Preek: Lukas 18:15-17
Vandag, 29 Oktober, is ‘n historiese Sondag. Ons is slegs twee dae vanaf 31 Oktober. Dan sal dit presies 500 jaar gelede wees dat Martin Luther sy 95 stellings teen die deur van die kerk in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker het. Dit was destyds die gewone manier om iets onder die aandag van die publiek te bring. As Luther vandag sou gelewe het, sou hy dit seker op internet, op ‘n weblog, of op facebook gesit het. Hierdie daad van Martin Luther word beskou as die begin van die Reformasie van die 16de eeu. Tot op die dag van vandag pluk ons nog die vrugte van daardie Reformasie. Individuele gelowiges, en ook kerke. As ons aan die Reformasie dink, dink ons dikwels veral aan die kerk. Ons vergeet soms dat dit nie net ‘n hervorming van die kerk was nie, maar van die hele lewe. Dit was byvoorbeeld ook ‘n Reformasie van die onderwys. Luther het baie aandag aan kinders geskenk. Hy het ‘n leerboek geskryf – ‘n kategismus – sodat hulle in die geloof opgevoed kon word. Hy het gesorg dat daar skole gestig word, sodat kinders van jongs af onderrig kon word. Die vrug van die Reformasie was dat mense teruggeroep is na die Woord van God. En die Woord van God het nie net ‘n boodskap vir grootmense nie, maar juis ook vir kinders. Daarvan getuig ons Bybelteks vir vanoggend veral. Tema: Ook die klein kindertjies is boustene in die kerk van Christus - ‘n Boodskap vir die kinders - ‘n Boodskap vir die volwassenes - ‘n Boodskap vir die kinders Ons het saam ‘n gedeelte uit die Evangelie van Lukas gelees. Eers het ons ‘n gelykenis gelees oor die onregverdige regter. Dit was ‘n verhaal wat die Here Jesus vertel het, met die bedoeling om die mense iets te leer. Iets te leer oor wie die hemelse Vader is. Sy doel met hierdie gelykenis was: Julle moet aanhou bid en nie verslap nie. As selfs ‘n onregverdige regter uiteindelik sê: Omdat hierdie weduwe my moeite gee, sal ek aan haar reg doen ...; hoeveel te meer sal jou hemelse Vader nie na jou luister nie! Daarna het ons ‘n gelykenis gelees oor die Fariseër en die tollenaar. Jesus het hierdie gelykenis vertel met die oog op sommiges wat op hulleself vertrou het. Wat gedink het dat hulleself goed en regverdig was, en hulle het op ander mense neergekyk. As mens hierdie gelykenis lees, dan is dit glad nie verbasend dat sommige mense hulleself afgevra het: Is dit regtig so? Sê Jesus hier dat iemand, selfs ‘n tollenaar, wat God vir vergewing vra, aan die einde van die dag gelowiger is as die Fariseërs? Onthou, die Fariseërs was die godsdienstige leiers. Inderdaad, dit was ‘n baie gewaagde uitspraak van die Here Jesus. En ek is seker dat dit vir sondaars moed gegee het. As dit so is, dan mag ek dus ook by die Here Jesus behoort! En nie net ek nie, maar ook my kinders! En daarom, gemeente, het dit gebeur dat toe, nadat Jesus hierdie gelykenisse vertel het, sommige ouers die moed gehad het om met hulle klein kindertjies na Jesus toe te kom. Die gelykenis wat Jesus vertel het, het hulle oor die drumpel gehelp. Hulle het hulle klein kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle kon aanraak. Wat daarmee bedoel word, dat Jesus die kindertjies sou aanraak, word duidelik as mens lees hoe die evangelis Mattheüs dieselfde gebeurtenis beskryf. Daar staan: sodat Hy hulle die hande sou oplê en bid (Matth 19:13-15). Die hande oplê beteken: dat Hy hulle sou seën. Maar, toe die dissipels dit sien, het die hulle bestraf. Hierdie keer was dit dus nie die Fariseërs wat beswaar gemaak het nie, maar Jesus se eie dissipels. Die feit dat daar tollenaars en gewese prostitute vir Jesus gevolg het, dit het hulle al ‘n bietjie aanvaar teen hierdie tyd. Maar moes Jesus nou ook nog sy tyd mors met klein babatjies? Dit was mos nie die rede hoekom hulle Jesus vergesel het, op pad na Jerusalem toe nie? Jesus reis mos nie na Jerusalem om daar ‘n kleuterskool oop te maak nie? Nee, hulle het Jesus vergesel oppad Jerusalem toe, omdat Hy daar sou Koning word! En omdat hulle dan sy ministers sou word! Omdat hulle dan ook in die paleis sou kon woon. Nee, het die dissipels gedink, Jesus is veel te groot en belangrik om tyd te mors met hierdie klein kindertjies. Die Here Jesus self het egter nie met sy dissipels saamgestem nie. Hy het hulle dit selfs baie kwalik geneem, skryf die evangelis Markus. Hy het bevel gegee om die kinders nie te verhinder nie. Laat die ouers hulle maar bring! Op daardie oomblik was daar waarskynlik ‘n hele skare mense rondom Jesus. ‘n Rukkie terug het Hy naamlik tien melaatse mense gesond gemaak. Daarna het hy in ‘n diskussie beland met die Fariseërs. En, soos ons gelees het, het Hy toe ook ‘n paar gelykenisse vertel. Maar die skare, al die vername Fariseërs en dissipels moes dus nou vir ‘n oomblik opsy staan, sodat die ouers met hulle kindertjies nader kon kom. Die Griekse woord wat hier gebruik word vir kindertjies, kan ook vertaal word met: suigelinge. Dit was dus regtig jong kindertjies. Nou is dit ‘n feit dat kinders vroeër langer suigeling was, by hulle ma gedrink het, as deesdae. Maar nog steeds, dit gaan hier dus oor jong kindertjies. Kinders wat nog nie behoorlik kon praat nie. Maar hulle word dus hier deur die Here Jesus nader geroep. Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Nou eerlik gesê, eintlik moes die dissipels hulle nie hieroor verbaas het nie. Eintlik kon hulle hierdie optrede van Jesus, om die kindertjies nader te roep, wel verwag het. Dit was naamlik nie lank gelede nie, dat hulle vir Hom gevra het: Here, wie is die grootste in die koninkryk van die hemele (Matth 18:1v)? Christus het toe ‘n kind nader geroep, hom in hulle midde geplaas, en gesê: Voorwaar, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. Dis eintlik snaaks dat die dissipels hierdie onderwys van die Here alreeds vergeet het. Miskien was dit so dat die woorde nog in hulle koppe was, maar dat die boodskap nog nie tot hulle hart deurgedring het nie. En vandaar dat hulle nou weer die fout maak. Pleks van die klein kindertjies en hulle ouers vorentoe te help sodat hulle by Jesus kon kom, het hulle hulle begin bestraf! Dus herhaal Christus weer dieselfde les: Slegs hulle wat nederig is, het toegang tot die koninkryk van God. Daarna het Hy ruimskoots die tyd geneem om die kindertjies sy seën op te lê. Wie weet hoe dikwels die ouers nie later hieraan teruggedink het nie, die feit dat die Here Jesus Christus met sy eie hande hulle kinders geseën het! Wie weet hoe dikwels hulle dit nie later opnuut vir die kinders vertel het nie! Weet jy, toe jy nog baie klein was, jy kon nog amper nie loop nie, toe het die Here Jesus self vir jou geseën en vir jou gebid! Ek dink die kinders se oë sou gestraal het, elke keer as hulle ouers dit vertel het. Nou kan ons vir die kinders wat vandag hier in die kerk sit, vra: Het die Here Jesus ook vir julle geseën? Die antwoord is: Ja! Hy Het! Nie met sy eie hand nie, maar met die hand van sy dienskneg, toe jy gedoop is. Vra maar vir jou ouers hoe jy hier in die kerk, toe jy gedoop is, die seën van die Drieënige God ontvang het. Jy kan dit nie onthou nie, maar jou ouers wel. Ook jy is gedoop in die naam van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die Here Jesus Christus het vir sy dissipels gesê, en dit geld ook vir alle dominees: Gaan heen, maak al die volke tot my dissipels, en doop hulle in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Matth 28:19). Ek is seker dat die oomblik toe jy gedoop is, hier voor in die kerk, dat jou ouers se gesigte gestraal het. Toe die water oor jou koppie gestroom het. Dus ja, jy is ook ‘n kind van die Here Jesus. Hy hou ook van jou. Hy wil ook al jou sondes vergewe. Hy wil jou ook red en die ewige lewe skenk. Dit is jou ouers se taak om aan jou te leer alles wat daar in die Bybel staan. Dit is die opdrag wat hulle van God gekry het, en waarop hulle ja geantwoord het by jou doop. Ouers mag hulle kinders nie by die Here Jesus weghou nie, hulle moet hulle juis na Hom toebring. En as daar ooit mense is, hoe belangrik daardie mense ook mag wees, wat jou wil belet om by die Here Jesus te kom, en om na sy kerk toe te gaan, dink dan aan die Bybelteks van vanoggend. Dink aan die eie woorde van die Here Jesus: Niemand mag die kinders keer nie, want Christus het self gesê: Laat die kinders na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. - ‘n Boodskap vir die volwassenes Nou het vanoggend se teks nie net ‘n boodskap vir die kinders nie, maar juis ook vir die grootmense. Volwassenes word deur Jesus opgeroep om ‘n kinderlike geloof te hê. ‘n Kinderlike geloof is ‘n gawe van God. Met kinderlik geloof word nie bedoel dat grootmense hulle verstand moet afskakel, al die kennis wat hulle het aan die kant moet skuif, en net soos dom kinders ja en amen knik nie. Maar met ‘n kinderlike geloof word bedoel dat ook grootmense erken: ek glo in dinge wat my eie verstand te bowe gaan. Dus al het ek al die kennis in die hele wêreld, dan is daar nog steeds baie dinge wat ek nie kan verklaar nie. Hoe intelligenter en geleerder en ouer ‘n mens ook word, niemand sal ooit God kan verstaan of verklaar nie. Hy, en ook die wonder van sy skepping, gaan jou verstand te bowe. Daarom dat die Here Jesus soveel nadruk hierop lê: wie die koninkryk van God nie soos ‘n kind ontvang nie, sal dit nie beërf nie. ‘n Kinderlike geloof is noodsaaklik. Al het ek al die kennis van die wêreld, maar ek mis ‘n kinderlike geloof, dan baat dit my niks. ‘n Kinderlike geloof leer my om wonders raak te sien. Dit is ‘n wonder hoe God elke mens se lewenspad lei. Dit is ‘n wonder hoe God mense na Homself toe trek. Dit is ‘n wonder as mense groei in hulle geloof, in geloofskennis, maar ook in geloofsvertroue. Dikwels is dit so dat ons by ander mense makliker raaksien dat hulle ‘n groot geloof het. Dikwels twyfel ons aan onsself. As volwassenes probeer ons dikwels die toekoms self te reël. Alle risiko’s self in te skat. Ons hou nie van onaangename verrassings nie. So maak ons – grootmense wat onsself onmisbaar ag – planne vir die toekoms. Nou is dit nie verkeerd om planne te maak nie. Maar daar is niemand wat in vertroue op homself planne kan maak vir sy hele lewe nie. Môre kan jy miskien wel sterf. Môre kan jy miskien met kanker gediagnoseer word. Laat ons in die eerste plek met ‘n kinderlike geloof opkyk. ‘n Kinderlike geloof beteken dat jy besef dat jy klein is, maar dat God ontsettend groot is. Dat jy alles wat jy vir jou lewe nodig het, van Hom kan verwag. Loof die HERE, want Hy is goed! Hy beskerm en seën elkeen wat by Hom skuil. Hy roep almal na Hom toe, ook die kinders. Moenie hulle verhinder nie. Die dissipels het gedink dat hulle onmisbaar was. Hulle het gedink hulle sou eendag die Here Jesus se ministers word. In hulle grootheidswaansin het hulle die klein bousteentjies oor die hoof gesien. Ook hierdie klein bousteentjies met hulle groot geloof is onmisbaar vir die kerk. Ja Christus se kerk bestaan uit hulle, oud en jonk, wat ‘n kinderlike vertroue het. Amen.
Votum
Seën
Ps 147:5
Wet
Ps 119:47
Gebed
Doopsformulier
Bediening doop: Jasmé Smit
Ps 105:5
Skriflesing: Lukas 18:1-30
Sb 15:1-3
Teks: Lukas 18:15-17
Preek
Sb 15:4-7
Gebed
Kollekte
Ps 103:6
Seën