Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 31 v/a 85
Ons land ken baie wette op papier. Maar die handhawing van daardie wette vind dikwels nie plaas nie. En omdat mense weet dat die polisie laks is om die wette toe te pas, begin mense net nog meer daardie wette oortree. Ons ry te vinnig op die paaie. Ons ry deur rooi ligte. Ons bel en whatsapp terwyl ons ry. En die gevolg van hierdie gedoogbeleid is dat die padsterftes net aanhou toeneem. Straffeloosheid maak ‘n samelewing stukkend, dit besef ons maar al te goed.
Vanaand mag ons, aan die hand van die Heidelbergse Kategismus, fokus op die tweede sleutel van die koninkryk van die hemel.
Tema: Christus skenk aan sy kerk die tweede sleutel van die koninkryk van die hemel
1 Hierdie sleutel sluit toe
2 Hierdie sleutel sluit oop
1 Hierdie sleutel sluit toe
Aan die hand van die Kategismus is ons besig met die sleutels van die koninkryk van die hemel. Koninkryk van die hemel beteken nie dat hierdie koninkryk net in die hemel sal bestaan nie. Hierdie koninkryk sal juis op die aarde wees! Hemel en aarde sal verenig word. Hoekom noem die Bybel dit dan koninkryk van die hemel? In die tyd toe Christus op aarde was, was dit die gebruik onder die Jode om God nooit direk by die naam te noem nie. Mens vind hierdie gewoonte tot vandag toe terug onder ortodokse Jode. Die naam waarmee God Homself aan Moses geopenbaar het – Jahweh – mag volgens hulle glad nie hardop uitgespreek word nie. Dit sou sonde wees teen die derde gebod.
Ons dink anders hieroor. Die derde gebod stimuleer juis die goeie gebruik van God se Naam, al verbied dit misbruik. In elk geval, die Jode het nog verder gegaan. Hulle wou nie direk God se Naam gebruik nie. Hulle het eerder na Hom verwys met ‘n uitdrukking soos: Hy wat in die hemel woon. Of: die Mag.
Of: die Almagtige. Ensovoorts. Ons sien in die Nuwe Testament dat die Here Jesus by hierdie taalgebruik aangesluit het. So praat Hy byvoorbeeld oor die koninkryk van die hemel. Maar Hy bedoel dieselfde as: die koninkryk van God. Soms het Hy dit meer direk genoem die koninkryk van sy Vader.
Hierdie tweede sleutel, wat dus toegang bied tot die koninkryk van God, is volgens die Kategismus die kerklike tug. Die kerklike tug bestaan nie net vir ongelowiges nie, dit het ons al in verlede week se preek gehoor. Hierdie sleutel is bedoel vir ongelowiges sowel as gelowiges. Net soos die eerste sleutel, die Evangelieverkondiging, bedoel is vir sowel gelowiges as ongelowiges.
Ons het nounet ‘n gedeelte uit die Evangelie volgens Lukas gelees. Dit was ‘n gelykenis van Jesus. Dit het gegaan oor ‘n vyeboom. In die Midde-Ooste was iemand se vrugteboord sy trots. Die mense was ook mal oor vye, vandag in die Midde-Ooste is dit steeds dieselfde soos vroeër.
‘n Aantal jare gelede het ek klasse aangebied op die eiland Cyprus, in die Middellandse See. En ek onthou nog dat die studente met etenstyd met mekaar gedebatteer het, en wel oor vye! Die studente uit Egipte was heilig daarvan oortuig dat die vye uit Egipte van die beste kwaliteit was. Die studente uit Sirië het egter nie met hulle saamgestem nie. Net so was dit in Israel. Die Jode was baie trots op hulle vye en druiwe, wat hulle gekweek het.
En so ‘n tipe persoon skets Jesus in hierdie gelykenis. Iemand het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Hy het gekom om vrugte daaraan te soek, maar kon niks vind nie. Dit was nou al die derde jaar wat dit so was. Vir hom was dit genoeg. Lank genoeg het hy genade gehad met hierdie boom, wat staan en niks doen het op sy kosbare grond, en niks opgelewer het nie.
Verby. Die man sê toe vir die tuinier: Kap hom uit. Hy maak net die grond onvrugbaar. Maar die antwoord van die tuinier is dan opvallend. Dit was naamlik die man wat elke dag in die wingerd gekom het. Die man wat gesorg het vir die bemesting, die besproeiing, wat die bome gesnoei het, ensovoorts. Hy het dus daagliks met die bome te make gehad. Hy het met ‘n advies gekom.
Dit gaan hier waarskynlik nie oor ‘n boom wat baie oud is, waarvan mens in elk geval kon verwag dat dit nie meer vrugte dra nie. Dit gaan ook nie oor ‘n boom wat te jonk is, en wat nog nie gereed is om te begin vrugte dra nie. Dit gaan oor ‘n gewone boom, waarvan mens dit sou kon verwag. Sê maar so ‘n boom waarvan mens byvoorbeeld lees in Mattheüs 21. Ons lees daar hoe Jesus ‘n vyeboom laat verdor het, as simbool vir wat met Jerusalem sou gaan gebeur. Dit gaan oor ‘n boom wat vol blare gestaan het. Waaraan mens ook vrugte sou kon verwag. Daarom dat Jesus daarheen geloop het, om te sien of daar nie tussen die blare vrugte gehang het nie. So te sien was daar dus geen aantoonbare rede hoekom die boom geen vrugte sou kon dra nie. En daarom die advies van die tuinman, wat ‘n bietjie medelyde met die boom gehad het:
Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal bietjie om hom spit en mis gooi. As hy dan in die komende jaar vrug dra, is dit goed. Maar anders, dan kan u hom uitkap. U is reg, maar gee hom tog nog een jaar kans.
Hierdie gesprek, sê maar hierdie pastorale gesprek oor die vyeboom, kan ons sien as ‘n gesprek tussen God die Vader en die Here Jesus Christus. Ons kan dit ook sien as ‘n gesprek tussen die Opperherder, Christus, en die plaaslike herder, die predikant of ouderling. En gemeente, so ‘n tipe gesprek word dikwels gevoer op die kerkraadsvergaderings. Maar dan gaan dit nie oor ‘n boom nie, maar oor ‘n skaap in die kudde van Christus. As Jesus Christus na u lewe kyk, dan is Hy op soek na vrugte. En so vind daar op die kerkraad gereeld oorleg plaas. Christus sê dan vir die tuinier, oftwel die ampsdraer: Ek oorlaai hierdie gemeentelid met my Geestesgawes. Ek sorg dat aan hom of haar die blye Evangelie verkondig word. Ek sorg dat hy of sy onafgeborke die lewende water ontvang, sodat hy of sy kan groei en vrug dra. k skenk elke dag my seën, my sorg, my troos, my krag. Ek investeer baie in hom of haar. Ek doen dit om sy of haar lewe mooi te maak. En dan vra die Here Jesus vir die tuinier, oftewel die ampsdraer: Sê vir my, het dit enige uitwerking?
Geliefde gemeente, ons Here Jesus Christus was destyds self die – om by die vergelyking in die gelykenis te bly – Hy was self die tuinier van die stad Jerusalem. Male sonder tal het Hy die blye boodskap in haar gebring. Hy het op haar strate geroep: Ek is die lewende water! Ek is die ware wynstok! Ek is die brood van die lewe! Ek gee alles wat julle nodig het! Luister na My, drink my woorde in! Maar toe Jesus, een van die laaste kere, opgetrek het na Jerusalem, het Hy oppad verby ‘n vyeboom gekom. ‘n Boom wat op eerste gesig groen en gesond gelyk het. Maar by nader insien het geblyk dat daar nie ‘n enkele vruggie aan was nie. Daardie boom het Jesus toe simbool gemaak vir wat met Jerusalem sou gebeur. Hy het die boom laat verdor.
Gemeente, op die kerkraad is ons soms ook verleë, net soos die tuinier in Lukas, met die Woord van die Here. As ons, onderherders, na vrugte soek, maar hulle nie vind nie. Mense wat, net soos die boom, op eerste gesig gesond lyk. Die boom was vol blare. Mense wat nie aan iets gebrek het nie, wat welvarend is, gesond, van alle kante deur God geseën. Maar as mens naderby kom, val ineens op dat hulle nie vrug dra nie. Hoe kan dit nou? vra mens jouself dan af. Het die weeklikse verkondiging van die Evangelie, in oggend- en aanddiens dan geen uitwerking op hulle nie? Maak hulle dan geen gebruik van die Bybelstudieverenigings, van die sakramente, van die saamtrekdae nie - noem maar al die moontlikhede waardeur die lewende water na ons toe gebring word. Ampdraers, net soos die tuinier, moet uiteindelik wel gehoorsaam wees aan hulle Heer. En dit blyk dat die Here baie geduld het.
Dat Hy genadig is. Drie jaar het hy die boom sy gang laat gaan. Selfs ‘n vierde jaar word daaraan toegevoeg. ‘n Jaar waarin die boom ook nog spesiale aandag gekry het. Want die ampsdraer het vir Jesus gesê: Ek sal hierdie jaar ekstra om hom spit en mis gooi. Die ampsdraer sal die jaar ekstra besoeke bring aan die gemeentelid. Die ampsdraer sal gaan soek vir ‘n moontlikheid hoe daardie gemeentelid sy betrokkenheid in die gemeente kan verhoog, wat hopelik ‘n positiewe invloed sal hê op sy of haar lewe.En so word daar verskillende planne gemaak ter wille van die behoud van die boom. En die Here Jesus Christus vind dit goed. Hy het aan die ampsdraers die bevoegdheid gegee om die sleutels van die koninkryk van die hemel te hanteer. Hy gee hulle die ruimte. Maar Hy sê ook vir hulle: Onthou, julle het ‘n groot verantwoordelikheid. ‘n Verantwoordelikheid nie net vir daardie een boom nie, maar ook vir die hele wingerd, die hele gemeente! Waarom sou hy die grond onvrugbaar maak? Onthou, een vrot appel kan die hele kis met appels vrot maak. Dus, sê Christus vir die tuinier, die ampsdraer: Besef wel watter verantwoordelikheid Ek vir jou gegee het! Jou geduld met een gemeentelid mag nie die gemeente as geheel in gevaar bring nie.
En so, geliefde gemeente, waak die ampsdraers oor u. Hulle kom namens Christus by u op besoek. En dit mag wees dat u hulle besoeke soms as lastig ervaar.Veral nadat ‘n ampsdraer eers na u verhaal geluister het, maar dan blyk dat hy tog nie in alles met u saamstem nie. Veral, as hy as gesant van Christus, u op ‘n mooi manier probeer vermaan. So word daar oor u welsyn gewaak. En so hanteer hulle hierdie sleutel van die hemelryk. Nie dat hulle eiehandig, op eie goeddunke, u buite of binne sluit nie. Hulle kom met Christus se Woord.
Hulle voer as tuinier die instruksies uit van die Heer. En wanneer dit steeds duideliker word dat u so ‘n vyeboom is, een wat baie groen en gesond lyk, maar die vrugte bly afwesig, of dit is maar min vruggies wat by verre nie eweredig is aan al die kapitaal wat Christus in u geïnvesteer het nie, dan kan en mag die ampsdraer nie net anderkant kyk nie. So gebeur dit dan ook op kerkraad dat ampsdraers vir mekaar sê, bewus van die feit dat hulle ‘n groot verantwoordelikheid van Christus gekry het oor sy hele kudde: As hierdie skaap, as hierdie boom, as hierdie gemeentelid byvoorbeeld aan die einde van die jaar nog steeds geen verandering getoon het nie, dan gaan ons die tugoefening verder deurvoer. Ons lees in antwoord 85 die bekende stappe van die tug, afgelei uit die woorde van Jesus in Mattheüs 18. Dat hulle wat hulle nie aan die vermaning steur nie, daardie bome wat, nadat hulle tog nog ‘n keer goed versorg is, nog steeds geen vrugte voortbring nie, dat hulle nie langer tot die sakramente toegelaat sal word nie. En dat hulle op ‘n stadium uit die Christelike gemeente uitgesluit sal word. En so, staan daar, deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit word.
Die tuinier het geduld. Hy probeer om die tugprosedure nog ‘n bietjie uit te rek. God gee hom daardie moontlikheid. Maar dit bly ‘n ernstige aangeleentheid. En die Here wil dat sy diensknegte, die tuiniere, die ampsdraers, hulle verantwoordelikheid goed besef!
Ons het nou gekom aan die einde van die eerste punt van die preek. Die tema: Christus skenk aan sy kerk die tweede sleutel van die koninkryk van die hemel. Ons het in die eerste punt gesien dat hierdie sleutel inderdaad daadwerklik kan sluit, ja buitesluit! Laat ons nie ligtelik hieroor dink nie!
Ons is ‘n gemeente waar ons mekaar oor die algemeen al jare lank ken. Ons is dikwels, behalwe dat ons in dieselfde gemeente is, ook met mekaar verbonde deur verskeie familiebande. Dit lei soms daartoe dat ampsdraers dit baie swaar vind om hierdie sleutel te hanteer. Maar laat ons daarop bedag wees, as hierdie sleutel nie meer sy werk in ons gemeente doen nie, gaan ons vroeg of laat eindig met die situasie dat die hele kis appels vrot is.
Wat so mooi is aan die werking van hierdie sleutel, is dat dit die wonderlike eienskap het dat dit terselfdertyd kan toesluit en oopsluit. En daarna wil ons nou in die tweede plek kyk.
2 Hierdie sleutel sluit oop
Die laaste paragraaf van antwoord 85 lui soos volg: “Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys.” Dit gaan hier daaroor dat die sleutel van die tug nie net die hemelryk kan toesluit nie, maar ook vir iemand kan oopsluit. En dan hoef ons nie net aan die mees verregaande situasies te dink nie. Dat iemand byvoorbeeld onder tug kom, en dat hy met die formulier vir die uitsluiting uit die gemeente van Christus afgesny word, maar dat die persoon God sy dank daarna tot inkeer kom, en dan dat hy dan met die formulier om ‘n afgesnyde lidmaat weer in die gemeente van Christus op te neem, weer lidmaat word nie.
Dit is die mees verregaande situasie. Maar u moet veral ook dink aan minder opsienbarende voorvalle. Mat daardie doel het ons naamlik ook die gedeelte uit Johannes 15 gelees. Ons is almal onderdeel van die ware wynstok. Christus is die wynstok, en ons is die lote. Wie deel van hierdie wynstok – Christus – is, kan nie anders as om vrug te dra nie. Maar wie tog geen vrug dra nie, staan daar in vers 6, wie verdor, word afgekap en in die vuur gegooi. Die ranke wat egter wel vrug dra, word gesnoei.
Dit is ‘n belangrike opmerking. Daar staan in vers 2, ek lees dit nog ‘n keer:
“elke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.”
Skoonmaak kan mens ook met snoei vertaal. Dit is die doel van hierdie tweede sleutel, die tug. U word gesnoei. Dit is pynlik, maar dit is vir jou eie beswil.
Gemeente, een van die grootste dwalinge in ons tyd is dat God jou aanvaar soos jy is. Dit is totaal nie waar nie! God aanvaar jou slegs in Christus. En dit is heel iets anders. U word ingeënt op Hom. Hy wat die ware wynstok is. En wie op Hom ingeënt is, kan nie anders as om vrugte te dra nie. Vergewing beteken nie dat God die sonde aanvaar nie. Christus maak werk daarvan om die sonde uit te ban. Daarvoor is die tug daar, hierdie tweede sleutel. Dit is bedoel om jou te konfronteer met jou sondes, met jou gebreke, met jou laksheid, met jou gebrek aan bereidheid om saam te werk. Vergewing mag nooit uitgelê word asof God die sonde aanvaar nie. Vergewing is juis die wonderlike aanpak waarmee God op sy eie, vir die mens ondeurgrondelike wyse, die sonde uitban. Wie nadink oor vergewing, ontdek steeds meer dat dit hier gaan oor God se werk, wat in woorde nie beskryf kan word nie. En in hierdie kader staan ook die kerklike tug.
Mens sou kon sê dat die kerklike tug bedoel is om te voorkom dat ons oor vergewing begin dink as iets oppervlakkigs. Die tug plaas u voor Christus.
Geen enkele sonde word oor die hoof gesien nie. Waar die tug agterweë gelaat word, verdwyn Christus as enigste Verlosser uit beeld. Dan kry mens ‘n plat Evangelie, sonder enige diepgang. Iets soos: Laat God nie te moeilik doen nie.
Maar gemeente, ‘n gedoogbeleid kan rampsalige gevolge hê. Ons sien in ons eie land die rampsalige gevolge as die regering nie die wette, wat daar op papier is, in die praktyk handhaaf nie. Laat dit in die kerk nie ook so wees nie.
Laat ons sondige patrone nie in die kerk gedoog nie. Broeder, suster, is jy bereid om ‘n teregwysing van ‘n ampsdraer ter harte te neem? Durf ons mekaar nog te plaas voor die aangesig van die lewende Here Jesus Christus?
Gemeente, kerklike tug is baie barmhartiger as ‘n gedoogbeleid. Laat uself snoei, dit sal jou gesonder maak. So word voorkom dat u verdor. So word voorkom dat die sleutel vir u nie heeltemal buitesluit nie. God sy dank, juis hierdie sleutel wat Christus skenk, sluit ook oop!
Amen.
Votum
Seën
Ps 71:1,2
Gebed
Skriflesing: Lukas 13:6-9 & Mattheüs 21:18-19 & Johannes 15:1-8
Ps 71:12-15
Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 31 v/a 85
Preek
Ps 141:4,5,9,10
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 89:12,13
Kollekte
Ps 118:9,10
Seën