Die HERE verras Barak met sy uitredding

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-01-20
Teks: 
Rigters 4:23
Preek Inhoud: 

Barak word in Hebreërs 11 gelys as een van die sogenaamde geloofshelde.

‘n Geloofsheld moet egter nie verstaan word in terme van wat die wêreld as ‘n held beskou nie.  Die Bybel skrik nie daarvoor terug om die swakhede en sondes van sogenaamde geloofshelde te beskryf nie.  Dink aan mense soos Dawid, of Juda, of Petrus.  Met Barak was dit nie anders nie.

 

Verlede jaar het ons aandag geskenk aan die eerste Rigters: Otniël, Ehud en Samgar.

Vandag gaan ons verder, spesifiek kyk ons na Barak.  Ook na Debora, hoewel ons in ‘n volgende preek meer aandag aan haar gaan skenk.

 

Miskien sal u dit soms as vervelig ervaar, omdat die Rigterboek elke keer in wese dieselfde verhaal vertel, elke keer net met ‘n ander naam.  Hoe God se volk afvallig geword het, hoe hulle in hul nood tot Hom geroep het.  Hoe God ‘n rigter verwek het.  Maar telkens blyk ook dat die rigter self nie ‘n held was nie.  In alle eerlikheid word die rigters en hulle gebreke beskryf.  Die Bybel is nie ‘n heldeboek nie.

 

Tema: Die HERE verras Barak met sy uitredding

1        Barak en sy manskappe is traag om in aksie te kom

2        Barak en sy manskappe hoef net die oorwinning te voltooi wat die HERE gegee het

 

1        Barak en sy manskappe is traag om in aksie te kom

Barak se naam is wel belowend.  In Hebreeus beteken dit weerlig.  Maar eintlik is dit nie ‘n goeie beskrywing van sy karakter, soos ons hom in hierdie hoofstuk leer ken nie.  Dit is wel ‘n goeie beskrywing vir wat die HERE van plan was om deur hom te doen, soos ons in hierdie preek gaan sien.

 

Israel se situasie in Barak se leeftyd was benard.  God se verbondvolk het al hoe meer afvallig geraak, al hoe meer versplinter, al hoe meer kwetsbaar.  Daarenteen was daar Jabin, die koning van Kanaän, wat al hoe sterker geword het.  Hy het in die stad Hasor geregeer, gelë so vyftien kilometer noord van die meer van Galilea.  In daardie tyd was dit die magtigste stad in noord-Kanaän.  Dit was alles nie toevallig nie.  Die Skrif maak naamlik duidelik dat dit die HERE was wat sy eie volk verkoop het in die hand van Jabin, omdat hulle alweer gedoen het wat verkeerd was in sy oë.

 

Jabin was waarskynlik ‘n koninklike titel, vergelykbaar met hoe alle konings in Egipte Farao’s genoem is.  In Josua 11 kan ons lees hoe Josua honderd jaar eerder ook ‘n Jabin van Hasor verslaan het.  Dit moet dus nie verwar word met hierdie Jabin waarteen Barak in hierdie hoofstuk te staan gaan kom nie.  Dit gaan oor twee aparte persone, wat albei die koninklike titel Jabin gedra het.

 

Sedert die nederlaag onder Josua, het die stad Hasor dus weer herstel, en in Barak se tyd het Jabin die hele noordelike deel van Kanaän gedomineer.  Jabin se politieke oorwig het hy veral te danke gehad aan sy generaal Sisera, wat 900 yster strydwaens gehad het.  Jabin en Sisera se dominansie het die noordelike en suidelike stamme van die volk van mekaar geïsoleer, en stadig maar seker die stamme al hoe meer in die nou gebring.  Sisera was onoorwinlik.  Vir twintig jaar is Israel nie net verdruk nie, maar swaar verdruk, staan daar.  En desperaat het hulle op die ou end geen ander opsie meer gehad as om in benoudheid die HERE aan te roep nie.

 

In hierdie hoofstuk word mooi beskryf hoe die HERE toe ‘n uitredder vir hulle verwek het.  Hy het daarvoor Debora gebruik, ‘n profetes wat in daardie tyd Israel gerig het.

Ons sal in ‘n later preek weer by Debora terugkom.  Dit was sy wat Barak opgeroep het om verantwoordelikheid te neem en iets te doen aan die haglike situasie.

 

Soos genoem, Barak se naam, wat weerlig beteken, was eintlik baie gepas vir ‘n aanvoerder in die Kanaänitiese konteks.  Die afgodsdiens van die Kanaäniete het naamlik Baäl vereer as die een wat die onweer en weerlig in sy hand vasgehou het.  Tog het Barak self sy naam nie gestand gedoen nie.  Hy het daarvoor Goddelike hulp benodig, iets wat Debora beloof het hy op kon reken.  Barak is opgeroep uit Kedes in Naftali, geleë so ongeveer 25 kilometers noord van die meer van Galilea, dus uit die buurt van die sterk vyandelike stad Hasor.

 

Barak was in daardie area waarskynlik al ‘n soort leiersfiguur, al het hyself nie veel inisiatief geneem nie.  Dit was Debora wat hom agter die broek moes aansit, en oproep om sy manne – tienduisend man uit Naftali en Sebulon – te versamel.  Tienduisend man klink indrukwekkend.  Maar in feite was dit ‘n klomp amateurs, met geen gevegservaring nie.  Teen Sisera se professionele weermag van 900 yster strydwaens was hulle nie opgewasse nie.  Barak het dit self goed besef, en dit was waarskynlik die rede hoekom hy so inaktief was.  Die Israeliete se omstandighede het egter al hoe desperater geword.  Sodanig, dat hierdie keer Debora dit nie langer kon aansien nie.  Dit was sy wat die inisiatief geneem het.  Dit was sy wat op hom ingepraat het.  Dit is sy wat selfs vir hom  ‘n gevegsplan uitgewerk het.

 

Barak moes met sy manskappe bymekaar kom by die berg Tabor.  Vanaf daardie berg, geleë in die Ooste, kon hulle goed die vyand oor die vlakte sien nader kom, soos hulle die rivierloop van die Kison opwaarts gevolg het.  Maar steeds, sy tienduisend voetsoldate het eintlik nie ‘n kans gehad teen Sisera se ysterwaens nie.  Meer was nodig as net ‘n militêre strategie.  Om eerlik te wees, as hulle enigsins ‘n kans wou staan, was ‘n wonder nodig!  Gelukkig het Debora hom meer as net ‘n strategie gegee.

Sy het vir hom ook ‘n Goddelike belofte gegee.  Sy het Barak verseker, dat as hy sou doen wat God hom opdra, naamlik om sy manskappe by die berg Tabor te versamel, dat God Sisera en sy magte hulle by die spruit Kison in hulle hand sou gee.

 

Dit bring ons by die tweede punt:

 

(Tema: Die HERE verras Barak met sy uitredding

Barak en sy manskappe is traag om in aksie te kom)

 

2        Barak en sy manskappe hoef net die oorwinning te voltooi wat die HERE gegee het

Nou was die Kison nie ‘n groot rivier nie, eintlik net ‘n spruit.  Dit was nou nie die plek waar mens ‘n wonder sou verwag, vergelykbaar met die wonders van die Rooisee of die Jordaanrivier nie.  Dit was maar ‘n vlak spruitjie.  Tog is dit die belofte wat Barak van Debora ontvang.  Gaan daarheen, en God sal jou die oorwinning gee.  Was Barak se geloof groot genoeg om daarop te vertrou?  Eintlik het Barak nie meer ‘n keuse gehad nie.  Dit was sy laaste opsie.  Eintlik het die HERE hom deur die omstandighede in hierdie rigting in gedruk.  ‘n Geloofsheld was Barak beslis nie.  Soos ons later sal sien, hy het geen oorwinning behaal nie, maar hy het ‘n oorwinning ontvang!

 

Barak se swak vertroue sien mens in sy besluitelose antwoord op Debora se oproep.  Vers 8: “As u met my saamtrek, sal ek gaan ; maar as u nie met my saamtrek nie, gaan ek nie.”  Dis nie ‘n nee nie, dis ook nie ‘n ja nie.  In ander woorde, hy neem geen verantwoordelikheid nie.  Debora moet maar uitmaak wat daar gaan gebeur.  Dis toe wat ook gebeur het.  Debora het Barak vergesel na die slagveld en dit was sy wat uiteindelik die bevel tot aanval gegee het (vers 14).  ‘n Slappeling, dis wat Barak was.

Debora het ook nie doekies omgedraai nie.  As dit jou houding is, moenie dink jy gaan die glorie vir die oorwinning behaal nie.  Die HERE sal Sisera in die hand van ‘n vrou verkoop (vers 9).  Debora se woorde was profeties, soos ons aan die einde van die hoofstuk sal sien.

 

So het dit dus gebeur dat Barak, saam met sy tienduisend manskappe, vanaf die berg Tabor tot die aanval oorgegaan het.  Uit militêre oogpunt sou dit dalk beter gewees het om op die berg te bly.  Want onder in die vlakte het hulle min kans gehad teen Sisera se strydwaens.  Maar gestriem deur Debora se woorde, het Barak gehoor gegee.

 

En dan, toe Barak uiteindelik luister, dan gebeur daar iets wat onverklaarbaar is, tensy dit van die HERE gekom het.  Soos ons in vers 15 lees, dat die HERE het Sisera met al die waens en die hele leër in verwarring gebring het.  Al wat Barak se manne hoef te gedoen het, was om die vyand, wat alreeds op die vlug geslaan het, te agtervolg en hulle van kant te maak met hulle swaarde.  Hulle is teruggejaag tot hulle basis by Haroset, hulle is met die skerpte van die swaard verslaan, nie een het oorgebly nie (vers 16).

 

Nou gemeente, wat presies hier gebeur het, word duideliker as ons ook kyk na wat daar oor hierdie beslissende veldslag staan in Debora en Barak se lofsang, Rigters 5.  Daaruit word naamlik duidelik dat die HERE nog meer strydkragte gehad het as daardie 10 000 man van Barak.  Ja die hele skepping het vir Hom gestry!  Die waters van Megiddo.  Selfs die sterre.  En ook die spruit Kison (5:19-21).  So wat eintlik gebeur het, gemeente, was dat toe Sisera met sy magtige leër van 900 ysterwaens sy opmars begin het in oostelike rigting oor die vlakte van Jisreël, en die loop van die spruit Kison gevolg het rigting die Berg Tabor, waar Barak en sy manskappe geleër was.  Koning Jabin se bondgenoot, Heber, het hom ingelig, getip, dat Barak besig was om ‘n leër by die berg Tabor te versamel.  Maar in werklikheid, soos vers 7 sê, het die HERE Sisera daarheen gelok.  En die HERE het geweet wat Hy doen!  Want, wat toe gebeur het, toe hulle nader gekom het, het die lug skielik donker geword het.  Skielik het pikswart wolke saamgepak.  In vers 15 staan dat die HERE Sisera, sy hele leër en al sy waens in verwarring gebring het.  Die woord wat daar gebruik word, word elders in die Bybel ook gebruik, telkens as die HERE natuurkragte gebruik om die vyande te verwar.  Soos byvoorbeeld in Psalm 18:15: “Hy het sy pyle uitgestuur en hulle verstrooi; ja, sy bliksems in menigte, en Hy het hulle verwar.”

 

Dus voor die vyand besef wat aangaan, het ‘n storm het uitgebreek en soos ‘n waterbom al sy reën in een keer uitgestort.  Dis uitgestort nie noodwendig oor Sisera en sy strydwaens nie, maar wel oor die opvangsgebied van die spruit Kison.  En toe, skielik, het daardie vlak spruitjie ‘n bulderende rivier geword.  Droë rivierlope het in ‘n ommesien verander in dongas, of soos hulle in Israel dit noem: wadis, vol kolkende watermassas.  Vir die van u wat dit kan onthou, mens kan dit bietjie vergelyk met toe daar in kort tyd oorweldigend baie reën in die Buffelsrivier se opvangsgebied geval het, die rivier wat deur Laingsburg stroom.  In ‘n halwe dag se tyd het die normaalweg droë rivierloop in ‘n verwoestende stroom verander.  Dit is dus wat met die spruit Kison gebeur het, nadat die inkswart wolke hulle reën uitgestort het.  Dus, toe Barak en sy manne by die rivierbanke van die Kison aankom, was die vyand eintlik alreeds verslaan.  Want in ‘n oogwink het die HERE die hele vlakte in ‘n modderpoel verander.  Sisera en sy soldate het al hulle konklusie getrek: hierdie geveg gaan ons nie kan wen nie.  Die swaar ysterwaens sal in die modder vasval.  En dus het hulle net daar en dan omgedraai.  Al wat Barak te sien gekry het, was die vyand wat alreeds hulle rug op hom gedraai het.

 

Wat ‘n sameloop van omstandighede!  En nou is dit so dat mense altyd sal probeer om dinge logies te verklaar.  Dit was ‘n fratsstorm.  Barak was net baie gelukkig.  Maar hoe blind kan mense wees?  Hoe was dit moontlik dat daardie fratsstorm juis op daardie dag sy water op daardie plek kom uitgiet het?  Hoe was dit moontlik dat dit op dieselfde dag gebeur het as die dag waarop Debora beloof het dat die HERE vóór Barak en sy manne sal uitgaan om Sisera in hulle hand te gee?  Nee, dit was nie toevallig nie.  Dit was die hand van God wat letterlik hemel en aarde in beweging gebring het om hulle te red!  As so iets gebeur, is die enigste regte ding om te doen om eerlik en nederig te erken dat God hier gestry het, en om dit ook aan ander te bely, soos in Debora se lied, vers 3: “Hoor, o konings! Luister, o vorste!”  Op daardie dag, soos ons teks skryf, het Hy het die oorwinning gegee, nie ‘n mens nie.

 

Dit bring ons weer terug by Debora en Barak.

Want die res van die hoofstuk vertel dat ook die tweede profesie van Debora uitgekom het.  Naamlik wie Sisera uiteindelik verslaan het.  Sisera was nie dom nie.  Hy het gesien dat sy kanse verby was, en hy en sy manskappe het geretireer.  Hy’t ook goed besef dat hy, synde die generaal, natuurlik die hoofprys vir die vyand was.  Daarom het hy ongemerk van sy wa afgeklim om te voet te vlug.  En geslepe wat hy was, hy het nie in dieselfde rigting as die res gevlug nie.  Waar sy manskappe ‘n lyn getrek het in westelike rigting terug na hulle basis in Haroset, het Sisera juis oos gedraai.  En hy het gaan skuilik soek by Jael, die vrou van Heber, die Keniet.

 

Om te verstaan hoekom juis hier, is bietjie agtergrond nodig.  Die Keniete was afstammelinge van Moses se skoonpa Jetro.  Hulle het, soos ons in Rigters 1 kan lees, uiteindelik gaan woon in die gebied van die stam Juda.  Heber het egter met sy stam van hulle afgesplits en gaan woon in die noorde, op die grens van Naftali se grondgebied.  Heber het daar ‘n bondgenoot geword van Jabin en Sisera, teen die Israeliete.  Met dit in gedagte, maak dit dus sin dat Sisera na Heber se tente uitgewyk het om daar te skuil.  Dit blyk toe egter dat Heber self nie tuis was nie.  Maar sy vrou Jael het hom soos ‘n koning onthaal.  Altans, totdat hy aan die slaap was.

 

Die geskiedenis wat toe gevolg het, ken ons.  Hoe Jael, terwyl Sisera van uitputting in ‘n diep slaap geval het, ‘n tentpent deur sy slape gekap het.  Wat egter vrae oproep, is kom Jael so ‘n ding gedoen het?  Veral as mens besef dat Sisera eintlik haar en haar man se bondgenoot was!  Dit is moontlik dat Jael opportunisites was.  Dat sy goed besef het Sisera het die stryd verloor, dat dit gedaan was met sy kanse.  Sy het toe maar die kant oorwinnaar gekies.  Maar agter dit alles sien ons die soewereine hand van God, wat sorg dat Debora se profesie in vervulling gaan.  Vir Sisera is dit ‘n skande dat hy nie op die slagveld sterf nie, maar dat ‘n vrou hom in sy slaap om die lewe bring.  Maar ook vir Barak is dit ‘n skande.  Want dis nie hy wat die generaal van die vyand verslaan nie, maar ‘n vrou, net soos Debora voorspel het.

 

As Barak enigsins ‘n held in hierdie geskiedenis is, dan wel ‘n held wat sy kop in skaamte moet laat sak.  Hy het die stryd gewen, maar dit was nie deur sy toedoen nie.  Dit is die HERE wat die stryd beslis het.  En uiteindelik was hy, Barak, ‘n slappeling.  ‘n Vrou, Debora, moes hom as’t ware aan sy nekvel na die slagveld trek.  En ‘n ander vrou, Jael, het sy vyand om die lewe gebring.  En die HERE self het sy skepping, wolke wind en riviere, gemobiliseer, om die oorwinning te bereik!  Dit is dan ook die konklusie wat die Rigterskrywer trek, vers 23: “So het God dan op die dag Jabin, die koning van Kanaän, voor die kinders van Israel onderwerp.”  Wat ‘n pragtige konklusie.  Wat ‘n hoopgewende gevolgtrekking!  Die HERE het aan sy verbond gedink.  Die volk mog opnuut besef: ons God is nog steeds dieselfde God as die Een wat lank gelede die Rooisee gesplyt het, en die Jordaan laat stilstaan het!  Weer het Hy ‘n oorwinning gegee.  Hy het Barak gebruik, maar dis nie Barak wat die stryd besleg het nie.

 

Was Barak ‘n geloofsheld?  Ja, hy was.  So lees ons ook oor hom in Hebreërs 11, waar die Hebreërskrywer sê: “En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.”(vers 32v)  Hierdie laaste was veral van toepassing op Barak: hy het leërs van vreemdes op die vlug gedryf.  Hyself?  Nouja, u ken nou die geskiedenis.  Hy en sy manskappe mog inderdaad die vyand agtervolg en met die skerpte van die swaard verslaan.  Maar eintlik was dit die HERE se wolkbreuk wat die vyand geknak het.  En het Barak Sisera verslaan?  Nouja, eintlik het ‘n vrou dit gedoen.

 

Maar het Barak ‘n sterk geloof gehad?  Nee, eintlik nie.  Hy herinner ons aan wat ons in die Kategismus bely:  Dis nie dat ek op grond van die waarde van my geloof voor God aanneemlik is nie.  Uit die geskiedenis het ons gesien hoe Barak eintlik ‘n swak figuur was.  Hoe sy geloofsvertroue op en neer gegaan het.  En dat op daardie beslissende oomblik die HERE dit so gestuur het dat hy in ‘n hoek gedryf is.  Dat hy geen ander keuse gehad het nie as om sy vertroue op God te stel.  ‘n Vertroue wat die HERE toe nie beskaam het nie.

 

En gemeente, is dit nie waar vir elkeen van ons nie?  ‘n Rotsvaste geloof, uiteindelik is dit iets wat die HERE self in ons lewens werk.  Deur die omstandighede waarin Hy ons bring, vreugde maar ook verdriet, uitdagings, moeite.  Soms plaas Hy ons voor keuse.  Dikwels, as ons te swak is om te kies, druk Hy ons in die rigting van die regte keuse.

 

Die uitredding was nie Barak se werk nie.  Sy oorwinning was ‘n gawe aan hom, nie ‘n prestasie van hom nie.  Dis die water wat hulle gered het, daardie onverwagte donderstorm.  Net soos by die Skelfsee, net soos aan die oewer van die Jordaan, is dit weer die water wat hulle red.  Nie die water as sulks nie, maar daarmee het die HERE die vyand in verwarring gebring.  ‘n Veilige afstand geskep tussen sy kinders en die vyand.  Gunstige omstandighede vir sy volk.

 

In die Doopsformulier (wat ons eerder in hierdie diens gelees het) word die doopwater vergelyk met die water van die Rooisee.  Ook die doopwater is reddende water.  Daardeur is Robin vandag ingelyf in God se volk, ‘n plek waar sy veilig sal wees teen die satan en die ander doodsvyande.  Wat ‘n voorreg, wat ‘n genade, om aan hierdie God te mag behoort!  Barak was ‘n rigter wat uit genade moes lewe, en wat inderdaad baie genade ervaar het.  Soos in die inleiding genoem, dalk ervaar u dit vervelig dat die Rigterboek elke keer eintlik dieselfde verhaal vertel.  Maar tog staan dit daar vir u lering.  Tog is so ‘n serie uit Rigters daarom noodsaaklik.  Om elkeen van ons van ons selfvertroue te stroop.  Ons neiging om op mense te vertrou.  Ons neiging om elke keer weer ‘n rolmodel te wil hê, ‘n gunsteling persoon.  Pleks van om op te kyk.  Barak se swak leierskapstyl was ‘n skrynende roep vir ‘n ware Rigter, ‘n egte Uitredder.  En trou aan sy verbond het God Hom ook gestuur, ons Here Jesus Christus!

 

Tog mag ons nog steeds leer uit Barak se voorbeeld.  In die uur van nood, toe alle ander steunpilare weggeval het, het hy sy vertrou op sy God gestel.  En die vertroue het God nie beskaam nie.  Maar nog veel meer kan ons leer as ons opkyk na ons Here Christus.  Van die begin tot die einde van sy lewe op aarde het Hy sy vertroue op sy hemelse Vader gestel.  In alle omstandighede.  Selfs toe sy Vader Hom, ter wille van ons, vir ‘n tyd lank in die steek gelaat het.  Uiteindelik is sy vertroue nie beskaam nie.  Wat ‘n voorreg om te lewe in die dae van hierdie Rigter. Want dis Hy wat rig, dis Hy wat regspeek, vanaf die Vader se regterhand in die hemel.  En ons sien met verlange uit na die dag van oordeel, as hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, en ons en almal wat op sy Naam vertrou het, met heerlikheid sal bekroon.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 18:5,6

Wet

Sb 26:1,2

Gebed

Skriflesing: Rigters 4

Ps 18:7,8

Teks: Rigters 4:23

Woordverkondiging

Ps 68:4,5

Gebed

Kollekte

Ps 68:9

Seën