoon. Telkens word weer op hierdie aambeeld gehamer. Genade alleen. En
    die oproep, gee jouself oor aan hierdie genade. Terselfdertyd is die
    opvolgboodskap: noudat jy gered word, kan jy nie bly soos jy was nie. Die
    geloofsband met Christus bly nie vrugteloos nie. Sy Heilige Gees vernuwe jou. Daarvoor
    gebruik die Gees die wet. Om ‘n Geesvervulde mens te wees, dit het alles met
    die wet te make.

    Het jy die wet as bekeerde mens nog nodig? Uit
    en uit, ja! Watter Christen word in hierdie lewe al volmaak? Watter bekeerde
    mens kan in hierdie lewe alle sondes agter hom of haar laat? Niemand nie. Was
    dit maar so dat dit kon! Ons moet dus telkens weer op ons sonde gewys word. Daarby
    is die wet onmisbaar. In die spieël van die wet sien jy jou sondes raak, wat jy
    anders oor die hoof sou gesien het, of nie sou besef het dat dit sondig is nie.

    Vervolgens wys die wet jou ook die pad, hoe
    om jou lewe te verbeter.

    Dis net soos by ‘n huwelik. Julle wil van
    mekaar weet hoe julle mekaar die beste kan bystaan. Dit is iets waarna mens
    telkens weer vra.

    So vra jy ook aan Christus: hoe kan ek die
    beste my lewe aan U toewy?

    Hierby help die wet dus. En dan moet ons nie
    net aan die wet in terme van die 10 gebooie dink nie. Dis maar net ‘n kort
    samevatting van heel God se wil, soos ons dit in die hele Bybel vind. Die 10
    gebooie begin met die aanhef, Exodus 20:1, waar die HERE sy volk aan die groot
    verlossing uit Egipte herinner.Hierdie aanhef lê in die verlengde van die
    verondssluiting, Exodus 19, waar die HERE sê:

    “Julle het self gesien wat Ek aan die
    Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My
    toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou,
    sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En julle sal vir My ‘n koninkryk van
    priesters en ‘n heilige nasie wees.” (vers 4-6)

    In Christus het hierdie ou verbond oorgegaan
    in die nuwe. Dus die aanhef by God se wet vandag behoort ons te herinner aan
    die groot verlossing, nie uit Egipte nie, maar die groot verlossing van
    sondaars deur Christus se dood aan die kruis.

    Vanuit hierdie aanhef moet daar vervolgens
    nadruk gelê word op die eenheid van God se gebooie. Mens kan nie die gebooie
    teen mekaar afspeel nie. As jy een gebod oortree, staan jy op gespanne voet met
    heel God se wil, kom die verhouding met God onder spanning. Soos Jakobus skryf
    (Jak 2:10): “wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan
    almal skuldig geword.”

    Na die aanhef volg dan die eerste gebod, oor
    die groot gevaar van afgodery.

    As jy in die plek van God, die God wat Hom in
    die Bybel openbaar het, iets anders uitdink of het waarop jy jou vertroue stel.
    Maar dit kan ook anders, minder opvallend. As jy probeer kombineer. As jy naas
    God, behalwe vir God, nog iets of iemand het waarop jy vertrou.

    (Tema: Die eerste gebod plaas die HERE op die
    eerste plek

  1. Plek van die gebooie in ‘n bekeerde lewe)

     

     

    2         Aktualiteit van die eerste gebod

    Vir Israel was hierdie gebod baie aktueel. Dit
    was vir hulle ‘n groot verleiding. Dink aan die afgode: Baäl, Astarte, Dagon,
    Kamos, ensovoorts.

    Dink aan die titaniese stryd, waarin die
    profeet Elia by die berg Karmel gewikkeld was. Sy boodskap was sonder
    kompromis: die volk kon en mog nie op twee gedagtes hink nie. Daar kon slegs
    gekies word tussen die HERE en Baäl, nie gekombineer word nie (1 Konings 18). Maak
    nie saak hoe jy Baäl gedefinieer het, hetsy as ‘n persoon, hetsy as slegs ‘n
    vrugbaarheidskrag in die natuur. Nee. Die HERE alleen!

    Hieruit blyk die aktualiteit van hierdie
    gebod. In ons tyd sal mense dit dalk vreemd vind as jy oor die bestaan van
    afgode praat, asof dit lewende wesens, lewende persone is. Maar dit beteken nie
    dat ons tyd geen afgode ken nie. Die afgode skryf mense dalk nie met ‘n
    hoofletter nie, maar hulle dien hulle wel. Geld en goed staan natuurlik baie
    hoog aangeskrewe. Die diens aan die materialisme vier hoogty. Soseer dat ook
    kerkmense gereeld onder die verleiding staan om hulle Sondagsrus daarvoor op te
    offer. Soseer dat ook kerkmense gereeld onder die verleiding staan om God se
    goeie gebod te verontagsaam. Wat is aan die hand, as jy dit oorweeg, as jy die
    druk voel, om ‘n gebod langs jou neer te lê? 
    Wat aan die hand is, is dat ‘n afgod beheer probeer oorneem oor jou
    lewe. Verstaan jy dus nou hoe elke gebod, of dit nou die 4e of 7e gebod is, hoe
    elke gebod direk gekoppel is aan die 1e gebod? Wie nie die Here, maar sy besit
    of inkomste of wat ook al, op die eerste plek plaas, oortree die eerste gebod. So
    kan daar voorbeelde genoem word by elke gebod. Ons kom weer daarop terug.

    Die Kategismus noem tweedens, na afgodery,
    ook towery. Die woord mag dalk swartmense bang maak, oor die algemeen is ons
    meer nugter. In hekse, towerstokkies, muti en sulke dinge glo ons nie meer nie.
    Hoewel.

    Is ons werklik so nugter? Want daar is, ook
    in Westerse samelewings, weer ‘n stygende belangstelling vir okkultisme. Ons
    kinders en kleinkinders groei wat dit betref in ‘n ander tyd op as ‘n paar
    dekades gelede.

    Die Kategismus noem ook waarsêery. Dit is ‘n
    gruwel vir die HERE. Wanneer mense wiggelary, die sterre of horoskoop, as dit
    oor die toekoms gaan, meer vertrou as vir God. Ook dit is iets waaraan baie
    mense uit ons samelewing verslaaf geraak het. Dit kom deesdae terug in die mode
    van tattoos, waar mense sogenaamd gelukbringende tekens op hulle liggaame tatoëer.

    Die Kategismus noem ook bygeloof. Dit gaan
    oor uiteenlopende dinge, waaraan geloof geheg word. ‘n Mens ontken dan nie die
    ware geloof nie, maar jy heg wel besondere waarde ook aan ander sake. Dinge wat
    mens aflei van die aandag vir die HERE. Wie homself op die HERE alleen rig,
    vind rus in sy lewe, en hoef nie steeds aan alle risiko’s te dink nie.

    Die Kategismus noem ook die aanroeping van
    heiliges of ander skepsels.

    Dan hoef ons nie net te dink aan die verering
    van heiliges in die Roomse kerk nie. Verering van mense gebeur op groot skaal
    in ons samelewing.

    Sporthelde, celebrities, politici, of nog
    nader aan huis: dalk ‘n persoon in jou familie of vriendekring. Elkeen van ons
    het die sondige neiging om ‘n bepaalde persoon so te begin bewonder, dat dit
    afgodiese trekke kry. Dit lei daartoe dat daardie persoon jou lewe begin
    beheers, met die gevolg dat jou Heiland, wat eintlik jou lewe behoort te
    beheers, op die agtergrond raak.

    Die HERE wil die vernaamste plek in jou lewe
    inneem. Drie keer lees ons in antwoord 94 die woordjie ‘alleen’. Alleen op Hom
    vertrou. Alleen jou aan Hom onderwerp. Alles alleen van hom verwag. Om dit te
    bereik, dat die HERE so die vernaamste plek in jou lewe inneem, moet jy natuurlik
    die HERE eers ken. Jy moet weet wie jou Skepper en Verlosser is. Daarvoor moet
    jy sy Woord ken. As jy Hom goed ken, sal jy Hom ook leer vertrou.

    Daarnaas moet jy jou ook aan Hom onderwerp. Dit
    doen ons nie uit onsself nie. Ons maak liewer self uit wat ons doen. Maar dit
    beteken konkreet, dat jy jouself op die troon plaas, en dit is ook afgodery. By
    die eerste gebod hoort dat jy nederig en geduldig jou aan God onderwerp. Jy
    verwag van Hom alleen alles wat goed is.

    In hierdie verband moet ek noem dat die
    belangrikste woord, as dit oor die 1e gebod gaan, nog nie aan die orde was nie.
    Dit is die woord liefde. Dink aan die
    samevatting van die wet wat Jesus gegee het. Jy moet die HERE jou God liefhê
    met jou hele hart, met jou hele siel en met jou hele verstand.

    As ek formeel my pligte teenoor God nakom, is
    ek nog nie in lyn met hierdie gebod nie. Hierdie gebod wil ook dat ek God
    hartlik liefhet. Hy het alle reg daarop. Het Hy jou as sondige mens nie alreeds
    uitnemend liefgehad nie?

    As dit goed is, troon die liefde vir God bo
    alles uit. Bo man of vrou, bo vader of moeder, bo seun of dogter, bo alle
    besit, bo alles uit.

    (Tema: Die eerste gebod plaas die HERE op die
    eerste plek

  1. Plek van die gebooie in ‘n bekeerde lewe

  2. Aktualiteit van die eerste gebod)

    3         Oproep om die HERE te vrees

    Met hierdie gebod staan daar baie op die
    spel. Die Kategismus bely dat my saligheid daarvan afhang. My sieleheil. Dis
    lewensnoodsaaklik om die ware God alleen te dien. Vir jou, vir u, vir elke mens
    op aarde. Daarom het dinge soos sending en evangelisasie so ‘n belangrike plek.
    Daarom moet jy ook daarby betrokke wees. Volgens die eerste gebod het elkeen
    die plig om homself en sy naaste weg te roep van die afgode af, na die ware God
    toe.

    Eintlik het die eerste gebod met alles te make,
    met alles in die lewe.

    So aan die begin van ‘n nuwe jaar word jy
    daarom opgeroep: Dien die ware God. Gryp alle geleenthede aan om Hom en sy wil
    beter te leer ken.

    Neem jou voor om hierdie jaar elke Sondag
    twee keer kerk toe te kom.

    Neem jou voor om aktief deel te neem aan die
    Bybelstudies. Neem jou voor om aktief katkisasie by te woon, nie net omdat jy
    moet nie. Neem jou voor om elke dag, persoonlik, in gesinsverband, die Bybel
    oop te maak.

    Dit gaan daaroor dat jy Hom en die lewenswyse
    wat Hy jou voorhou, vertrou. As jy voor belangrike beslissings in jou lewe
    staan, raadpleeg dan sy wil. Vra advies by die ampsdraers, wat God se wil op ‘n
    spesifieke punt is. Vertrou jy dat die Here vir jou die pad sal wys, dat Hy jou
    sal seën in die toekoms? Ook as sy weg nie die gangbare weg in die samelewing
    is nie?

    Ook as jy daardie weg soms alleen moet stap,
    altans vir jou gevoel? Vertrou maar, dat as jy gehoorsaam op God se weg gaan,
    jy nuwe vriende sal ontmoet. Soos die Here Jesus self beloof het: “elkeen wat huise of broers of susters of vader
    of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal
    honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe.” (Mattheüs 19:29)

    Laat ons ons met alle ootmoed en geduld aan
    die HERE onderwerp. Elke belydende lid, het met sy of haar geloofsbelydenis ‘n
    vraag beantwoord wat baie hiermee te make het. Dit is die laaste vraag by die
    geloofsbelydenis:

    “Beloof u ... dat u u aan die Christelike
    vermaning en tug sal onderwerp as u in leer of lewe u misgaan?”

    Geliefde broer, suster, sê jy nog steeds ja
    op daardie vraag? Hoe mooi is dit nie, as mense in die kerk met vermaning en
    tug in aanraking kom, dat hulle nie die kontak verbreek nie, dat hulle nie
    hulle onttrek nie, maar dat hulle in ootmoed en geduld luister. Kom ons neem
    ons weer voor, so aan die begin van ‘n nuwe jaar, om hierdie houding weer in te
    neem. Vroeg of laat kom elkeen van ons met tug in aanraking. Dis nie iets om
    voor skaam te wees nie. Die onderlinge liefdevolle tug, van ampsdraers na
    gemeentelede toe, en van gemeentelede na mekaar toe. Met ootmoed en geduld lê
    ek my neer by die HERE se wil. Al sê my gevoel dalk anders. Die HERE weet
    beter.

    En ek hoop dat ek dit later ook self sal
    insien.

    Dit gaan daarom dat jy met jou hele hart die
    HERE liefhet, vrees en eer.

    Die Kategismus merk op: selfs in so ‘n mate,
    dat ek eerder van alle skepsels afsien, as dat ek in die minste teen sy wil sou
    handel. Die Kategismus roep ons op om hierdie grondhouding aan te neem. Oor
    hierdie grondhouding het ons ook in Mattheüs 10 gelees:

    “moenie vrees vir die wat die liggaam
    doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die
    siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matt 10:28)

    Met so ‘n ingesteldheid, so ‘n grondhouding,
    staan mens sterk. Dan is jy immuun teen die aanslae van die duiwel op allerlei
    gebied. Met hierdie grondhouding sal jy dit regkry, as jou baas jou in
    Sondagsarbeid in wil druk, om beleefd maar beslis vir jou beginsel uit te kom. Met
    hierdie grondhouding sal jy dit regkry om nee te sê vir pornografie. Met
    hierdie grondhouding sal jy dit regkry om jammer te sê, as jy jou naaste
    benadeel het. Met hierdie grondhouding sal jy dit regkry om die waarheid te
    praat, ook as dit jou op daardie oomblik nie goed uitkom nie. Met hierdie
    grondhouding sal jy dit regkry om ook geld oor te hê vir die kerk, en vir hulle
    wat behoeftig is. Met hierdie grondhouding sal jy dit regkry om, ook al is
    groot onreg jou aangedoen, nie wraak te neem nie, maar die straf aan die HERE
    oor te laat. Dit alles omdat jy die HERE liefhet en Hom nie wil bedroef met jou
    lewenswyse nie. Omdat jy God eer en Hom vrees. Die woorde eer en vrees staan
    ook in antwoord 94. Om die HERE te vrees beteken: nie om vir Hom bang te wees
    nie. Maar wel om bang te wees om Hom te bedroef.

    Geliefde broer, suster: vrees jy die HERE?

    Die tema van die preek lui: die eerste gebod
    plaas die HERE op die eerste plek. Dit is wat bedoel word om die HERE te vrees.
    Is Hy so ‘n realiteit in jou daaglikse lewe dat jy regtig bang is om ‘n gebod
    van Hom te oortree?

    Laat ons in hierdie sin liewerste bang mense
    wees. Dit kan geen kwaad nie, inteendeel. Wees bevrees vir Hom wat beide, siel
    en liggaam, kan verderwe in die hel. Daarom sien ek eerder van alle skepsels
    af, as dat ek in die minste of geringste iets teen sy wil sou doen.

    So roep ek u op, gemeente, dis die derde punt
    van hierdie preek, om die HERE te vrees. Laat Hy die eerste plek in jou lewe
    inneem in 2017.

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)