Die doop is die Rooisee van die nuwe verbond

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-09-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 26 en 27
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 26 en 27

Die doop is ‘n onderdeel van die kerklike lewe wat ons nie kan wegdink nie. Dit is ‘n sakrament wat as sulks ‘n kenmerk is vir ‘n ware kerk (NGB art. 29).

‘n Kerk sonder doop is nie ‘n ware kerk nie. En, voeg artikel 29 van die NGB daaraan toe, dit moet dan ook suiwer bedien word. Dit wil sê, ooreenkomstig die manier hoe Christus dit ingestel het. Die Doopsformulier waarsku ons daarvoor dat ons die doop nie net uit gewoonte mag bedien nie. Dit mag nie net ‘n leë tradisie word nie. Die Doopsformulier waarsku ook dat die doop nie uit bygeloof bedien mag word nie. Ons mag van die doop ook nie meer maak as wat dit is nie. Al met al genoeg rede om ons met enige reëlmaat te verdiep in wat die Skrif ons oor die doop leer.

Tema: Die doop is die Rooisee van die nuwe verbond

  • Verhouding tussen teken en werklikheid
  • Verhouding tussen verbond en verkiesing
  • Verhouding tussen teken en werklikheid

    Nadat Sondag 25 inleidend duidelik gemaak het wat ‘n sakrament is, gaan Sondag 26 en 27 verder deur in hierdie kader die doop te bespreek. ‘n Sakrament is ‘n afbeelding, deur Christus ingestel, om ons aandag te vestig op sy offer aan die kruis. So is die doop ‘n afbeelding. Sondag 26 noem dit ‘n uitwendige waterbad. Dit beeld die inwendige waterbad af. Soos water vuiligheid van die liggaam uitwendig afwas, so was Christus se bloed sonde van die mens inwendig af. Dus, vir alle duidelikheid, die doop self was nie ‘n enkele sonde af nie. Volgens die geskiedskrywing wou keiser Konstantyn eers op sy sterfbed gedoop word. Sodoende sou die doopwater al die sondes in sy lewe begaan, kon afwas. Duidelik het keiser Konstantyn nie verstaan dat die doop net ‘n uitwendige waterbad is nie. As daar in die Geloofsbelydenis van Nicea staan: “Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes”, word daarmee nie bedoel dat die doop self die sondes vergewe nie. Die simboliek van die doop dui egter op die werklikheid dat daar vergifnis van sondes bestaan op aarde. Dit is baie goeie nuus!

    Hierdie vergifnis word verkry danksy Christus se kruisdood. Elkeen wat gedoop word, word opgeneem in sy kerk, en in sy kerk lewe die mense daagliks uit die vergifnis van sondes in Christus se naam. Die doop onderstreep dit net dubbel en dwars: so seker as die vuilheid van die liggaam met water afgewas word, so seker word die sonde deur Christus se bloed weggewas. Dit is ‘n groot voorreg om in hierdie gemeenskap van vergifnis te mag lewe. Dit is ‘n groot voorreg as kinders mag opgroei in so ‘n gemeenskap, waar vergifnis die botoon voer. Die doop lyf ‘n persoon in hierdie gemeenskap in. Soos wat iemand ‘n paspoort ontvang van die land waarin hy gebore is.

    Daardie paspoort gee hom toegang tot al die voordele wat daardie land bied. So is die doop die paspoort vir hulle wat behoort tot die verbondsgemeenskap van Christus, die kerk. Hier in die kerk deel hulle in alle voorregte en pligte. Solank hulle nog jonk is, is dit veral voorregte. Soos hulle ouer en meer volwasse word, kom daar ook pligte.

    V/a 70 verduidelik wat so kenmerkend is aan hierdie verbondsgemeenskap.

    Hulle wat daaraan behoort, kry naamlik te make met Christus se bloed en Gees. Hulle ervaar die genesende werking van Christus se bloed en Gees. In die kerk word naamlik week na week vergewing gevra ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis gestort het. In die kerk kan die lidmate daarom elke week met ‘n skoon bladsy begin, bevry van sondes en skuldgevoelens uit die verlede. Dit is wat die kerk so uniek maak.

    En tweedens, ervaar ons in die kerk ook die werking van Christus se Gees. Die Heilige Gees werk in die kerk, omdat dit die plek is waar sy Woord verkondig word. So begin ‘n proses van vernuwing, heiliging, in die lewens van hulle wat aan die kerk behoort. Die werk van die Gees veroorsaak dat hulle die sondes hoe langer hoe meer afsterwe, en steeds meer Godvresend en onberispelik lewe. Dit is ‘n unieke kenmerk van Christus se kerk. Mense wat uit hulleself sleg was, kriminele, skobbejakke, bullebakke, alkoholiste, moordenaars, lasteraars, bedrieërs, owerspeliges, hulle groei in Christus se kerk om onberispelik te word. Christus se Gees werk in die kerk, en Hy kry dit reg. Nou staan die deure van Christus se kerk oop, selfs vir die grootste sondaar.

    Net voor sy hemelvaart, het Christus aan sy apostels uitdruklik opgedra: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies (Matt 28:19). Hulle moes nie net na daardie mense gaan wat na hulle mening reeds onberispelik was nie. Hulle moes nie net na die Jode gaan, wat al vir eeue geoefen het om God se wette na te kom nie. Hulle moes na al die nasies gaan, en uit al die nasies die mense doop in die Naam van God Drieënig. So plant Christus sy kerk in die nuwe bedeling onder alle nasies, om redding en reiniging te bring.

  • Verhouding tussen verbond en verkiesing

    Deur die eeue is daar al ‘n diskussie of kinders gedoop behoort te word. Baptiste beweer dat daar nie ‘n voorbeeld in die Skrif is dat kinders gedoop word nie. Daar is wel meer uitgebreide beskrywings van hoe volwassenes gedoop is, byvoorbeeld die hofdienaar van Ethiopië (Hand. 8). As Gereformeerdes stem ons nie hiermee saam nie. In Handelinge 16 word naamlik twee keer genoem dat iemand saam met sy huisgesin gedoop is.

    Dit was by Lydia so, asook die tronkbewaarder van Filippi. Ook is dit belangrik om te besef dat Christus of die apostels nêrens in die Nuwe Testament ‘n verbod op die doop van kinders geplaas het nie. As Gereformeerdes bely ons dat Ou Testamentiese bepalings wat nie in die Nuwe Testament opgehef is nie, nog steeds van krag is. Christus het die besnydenis in die Nuwe Testament opgehef, en met die doop vervang. Christus het egter nie daarby gevoeg dat voortaan net volwassenes die doop mog ontvang nie.

    Die probleem wat Baptiste met die kinderdoop het, is die feit dat ‘n kind, veral ‘n baba, nog nie kan praat nie, en dus ook nog nie persoonlik sy of haar geloof kan bely nie. Maar wat Baptiste oor die hoof sien, is dat die doop nie ‘n beseëling van ‘n mens se bekering is nie. Ons het in die vorige Kategismuspreek aandag geskenk aan wat ‘n sakrament is. ‘n Sakrament, het ons toe gesien, is ‘n teken en seël deur Christus ingestel, spesifiek om sy Middelaarswerk aan die kruis af te beeld. Dus, net soos die brood en wyn, is die doopwater ‘n teken van Christus se afwassing van sondes wat Hy toesê.

    Christus sê sy vergewing nie eers toe nadat ‘n kind tot bekering gekom het nie. Christus bemagtig juis deur sy doopbelofte daardie kind, sodat daardie kind tot bekering kan kom. Niemand kan uit eie krag tot bekering kom nie. Niemand kan uit eie krag sy sondes bely nie. Dus, net soos God in die Ou Testament baba’s in sy verbond opgeneem het, doen Hy dit in die Nuwe Testament ook. Die doop is egter nie ‘n kaartjie hemel toe nie. Die HERE verwag dat die beloftes wat Hy uitdeel, ook daadwerklik gebruik word, soos die kind opgroei. En God sal elke mens verantwoordelik hou, vir wat Hy met sy beloftes gedoen het. Hoe jonger ‘n kind, hoe minder toerekeningsvatbaar.

    Hoe ouer dit word, hoe meer toerekeningsvatbaar. Daarom dat die Dordste Leerreëls bely dat Godvrugtige ouers nie hoef te twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat die HERE op baie jong ouderdom uit hierdie lewe wegneem nie. ‘n Baba kan nog nie praat nie. ‘n Baba kan nog nie eksplisiet met soveel woorde vir die Here vra of Hy sy erfsonde en werklike sondes met Christus se bloed wil wegwas nie. Maar God is nie wreed teen sulke baba’s nie. God hou rekening met ouderdom, met oerekeningsvatbaarheid. Hoe ouer die kind word, hoe meer sal blyk of daardie kind ook van God se beloftes gebruik maak en daaruit leef. Hoe ouer die kind, hoe meer groei die toerekeningsvatbaarheid. Toe die Israeliete kleingelowig was tydens die woestynreis, en God se beloftes gewantrou het, het God hulle daarvoor verantwoordelik gehou. Hulle is gestraf vir hulle ongeloof, hulle mog die beloofde land nie binnegaan nie. Hulle het verkies om in die woestyn te sterwe, en die HERE se straf was dat Hy hulle toe ook hulle wens gegee het.

    Numeri 14:29: “Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.”

    En in Numeri 26 lees ons dan dat niemand van die volwassenes dit oorleef het nie, met die uitsondering van Josua en Kaleb (vers 65). Maar die HERE was genadig teenoor die kinders, almal onder 20 jaar. Hulle was nog nie toerekeningsvatbaar op dieselfde vlak as hulle ouers nie.

    Hieruit leer ons ‘n belangrike les vir die doop. Die HERE het die hele volk uit Egipte bevry. Die hele volk is van Farao se agtervolging bevry, toe die HERE vir hulle ‘n pad deur die see gemaak het. Die seewater wat hulle graf sou word, het verander in reddingswater. Hulle is gered, en Farao en sy manne het daarin verdrink. Die doopsformulier stel tereg: hierdeur is alreeds die essensie van die doop afgebeeld. “U het die hardnekkig Farao met al sy manne in die Rooisee laat verdrink maar u volk Israel op droë grond daardeur gelei – waardeur U toe reeds die doop afgebeeld het”

    Want die HERE het nie eers, voordat Hy die pad in die see oopgemaak het, vir elke Israeliet afsonderlik gevra: Glo jy in My? Vertrou jy My? Belowe jy dat jy nie in die woestyn sal murmureer nie? En as jy hierdie vrae nie met ja kan beantwoord nie, dan los Ek ek jou aan hierdie kant van die Rooisee. Dan kan Farao jou maar vang en doodmaak. Dis nie wat die HERE gedoen het nie. Hy het almal van hulle sonder uitsondering deur die Rooisee heengelei. Al wat hulle moes doen, was gaan op die pad wat Hy wys – Hom vertrou! Hulle oë gerig hou op die wolk- en vuurkolom, op die Engel van die HERE. En so het hulle almal gesmaak hoe sy beloftes waar geword het. Hulle is almal deur die see heengelei, hulle is almal bevry van die Egiptenaars. Maar nie almal van hulle is bevry om in die beloofde land in te gaan nie.

    Ook in die woestyn het hulle elke dag manna en kwartels gekry, en ook nog genoeg water. So het die HERE met hulle almal ‘n verbond gesluit en hulle laat deel in die voorregte van sy huisgesin. En net so sluit die HERE in die Nuwe Testament sy verbond met die gelowiges en hulle kinders. Hulle mag almal deel in die voorregte van sy verbondsgesin.  En soos die kinders groter word, word hulle toenemend toerekeningsvatbaar. As die HERE sien dat hulle by herhaling hulle voorregte in die verbond misbruik, minag, dan kom daar ‘n dag wat Hy hulle uit sy verbondsgesin afsny. Dieselfde was die geval by Noag.

    Dit was nie net onberispelike mense wat in die ark gegaan het nie. Noag en sy huisgesin is gered. Ook aan Noag se drie seuns en hulle vroue is genade bewys. Maar het Gam die voorregte van die genadeverbond bly waardeer?

    In hierdie verband is dit belangrik dat ons verbond en uitverkiesing nie moet gelykstel nie. Baptiste het ‘n groot probleem met Gereformeerdes wat dit doen, en tereg. Maar Baptiste het ook die neiging om te veralgemeen. Hulle dink dat hoe dit byvoorbeeld in die NG Kerk gaan, tipies is vir alle Gereformeerdes. Dat ouers, wanneer hulle ‘n baba kry, dit in die kerk kan laat doop. Ook as daardie ouers maar sporadies in die kerk kom. Ook as hulle nie van plan is om na die kind se doop skielik gereeld kerk toe te kom nie. Die kind groei op in ‘n gesin waar die ouers dalk met Kersfees kerk toe gaan, dalk so nou en dan met ‘n nagmaal of begrafnis of troue. Die kind groei op en lewe, net soos sy ouers, eintlik ‘n wêreldse lewe. En as die kind dan onverwags op 18 jaar in ‘n motorfietsongeluk sterf, dan word hy begrawe asof hy ‘n gelowige was en nou in die hemel is, omdat hy ‘n gedoopte kind van God is. Kyk, dit is nou ‘n voorbeeld waar verbond en uitverkiesing prakties gelykgestel word. As iemand gedoop is, sal hy ook in die hemel kom, maak nie saak hoe sy lewe was nie. Tereg het Baptiste kritiek op hierdie soort verbondsoutomatisme. Kan ons eerlik vir die Baptiste sê dat sulke toestande nie in die VGK heers nie? Dat die kenmerke van ‘n gesonde kerk hier wel aanwesig is: ook die bediening van die tug oor hulle wat nie trou kerk toe kom nie en die verbondsopvoeding van hulle kinders verwaarloos.

    Maar, wat Baptiste nie altyd besef nie, is dat hulle ook verbond en uitverkiesing inmekaar skuif, maar dan net andersom. Hulle wil nie ‘n baba doop, as bewys dat dit in God se verbond ‘n plekkie gekry het nie. Hulle wil eers wag dat die baba opgroei, en self persoonlik sy geloof kan bely.  Eers dan mag hy gedoop word en ‘n plekkie in die verbond kry. Op hierdie manier word die verbond versmal as slegs die versameling van uitverkorenes, slegs die kliek van wedergeborenes.  Ook dit is nie Bybels nie. Dit is ‘n oorreaksie op die verbondsoutomatisme wat mens so dikwels in volkskerke kry.

    Die Gereformeerde leer bly egter by die Skrif, waaruit blyk dat in God se verbond nie net die uitverkorenes is nie. In die huisgesin van God se verbond gee die HERE mense die kans om te groei, onder die bediening van die Evangelie. Hulle wat nog onbekeerd is, mag, bemagtig deur die Woord en Gees, groei na opregte geloof en wedergeboorte. Maar in die verbond is daar ook die wat hulle toenemend verhard, en wat, ten spyte van alle voorregte wat hulle in God se huisgesin geniet en wat aan hulle by hulle doop reeds toegesê is, tog uiteindelik daaruit stap. Dit is baie hartseer, maar wel ‘n Bybelse realiteit. So is die kerkgemeenskap die akker waarop die saad van die Woord gesaai word. Maar die saad val nie altyd by almal in vrugbare grond nie.

    Dus, om saam te vat, verbond en uitverkiesing is nie identies nie. In sy kerk, die verbondsgemeenskap, deel Christus sy gawes uit. Die kerk se deure staan oop. Die kerk se samestelling wissel steeds, dis nooit ‘n vaste groep mense nie.

    In die kerk gee Christus, deur sy Woord en Gees, die geleentheid om te groei na die volmaaktheid toe. In sy kerk berei Christus die uitverkorenes, die wat die Vader aan Hom toevertrou het, voor op die ewige lewe. Die getal uitverkorenes is nie per definisie identies aan die name in die Kerkhandboekie nie. Die Kerkhandboekie gee die name van hulle wat behoort aan die verbondsgemeenskap hier plaaslik, hulle wat geniet van Christus se skatte en gawes wat Hy in sy kerk uitdeel. Maar, hulle wat in die verbond is, is nie per definisie identies aan hulle wat uitverkies is nie.

    Maak dit wat ek nou gesê het, u onseker? Maak dit u angstig? Wonder u nou of u wel uitverkies is? Dit hoef nie. Want Christus gee in sy kerk die versekering, dat almal wat trou die genademiddele bly gebruik, almal wat daagliks nederig versoening vra deur sy bloed, met sekerheid mag uitsien na die ewige lewe. Die doop is die Rooisee van die nuwe verbond. Nie almal wat deur die Rooisee heen bevry is, het die beloofde land binnegegaan nie. Nie almal wat deur die doop in die kerk ingelyf is, sal die ewige lewe beërf nie. Maar dit is wel die enigste pad daarheen. En wie sy oë gevestig bly hou op Christus, wie bly skuil in sy kerk, kry in Hom sekerheid van sy uitverkiesing, ja sekerheid van die ewige lewe.

    Amen.

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 95:2,3

Gebed

Skriflesing: Exodus 13:17-15:21

Ps 78:18,19

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 26-27

Preek

Ps 106:8,19,20

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 114:2,4

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën