Preek: Dordtse Leerreëls 5, par 11-12
Vanaand se preek gaan oor twyfel en sekerheid. Ons gaan vanaand sien dat dit nie so eenvoudig is om te sê: twyfel is verkeerd, en sekerheid is reg nie.
Dit is ingewikkelder.
Daar is inderdaad ‘n soort twyfel wat verkeerd is, sondig is. Maar daar is ook ‘n soort twyfel of aanvegting wat deel vorm van ‘n gelowige se lewe, en nie as sulks as sondig bestempel kan word nie. Dan is dit, aan die ander kant, ook so dat nie alle sekerheid goed is nie. Daar is ook ‘n soort sekerheid wat sondig kan wees. Ons het vanaand verskillende gedeeltes gelees uit die Skrif oor twyfel en sekerheid. Dit is Skrifgedeeltes wat ook deurklink in die Dordtse Leerreëls, spesifiek die laaste hoofstuk oor die volharding van die heiliges.
Kom ons luister hoe ons belydenis die Skrif se openbaring oor sekerheid en twyfel saamvat.
Tema: Christus se Gees skenk sekerheid
- Wanneer twyfel goed is en sekerheid sleg, en wanneer twyfel sleg is en sekerheid goed
- Die vrugte van die sekerheid wat die Gees skenk
- Wanneer twyfel goed is en sekerheid sleg, en wanneer twyfel sleg is en sekerheid goed
Dit is ‘n feit dat God se kinders van tyd tot tyd, soms gereeld, aan hulle uitverkiesing twyfel. Die Dordtse Leerreëls erken dit in paragraaf 11:
Die Skrif getuig dat die gelowiges in hierdie lewe nie altyd die volle geloofsvertroue en sekerheid van die volharding ondervind nie.
Ons kan dink aan ‘n Skrifgedeelte soos Psalm 77, waar ons die digter as ‘n mens vol twyfels ontmoet.
“Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie? ... Is dit met die belofte gedaan ...?” (vers 8-9)
Dikwels volg golwe van twyfel op periodes van geestelike sekerheid. Die een oomblik loop die apostel Petrus op die golwe, solank hy na Jesus kyk. Die volgende oomblik kyk hy weg en sien hy die wind en die golwe en sink hy weg in die see.
Is dit sondig om te twyfel? Daar is twee kante aan hierdie saak. Die een uiterste is: ja, dit is sonde. Die ander uiterste is as twyfel verheerlik word as ‘n teken van genade, asof dit goed sou wees om te twyfel. Maar beide uiterstes is verkeerd. Kom ons begin met die een kant.
Die Skrif maak geen geheim daarvan nie, dat twyfel ‘n intergrale onderdeel van die gelowiges se lewe is. Dawid roep uit in wanhoop in Psalm 31: “Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë ...” (vers 23)
Martin Luther het daarop gewys dat aanvegting hoort by ‘n gelowige se lewe.
Die satan mik juis sy pyle van aanvegting op hulle wat ‘n intieme band met hulle Heiland het. So die feit dat daar periodes van twyfel is, is op sigself nie sondig nie. Sommige mense sal juis meer moet twyfel. Daar is mense wat ‘n baie oppervlakkige lewe lei, terwyl hulle nie bekommerd is oor hulle sondes nie, en gewoon daarvan uitgaan dat hulle eendag gered sal word. Vir sulke mense is die beste wat kan gebeur dat hulle bietjie begin twyfel, en hulle begin afvra of hulle regtig wel gered sal word.
Maar daar is, tweedens, ook ‘n ander uiterste. Daar is ook mense wat lyk of hulle gedy op twyfel. Wat meen dat dit normaal is vir ‘n gelowige om konstant te twyfel. Liewerste veilig speel en die heeltyd twyfel, dan sal God dit dalk as meriete beskou. Om nie seker te wees, te wil wees nie, word dan amper ‘n deug. Sulke koestering van twyfel is nie reg nie, dit is sondig.
Daar is ook mense wat nie soseer aan God twyfel nie, maar wel of sy beloftes en of dit ook vir hulle bedoel is. Maar, laat ons eerlik wees, is dit moontlik om nie aan God te twyfel nie, maar wel aan sy beloftes? As Hy in sy Woord jou verseker dat Hy ‘n God van vergewing is, dat Hy sondaars wat nederig tot Hom nader met oop arms inwag, maak jy Hom dan nie tot ‘n leuenaar as jy twyfel of sy beloftes wel vir jou bedoel is?
Die Here is trou aan sy Woord en Hy kan nie lieg nie. Wie is ons dan om te twyfel? Wat wel ‘n gepaste houding is, is dat ons as sondaars uiters verbaas kan wees as ons God se beloftes in sy Woord lees. Uiters verbaas as ons onsself afvra: Hoe kan dit vir my bedoel wees? Ek is ‘n sondaar, is dit alles ook vir my? So ‘n houding van nederige verbasing, dit is wel – in teenstelling tot twyfel – ‘n teken van opregte geloof.
Daar bestaan ook mense wat die redding wat in die Skrif beloof word, vir vanselfsprekend aanneem. Hulle is nooit verbaas nie. Hulle dink dis die mees normale ding vir God om hulle te vergewe en te red. So ‘n houding is egter nie ‘n teken van opregte geloof nie. Dit is juis ‘n vrug van die Gees se werk in ons, as daar ‘n gevoel van verbasing en verwondering in ons hart posvat. Soos Maria uiters verbaas was toe die engel haar meedeel dat sy die ma van die Messias sou word (Luk 1:34). Sy kon dit nie glo nie, as sy aan haarself gedink het en wie sy was nie. Maar sy het die woord van die engel wel gelowig aangeneem (Luk 1:38).
Tot dusver het ons na verskillende houdings van mense gekyk, verskillende reaksies op God se beloftes in sy Woord. Die mens is maar ‘n komplekse wese.
Dis nie vir ons maklik om ‘n ander mens te deurgrond nie. Maar God sien wel die hart aan. En soos Hy in die Skrif sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit, wie kan dit ken?” (Jer 17:9)
Twyfel kan soms ‘n baie vroom baadjie aantrek, terwyl dit aan die einde van die dag ‘n uiting van ongeloof, of selfs vyandskap teen God en sy Woord is.
Laat ons eerder eerlik ons ellende en sondigheid erken voor God, wat in elk geval alles sien. Soos Asaf bely het in Psalm 73: ek was dom en het niks geweet nie, ek was soos ‘n dier by U (vers 22).
Verder moet ons ook onthou dat die duiwel dit sy beroep maak om God se kinders te laat twyfel. Net soos hy by Job gedoen het. Toe Job al sy besittings en al sy kinders verloor het, was die satan vinnig om te suggereer dat God nie eerlik is nie, en dat Hy nie ‘n God van liefde is nie. Al was dit nie God se skuld nie, het Hy tog toegelaat dat Job in omstandighede tereg sou kom wat tot baie twyfel gely het. Onder sulke omstandighede is dit nie maklik om te bly vashou aan die belydenis dat God goed is nie. Dit vra geloofsmoed om saam met Habakkuk te bely: al sou die vyeboom nie blom nie en daar geen vrugte aan die wingerdstok wees nie ... nogtans sal Ek juig in die HERE, ek sal juig in die God van my redding (Hab 3:17-18).
Dit is net deur genade as ons tot so ‘n belydenis kom. So gebruik God soms omstandighede wat tot ernstige vertwyfeling lei, met die doel om ons sterker daaruit te laat opstaan.
Maar, benadruk die Dordtse Leerreëls in navolging van die Skrif, God sal ons nie bo ons vermoë laat versoek nie. Saam met die versoeking sal Hy ook uitkoms gee. Ja Hy gee altyd ‘n oop deur na sy Seun Jesus Christus. Die feit dat versoekings ons pad kruis, moet ons nie verbaas nie. Soos Paulus die gelowiges in Antiochië vermaan het: ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan. (Hand 14:22)
Maar hoe moeilik die pad ook is, ons hoef nie aan ons aankoms te twyfel nie.
Solank ons gefokus bly op Christus, die Leidsman ten lewe. Christus het belowe: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh 10:27-29)
- Die vrugte van die sekerheid wat die Gees skenk
Dus, hoewel gelowiges by tye twyfel aan hulle redding, skenk God weer uitkoms, vertroosting en ook sekerheid. As ons weer ons aandag op Christus rig, dan sien ons weer ons uitverkiesing raak; dan sien ons die einddoel van ons geloof, naamlik die saligheid van ons siele – 1 Petrus 1:9.
In Christus kry ons sekerheid.
Die Remonstrante het teen hierdie leer te velde getrek. Hulle het die Gereformeerdes beskuldig dat dit slapheid en geestelike luiheid in die hand sou werk. Maar die sinode van Dordrecht het dit ontken.
Artikel 12 sê: die volharding veroorsaak nie ‘n houding van selftrots of vleeslike sekerheid nie, maar die volharding van die heiliges is ‘n rede tot nederigheid, kinderlike vrees, ware godsvrug, geduld, vurige gebede en standvastigheid.
Sekerheid veroorsaak nie dat gelowiges agteroor sit in selfgenoegsaamheid nie, maar sekerheid produseer juis al hierdie eienskappe hierbo genoem. Nou ontken die Dordtse Leerreëls nie dat daar mense kan wees wat die leer van die volharding misbruik nie. Mense met die oppervlakkige houding: eenmaal gered, altyd gered. Maar so ‘n houding is nie die fout van die leer van die volharding self nie, maar dit is ‘n misbruik van hierdie leerstuk.
As jy ‘n voorskrif van die dokter kry vir ‘n bepaalde siekte, maar jy lees nie die instruksies goed nie, of jy ignoreer platweg die instruksies hoe jy die medisyne moet inneem, dan kan daardie selfde medisyne jou siek of selfs dood maak, pleks van genees.
So werk dit ook met die leerstuk van die volharding van die heiliges. Die Skrif leer ons hoe om hierdie leerstuk te gebruik, sodat dit dankbaarheid en nederigheid tot gevolg het, sodat dit ons troos, sodat dit vir ons sekerheid gee, maar nie vleeslike sekerheid nie. As hierdie leerstuk tot trots lei, wys dit dat ons dit nie reg gebruik het nie. Hierdie leerstuk behoort ons juis tot die besef te bring dat ek niks uit myself kan nie. Sonder Christus is ek tot niks in staat nie. Enigiets wat ek los van Christus en sy Gees doen, is nie ‘n goeie werk nie, dit is nie vir God aanvaarbaar nie.
Dus teen die Remonstrante handhaaf die Dordtse Leerreëls wat die Skrif ons openbaar: Ja, daar is sekerheid van redding moontlik.
Dit is ‘n soort sekerheid wat mense nie trots en selfgenoegsaam maak nie, maar nederig en dankbaar. Kyk ons na die Skrif, dan sien ons hierdie sekerheid. Die gelowiges in die Ou Testament het geleef met sekerheid.
Hoewel die lewe hulle dikwels heen en weer geslinger het, soos ons telkemale in die Psalmboek kan lees, het hulle tog die sekerheid vasgehou dat die HERE hulle nie sal loslaat nie. Die Psalms loop oor van uitdrukkings van sekerheid en standvastigheid, soos: God is my rots, God is ‘n toevlug vir my, ‘n skild, my verdediger, my sterke toring ensovoorts.
En dieselfde vind ons in die Nuwe Testament.
Paulus kon aan die Filippense skryf dat hy daarvan oortuig is dat die Here wat ‘n goeie werk onder hulle begin het, dit ook sal voltooi tot op die dag van Jesus Christus (Fil 1:6).
Ons het vandag, vir die laaste keer hierdie jaar, saam nagmaal gevier. Christus se bedoeling met die nagmaal is om aan die gelowiges sekerheid te gee.
Die woordjie seker het vandag verskeie male geklink.
So seker as wat die brood gebreek word, so seker is Christus se liggaam vir julle gebreek, tot vergewing van julle sondes. So seker as wat jy die wyn geproe het, so seker het Christus sy bloed gestort. Laat ons met sekerheid die einde van die jaar tegemoet gaan, en met sekerheid die toekoms inkyk.
‘n Sekerheid wat ‘n vrug van Christus se Gees se werk in ons is. ‘n Sekerheid wat nederig maak, nie trots nie. Wat dankbaar maak, nie selfgenoegsaam nie.
‘n Sekerheid wat, hoewel dit aanhoudend aangeval word, orent sal bly.
‘n Sekerheid wat ons aanspoor tot goeie werke en dankbaarheid.
Amen.
Votum
Seën
Ps 73:1,2
Gebed
Nagmaalsformulier
Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)
1e tafel: Jeremia 17:5-10; Handelinge 14:21-22; Filippense 1:1-6; 1 Petrus 1:1-9; sing: Ps 73:11,12
Lofverheffing & dankgebed
Teks: Dordtse Leerreëls 5, par 11-12
Preek
Ps 77:1,2,5,6
Gebed
Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Ps 116:7-9
Seën