Die saad van die Evangelie en die grond waarin dit val

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-10-15
Teks: 
Dordtse Leerreels 3/4 par 9 en 10
Preek Inhoud: 

Dordtse Leerreëls ¾ par 9-10 In die vorige preek, oor die eerste deel van hoofstuk 3&4, het ons gesien dat die leer van die uitverkiesing nie lei tot passiwiteit, lydelikheid nie. Dit roep eerder op tot aksie. Jou werk is ‘n skakel in die ketting van God se reddende raadsplan. ‘n Skakel in jou eie saligheid, wat jy – soos die Skrif sê – met vrees en bewing moet uitwerk. Maar ook ‘n skakel in die saligheid van ander. Deur jou getuienis met woord en daad, deur jou lieflike voete (Rom 10:15) bereik die Evangelie ook ander, wat anders ewig verlore sou gegaan het. Terselfdertyd bly dit alles God se werk. Dit gaan ons verder sien as ons vandag verder kyk na die vervolg van hoofstuk 3&4. Ek verkondig u die Evangelie met hierdie tema: Tema: Die saad van die Evangelie en die grond waarin dit val 1 Grond wat nie omgeploeg en voorberei is nie 2 Grond wat deur die Heilige Gees voorberei is 1 Grond wat nie omgeploeg en voorberei is nie God se oproep aan die uitverkorenes asook aan die wat uiteindelik verlore gaan, is dieselfde. As God sondaars roep, doen Hy dit ernstig en met goeie bedoelings. Hoekom is dit dan so dat daar verdeelde reaksie is onder hulle wat die Evangelie se oproep hoor? Ons moenie vergeet dat God se soewereine predestinasie nie die mens se verantwoordelikheid wegneem nie. Daar is ‘n oorvloed aan vergewing in die bloed van Christus se kruisoffer. Elkeen wat tot Hom vlug vir redding, sal gered word. Maar hulle wat nie tot Hom vlug nie, sal verlore gaan as gevolg van hulle sonde en ongeloof. Paragraaf 9 benadruk die mens se verantwoordelikheid, maar dit wel teen die agtergrond van sy totale onvermoë en verdorwenheid. Hierdie paragraaf het die Dordtse Sinode geskryf in reaksie op die Remonstrante se redenasies. Hulle het naamlik geredeneer: As die mens van nature heeltemal verdorwe is – dit is mos wat die Calviniste sê – dan is dit tog nie eerlik om hom skuldig te hou as hy nie glo en homself nie bekeer nie? Jy kan mos nie iemand blameer vir iets wat hy nie kan doen nie? Dus het die Remonstrante verder geredeneer: Die feit dat God mense oproep om hulle te bekeer, dit kan God slegs doen omdat daar nog ‘n aangebore moontlikheid by die mens is om tog goed te kies. As die mens maar net sy vrye wil reg gebruik, dan kan hy gehoor gee aan die Evangelie en homself bekeer. Maar gemeente, die Dordtse Leerreëls deel nie hierdie optimisme in die mens se vrye wil nie. ‘n Optimisme wat tipies was vir die opkomende humanisme, die opkomende Verligting, aan die begin van die 17de eeu. Die feit dat die oproep van die Evangelie nie ‘n effek op almal het nie, lê nie aan die Evangelie nie. Die fout lê ook nie by Christus nie. Die oproep van die Evangelie gee aan alle mense wat dit hoor, die volle toegang om by Christus te kom. As die Evangelie verkondig word, mag ons die oproep tot geloof en bekering nie beperk nie. Ons mag nie preek asof die uitnodiging om na Christus te kom, net vir die ore bestem is van hulle wat al weet dat hulle uitverkies is nie. Dan verskraal ons die oproep, iets wat Christus in die Bybel beslis nie self doen nie. Die Skrif dring alle sondaars om na Christus te kom. Nie net bekeerde sondaars nie, nie net sondaars wie alreeds berou het nie. Nee die Evangelie spreek alle sondaars aan. En geen prediker het die reg om daardie algemene, wye oproep en uitnodiging enigsins in te perk nie. Die Skrif openbaar aan ons die Here Jesus as ‘n Redder wat werlik alle sondaars uitnooi om na Hom te kom. En almal wat kom, word deur Hom ontvang. Hierdie is nie in stryd met die uitverkiesing nie. Die Here Jesus sê ook in Johannes 6:37: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” Dit is net die uitverkorenes wat uiteindelik gered sal word. So hoe weet ek of ek uitverkies is? Eenvoudig deur na die Heiland te kom, deur na sy kruis te vlug. En die feit dat daar ook mense is wat dit nie doen nie, wat nie na die Heiland kom nie, wat nie voor sy kruis kniel nie, dit lê nie aan God nie. Die Remonstrante het geredeneer dat God nie redding kan aanbied aan mense wat uiteindelik verlore sal gaan nie. Dit sou nie eerlik van God wees nie. Maar die Skrif leer ons dat mense wat verlore gaan, dit aan hulleself te wyte het. En hoekom die HERE sulke mense geroep het met die uitwendige roep van die Evangelie, maar nie hulle ook inwendig getrek het tot geloof en bekering nie, hoekom God sommiges verbygegaan het in sy genadige verkiesing, die rede daarvoor lê in God se verborge raad, waartoe ons geen toegang het nie, en wat ons in elk geval ook nie sal kan verstaan nie. Ons moet slegs lewe in die lig van die geopenbaarde wil van God. En dit is soos ons in Esegiël 33 lees: “So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe”. (vers 11, sien ook Esegiël 18:23). Dit is nie die skuld van die Evangelie, of van Christus, of van God, dat daar mense is wat, alhoewel hulle deur die bediening van die Woord geroep is, tog weier om hulle te bekeer.Die Dordtse Leerreëls paragraaf 9 verduidelik ook dat nie almal wat die Evangelie verwerp, dit op dieselfde manier doen nie. Daar word onderskei tussen drie soorte ongelowiges, in ooreenstemming met die gelykenis van die saaier uit Mattheüs 13. Eerstens was daar die saad wat op die pad geval het. Dit kon nie wortel skiet in die klipharde grond nie. Hierdie mense sit byvoorbeeld in die kerk en hulle hoor die preke week in week uit. Maar hulle gaan huis toe en vergeet alles. En uiteindelik gaan dit gebeur dat die voëls kom, en die saad oppik. Die saad verwys natuurlik na die prediking van die Evangelie. Dan is daar die rotsagtige grond. Dis net ‘n dun lagie grond, met daaronder ‘n rotsbank. Omdat die bietjie grond lekker warm is vanweë die rots daaronder, kan die saad maklik ontkiem, as die son daarop skyn. Dit kan maklik en vinnig begin groei. Maar, verduidelik Jesus, toe daar verdrukking en vervolging kom, het die geloof wat so vinnig opgekom het, skielik verlep. Dit is mense wat, as hulle die Evangelie hoor, dit dadelik aanneem. Hulle is diep onder die indruk van die boodskap. Hulle harte is geraak. Hulle is vol vreugde, so vol dat hulle dikwels die egte gelowiges beskaam. Hulle het so baie entoesiasme dat die egte gelowiges soms jaloers kan wees op hulle toewyding aan die Here. Die enigste probleem is egter dat hierdie toewyding van korte duur is. Net so lank dinge goed gaan. Maar sodra die verdrukkings en aanvegtings kom, verlep die geloof. Die saad het geen diep wortel in die grond nie, en dus hou die plantjie op met groei. Ek dink dat baie mense se geloof in ons land van so ‘n aard is. Dit sal nie standhou in God se oordeel nie. En dan is daar ook hulle, in die derde plek, wie se geloof verstik word deur die plesier en en verleidings van die wêreld, en deur rykdom. Hierdie dinge – in die gelykenis word dit onkruid genoem – veroorsaak dat die geloofsplantjie nie vrug kan dra nie. Hierdie soort gelowiges is ernstig, maar hulle sukkel so baie om vrug te dra, omdat al die sorge en eise van die wêreld hulle energie steel. Nou is dit so dat ook die egte gelowiges dikwels gebuk gaan onder die sorge van die lewe. Ook die egte gelowiges moet stry teen al die verleidings van die wêreld. Maar die verskil is dat die egte gelowiges leer – met val en opstaan – om die las van al hulle sorge na God te bring. Hulle vlug met hulle las na die troon van genade. Die mense van hierdie gelykenis bly egter hulle laste alleen dra, en leer nie om daarmee na Christus te vlug nie. Vir ons, in vandag se rat race-agtige lewe, is dit ook ‘n groot gevaar. Ons probeer self alles bestuur, en ons maak al hoe minder tyd vir gebed, vir Bybellees, vir huisgodsdiens. En voor jy weet leef jy net soos die wêreld, net soos die onbekeerdes. Die gemene deler tussen hierdie drie soorte onbekeerdes wat paragraaf 9 noem – ontleen aan die gelykenis van die saaier – is dat almal aan die einde van die dag die oproep van die Evangelie nie in hulle lewe ‘n plek gee nie. En dit is hulle eie skuld dat dit gebeur, ander dinge is aan die einde van die dag belangriker as ‘n lewe vanuit die Evangelie. Hoekom kom mense nie na Christus nie? Dit lê nie aan Christus nie. Dit lê nie aan ‘n slegte roeping nie. Die saad is goed. Maar dit is omdat hulle hulle sondige lewe te lief het. Omdat om na Christus te kom, te vernederend is vir die natuurlike mens. Dus gaan mense maar net aan met hulle sondige lewe. Sulke mense is nie net daar buite in die wêreld nie, maar ook in die kerk. As sulke mense eerlik is, sal hulle toegee dat hulle nie gered wil word op die manier waarop God sondaars red nie. Mense geniet te veel van hulle sondige lewe. Mense is van nature in staat om die Bybel te lees, om kerk toe te gaan, net soos hulle in staat is om sondige dinge te doen. En as julle hulle die keuse sou gee, of die Bybel lees, of sondige dinge. As jy hulle voor internet sou sit met die keuse: òf om ‘n webbladsy oop te maak waarop hulle die Bybel kan lees, òf ‘n webbladsy wat hulle sondige begeertes bevredig, dan sal hulle die laaste een verkies. Ons as mense is van nature in staat om morele keuses te maak. Maar uit onsself, omdat ons wil verdorwe is, sal ons telkens daartoe neig om die slegte keuse te maak. Uit onsself sal ons telkens, soos in die gelykenis van die saaier, die vrugbare saad van die Woord laat stik in die onkruid, of laat verlep op die rotsplaat van ons verharding, of laat opgepik word deur die voëls van ongeloof. Weer eens, die skuld lê nie by die saad wat gesaai word nie. Die saad, die Evangelie, is een en dieselfde. Die grond waarop of waarin dit val, dit is wat die verskil maak. Die drie verskillende tipes grond gee ons ‘n eerlike prentjie van die menslike hart, wat van nature nie oopstaan vir die Evangelie nie. Daar is slegs een tipe grond wat wel die saad van die Evangelie kan opneem en laat ontkiem. Dit is die grond wat deur die Heilige Gees voorberei is. Daarna gaan ons nou in die tweede punt kyk. (Tema: Die saad van die Evangelie en die grond waarin dit val 1 Grond wat nie omgeploeg en voorberei is nie) 2 Grond wat deur die Heilige Gees voorberei is In die tweede plek kyk ons nou na die saad wat wel in vrugbare grond geval het. Die gevolg was dat dit dertig-, sestig- en selfs honderdvoud vrug gedra het. Die Remonstrante het geredeneer: alle mense ontvang die Evangelie, die – soos hulle dit genoem het – algemene genade. Maar slegs hulle wat dit werd is, ontvang ook die besondere genade, wat tot redding lei. Die wat dit werd is – daarmee het die Remonstrante verwys na hulle wat hulle vrye wil goed gebruik om die regte keuse te maak. Die Dordtse Leerreëls deel egter nie hierdie humanistiese optimisme in die mens se vrye wil nie. Inderdaad, dit is waar dat die mens self verantwoordelik is vir die verwerping van die Evangelie. Maar die mens is nie self verantwoordelik vir die aanvaarding van die Evangelie nie. Geloof en bekering is gawes van God. Dit is die Heilige Gees wat eers die grond moes omploeg, voordat dit vrugbaar geword het om in staat te wees om die saad te ontvang en te laat ontkiem. In Romeine 8:30 lees ons: die wat Hy vantevore verordineer het, die het Hy ook geroep. In hierdie vers dui die woord ‘roep’ nie net op die algemene verkondiging en aanbod van die Evangelie nie. Dit gaan dieper, dit dui hier ook op die Heilige Gees se werk wat die mens se hart gereed gemaak het, sodat hy hom kan bekeer. In die goue ketting van God se reddende raadsplan, is elke skakel sy werk. Ja ook die skakels wat jou werk is, is uiteindelik sy werk. As dit net aan die mens en sy wil oorgelaat was, dan sou niemand op aarde homself bekeer het nie. Daar sou nêrens op aarde vrugbare grond gevind kon word, as die Heilige Gees nie eers kom ploeg het nie. In Mattheüs 22:14 sê Jesus: baie is geroep, maar min uitverkies. Gelukkig staan daar nie: baie is geroep, maar niemand het hom bekeer nie. Daar is die in wie se lewe die Heilige Gees ‘n vrugbare bodem voorberei het. Hoekom niemand hom op eie kragte kan bekeer nie, word duidelik as ons sien waarmee die Skrif bekering en wedergeboorte vergelyk. Die kragte wat daarvoor nodig is, is nie minder as om iemand uit die dood op te wek nie! Dit is selfs meer. Toe Lasarus byvoorbeeld deur die Here Jesus uit die dood opgewek is, het hy nie teëgestribbel nie. Maar dit is wel die geval met iemand wat geestelik dood is. Hy is nie net dood nie, hy werk God boonop nog teë ook! Dink aan die voorbeeld van die bekering van Saulus. Saulus was nie net neutraal ongelowig nie. Nee, Hy het Christus en die gelowiges aktief vervolg! ‘n Goddelike krag, nog groter as by die opwekking van Lasarus, was nodig om hom tot omkeer te bring! Ons kan in hierdie verband dink aan wat Jeremia vir die HERE gevra het: bekeer my, dan sal ek my bekeer (Jeremia 31:18). Pragtig sien ons hier die twee kante van dieselfde muntstuk. Om homself te kan bekeer, het die mens meer nodig as ‘n welgemeende oproep, ‘n vriendelike advies, soos die Remonstrante dit sou verwoord. Nee, die mens benodig hemelse krag van bo as hy hom ooit sal wil afwend van sy sondige welluste en gewoontes (Openb 3:18). Ja so is dit die Heilige Gees wat die klipharde onvrugbare grond van my lewe moet omploeg, om die saad van die Evangelie ‘n kans te gee om te kan ontkiem. En hierdie omploeg is nie altyd aangenaam nie, reken maar dat dit ‘n pynlike proses is! As ons nooit pyn voel oor ons sondes teen God se heilige wil nie, dan is die Gees nie besig om te ploeg in ons lewe nie. Maar die troos is dat as die Gees begin het, Hy nie met sy werk sal ophou nie. ‘n Teken van opregte bekering, is as ons bereid is om vir die HERE te sê: Here, wat wil U hê moet ek doen? Dat jy gewillig en gereed is om te doen, net wat die Here jou opdra. En jy mag ook weet, as jy hierdie houding in jou lewe ontwikkel het – danksy die ploegwerk van die Gees – dat die Gees sy werk ook sal voltooi. Dit is die goue ketting van God se verkiesing. Die wat Hy geroep het, die het Hy ook geregverdig, en die wat Hy geregverdig het, die het Hy ook verheerlik (Romeine 8:30). Moenie net tevrede wees met die feit dat jy ‘n kerklid is, en dat jy elke Sondag die Woord hoor nie. Jy het ook die ploegwerk van die Heilige Gees nodig. Pynlik, maar dit lei tot die ewige lewe. Die apostel Paulus roep die Thessalonisense op, en so die Heilige Gees ons: “dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep.” (1 Thessalonisense 2:12) En aan die Efesiërs: “Ek vermaan julle dan ... om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is” (Efesiërs 4:1). Gemeente, vandag is die saad van die Evangelie weer uitgestrooi deur Woord en sakrament. En die oproep is duidelik: kom na Christus toe. Stel jou lewe ook in die week wat kom in sy diens. So maak jy jou roeping en uitverkies vas. Amen.

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1
Seën
Ps 70:1
Gebed
Nagmaalsformulier (p.23)
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
Ps 70:2
1e tafel: Skriflesing: Mattheüs 13:1-23; Ps 71:9
Danksegging & Gebed
Teks: Dordtse Leerreëls ¾ par 9-10
Preek
Ps 71:2,3,5
Gebed
Geloofsbelydenis (Nicea)
Ps 71:13
Kollekte
Ps 71:14,15
Seën