Voetwassing en kruisiging – die wese van die Christelike geloof

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-03-30
Teks: 
Johannes 13:16
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 13:1

Wanneer laas het jy iemand se voete gewas? Normaalweg was mens jou eie voete. Ouers was gewoontlik hulle klein kinders se voete. Verder gebeur dit dat verpleegsters en versorgers siekes of bejaardes se voete was, wat self nie in staat is om dit te doen nie. Maar dit is so ongeveer waar dit ophou in ons samelewing. Destyds, in ou Israel, was dit ‘n algemene gebruik om voete te was. Die mense het meestal op sandale geloop, en die paaie was maar stowwerig. Dit was ‘n teken van gasvryheid, dat die gasheer gesorg het dat die gaste se voete gewas word by aankoms. Hoewel, die gasheer het dit nie self gedoen nie. Daar was ‘n slaaf of bediende wat dit moes gedoen het.

Tema: Voetwassing en kruisiging – die wese van die Christelike geloof

  1. Die voetwassing is ‘n voorbode van die kruisiging
  2. Die voetwassing is wesenlik vir wie Christus wil volg
  1. Die voetwassing is ‘n voorbode van die kruisiging

    Die gebeure wat ons gelees het, het plaasgevind aan die vooraand van die dag van die kruisiging. Jesus het goed besef dat die ‘uur gekom het’.  Hy is nou in die pylvak van sy lydensweg. Die evangelis Johannes skryf: Hy het volgehou.

    Die laaste loodjies weeg die swaarste. Tog het Hy sy eie mense liefgehad tot die einde toe. Sy eie mense verwys hier na almal wat die Vader aan Hom gegee het, om hulle te red. Jesus het God se plan geken, en – hoe swaar ook – gewillig daaronder gebuig. Hy het van God uitgegaan, en Hy het geweet, na sy lydensweg, sou Hy ook weer na God heengaan. Daaraan het Hy vasgehou.

    Jesus was hier met sy dissipels aan die maaltyd. Dit was die laaste pasga wat Hy met sy dissipels geëet het. Op hierdie aand was dit die tradisie dat die Jode die pasgalam geëet het. Dit was die gewoonte om brood en vleis te doop in ‘n skaaltjie met bitter kruiesous, wat op tafel gestaan het. Die bitter sous was ‘n simbool vir die bitterheid wat Israel destyds in Egipte beleef het.So is die Pasga deur die eeue van die Ou Testament gevier. En so het Jesus dit nou ook weer saam met sy dissipels gevier. Hierdie keer was dit egter ‘n spesiale keer, en Jesus het dit besef. Sy ‘uur’ het naamlik gekom. En daarom het Hy tydens hierdie maaltyd die nagmaal ingestel, die fees vir die Nuwe Testament. Tydens hierdie maaltyd het daar nog iets gebeur. Ons vind dit nie terug by die ander evangeliste nie, maar die evangelis Johannes vermeld dit spesifiek. Naamlik dat die Here Jesus opgestaan het om sy dissipels se voete te was.

    Soos ons al eerder in Johannes gesien het: die hele tyd was Jesus besig om sy dissipels in die regte rigting te trek. Om hulle wêreldse aspirasies om te buig.

    Die dissipels het naamlik vir Jesus gevolg om suksesvol te word, om langs Hom op die troon plaas te neem. Hulle wou belangriker word.

    En hulle wou dat Jesus al hoe belangriker word. Maar binne hierdie verwysingsraamwerk pas Jesus se optrede, om hulle voete te was, egter glad nie. Dus het Petrus nou weer geprotesteer. U sal my voete in der ewigheid nie was nie! ‘n Belangrike persoon soos Jesus behoort dit nie te doen nie.

    Dan gryp Jesus die geleentheid aan om hulle te onderrig. Hulle wêreldse aspirasies om te buig. Petrus: as Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie.Wat ‘n diep uitspraak! Die reikwydte hiervan sou Petrus eers later besef.

    Die voetwassing was nog maar net ‘n voorsmakie van wat die volgende dag sou plaasvind: die kruisiging. Voetwassing en kruisiging – ook Petrus het dit bitter nodig, al besef hy dit nog nie.

    Toe Petrus dit hoor, reageer hy: Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en hoof. Wat Jesus dan vervolgens vir Petrus antwoord, kan misverstand wek. Petrus roep naamlik dat Jesus nou nie net sy voete nie, maar ook sy hande en hoof was! Christus se antwoord hierop moet ons verstaan binne die konteks van die historiese gebruike van daardie tyd. Spesifiek die Joodse reinigingsgebruike. As die Jode naamlik die tempel besoek het – soos nou met die Pasga – het hulle vooraf eers ‘n rituele bad geneem. Dit het plaasgevind in ‘n Joodse badhuis. Die gewone mense het nie baddens by hulle tuis gehad nie. Vanaf die badhuis het hulle dan direk na die tempel geloop.

    By die tempel aangekom, was hulle nog steeds skoon, behalwe vir hulle voete wat stowwerig geword het. By die tempel was dit nie nodig om weer ‘n komplete reinigingsbad te neem nie. Net hulle voete moes gewas word, voordat hulle by die tempel kon kom.

    Nou hierdie gewoonte pas Jesus toe op Petrus en die ander dissipels. Sy onderrig van die afgelope jare aan hulle vergelyk Hy met ‘n reinigingsbad.

    Die afgelope jare se onderwys was ‘n proses van geestelike suiwering vir die dissipels. En nou, aan die vooraand van die kruisiging, is dit net die  oetwassing wat nog wag. Essensieel, ja, maar dit bou voort op wat die afgelope jare reeds gedoen is. Maar, laat die dissipels goed besef: die onderrig van al die afgelope jare gaan sinloos wees, as hierdie laaste onderrig ontbreek:

    Naamlik om nederig en diensbaar te wees, in liefde te dien. Al het die dissipels al die kennis van die wêreld, al het hulle die geloof dat hulle berge kan versit, maar hulle het nie die liefde nie, dan baat dit alles niks (1 Kor 13).

    Hierdie laaste onderwys van Jesus is essensieel. Eintlik herhaal Hy wat Hy reeds in die verlede vir hulle gesê het. Daardie onderdele wat sy dissipels maar net nie wou verstaan nie, dit hamer Hy weer by hulle in. Johannes beskryf in hoofstukke 13-17 Jesus se finale tafelgesprekke met die dissipels tydens die laaste pasgamaaltyd. Dit is die hoogtepunt van sy onderrig aan hulle. Baie direk, intensief, sluit Hy sy onderrig af tydens hierdie laaste maaltyd.

    Hy waarsku sy dissipels ook vir wat aan kom is. Daar is naamlik een onder hulle wat nie rein is nie.  Hy het geweet wie Hom sou verraai. Hy het geweet, een van hulle sou sy wêreldse prioriteite nie laat vaar nie. Diep pynlik, dat juis een wat saam met Hom brood geëet het, sy hakskeen teen Hom sou oplig.

    Jesus verwys hier na Psalm 41. Christus se opofferende liefde straal net nog helderder teen die donker skaduwees van hierdie demoniese komplot, wat besig was om vorm aan te neem. Die duiwel, wat Judas so ver gekry het, om saam te werk met die owerpriesters.

    In ons teks gee Jesus uitleg oor sy optrede. Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het? Dis reg dat julle My Meester en Here noem. Ek is dit! Maar as Ek, wat julle Meester en Here is, so optree, as ek voete was, weet dan, dat julle ook mekaar se voete moet was! Jesus het aan hulle ‘n voorbeeld gegee, om na te volg.

    In ons teks vind ons weer die dubbele amen: Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle. ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. ‘n Gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. Jesus is hier besig om sy dissipels gereed te kry vir hulle taak, om binnekort sy apostels, sy gesante te word. Die woord wat hier in ons teks met gesant vertaal is, is die Griekse woord apostolos. Elders in die Nuwe Testament, soos in die boek Handelinge, word hierdie woord gewoon met apostel vertaal. By die vertaling van ons teks kan ons die woord dus ook maar so laat staan: ‘n apostel is nie groter as die een wat hom gestuur het nie. Dit onderstreep net nog meer dat Jesus hier met sy laaste onderrig besig is, aan sy dissipels. Hy is besig om hulle intensief voor te berei vir hulle komende taak as apostels. As binnekort die tyd aanbreek dat hulle die opdrag ontvang om getuies te wees, as hulle uitgestuur word in Jerualem, Judea, na Samaria en tot die uiterste van die aarde, dan moet hulle met die regte houding gaan. ‘n Dienende houding.

    Die voetwassing, gemeente, is op ‘n manier ‘n metafoor, ‘n heenwysing na Christus se kruisiging. As’t ware die voorgereg, ‘n voorproefie. Die dissipels moet begin besef wat Jesus nou gaan doen. Die feit dat Hy hulle voete was, is ‘n voorgereg op wat gaan volg. Die hoofgereg gaan Golgota wees, wat daar gaan gebeur. Die voetwassing het die dissipels ervaar as die toppunt van liefde, die toppunt van toewyding. Tog was dit net ‘n voorproefie. Dit was nog nie die toppunt nie. Die toppunt van sy toewyding en liefde sou op Golgota kom.

    Die natuurlike reaksie van die dissipels, Petrus voorop was:  Here, dit is mos nou regtig nie nodig nie. Regtig onnodig, dat Hy die Leermeester en Here hulle voete was. En so het die dissipels ook oor sy aanstaande sterwe gedink, wat Jesus nou al meerdere kere vir hulle aangekondig het. Regtig onnodig. Hulle het nog nie mooi verstaan nie. Maar met sy optrede trek Jesus hulle in die regte rigting. Die voetwassing is nodig. Die kruisiging is ook nodig.

    Dit is wesenlik vir wie Christus is, en hoekom Hy na die aarde gekom het.

    (Tema: Voetwassing en kruisiging – die wese van die Christelike geloof

  1. Die voetwassing is ‘n voorbode van die kruisiging)
  2. Die voetwassing is wesenlik vir wie Christus wil volg

    Hierdie onderwys-met-die-daad het waarskynlik gevolg direk na die diskussie tussen die twaalf dissipels, oor wie die belangrikste was. Johannes meld dit nie eksplisiet nie, maar ons weet uit Lukas dat hierdie diskussie plaasgevind het (Luk 22:24-27). Dit was werklik ‘n onverkwiklike diskussie. Lukas gebruik spesifiek die woord “twis”. Daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag moet wees. En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ‘n leier is, soos een wat dien. Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie?

    Maar Ek is onder julle soos een wat dien.

    Hierdie onderwys het Jesus toe vervolgens ook met die daad geïllustreer.

    Woorde wek, voorbeelde trek. Want al meer as een keer het Jesus hulle hierdie onderrig gegee, maar die dissipels was maar traag om te leer.Onthou u die keer toe Jesus ‘n kindjie in hulle midde laat staan het? Ook toe het dit hieroor gegaan. Markus 9:35: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees.” Ook daardie keer het die dissiels met mekaar geredekawel oor wie die grootste is. Nou, vir ‘n laaste keer, herhaal Jesus hierdie onderwys. Want dit gaan die dissipels maak of breek.

    Of hulle hierdie onderwys gaan aanvaar of nie.

    Jesus het sy so boklere uitgetrek en ‘n doek geneem en dit om Hom vasgemaak. Ons sou vandag sê: Hy het sy baadjie uitgetrek en ‘n voorskoot aangetrek. Hy het water in ‘n bak gegooi en die voete van sy dissipels begin was.

    Hierdie optrede was ‘n verleentheid vir die dissipels. Hoewel voetwassing ‘n algemene gebruik was, was dit totaal ongebruiklik dat ‘n hoërgeplaaste dit sou doen vir die wat laer as hy was. Dit was slawewerk, bediendewerk. Ja Hy was vrywillig hulle voete. En Hy gaan ook vrywillig, gewillig, die kruisdood sterf.

    Die dissipels moet besef, hierdie gaan Jesus nie oorkom, sonder dat Hy dit kon verhoed nie. Nee, net soos Hy baie bewus self kies om sy dissipels se voete te was, so gaan Hy baie bewus self kies om aan die kruis gehang te word. Ook dit, moet hulle dan besef, gaan, net soos die voetwassing, ‘n liefdediens wees. ‘n Bewys dat Hy hulle liefhet tot die einde. Aan die begin van Johannes hoofstuk 13 lees ons hierdie uitdrukking:Jesus het hulle liefgehad tot die einde toe.

    Dit word hier veral as superlatief bedoel. Liefde van die hoogs moontlike graad. Die toppunt van diensbetoon, van opofferende liefde. Liefgehad tot die einde word ook soms temporeel uitgelê, naamlik dat Hy hulle tot en met die dood aan die kruis liefgehad het. Dis nie verkeerd nie, maar dit is eintlik onderdeel van die feit dat dit die hoogste vorm van liefde is.

    Dit laat mens dink aan die woorde uit die nagmaalsformulier. ‘n Mens sal nog bereid wees om vir sy vriend te sterwe. Maar Jesus was bereid om vir ons te sterwe, toe ons nog sy vyande was. Hy was bereid om tot die uiterste vir ons te gaan. Eers die voetwassing, daarna die kruisdood as die absolute toppunt van sy liefde. In sy optrede leer ons wat eintlik volmaakte liefde is.

    Hierdie houding verwag Hy voortaan ook van sy dissipels. Hulle wat sy apostels gaan word, gesante, uitgestuur na die uithoeke van die aarde. ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As Hy, die Heer, hierdie liefdediens verrig, moet hulle dit ook doen. Hulle moet nie die houding hê asof dit benede hulle stand is nie. ‘n Ware heer is een wat diensbaar is. Julle noem My Here en Meester, sê Jesus. Dit is reg dat julle My so noem, want Ek is dit. Here dui daarop dat hulle Hom moet gehoorsaam. Meester dui daarop dat hulle respek vir Hom moet hê. Maar hierdie verhewe posisie verhinder nie vir Jesus om neer te kniel en hulle voete te was nie. En so is julle ook verplig om mekaar se voete te was!

    Nou gemeente, hoe pas ons hierdie oproep van Christus vandag toe? Is dit dalk ‘n idee om ‘n spesifieke seremonie, ‘n voetwassingsritueel in te stel? Die Roomse Kerk ken so ‘n ritueel, een keer per jaar. Die sogenaamde pedilavium – Latyn vir voetwassing. Maar, skryf Calvyn hieroor: dit het ‘n leë seremonie geword. Na die seremonie dink die mense, veral die geestelikes, dat hulle weer hulle plig gedoen het. En vir die res van die jaar kyk hulle op hulle broeders en susters neer. Christus het nie net ‘n jaarlikse seremonie daarvan gemaak nie.

    In alle gevalle, in heel ons lewe, skryf Calvyn dan, moet ons bereid wees om die voete van ons broeders en bure te was, elke dag van die jaar.

    Gemeente, is dit nie dikwels moeiliker vir hulle wat belangrik is, om hierdie les te aanvaar nie? Die dissipels, wat hulleself belangrik begin ag het, het dit nie uit hulleself gedoen nie. Jesus moes eers ‘n voorbeeld vir hulle stel.

    Maar, ‘n rukkie gelede was daar wel iemand anders wat dit wel self gedoen het. ‘n Paar dae gelede het Maria, Lasarus se suster, uit haar eie Jesus se voete gewas. Meer nog, nie net met water gewas nie, maar met kosbare salf.

    Ons lees dit in Johannes 12:3: “En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf.”

    Hierin was Maria ‘n voorbeeld vir die dissipels. Laat sy vandag ook vir ons ‘n voorbeeld wees. En dan dink ek veral aan die susters vandag. Hoe kan julle die beste diensbaar wees in die kerk? Daar is in ons tyd ‘n gees dat die susters alles ook wil doen wat die mans doen. Ons kan sien hoe dit in kerke rondom ons gebeur het, en nou onlangs ook in ons susterkerke in Nederland. Die susters is nie meer tevrede met hulle posisie nie. Hulle wil ook in die ampte dien. Hulle wil ook belangrik wees. Dit was egter nie wat Maria gedoen het nie.

    Sy het juis gedien deur haar nederigheid. Daarin was sy ‘n voorbeeld vir die dissipels. Laat julle susters, vandag ook die kerk so dien. Deur voorbeelde van nederigheid, diensbaarheid, opofferingsgesindheid te wees. Hierin gaan die vroue die mans voor in die koninkryk van die hemele, dat hulle vinniger bereid is om nederig te wees, diensbaar, opofferingsgesind.

    Is dit nie ‘n feit dat mans so maklik ‘n eie ego ontwikkel nie? Hulle wil heers, hulle wil bedien word. Maria se optrede, net soos Jesus se optrede, spoor ons as broeders juis aan om te dien. Ja Christus het aan die apostels ‘n gesagsposisie gegee. Iets wat Hy nie gegee het aan die vroue wat Hom gevolg het nie. Maar terselfdertyd het Hy dit baie duidelik gemaak met sy eie voorbeeld. Hierdie gesagsposisie verhinder nie dat Ek Myself diensbaar opstel, ja Myself opoffer nie! En so moes die dissipels leer om diensbaar te wees. Dieselfde geld vir ons vandag, in besonder die ampsdraers wat deur Christus in ‘n posisie van gesag geplaas is! Christus het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem – Filippense 2:6-8. “in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” Die wete van sy hoë afkoms, en die belofte van die Vader dat Hy Hom binnekort sou verhoog op die hemelse troon, was geen rede vir Hom om nie sy dissipels se voete te was nie. Juis wel. Juis daarom het Hy dit wel gedoen.

    Woorde wek, voorbeelde trek.

    Soos baie van ons mans, was Petrus maar bietjie hardleers. Jy begryp dit nou nog nie, maar later sal jy dit verstaan – het Jesus hom geantwoord (vers 7).

    Tog het Christus hom reggebrei. Later het Petrus ‘n ander mens geword, danksy die Heiland se geduld, danksy die Heilige Gees se werking in hom.

    Later skryf Petrus self in een van sy briewe: “wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petr 5:5) Met ootmoed bekleed kan mens ook vertaal as: trek die voorskoot van nederigheid aan.

     

    Die voetwassing en die kruisiging staan simbool, dit is die kenmerkende eienskap vir die Christelike geloof. Die dienende liefde van Christus is die fondament vir die kerk. Net deur sy dienende liefde is ‘n gesonde kerkgemeenskap moontlik. Is jy bereid om die voete van jou broers en susters te was? Nie as ‘n seremonie nie. Sommige mense hou van seremonies, hulle hou van rituele. By wyse van spreke ‘n rituele voetwassing hier voor in die kerk, sodat almal kan sien dat jy dit doen. Dis nie wat Jesus bedoel nie.

    Dit sal ‘n vorm van nederige hoogmoed wees. Maar dit gaan oor jou lewenshouding. Is jy bereid om, waar niemand dit sien nie, na jou broer en suster uit te reik. Ook hulle te help wat laer as jy is, sosiaal gesproke.

    Is jy ook bereid om die voete te was van jou swart broer en suster op die sendingsveld? Reik jou dienende liefde ook tot daar?

    Voetwassing en kruisiging, dis die rede hoekom die kerk bestaan. Omdat Christus ons so liefgehad het, toe ons nog sy vyande was. Toe al het Hy ons voete gewas, en dit was maar die voorgereg. Daarna het Hy aan die kruis vir ons gesterf. Dit was die ultieme liefdebetoon. Hy het sy dissipels gelei, getrek in die regte rigting. Sodat hulle later as apostels met dieselfde houding die Evangelie sou versprei. Beseffende dat ‘n dienskneg nie groter as sy heer is nie. ‘n Gesant nie groter as die een wat hom gestuur het nie. Mag die Evangelieverkondiging vandag, op hierdie Goeie Vrydag, ons ook weer terugbring by hierdie mees basiese waarheid van die Evangelie. Voorwaar, dit is waaroor dit gaan.  Hier begin ‘n gesonde geloofslewe. Hier begin ‘n gesonde kerklike lewe. Voetwassing en kruisiging was wesenlik aan Christus se bediening op aarde. En hierdie houding – die bereidheid om die ander se voete te was, wie die ander ook mag wees,  moet ook wesenlik wees vir elkeen wat Christus wil volg.  Voorwaar, voorwaar, sê Jesus. Dit is dubbel seker.

    En met sy dubbele amen wil Hy by ons ‘n gelowige reaksie ontlok.

    Ja, U is ons Heer en Meester. Ons is bereid om hoorders en daders van die Woord te wees. Want wat U sê is ja en amen!

    Amen.

     

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 22:1,2

Gebed

Skriflesing: Johannes 13

Ps 41:3-6

Teks: Johannes 13:16

Preek

Sb 6:1,2

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 6:4,5,6

Seën