Die nagmaal bepaal ons by

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-10-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 28 vraag en antwoord 75
Preek Inhoud: 

Preek: HK Sondag 28 vraag en antwoord 75.

Ses keer per jaar vier ons nagmaal. Dooplede kan die viering sien gebeur.

Belydende lede sien dit nie net nie, maar proe dit ook. Vanaand gaan ons nie kyk of proe nie, maar luister en probeer verstaan wat hierdie viering inhou. So mag ons onsself voorberei vir as ons almal saam oor twee weke gaan nagmaal vier.

Tema: Die nagmaal bepaal ons by:

1 Die FEIT van Christus se kruisdood en opstanding

2 Die BETEKENIS van Christus se kruisdood en opstanding

Ons gaan hierdie twee punte nie apart behandel nie, maar dit is twee subtema’s wat deur die hele preek loop.

Daar is mense wat nie glo in Christus, en wat die Evangelie van die kruis maar onsin vind. Dat hulle so dink, het verskillende oorsake. ’n Bekende oorsaak is dat mense nie kan glo dat Christus uit die dood opgestaan het nie. Wie die feitlikheid van die opstanding ontken, ontneem ook aan die kruisdood sy betekenis. Dit sien mens veral by teoloë wat Bybelkrities is.

Omdat hulle slegs menslik dink, kan hulle nie glo dat Christus uit die dood opgestaan het nie. Hulle ontken dit ronduit, of hulle skryf mooi verhale waarvan die ‘bottom line’ tog is dat dit op ‘n manier waar is, maar tog nie werklik gebeur het nie. Hulle sal boeke skryf oor die betekenis van Jesus en sy kruisdood. Jesus as voorbeeld vir ons. Jesus wat as profeet van die waarheid dramaties aan die einde van sy lewe gekom het. Jesus, wat so ‘n goeie mens was, maar wat op so ‘n afskuwelike wyse aan die kruis moes hang. So ontwerp hulle hul eie teologië. Waardeur hulle enigsins probeer te verklaar hoe hierdie Man tog so ‘n enorme invloed op die wêreldgeskiedenis kon gehad het. Maar, laat ons eerlik wees, hierdie selfbedagte teologieë oortuig uiteindelik nie. Hierdie teorieë het nie die oortuigingsKRAG om mense tot geloof en bekering te bring nie. Hierdie teorieë slaag nie daarin om mense blywend perspektief in hierdie lewe te bied nie, laat staan perspektief, TROOS, in lewe én sterwe. Die kerke waarvan sulke teoloë lid is, se lidmategetalle daal altyd.

Dit bring ons tot die volgende konklusie: As jy die feitlike opstanding van Christus ontken, het sy kruisiging ook geen waarde meer nie. Juis in die lig van die opstanding het die kruisdood sy betekenis. En dit is dus die eerste wat die Kategismus aanspreek. Die nagmaal bepaal ons by die historiese feitlikheid van Christus se sterwe en opstanding. So seker as wat ek nagmaal vier, so seker as wat ek die brood sien en proe, so seker as wat ek die wyn sien en proe, so seker het Jesus vir my gesterf. Hy het vir my gesterf, en Hy het ook opgestaan.

Maar nou kom dan ook die tweede punt, die tweede aspek. Soos ek hierbo genoem het: daar is mense wat nie in Christus glo nie. Want hulle kan nie in die wonder van die opstanding glo nie. Daar is egter ook ander mense wat nie in Christus glo nie, nie omdat hulle met die opstanding ‘n probleem sou hê nie. Daar gebeur meer snaakse dinge in die wêreld. Dis net, wat hulle hul nie kan indink nie, is dat ‘n Man, nou al so lank gelede, ‘n Man wat gewoon het in ‘n totaal ander land en kultuur as ek, ‘n Man wat ‘n Jood was en nie my taal gepraat het nie, dat so ‘n onbekende Persoon so lank gelede so ‘n groot invloed om my lewe vandag kan hê. Dit is nogal apart as mens daarby stilstaan. Dis baie ver van my af. Dat hierdie Man aan ‘n kruis gesterf het, dat Hy ook opgestaan het uit die dood. maar wat daarvan?

Wat verander dit nou in my lewe? Wat beteken dit vir my? Ek leef vandag. My wêreld lyk baie anders. Ek leef met selfone en internet, facebook, whattsup, ek ry ‘n motorkar, ons vlieg in vliegtuie, alles dinge waarvan die Bybel niks weet nie. Oordag werk of studeer ek, saans is daar ook genoeg om te doen, in die naweek is dit sport en braai, uitgaan, bosveld. Dus, ‘n interessante storie oor ‘n Man lank gelede, moontlik heel waar, maar ek verstaan nie die betekenis vir MY lewe vandag nie. Gemeente, dit is hoe baie mense, ook baie Afrikaners, vandag lewe. Vir alle praktiese doeleindes het die geskiedenis van die kruisdood en opstanding van Christus WEINIG betekenis en invloed op hulle daaglikse lewe.

Nou is dit goed om in hierdie verband bietjie noukeuriger na die Nuwe Testament te kyk. Die Nuwe Testament kan mens eintlik in twee dele verdeel. Die eerste deel is die boeke wat die geskiedenis beskryf. Die vier Evangelies en Handelinge. Daarin word in detail beskryf hoe die lewe van Jesus op aarde was, en hoe die Christelike kerk na hemelvaart en Pinkster vorm gekry het. Maar die tweede deel van die Nuwe Testament, die oorblywende boeke, is almal briewe. Die inhoud van hierdie briewe kan mens globaal soos volg omskryf: Die briewe verduidelik die betekenis van die kruisdood en opstanding. As iemand dus sukkel om te besef wat hierdie Man, wat so lank gelede geleef het, vir betekenis het vir jou lewe, dan moet so ‘n persoon dus veral ook die briewe in die Nuwe Testament bestudeer.

Daarin word die verstrekkende konsekwensies van Christus se kruisdood en opstanding verduidelik. In hierdie konteks funksioneer ook die nagmaal.

In die eerste plek – die eerste punt – bepaal dit ons by die FEITLIKHEID van kruisdood en opstanding. Maar tweedens bepaal die nagmaal ons by die BETEKENIS van sy dood en opstanding. Die Kategismus vat hierdie betekenis globaal soos volg saam: Christus verseker my dat Hy self, met sy gekruisigde liggaam en vergote bloed, my siel tot die ewige lewe voed en laaf. ‘n Hele mond vol. Kom ons probeer hierdie sin stap vir stap duidelik te maak. In die eerste plek staan hierdie Kategismusantwoord in die TEENWOORDIGE TYD. Christus voed en verkwik. Die teenwoordige tyd, want Jesus leef nog steeds. Elke keer as ons nagmaal vier, voed en laaf Jesus persoonlik vir ons. In die hede – teenwoordige tyd dus. Hierdie sin gaan dus uit van die feit van die hemelvaart. Christus regeer vandag in die hemel.

Verder sit daar nog meer in hierdie uitspraak van die Kategismus. Daar word gepraat oor gekruisigde liggaam en vergote bloed, waarmee ons gevoed en verkwik word. Ons is dalk gewoond aan hierdie frase, maar as jy met ander ore luister, kan dit baie snaaks klink. Nie vir niks nie het die Romeine oor die vroeë Christene gedink dat hulle kannibale was. Want, so te hore, het hulle tydens hulle byeenkomste mensvleis geëet en bloed gedrink. As die voorganger die beker inskink, sê hy mos: in hierdie beker is die bloed van Christus, drink almal daaruit. Dus, buite die regte konteks klink dit inderdaad soos wartaal, soos kannibalisme. So het die skinderstorie in die wêreld gekom, dat die vroeë Christene kannibale was.

En dit is nou presies waaroor die briewe in die Nuwe Testament handel. Oor die betekenis van Christus se dood en opstanding. En dat hierdie feite ‘n wêreldwye impak het. Inderdaad, ‘n gebeurtenis van baie lank gelede, wat tog ‘n impak het op elke mens, tot die dag van vandag.

So werk dit nou eenmaal, dinge uit die geskiedenis bepaal die hede. Ek weet nie of u al oor die rivier die Rubicon gehoor het nie? Dit is nog soiets uit die verlede wat ‘n groot impak gehad het op die verdere verloop van die geskiedenis. Ongeveer 50 jaar voor Christus se geboorte was daar ‘n keiser, Julius Caesar. Hy het op ‘n stadium met sy leër die Rubicon oorgesteek. Dit was nie ‘n groot rivier nie, eintlik net ‘n riviertjie. Tog het die feit dat hy dit oorgesteek het, ‘n historiese betekenis gehad. Want daardie riviertjie was destyds die grens tussen die Romeinse Ryk en die buiteland. Die feit dat Caesar dit oorgesteek het, het beteken dat hy vanaf daardie oomblik aan Rome oorlog verklaar het. Een van die ergste burgeroorloë het begin met die oorsteek van ‘n riviertjie.

Op dieselfde manier kan mens na die dood en opstanding van Christus verwys. Mense wonder soms vandag – watter impak het dit op my alledaagse lewe? Ook hier geld dat as jy die historiese konteks ken, en die betekenis van wat gebeur het, dat jy die impak sal besef. En dit is presies die doel van die Nuwe Testament, veral ook die tweede deel, al die briewe.

Dink aan die apostel Paulus, wat briewe geskryf het aan Christene in verskillende stede: Rome, Korinte, Kollose, Filippi, Tessalonika, ensovoorts. Aan hierdie mense verduidelik Paulus, stap vir stap, die ongelooflike betekenis van die heilsfeite. Hy doen dit teen die agtergrond van die Ou Testament. Veral die brief aan die Hebreërs is ‘n goeie voorbeeld hiervan.

Elke aspek van Christus se lewe word behandel, en wat die betekenis daarvan is. Dink aan die kruis. Dat Christus aan die kruis gesterf het, dat Hy aan ‘n paal gehang het tussen hemel en aarde, het ‘n betekenis. Dit herinner aan die uitspraak uit die Ou Testament, dat so iemand deur God vervloek is.

En die feit dat sy bloed aan die kruis gevloei het. Dit is inderdaad wat feitlik gebeur het daar op Golgota. Dat die spykers deur sy polse en voete gekap is en die bloed begin uitloop het. Feitlik korrek. Maar terselfdertyd herinner dit aan die hele simboliek in die Ou Testament. Daarop wys die Hebreërbrief ons. Soos dierebloed by die tempel gevloei het, ‘n onophoudelike bloedstroom, om te simboliseer dat die sonde afbetaal moes word, en dat die dood van die diere ‘n tydelike vervanging vir die straf was, maar dat die definitiewe afrekening nog moes kom – so het Christus se bloed aan die kruis gestroom. ‘n Volwasse mens het ongeveer 5 liter bloed in sy liggaam. Daardie bloed van Christus was die defnitiewe betaling vir alle skuld. 5 liter het die verskil gemaak, nie die miljoene liters dierebloed uit die Ou Testament nie. Verstaan u dat dit hier nie net ‘n blote feit is nie, maar dat daar ‘n enorme betekenis aan vassit? Die Nuwe Testament, met name Hebreërs, verduidelik vir ons wat hierdie betekenis is. Dat daardie eenmalige gebeurtenis, daardie blote feit 2000 jaar gelede, dat dit ‘n verstrekkende betekenis het, wat ‘n appèl rig op elke mens op aarde.

Die doel van die Nuwe Testament, veral die briewe, is dus om vir ons die waarde van die heilsfeite te laat besef. Die apostel Paulus, en ook die ander apostels, het van stad tot stad getrek, hulle het gepreek in sinagoges en in huise en op markpleine, hulle het baie briewe geskrywe, hulle het persoonlike gesprekke gevoer, om die mense in te lig oor die heilsfeite, en om die betekenis daarvan vir hulle te verduidelik. Die apostels het die betekenis goed besef, want hulle het self van Jesus hulle onderrig ontvang.

En hulle het, as lede van God se ou verbondsvolk, die Ou Testament geken, hoe God deur die heilsgeskiedenis heen na hierdie punt toe gewerk het – na Golgota toe. Hierin het die apostels dus gevolg in Jesus se voetspore. Ook Jesus het, na sy opstanding, aan die mense die betekenis van sy kruisdood en opstanding verduidelik. Jesus het byvoorbeeld met die Emmaüsgangers gepraat. Hulle was in verwarring. Hulle het, soos hulle self gesê het, in die hoop geleef dat Jesus vir Israël sou verlos. Maar toe word Hy gekruisig. Wat ‘n antiklimaks!

Toe het Jesus begin verduidelik en die sake op ‘n rytjie gesit:Jesus het begin om vir hulle op die Ou Testament te wys. Glo julle dan nie – het Hy gesê – glo julle dan nie dit wat in die profete staan nie? Moes die Christus nie ly om in sy heerlikheid in te gaan nie? En Hy het by Moses begin en by al die profete en vir hulle verduidelik, wat in al die Skrifte op Hom betrekking het.

So het Christus aan hulle die betekenis van kruisdood en opstanding uitgelê. En, soos ek gesê het, die apostels het nie anders gedoen nie. Hulle het gevolg in die voetspore van hulle Heiland. Self onderrig deur die Heiland, het hulle nou uitgegaan en die nuwe Christene onderrig. Van stad tot stad, en hulle het briewe geskryf. En so het hulle dit moontlik gemaak – eintlik was dit die leiding, die inspirasie van die Heilige Gees – so het dit moontlik geword vir elke mens op aarde om die feite van kruisdood en opstanding op hulle juiste waarde te skat.

Soos die feit dat Caeser die Rubicon oorgesteek het, verstrekkende konsekwensies gehad het, so het die kruisdood en opstanding wêreldwye konsekwensies.

Sê nou maar jy sou vir ‘n volbloed heiden sê: Jesus vergewe jou sondes, Jesus red jou deur sy kruis. Dan sal daardie heiden waarskynlik nie onmiddelik van blydskap ‘n gat in die lug spring nie. Hoekom nie? Omdat die persoon eers onderrig moet word, sodat hy die woorde op hulle juiste waarde kan skat. As jy vir ‘n bedelaar ‘n skildery van Pierneef skenk, sal hy waarskynlik ook nie direk ‘n gat in die lug spring nie. Hy is naamlik nie op die hoogte van die skildery se waarde nie. So moet ‘n heiden eers die waarde van die kruisdood en opstanding van Christus leer besef. ‘n Ongelowige moet gekonfronteer word met sy eie ellende, sy sondigheid.

Wie dit nie besef nie, en laat ons eerlik wees, uit onsself besef ons as mense nie die diepte van ons ellende nie, wie dit nie besef nie, besef ook nie die noodsaak  van Christus se kruisdood nie; en dus ook nie die ryke betekenis daarvan nie. Jesus het die heilsfeite vir die Emmaüsgangers verduidelik.

Hoekom dit alles moes gebeur.

Die apostels het die Evangelie verkondig, deur aan die mense te verduidelik wat die betekenis van kruisdood en opstanding is. En ons mag, danksy die leiding van die Heilige Gees, die briewe van die apostels gebruik,  sodat ons kan verstaan hoekom dit alles so gebeur het, en sodat ons opreg dankbaar kan wees vir wat daar gebeur het, sodat ons kan besef dat Jesus nie dood is nie, maar lewe en as Koning regeer. En dit is hoekom ons elke Sondag kerk toe kom, waar die Skrifte uitgelê word en toegepas word op ons eie lewe.

En dit is hoekom ons ses keer per jaar nagmaal vier. Brood eet, wyn drink, en so bepaal word by die heilsfeite van kruisdood en opstanding. Nie net die blote feit dat hierdie dinge gebeur het nie. Maar ook die ryke betekenis daarvan, ook vir jou en my lewe.

En dit bring ons weer terug by Sondag 28, en die vraag wat ons besig hou.

Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy gemeenskap het aan die enige offerande van Christus wat aan die kruis volbring is, en aan al sy goed? Verstaan u nou dat hierdie vraag aktueel is?

Dit gaan nie oor teologiese haarklowery van soveel eeue gelede nie. Die Kategismus wil antwoord gee op wesenlike vrae, en wesenlike twyfels waarmee mense, ook Christene, gepla word. En daar word verduidelik dat die nagmaal juis daar is om ons ekstra ondersteuning te gee. Ekstra versekering te gee dat dit alles ook vir jou bedoel is. Christus het ons beveel om tot sy gedagtenis die nagmaal te vier. Hoekom? Omdat Hy ons as mense ken. Hoe kleingelowig ons is. Dink maar aan wat Hy vir die Emmaüsgangers gesê het. Die Emmaüsgangers was gelowige mense, maar tog. Jesus het vir hulle gesê: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Ons het dit as mense gewoon nodig. En daarom kom Christus ons tegemoet met die nagmaal. Hy beveel ons om nagmaal te vier, om ons by sy belofte te bepaal. Dat sy liggaam aan die kruis geoffer is, en sy bloed vergiet is. Net so seker as wat jy die brood en wyn sien en proe. So bepaal die nagmaal ons – soos die twee punte van die preek dit verwoord – by die feitlikheid van Christus se kruisdood en opstanding – dit ten eerste;

maar ten tweede by die ryke betekenis daarvan vir jou lewe.

Amen.

 

 

Liturgie: 

Seën

Ps 63:1,2

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 10:1-18

Ps 63:3-6

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 28 v/a 75

Preek

Ps 62:1-5

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 6:1,2,5,6

Seën