Christus, wat die Waarheid self is, leer ons om Hom lief te hê

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-03-10
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 43
Preek Inhoud: 

Die negende gebod is een van die eerste gebooie waarmee ‘n opgroeiende kind te make kry.  Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

Of soos ‘n ma haar kind sal leer:

Jy mag nie jok nie.

Jy mag nie ‘n leuen vertel vir jou pa of ma, boetie of sussie, of vir die juffrou, vir niemand nie.

In die Bybel word die duiwel die vader van die leuen genoem.  In die paradys het hy al teen Eva begin lieg.  Hy het gesê dat dit haar sou goed doen as sy van die verbode boom sou eet.  Terwyl God presies die omgekeerde gesê het.  Jy sal sterf as jy van daardie boom eet.  Helaas het Eva haar wel deur die duiwel laat ompraat.  Lieg en bedrieg is egte duiwelswerk.  Die Here wil nie dat ons lieg en bedrieg nie.

 

Die rede hoekom mense dikwels lieg, is omdat hulle dink dat dit hulle uit ‘n moeilike situasie sal uitred.  Of omdat hulle hulleself beter wil voordoen.  Daarom vertel ons dinge wat nie waar is nie, of wat net halfpad waar is.  Uiteindelik gaan dit ten koste van ons naaste om ons heen.  Dit kan ook gebeur dat ons iets vertel wat wel waar is op ‘n manier, maar kwetsend om dit van ‘n ander te hoor.  Dan kwets ons iemand met die waarheid, of meestal met ‘n deel van die waarheid.

 

Dit is dikwels by die negende gebod wat ouers die eerste keer agterkom dat hulle kind ook in sonde ontvang en gebore is.  Dit is vir elke ouer ‘n groot skok as hy die eerste keer agterkom dat sy kind ook in staat is om ‘n leuen te vertel.

 

Vanaand fokus ons op hierdie gebod wat die Here ons gegee het.  Hy het dit aan ons gegee met die doel dat ons mekaar sal liefhê.  En dit is slegs moontlik as ons Hom liefhet.

 

Tema: Christus, wat die Waarheid self is, leer ons om Hom lief te hê

 

Om te kan praat is op sig al ‘n wonder.  Vra maar vir ‘n spraakterapeut hoe ingewikkeld spraak eintlik is.  Hoe woorde gevorm word met ‘n mens se stembande, strottehoof, tong, verhemelte, ensovoorts.  Iets wat so vanselfsprekend is en wat vir ons so gewoon is, bly tog ‘n wonder.  Dit is ook ‘n wonder hoe elkeen van ons leer praat het.

‘n Kind neem outomaties, amper spelenderwys, die taal van sy ouers oor.  Hoe dit moontlik is bly vir ‘n groot deel nog ‘n raaisel.  Veral as mens dit vergelyk met hoe moeilik dit vir volwassenes is om ‘n nuwe taal te leer.  Ons het hier dus met ‘n groot skeppingsgawe van God te make.  Daardeur het God dit moontlik gemaak dat ‘n kind vir sy ma kan sê: mamma.  Dat ‘n seun vir sy meisie kan sê: jy is so mooi.

Dat ‘n man vir sy vrou kan sê: ek hou so baie van jou.

Dat ‘n ouma vir haar kleinkind kan sê: kom sit bietjie op my skoot.

Danksy die feit dat ons kan praat is die lewe net soveel mooier.  Dit is ‘n besondere gawe, wat die Skepper ons gegee het.  Toe Hy alles geskape het, het Hy gesien dat dit baie goed was.  Om te kan praat hoort ook by dit wat baie goed is in die skepping.  Wat kan woorde nie teweegbring nie!  Iemand se woorde is eintlik sy kragtigste wapen.

 

Met hierdie magtige skeppingsgawe mag ons God en ons naaste dien.  En noudat ons besig is met die tweede tafel van die wet, let ons veral op die verhouding tot ons naaste.  Ons dien ons naaste die beste deur die waarheid te praat.  Waarheid gee wedersydse vertroue.  Waarheid stig gemeenskap.  Waarheid skenk ruimte om te lewe.  Die waarheid werk bevrydend.

Maar helaas voer die waarheid nie altyd meer die botoon sedert die sondeval nie.  Toe het die leuen sy intrede gedoen.  Sedertdien kan ‘n mens se hart nie meer vertrou word nie.  Pleks van diens aan God en ons naaste het dit plek gemaak vir diens aan onsself.

 

Om in God se verbond te wees, is ‘n groot voorreg, maar dit is nog nie sinoniem aan vry wees nie.  Dit het Jesus vir die Jode van sy dae geleer.

Hulle het kapsie gemaak teen Jesus se opmerking dat hulle nog bevry moes word deur die waarheid.  Hulle was mos nageslag van Abraham en niemand se slawe nie.  Inderdaad, maar steeds was hulle nog slaaf van die vader van die leuen, die duiwel.  Jesus noem die duiwel selfs hulle vader.  Dit is ‘n baie konfronterende opmerking.  Die Jode, verbondskinders, en dan die duiwel as vader?  Is dit nie laster nie?  Gemeente, Jesus praat hier nie sleg oor die Jode nie.  Hy praat met die Jode.  Hy praat nie oor koeitjies en kalfies nie.  Hy is in ‘n intense debat met hulle gewikkel.  Hy stry vir hulle behoud.  Hy sê vir hulle die waarheid, Hy probeer hulle oë oopmaak.  Maar helaas het hulle hul verhard.  Van hulle kant hoor ons wel laster:

Sê ons nie met reg dat U ‘n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie? (vers 48)

 

Laat hierdie debat tussen Jesus en die Jode vir ons ‘n leerskool wees.  Om in die verbond opgeneem te wees, om gedoop te wees en lid van die kerk, beteken nie outomaties dat ons salig sal word nie.  Die ou mens moet gekruisig word, daardie mens wat die duiwel as vader het.  Ons voorliefde om te skinder, om sleg te praat oor ander, om al te maklik ‘n leuentjie te vertel.  Dit moet end kry in ons lewens.  En ons nuwe mens moet opstaan.  Ons moet oortuig raak en gemotiveerd raak om die waarheid bo alles te soek, om in alles eerlik te bly, om ons naaste se goeie naam na te streef.  Elke naaste, nie net selektief nie.

 

En om dit reg te kry, om die negende gebod na letter en gees na te kom, is daar bekering nodig.  Bekering beteken dat ons na Christus ons toekeer.  Dat Hy ons lewe bepaal.  As Christus regeer in jou lewe, dan kom die res reg.  Dan sal jy ook ‘n liefde ontwikkel vir hierdie gebod.  Dan sal eerlikheid in jou lewe begin blom, as ‘n vrug van die Gees.

 

Hierdie negende gebod staan dus ook in die konteks van die dankbaarheid vir die verlossing wat ons van Christus ontvang het.  Danksy die werking van Christus se Gees verander ons lewe.  Die selfgesentreerde houding word ‘n houding van diensbaarheid teenoor God en die naaste.  Christus het die mag van die leuen gebreek.  Ons is nou bevry van die leuen en van die vader van die leuen.  Tog laat God in die nuwe lewe van ‘n gelowige die waarskuwingsbord van die negende gebod staan.  Hierdie bord markeer die grense van die goeie lewe.  As jy hierdie grens oorskry, dan bly die nuwe lewe nie meer goed nie.  Hierdie waarskuwingsbord trek ‘n duidelike grens.

Teen niemand mag ek valse getuienis aflê nie.  Selfs nie as iemand my lelik behandel het nie.  Die Here Jesus sê in die Bergrede (Matth 5:44) dat ons selfs hulle wat ons vervloek moet seën.

 

Die antwoord van die Kategismus begin as ‘t ware in die regsaal.  Dit is by uitstek die plek waar die waarheid beskerm moet word.  Daar waar mense letterlik jare lank die gevolge gaan ervaar van die getuienis van ‘n ander.

Word iemand naamlik veroordeel weens ‘n misdaad, kom hy vir jare in die tronk.  Hier kom dit veral op die waarheid aan.  Ons het vandag tegnieke soos DNA toetse en vingerafdrukke, waardeur iemand se getuienis getoets kan word.  Tog het dit allermins die noodsaak om die waarheid te praat oorbodig gemaak.  Die regter bly steeds afhanklik van die getuienisse wat gegee word.

As die regter ‘n eerlike vonnis wil oplê, dan is hy heeltemal afhanklik van hierdie gebod.

As mense hierdie gebod nie ernstig neem nie, kan die regter niks begin nie.

 

Nou of jy in die regsaal die waarheid gaan praat, hang af van of jy dit in die alledaagse lewe ook doen.  As jy in die klein dingetjies van elke dag nie eerlik is nie, gaan jy dit ook nie in die groot dinge wees nie.  Dan staan jy sleg voorgesorteer as daar skielik iets groots gebeur.  Sal jy die waarheid praat, ook as dit finansieel in jou nadeel is?  Wie homself nie elke oefen in die praat van die waarheid nie, gaan dit ook nie met die groot dinge reg kry nie.  Maar wie elke dag oefen om in die klein dingetjies eerlik te wees, ontvang die moed om die waarheid te praat ook in die uur van die waarheid.  Dit bepaal ons daarby dat die negende gebod dus nie net aktueel is vir die regsaal nie, maar vir jou hele daaglikse lewe.  En dit kom aan op ‘n lewenshouding van Christelike naasteliefde, as jy in alle opsigte die waarheid leer praat met ‘n heilsame effek.

 

Die Kategismus wys ons ook op die gevaar van kwaadsprekery of laster.  Dit is iets wat meestal begin met skinder.  Dit is soveel makliker om oor iemand as met iemand te praat.  Ons moet leer om op die regte oomblikke stil te kan bly.

Alles wat gesê word moet waar wees, maar moet alles wat waar is altyd gesê word?  Wie en wat dien ons met al ons sogenaamde waarhede?  Paulus skryf in 1 Korinthiërs 13 oor die liefde dat sy nie bly is oor die ongeregtigheid nie, maar dat sy bly is saam met die waarheid.  Die liefde kan ook dinge bedek.

Daar kan omstandighede wees wanneer die verdrietige waarheid oor iemand aan die lig moet kom, maar dit hoef nie altyd nie.  Soms is dit ook goed om te swyg.  Dit moet nie vir ons ‘n plesier wees om uit te wei oor die ongeluk van ‘n ander nie.  Nou is dit nie maklik om as iemand besig is om te skinder, die persoon die swye op te lê nie.  Maar laat ons dit tog probeer, byvoorbeeld met ‘n goedbedoelde opmerking soos:

Ons het nou wel genoeg oor daardie persoon gepraat ...

Of: Laat ons nou maar bietjie oor onsself praat ...

Nog ‘n baie effektiewe medisyne teen skinder is voorbede.  As ons tog so graag oor iemand wil praat, laat ons die persoon in ons gebed aan God opdra.

 

Die Kategismus lê ook die vinger by die ligtelik help veroordeel van ‘n ander.  Hoe dikwels baseer ons ons opinie nie op persepsies nie, of op die uiterlik.  Ons weet al hoe iemand dink net deur na sy uiterlik te kyk.  Maar gee ons ‘n ander nog eers die geleentheid om self te verduidelik wat sy standpunt is?

 

Sondag 43 bepaal ons daarby dat die negende gebod ‘n heilsame grens trek.

Daarenteen bring die pad van die leuen risiko’s.  En die grootste risiko is dat ons die sware toorn van God oor ons bring.  Sondag 43 sê: Dat ek alle vorme van lieg en bedrieg as die duiwel se eie werk moet vermy.  In Handelinge 5 kan ons lees hoe dit met Ananias en Saffira afgeloop het.  Hulle het gedink dat hulle deur middel van ‘n leuen meer agting in die kerk sou kry.  Maar die Here het hierdie twee persone dood laat neerval as ‘n waarskuwing vir die res.  Hierdie voorval was ‘n lewensgroot waarskuwingsbord vir die eerste gemeente.  Waak daarteen dat in Christus se kerk geen kompromie gesluit word met die leuen nie!  Moet God se eie Seun nie die sware las van al ons leuens dra nie?  Hy het ons straf gedra, ons wat niks beter as Ananias en Saffira verdien het nie.  Wat is God tog goed vir ons.  Hy wil nie dat ons hierdie groot geskenk – sy eie Seun – weer verloor nie.  Hy wil dat ons Hom steeds meer liefkry, Hy wat die waarheid in eie Persoon is.  Om die waarheid te praat, dit is nie net ‘n formele plig nie.  Jesus leer ons naamlik om die waarheid ook lief te hê.  Want die waarheid maak ons vry en gee ons ‘n gelukkige bestaan.

Jesus is self die Waarheid.  Omdat ons Hom liefhet, het ons die waarheid lief.

Die waarheid is nie net goed vir onsself nie, maar ook vir ons naaste.  Die waarheid, in liefde gespreek, werk genesend.  Mens sou kon sê, met verwyising na ‘n ander uitspraak van Jesus, toe Hy oor die sabbat gepraat het:

Die mens is nie gemaak vir die waarheid nie, maar die waarheid vir die mens.  Liefde tot God en ons naaste bring outomaties ook liefde vir die waarheid.

 

Geliefde gemeente, laat ons nie lou wees in die nakom van hierdie gebod nie (Openb 3:16).

Die Here Jesus sien graag by ons dat ons so deurdronge is van sy liefde, dat ons van harte die beste soek ook vir ons naaste.  En dat daar opregte berou is as ons weer in sonde teen hierdie gebod geval het.  En dat daar ‘n lyn van progressie is wat hierdie gebod betref.  Liefde leer ons swyg, as die goeie naam van ons naaste nie daarby gebaat is nie.  En die liefde leer ons praat, as ‘n ander daardeur gered kan word.  As iemand byvoorbeeld in sonde leef, dan getuig dit juis van liefde as diegene wat dit raaksien met die persoon gaan praat.  Wanneer moet ons praat? Wanneer moet ons swyg?  Dit kan nie in ‘n lys van reëltjies uitgelê word nie.   Maar gedrewe deur die liefde van Christus, voel ons dit vanself aan.  Liefde vir Christus, wat die Waarheid in eie Persoon is.

 

Sondag 43 sluit af deur ons op te roep om die eer en goeie naam van my naaste na my vermoë te verdedig en te bevorder.  Ons instelling moet wees om steeds ‘n so gunstig moontlike beeld van ‘n ander te skets.  Daarmee bedoel ek nie vleiery of oordrewe bewondering nie.  Maar eerlik mag ons dit wat goed is in ‘n ander na vore bring.  En oor ‘n ander se gebreke swyg ons so veel as moontlik.  Tensy ons met die persoon self praat, en dan op ‘n manier nie om hom te verkleineer nie, maar om hom verder te help.  Dit is nie altyd maklik nie.  Ons ou mens het die neiging om te dink dat ons self minder word as ons goed oor ander praat, of dat ons self beter word, as ons ander aftrek.

Maar die nuwe mens het leer insien dat dinge anders werk.  Dat in die voetspore van Christus die waarheid uiteindelik dit grootste wins oplewer.  In die voetspore van Christus is dikwels ‘n pad van selfverloëning is.  Maar dit genees ons lewe.  As ons Hom liefhet, ons lewe aan Hom wy, dan leer ons ook die waarheid liefhê.  Die vader van die leuen was in beheer oor ons ou lewe.  Maar die Vader van die waarheid, ja Christus die Waarheid self, beheer nou ons nuwe lewe!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 15:1-3

Gebed

Skriflesing: Johannes 8:12-59

Ps 120:1,2

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 43

Preek

Ps 64:1-7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ps 19:5,6

Kollekte

Ps 86:6

Seën