Preek oor Sondag 14 HK
Van ds FJ Bijzet
Ps.146:1,3,6
Lees: Lev.22:17-25; Lev.21:17-23; Hebr.7:26-28
SB.27:1b en 2a
Teks: Sondag 14 HK
SB.23:4
Ps.33:11
Ps.51:1
en 4
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus
Christus,
Miskien kan julle onthou, alhoewel dit ’n hele
aantal jare gelede gebeur het, waar ’n regter aan die ouers van ’n gestremde
kind skadevergoeding toegestaan het, omdat hul mediese dokter die geboorte van
hierdie kind nie verhoed het nie. Volgens die uitspraak was dit die dokter se
plig gewees om hul tydens die swangerskap in te lig dat hulle die opsie het om
die kind te laat aborteer. Dit het destyds groot opslae in die nuus gemaak.
Baie mense het vrae gehad oor hierdie saak. Sou
dit kon gebeur dat ‘n gestremde kind self skadevergoeding van sy ouers eis? Dat
so ‘n kind die vraag sou kan vra: “Hoekom het julle my geboorte nie verhoed
nie?” En wat van mense wat self gestremd is? Kan hulle dalk dink dat hulle nie
behoort te lewe nie? Dat hulle nie tuishoort in hierdie samelewing van mooi en
gesonde mense nie?
Verag God ook gestremde mense? Dit lyk na ‘n
snaakse vraag. Maar dink aan dit wat ons in Lev.21 gelees het. ”Geen man uit
die nageslag van Aäron, die priester, aan wie ‘n liggaamsgebrek is, mag nader
kom om die vuuroffers van die HERE te offer nie.” Geen priester met ‘n
liggaamsgebrek mog in die heiligdom diens doen nie. ‘n Blinde of ‘n lamme, of
iemand wat ‘n been of ‘n arm gebreek het of wat nie mooi herstel het nie. Iemand
wat in die gesig vermink is, of iemand by wie ‘n liggaamsdeel te lank is, of
wat ‘n boggel het.
Hoekom mog hierdie gestremdes nie voor God
dien nie? Was dit dan nie ‘n ernstige vorm van diskriminasie nie? Neem God ook
deel aan die media en advertensiewese wat ons wil laat dink dat ons samelewing
net uit gesonde welgeskape mense behoort te bestaan? Dit wil sê mense met ‘n
aantreklike en gesonde liggaam en pragtige wit tande.
Natuurlik het God wel skadevergoeding, in die
vorm van die daaglikse offers, vir al ons gebreke geëis. Elke dag weer moes
welgeskape offerdiere, diere wat sonder gebrek was, aan Hom geoffer word.
Gemeente, miskien wonder julle nou wat al
hierdie dinge eintlik met Sondag 14 van die Heidelbergse Kategismus te doen het. Sondag 14 handel mos oor die geboorte van Jesus Christus, uit die maagd
Maria, en dat Hy ‘n mens soos ons geword het? Behalwe natuurlik, op een
beslissende punt, daarin is Hy anders as ons: Hy het geen gebrek nie, Hy is ‘n
volmaakte mens. Hy is by Maria verwek, nie deur die mens Josef nie, maar deur
die Heilige Gees van God.
En toe het God versoening van al ons gebreke
van Hom geëis. Hy moes vir ons betaal. Dus gemeente, wat het God eintlik
probeer sê met die bepaling dat geen gebreklike priester in sy tempel mog dien
nie? Hou God glad van gebreklike mense nie? Kom ons stel dit onomwonde: voor
die Here is alle mense gelyk, of jy nou mooi en gesond is, of gebreklik en swak.
Voor die Here is een mens nie meer of minder as ‘n ander een nie.
Maar die keersy hiervan is dat die Here, met
die werksbeperkings wat Hy vir gebreklike priesters ingestel het, die hele volk
(ook die gesondes!) se aandag hierop wil vestig. Hulle moet stilstaan by die
feit dat ons menslike lewe beskadig is. Beskadig as gevolg van die sondeval. As
ons nog in die paradys geleef het, sou ons almal soos die mense in advertensies
gelyk het. Dan het krukke en rolstoele nie bestaan nie.
Ons moet eerlik met onsself wees: so lank as wat
ons gesond en sterk is en alles voor die wind gaan, staan ons nie sommer hierby
stil nie. Maar sodra ons met ‘n gebrek gekonfronteer word, by jouself of by ‘n
ander, word ons ondubbelsinnig daaraan herinner dat ons beslis nie meer in die
paradys lewe nie.
As ‘n mens die gebrek in jou eie lewe ervaar
kan jy jouself bejammer en beklaenswaardig voel, maar die Here verwag dat ons
eerstens bewus raak van ons skuld. Dit is nie sy fout dat die lewe van vandag
so gekneus en vermink is nie. Dat ons so vatbaar is vir virusse en breuke nie. Dat
ons so kwesbaar en sterflik is nie. Dis ons eie skuld. Hy is nie die oorsaak
van die sondeval nie, ons is!
En dit is om dié rede dat ‘n priester, wat so
duidelik die gevolg van die sondeval in sy liggaam saamgedra het, nie in God se
nabyheid mog dien nie. ‘n Priester met ‘n boggel, of misvormde hand a.g.v. rumatiek,
of dalk gedeeltelik verlam in ‘n arm of been na ‘n beroerte, was ‘n duidelike
bewys van die deur sonde geskende lewe. Daarom mog hy nie in God se nabyheid
kom nie.
Maar wat dan van ons eie broeders en susters
wat a.g.v. ‘n gebrek elke dag die verdriet en moeite daarvan ervaar? Tot hulle
troos kan ons dit sê: moenie jouself gestigmatiseer voel deur hierdie
wetsbepaling van God nie. Daar was immers nog baie meer bepalings waar die Here
mense uit sy nabyheid geweer het, nie net as iemand ‘n gebrek gehad het nie. As
enigiemand ‘n oop sweer gehad het, of naar was, of verkoue, of vroue wat
gemenstrueer het, en as ‘n mens aan ‘n dooie geraak het, dan mog jy ook nie in
God se nabyheid kom nie. God sien ook in hierdie dinge ‘n duidelike herinnering
aan die gevolge van die sonde.
En prakties beteken dit dus dat daar, uit die
groot volk van Israel, daagliks mense uit God se nabyheid moes padgee. Elke dag
was daar weer mense wat iets opgedoen het wat God nie naby Hom wou hê nie.
Maar gemeente, nou moet ons ook almal verstaan
dat, as God so nadruklik die geskende buitekant aantoon, hy ons dwing om na te
dink oor ons geskende binnekant. Want dít is waar die oorsaak en bron van die
verkeerde is, in ons sondige hart. Ons onvolmaakte buitekant, want ons weet mos
dat die liggaam wat vandag nog blakend gesond en mooi is, môre gedeeltelik of heeltemal
verlam kan wees, of met ‘n vergruisde been in ‘n hoësorg eenheid kan lê. Ons
onvolmaakte buitekant weerspieël ons geskende binnekant.
Die bepalings in Lev.21 was dus beskamend vir
die hele volk, nie net vir die priesters nie. Die priesters was immers die volk
se verteenwoordigers voor God. Eintlik was God se hele volk ‘n koninkryk van
priesters. Dis net dat die stam van Levi afgesonder was om die ander 11 stamme
voor God te verteenwoordig.
Maar aan die ander kant is hierdie bepaling
tegelykertyd bemoedigende evangelie. In plaas daarvan dat God alle priesters
ontslaan en huis toe stuur, in plaas daarvan dat God die hele volk uit sy
nabyheid verjaag – immers niemand onder die volk was volmaak of ongeskend nie –
in plaas daarvan het die Here tog mense toegelaat om in sy omgewing diens te
doen. Hy het die uiterlike mooi mense aan sy volk uitgewys: kyk dit was my
bedoeling met julle. My wil is dat dit weer so moet wees. Ek self sal sorg dat
dit gebeur. Die lewe sal weer ongeskonde word, en, nie net die uiterlike nie,
maar eerstens die binnekant. Ek sal by die mense woon, mense wat eendag weer
volmaak sal wees.
Daar is net een voorwaarde: die skuld moet
betaal word. Die skuld vir die geskende lewe soos wat ons dit ken. Alle
verkeerde dinge wat Hy, a.g.v. ons skuld, deur die eeue heen moes sien en
waarmee Hy moes saamleef. God het nie geld gevra nie. Hy het die offer van die
volmaakte lewe geëis. Dit verduidelik ook die ander bepaling waarvan ons gelees
het: alle diere wat aan Hom geoffer is, moes diere sonder gebrek wees. Diere
sonder gebreekte of verminkte liggaamsdele, sonder swere, sonder skurfte of
uitslag.
Ook hier sien ons dieselfde simboliek as by
die priesters: dit is hoe God dit altyd wou gehad het, ‘n ongeskende lewe wat
volkome aan Hom toegewy is. Net as dié één menselewe wat volmaak is aan Hom
geoffer word, sal dinge weer regkom op die aarde. Dus was die perfekte diere-offers
en die buite-aksie gestelde priesters van destyds nie die oplossing nie. Die
sonde is nooit hierdeur uitgeroei nie, en die mismaaktheid is nie hierdeur oorwin
nie.
Hierdie offers en voorskrifte was net ‘n
herinnering aan die verkeerde in die lewe, en ook hoe dit weer reggestel kon word.
God het met die simboliek van ‘n volmaakte priester en ‘n ongeskende offerdier,
na die volmaakte offer van sy eie Seun Jesus Christus heen gewys.
Kom ons keer nou weer terug na Sondag 14 van
die Kategismus. Ongeskende mense bestaan nie en sal ook nooit in hierdie wêreld
bestaan nie. ‘n Sondige geskende mens, kan net ‘n ander sondige geskende mens
voortbring. Dit is beskamend vir ons en ook iets wat ons gereeld skuldbewus kan
oordink. Ons beste vermoë, dat ons ‘n nageslag kan verwek en geboorte kan skenk,
staan ook in diens van die sonde.
As ons ‘n gestremde kindjie ontvang is dit
erg, maar is dit nie baie erger as ons ‘n sondige kind ontvang nie? Elke nuwe
lewe word in sonde in die moederskoot ontvang, en word as ‘n nuwe sondige
mensie gebore. Is dit dalk die rede hoekom Adam en Mannin hulle direk na die
sondeval vir hul naaktheid geskaam het? Elke nuwe baba is ‘n nuwe skakel in die
onafsienbare reeks sondige onvolmaakte mense.
En toe het God ingegryp en gesorg vir die één
Mens. Dié Mens wat nie in sonde ontvang en gebore is nie. God se Seun het van
die hemel op die aarde neergedaal en ‘n mens soos ons geword. ‘n Mens uit die
vlees en bloed uit die maagd Maria. Volkome mens! Om ‘n priester te word en Homself
as offerlam op God se altaar neer te lê. Dit om aan God vir eens en vir altyd
die skuld, waarop Hy reg het, te betaal.
Dit is ook hoekom Hy die volmaakte offerlam
moes wees, en tewens ‘n volmaakte priester. Sowel aan die buite- as aan die
binnekant. Sy ontvangenis in die moederskoot en geboorte moes dus ook anders wees.
Dit moes van die res van Adam se nageslag verskil. Hy is nie deur ‘n sondige
vader verwek nie, maar deur die Gees van die volmaakte hemelse Vader.
En dit klink nou asof dit die gewoonste saak
van die wêreld is. Asof dit elke dag in die wêreld gebeur. Maar gemeente, ek en
u weet dat ons van ‘n onvoorstelbare wonder praat. ‘n Onbegryplike gebeurtenis.
‘n Baba met ‘n aardse moeder, maar ‘n hemelse vader. Dit klink soos Griekse
mitologie, maar is die grootste wonder van alle tye.
God se hemelse seun het sy eie aardse moeder
gekies. Hy het nie sonder keuse in die lewe beland nie, nee Hy het self
daarvoor gekies om as baba gebore te word. Die eerste baba sonder enige gebrek,
maar tog volkome mens. Sodat Hy homself aan God kon oorgee in die volmaakte
priesterdiens.
Ons het nounet gevra of God gestremde mense
verfoei. Die teendeel is waar: God het die mense, wat deur hul eie skuld
gestrem is, lief. So lief dat Hy self mens geword het. Hy het sy volmaakte Seun
geoffer om ons volmaak te maak. Jesus het hier op aarde as mens gelewe, net
soos u en ek. Hy het nege maande in sy moeder gegroei en is soos alle ander
mense gebore. Hy het aan sy ma se borste gedrink, vuil doeke gemaak en gehuil. Hy
het leer loop en praat. Net soos ons.
En terselfdertyd was Hy anders as ons, want Hy
was sonder sonde. Aan die binnekant was en is Hy sonder enige gebrek, vol
liefde en toewyding aan God en vol ontferming teenoor sy medemens.
Maar aan die buitekant het Hy homself
bewustelik laat vermink. Hy het toegelaat dat hulle hom ‘n bloedneus gee en
blou oog slaan. Hy het Hom laat gésel dat die bloed loop, en sy kopvel laat
skeur deur die doringkroon. Sy polse en voete is deurboor met spykers. Maar aan
die binnekant was daar nie die kleinste gevoel van opstandigheid, woede, haat
en moedeloosheid nie. Nee, die binnekant was 100% liefde Hy was uiteindelik die volmaakte priester wat
homself as die volmaakte offer aan God gegee het.
Presies dié priester wat ons ook nodig gehad
het, soos ons in Hebr.7 gelees het. Want nou het God die volle betaling waarop
hy reg gehad het, ontvang. Die betaling wat Hy eers wou sien voordat Hy
geskende mense in sy nabyheid sou duld.
God stuur nou nie meer die gebreklike mense,
of enige mens wat Hom aan die sonde herinner, weg nie. Ook stuur Hy nie meer
die uiterlik geskende mens, wat aan die binnekant sleg en vol sonde is, weg nie.
Inteendeel, ons almal mag nou priesters en priesteresse in sy direkte nabyheid
wees.
Hy het elkeen van ons se liggaam - Kan jy dit
glo! - ‘n tempel gemaak waarin Hy wil woon. Ten minste as ons aan sy Seun
behoort, dié priester wat in ons plek die straf gedra het. As ons aan die Seun
wíl behoort en as ons weet en besef dat ons sonder Hom voor God onverdraaglik
is.
As ons aan Christus behoort, staan Hy tussen
elkeen van ons en God. Dat, alhoewel ons nog steeds mismaakte en sondige mense is,
“dat Hy ons Middelaar is en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde
waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.” (Sondag 14 HK). Wanneer God
dus vir ons kyk, sien Hy Christus, die volmaakte mens. En, as my en jou lewe
“Christus” is, sien God ons ook as volmaakte mense.
Maar gemeente, Christus doen meer as net dit. As
priester bedek hy nie net my mismaaktheid voor God nie, maar as koning vég Hy
ook teen die mismaaktheid. Hy dryf dit weg.
Daarom wou en is Hy, toe Hy as mens in die
wêreld gekom het, bewustelik as nasaat van koning Dawid gebore. Hy wou nie net
die Lam, wat vir ons sondes geslag is, wees nie, maar ook die leeu uit die stam
van Juda wat ons sondes bestry en oorwin. Hy het dus nie sommer die eerste en
beste maagd gekies om uit gebore te word nie, nee Maria, die nakomeling van
Dawid, moes sy ma wees.
En hiervoor vra Sondag 14 ook aandag. Dawid
was dié groot koning van Israel, soos geen ander koning nie. Hy was die eerste koning
wat die vyande tot buite die grense van die, deur God beloofde land, verjaag
het. Hy het ook die sonde binne die grense van die land teruggedring.
Nee, Dawid was glad nie ‘n volmaakte mens en
koning nie. Daarvoor het hy sy groot Seun en troonopvolger nodig gehad. Maar
tog was Dawid ‘n koning wat ‘n voorsmaak gegee het van hoe die lewe sal wees as
God die middelpunt is, wat onder andere welvaart en vrede insluit.
In hierdie lyn wou God se seun, as seun van
Dawid, dié werk voltooi. Nadat Hy die skuld vir ons mismaaktheid aan God betaal
het, wou hy ook die mismaaktheid opruim, hy wou daarvan ontslae raak. Beide dié
aan die binnekant en die buitekant.
Eerstens aan die binnekant deur met sy Heilige
Gees ons tot nuwe mense te maak. Mense wat net vir God wil lewe. Opregte
priesters en priesteresse.
Gemeente, weet dit: as jy aan Christus behoort
en sy Gees in jou woon, dan is jy, selfs al is jy ernstig fisies gestremd, meer
waardevol en aanvaarbaar vir God as die top presteerder of hoëvlak bestuurder
wat net vir geld en eie roem leef. As Christus jou koning is, dan is jy, ook al
is jy verstandelik vertraag, vir God 100 keer meer werd as ‘n ongelowige met ‘n
uitsonderlike hoë IK. So maak Christus geskende, sondige mense aan die
binnekant weer nuut voor God.
Maar ook aan die buitekant wil Hy ons herstel
en mooi maak. Dit het Hy mos duidelik tydens sy omwandelings op aarde gewys? Ons
weet hoe baie kreupeles, blindes en dowes Hy genees het! Krom gegroeide mense.
Hy het homself duidelik bekommer oor die lewe
wat deur die sondeval mismaak was. Baie mense het in Hom iets herken van die
vroeëre koning Dawid. Het dit julle opgeval hoe gereeld hulle geroep het: “Seun
van Dawid (!), ontferm U oor ons!”
Die genesings wat Christus destyds op aarde
gedoen het was maar net ‘n klein en tydelike begin. En daardie mense wat genees
is, het later weer siek geword of het dalk ‘n ander beperking opgedoen. Hulle
het later gesterwe. Hierdie gesondmakings van Christus was net ‘n tydelike
voorsmaak van die volmaakte lewe wat vir ons wag.
Hierdie seun van Dawid is nou in die hemel as
die volmaakte mens. Hy bedek elke dag ons mismaaktheid vir God. Hy maak dit
onsigbaar.
Tegelykertyd voel Christus saam met ons in ons
lyding as gevolg van die beskadigde lewe hier op aarde. Hy werk nou, as koning
in die hemel, ook dááraan dat God eendag by die mense kan woon, in ‘n lewe wat
in alle opsigte genees is. Hy sal na die aarde terugkeer om ons vernederde,
beskadigde, en deur sonde aangetaste liggame aan sy volmaakte liggaam gelyk te stel.
Aan sy liggaam wat nou reeds, deur die dood heen, verheerlik is.
Gemeente, neem hierdie volmaakte mens, wat
tegelykertyd God se Seun is, as u Redder aan! Erken dat ons lewe hier op aarde,
sonder Hom en deur ons eie skuld, mismaak sal bly.
Ons moet besef, broeders en susters, dat ons
hierdie onvolmaaktheid nooit met aborsies, die genadedood en skadevergoedings
wat deur ‘n regter toegeken word, sal kan verander nie. Ons sal die paradys hier
op aarde nooit terugkry nie. Maar, as ons onsself uitlewer aan die enigste
volmaakte mens, wat ons almal vrygekoop het by God, dan het ons die belofte van
‘n ewige ongeskende lewe.
Amen.
(kyk in preek)