Kruispunt van die koningsamp oor God se volk

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-04-15
Teks: 
1 Samuel 15:35-16:14
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus:

Hoe donker en uitsigloos is dit wanneer jy bedroef is oor iemand van wie jy soveel verwag het, maar wat soos ‘n standbeeld van sy voetstuk val en jy self so geraak word daardeur dat jy geen uitsig meer het nie. Jy is siek van terleurstelling, droefheid, kwaad.

Samuel het getreur oor Saul wat teen God gesondig het en sy hart verhard het sodat God hom as koning verwerp het. Hy het soveel van Saul verwag. Hy het met hom geloop en hom begelei, hy het saam met hom die Here gedien en hom ondersteun, hy het hom vir jare gegee vir die koningskap van Saul.

Maar kom ons gaan terug na die situasie voor die koningskap van Saul. Besef hoe die troostelose situasie van Israel Samuel ontstel het. Hulle wou opsluit ‘n koning hê. Maar hulle tree op asof die Here nie hulle koning is en na hulle omsien nie.

Hulle behoefte aan ‘n koning was na aanleiding van die jare onder die Rigters waar die volk in ellende gedompel deur hulle sonde, die Here telkens gesmeek het om redding en Hy hulle telkemale gered het, maar hulle spoedig weer teruggeval het in sonde en afvalligheid en die omringende volke se gode gedien het. Daaraan het hulle nie gedink nie, nie gedink aan God se oneindige geduld met hulle en sy redding van hulle nie. ‘n Koning soos wat die omringende volke gehad het sou die probleem kan oplos, het die volk gemeen. Dit is ‘n voor die hand liggende oplossing ongeag jou verhouding met God. ‘n Koning moes na hulle omsien en hulle sterk maak.

God het aan hulle ‘n koning gegee in die salwing van Saul. God het die koningskap reeds toegelaat in Deut 17:14-20. Indien die reg gedy sal die volk die Here vrees en nie meer vermetel handel nie,  dan sal die koningskap volgens die Here se voorskrif werk.

Maar verwyt God hulle: die reg het soek geraak en die vrees van die Here en hulle vermetelheid teenoor Hom het toegeneem. Hulle het Hom van die tyd van die uittog uit Egipte verlaat en ander gode gedien.  Samuel moes die volk waarsku wat die koningskap vir hulle inhou en wanneer hulle kla sal die Here nie na hulle luister nie.

God het reeds Num 24:17 sy Seun, die Messias, die volmaakte koning in die oog…. : ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op……..

Maar Saul het nie God in die oog nie. Ja jy kan seker sê hy was godsdienstig, maar nie gelowig in die sin van vertrouend op God alleen nie. Met sy indrukwekkende lengte en voorkoms het hy die volk agter hom verenig in die stryd teen die vyande. Hy het God op sy manier gedien. In ongeduld luister hy nie na God se Woord nie en vra nie God se leiding nie maar offer op eie inisiatief. Hy luister steeds nie na God se Woord nie en dood nie al die Amalekiete nie, maar spaar die koning en die uitgesoekte vee (met die voorneme om dit aan die Here te offer). Die Gees was vaardig oor hom, maar hy was eiegeregtig en het so God verag en so die volk van God af weggelei en God teengestaan.

Hy word deur God verwerp. Samuel moes dit aan hom oordra.

Die koningskap in Israel is in krisis gedompel, dit was nie koningskap gerig op God se doel nie, dit is op ‘n kruispunt.

Tema: Kruispunt van die koningsamp oor God se volk

  1. Die val van koning Saul – verwerping deur God
  2. Die begin van die opgang van Dawid – keuse van God
  3. Na Jesus Christus toe – die Messias in beeld

Gemeente

Om sy volk te leer en voor te berei op die Messias wat kom het God die selfgenoegsame en afvallige Saul gebruik om aan hulle te toon wat die goddelike koningskap nie is nie.

Die Here sal wanneer dit reg gaan die gesalfde koning (gesalfde = messias) Dawid wat God as Koning sou liefhet en eer en God vertrou en sy hart na God toe reik en nie van God verwyder wou wees deur sy sonde nie, gebruik om te wys na die Messias of Gesalfde, die Koning wat waarlik kom regdoen en God alle eer gee.

Samuel het getreur oor Saul, 15:35, en die Here het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.

Maar die Here gaan verder. Hy neem die Koningamp nie weg nie, maar Hy maak dit nuut. Hy kies ‘n koning na sy hart. Want Hy is die Koning wat omsien na sy volk.

Daarom roep die Here Samuel op in 16:1:   Hoe lank sal jy treur oor Saul, terwyl Ek hom verwerp het om koning te wees oor Israel? Vul jou horing met olie en gaan heen: Ek stuur jou na Isai, die Betlehemiet, want Ek het onder sy seuns vir My ‘n koning uitgesoek.

In ons teks sien ons die voortgang van God se werk en die komende Messias rys voor ons op. In 16:1 kom die Here met Samuel by ‘n kruispunt vir die koningskap. Die verhaal van twee konings en twee ampsopvattings word in hierdie vers aangegee.

Die verwerpte Saul wat nog as koning sonder God sou voortgaan en die volk van God en sy diens vervreem en afvallig maak,

en teenoor hom Dawid wat gesalf sou word om in die toekoms as koning van God se hart, wat wys op die koninklike diens wat diens aan God, die enigste koning sou wees, en wat afhanklik van God se gee van die koningskap na Saul se dood, die volk agter hom aan koers gee om die Here te dien.

Die een, Saul, is verbind aan die volk se verwerping van God en die wanhopige versoek om ‘n koning vir hulle redding.

Die ander, die een wat gesalf sou word om dan in die toekoms eindelik na jare van stryd en benoudheid, van eerbiedig buig onder Saul omdat die Here sy koning is, nog twee keer gesalf, die koningskap sal oorneem, Dawid, is verbind aan die vertroue op God dat Hy uitkoms sal gee.

Saul het, so het dit in die begin gelyk, die koningskap waargemaak. Hy was tog instrument van God se Gees. Alles het tog goed begin? 

God se opdrag aan Samuel is die inwerkingstel van die koningskap in God se diens wat reik tot in die verre toekoms. Maar Samuel treur oor Saul en verwag nie die voortgang van God se werk nie. Sy oë is nie op God se onverwagte en verrassende werk aan God se koningskap oor sy volk nie.

Dit is die Here wat hom roep en stuur. En die profetiese woord beslissend betrek in sy verlossingswerk. Die Here sal ‘n koning gee in ooreenstemming met Deut 17. Volgens sy verbondsbeloftes wat roep na gehoorsame vertroue op Hom.

Van hierdie kruispunt gaan die val van die een koning voort en die opgang van die ander begin.

Die Here is die Verlosser.  Hy is die een wat gedien moet word, gevrees moet word, vertrou moet word. Gebruik Hy rigter of koning, die Here is die ware Vors en heer van sy volk.

In die lig van die volk se sondige verwerping van die Here as hulle koning, het  Samuel reeds die Here se verrassende doel met die mislukte koning Saul aan sy volk duidelik gemaak in 12:22: die Here wil nie sy volk verwerp nie omrede sy groot naam, want die Here se behae is om julle ‘n volk vir Homself te maak. Daarom is hulle nie vernietig omdat hulle God verwerp nie, en nie vernietig onder Saul se afvalligheid van God nie, en daarom is Dawid aangewys as God se gesalfde, want deur die koningskap van Dawid wat voortstu na sy groot Seun, Jesus Christus, sal sy volk gered word en God se Naam geëer word. Daarom Samuel, hoe lank sal jy nog treur oor Saul, terwyl ek hom verwerp? 

God doen dit omdat sy verlossingswerk vir sy volk wat Hy verkies het moet voortgaan. Wie hom in sy terleurstelling toewikkel vervreem hom van God wat nie stilstaan nie maar verder gaan. So is daar baie mense wat terleurgestel en frustreerd in hulleself en ander is, omdat hulle verwagtinge goed of sleg, nie werk nie, ook mense waarvan jy verwag dat hulle in vertroue op God leef, maar so is dit duidelik hulle is hulle vertroue in God kwyt.  Die toekoms moet ons altyd weet gemeente, God sorg self daarvoor. Pasop vir afsydigheid van God se gang met die uitvoering van sy werk vir sy kinders. As verlossing mensewerk was was dit anders. Maar dit is God se werk. Daarom staan die uitkoms vas en die toekoms oop na God en sy werk toe.

Samuel moet mee, opstaan uit die as van sy verdriet. Hy moet ‘n horing neem, met olie vul en die pad vat. God sal ‘n koning vir sy volk gee, ‘n koning na sy hart, sodat daar vaste tree gegee kan word.

Die totaal nuwe begin wat God wil maak blyk uit inhoud van God se opdrag aan Samuel. Hy word gestuur na die Betlehemiet Isai en Isai is van die stam van Juda, hy het geen verwantskap met die huis van Saul nie. Die huis van Saul is vir goed uitgeskakel. God gedenk sy ou belofte. Juda sal leiding neem. In die boek Rut word die verbinding na Peres uit die geslag van Juda gemaak. Die Woord van God maak uit die staanspoor skeiding tussen Saul en Dawid.  

Samuel moet daarom na Bethlehem gaan. Een van Isai se seuns tot koning salf. Maar dit is veels te gevaarlik, sê Samuel teenoor die Here.

As Saul tehore kom van die salwing van ‘n kandidaat om die koningskap mag hy Samuel vervolg. Uit die geskiedenis van Saul is dit duidelik dat hy teenstaanders uit die weg ruim.

Samuel gaan met God ‘n gesprek aan oor die saak. Die Here is geduldig met hom. Gaan op sy besware in. Kom hom tegemoet. God neem hom ernstig op.

Dit is inderdaad ‘n lewensbelangrike opdrag. Samuel is nie onwillig nie. Maar die Here bring hom ook nie in gevaar nie.

Die Here gee terselftertyd ook aan Samuel ‘n ander taak. Neem ‘n jong koei met jou mee om aan die Here te offer. Gaan offer in Bethlehem en rig ‘n offermaaltyd aan. Die aandag van die mense val dan ook daarop.

Die Here beskerm Samuel se lewe maar ook die van Isai en sy seuns en die lewe van die oudstes van Bethlehem. God maak ‘n pad vir die koningskap wat waarlik diens aan Hom sal wees en wat Hy op die regte tyd sal oprig.

En so gaan Samuel die jong koei aanjaag na Bethlehem. Toe hy daar aankom……. kom die oudstes van die stad hom bewend tegemoet. Bewend van skrik. Waarom? Het hulle gehoor van die Here se oordeel oor Saul en is hulle bang om deur Samuel daarby ingetrek te word? Het hulle dalk swaar gesondig? Moet daar vir onreg deur hulle geoffer word? Daarom die vraag: Beteken u koms vrede? U kom tog nie die rus versteur nie? Vrede is baie belangrik vir leef met God en gemeenskap met mekaar.

Gemeente, kyk die geskiedenis wat hier in Bethlehem afspeel. Ons kan onsself met toeskouers van ‘n drama vergelyk (om ons sig op die saak van God se gang met sy volk van die begin tot die einde te beskryf) – maar ons speel self ook daarin. Want dit is baie groter as dit wat ons hier op die oog af aanskou. Want wat God hier in Bethlehem gaan doen, het alles te make met die definitiewe vrede wat Hy op aarde bring. Hy werk doelgerig, in elke handeling aan die koms van die groot Vredevors Jesus Christus wat in Bethlehem gebore sal word. God is besig om die een bedryf na die ander te laat oploop en aansluit op die groot Koning, die gesalfde Verlosser en Saligmaker wat kom, asook op die eer en heerlikheid wat God toekom. En nou kan dit wees dat om by die groot Vredevors te kom, kan vir die mense van Bethlehem paniek en angs bring. Want Saul kan die salwing van Isai se seun te hore kom en die stadjie uitroei. Honderde jare later sal die groot Vredevors op aarde gebore word. Die engele sal sing: vrede op aarde. Maar die swaard sal teen die agtergrond van die sang verwoesting saai en doodmaak. Wanneer Herodes van die wyse manne uit die Ooste van die Vredevors se geboorte hoor, sal hy sy soldate stuur. Dood en verderf sal kom in Bethlehem en die klein seuntjies uitmoor. Maar Gods vrede waarvan die hemelse leerskare sing, sal steeds dwars hierteen gaan.

In ons teks was dit nog teruggehou. Maar Samuel se gang na Bethlehem om Dawid te salf en die geboorte van Dawid se groot seun, ons Heiland Jesus Christus in Bethlehem honderde jare later beteken goddelike vrede. En dit gee aanleiding vir die swaard om die vrede te probeer oorweldig en uit te skakel. Jesus so in Mat. 10:34-36:  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.   Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.   En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees.

Samuel kon vir die oudstes sê hy bring die vrede. Hierdie vrede was veel groter as wat hulle kon vermoed het. God se koms op daardie dag in Betlehem het die weg gebaan vir die groot Seun van Dawid. Hier het God nog gekom langs die weg van salwing van ‘n ander koning teenoor Saul, Dawid waaruit koning Christus sou kom. Die enigste hoop vir ons, wat nou in die bedeling van Christus se vrede leef.

Die oudstes van die stad word deur Samuel uitgenooi na die offermaaltyd. En hy heilig Isai die vader van Dawid en hy heilig Dawid se sewe broers en nooi Isai en sy seuns uit na die offermaaltyd sonder om te weet dat een, Dawid, ontbreek. Samuel kyk na die voorkoms en die gestalte van een na die ander van die broers van die oudste na die jongste, maar die Here sê: nee.

Eliab het ‘n uitstaande voorkoms en hoë gestalte. Jy kan dink aan Saul se indrukwekkende lengte en voorkoms. Die Here sê: Nee, kyk nie daarna nie. Nee. Vir Eliab. Nee. Vir Abinadab. Nee. Vir Samma. En ook die ander vier. Een vir een. Nee. Samuel het aan Isai gesê: die Here het hulle nie uitgekies nie. Samuel vra dan: is dit al die seuns? Die kleinste is nog oor. Hy pas maar skape op. Is die antwoord van Isai. Hy is duidelik nie oorweeg vir hierdie belangrike saak nie. Daarom Samuel se opdrag: Stuur en laat hom haal, ons mag nie gaan sit om die tafel voor hy kom nie.

Die rede? Die Here sien nie wat die mens sien nie, die Here sien die hart aan.  Nou moet ons hier nie ‘n verkeerde onderskeid maak nie.

Die Here verkies nie voor die hand liggend die oudste nie. Maar hy wys die jongste aan. Die ander seuns word verbygegaan. Die Here wil nie herhaling van Saul nie. Hy begin nuut. Wel in aansluiting by die ou beloftes. Hy is met dieselfde werk besig as met Abraham. Op die manier van die koningskap van Dawid om God te erken as Israel se koning en sy oë op God te hou en vir sy redding God te vertrou, breek God met die styl van Saul. Dit is nie in stryd met die Here se voorneme dat Dawid, rooierig, mooi oë en ‘n mooi voorkoms gehad het nie. Maar die voorkms is nie deurslaggewend vir die Here nie.

Maar die punt is die Here kies en Hy bepaal ook die voorkoms. God se Woord is beslissend.

Israel sê van Saul: wat ‘n man! wat ‘n koning! Jy sou van Eliab en die ander, een na die ander, ook verwagtings kan hê.

Maar die Here sê: die mens sien aan wat voor oog is maar die Here sien die hart aan. In die ampsdiens is die hart en gesteldheid van die hart wat tel.

Die hart moet op God se koningskap gerig wees en Hom vertrou.

Dit is by Dawid die geval. Die Here wys enige ooreenkomstigheid of aanpassing met Saul radikaal af, sy huis, sy styl, sy ongeloof. Die Here kies die mins voor die hand liggende. Dawid was aanvanklik nie eens deur sy vader laat haal nie. Dit gaan nie sodanig om ‘n koning nie maar om die bediening van die koningsamp.

Nie om menslike kwaliteite nie, maar om geloof in die belofte van God. So ontvang Dawid later die boodskap dat Hy Israel, God se volk sal wei soos hy met die skape gedoen het. Uit die Here se weg met hom. Waar sy hart ingestem was op die wil van die Here. Hy het algaande gewaar geword op die pad van die Here met hom, in wat die Here gegee en wat Hy hom weerhou het op hierdie pad - dat hy Vors oor God se volk Israel sal wees:

2Sam 5:12:  So het Dawid dan gewaar geword dat die HERE hom as koning oor Israel bevestig en sy koningskap verhef het ter wille van sy volk Israel. 1Kr 11:2:  Gister sowel as eergister, selfs toe Saul koning was, het u Israel uit— en ingelei; en die HERE u God het aan u gesê: Jy moet my volk Israel oppas, en jy moet ‘n vors wees oor my volk Israel.  So het dan al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom, en Dawid het met hulle ‘n verbond gesluit in Hebron voor die aangesig van die HERE, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf volgens die woord van die HERE deur die diens van Samuel.

Dawid se verhouding met die Here sal sy verhouding met God se volk bepaal. Dawid is die man van God se keuse, wie se hart vir die Here gekies het, met wie God ‘n nuwe begin gemaak het. God plaas sy Woord tussen Dawid en die huis, styl, mag van Saul. Saul het ‘n teenkrag geword. Dawid se son skyn al helderder. Die Here staan teenoor Saul. Saul was suksesvol ekonomies en militêr, hy was populêr maar die amp was soek.

Hy het nie die regte verhouding tussen homself en God gesoek nie en ook nie die regte verhouding tussen die volk en God nie, maar hy het dit in selfgenoegsaamheid en selfgelding willens en wetens verbreek en vertroebel deur ‘n teenkoning van God, die enigste Koning te wees. Hy was dapper op die slagveld, maar hy het geen ampsleiding aan die volk gegee nie.Met die aanwysing van Dawid as die gesalfde of messias is dit duidelik dit hang nie af wie jy is nie, maar oor wie God Hom ontferm.

Dit gaan nie om die mag van die mens nie maar om die verkiesende welbehae van God. In diens, amp, opdrag. Dawid was lank voor die offermaal en die salwing deur God gekies vir hierdie taak. Dawid ontvang van die aanvang van sy werk die Gees van die Here wat vaardig oor hom word en voortgaan om hom te beheers, terwyl die Gees van die Here Saul verlaat en ‘n bose gees, deur die Here gestuur, oor Hom kom. Die vraag in hierdie tegelyk droewige en hoopvolle geskiedenis is:

Hoe gaan God se plan uitgevoer word?  Hoe gaan Hy sy doel bereik met en deur sondige en swak mense?

Want alles is afhanklik van Hom. Maar daarin gebruik hy mense wat Hy aanwys en wat Hy toerus. y gee omstandighede en hy vervang mense met ander mense. In dit alles loop Hy ‘n pad met sy volk om by sy doel uit te kom. Om vrede van versoening met Hom te bring.

Dit is dus baie belangrik, wanneer ons die groter drama aanskou waarin ons deelneem, medespelers is, om te vra hoe beoordeel ons mense se harte, ons wat kinders van die Koning is? en waarom gaan dit vir die Here? Dink maar aan ampsdraers in elke sfeer van die lewe. Hoe kies ons iemand vir ‘n taak of funksie, hoe oordeel ons oor onsself hierin, en hoe maak die Here sy keuse? Wat is die maatstaf? Hoe beskou ons mense aan wie ons onsself toevertrou? En hoe kan ek die mense wat God aan my toevertrou, wat hulle vertroue in my plaas, lei?  

Samuel sien die oudste seun Eliab en dink: die nuwe gesalfde. Hy het ‘n koninklike gestalte. Dit kan net reg wees. Ja so is dit met ons mense: sien wat voor die oog is. Dit beïndruk ons of stoot ons af. Ja ook in ons omgaan met mense, wat tel vir ons van die persoon? Wat tel vir ons in ons verhouding met broers en susters in die gemeente?

Dit is nie dat mense kyk na wat sigbaar en God kyk na wat onsigbaar is en weggesteek is nie. Of dat God geheime agendas van mense lees wat ons nie van mekaar kan lees nie.

Maar wat vers 7 sê is: Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

Ps 33:13-15:  Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde, Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke. 

Nou is dit duidelik dat Bybels gesien die hart nie iets is wat onsigbaar bly nie en daarom onpeilbaar nie. Jou hart is in jou optrede, in jou besluite, handel en wandel sigbaar. Daarom kan op hierdie wyse ons ook iemand beoordeel. En het ons ‘n enorme verantwoordelikheid as kinders van die Koning wanneer dit mense se posisies en take op alle lewensterreine raak en ook ons eie verantwoordelikhede.

Die hart is die fontein waaruit alle optrede gelei word.

In sy dade word iemand se hart sigbaar en kom aan die lig wat in sy hart leef. Jesus maak duidelik dat iemand se hart openbaar, sigbaar, kenbaar word in sy woorde en gedrag. Die Here sê nie: Ek kyk na die hart, ek sien wat jy nie kan sien nie – nee, die Here sê: Ek lê ‘n ander maatstaf as jy aan.

Kyk na die hart is kyk na die dinge wat uitkom uit die persoon se lewenskoers en lewenshouding, dinge wat deur gelowiges voor God gestel en geweeg moet word. Nie ‘n koninklike voorkoms en aantreklike gestalte nie. Dit is nie bepalend vir iemand se lewensrigting nie. Dit sê te min.

Sewe maal moet Samuel sê: hom het die Here nie uitgekies nie. Daarom vra hy: Is dit al u seuns? Is daar miskien een afwesig? Die jongste is inderdaad nie by nie. Hy pas skape op. Op bevel van Samuel word hy gehaal. As hy binnekom, sê God: Salf hom.

God kies wat by mense nie in tel is nie. Christus was nie geag deur die mense nie, maar verag.

Mense sien wat voor oog is en baseer hul keuse daarop. Wat maak indruk? Die optelsommetjie wat ons so graag maak. Met die of daai kan ons bereik wat ons wil. Klinkende resultate kry. Ons kies nie sommer mense wat nie in tel is nie, geen invloed het nie. So is ons lewensbeskouing dikwels maar dieselfde, net so wantrouig teenoor God en selfgenoegsaam as die van die samelewing waarvan deel is.

Die Here se keuse gaan dwars teen mense sin in. En dit sodat mense nie sê en dink: Sien jy, ons het toe ‘n baie goeie keuse gemaak. In God se verlossingswerk gaan dit om sy genade en sy eer. Hy haal die oorwegings en die motiewe uit ons hande. Sy verlossing is nie afhanklik van aspekte wat na menslike maatstaf gewigtig is nie. Nie volgens menslike verwagting en patrone nie, maar verrassende oorvloedige genade van God, sy vrye guns aan ons. Sy onoortreflike plan om vir ons in Jesus Christus die Koning te gee wat dit moontlik maak dat ons lewenskoers verander word in gelowige, vertrouensvolle verwagting vir alles op God.

God kies hier iemand aan wie die mense nooit gedink het nie. Selfs nie Dawid se eie pa nie.  Die jongste onderaan die leer en sonder enige regte of voorregte.

Maar my en jou Koning is God!

1 Kor 1:27-29:   maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;  en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Dawid wys vooruit na hierdie Christus.

Dawid die man van God se hart. Die man wie se lewenskoers op God se koers aansluit. Omdat God Hom verkies het. Dit is duidelik dat die uiterlike nie die deurslag gee nie. Dit kom op die hart aan. Op die werk van die Heilige Gees om ons in Christus en sy lewe te laat groei. In Hom te bly. Op die lewenskoers waarin Hy ons lei.

Die Here slaan hier ‘n nuwe weg in vir ons verlossing.

Saul se verwerping en die salwing van Dawid as koning is ‘n kruispunt vir God met sy volk. Dit is ook ‘n kruispunt vir God met ons, gemeente.

Indien Dawid nie op bevel van God gesalf was nie, sou ons nog verlore en ver van God gewees het. Toe Saul gesalf is, was hy aangegryp deur die Gees. Maar daar kom ‘n einde aan. Wanneer die Gees van God van Hom wyk omdat Hy God teenstaan. Toe Dawid gesalf word, gryp die Gees hom aan sonder dat daar ‘n einde aan kom. Wanneer hy in sonde val lei die Gees hom terug na God toe. Toe Christus gedoop is het die Gees soos ‘n duif op Hom neergedaal (Luk 3:22), en die stem uit die hemel het gesê: U is my geliefde Seun, in U het ek ‘n welbehae. ……..Na Hom moet ons luister. Ons oefen ons koninklike taak op ‘n nuwe manier – die manier van beklee wees met die koninklikheid van Christus.

Hy sit nou as Koning aan die regterhand van die Vader. …….Hand. 2:36: Die hele huis van Israel weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat die volk gekruisig het.  Hy het sy Gees vir ons uitgestort sodat ons en ons kinders die belofte van Christus mag opneem vir onsself, en deur sy koningskap oor ons in die oorwinning oor die sonde en die dood lewe. Ons lewenskoers is Christus. Hy is ons alles. Vanuit ons lewe in Hom en in navolging van Hom leef ons as kinders van die Koning.   Amen

Liturgie: 

Votum

Groet

Psalm 118:13,14

Lees van die wet

Psalm 119:3,6

Gebed

Skriflesing: Handelinge 2:14-39

Psalm 145: 4,5

Teks: 1 Samuel 15:35-16:14

Psalm 145: 1,2,3

Dankgebed en voorbidding

Kollekte

Psalm 145: 8,10

Uitspreek van die seën: