Salig is julle wat nie gesien het nie, maar tog glo

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-04-01
Teks: 
Johannes 20:19-31
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 20:19-31

Ons het vanoggend gesien hoe die opgestane Here aan Maria Magdalena verskyn het. Sy roepstem het die miswolke van verdriet en ongeloof laat verdamp. Vanaand gaan ons kyk hoe die Here daardie self aand van die opstandingsdag aan sy dissipels verskyn. Hoe sy Goddelike verskyning alle miswolke van vertwyfeling laat verdamp het. Hoe Hy hulle opnuut in diens neem, al het hulle Hom die afgelope dae in die steek gelaat. Hulle, die tien wat daar aanwesig was. Eers ‘n week later, weer op die Sondag, was Thomas ook daarby. Toe het Jesus weer aan hulle verskyn.

Vanaand, gemeente, het die Here Jesus ook aan ons verskyn. Ons ontmoet Hom vanaand in die sakrament van die nagmaal. Ons ontmoet Hom in sy Woord. Die teks vir vanaand gaan juis hieroor. Salig is julle wat nie gesien het nie, maar tog geglo het.

Ons het Jesus vanaand nie letterlik gesien nie. Maar in Woord en sakrament kom Hy na ons. Dit was hoekom die Johannesevangelie te boek gestel is. Sodat alle toekomstige generasies ook die Christus kan ontmoet. Nie liggaamlik nie, maar in sy Woord. En so spreek Christus ook tot ons vanaand, deur sy Woord.

Tema: Salig is julle wat nie gesien het nie, maar tog glo

1 Christus se verskyning aan Thomas

2 Christus se verskyning aan ons

1 Christus se verskyning aan Thomas

Dit is Paasfees, meer spesifiek die aand van die opstandingsdag. Die Sondag van die opstanding  Jesus verskyn onverwags aan sy dissipels, terwyl hulle agter geslote deure vergader het. Vrede vir julle! het Hy hulle gegroet.

In die Grieks staan die woord ‘Eirene’, maar ons kan aanneem dat Hy sy dissipels, soos gewoonlik, in Aramees gegroet het. Die bekende Hebreeuse of Aramese woord vir vrede is: Shalom! Al die beloftes van God in die Ou Testament oor die komende vrederyk vibreer saam in hierdie woord.

Na Jesus se arrestasie het die dissipels gevlug. Hulle is verstrooi. Hulle was verspreid oor verskillende addresse in en om die stad. Die berig dat die Heialnd opgestaan het, het hulle egter nou weer bymekaar gebring. Vir die eerste keer sedert die laaste paasmaaltyd was hulle weer bymekaar in een vertrek. Die verstrooide skape soek mekaar weer op, al is hulle nog angstig.

Hulle hou die deure gesluit.

Maar dan staan Jesus ineens in hulle midde.  Sy goddelikheid blyk daaruit dat geslote deure nie vir Hom kan teëhou nie, net soos ‘n geslote graf Hom ook nie kon vashou nie. En sy vredegroet verdryf hulle vrees. Hy wys hulle vervolgens sy hande en sy. Hierdie littekens vorm as’t ware die identiteitsbewys van die Opgestane. Daaraan herken die dissipels Hom. Tegelyk is dit ‘n oorwinningsteken. Noudat die dissipels Hom sien, verander hulle vrees in vreugde. Ook hulle kan nou getuig, net soos Maria Magdalena, dat hulle met hulle eie oë die opgestane Here gesien het. Jesus herhaal toe weer sy groet: Vrede vir julle! (Shalom)

Nou volg ‘n plegtige uitspraak van Jesus. Die feit dat hulle ooggetuies van hierdie wonder is, het konsekwensies. Hy bevestig naamlik nou sy dissipels om voortaan sendelinge, apostels te word. Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. Vir die uitoefening van hierdie sendingsopdrag is die krag van die Heilige Gees onontbeerlik. Jesus maak dit dubbel duidelik deur op hulle te blaas. ‘n Profetiese handeling, saam met toeligting. Die apostels ontvang krag en moed, ja hulle kom eers tot lewe as die Heilige Gees hulle aanblaas, aanvuur. Soos ‘n instrument, ‘n trompet of fluit, eers tot lewe kom as die musikant daarin blaas. So blaas Christus nuwe lewe in sy dissipels.

Hierdie gebeurtenis moet ons nie verwar met die Pinksterdag, wat vyftig dae later sou plaasvind nie. Christus stort op hierdie aand nie die Heilige Gees uit, soos Hy dit later op Pinksterdag gedoen het nie. Hy maak wel duidelik dat die dissipels die Heilige Gees moet ontvang. Hierdie aanskoulike gebeurtenis is ‘n heenwysing na wat hulle op die Pinksterdag te wagte staan. Wat hier op die Sondagaand gebeur het, stem ooreen met wat ons in die ander Evangelies lees.

Ons lees byvoorbeeld in Lukas 24: “Ek kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.” (vers 49) – ‘n verwysing na die Pinksterdag. Lukas herhaal dit in Handelinge 1: “En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank na hierdie dae nie.” (vers 4-5)

Dan gee Christus hulle ‘n taakomskrywing. Hulle taak is nou om in naam van Christus bekering te preek tot vergewing van sondes. Christus gee hulle die volmag: as julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe.

As julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou. Danksy hulle bediening van die Evangelie word dit nou moontlik. Die verkondiging van Christus, van die heilsfeite van sy lewe, maak nou vergewing moontlik! Kwytskelding van skuld word ‘n realiteit vir elkeen wat Christus as Redder aanvaar.

Andersyds word die ongelowiges skuldig verklaar. Hulle sondes word nie kwytgeskeld nie, maar bly toegereken. Geloof en bekering is dus beslissend.

Waar ook al Christus se gesante, sy apostels, ontvang word in naam van hulle Sender, daar mag hulle ook die vergewing van hulle Sender uitdeel.

 

Vervolgens verskuif die aandag na Thomas. Hierdie stralende eerste verskyning van Jesus aan sy dissipels het een skadukant gehad. Thomas, Didimus, was naamlik nie daar nie. Johannes meld nie hoekom hy nie daar was nie. Uit die res van die Evangelie kry mens soms die indruk dat Thomas iemand was wat wel meer gereeld sy eie gang gegaan het (Joh 11:16; 14:5).

Maar sodra die ander dissipels weer met hom in aanraking gekom het, het hulle uiteraard onmiddelik die nuus met hom gedeel. Ons het die Here gesien! Hy het opgestaan! Vervolgens lees ons in vers 25 sy skeptiese reaksie. Ons ken sy bekende opmerking: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers. As ek my hand nie in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.Kleingeloof tot en met. Onlangs was Thomas nog ‘n ooggetuie hoe Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het.Tragies dat hy die unanieme getuienis van sy 10 mededissipels nie nou wil glo nie. Skepties tot en met.

Maar gelukkig, Christus het hom nog nie afgeskryf nie. Agt dae later verskyn Jesus toe weer aan hulle, weer op die Sondag, die eerste dag van die week.

Weer klink dieselfde groet: Vrede vir julle! (Shalom) Hierdie keer spreek Christus spesifiek vir Thomas aan. Hy gee blyk van sy alwetendheid, deur Thomas te konfronteer met sy eie woorde. Kom Thomas, bring jou vinger hier.

Kyk na my hande. Bring jou hand. Steek dit in my sy. Moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. Thomas het vir tasbare bewys gevra. Nou het hy die gekry.

Hierdie optrede van die Heiland het Thomas oor die streep getrek. Vol verwondering bely hy: my Here en my God! ‘n Diep persoonlike belydenis, gesien die herhaling van die woordjie my.

Jesus se woorde vervolgens aan hom, is vir ons van onskatbare waarde.

Thomas het gesien en geglo. Maar, sê Jesus, salig is daardie mense wat nie gesien het nie, en tog geglo het. Met hierdie boodskap mog Thomas en die ander dissipels na Pinksterdag die wêreld intrek. Thomas het geglo in die Opgestane Here, omdat hy Hom gesien het. Maar na Jesus se hemelvaart is elkeen op aarde salig wat tot geloof kom, sonder dat hulle Hom gesien het.

Met hierdie boodskap het die apostels die wêreld ingetrek. So skryf die apostel Petrus ook in sy brief:

“Jesus Christus, vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Petr 1:8)

Ja sedert hierdie tweede Sondagaand na die opstanding, is dit die unanieme apostoliese getuienis. Ons het die Here gesien. Hy het opgestaan!

Nog ‘n derde keer het Jesus aan sy dissipels verskyn. Toe was Thomas ook daarby (Joh 21:2). Ook in die apostellys van Handelinge 1:13 word Thomas genoem. Daarna lees ons nie weer in die Nuwe Testament oor hom nie.Uit die kerkgeskiedenis kom die tradisie tot ons dat Thomas betrokke was by die gemeentes in Sirië. Verder vermeld Eusebius, die bekende geskiedskrywer, dat Thomas in Persië gewerk het. Verder is daar berig dat hy selfs na die Verre Ooste sou gegaan het. Tot op hede is daar byvoorbeeld Christene in Indië wat hulleself Thomas-Christene noem. Hoe min ons oor Thomas se verdere lewe ook weet, sy belydenis op daardie tweede Sondag na die opstanding ken ons wel. My Here en my God! En saam met die ander apostels het hy die unanieme apostoliese getuienis uitgedra. Hierdie boodskap het ook ons bereik, in die 21ste eeu. Salig is jy wat glo, al het jy nie gesien nie.

(Tema: Salig is julle wat nie gesien het nie, maar tog glo

1 Christus se verskyning aan Thomas)

2 Christus se verskyning aan ons

Die laaste twee verse van die hoofstuk sluit aan Christus se woorde aan Thomas. Maar nou rig die evangelis hom regstreeks tot sy lesers. Hierdie twee verse vat die doel saam van die hele Johannesevangelie. Die tekens en wonders wat Jesus voor die oë van sy dissipels gedoen het, was legio. Almal is nie in hierdie boek beskrywe nie. Johannes skryf dit, sodat daar nie misverstand ontstaan, asof hy ‘n volledige beskrywing van al die wonders in sy boek bied nie. In die eerste plek het Jesus se koms na die aarde ook nie om die wonders gedraai nie. Dit was daarom nie nodig om almal in die Evangelie, een vir een, op te teken nie. Dit was nie die primêre taak van die evangeliste nie. As ons byvoorbeeld deur die Johannesevangelie lees, merk mens dat die aandag primêr uitgaan na dit wat Christus geleer het. Dit wat Hy gedoen het – die wondertekens – was bedoel om die aandag op sy leer te vestig.

Daardie wonders wat wel opgeteken is, is gedoen om die Messiaanse taak en Goddelike afkoms van die Heiland te openbaar. Om die lesers aan te spoor tot geloof. Is dit nie waar dat elke mens maar traag is om die heilsfeite te glo, as sy aandag nie deur God getrek word deur die wonders nie? Ons ken vandag nie meer al die wonders wat gedoen is, deur Jesus, en later ook nog deur sy  postels nie. Vir ons is dit genoeg om te weet dat dit ‘n menigte was, te veel om op te skryf.

Johannes gee hier aan die einde ‘n terugblik op sy boek as geheel.Daarin het hy uitvoering opgeteken hoe Jesus sy Goddelike heerlikheid openbaar het. In die lig van die opstanding, spreek al sy woorde en dade des te sterker. Die seleksie wat opgeteken is, is gedoen met die doel dat julle kan glo. ‘n Mens kom nie tot geloof op grond van wonders nie. Wonders wek mense se verbasing, maar wek nie die geloof nie. Dit is slegs die woorde van Jesus wat die geloof wakker maak. En dit is die hoofdoel van alles wat Johannes opgeskryf het.Deur die Woord te glo, ontvang ons redding. Deur geloof ontvang ons die ewige lewe.  As ons los van Christus is, is ons dood.

Ons word herstel in die ewige lewe slegs deur sy genade.  Ja, deur te glo in sy Naam, kan julle die ewige lewe hê.

Julle wat nie gesien het nie.Julle – gemeente – dit is ons.

Ons ontvang hierdie Evangelie as geskenk. Geïnspireer deur die Gees het Johannes hierdie dinge opgeskryf, met die oog op komende geslagte.Sodat hulle, al het hulle nie gesien nie, tog sal glo! Glo dat Jesus die Christus is.

Hy is inderdaad die Messias wat deur die wet en profete in die Ou Testament aangekondig is.Johannes se Evangelie laat geen onduidelikheid daaroor bestaan nie.Hy is die Messias.Hy is die beloofde Middelaar, wat die wêreld weer met God sou versoen. Hy kon hierdie Middelaar wees, omdat Hy self God en mens is. Oor sy godheid laat die Johannesevangelie ook geen onduidelikheid bestaan nie. Ja, Hy is die ewige Seun van God. En dat ons die lewe kan hê in sy Naam! Die ewige lewe welteverstaan!

Vanaf die tweede Sondag na die opstanding het die apostels die Evangelie unaniem en eendragtig die wêreld begin indra. Dit het des te meer momentum begin kry na Pinksterdag, na die deur Christus beloofde uitstorting van die Heilige Gees.

Ons vier vandag Paasfees, opstandingsfees. Dit is vandag, in 2018, al die soveelste Sondag na Paasfees. Rofweg 2000 jaar maal 52 Sondae per jaar.

Meer as honderd duisend Sondae. En die wonder is dat op elkeen van daardie Sondae sedertdien, Christus se opstanding herdenk is. Dat op elkeen van daardie Sondae mense gelowig bely het: Jesus Christus is my Here en my God!

Eers net mense in Jerusalem. Toe ook in Judea.Toe ook in Samaria.

Toe in Klein Asië, Sirië, die Midde-Ooste, Noord-Afrika, Europa, Griekeland, Macedonië, Italië, Spanje. En vandag, amper 2000 jaar later, ook hier aan die suidpunt van Afrika. Ook ons bely, nie omdat ons self gesien het nie. Maar danksy die getuienis wat ons ontvang het. Die getuienis van die Evangelie volgens Johannes, wat vandag sentraal gestaan het. Wat getuig dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God. Op grond van hierdie getuienis bely ook ons, vandag: Hy is my Here en my God!

Geliefde broer, suster, wie jy ook is, oud of jonk, lidmaat of net ‘n gas vanaand hier in die kerk. In Naam van Christus roep ek jou op: Omarm ook Thomas se belydenis. Maak dit ook jou eie. Christus het liggaamlik aan Thomas verskyn.

Vanaand het Christus ook aan jou verskyn. Nie liggaamlik nie, maar in sy Woord. En met sy eie woorde roep Hy jou op: Glo in My. As jy in My glo, sal jy die eiwge lewe hê in my Naam.

Bely jou geloof, saam met Thomas: Hy is my Here en my God.

Trek dan ook die konsekwensies in jou lewe. Lei ‘n lewe in diens van Hom, in ooreenstemming met sy wil. Hy is mos jou Here en jou God. Ons sien Hom nie nou nie. Maar eendag gaan ons Hom sien. Sorg dat jy gereinig voor Hom kan verskyn. Van al jou sondes ontslae, weggewas in sy bloed.

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 149:1

Gebed

Nagmaalsformulier (kort)

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Ps 149:2

1e tafel: Johannes 20:19-31; Ps 35:8,12

Lofverheffing & dankgebed

Teks: Johannes 20:19-31

Preek

Sb 32:1,4

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 149:3,4

Seën