Preek: 1 Korinthiërs 14:1-5
Ons vier vandag Pinksterdag. In die hoofstuk wat ons vanoggend gelees het, kom die gawes van die Gees aan die orde. Spesifiek toegespits op die gemeente in Korinthe. Die apostel Paulus spreek ‘n netelige kwessie aan in hierdie gemeente. Dit gaan naamlik oor die spreek in tale. Vandag, op Pinksterdag, sal ons kyk wat hierdie hoofstuk vir ons beteken. Die Heilige Gees het dit so gelei dat hierdie hoofstuk ‘n plek in die Bybel gekry het. Wat wil Hy hiermee aan ons sê?
Tema: Deur sy Gees skenk Christus gawes aan sy kerk
- om die Evangelie te versprei
- om mekaar daarmee te dien
- om die Evangelie te versprei
Kom ons begin by die begin.
In Handelinge 2 lees ons die geskiedenis van Pinksterdag. Daar staan dat die apostels skielik in vreemde tale begin praat het. Die aanwesige mense het elkeen afsonderlik die apostels die evangelie hoor verkondig in hulle eie moedertaal: Persies, Egipties, Frigies, ens. Dit was gewone tale, al was dit tale wat die apostels tot op daardie oomblik nie kon praat nie. Die wonder was dat Christus hulle in staat gestel het om van die een op die ander oomblik hierdie tale te kon verstaan en praat, waardeur hulle in staat gestel is om in hierdie nuwe taal die Evangelie te bedien.
Nou is daar deesdae ‘n verskynsel, wat gewoonlik met die term tongetaal aangedui word. Of deftig: glossolalie.
Glossolalie is ‘n verskynsel wat oor die algemeen omskryf kan word as die loskoppeling van jou gedagtes en jou spraakvermoë. Jy begin praat terwyl jou verstand op nul staan. Hierdie is meestal ‘n ekstatiese verskynsel. Dit kom voor onder bepaalde groeperinge en sektes. Maar dit is nie net tot Christene beperk nie. Ons vind dit ook in ander godsdienste. In die tyd van die Nuwe Testament was dit ook ‘n bekende verskynsel. Dit het byvoorbeeld in die Hellenistiese godsdienste gefunksioneer as simbool vir goddelike inspirasie. Ondersoek het verder uitgewys dat hierdie tongetal verskil van land tot land.
Amerikaanse tongetaal klink bv. anders as Britse tongetaal, en êhulle tongetaal kan uitlê. Tog het ondersoek uitgewys dat tongetaal nie ‘n eenduidige boodskap het nie.
Twee sogenaamde tongetaal tolke is gevra om dieselfde tongetaal boodskap, wat op band opgeneem is, onafhanklik van mekaar te vertaal.
Hulle het met twee volledig verskillende vertalings gekom. As teenargument word dan genoem: ja maar die Gees het aan elkeen ‘n ander vertaling in die mond gelê. Is dit ‘n goedkoop teenargument?
Selfs as dit waar is, dan nog steeds is dit duidelik dat tongetaal, oftewel glossolalie, iets heeltemal anders is as die wonder waaroor ons in Handelinge lees. Want daar was dit wel ander tale, maar tog gewone mensetale, wat verstaanbaar was vir die moedertaalsprekers wat aanwesig was. Ons weet uit Handelinge dat hierdie wonder van Pinkster daarna nog in elk geval twee keer herhaal is.
Ons lees daarvan in Handelinge 10 & 19. Telkens as die Heilige Gees op ‘n nuwe groep mense uitgestort is, het hierdie taalwonder plaasgevind.
Hierdeur is die dissipels bekwaam gemaak om die Evangelie uit te dra na nuwe groepe mense. Dit in ooreenstemming met Jesus se belofte in Handelinge 1:8: Julle sal my getuies wees in Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.
Ons weet verder uit Handelinge dat Paulus, die apostel wat hierdie brief aan die Korinthiërs geskryf het, ook by die taalwonder aanwesig was in Handelinge 19. As hy dus in 1 Korinthiërs 14 skryf oor die spreek in tale, weet hy waaroor dit gaan, en hy het self ook hierdie gawe ontvang. As hy dus die Korinthiërs in ons hoofstuk vermaan dat hulle misbruik maak van hierdie gawe, weet hy waarvan hy praat. Ons sien dat Paulus veral profesie aanmoedig, terwyl hy die praat in vreemde tale sterk afrem.
Hy laat dit slegs onder bepaalde voorwaardes toe. Die Korinthiërs moet naamlik opnuut besef wat die doel van hierdie gawe is. Die doel – soos ons so duidelik in die boek Handelinge sien – is om vreemdes te bereik.
Maar die Korinthiërs het dit nie vir daardie doel gebruik nie.
Vanaf vers 2 gee Paulus ‘n analise van die situasie in Korinthe.
Hulle gebruik die gawe nie om tot vreemde mense te praat en vir hulle die Evangelie te bring nie, maar hulle praat sogenaamd tot God. En dit is eintlik nutteloos, want God verstaan mos as jy in jou eie taal praat! Die newe-effek is egter dat dit by medegemeentelede en by gaste oorkom as geheimenisse. Hulle voel hulleself uitgesluit. Dit is ‘n verkeerde instelling. Dit was nie die bedoeling van hierdie gawe nie. Die bedoeling was juis dat die Evangelie verkondig kan word, en hande en voete kan kry in mense se lewens. ‘n Voorwaarde hiervoor is uiteraard dat dit verstaanbaar moet wees. En dit is hoekom Paulus die profesie so benadruk. Profesie hou in die uitleg van die woord, en die vaardigheid om dit te kan toepas vir vandag se situasie.
As dit goed is, is jou tong die spieel van jou verstand. Uit wat jy sê kom ‘n ander agter wat in jou kop leef. Maar, skryf Paulus, as jy nou in ‘n vreemde taal praat, dan klink jy soos ‘n barbaar, soos ‘n dronklap. Dit noem Paulus die toppunt van absurditeit. Dat jy sou kies om ‘n barbaar te wil wees. In vers 11 lees ons die vertaling “sal ek ‘n vreemdeling wees”. In die Griekse teks staan die woord ‘barbaros’. Die woord ‘vreemdeling’ is eintlik veels te sag vertaal. Paulus gebruik die Griekse woord op ‘n denigrerende wyse. Die Grieke, en nie in die minste nie die Korinthiërs, het hulleself naamlik as baie beskaaf beskou. En wat hulle taal betref het hulle gedink hulle is die enigstes met die regte uitspraak van Grieks. Grieks was toe die wêreldtaal, en in elke land is Grieks met ‘n ander aksent gepraat. Net soos Engels vandag.
Miskien dat die Britte met hulle ‘Oxford-English’ dink hulle is die enigstes wat Engels praat soos dit behoort te klink. Destyds het die Korinthiërs dieselfde houding gehad met betrekking tot Grieks. Ander aksente is deur hulle afgemaak as primitief, plattelands, barbaars. Dus teen hierdie agtergrond raak Paulus in vers 11 ‘n gevoelige snaar. Want as daar een stad was wat hulleself as nie barbaars beskou het nie, was dit Korinthe! Dus, skryf Paulus, as julle dan so civilised, so beskaafd is, hoekom wil julle nou skielik in ‘n vreemde taal bid? So lê Paulus die vinger by die misbruik van hierdie gawe. Dit is as ‘n teken bedoel vir die ongelowiges, en nie vir die gelowiges nie. Bedoel om die ongelowiges te bereik. En selfs dan gaan dit uiteindelik nie oor die teken nie, maar oor die inhoud.
Soos daar in vers 25 staan: eers as ‘n ongelowige in verstaanbare taal die Evangelie hoor, kom die geheime van sy hart aan die lig. Dit is naamlik die werking van die Evangelie. Dit ontdek ons aan ons ellende, die sondige geheime van ons hart. Dit is deur die krag van die Evangelieprediking dat ‘n sondaar op sy aangesig val – teken van eerbied – en hom bekeer. Slegs dan is hy ook in staat om te beoordeel wat in die erediens gaande is – hy sal ervaar dat God werklik onder julle is! Soos Calvyn oor vers 25 skryf: slegs die kennis van God, slegs as die Evangelie verstaanbaar ‘n mens se hart binnedring, kan dit die trots van die vlees ten val bring. Hierdie gawe van spreek in tale is dus bedoel om die inhoud te dien. Maar omdat die Korinthiërs dit misbruik, rem Paulus die gebruik daarvan af. Ja selfs ‘n wonder kan misbruik word. Die kerk kan wel sonder hierdie gawe, maar nie sonder profesie nie. Hierdie gawe bestaan slegs om die profesie, die prediking, te dien.
Dit is dan ook die hele teneur van Paulus se boodskap vir Korinthe:
Moenie die profesie verwaarloos nie! Profesie, bedoelende: dat die Woord van God verkondig en toegepas word op die hede. Dat dit hande en voete kry in die praktyk.
Hierdie nadruk op profesie is dus teen die agtergrond van skeefgroei in Korinthe. Wat hierdie skeefgroei presies ingehou het, is moeilik om te bepaal. Daar is twee moontlikhede. Dit is moontlik een van die twee, dit kan ook altwee tegelyk gewees het.
Eerstens:
Dit is moontlik dat daar in Korinthe meerdere persone was, mense wat die wonder ontvang het om in ander tale te kan praat. Helaas het die gebruik van hierdie gawe gelei tot wedywer en groepsvorming (1 Kor 1:12). Die wonder was bedoel om die heidene so vinnig moontlik te bereik met die Evangelie. Maar dit het op sy teendeel uitgedraai, en gedreig om die heidene op ‘n afstand te hou (1 Kor 14:23) Omdat hulle in Korinthe die wonder gebruik het om te spog. Daarom vermaan Paulus die gemeente. Dit is mos nie die doel van hierdie wondergawe nie? Paulus vertel dat hy self ook in vreemde tale praat (1 Kor 14:18), selfs bogemiddeld veel. Maar die gawe om in verskillende tale te kan praat gebruik hy funksioneel. ‘n Ander moet jou kan volg, daaroor gaan dit. Dit gaan oor die boodskap, nie oor die persoon nie. Die gawe is gegee juis om die Evangelie so vinnig moontlik te versprei. Tot sover die eerste verklaring van wat die skeefgroei in Korinthe ingehou het.
Naamlik dat diegene wat hierdie gawe ontvang het, dit begin misbruik het. Dat dit in wedwyering ontaard het.
Daar is nog ‘n tweede moontlike verklaring:
In die kosmopolitiese hawestad wat Korinthe in daardie tyd was, het die kerk uit Christene uit verskillende nasionaliteite bestaan. Hulle het ook verskillende tale gepraat. Almal van hulle het dit as hulle reg beskou om spontaan God in sy of haar eie taal te prys. Dit het egter groepsvorming tot gevolg gehad. Chaotiese toestande. Vir buitekerklikes het dit soos wartaal gelyk, soos elkeen in sy eie taal aangegaan het.
By elkeen van hierdie twee verklarings bly Paulus se vermaning egter dieselfde: Dit gaan nie in die eerste plek oor die taal, jou taal nie, dit gaan in die eerste plek oor die boodskap van die Evangelie. Dat die Evangelie die mense bereik, lede sowel as nie-lede.
Nou sou ons kan vra: Bestaan hierdie gawe vandag nog steeds?
Vir die duidelikheid: ek bedoel die praat in vreemde tale, en nie sogenaamde tongetaal nie, want dis totaal iets anders, soos ek reeds verduidelik het. Ontvang mense vandag nog steeds van God die gawe om skielik ‘n vreemde taal te kan praat? Sou dit nie ‘n wonderlike gawe wees nie? Om van die een op die ander dag skielik in staat te wees om Noord-Sotho vlot te praat, of Zulu, of Chinees, or Russies? As ons kyk na die geskiedenis van die kerk, ook die geskiedenis van die sending, vind ons egter nie ‘n herhaling van hierdie wonder nie. Histories was hierdie gawe beperk tot die apostoliese tyd. Toe aan die begin, het God dit skynbaar belangrik geag, dat daardie klein groepie wat in Jerusalem begin het, so vinnig as moontlik sou uitbrei. Nie net onder die Jode nie, maar ook onder die heidene. Daarom hierdie gawe, sodat die apostels vinnig na nuwe gebiede kon uitreik, om as ooggetuies die blye boodskap te kon deurgee. Wil dit dan sê dat God daarna hierdie gawe weggeneem het van sy kerk af? Calvyn skryf in hierdie verband: God gee nog steeds gawes vir sy kerk. Hierdie gawe van die spreek in tale kan ons vandag vergelyk met byvoorbeeld mense wat Hebreeus en Grieks – die grondtale van die Bybel – beheers. Dat mense daarna strewe om hierdie moeilike tale onder die knie te kry, juis om daarmee die profesie, dit wil sê die prediking van die Evangelie te dien. Hoekom skryf Calvyn dit?
In die Reformasietyd was dit naamlik uitsonderlik vir iemand om Grieks of Hebreeus te kon lees. In die Middeleeue was dit volledig onbekende tale vir teoloë en priesters. Juis in die Reformasietyd is die belang daarvan vir die prediking weer ontdek. Dis hoekom vandag ook in die VGKSA die teologiese studente – of hulle wit of swart of bruin is – Grieks en Hebreeus moet leer. Dit dien die profesie, om dit in Paulus se terme te stel. Oftewel, dit dien die bediening van die suiwer Woord.
Die kerk bevind haar vandag in ander tye. Dit het geen sin om nostalgies te wees nie, nog minder om dit te probeer naboots met sogenaamde tongetaal, wat tog heeltemal iets anders is.
Die gawes en bevoegdhede wat die apostels van hulle Heiland ontvang het in daardie eerste periode, het nie hulle opvolgers gekry nie. Dit is nie ‘n kwessie van meer geloof toe en minder geloof vandag nie. Petrus het die bevoegdheid ontvang om vir ‘n verlamde te sê: in die naam van Jesus Christus: staan op. En dit het gebeur. Om dit bietjie oneerbiedig te stel:
Petrus kon ‘n wonder op bestelling verrig. Hierdie bevoegdheid het die apostels se opvolgers, soos Timotheüs en Titus, egter nie ontvang nie.
Hierdie bevoegdheid het ook geen enkele persoon vandag meer nie.
Dit wil nie sê dat daar geen wonders vandag gebeur nie. En dat ons nie daarvoor mag bid nie. Maar die beslissing laat ons by die verhoogde Heiland: as dit u wil is.
Hierdie formulering – as dit u wil is – is nie ‘n teken van kleingeloof nie, maar juis van ‘n groot geloof! Die apostels het ‘n besondere bevoegdheid ontvang. Paulus het geweet dat niemand sou verdrink nie toe hulle skipbreuk gelei het (Hand 27). Hy het geweet dat ‘n giftige slangbyt nie sy dood sou beteken nie (Hand 28). Hierdie is egter nie ‘n bloudruk van hoe alle gelowiges moet wees deur die eeue nie. Die boeke Handelinge en Korinthiërs is nie wetboeke nie, dit gee geskiedskrywing.
En soos Calvyn geskryf het: die kerk verkeer vandag in ander tye, dus is die gawes wat God gee is ook anders. Die kerkvader Augustinus het dit nog mooier uitgedruk. Hy het opgemerk: Die ‘praat in vreemde tale’ van Pinkster het oorgegaan in die WERKLIKHEID van die veelheid van tale in die eenheid van die kerk. Inderdaad, in Augustinus se tyd, 400 jaar na Christus, het hierdie wonder van praat in vreemde tale nie meer in die kerk voorgekom nie. Wel lees ons dat in sy tyd onder die sekte van die Montaniste tongetaal beoefen is. Maar weer eens, dit is iets totaal anders as die taalwonder van Pinkster. Daardie soort ongekontroleerde praat in tonge wat vandag onder bepaalde sektes ook nog voorkom.
Maar dis nie die talewonder van Handelinge nie.
Gemeente, in die kerkverband waaraan ons behoort sien ons ook dit wat Augustinus gesê het: Die WERKLIKHEID van die veelheid van tale in die eenheid van die kerk. Daar is lidmate wat Afrikaans praat, Sotho, Tshwana, Zulu, Hollands, Engels, en miskien nog meer, almal in dieselfde kerkverband. God gee nie meer die taalwonder nie, maar God het deur die geskiedenis diensknegte gegee wat die Evangelie na die heidene gebring het. Sendelinge kon nie binne een dag ‘n vreemde taal praat nie. Maar tog is dit so, as ons vandag terugkyk op die afgelope eeue van sendingswerk in Afrika, dat bykans alle tale in Afrika op skrif gestel is deur sendelinge. Is dit nie ook ‘n wonder nie? ‘n Gawe wat God gee in ons tyd?
(Tema: Deur sy Gees skenk Christus gawes aan sy kerk
- om die evangelie te versprei)
- om mekaar daarmee te dien
As ons die boodskap van Paulus aan die Korinthiërs nou op ons situasie toepas, dan sien ons naas verskille ook ooreenkomste. In die eerste plek dat die nadruk altyd moet val op die profesie, die prediking van die Woord, die toepas daarvan op die hede.
Tweedens sien ons die wonder dat dit God behaag om vir mense in hulle eie moedertaal die Evangelie te bring. Ook hier in Afrika. Sodat dit tot in die hart kan binnedring, sodat dit lewens kan verander.
Derdens kan ons uit hierdie hoofstuk leer dat ‘n taal slegs die instrument is. Die taal wat gepraat word is sekondêr.
Dit was ‘n belangrike boodskap, ook vir die kosmopolitiese Korinthe.
In die gemeente van Korinthe was dit prakties net nie moontlik dat elkeen in sy eie moederstaal God kon prys in die erediens nie. Moontlik het die eredienste in Grieks plaasgevind – die Engels van daardie tyd – terwyl baie mense Grieks slegs as tweede taal geken het. Paulus vermaan die lede wat hulle regte opeis, wat net wil sing en bid in ‘n vir ander mense vreemde taal. Eintlik het ons vandag ‘n baie soortgelyke situasie in die sending. In Soshanguve vind die eredienste meestal in Noord-Sotho plaas. Tog is daar baie mense wie se moederstaal nie Noord-Sotho is nie, maar byvoorbeeld Tswana of Zoeloe. As nou byvoorbeeld die Zeloes op hulle regte sou staan en eis dat hulle net in Zoeloe wil sing of lees of bid, dan kry ons chaos in die eredienste.
Ter wille van die eenheid en orde verdra ons mekaar se tale.
Wedywering om die regte vir jou eie taal op te eis, bring verdeeldheid,
of chaos soos in die geval van die gemeente in Korinthe. Dit het nie ‘n wervende invloed nie, inteendeel. Juis as daar eenheid is, juis dan sal die boodskap deurdring in die hart van die ongelowige besoeker. En dan sal hy op sy aangesig val, hom tot God bekeer, en God aanbid.
Nou lewe ons vandag in ‘n tyd in Suid-Afrika waarin daar soms te min aandag is vir minderheidsgroepe. Afrikaanssprekendes ervaar hoe hulle eie taal stadig maar seker aan die kant geskuif word. Gevolglik sien ons ‘n sterk reaksie, hoe Afrikaanssprekendes opkom vir hulle taal. Dit is op sig ‘n goeie saak. Maar laat ons net oppas dat hierdie strewe nie ‘n blokkade word om die eenheid in die geloof te belewe met anderstaliges nie. Want in die eerste plek is ons Christene. Ons vernaamste identiteit is dat ons Christene is, nie Afrikaanssprekendes nie. Taal en kultuur is sekondêr. As Afrikaners na die buiteland verhuis, en die taal van daardie land oorneem, is dit nie ‘n sonde nie. As hulle egter hul Christengeloof vaarwel sê, dan is dit ‘n doodsonde. Laat ons daarom in die eerste plek ook gerig wees op die inhoud, die boodskap van die evangelie. Dit is ‘n ongekende rykdom dat in die kerkverband ons langs mekaar staan in dieselfde geloof, al het ons verskillende tale en kulture.
Dit is dan ook die boodskap van die teks vir ons. Laat die fokus op ‘n taal, watter taal dit ook is, nie sodanig oorheers dat die inhoud van die Evangelie op die agtergrond raak nie. Dra die evangelie uit, deel dit met ander mense, binne en buite die kerkverband. Moenie dat die taalgrens bepalend is vir met wie jy oor die Evangelie praat nie. Soek die geleenthede, bemoedig mekaar, beleef die eenheid, oor taalgrense heen.
‘n Mens kan – in hierdie konteks – van ‘n wonder praat, dat daar die bereidheid is binne die kerkverband om mekaar te wil bereik. So sien ons dat byvoorbeeld op klassisvergaderinge (gister) en op sinode daar Engels gepraat word. Alle afgevaardigdes sukkel maar ‘n bietjie, omdat Engels vir niemand die moedertaal is nie, nie vir die Afrikaners nie, ook nie vir die Sothos nie. Tog doen hulle dit, want hulle wil mekaar bereik, hulle wil die eenheid beleef. As die Sothos op hulle regte sou staan, of die Zoeloes, of die Afrikaners – ons wil net in ons eie moedertaal praat – waar sou die eenheid dan wees? Dan sou daar ‘n Babiloniese spraakverwarring wees, geen geloofseenheid nie, maar verdeeldheid en onbegrip.
Wat ons moet motiveer is die begeerte om die eenheid – die gemeenskap van die heiliges – daadwerklik te beleef. Dit is primêr.
En die taal is sekondêr, dit is maar net die voertuig. Die Heilige Gees werk in ons harte die begeerte om saam God te dien, saam te stry vir die waarheid, in die land waar Hy ons geplaas het. Hierdie is ‘n gesindheid om dankbaar voor te wees, en om te koester in die kerkverband. Dit was die gesindheid wat afwesig was in die gemeente in Korinthe. Die gesindheid om mekaar te wil bereik, om die Evangelie met mekaar te deel en verder te dra, Om mekaar te dien, geworteld in die liefde van God. Soos Paulus in die vorige hoofstuk geskryf het:
Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword.
Dit is die blywende boodskap van Pinkster. Deur sy Gees skenk Christus gawes aan sy kerk. Om die evangelie te versprei en om mekaar daarmee in liefde te dien.
Amen.
Votum (Ps 121:1)
Seën
Ps 121:2,3
Wet
Ps 97:6
Gebed
Skriflesing: 1 Korinthiërs 14
Ps 97:7
Teks: 1 Korinthiërs 14:1-5
Preek
Sb 21:1-6
Gebed
Ps 87:3-5
Kollekte
Seën