Die kerk is van God

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-01-06
Teks: 
Filippense 1: 1-11
Preek Inhoud: 

(Audio is van die aanddiens uit Pretoria - selfde preek)

6 Januarie 2019 Oggenddiens Ds Hannes Breytenbach

Kopiereg

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus.

Wie kan goed voel oor die geskiedenis van die Christelike kerk? Ons neem kennis van die wandade van kerke en van ampsdraers van kerke oral oor die wereld deur die media. Julle weet van die worsteling in die NG Kerk en in die GKSA in ons land. Kyk hoe word oor die kerk gepraat in ons tyd. Let op die houding van die samelewing oor die kerk in ons tyd.

Wie sê nog iets goeds van Christus se kerk, selfs in ons plaaslike gemeenskappe. Selfs gelowiges, kerklidmate lewer maklik afbrekende kritiek. Ons praat selfs veroordelend of onnadenkend oor hoe dit in ons gemeente of ons Kerkverband gaan, of oor lidmate of ampsdraers. Maar weet ons wat ons doen indien ons so dink en praat oor die kerk?

Onthou die kerk is nie van ons nie, maar van God. En nou is die wonder dat God die werk met sy kerk op ‘n bepaalde plek en ook op honderdduisende plekke begin en voortsit. En dat Hy die goeie werk wat Hy in sondaarmense se lewens begin het, sal voltooi.

Tema:

Die kerk is van God, daarom:

  1. Dank ons God vir sy goeie werk
  2. Bid ons God in die styl van Paulus vir die gemeente
  3. Verheerlik ons God vir sy kerk
  1. Ons dank God vir sy goeie werk

Paulus skryf aan die kerk van Filippi met blydskap, dankbaarheid en hoop oor hulle geloof in die Here Jesus Christus. Hy dank God, sy God elke maal as hy aan hulle dink. Sy God omdat hy persoonlik aan Hom verbind is, maar ook vanwee God se seën op sy arbeid. Hy bid altyd in sy gebede (en dit dui op smeekgebede) vir hulle met blydskap, 4. Hy deel dit aan hulle mee sodat hulle weet hoe innig hulle aan hom verbind is. Die mededeling - dat hy aan hulle dink wanneer hy bid maak duidelik dat sy beeld wat hy van hulle het, in sy gebede uitkristaliseer. Sy dank en smeek vir hulle voor God gaan hand aan hand. Hy dink altyd aan hulle, en hy dink altyd aan hulle almal. Daar is vir hom nie ‘n besondere groepie wat uitstaan nie, waarmee hy eenkant gesels en saamstem en beplan nie.

Al dankend en smekend tree hy vir hulle in. En steeds bid hy vir hulle met blydskap tot God. Deur die verbondenheid aan Christus is dit duidelik dat Christus hulle lei en bestuur. Dit maak dat hulle in blydskap in vrede met God en mekaar lewe. Lees die brief en ons sien hoedat blydskap van beide Paulus en die Filippense kom. Die wortel van die blydskap is die herstelde verhouding met God, die gemeenskap met Christus.

Paulus dank God, 5 dat die gemeente van die begin af tot nou toe deel gehad het aan die gemeenskap in die evangelie. Met gemeenskap aan die evangelie word hier bedoel gemeenskap aan die diens van die evangelie, deelname aan die verkondiging van die evangelie. En dit het ingesluit die gemeente se ondersteuning van Paulus in sy lewensonderhoud.

Paulus het na die verlede gekyk. Nou kyk die apostel vol vertroue na die toekoms van die gemeente, 6. Hy is van een ding volkome oortuig. Dit is die goeie werk wat God begin het, sal Hy voortsit. Paulus het die evangelie na Filippi gebring, maar dit was God se werk dat mense daar tot geloof gekom het en dat daar ‘n gemeente vergader is. Dit was God se werk in mense. In die Filippense het dit plaasgevind. God se werk in die indiwiduele gelowiges te Filippi. Ons het in Handelinge 16 gelees van die sakevrou Lidia, die purperverkoopster wat tot bekering gekom het, maar ook van die tronkbewaarder en sy huis. Paulus het die Evangelie verkondig maar dit was alles God se werk. Ons sien dit daarin dat God Paulus laat reis het na Macedonië, en dan na die stad Filippi, in die ontmoeting van Lidia en haar huisgesin vir onderdak en versorging, die gebeure met die slavin sodat hulle voor die regters gebring en in die gevangenis bewaak is, die lofsange wat hulle in die tronk gesing het en die aardbewing wat die tronkdeure laat oopgaan het sodat dit ‘n geleentheid was om die evangelie aan die tronkbewaarder te verkondig en die tronkbewaarder en sy gesin gedoop is, en dat Paulus en Silas die stad verlaat het en God die evangelie deur die gelowiges uitgebrei het in die stad. Die Here het uit die gelowiges opsieners en diakens gegee wat die gemeente gelei het. Paulus het steeds die gemeente by herhaling besoek. Alles was deel van die verbreiding van die evangelie in mense se harte. Die goeie werk van God in mense is in die eerste plek hulle persoonlike geloof in Jesus Christus. So Ef. 2:10: Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Die werk wat God in jou hart doen, verander jou lewe dat jy lewe na Christus toe en dat mense rondom jou daardeur geraak word en deur die Evangelie oorgehaal kan word. Die geloof werk so in die totstandkoming en voortgang van die sigbare gemeenskap van die heiliges in Filippi. En dit werk in hulle deelname, ondersteuning aan die prediking van die evangelie.

Hierdie werk hou God nie net in stand nie, maar Hy sal dit ook tot volle ontplooiing bring. Die goeie werk sal verder uitgroei en voortgaan en volmaak word. Dit sal nie afgesluit word by die sterwe van indiwiduele gelowiges nie, en kan ons aflei, selfs nie as ‘n geïnstitueerde gemeente in droefheid opgehef sou word nie, of as baie vanwee ongehoorsaamheid van die kerk weggaan nie. God se werk aan sy kerk gaan voort tot op die dag van Jesus Christus. Die voltooiing vind plaas met Sy wederkoms.

Paulus het dit, 7 sy plig geag om die gemeente aan God op te dra in sy gebede. Hy open hier sy hart wyd vir die gemeentelede van Filippi. Hy beskryf sy gevoelens duidelik en uitvoerig. Hy staan in toegeneentheid voor hulle. Hy het hulle op herderlike wyse innig lief. Hierdie verhouding is so heg dat hy skryf dat hy hulle op sy hart dra. Hy dink aan almal, hy dra al die lede van die gemeente op sy hart.

Hierdie toegeneentheid het verdiep tydens sy gevangenskap. Hy is in boeie. Hy is geroep tot verantwoording voor die owerheid. As angeklaagde gevangene moes hy hom deur middel van ‘n verdedigingsrede verantwoord – hy moes die evangelie verdedig en bevestig. Dit moes duidelik klink as onbetwisbaar en dat dit regsgeldig is en dat dit vasstaan.

In hierdie tyd onder hierdie donker wolk van omstandighede het Paulus baie ondersteuning van die gemeente ontvang. Die gemeentelede het intens met hom meegeleef. Hulle was sy deelgenote. Paulus wys op die innige band wat tussen hom en die gemeente gegroei het. Soos met die deelneem aan die prediking van vers 5. Die gemeente is deelgenote van die genade wat aan Paulus verleen is. Met deelgenote wees in die genade wat aan Paulus verleen is word nie net hulle verlossing bedoel wat hulle onverdien van God ontvang het nie. Met genade bedoel Paulus sy apostoliese opdrag om die evangelie te verkondig. Dit is ‘n besondere onverdiende gunsbewys wat deur God aan hom verleen is. Rom 1:5, 1Kor 3:10, Gal 2:9, Ef 3:2. Hierby sluit sy lyding in diens van die evangelie aan.  Dit is ‘n onderdeel van die genade wat aan hom verleen is. Dit is nie iets wat hom verhinder nie, maar ‘n gunstige geleentheid om te gebruik tot verdediging van die evangelie. Dit is in hierdie genade waarin die lede van die kerk van Filippi gedeel het. Dit word nie verklaar in besonderhede nie, maar hulle het deelgeneem deur hulle belangstelling, hulle gebede en ook deur daadwerklike hulp in die vorm van lewensonderhoud, 4:16. Paulus wil in 7 duidelik maak dat die gemeente deel gehad het aan sy verdrukking en lyding ter wille van die evangelie, 1:29. Hulle het nie die rug gekeer of hulle daarvoor geskaam nie, maar hulle het daarin gedeel. Hy verbly hom daaroor want ‘n apostel wat aangehou word, is nie ‘n hindernis of rede vir skaamwees vir mense wat die gekruisigde Christus aanvaar het as Heer en Heiland nie, 2:5-8.

Uit hierdie woorde van Paulus is duidelik dat geen gemeenskap hegter is as die gemeenskap van die geloof. Hy wil nogeens nadruklik verseker hoe diep en opreg sy verbondenheid aan die gemeente is en bevestig sy woorde met ‘n eed, 8 om hulle te verseker van sy innerlike band met hulle. Hy verlang na hulle almal. Hy betrek al die lede van die gemeente om sy geneentheid aan hulle te betuig. Hy maak duidelik dat hy na hulle verlang. Hy verlang na hulle met die ontferminge van Jesus Christus. Tederheid in die AV of ontferminge dui die edele dele van die menslike liggaam aan.  Hart en ingewande. Ingewande is die setel van diepste gevoelens van liefde, medelye en ontferming. In hart en ingewande setel die diepste emosies en gevoelens van liefde by ‘n mens.

Stel Paulus nou sy gevoelens gelyk aan die van Jesus Christus? Nee. Hy sê dat sy liefde vir die gemeente nie ‘n louter menslike saak is nie. Sy menslike liefde is gelouter deur die liefde van Jesus Christus. En dit vind sy oorsprong in Christus se liefde. Die Apostel het hulle lief soos Christus hulle liefhet. Ons kan ook sê Christus het hulle lief deur Paulus. Die band van geneentheid tussen Paulus en die Filippense is geheilig en word beheers deur die gemeenskap met Christus waarin Paulus en hulle deel.

Kan van jou en my gesê word dat ons soos Paulus bewoë is oor Christus se kerk, oor sy gemeente waarmee ons gemeenskap in Christus het, oor ons sendingpunte en sendinggemeentes?

2. Ons bid God in die styl van Paulus vir die gemeente

Nou volg Paulus se verduideliking van sy voorbede vir die gemeente. Is dit ‘n teenstelling met die dankgebed? Hy het gedank vir die goeie werk van God wat hy by die Filippense waargeneem het.

Maar nou is daar tog een en ander wat ontbreek. Die gemeente is ver van volmaak. Daar is vele gebreke en die eensgesindheid is onder druk.

By sy dank vir die goeie werk van God wat hy in hulle begin het, het Paulus ook die oortuiging dat God die werk sal voortsit,6. Hy dank God al weet hy dat die werk nog nie voltooid is nie.

Moes die gebreke en verkeerde nie Paulus moedeloos en ongeduldig met hierdie gemeente van Filippi gemaak het nie? Paulus is blymoedig en hoopvol. ‘n Warm hartlikheid straal uit sy brief aan die Filippense. Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. Ek bid altyd vir julle almal met blydskap. Hy kyk verder as die ooglopende. Hy laat hom nie meesleur deur wat hy sien nie, maar deur wat hy weet, wat hy glo, deur die dinge waarop hy vertrou, 6. Die inhoud van sy geloof in God, maak dat hy die gemeente van die kant van God af sien, sy geloof in die Persoon van Christus op wie hy vertrou maak dat hy die gemeente vanuit die geloof beskou - ten spyte van alle sorge wat hy oor hulle het.

Sy vertroue op Christus is die grond van sy kennis en sig op die gemeente. Daarom kan hy God elke keer vir hulle dank. En so geliefdes mag jy en ek na ons gemeente kyk. Na ons sendingwerk. Na ons sendingkerke. Na ons kerkverband. Na ander kerke in ons omgewing. Ook kerke waarvan jy ernstige dwaling aanwys. Is daar kerke wat hulp nodig het in uitbreiding van die Evangelie? Sal ons ons oë sluit vir gelowiges buite ons gemeente, of het hulle ons toegeneentheid en gebede nodig? Omdat hulle die ontferming van Christus nodig het.

In die gang van Christus se kerk in die tyd gaan dit nie maar oor die afdwaal van sondaars en ontrou nie, en is die kerkgeskiedenis nie maar een pessimistiese verval nie. Paulus bid wel om wat ontbreek. Hier word ‘n ander woord as in vers 4 vir bid gebruik. Daar – smeking, hier gebed in meer algemene sin. Dit gaan hier om voortdurende gebed. Fokus is nie op die kwaliteit van die gebed nie, maar op die voortdurende aktiwiteit om te bid en die feitelike inhoud van die gebed. Paulus soek die aangesig van God vir die nood van die heiliges in Filippi.

Waarom ag hy die voortdurende gebed noodsaaklik? Daar is remmende faktore wat die goeie werk van God teenhou. Die liefde wat Paulus, by sy lesers waargeneem het, word belemmer. Daar is selfsug en ydelheid, 2:3, sommige lede streef eie belang na, 2:4, daar is selfs onderlinge verdeeldheid,4:2. Die Apostel bid nou spesifiek om die vrugte van die liefde. In kennis en fyngevoeligheid (AV alle ervaring) kom die liefde tot rypheid, 1:9. Daardeur leer die gelowiges om goed te onderskei, 1:10. Dit bevorder die suiwerheid van die gelowiges teen die dag van Christus, 1:10. Wanneer die liefde die verfynde vrugte oplewer, kom hulle tot volkome bloei en rypheid voor God, 1:11. Paulus bid dus dat die liefde steeds verder sal ontvou en nie ineenkrimp deur selfsug en onderlinge twis nie.

Die apostel bid hiervoor omdat hy weet dat alleen God dit kan gee. Paulus se liefde vir die Filippense kom uit in die apostel se gebed. Dit is ‘n vrug van sy liefde. So vra hy dat ook die liefde by die lede van die kerk in Filippi sal toeneem in die dra van vrugte. Daar is by die lesers liefde maar die liefde moet meer en meer oorvloedig word.9,10. Hulle godsvrug moet bevorder word en geestelike groei is noodsaaklik. Die liefde waarvoor hy bid is ‘n gawe van die Gees, Rom 5:5. Dit is in die eerste plek liefde tot Christus maar ook liefde vir die apostel en onderlinge liefde. Dit moet steeds meer oorvloedig word. Hulle het die volmaaktheid nog nie bereik nie, 3:12-15. Paulus bid dat hulle liefde sowel in omvang as diepte en kwaliteit sal toeneem.

Hierdie liefde moet in kennis en ervaring of gevoel tot uiting kom. Kennis is hier geloofskennis. Liefde lei tot bekendheid met iemand. So lei die liefde vir God en die heiliges tot ‘n toenemende kennis of bekendheid met God en die broederskap. By die kennis voeg Paulus die fyngevoeligheid of sensitiwiteit. ‘n Gevoelvolle waarneem van die persone met wie ons omgaan en van die dinge wat rondom ons gebeur. Dit gaan daaroor om mense en dinge goed en verantwoordelik te kan aanvoel en inskat. Die liefde, skryf Paulus aan die Filippense, gaan gepaard met oorvloedig word in kennis en ervaring, (dit is van Christus en mekaar) om te kan onderskei waar dit op aankom, sodat hulle rein en vir niemand ‘n aanstoot sal wees nie.

Hoe is dit moontlik? Petrus herinner ons in sy eerste brief dat die Heilige Gees reinig ons tot ware broederliefde, (dit is die liefde van die broers en susters in die gemeente) en omdat ons uit God gebore uit die onverganklike lewende woord van God is, …1Pet 1:22,23  As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;  want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

Petrus skryf in sy eerste brief die gelowiges moet mekaar vurig liefhê. Dit beteken met die inset van die hele persoon. Inspannend, volhardend. Dit is liefhê ten spyte van alles. Onopregte nagebootste broederliefde is vanuit selfsugtige bybedoelings. Nee daar moet soos met die heilige lewenswandel gejaag word na die broederliefde. Die broederliefde is nog weer iets anders as die naasteliefde. Gal 6:10 : Paulus: aan almal moet goed gedoen word (= naasteliefde), maar die meeste aan die huisgenote van die geloof (=broederliefde, die liefde van broers en susters in die gemeente). Petrus noem die gelowiges ‘n broederskap(1 Pet. 2:17, 5:9). Broers en susters in Christus. Broederliefde kom nie van geboorte nie, maar van wedergeboorte deur die Woord van God wat tot in ewigheid bly. 1 Pet 1:3: God het ons die wedergeboorte geskenk tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode. Ons Meester en Heiland het vir die broederliefde sy Vader gebid, Joh. 17:20,21: Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo— dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Paulus bid God nou om die liefde vir God en mekaar. Die liefde in kennis en fyn aanvoeling van Paulus se bede vir die Filippense, 9, lei tot skerp sien, 10, onderskeiding van wat van belang is, vir ‘n liefdevolle verhouding met God en die naaste. Die woord wat gebruik word vir onderskei, is uitmekaar dra. Gaan om dinge wat onderling verskil, uiteenloop, afwyk.

Dit gaan om geestelike volwassenheid, onderskeiding tussen goed en kwaad, belangrike en minder belangrike dinge, dit wat vir God welgevallig en dit wat nutteloos is. God het nie aan die Filipense vir elke situasie ‘n konkrete gebod gegee nie. Die gelowiges moet leer om in verskillende situasies self vas te stel wat God se wil is. Hulle moet keuses maak wat God welgevallig is. Die liefde moet by die vastel van die regte keuse die bepalende faktor wees. Maar die liefde moet aangestuur word, in die liefde moet helder insig en fyngevoeligheid wees. Goeie oordeelsvermoë voor God. As positiewe gevolg van hierdie liefde met sy onderskeidingsvermoë sal die gelowiges in Filippi rein en onberispelik wees met die oog op die dag van Christus se wederkoms, 10.

Soos in vers 6 rig Paulus hom weer op die wederkoms van Christus. Die gelowiges in Filippi moet voldoen aan die eise wat die groot dag van Jesus Christus stel. Dit sal die dag van die oordeel wees, die dag van die groot toets van gesindheid en wandel, van hart en lewe, Matt 25:31-46. Met die oog op hierdie dag moet die gelowiges rein wees – letterlik in die sonlig goedgekeur, en onberispelik wees – letterlik sonder aanstoot. Rein wys op innerlike suiwerheid, onberispelik wys op uiterlike optrede. So ‘n lewenswandel moet hulle lewens nou reeds stempel. Broers en susters, jongmense, kinders, hiervoor bid ons vir onsself en ons gemeente, dat die Here die gesindheid van die broederliefde in ons werk. Hierop moet ons ons biddend, met inspanning toelê.

3. Ons verheerlik God vir sy kerk

In 11 sluit Paulus sy gebed deur te verduidelik waarop dit moet uitloop: die toenemende groei van die gemeente in liefde, 9, in die vrugte van kennis en ervaring, 9, met die beoogde doel, 10. Ons kan dink aan ‘n vrugteboom wat in bloei staan.

Die gemeente sal so vervul wees met die vrugte van geregtigheid. Vrugte dus wat bestaan uit geregtigheid, ‘n regverdige lewenswandel. Dit is dieselfde vrug van geregtigheid as by Jakobus, 3:18, en in Efesiers, 5:9. Dit is die vrug van die Gees, Gal 5:22.

Met geregtigheid word bedoel die geregtigheid uit die geloof, want Paulus is duidelik – die vrug van geregtigheid is die vrug wat deur Jesus Christus kom. Deur Christus verkry en in geloof ontvang, maak dit die gelowige regverdig optree, dade van geregtigheid doen. Dit veronderstel dus ‘n godvrugtige lewenswandel. Vervul met die vrugte beteken daar kan ‘n ryk opbrengs verwag word.

Paulus se voorbidding sluit daarmee dat hy God eer en lof bring, erkenning en dank.

Wanneer die gebed verhoor word en die gelowiges in liefde toeneem en so deur insig en fyngevoeligheid geestelik groei en in hulle dade die vrug van geregtigheid voortbring, weerkaats hulle daarin die heerlikheid van God en bring hulle God lof toe, want dit is alles sy werk,6.

En die volle oes sal op die dag van Christus se wederkoms skitter.

Gemeente, Let op hoe julle van en oor die kerk praat. Ons eie gemeente en kerkverband. Maar ook kerke met wie ons in gesprek oor eenheid is. En lede van kerke wat afwyk of waar die rykdom van die evangelie verhinder word met wie ons kontak het. En hoe praat ons met en voor ons kinders oor die kerk?

Praat en dink oor die kerk op die styl van Paulus, in voorbeeld van die styl van Jesus Christus. Dank vir die rykdom wat ons van Christus en sy liefde het. En vir die genade wat ons deel is in die kerklike lewe in erediens en katkisasie, op huisbesoek en ander werk. Bid volhardend in verwagting van die werk van Christus. En verheerlik God vir sy werk vir sy kerk.

Van Paulus leer ons om op die regte wyse na die kerk te kyk, daarvoor te bid en ons verwagting in God te stel wat die werk begin het, voortgesit het en sal voltooi op die dag van Christus. Daarom mag ons nie moedeloos word met wat ons met die blote oog sien nie. Volhard in die gebed.

Laat ons God dank vir die goeie werk wat hy begin het en wat Hy sal voltooi, juis in die lewens van swak mense, en laat ons gedurig bid dat ons gemeente mag toeneem in liefde, dit is in kennis en fyngevoeligheid om die waarop dit aankom te onderskei.

Amen

 

Liturgie: 

Nog nie beskikbar nie