Deur die Heilige Gees is ons gebede soos n reuk offer voor die Here

Predikant: 
Ds. R Pos
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2018-10-21
Teks: 
Psalm 25, Romeine 8: 26,27
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus. Broers en susters,
Ons het nou net Psalm 25 gelees . Hierdie Psalm noem iets wat ons almal in ons lewe moet ken en ervaar. Ons lees naamlik (Ps 25v14): "Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak." Ons sing dit met die woorde van Ps 25v7: "Gods geheim'nis is die lewe, vir wie wandel in sy vrees; en Hy 't sy verbond gegewe, om vir hul 'n lig te wees." My bedoeling vanoggend is om te fokus op die betekenis van die woord “verborgenheid”, en “Gods geheim'nis". Dit beteken dat God met ons wil omgaan. Hy wil saam met ons wandel. God maak dit vir ons moontlik om Hom op 'n sekere manier te ontmoet . Om 'n vertroulike verhouding met God te mag hê. Vertroulik. Verborge. Maar tog ook baie sigbaar!

'n Paar weke gelede het ek gepreek oor ons lewenswandel voor God. Dit was aan die hand van Levitikus 19. Hierdie keer gaan ons saam nader kyk na 'n besondere deel van ons lewe voor die aangesig van die Here. Naamlik ons vertroulike omgang met die Here. Want ons wandel saam met die Here. Ons kan ook 'n ander woord daarvoor gebruik en dit is die woord "gebed''. Want Psalm 25 verwys na die gebed as dit spreek oor "die verborgenheid van God" wat gegee word aan mense wat Hom vrees. Dit handel oor ons vertroulike omgang met die Here. Hoe ons mag omgaan met die Here in ons gebede.

In die vorige preek oor God se heiligheid, was dit duidelik dat die Here bo mense verhewe is. Moses herhaal in Levitikus 19 steeds weer: Ek die Here, Jahwe, is heilig. Moses leer die volk van Israel baie dinge wat hulle nie moet doen nie of wat hulle juis wél moet doen, omdat hulle aan die heilige Yahweh toebehoort. En dit is sonder meer duidelik dat ons goed moet verstaan dat ons nie met hierdie heilige God kan omgaan asof Hy ons aardse vriend is nie. Ons omgang met die Here, ons gebed, is gebonde aan sekere reëls. My doel is om vanuit die Ou Testament 'n aantal gegewens te belig wat ons kan help om ons omgang met die Here te bepaal in die nuwe Testamentiese tyd. Dit handel dus eintlik oor gebeds-onderrig. Maar dan nie in die sin dat ek gaan fokus op hoe ons moet bid nie, maar in die sin van hoe die Here na ons gebede kyk. Hoe Hy bedoel het dat ons die gebed moet gebruik.

In die Boek Eksodus, maar ook in die daarop volgende boek Levitikus, gee die Here omvattende reëls rakende die inrigting van die tempel. En oor die offers wat daar gebring moes word. Alhoewel ek verwys na “tempel” was dit oorspronklik slegs 'n tent. Sekerlik 'n baie mooi tent, maar nie naastenby so indrukwekkend soos die tempel wat later deur koning Salomo gebou is nie. Daardie tent is ook die "tabernakel " genoem. En ook heel dikwels die tent van ontmoeting (tent van samekoms). Binne en rondom die tent is godsdienstige handelinge verrig wat dit moontlik gemaak het dat die Here daar sy volk (verteenwoordig deur die priesters) kon ontmoet. En dit is verstaanbaar dat in hierdie ontmoeting die gebed ook ‘n plek sou kry. Deur ‘n tipe ritueel waarin die baie spesiale ontmoeting van die volk met die Here gevier kon word. 'n Ritueel waartydens onderlinge kontak kon plaasvind.
Dit is inderdaad die geval en dan dink ons aan die reukoffer. En ons weet waarskynlik dat die bring van die reukoffer en die gebed verband hou met mekaar.

Hoe kan ons ‘n goeie beeld kry van die reukoffer? Is dit miskien soortgelyk aan die rondswaai van die wierookvat in die Rooms-Katolieke Kerk? In dié geval hou die priester 'n silwer bak vas aan drie kettinkies en dan swaai hy daarmee die bak in die rondte sodat dit wit rook vrystel. Die wierook. Dit ‘n bietjie soetige en bedompige lug. Ek dink nie dat dit baie positiewe gevoelens in ons opwek nie. En omdat die reukoffer in die Ou Testament iets soortgelyks was, skep dit by ons maklik die gedagte dat ons ons nie al te veel met reukoffers moet besig hou nie. Dit hoort by die volk Israel en dit is deel van die verlede.

Laasgenoemde is natuurlik waar wat die uiterlike vormgewing van die reukoffer betref. Maar tog sê dit vandag wel iets oor die inhoud van ons gebeds-offer. In die vormgewing van die ou-testamentiese offer toon die Here baie duidelik aan sy volk die bedoeling daarvan. Maar dit geld ook vir ons vandag! Hy wys ons op die bedoeling van ons vertroulike omgang met Hom. Op die wyse soos psalm 25 dit verwoord. Ons kan beslis ons wins doen met wat die Here sy Ou Testamentiese volk leer met 'n ritueel wat baie nou verband hou met ons gebede.
In die tyd van die Ou Testament was dit die taak van die priesters om voorbidding te doen vir die volk. Die Here het Moses onderrig in hoe die offerdiens moes plaasvind. Ook in hoe die reukoffers, wat die gebed begelei het, gebring moes word.

Eie aan die offer was dat jy altyd iets aan die Here moes aanbied. By 'n brandoffer of 'n sondoffer byvoorbeeld, moes jy 'n groot of klein dier aan die Here aanbied. By ‘n spysoffer moes jy voedsel aanbied. Graan en wyn. By ‘n reukoffer moes jy reukwerk aanbied. Reukwerk is 'n mengsel van gesogte en kosbare speserye. Ons lees daarvan in Eksodus 30v34-38:
"Verder het die HERE vir Moses gesê: Neem vir jou speserye: storaksgom en naeltjies en gálbanum—speserye en ook suiwer wierook; alles in gelyke hoeveelhede, 35 en maak daar reukwerk van, ‘n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer, heilig. 36 En vrywe ‘n gedeelte daarvan heeltemal fyn, en sit ‘n deel daarvan neer voor die Getuienis in die tent van samekoms, waar Ek met jou sal saamkom; hoogheilig moet dit vir julle wees. 37 En die reukwerk wat jy moet maak—na dieselfde voorskrif mag julle vir julle nie maak nie; as iets heiligs aan die HERE moet dit vir jou wees. 38 Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word."

Let op, broers en susters, die samestelling van reukwerk was nie volgens 'n geheime resep nie. Almal mog presies weet wat vir die Here aangebied is. Niks is geheimsinnig nie. Maar die gebruik daarvan was slegs beperk tot die Here. Niemand moes selfs daaraan dink om so 'n mengsel te maak en om dit self te gebruik nie. 'n Swaar straf is opgelê aan diegene wat die gebod oortree het: Hulle is nie meer toegelaat om deel te wees van die volk van die Here nie. Oortreders is uit die volk verwyder. Dit sê iets vir ons. Jy mog net nie met die reukwerk rondspeel nie.

Daar is nog meer. Die reukwerk moes saamgeneem word tot binne-in die tabernakel. Daar is dit neergesit voor die verbond-teks [die 2 kliptafels van die wet?]. Dus voor die twee kliptafels wat in die ark - agter die voorhangsel - was. Watter soort plek was dit? Dit is die plek, sê die Here, waar ek jou sal ontmoet. Hier sien ons dus dat die reukoffer alles te make het met 'n ontmoeting met die Here.

Ek het geen idee watter geur die reukoffer versprei het nie. Dit moes wel aangenaam gewees het. Want anders sou die Here nie die Israeliete verbied het om self reukwerk te maak om van die geur daarvan te geniet nie. In elk geval kan ons aflei dat dit duur reukwerk was. Dit toon aan dat reukoffer ‘n besondere saak was. En 'n ontmoeting met die Here kon eers plaasvind nadat die priester hom vir 100% aan die reëls gehou het. Dit blyk duidelik uit die gebeure toe die reukoffer die eerste keer gebring is.

Die twee oudste seuns van die hoëpriester Aäron kry opdrag om die reukoffer te bring. En die Here duld geen afwyking van Sy voorskrifte nie. Die Here dink nie: Dit is die eerste keer - hulle moet nog leer - laat ek 'n bietjie geduld met hulle beoefen nie. Nee, Nadab en Abihu word op die plek met die dood gestraf omdat hulle ernstige foute begaan het. Dit is 'n huiwering-wekkende geskiedenis, maar dit is ook tot ons lering in die Bybel opgeneem. Kom ons lees hierdie geskiedenis in Levitikus 10v1-7:1 En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. 2 Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE. 3 Toe sê Moses vir Aäron: Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik. Maar Aäron het stilgebly. 4 En Moses het Mísael en Élsafan, die seuns van Ussíël, die oom van Aäron, geroep en aan hulle gesê: Kom nader, dra julle broers van die heiligdom af weg, buitekant die laer uit. 5 Toe het hulle nader gekom en hulle in hul rokke buitekant die laer uitgedra soos Moses gesê het. 6 Daarop sê Moses aan Aäron en sy seuns Eleásar en Itamar: Laat julle hare nie loshang nie en maak geen skeure in julle klere nie, dat julle nie sterwe en Hy in toorn teen die hele vergadering losbreek nie. Maar julle broers, die hele huis van Israel, kan die brand beween wat die HERE aangesteek het. 7 Julle mag ook uit die ingang van die tent van samekoms nie uitgaan nie, dat julle nie sterwe nie; want die salfolie van die HERE is op julle. En hulle het gehandel ooreenkomstig die woord van Moses.

Is dit nie ‘n verskriklike gebeure nie? Twee jong mans bring vir die eerste keer 'n reukoffer, en hulle word dodelik getref. En hulle vader, Aaron en hulle twee broers, mag nie eers oor hulle treur nie! Wat het verkeerd gegaan? Ons kan dit slegs ontdek as ons noukeurig let op die voorskrifte van die Here. Laat ek dit probeer verduidelik.
Om die reukoffer te bring, het die priester 'n vuurpan gebruik. Dis 'n tipe plat steelpan van koper waarmee gloeiende kole opgeskep kon word sodat dit na die reukofferaltaar, in die middel van die tent van samekoms, gebring kon word. Die reukwerk is by die reukoffer altaar op die gloeiende kole gestrooi sodat dit ‘n heerlike geur sou versprei. Dis moontlik ‘n oneerbiedige vergelyking maar dis soos geurige kruie wat op gloeiende kole van ‘n braaivleisvuur gestrooi word. Dit stel ‘n aangename geur vry. Ek het sulke kruie hier ook al gesien.
Wat die twee priesters, Nadab en Abihu, verkeerd gedoen het was om die gloeiende kole nie na die reukofferaltaar te bring en toe die reukwerk daarop te strooi nie. Maar hulle het reeds vooraf die reukwerk op die brandende kole gestrooi en nie by die reukoffer altaar nie. Dit het beteken dat hulle die reukoffer op die verkeerde plek gebring het. Maar daar nog iets vreemds. Die reukoffer is eintlik bedoel as ‘n enkele offer. Maar die twee priesters maak daarvan twee offers. Elkeen bring sy persoonlike offer. Elkeen gebruik sy eie vuurpan waarop hulle die reukwerk uitstrooi. U kan hierin iets lees van: Kyk, dit is ons offer. Die offer is ook nie in die verborge plek, in die tabernakel, ingebring nie maar dit was publiek sigbaar. Die priesters het daarmee meer gefokus op hulleself as op die offer wat hulle moes bring. En dit terwyl die offer eintlik bedoel was om 'n vertroulike ontmoeting met die Here te bewerkstellig.
Maar daar is nog meer. Ons lees dat die Here se toorn opgewek is omdat hulle verkeerde vuur aan die Here aangebied het. Nie verkeerde reukwerk nie. Die reukwerk was dus goed saamgestel. Ek het daaroor nagedink of daar iets met die vuur kon verkeerd gewees het. Dus met die gloeiende kole. Waarvandaan het hulle dit geneem? Dit was nie iets waaroor hulle self kon besluit het nie. Deur byvoorbeeld kole uit ‘n vuur te neem waarop hulle hul eie kos voorberei het.

'n Paar hoofstukke verder word beskryf hoe die eerste Groot Versoendag gevier is. Dit sê iets meer oor die brandende kole. Kom ons lees hierdie gedeelte uit Levitikus 16v11-13:
11 Aäron moet dan die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat aankom en vir hom en sy huis versoening doen: hy moet die sondofferbul slag wat vir hom bedoel is, 12 en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE wegneem; daarby twee handevol fyn-gestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. 13 En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie.
Die hoëpriester Aäron moes op die Groot Versoendag verskeie offers bring. Beide vir homself en vir die volk. Dit is offers van versoening. Offers wat die verhouding met die Here God herstel. Maar onder al die offers wat Aäron moet bring, is daar ook 'n reukoffer. En wat beveel Moses? Julle moet die kole vir die reukoffer neem vanaf die altaar by die ingang van die tent van samekoms. Vanaf die brandofferaltaar. En daardie gloeiende kole moet Aäron dan na die wierookaltaar bring, waar die reukwerk toegevoeg is. En dan sien ons skielik die verskil in die manier waarop die seuns van Aäron dit gedoen het. Hulle het die reukwerk nie by die reukofferaltaar toegevoeg nie, maar reeds vooraf in hul vuurpanne. Maar ook: Aaron moes kole neem afkomstig van die groot altaar. Daardie altaar waarop die brand- en sondoffers gebring is. Maar Nadab en Abihu het dit klaarblyklik nie gedoen nie. Dit was vreemde vuur. Die oorsprong van hul gloeiende kole was verkeerd.

Maar wat maak dit saak? Houtskool is tog houtskool? En gloeiende kole is steeds net gloeiende kole? Wel, dit is presies die vraag wat hierdie gebeure by die mense in daardie tyd, opgeroep het. Waarom moes die kole slegs vanaf die groot altaar afkomstig wees?
Weet julle, broers en susters, weet julle jongmense, wie die groot altaar se vuur aangesteek het? Dit was nie die priesters nie. Daardie altaar is slegs een keer aangesteek. Regtig net een keer. En deur die Here self. Dit het gebeur net voor die twee seuns van Aäron die verkeerde offer gebring het. Dit word beskryf in die vers net voor die verhaal van Nadab en Abihu (Levitikus 9:24 ): "...vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval."

Die vuur van die groot altaar is dus deur die Here self aangesteek. Hy is die oorsprong van die vuur. En dit het altyd so gebly. In Levitikus 6v12-13 lees ons: "En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek. 13 Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie.”
Vandag doen ons iets soortgelyk met die Olimpiese vlam. Dit word aangesteek by die berg Olympus in Griekeland en die vlam word dan na die aflegging van verskeie roetes na die betrokke Olimpiese stadion gebring waar die wedstryde sal plaasvind. En dieselfde vlam ontsteek ook die Olimpiese vuur. Dit is steeds dieselfde vlam wat in Griekeland aangesteek is, want dit word nie op weg na sy bestemming geblus nie. Dit is net so met die vuur van die brandoffer altaar wat voor die tabernakel gestaan het. Maar later ook met die vuur van die groot altaar wat voor die tempel van Salomo gestaan het. Ook daar het die HERE vuur uit die hemel gestuur om die vuur van die altaar aan te steek.

Die belangrike is dus dat ons moet onthou dat die vuur op die altaar, van die Here self afkomstig was. En dit is nie slegs 'n interessante feit nie. Want as twee jongmanne, vol ywer vir die Here, gedood is omdat hulle nie die vuur vir die reukoffer vanaf die brandofferaltaar geneem het nie, maar van elders, dan wil die Here ons daarmee iets sê.
Wat was die betekenis van die reukoffer? Dit was 'n offer wat as lieflike geur omhoog gesweef het. Dit was bedoel om die priester se gebed ten behoewe van die volk te vergesel. Die aangename reuk het as’t ware die Here laat luister na die gebed van sondige mense. Ja, maar slegs as die oorsprong van daardie offer gekoppel was aan 'n ander offer. Die oorsprong van die reukoffer was of die brandoffer of die sondoffer. En daarmee wou die Here aan sy volk dit leer: Die gebed vereis eers versoening. Eers moet die sonde weggeneem word. Eers moet sondes vergewe word, en dan eers kan die Here na die gebed van sy volk luister.

En dit, broers en susters, moet ook ons baie goed besef. Dit begin reeds met die inisiatief wat van God uitgaan. Hy het die vuur van die brandoffer aangesteek. Hy maak versoening moontlik. En daardie versoening skep ruimte vir ons gebed. Die gebed as 'n vorm van ontmoeting met die Here. Maar let goed op: die ontmoeting ontstaan nie van ons kant af nie. Dis nie ons wat die Here ontmoet op basis van ons voorwaardes nie. Slegs Hy maak dit vir ons moontlik. Hy skep ruimte sodat ons voor Sy heilige aangesig kan verskyn.
Ons het hier te make met Ou-Testamentiese gebeds-onderrig. Maar is dit vandag nog toepaslik? Ja, omdat ons ook mag bid. Nee, nie meer deur tussenkoms van priesters nie. Ons mag self direk tot ons Hemelse Vader nader in gebed. Hoekom is dit moontlik? Dit is omdat 'n offer gebring is. 'n Offer wat baie duidelik deur God self geïnisieer is. Want dit was Hy wat sy Seun gestuur het. God Self het hierdie grootste offer van alle tye, aangesteek. Nee, nie letterlik met vuur nie. Maar dit was God se ewige toorn wat sy Seun gedood het. Christus roep: Ek het dors! En daarna sterf Christus. Ja mense het dit Hom aangedoen, waaronder ook ons. Maar dit was God self wat sy Seun verlaat het. En daardeur is Hy gedwing om af te daal in die brandende hitte van die hel.

En daarom mag ons bid. Ons almal. Ons doen dit soms te gemaklik. En soms net af en toe: Wanneer dit ons pas. Maar dit is 'n geskenk direk afkomstig van Golgota. Ons bid in Christus se naam. Ons sluit ons gebed af deur God te herinner aan die offer van sy eie Seun En broers en susters, moet ons nie daarom meer werk daarvan maak nie? Want God soek ons, God wil ons in ons gebede ontmoet. As ons tot Hom spreek.
Ja, maar hier stuit ons op ons eie onmag. Ja, in ons nood nader ons maklik tot God. Maar ook in ons voorspoed? Hoeveel tyd bestee ons aan die gebed? Meer as wat ons TV kyk? Sommige bekommer hulle nie werklik daaroor nie. Hulle sê eenvoudig: "Ons is net te besig." Te besig om ook nog te bid. Ander voel skuldig as hulle 'n dag laat verby gaan sonder gebed. Sonder 'n ware gesprek met die Here.

Die Here laat ons hierin nie alleen nie. In die Nuwe Testament vind ons baie gedeeltes oor die gebed. Ten slotte wil ek dit graag met u lees. Ons lees Romeine 8v26: "En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. 27 En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.”
Olie en wierook was in die tyd van die Ou-Testament ‘n simbool van die Heilige Gees. Want jy ruik 'n aangename geur, maar jy kan dit nie sien nie. Net so is die Heilige Gees, soos 'n aangename geur wat iets aan ons doen, maar ons kan nie die Gees sien nie. Daardie Heilige Gees is aan ons gegee. Met Sy hemelvaart het Christus Sy offer aan Sy Vader aangebied. En toe die Vader die offer aanvaar, het Vader en Seun hul eie Gees na die aarde toe gestuur. Hy mag by ons woon. Hy mag in ons midde wees. En dit die Gees wat ons gebed voor die Here bring. Soos reukwerk.

Dit bied groot troos, broers en susters. Want ons gebed is gebrekkig. Ons gebed kom nie voor die Here soos ons dit uitgespreek het nie. Want dit is met sonde besmet en dit toon groot tekorte. Maar ons gebrekkige gebede word geheilig deur die Gees van Hom wat ons graag wil aanhoor. Hy ontvang ons gebed uit die hand van sy eie Gees. Volmaak en geheilig. En dit is die Gees van Christus wat vir ons pleit en ons gebed aanvaar.

Nou wil ek een stap verder gaan. Want ons gebede is momentopnames. En in die praktyk meer dikwels 'n baie kort momentopname. Die Here is nie tevrede daarmee nie. Omdat Hy wil hê dat ons Homself vir meer as 'n paar minute per dag voor Hom stel. Hy vra dat héél ons lewe voor sy aangesig gebring word. En daarom het Hy Sy Gees nie in die hemel laat woon nie, maar Hom na ons op aarde gestuur. Dié Gees help ons nie alleen met ons gebede nie, maar daardie Gees verander heel ons hele lewe in 'n gebed. Sodat ons hele lewe oop voor Hom lê. Ons hele lewe, elke minuut daarvan, verskyn voor die aangesig van die Here. En so word nie net ons gebed nie, so word nie net ons psalmgesange nie, maar so word heel ons lewe 'n geurige reukoffer wat ons uit dankbaarheid mag bring. Uit dankbaarheid vir die groot offer wat reeds gebring is. Die offer van ons Verlosser. Christus het in ons plek gesterf op Golgota. En daarin lê vandag die basis van ons lewe. Die vuur van daardie offer is na ons toe gebring. Is dit nie opmerklik nie dat op die eerste Pinksterdag vlamme verskyn het wat hulself op die hoofde van Sy leerlinge gestel het nie? Die vuur van Golgota! Ons lewens word opgehef, aangesien 'n vlam altyd optrek boontoe, waar dit verbind word met die offer van Christus. Die offer wat God self aangesteek het om ons te laat leef. Beide vandag en later met die Here in Sy ewige heerlikheid.

'n Kort gebed is dus nie noodwendig swak nie. As dit maar ‘n eerlike gebed is. En solank daardie kort gebede in jou lewe voortduur. Om te wandel saam met God. En omdat ons wandel, hoef ons gebed nie noodwendig met geslote oë en gevoude hande uitgespreek te word nie. So stap ons saam met God. So gaan ons vertroulik met Hom om. Om geen geheime meer vir Hom te hê nie. So maak ons ons harte oop om Sy liefde te ontvang. So word ons lewe ‘n opregte dankoffer. 'n Gebed sonder einde. Dan mag jy elke dag jou Verlosser ontmoet en vir ewig saam met Hom woon. Amen.
 

Liturgie: 

Afkondigings van die kerkraad

Votum & Seëngroet

Psalm 113: 1,2

Lesing van die wet

Psalm 40: 3,4

Gebed

Skriflesing: Psalm 25

Psalm 25: 5,6,7

Tekst: Romeine 8: 26,27

Preek

Psalm 50: 7,11

Gebed

Kollekte

SB 20: 6,7,8

Seën