PRETORIA-MARANATA, 26 Februarie 2017 AD,
17:30
Votum: sing Ps 121:1
Seën
Ps 33:2
Gebed
Skriflesing: Exodus 21:28-32; Deuteronomium 22:8
Ps 91:1,2
Skriflesing: Mattheüs 4:1-11
Ps 91:5,6,8
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 40
Preek
Ps 139:6-12
Gebed
Kollekte
Ps 36:2,3
Seën
Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 40
Jy mag nie
doodslaan nie. Dit sal ons natuurlik beaam. Maar besef u wel hoe verstrekkend
die 6e gebod is? Daarna wil ons kyk in hierdie preek. Ek verkondig u God se
Woord ten aansien van die 6e gebod met hierdie tema:
Tema: In die sesde gebod eis God respek vir
die lewe
1 Die sesde gebod in letterlike sin
2 Die sesde gebod in ruimer sin
1 Die sesde gebod in letterlike sin
By die sesde
gebod dink ons maklik eers aan ander mense. Kriminele.
Mens dink
ook al gou aan die regering. Aan wetgewing, en aan die uitvoering daarvan. Wetgewing
is bedoel om die lewe te beskerm. Maar ongelukkig is dit so dat daar ook wette
in ons land is wat moord en doodslag in beskerming neem. Dink aan die
aborsie-wetgewing. Die lewe van ‘n kind, solank dit nog in die baarmoeder is,
mag beëindig word. Vir die ma gebeur dit op ‘n so pynloos moontlike wyse. Maar
die babatjie word met ‘n pomp uitgesuig, of met ‘n tang uitgetrek, ledemaat vir
ledemaat word afgeskeur en uitgehaal. ‘n Gruwelike dood.
Aborsie word
wetlik toegestaan tot en met 20 weke van swangerskap.
Daarteenoor
bely ons as gelowiges dat elke lewe deur God geskape is. Hy is die enigste wat
‘n lewe gee, en wat dit mag neem op sy tyd. Ons het respek vir die lewe. Of dit
ongebore baba’s is of bejaardes, rykes of armes, konings, presidente of slawe.
Aan sulke
dinge dink ons, as die sesde gebod aan die orde is: kriminele, aborsie,
genadedood. Tog, gemeente, laat ons nie net, as ons hierdie woorde hoor, net aan
ander mense dink nie. Want, om by kriminaliteit te begin, die wortel daarvan
dra u ook in uself rond.
En as dit
oor aborsie gaan, is daar ‘n groeiende beweging, ook onder Christene, wat dit normaal
vind. En in ons land is daar baie, kom ons noem dit, naam-Christene, wat
vatbaar is hiervoor.
Ons mag nie moeg word om hieroor te praat, te protesteer, en op te voed
nie. Die lamppale in ons strate is volgeplak met advertensies vir aborsie.
Juis in sulke sake kom die geestelike bankrotskap van ons samelewing na
vore. Derduisende menselewens word elke jaar wederregtelik beeïndig.
Aborsie is ’n veel groter gevaar in ons land as die misdaad of die
korrupsie van die regering. Ons kan en mag as Christene dit nie ignoreer nie. In
2011 was daar byvoorbeeld meer as sewentig duisend wettige aborsies in die
land. Die sogenaamde onwettiges is nog nie eens saamgetel nie. Natuurlik is
almal onwettig, vanuit Bybelse oogpunt, maar ons land se wetgewing maak op ’n
manier onderskeid tussen wettig – wat bv. in ’n hospitaal of goedgekeurde
kliniek uitgevoer word – en die wat sogenaamd in agterplase gebeur. Ek herhaal,
elke jaar word in elk geval meer as sewentig duisend babas so om die lewe
gebring. Aan geweldsmisdaad sterf daar in Suid-Afrika elke jaar so twintig
duisend mense, dit is ongeveer 50 moorde per dag. Maar daar vind dus elke dag
191 aborsie moorde in ons land plaas, ten minste. Dus vier keer soveel as alle
ander moorde bykemaar getel. Ons staan midde in die samelewing. Ons ry elke dag
hier in die Moot verby honderde advertensies wat aborsie aanprys. Dit gebeur
onder swartes, kleurlinge en blankes. En die druk om wêreldgelykvormig te raak
is groot.
En as ons nie hieroor praat nie, dan gaan
ons wêreldgelykvormig raak.
Dit sal dalk ’n generasie of twee vat, maar ons sal wêreldgelykvormig raak.
Laat ons
dink aan wat die Kategismus sê, dat dit nie net gaan oor dit self nie doen nie,
maar dat jy ook alles moontlik moet doen om dit te voorkom. Ons moet alles wat
ons naaste kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom. (v/a 107) Gemeente,
die vorige keer wat ek vanaf hierdie kansel oor die sesde gebod gepreek het,
was op 27 Julie 2014. Ook toe het ek u opgeroep dat ons op hierdie punt nie
wêreldgelykvormig moet raak, dat ons nie gewoond moet raak aan dit wat rondom
ons aangaan nie. Ten aansien van die 6de gebod skryf die Kategismus
spesifiek dat dit nie genoeg is as ons self nie ’n moord begaan nie. Ons word
ook opgeroep om aktief alles wat ons naaste kan benadeel, te probeer voorkom. Dis
om hierdie rede dat die katkisasiegroepe van ons gemeente al ’n paar keer die
strate ingetrek het om die advertensies te verwyder wat aborsie aanprys. Maar
ek het sterk die indruk dat die volwasse mense, die belydende lidmate, sedert
2014 weinig indien iets gedoen het aan hierdie euwel rondom ons. Broers en
susters, die apostel Jakobus roep ons op om nie net hoorders, maar ook daders
van die Woord te wees.
Jakobus 1: “En word daders van
die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” (vers 22-25)
Geliefde gemeente, dit is ’n eenvoudige oproep wat vanaand tot u kom.
Sorg dat daardie advertensies in u omgewing verwyder word. By u huis, by u
werk, daar waar u gereeld kom. En as u self nie kan nie, betaal iemand ’n
dagloon om dit te doen. En dalk is daar gemeentelede onder ons wat kontakte het
met die owerheid, of wat self ’n prokureur of advokaat is, en wat planne kan
beraam om ’n blywende oplossing te bewerkstellig, sodat hierdie onwettige
advertensies nie steeds weer in ons buurt opgeplak word nie. Tussen hakies,
want al is aborsie gewettig in Suid-Afrika, hierdie advertensies is onwettig. Dit
gaan oor onwettige aborsies, agterplaas aborsies – in terme van die landswette.
Ook is dit onwettig om sonder toestemming van die stadsraad advertensies orals
op te plak.
Gemeente, as ons nie iets doen nie, dan gaan hierdie advertensies teen ons
getuig op die oordeelsdag. Die feit dat ons niks gedoen het om openlike moord
in ons eie omgewing te bekamp nie. Dan kan ons nie vir die HERE sê: ‘ich habe
es nicht gewusst’. Ek het niks hiervan geweet nie.
‘Ich habe es nicht gewusst’ – dit was die woorde van baie Duitsers na die
Tweede Wêreldoorlog. Hulle het nie geweet dat Hitler besig was om al die Jode
uit te moor nie. Maar die vraag kan tereg gestel word: het hulle regtig nie
geweet nie, of het hulle hulle oë nie goed genoeg oopgehad nie?
Maak ons ons oë oop vir die moorde wat rondom ons plaasvind? Hoe sou u
gevoel het as daar orals op die lamppale plakkate geplak word met die
advertensie: Want to kill a whiteman? Just phone this number.
So ’n advertensie sou ons geskok het. Maar skok ’n advertensie wat aborsie
aanprys ons nog? God se Woord roep ons op tot ekstra beskerming, juis van die
swakstes in die samelewing.
Ons sal onsself moet bewapen, geestelik, anders gaan hierdie vloedgolf ook
oor ons heen kom. En dieselfde geld vir genadedood. Mens kan nie neutraal bly
in hierdie sake nie. Kom ons hou aan stry vir die goeie. Die behoud van die
Bybelse visie op die lewe. Op die kry van kinders. Op die wonder van die lewe. Oefen
jouself hierin, om in alle omstandighede respek te hê vir die lewe. Die
allereerste begin van die lewe. Maar ook die einde van die lewe.
Laat ons bly besef dat hierdie aardse lewe nie die eindpunt is nie.
Dat lyde in hierdie lewe ’n loutering is vir die ewige lewe. Laat ons as
kerk ’n hegte gemeenskap bly vorm, wat die las van ongetroude moeders saamdra,
en die las van bejaardes wat ongeneeslik siek is. Kom ons bly stry vir die
goeie. Kom ons swem teen die stroom van die tydsgees in. Lewende visse swem
stroomop, dooie visse dryf saam met die stroom. Ons moet wakker bly, geestelik
wakker. Die lewe is ‘n kosbare geskenk van God.
Ons mag geniet van die goeie binne die beskermende heining wat God geplaas
het. Die omheining van die 6e gebod.
Ons stry vir die goeie, want dit is die moeite werd om te verdedig.
Die sesde
gebod het ‘n lewensbreë reikwydte. Dit raak die lewe in al sy fasette. Ons het
twee gedeeltes uit die Ou Testament gelees. Ons begin met Exodus 21. ‘n Stukkie
wetgewing uit die alledaagse lewe van God se volk.
Dit gaan
byvoorbeeld oor ‘n bees. Die mense wat op ‘n plaas grootgeword het, weet dat
nie elke bees dieselfde is nie. Elkeen het sy eie karakter.
Sommiges kan
nogal stoterig of agressief wees. Soms sien mens dit betyds, maar soms is dit
te laat. Oor so ‘n dier gaan dit hier.
Sê nou maar
‘n bees val ‘n persoon aan met dodelike afloop, maar die eienaar was nie daarvan
bewus dat hierdie dier so onvoolspelbaar was nie, dan moet die dier van kant
gemaak word, maar die eienaar sal vryuit gaan.
Slegs mag
die dier se vleis nie geëet word nie. Mens kan nie geniet van die vleis van ‘n
dier wat soiets gedoen het nie.
Maar, sê nou
maar die eienaar het geweet dat die dier agressief is. Sê nou maar iemand het
die eienaar al ‘n keer gewaarsku, maar die eienaar het geen maatreëls getref,
bv. deur die dier vas te ketting, of goed te laat oppas nie. U moet onthou dat
die beeste vroeër in Israel rondgeloop het om te wei, hulle het nie net in ‘n
weiland met prikkeldraad daaromheen geloop nie, maar hulle het los rondgeloop,
ook langs die paaie, ook in die dorp.
Dieselfde
wat ons hier in Afrika nog op die platteland sien.
Maar as ‘n
bees dus ‘n aggresiewe tipe was, en die eienaar is al ‘n keer gewaarsku, let
op, daai bees van jou tree stoterig op teen verbygangers, en die eienaar het
niks daaraan gedoen nie, en die tragiese gebeur dat die bees tog onverwags
iemand bestorm, met dodelike afloop, dan bepaal God se wet dat nie net die bees
nie, maar ook die eienaar om die lewe gebring moet word. Dit is ‘n ongeluk
waaraan die eienaar skuld het.
Dit is dus
die uitgangspunt van hierdie wet.
Tog lees ons
nog iets meer, en dan bedoel ek verse 30-32. God se wet gee die moontlikheid
van ‘n skikking. Die nabestaande het die reg om die doodstraf te eis. Dis die
maksimum vonnis wat opgelê kan word. Maar die nabestaande kan ook ‘n geldboete
eis. ‘n Geldboete kan in so ‘n geval ‘n wen-wen situasie wees. Maar nogmaals,
die skuldige mag dit nie afdwing nie. Die wet staan wel die maksimum vonnis van
die doodstraf toe.
Maar die
nabestaande het die reg om minder te eis, om aan die skuldige ‘n losprys op te
lê. ‘n Soort kompensasie.
Sê
byvoorbeeld die slagoffer was ‘n man, wat ‘n vrou met kinders agterlaat.
Dan is die
gesin hulle inkomste kwyt, en word nou bedreig deur honger.
So ‘n vrou,
as nabestaande, wat as weduwee agterbly, mag dus, pleks van die skuldige se
dood te eis, eis dat die eienaar van die bees voortaan vir haar en haar kinders
finansieel sal onderhou, omdat sy geen man meer het om dit te doen nie. En die
eienaar is dan verplig om die losprys te betaal.
Daaroor mag
hy, as skuldige, nie onderhandel nie.
Hy kan al
dankbaar genoeg wees dat sy lewe gespaar is.
Nou het die
meeste van ons deesdae nie meer beeste in ons besit nie.
Maar hierdie
beginsel geld natuurlik vir alle terreine van die lewe.
As daar
byvoorbeeld ‘n jongman is, wat te suinig is om nuwe bande op sy motor te sit. As
ander hom al daarop gewys het, maar hy wou nie luister nie. En hy kom in ‘n
ongeluk as gevolg van sy gladde bande, en iemand wat saam met hom in die motor
was, kom om die lewe. Dan geld hierdie wet natuurlik ook vir ‘n so ‘n situasie.
God se wet roep ons op om nie nalatig te wees, of roekeloos, waardeur die
lewens van ander of van onsself in gevaar gestel word nie. Dit is strafwaardig.
Verder lees
ons in vers 32 nog ‘n spesifieke reëling in verband met ‘n slaaf.
Nou kan mens
vers 32 maklik verkeerd lees. As mens dit oppervlakkig lees, kan jy dalk skrik.
Staan hier dat die lewe van ‘n slaaf amper niks werd is nie? Dat as die bees ‘n
slaaf gedood het, dat slegs ‘n som geld aan die baas betaal moet word? Hierdie
misverstand dreig as mens te vinnig lees.
Dis nie wat
daar staan nie. Die lewe van ‘n slaaf is volgens die Bybel net soveel werd as
elke ander mens s’n, al is dit die koning. Vir die lewe van ‘n slaaf geld net
soveel dit wat daar in vers 29 staan: As ‘n bees ‘n slaaf doodmaak, moet die
bees gestenig word, en ook die eienaar moet gedood word. Maar wat bedoel vers
32 dan? Wel, in die geval van die slaaf is daar, behalwe vir die nabestaande,
nog ‘n party, naamlik sy baas. Die baas het vanweë die ongeluk ‘n werkkrag
verloor, en dus mag die baas ook aanspraak maak by die eienaar van die bees op
‘n skadevergoeding.
Dertig
sikkels silwer. Dit is die bedrag, groot genoeg om te kompenseer vir die tyd
wat die baas sonder werkkrag is en op soek moet gaan na ‘n nuwe dienskneg. Maar
in die geval dat die slaaf ‘n vrou en kinders gehad het, kon die slaaf se vrou
presies dieselfde eise stel, waaroor ons in verse 30-31 lees.
Die
konklusie is dus: die lewe van elke mens is ewe veel werd.
En die wet
van God neem elkeen se lewe in beskerming, op vele punte.
Ons het nog
‘n vers uit die Ou Testament gelees.
Deuteronomium
22:8: “As jy ‘n nuwe huis bou, moet jy ‘n leuning aan jou dak maak, sodat jy
geen bloedskuld op jou huis bring as iemand daarvan afval nie.” In Israel het
die huise plat dakke gehad. Die mense het veral saans op hulle dakke geleef,
waar dit lekker koel was. Hierdie vers gee ‘n bou-instruksie, wat met die sesde
gebod te make het. En as soiets sou gebeur, dat iemand, byvoorbeeld ‘n kind,
per ongeluk afval omdat daar nie ‘n hek was nie, dan geld dieselfde wetgewing
as waaroor ons hierbo gepraat het. Iemand wat teen beter wete nalatig is, en so
die dood van ‘n ander veroorsaak, is strafwaardig.
Hierdie was,
gemeente, twee wette uit die alledaagse lewe in Israel.
Vandag is
hierdie wet oor ‘n hekkie om jou dak vir ons minder relevant, en vandag loop
die beeste ook nie hier in ons woonbuurt rond nie.
Maar tog is
die essensie van hierdie wette vir ons nog net so geldig.
En dit kan
ons op baie terreine toepas. Byvoorbeeld dat jy ‘n behoorlike hek rondom jou
swembad bou. En dat daar veiligheidsbepalings geld vir die bou van huise. As
gelowiges behoort ons des te meer daarop te let dat ons nie nalatig is nie. En
laat ons hier eerlik na onsself kyk. Dit is onder ons gewoonte om heeltyd
kritiek op die regering te hê, en daar is ook baie rede vir kritiek. Maar kom
ons self daardie reëls en regulasies na wat daar wel is om die lewe te beskerm?
Nie net wat bou betref nie. Dink ook byvoorbeeld aan die verkeersreëls. Hoe rym
jy dit met jou Christen wees as jy heeltyd die snelheidslimiete oorskry? Daar
is nie meer beeste wat in ons woonbuurte rondloop nie. Maar ons woonbuurte is
dalk nog veel onveiliger, veral as gevolg van die gejaag van motors en
motorfietse.
Dit is krom
om op een punt veel kritiek te hê, maar op ‘n ander punt wêreldgelykvormig te
wees.
Tot sover
die eerste punt van die preek, die sesde gebod in letterlike sin: jy mag nie
doodslaan nie. Dit is duidelik: hierdie gebod wil die lewe beskerm en verbied
doodslag en alles wat die dood tot gevolg kan hê, op alle terreine van die
lewe, in die hele breedte van ons bestaan.
2 Die sesde gebod in ruimer sin
Doodslag in
letterlike sin is meestal die laaste stasie van ‘n hele trajek, ‘n sondige
roete wat iemand reeds afgelê het. En op al die tussenstasies het die persoon
steeds besluit om verder te gaan. Dan dink ons aan tussenstasies met name soos
afguns, wrok, jaloesie, haat, toorn, wraaksug.
Dinge wat
tot uitdrukking kom nie net in dade nie, maar ook in woorde of gebare, en selfs
in gedagtes. Alles dinge wat nie minder ‘n oortreding van die sesde gebod is nie.
Die Here Jesus se woord is wat dit betref nie vir misverstand vatbaar nie,
Mattheüs 5:21-22:
“Julle het
gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar
elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir
julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet
doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording
doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen
in die helse vuur.”
In die res
van die Nuwe Testament vind ons die eggo van hierdie woorde van Jesus meermale
terug.
Sien
byvoorbeeld 1 Johannes 3:15: “Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en
julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.”
En in
Jakobus 1:20 lees ons: “die toorn van ‘n man bewerk nie die geregtigheid voor
God nie.”
Ons praat
hier oor die wortel van doodslag.
Hierdie
wortel, en die onkruid wat daaruit kom, kan slegs uitgeroei word as daar
bekering plaasvind. Gemeente, dit is vir u ook ‘n toetsteen of u bekeer is. Of
jy bereid is om die giftige wortel uit jou lewe te trek. Soos in Galasiërs
5:19-21 staan: “die werke van die vlees is ... vyandskap, twis, jaloersheid,
toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord ... waarvan ek julle
vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk
van God nie sal beërwe nie.”
Wie
langdurig met sy naaste op voet van konflik leef, of dit nou ‘n buurman,
familielid, gemeentelid is, sal die koninkryk van God nie beërf nie.
So eenvoudig
is dit.
Efesiërs
4:26 wys ons die regte pad:
“laat die
son nie ondergaan oor julle toorn nie”.
Die giftige
wortel, wat elke keer weer opkom, moet jy uittrek.
Wie die
onkruid laat staan, loop die risiko dat dit jou hele lewe gaan oorwoeker. Dus,
laat die son nie ondergaan voordat jy weer vrede gemaak het nie.
Daar is nog
‘n punt.
V/a 105
stel: “Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe
nie.”
Dit gaan
hier oor veel meer as net die gedagte aan selfmoord. Ook hier kan ons weer dink
aan hoe ons deelneem aan die verkeer op die paaie. Ons kan dink aan die
sportsoorte waaraan ons deelneem. Daar is sportsoorte wat op gespanne voet met
die sesde gebod staan. En ons besef dat die verslawing van rook ook op gespanne
voet met die sesde gebod staan, asook oormatige alkohol gebruik, of watter
verslawing ook, wat jou liggaam ‘n letsel gee en jou lewe op kort of langer
termyn in gevaar stel.
Toe die
duiwel aan die Here Jesus voorgestel het dat Hy van die dak van die tempel moes
afspring, omdat die engele Hom mos sou opvang, het Jesus tereg geantwoord:
“Jy mag die
Here jou God nie versoek nie.” (Matth 4:7)
Laat ons nie
vir ons verantwoordelikheid wegloop, en dan tog verwag dat die Here ons lewe
sal beskerm nie. Dan is ons besig om God te versoek.
Ek sluit af.
Laat ons, as
Geesvervulde gemeente, ook met die sesde gebod aan die werk gaan. Daar is
genoeg waarmee ons aan die werk kan gaan, het uit hierdie preek geblyk. In die
sesde gebod eis God respek vir die lewe. Laat ons vir die lewe kies. In sy Seun
Jesus Christus skenk God aan ons lewe ewigheidswaarde. Laat dit ons dryfveer wees, om hierdie lewe
en die ewige lewe te beskerm, om die goeie te soek, nie net vir onsself nie,
maar vir elkeen wat God op ons weg plaas.
Amen.
(kyk in preek)