Preek: Dordtse Leerreëls ¾ ,11-14 In die paragrawe wat aan die orde is, gaan die aandag uit na bekering en wedergeboorte. Dis goed om te besef dat die Dordtse Leerreëls hierdie twee terme as sinonieme gebruik. Soms gebeur dit in die dogmatiek dat die woord wedergeboorte meer fokus op God se aktiwiteit, en bekering op die ander kant van die muntstuk, die mens se aktiwiteit. Die Dordtse Leerreëls gebruik hierdie twee terme egter nie met sulke duidelik afgebakende definisies nie. Dit sien ons byvoorbeeld in paragraaf 11. As God ware bekering werk, dan: - laat Hy eerstens die Evangelie uiterlik aan iemand verkondig; - maar tweedens verlig Hy ook die verstand kragtig deur die Heilige Gees. Dit is die Heilige Gees wat die wedergeboorte skenk. Die Heilige Gees dring deur tot die binnenste dele van die mens, nl: - Hy open die geslote hart; - Versag wat hard is; - Besny wat onbesnede is – verwys word hier uiteraard na die besnydenis van die hart. Die Heilige Gees gee nuwe eienskappe in die wil. Hy maak die wil: - wat dood was, weer lewend; - wat slegs was, weer goed - wat onwillig was, weer gewillig - wat ongehoorsaam was, weer gehoorsaam. Sodat die wil nou soos ‘n goeie boom ook goeie vrugte kan dra. Tema: Wedergeboorte en bekering is soewereine genade - Die Gees verlig die verstand, herskep die gevoel, vernuwe die wil - Die Vader trek met onweerstaanbare genade - Die Seun red wie die Vader na Hom gestuur he - Die Gees verlig die verstand, herskep die gevoel, vernuwe die wil Wat paragraaf 11 hier bely, kom neer op soewereine genade. Want die realiteit is, as dit aan die mens oorgelaat word, sal hy nooit die Evangelie gehoorsaam nie. Maar God laat sy Gees werk. Die Gees verlig die verstand van ‘n sondaar. In Efesiërs 1:17 bid Paulus dat die Gees van wysheid en openbaring aan die Efesiërs gegee mag word, sodat hulle God se wil sal verstaan. As die Gees nie eers hierdie voorbereidende werk doen nie, kan ‘n sondaar nie gered word nie. Ons is geestelik blind deur die sondeval, ons kan nie meer die lig van die Evangelie self sien nie. Dit is noodsaaklik dat die oë van ons verstand eers herstel, geopen word, voordat ons die lig kan sien. Soos Jesus vir Nikodemus gesê het: as ‘n mens nie wedergebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (Joh 3:3). Net soos by die skepping, moet God sê: laat daar lig wees (Gen 1:3), anders sal ons ondergaan in duisternis. In hierdie werk van God om ons verstand weer te verlig, is die Heilige Gees die aktiewe Persoon. Die Bybel is die handboek en die Gees is die onderwyser. Die Gees sorg dat die kennis van die Bybel nie net droë kennis bly nie. Dat die mens nie meer die waarheid verdring nie, maar dat hy die kennis van die Skrif aanvaar. En dat hy vervolgens ook die waarheid innerlik beleef. Van nature het ‘n mens, almal van ons, allerlei verskonings om die waarheid van die Skrif langs ons neer te lê. Dis soos die mense wat na die fees uitgenooi word – Lukas 14:16-24. Almal het verskonings gehad. Hulle was besig met die dinge van hierdie wêreld. So is dit met ons almal van nature. Maar die vrug van die werk van die Gees is dat ons die waarde en die skoonheid van die Woord van God begin sien, van die Here Jesus, van ‘n lewe in diens van Hom. Dan word ‘n sondige lewe nie net iets wat ons probeer vermy omdat ons vir die hel bang is nie, maar meer nog, omdat dit die Here verdriet doen, omdat ons besef dat juis dit veroorsaak het dat ons Here Jesus aan die kruis moes gehang het. As jy ‘n ordentlike lewe lei omdat jy bang is, is dit nog nie van harte nie. Die Gees werk dit dat jou Christelike lewenstyl ook van harte is. Dat jy saam met Dawid in Psalm 119 sê: HERE, ek hou van u wette! (vers 97) So werk die Heilige Gees ‘n ander houding in ons, ‘n nuwe wil. Ja ons verstand, ons gevoel, ons wil, aldrie moet hernuwe word. Is jy geïnteresseerd in die Woord van God? Hou jy daarvan om saam met jou geloofsgenote te wees? Kan jy ook sê wat Dawid gesê het: Een ding het ek van die HERE begeer, dit is om in sy huis te bly vir altyd, tot in lengte van dae? (Ps 27:4) Klop jou hart vinniger as jy meer van Christus hoor? Voordat die Gees in jou lewe aktief geword het, was jy soos ‘n dooie vis wat saam met die stroom gedryf het. Maar nou is jy soos ‘n vis, wat teen die stroom in swem. Die Gees het jou wil herskep. Voor die sondeval is die mens geskep met ‘n goeie wil, wat die ingeskape moontlikheid gehad het om God te dien en in Hom te glo. Met die sondeval het die mens se wil, hierdie karakter verloor. Mens kan dit met ‘n baba vergelyk wat gebore word. Hoewel ‘n pasgebore baba nog nie kan praat nie, het die baba tog reeds die ingeskape aanleg om te leer praat. Dit het ore om te hoor, dit het stembande, dit het ‘n tong. En die ouers kan begin om met hulle baba te praat, en woordjies te leer. Nou die sondeval het veroorsaak, om nog vir ‘n oomblik by hierdie beeld te bly, dat ons, wat oorspronklik geskape is met ‘n vrye wil om God te kan dien, dat ons dit nie meer het nie. Dis soos ‘n baba wat sonder stembande gebore word, of sonder ‘n tong. Hoe hard die ouers ook probeer, hulle sal so ‘n baba nooit kan leer praat nie. Vir ‘n in sonde gevalle mens geld net so dat hy nie vanself weer sal kan leer glo en God dien nie. Daarvoor moet eers nog iets wesenliks gebeur: ‘n herskepping van sy verdorwe wil, wat eers vry was, maar nou gekneg is, nou ‘n slaaf van die duiwel en die sonde is. God moet weer ‘n sondaar se moontlikheid, se aanleg om te kan glo, herskep. Dit is die werk van die Gees wat sorg dat jy weer ‘n boom word wat vrugte kan dra. (Tema: Wedergeboorte en bekering is soewereine genade - Die Gees verlig die verstand, herskep die gevoel, vernuwe die wil) - Die Vader trek met onweerstaanbare genade In die Gereformeerde dogmatiek word soms gepraat oor onweerstaanbare genade. Hierdie term is vir misverstand vatbaar. Die Remonstrante het byvoorbeeld gespot dat die Calviniste leer dat God mense teen hulle eie wil salig maak. Die mens is soos ‘n pop wat iemand aan sy hare saamsleep. God neem geen menselike eienskappe in ag nie. God tree arbitrêr op, God is willekeurig. Daarvan het die Remonstrante die Calviniste beskuldig, dat hulle God ‘n willekeurige God maak. Die Remonstrante daarenteen het geglo in verkiesing op grond van vooruitgesiene geloof. God het in die toekoms gekyk na wie so goed was om te begin glo, en hulle uitverkies. Wat het die Dordtse Leerreëls hierop geantwoord? In kort: die Skriftuurlike besef dat God aan niemand enige saligheid verskuldig is nie. Hy is onder geen enkele verpligting om enige siel te red nie. Daar is absoluut niks in ‘n mens wat as basis kan dien om by God in aanmerking te kom om uitgekies te word nie. Vooruitgesiene geloof, dit bestaan gewoon nie, as die Gees nie eers die grond van ons lewe omgeploeg het nie. Verder het die Remonstrante oor die Calviniste gesê: hulle beweer dat die genade onweerstaanbaar is, in die sin dat die uitverkorenes geen enkele weerstand bied nie. Maar ook dit is nie waar nie, want die feit is dat elke mens, ook die uitverkorenes, God se genade teenstaan. Hierdie is ‘n leer wat ons nederig maak. Om gered te word, moet ons eers verneder word (1 Petr 5:6). God is vrymagtig in wie Hy wil begenadig en wie nie (Rom 9:15). En daar is geen enkele meriete by enige mens wat Hy in aanmerking kan neem nie. Elke mens, sonder uitsondering, bied weerstand teen sy genade. Die verskil is net dat die weerstand by die uitverkorerens uiteindelik oorwin word. Onweerstaanbare genade dui juis daarop dat die weerstand van die uitverkorenes uiteindelik gebreek word. Die trekkrag van die Vader is sterker as die sondaar wat die Evangelie wil afstoot. Soos Jesus gesê het: Niemand kan na My toe kom nie, as die Vader hom nie trek nie (Joh 6:44). Wie nie deur die Vader getrek word nie, sal nooit begin glo nie, maar, soos Johannes 6:37 die onweerstaanbare genade verwoord: Almal wat die Vader My gegee het, sal na My toe kom. As mens Johannes 6 lees en wat Jesus daar leer, sien mens dat die fokus is op die werk van God die Vader. Toe Jesus op aarde was en gepreek het, het baie mense geweier om in Hom te glo. Tog het Jesus geweet dat hulle wat die Vader aan Hom gegee het, na Hom toe sou kom. Hulle het vrywillig na Hom gekom, omdat die Vader reeds in hulle harte gewerk het. Vrywillig beteken uit eie keuse. Hierdie kant van die muntstuk moet ook benadruk word, want ook vir gelowiges is daar die risiko dat hulle passief raak. Met die verskoning dat God alles moet doen, wat waar is natuurlik, vergeet ons, dat nadat God getrek het, ons self ook aktief betrokke moet wees. Ons moet nou begin om sy eie heil en saligheid met vrees en bewing uit te werk. Dit eis ons hele persoonlikheid op, verstand, hart en wil. Die Remonstrante het beweer dat die mens se wil nie heeltemal verdorwe was nie. Wel diep geval, maar tog nog vry. Al wat nodig was, het hulle gesê, was dat die Evangelie aan sondaars gepreek moet word, dan sou hulle self na Christus kom. Die swaartepunt, die nadruk, rus dan op die oorredingskrag van die prediker, dat hy die Woord met krag moet bring. Maar, laat ons eerlik wees, as al wat nodig was vir mense om na Christus te kom, net die prediking van die Evangelie met genoeg oorredingskrag, dan sou daar baie meer mense na Christus toe moes gekom het. En dan dink ek spesifiek aan die tyd, toe Christus self op aarde rondgegaan en die goeie nuus verkondig het. Ongetwyfel was Christus die beste prediker van alle tye, maar tog het tydens sy ampsdiens op aarde nie so baie mense na Hom gekom en hulle bekeer nie. Was dit omdat Jesus nie ‘n suksesvolle prediker was nie? Was dit omdat Hy nie met genoeg oorredingskrag gepreek het nie? Ons lees byvoorbeeld in Johannes 6 dat hoewel die mense Hom gesien het en sy prediking gehoor het, hulle tog nie in Hom wou glo nie (sien bv. vers 30). Ongetwyfeld was Jesus se prediking oortuigend, ernstig en dringend. Tog het baie mense sy boodskap verwerp. Dit is hoekom Jesus self sê in Johannes 6:44 en ook 65: Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie. Soms praat mense oor predikante, oor suksesvolle predikante wat baie toehoorders trek. Maar laat dit duidelik wees, as ‘n predikant slegs toehoorders na homself toe trek, dan is dit ‘n hartseer saak. Christus het ook nie gepreek vir maksimum resultaat, maksimum gewildheid nie. Hy het die waarheid gebring, die saad van die ryke Evangelie, sodat elkeen wat die Vader getrek het, na Hom sou kom en by Hom sou bly. Hierdie ‘trek’ van die Vader is iets wat vir ons onsigbaar is. Soos reeds genoem, die Vader doen dit deur sy Heilige Gees, en die Gees gebruik die Skrif en die prediking daarvan. Maar tog bly hierdie ‘trek’ vir ons onsigbaar en ongrypbaar. Soos Jesus vir Nikodemus verduidelik het: “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Johannes 3:8) Ons sien nie die wind nie, maar ons sien ‘n boom beweeg. Ons sien nie die Vader se trekkende hand nie, maar ons sien die gevolge daarvan in ‘n sondaar se lewe. Die Vader sorg dat alle struikelblokke uit die weg geruim word. Alles wat die binnekoms van die Evangelie probeer verhinder. In Jesus se dae op aarde was daar struikelblokke hoekom die Jode nie vir Jesus wou aanvaar nie. ‘n Struikelblok wat die Jode na vore gebring het, was die feit dat Jesus sogenaamd maar net die kind was van Josef en Maria. Nog ‘n struikelblok was dat hulle teleurgesteld was in sy missie. Hulle wou gehad het Hy moes ‘n aardse koninkryk stig, terwyl sy Messiaanse taak anders was. En so kan ons in ons tyd ook verskillende struikelblokke identifiseer, wat sondaars gebruik om die Evangelie buite hulle lewens te hou. Maar die Vader se genade is onweerstaanbaar. Hy ruim die struikelblokke op. Sodat die sondaar uiteindelik voor sy Heiland kniel. Dit is die ware gelowiges. Hulle het hulle Saligmaker lief. Hulle wil vir Hom lewe. ‘n Ware gelowige sondig nog steeds, maar hy voel sleg oor sy sonde. Hy roep om uitredding na sy Heiland. Die Dordtse Leerreëls sê dat sulke mense wedergebore is. Hierdie is ‘n baie positiewe uitspraak! God het hierdie werk gedoen, en die gevolge is sigbaar en voelbaar. ‘n Ware gelowige, alhoewel nog steeds sondaar, mag glo dat hy gered is. As die Here Jesus ‘n sondaar op sy knieë sien, wat pleit op grond van sy bloed, dan sien die Here Jesus die vrugte van sy Vader se werk. Sal Jesus so iemand verstoot? Onmoontlik! (Tema: Wedergeboorte en bekering is soewereine genade - Die Gees verlig die verstand, herskep die gevoel, vernuwe die wil - Die Vader trek met onweerstaanbare genade) - Die Seun red wie die Vader na Hom gestuur het Nou is dit so dat gelowiges dikwels aanvegtings te verdure kry. Soos die knaende vraag: is ek dan wel uitverkies? Het God my wel getrek? Of is my geloof maar net dit wat ekself probeer doen, en dus vir God nog nie goed genoeg nie? Is my geloof dalk nie maar net die produk van my opvoeding nie? Is die feit dat ek kerk toe gaan maar net tradisie? Of is dit dalk maar net die produk van my eie gewete? Is God regtig wel aanwesig in my lewe? Is my geloof op sand gebou, of op rots? Nog ‘n aanvegting is dat ons onsself kan afvra: Hoewel ek as sondaar vir God probeer soek, hoewel ek aanvaarbaar vir Hom probeer wees, is dit moontlik dat God tog tog eendag vir my sal sê: Ek is jammer, maar dis nie vir jou bestem nie. In my raadsbesluit staan geskryf dat jy nie uitverkies is nie. Jy is verwerp. Dus, al het jy My gesoek, al het jy tot My gebid, dit het jou nêrens gebring nie. Gemeente, is dit moontlik dat God eendag soiets sal sê? Gemeente, laat dit vir eens en altyd duidelik wees, hierdie tipe vrae slaan die plank mis. As jy ernstig bekommerd is oor jou saligheid, as jy die Here Jesus soek, as jy sy genade begeer, dan sê die Bybel onomwonde oor sulke mense dat hulle gered SAL word. Meer nog, die Bybel sê dat hulle alreeds gered is! Want hulle vertoon tekens van die gawes wat God aan die uitverkorenes skenk. As ek vir jou vra: is jy gewillig om die Here te dien? En jy antwoord: ja, ek is. Dan is dit God wat jou gewillig gemaak het. As jy nie gewillig is nie, sal jy ook nie na Christus vlug nie, omdat jy die plesiere van hierdie wêreld eerder verkies, omdat jy ‘n probleem het met die regering van Christus oor jou lewe. Die Skrif sê: werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. (Fil 2:12-13) Dit is alles genade, terselfdertyd word ons aktiwiteit ten volle ingeskakel. Hoe afhanklik ons ook is van die werk van die Heilige Gees, dit beteken nie die gelowige hoef niks te doen, of hoef nie persoonlik en gemotiveerd betrokke te wees nie. So sien ons weereens: die muntstuk het twee kante. Die Dordtse Leerreëls benadruk dat ons nie die verband tussen die twee kante van dieselfde muntstuk kan verklaar nie (par 13). Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Maar wat ‘n gerusstelling is, is dat alles begin het by en gedryf word deur God se genade. Geloof is dus ‘n gawe van God. Nie net die moontlikheid om te kan glo nie, maar van begin tot end. Soos hier staan: Hy bring sowel die wil om te glo as die geloof self in die mens tot stand. Hy werk in die mens om te wil sowel as om te werk. Hy bewerk alles in almal. En die Seun, ons Heiland maak seker, Hy sal nie een wat die Vader na Hom gestuur het, laat verlore gaan nie. Hy red en hou ons vas tot die einde. Hierdie besef verhoed dat ons nooit geestelik trots kan word nie. Soos die apostel Paulus skryf: “wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Kor 4:7) Wedergeboorte en bekering is soewereine genade. Genade maak ‘n egte gelowige altyd nederig. Amen.
Votum
Seën
Ps 130:1,2 (2e ber)
Gebed
Skriflesing: Johannes 6:44-71
Ps 130:3,4 (2e ber)
Teks: Dordtse Leerreëls 3/4, par 11-14
Preek
Ps 34:2,6,7,8
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ps 119:37,42
Kollekte
Ps 27:2,6
Seën