God se Woord spreek van lewe vir liggaam en siel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-08-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 22
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 22

Die meeste van ons het al ‘n keer ‘n noue ontkoming aan die dood gehad. ‘n Ernstige siekte.  ‘n Gewapende oorval. ‘n Verkeersongeluk. Miskien is daar tydens dieselfde voorval wel iemand anders oorlede, maar jy het wonder bo wonder bly lewe. Soiets laat mens met baie vrae agter. Hoekom het ek ek bly lewe? Hoekom het ek soveel geluk gehad? Hoe kwetsbaar is die mens nie!

En jy vra: is daar wel ‘n God. Bestuur Hy regtig my lewe? Of is alles maar net toevallig, dat die een sterwe en die ander bly lewe? Wat is die mens eintlik, vra jy jouself ook af. Hoe sit ‘n mens in mekaar? As mens word jy gebore. En as kind neem jy die lewe as vanselfsprekend aan. Dit geld ook vir die meeste volwassenes, vir die meeste van die tyd. Jy is gewoon wie jy is. En elke dag word jy weer gedompel in die besige lewe. Tyd om te reflekteer, tyd om jouself te ontleed, is daar nouliks.

Maar nogmaals die vraag: Wie is jy eintlik?

Ons sit nou hier in die kerk, op ‘n rustige Sondagaand. Ons het nou wel dit tyd om bietjie dieper na te dink. Van ons horlosies en vol agenda’s kan ons nou wel vir ‘n uurtjie vergeet. Ons kan tot rus kom in hierdie erediens. Juis om aan hierdie diep vrae aandag te skenk. Wie is jy eintlik? Wat is die mens in die diepste van sy wese?

Tema: God se Woord spreek van lewe vir liggaam en siel

1 God se Woord openbaar die mens in sy diepste wese

2 God se Woord is die enigste fondament waarop ‘n goeie lewe gebou kan word.

1 God se Woord openbaar die mens in sy diepste wese

Nou dink u miskien: Ja, maar in die kerk moet dit mos oor God gaan, nie oor myself nie. Gemeente, ja en nee. Inderdaad, God staan sentraal, in sy Woord, en ook in hierdie diens. Maar juis in sy Woord leer die mens ook homself ken.

In sy diepste wese! God se Woord werp lig op die geheim van menswees. Dit sien ons in Sondag 22, waar God se Woord bevestig  word. Sondag 22 skenk aandag aan wie die mens is, en wat sy toekoms is.

Ja wat is die mens?

As jy ‘n dooie mens sien, of nog erger: as jy beelde van ‘n massagraf sien, waar honderde mense opmekaar lê, dan bekruip jou die gedagte: Wat is die mens?

Is daar meer aan ‘n mens as aan ‘n dier of ‘n boom? Net soos diere en bome word mense soms totaal sinloos om die lewe gebring. En waar hy lê, daar lê hy. Wat is die verskil? Is die mens ook maar net materie, en niks meer nie? Wie sterf, word begrawe.Sy liggaam vergaan, word weer een met die grond. Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. Wat is daar in die mens wat dit regverdig dat hy ‘n ander behandeling verdien? ‘n Beter behandeling as bome of diere? As ‘n mens gesterf het, wat bly daarvan oor? Slegs ‘n gemis, ‘n herinnering by die familie?

Wat is die mens?

Wie is jy eintlik? Ons is van vlees en bloed. ‘n Ingewikkelde organisme, ‘n soort masjien, wat in die gunstigste geval 100 jaar lank hou. Maar as vitale funksies uitval – hartklop, of breinaktiwiteit – dan is dit finaal verby. Dan begrawe ons iemand en sien hom nooit weer terug nie. Oor en uit. ‘n Herinnering, ‘n gemis. Niks meer nie, tog?

Gemeente, ons het ‘n gedeelte uit die boek Prediker gelees. Hy was ‘n nugter man. En toegegee, nou los van die Bybel en wat daarin staan, alles wat ons oor die mens weet en oor sy toekoms, alle wetenskaplike ondersoek wat daar op die mens gedoen is, alle kennis wat daar oor die mens bestaan ten spyt, feit bly: as iemand oorlede is, bly daar niks oor nie. Slegs ‘n stoflike oorskot. Wat begrawe (word) of deur ander veras word. Soms gebalsem om ‘n mummie te word. Maar dit is nie meer ‘n mens nie. Voortaan is dit net so roerloos soos ‘n klip.

As jy jouself afvra: Ja maar is daar nie miskien iets, wat ook deel is van die mens, maar wat tog onsigbaar is? Iets wat bly bestaan na sy dood? Maar ook hier is die antwoord: Hoewel daar deur die eeue heen vermoedens uitgespreek is, idees, filosofië, mensbeelde, tog bly dit maar giswerk. Niemand weet seker nie. Baie mense berus dan ook maar by hierdie gedagte: Die mens lewe ‘n klompie jare en dan is dit verby. Finaal verby. Niks bly oor nie. Dus, sorg dat jy vandag lewe. Pluk die dag, carpe diem, want môre sterf jy. Of, soos ‘n ander filosoof gesê het: Ek bestaan gewoon uit dit wat ek eet: die toebroodjies, aartappels, vleis wat ek eet. Ek is ook maar net materie.

En dan nogmaals die vraag. Wat is die mens eintlik?

Kan mens enigsins iets meer sê? En, soos ek nounet genoem het, op grond van wetenskaplike ondersoek, op grond van mense se eie denke, kan inderdaad niks meer met sekerheid gesê word nie. Dis nou, los van wat in die Bybel staan.

Soos Prediker sê: Met jou menslike waarnemingsvermoë: “Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?” (Pred 3:21)

Dis ‘n retoriese vraag. Inderdaad, niemand nie. Met jou menslike sintuie kan jy nie ‘n verskil waarneem tussen die lewe, die siel van ‘n dier, en die van ‘n mens nie. Maar nou gaan ons verder in die Bybel kyk. Die Bybel wat tot stand gekom het deur God se leiding. Die Boek waarin ons lees dat God die Skepper van die mens is. En in die Bybel vind ons nie net kennis oor wie God is nie, maar ook kennis oor wat die mens is. En so lees ons dinge in die Skrif wat die mens met sy eie denkkrag nooit sou uitgedink het nie. Om te begin, die Bybel spreek oor die mens as bestaande uit ‘n liggaam en ‘n siel. Dink aan Jesus se uitspraak in Mattheüs 10: “moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Matt 10:28)

Nou was daar oor die onderskeid tussen liggaam en siel al baie debatte. Soms is hierdie onderskeid oorbeklemtoon. Soms is hierdie onderskeid weggeredeneer, en beweer dat ‘n siel nie los van die liggaam kan bestaan nie.

Sommige van ons ouer lidmate onthou dalk nog die kerkstryd in Nederland oor die sogenaamde sieleslaap in die sestiger jare, toe boeke verskyn het soos:

Sterven en dan? Of die boek: De doden weten niets

En in reaksie daarop die boek: Leven tussen sterven en opstanding.

Daar was teoloë wat beweer het dat na die sterwe daar geen siel bly lewe nie, en dat die mens as geheel eers weer op die jongste dag opgewek sal word.

Maar as ons na God se Woord kyk, dan leer ons enersyds dat die mens inderdaad ‘n eenheid is, ‘n ondeelbare geheel in hierdie lewe. Maar andersyds is dit ook so dat die mens ‘n liggaam en ‘n siel het. En dat daar by die sterwe ‘n breuk optree tussen liggaam en siel. Een deel, die liggaamlike, sterf af, niks bly oor nie. Maar die ander deel, die siel, keer terug tot God, of na ‘n ander plek waar God dit heen stuur. Hierdie onderskeid tussen liggaam en siel hoor ons uit die mond van Jesus self. Moenie vrees vir die - en dan dink ons aan ander mense wat jou kan doodmaak vir watter rede ook al. Want hulle kan wel die liggaam doodmaak, maar aan die siel kan hulle niks doen nie. Vrees Hom liewer - en dan dink Jesus aan sy hemelse Vader, wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.

Nou dat ons die Bybel oopmaak, en luister wat die Bybel oor die mens openbaar, kry ons dus ineens ‘n ander visie op die mens. Die mens is nie net dit wat hy eet nie. Hy is meer. Daar is ook ‘n siel. En hoe die verhouding tussen liggaam en siel is, dit bly uiteindelik vir ons verstand ‘n groot geheim, wat ons nie volledig in kaart kan bring nie. Maar so het die Skepper my gemaak. Die Skepper openbaar oor my in sy Woord: so sit ek in mekaar. Mens kan dit in sekere sin vergelyk met ‘n produk wat jy koop, waarby ‘n gebruikshandleiding ingesluit is. Daarin verduidelik die fabrikant hoe die produk in mekaar sit, en hoe mens die produk moet gebruik. Wat mens wel daarmee kan doen, en wat nie. Hoe mens die produk moet onderhou en voorkom dat dit breek. Eintlik is die Bybel ook ‘n gebruikshandleiding vir hoe mens jouself asook ander mense moet behandel. ‘n Gebruikshandleiding opgestel deur Hom wat die mens geskep het.

Ja God se Woord openbaar die mens in sy diepste wese. Dis nie toevallig nie, want God is juis die Een wat die mens gemaak het. Daar is dan ook niemand wat vir jou beter sal kan vertel hoe die mens inmekaar sit nie. God se Woord werp lig op die mens, op sy diepste wese.

(Tema: God se Woord spreek van lewe vir liggaam en siel

1 God se Woord openbaar die mens in sy diepste wese)

2 God se Woord is die enigste fondament waarop ‘n goeie lewe gebou kan word.

Tot dusver het ons gekyk, in die lig van God se Woord, na wie die mens is.

Hoe hy inmekaar sit. Nie dat alle details in die Skrif openbaar word nie. Ons sal dit ook nie kan begryp nie. Maar die wesenlike dinge maak God wel bekend. Die mens is ‘n ondeelbare geheel, solank hy lewe. Maar by sy sterwe val die geheel uiteen in twee dele.

Die een deel sterf af, en ander deel leef voort, egter nie vir liggaamlike waarneming sigbaar nie.

En op hierdie punt gaan ons nou verder luister na God se Woord.

Wat is naamlik die toekoms van die mens?

Wat staan ‘n mens eintlik te wagte, die oomblik as hy sterf?

Die oomblik van defnitiewe afskeid van sy nabestaandes ...

Hieroor, wat die mens te wagte staan, gee Sondag 22 vir ons meer inligting. Sondag 22 gee ‘n samevatting van wat hieroor in die Bybel staan. Kyk maar na al die teksverwysings onderaan vraag en antwoord 57 en 58.

V/a 57 begin by die oomblik van afsterwe. Hierdie antwoord sluit aan by die vraag wat eintlik bedoel word met die opstanding van die liggaam. Ek glo in die opstanding van die liggaam. Dit is wat ons naamlik in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely. En dan lees ons: my siel word na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem.

Die klem val hier op die woordjie dadelik. Die Kategismus skryf dit in reaksie op die gangbare gedagte in daardie tyd, die sestiende eeu, dat die siel eers geruime tyd in die vaevuur moes deurbring. Om gelouter en gereinig te word.

Is nie, sê die Kategismus. Na hierdie lewe word my siel direk opgeneem tot Christus, sy Hoof. Wie gedurende hierdie lewe in Jesus Christus glo, God se Seun wat mens geword het, wat hier op aarde gekruisig is, maar die dood oorwin het en opgestaan het uit die graf  -  wie op Hom vertrou, word by afsterwe direk in veiligheid gebring. Hy is ‘n sorgsame Koning. Wat ‘n oplugting, as jy onderdaan van Hom is. Jesus Christus, Koning in die hemel.

Vergelyk dit vir ‘n oomblik met wat daar hier op aarde vir jou gedoen kan word. Hier op aarde kan jou nabestaandes met veel liefde, toewyding en respek jou stoflike oorskot behandel, dit op ‘n waardige wyse begrawe, koste nog moeite spaar. Maar meer kan hulle nie doen nie. Vergelyk dit met wat jou hemelse Koning vir jou doen. By afsterwe word jou siel dadelik in veiligheid gebring. Jy kry deel aan die hemelse heerlikheid. En dit gebeur dadelik. Daar is selfs mense wat beweer dat dit al voor die afsterwe begin. Daar is mense wat op hulle sterfbed al ‘n glimps van die hemelse heerlikheid ontvang.

Dit wat die siel betref.

Nie dat Christus die liggaam vergeet nie. Ook hierdie selfde liggaam van my word deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig, en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig gemaak. Geliefde broers en susters, hierdie sin uit Sondag 22 moet u reëlmatig bly lees. Dit verwonder my telkens weer hoe duidelik dit hier staan. In een enkele sin. Hierdie selfde liggaam van my sal deur die krag van Christus opgewek word en met my siel verenig word. Waar geleerdes en filosowe boeke oor vol skryf, oor die geheim van die menslike lewe, terwyl hulle bly tas in onsekerheid, dit word hier in een sin opgeskryf. Die Kategismus spreek gewoon die  Bybel na. Dink aan woorde uit Jesaja:

“U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan.” (Jes 26:19)

En Efesiërs 5:14: “Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”

En 1 Kor 15:42: “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid”.

Hoe is dit moontlik om soiets met volstrekte sekerheid te sê? Wat ‘n rykdom! Dit is die sekerheid wat God se Woord bied! Dit is ‘n fondament vir die toekoms. Ons kan ons toekomsplanne bou op dit wat in die Woord staan. Ja selfs word ons lewe vandag daardeur al beheers. Dit sê v/a 58 ook.

Die vraag lui naamlik: “Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?”

Watter troos put jy hier en nou daaruit? Die antwoord: Ek voel nou al die begin van die ewige vreugde in my hart! Daardie ewige lewe, dit besit ek nou al! Want my lewe behoort aan Christus. Hy het opgestaan uit die dood. Hy sal ook hierdie wonder aan my verrig.

My lewe is dus nie nutteloos nie. Dit loop nie uit op die dood en daarna niks meer nie. Nee, ek weet: na hierdie lewe sal ek volkome saligheid besit, wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie. Maar dit is wel my toekoms! Die toekoms vir elkeen wat aan Christus behoort. Hierdie vooruitsig verander ook die hede. Dit is wat v/a 58 wil kommunikeer.

Soms is ons geneig om depressief te raak. As ons ‘n geliefde aan die dood afgestaan het. As ons die verskriklike beeld van massagrafte sien. As ons sien hoe maklik ‘n lewe in ons land geneem word. Dan begin ons onsself af te vra, soos die Prediker.Wat is die waarde van die lewe? Is alles maar nie net tevergeefs nie? Maar dan mag ons Christus se belofte daarlangs lê. Dit spreek ons moed in vir die hede. Ja daar kom ‘n jongste dag. En dan sal die grafte oopgaan. Dan sal alle mense geoordeel word. Ook die misdadigers wat nou hulle straf ontloop het. Dan sal daar reg geskied. Soos Jesaja sê: Dit is die dag waarop God in aksie kom. Hy besoek die ongeregtigheid van die aardbewoners. En dan sal die aarde alle vergote bloed aan die lig bring, en almal wat gesneuwel het, nie langer bedek nie.

Ja God se Woord gee sin aan ‘n menselewe. Aan heel die geskiedenis. As God se Woord nie met ons was nie, sou alles sinneloos gelyk het. Maar sy Woord openbaar die mens in sy diepste wese. God se Woord plaas die hede in die lig van wat daar in die toekoms sal gebeur. Dus, as jy as mens wys wil word, as jy voorbereid wil wees op die toekoms, bou jou lewe vandag op Christus. Hy sal sorg dat jy met liggaam en siel behoue bly. Luister na Hom, doen wat Hy sê.

Bou op die regte Fondament. Ja, daar is ‘n Fondament. Dit is die groot troos.

Hy is die Fondament waarop jy kan bou.

Amen.

 

Liturgie: 

Seën

Ps 16:1

Gebed

Skriflesing: Prediker 3:16-4:6; Jesaja 26:19-21; Mattheüs 10:28-31

Ps 16:1

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 22

Preek

Ps 8:3-7

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 31:12,13

Kollekte

Ps 31:16-19

Seën