Die tiende gebod is ’n hartondersoek deur God.

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-03-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 44
Preek Inhoud: 

Soms moet mense 'n kardiogram laat maak. U weet: dis 'n hartondersoek waarby 'n apparaat al die beweginge van die hart noukeurig registreer.

Dit kan gebeur dat die dokter daarna op 'n meer indiepte ondersoek van die hart besluit en dat daar 'n kamera deur die slagare na die hart toe geskuif word. Hartkateterisasie.

So'n ondersoek kan gerusstellend wees: alles blyk reg te wees en daar is geen rede vir kommer nie.

Maar dikwels wys so'n ondersoek ook dat daar 'n groot fout by die hart is. Daar moet dadelik ingegryp word anders kan die hartprobleem dodelik wees!

 

Die Tiende Gebod van God se verbondswet sou ons ook 'n tipe van ’n kardiogram kon noem. Of ’n kateterisasie. Op eerste oogopslag lyk die Tiende gebod niks nuuts meer toe te voeg nie. Dit lyk min of meer na 'n herhaling van wat in voorafgaande gebooie klaar gesê is: “Jy mag nie steel nie” en “Jy mag nie jou naaste se huis, sy os en sy esel en enige ander goed van hom begeer nie”‑ dit is tog omtrent dieselfde?

Jy mag nie egbreek nie”en “Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie”‑ wat is die verskil?

Maar die Tiende Gebod kyk nog verder as wat ons doen, of waar ons in ons gedagtes mee kan besig wees.  In die vorige gebooie het God ons al ’n spieël voorgehou. En ons kleur het alreeds nie so gesond gelyk nie. Maar die Tiende Gebod skandeer nou die plek waar die oorsaak van ons ongesond wees hom bevind: ons HART.

En die uitslag is glad nie gerustellend nie. U en ek‑ ons ly almal aan 'n dodelike hartafwyking. Die Tiende Gebod bring dit haarfyn aan die lig.

Daarom verkondig ek u vanaand die betekenis van die Tiende Gebod, en daarmee tegelyk die erns van die hele wet, onder hierdie tema:

 

Die tiende gebod is ’n hartondersoek  deur God.

 

Want in die laaste gebod

1. soek God ons hele hart,     

2. bewerk Hy by ons ‘n verslae hart

3. en laat Hy ons al hoe sterker   

    verlang na ‘n herskape hart

 

1. U verstaan natuurlik, brs en srs: wanneer ek van u en my hart praat, bedoel ek in hierdie geval nie die pomp, die hol spier in ons liggaam wat die bloedsomloop versorg nie.

Ons gebruik die woord ‘hart’ ook as ons ons diepste innerlike wil aandui: die sentrum van ons gedagtes en gevoelens, die oorsprong van ons begeertes en ver-langens: “Ek het jou lief met my hele hart!” . Niemand kan presies aanwys waar ons daardie belangrike knooppunt in ons lewe moet soek nie. Is dit dalk ons brein? Maar ons noem dit nou maar eenmaal ‘ons hart’.

 

Want so praat die HERE in sy Woord oor ons verborge innerlike, oor die diepste wese van 'n mens. “Jou hart is die bron van jou lewe” sê die Spreuke boek. Met ander woorde: in ons hart, in daardie verborge knooppunt êrens diep in ons, begin alles wat ons dink en sê en doen.  Elke gedagte, elke woord op ons tong, elke doelbewuste daad het ont- staan in ons hart. “Waar die hart vol van is, loop die mond van oor”,  sê ons daarom ook.

Maar ons hart is nie net 'n bron waardeur daar in ons lewe baie buitentoe kom nie. Daar is ook 'n omgekeerde verkeer. Daar kom terselfdertyd ook baie van buite af na ons toe wat tot binne in ons hart wil deurdring en hom daar wil nesmaak. Ons kan dinge hoor of sien wat ons daarna in ons hart bewaar. Ons kan dinge ter harte neem.

Daar is in ons hart selfs verborge dieptes waar ons self nie eers mooi kan bykom nie. Ons noem dit ‘Die skuilhoeke van ons hart’. Daar lê begeertes en neigings weggesteek waarvan ons self skrik as iets daarvan aan die lig kom.

 

Nou maar goed, dié hart van ons word deur die HERE ondersoek as Hy met die Tiende Gebod van sy wet na ons toe kom. Nadat die HERE in die eerdere gebooie ons hele doen en late, maar ook hoe ons in ons gedagtes daarmee verkeerd kan besig wees, reeds onder die loep geneem het, dring Hy met die laaste gebod deur tot in die diepste skuilplekke van ons hart. Hoe lyk dit daar?

 

Hoe móet dit daar lyk? Ons hart zou tot in sy diepste skuilhoeke skoon moet wees. Vol suiwere begeertes en verlangens en gedagtes. Daarr sou heeltemal niks in ons hart mag wees wat teen God se wil indruis. Die Kategismus formuleer dit in Sondag 44 baie skerp: “Selfs die geringste neiging of gedagte wat teen enige gebod van God  ingaan mag nooit meer in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê”.

Dis dus nie genoeg as ons allerlei ver-keerde neigingen en gedagtes probeer onderdruk nie. Ja, dit moet ook. Maar daar mag selfs nie een verkeerde be-geerte of neiging of gedagte of lus vanuit ons hart opkom nie. Want solank as wat dit nog daaruit opkom, beteken dit dat daar iets fout is in ons hart.                            

 

Daar ’s ernstige probleme met ons hart! Sou God 'n dokter gewees het, sou ons met 'n angstige hart uit sy spreekkamer padgegee het. Maar as God die Tiende Gebod na aan ons voorhou, kom Hy as ons Váder voor ons staan: “My seun, my kind, gee my jou hart”. Hy wil hê ons hart moet vol van Hom wees. Vol liefde vir Hom. Van soggens vroeg tot saans laat. En regdeur die nag. Ook in ons drome.

Maar dit het ons mos al geweet, brs en srs? Wat anders vra die HERE in die Tiende Gebod as: “Jy moet die HERE liefhê met jou hele hart”? En: “Dra daarom ook jou naaste 'n goeie hart toe”?

Dit het ons Vader in die Hemel nog altyd van die mens gevra. Vanaf sy eerste lewensdag. Vanaf die paradys. Omdat sý hele hart, na óns uitgaan. Omdat Hy óns liefhet met sy hele hart en siel en verstand en kragte.

Wat is dus meer vanselfsprekend as dat Hy ook ons hele hart vir Hom wil hê?

Want nee, Hy kom in die Tiende gebod nie as 'n dokter na ons toe om ’n hart-ondersoek te doen nie. 'n Dokter doen dit dikwels maar afstandelik. Dis maar net sy werk. Hy moet ook ’n bietjie afstand hou, anders gaan hy hierdie werk nie volhou nie. Maar hier kyk ‘n bewoë Vader ons aan.

 

2. Besef u dit nog wanneer God's Wet weer aan u voorgehou word? Julle, jongmense?

En besef u dan ook weer hoe kommerwekkend die uitslag van sy harttoetse is? Hoe teleurstellend en hartseer vir ons liefdevolle Vader?

Daar gebeur in ons hart so veel wat nie voor God se oë kan bestaan nie. Ons verberg in ons hart so veel wat ons ook maar liewer vir ons medemense verborge hou.

En selfs al veg ons teen daardie vuiligheid en sonde wat nog steeds uit ons hart opkom, bly daar dele van ons hart wat ons eenvoudig nie onder beheer kan kry nie. Skielik vlam die drif in ons op. Al wou ek dit nie, maak daardie vrou of man tog verkeerde begeertes in my los.

Ja, hoe onmoontlik is dit om die verste skuilhoeke van ons hart onder beheer te kry, blyk wel die duidelikste in die drome wat ons soms droom. 'n Mens kan soggens daarvan skrik dat jy in jou drome met sulke goed kan besig wees!

Ook God se allerheiligste kinders het nie so ’n volmaak gehoorsame hart nie.

Moses het teëgestribbel toe God hom na die Egiptiese Farao gestuur het. En later, tydens die woestynreis, het hy in drif op die rots geslaan.

Dawid, ‘n man na God se hart, kon tog die verleiding van 'n mooi vroueliggaam, nie weerstaan nie.

Jeremia het op ‘n stadium in opstand gekom teen God se hoë eise aan sy profete-amp.

Paulus moes beken: “die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil, doen ek”.

Petrus is deur Paulus op skeinheiligheid betrap. En so kan ek  nog wel ’n rukkie aangaan: Augustinus, Maarten Luther, Ferdinand Bijzet wat van een van sy kinders op ‘n stadium te hore gekry het: “U is in die katkisasieklas altyd so geduldig en vriendelik, maar by die huis kry ons sommer ’n oorveeg of ’n skop onder ons dinges”.

‘n Mens moet jou tog bloedrooi bloos van skaamte voor God, brs en srs!

Ja, jy kry ‘n verslae hart daarvan.

woord gebruik ons in die kerk eeuelank al wanneer ons die nagmaal vier. Ons  tipeer onsself as: “verslae van hart”. En ons vra vir God of Hy aan die nagmaalstafel “ons beswaarde en verslae harte” met Christus se liggaam en bloed, ja, met Homself, wil voed.  

 

Het u nog so ‘n verslae hart, broers en susters? Jullie, jongmense?

Want dit is wel presies wat God met sy telkens herhalende hartondersoek in die Tiende Gebod by ons wil bewerk: ‘n verslae hart.

En Hy sal moet. Want kom ons wees eerlik: ons raak maklik aan die sonde gewoond. Ons leer sommer om met so ‘n vuil hart te leef. “Ons is nou maar so”, sê ons dan. En: “Daar is mos g'n mens volmaak nie?!” En ons meen ons kan daarmee nog wel ’n hele ruk verder leef.

Maar dan deurdring God ons deur middel van die Tiende Gebod daarvan dat ons met so ‘n hart nie kán leef nie. Omdat ons nie met Hom, die lewende God, met so 'n hart kan leef nie. En sonder Hom is daar g’n lewe nie.

Met die Tiende Gebod wat aan die hele wet 'n ekstra dimensie gee, ontneem die HERE ons alle valse gerustheid, ja, hoog-hartigheid en leer Hy ons om met ons dodelike hartkwaal die lewe buite onsself te soek. In sy Seun Christus.

Want daar is in die hemel en op die aarde maar één Dokter wat met hierdie dodelike hartafwyking ons lewe kan red. Jesus Christus.

‘n Dokter wat Homself vir os\ns as ‘n skenker aangebied het. Wat sy eie hart geskenk het om daarmee ons aan die lewe te hou.

U en ek‑ ons kan nog slegs van sy hart lewe, brs en srs. Ons het g’n lewe meer in onsself nie. Slegs as ons met ons slegte hart die lewe buite onsself in Christus soek, is daar nog 'n toekoms vir ons.

Die Bybel, en daarom ook die Kategismus, noem dit, dat ons by Christus ingelyf moet word. En ons lees in Paulus se briewe gedurig  dat ons IN Christus (en dus net slegs  DEUR Christus nie, nee: IN Hom) leef voor God. Die Heilige Gees moet ons lewe onlosmaaklik aan Chistus s’n verbind. Ons hart aan sy hart.

Want as God dán ‘n kardiogram van ons neem, wys die hartfilmpie maar net Christus se hartklop. ‘n Hart wat volmaak klop vir die Vader. ‘n Hart wat die ene liefde is.

 

3. Maar waarom benodig ons dan nog aanhoudend so ’n hartondersoek, gemeente?  Waarom laat God sy wet dan nou nog steeds so streng aan ons voorhou As nog tog baie duidelik is dat ons nog slegs op Christus se hart kan lewe? As ons alleen IN Hom voor God mag lewe?

 

Dis ‘n belangrike vraag in Sondag 44. Want baie Christene deesdae wonder ook: moet die Wet nou regtig nog so domineer in die kerk? Moet die wet regtig nog elke Sondagoggend aan die gemeente voorgehou word?? Is dit nog nodig dat ons, wat nou mos deur Christus geredde mense is, moet sing:

Ag, reken met u kneg (m/v) nie af nie, en wil my na u wet nie straf nie.

Want niemand wat voor U bestaan,

kan pleit- of regsgrond ooit verskaf nie, dat hy/sy u vonnis kan ontgaan.
 

Wel, die ding is, brs en srs, wanneer jy van een medemens ‘n skenkershart kry, gaan jou eie siek hart uit. Daarvan is jy vir altyd ontslae. En die skenker leef ook nie meer nie. Jy is vir die res van jou lewe wel van sy hárt, maar nie meer van homsélf afhanklik nie.

Maar Christus, wat sy hart aan ons geskenk het, is nie dood nie. En ons het ook nog steeds ons eie hart.

Ons bely dit as kerk eeuelank al in ons belydenisgeskrifte: Sondag 21 HK: ons moet ons lewe lank teen ons sondige aard bly stry. NGB 15: ons is ons sondige hart, wat we al van Adam geërf het, in hierdie lewe nog nie kwyt nie, al mag ons ook deur die doop aan Christus verbind wees. “Uit hierdie verdorwe hart borrel die sonde nog aanhoudend op soos water uit ‘n giftige fontein”.

En in die DL lees ons, hoofstuk 15 die begin, dat die sonde nie meer baas oor ons is nie, dít is nou Christus. Maar ons is in hierdie lewe nog nie heeltemal van die vlees en die liggaam van die sonde, en dus: van ons sondige hart, verlos nie. “Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid; en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig.”

Ons ou hart veroorsaak nog gedurigdeur verwerpingsverskynsels teen daardie skenkershart van Christus, brs en srs. Een van die simpome daarvan is dat ons geneig is om ons eie hartkwaal alte ligtelik op te vat, en die lewe taamlik lighartig te benader. En dan is ons al klaar besig, soos ’n domonosele hartpasiënt, om ons eie hart weer van die skenkershart wat ons van Christus gekry het, los te maak.

Nou ja, en dan dwing God ons met so ‘n herhaalde kardiogram om weer van ons dodelike hartkwaal bewus te word.

Wat is daar mos, in weerwil van alle preke oor God se gebooie wat ek in my lewe alreeds gehoor het, en in weerwil van al die huisbesoeke waarin ek aan-gespoor is om met nog meer ywer teen die sonde te stry en vir die HERE te lewe‑ wat is daar by my nog baie gemaksug, selfingenomenheid, eiewysheid, oppervlakkigheid en opvlieëndheid, afguns en hebsug, onreinheid, skynheiligheid, geskinder......

 

En wat kan ek dan anders maak as om weer my toevlug tot die gekruisigde Christus te neem? Soos Sondag 44 in vraag en antwoord 115 sê: so leer ’n mens jou aard –jou verdorwe hart, sê-maar- steeds beter ken en sal jy al hoe meer meer die vergewing van jou sondes by nee- IN Christus soek.

God laat met sy herhaalde wetsprediking  opsetlik telkens weer by ons die hart in die skoene sink, sodat ons gou weer aan Christus se hart gaan skuiling soek.

 

En nie net dit nie, sê Sondag 44, jy sal jou ook sonder ophou beywer en God bid om die genadige werking van die Heilige Gees, dat jou hart altyd meer en meer nes Chrsitus s’n sal klop: slegs vir Vader in die hemel. Jy is eerder nie tevrede nie, want jy ‘s eerder nie werklik gesond nie. Gesond: met ‘n weer ‘n heeltemal gesonde hart. ‘n Hart soos God dit bedoel en wou gehad het. ‘n Hart vol liefde vir Hom en ons medemens.

 

So’n hartondersoek waarvan ’n mens elke keer weer skrik, bly vir ons dus noodsaaklik, gemeente. Maar weet jy wat ’s  tog terselfdertyd so rusgewend en troosvol, my broer en suster?

Wanneer jy daardeur telkens weer ‘n hartgrondige hekel aan jou eie slegte hart kry, wanneer jy weer jou toevlug tot Christus se hart neem, wanneer jy so desperaat daarna verlang dat jou hart heeltemaal die hartklop van Christus se hart sal kry, is dit al klaar baie duidelike blyke dat jou hart aan Christus s’n verbind is. Dat jy IN Christus is. Dat sy Gees die pasaangeër van jou hart is. En dat God jou dus beslis nie afwys nie. Wat anders kan die oorsaak van die onrus en verslaentheid in jou wees?

 

Daardie gereëlde hartondersoek blyk dus wel deegelik heilsaam! Dit bring nie net jou dodelike kwaal aan die lig nie. Dit dra terselfdertyd 'n nuwe lewe in jou hart in. Die begin van die ewige lewe.

Dus kan ons onsself nooit genoeg aan daardie toets onderwerp nie. Amen.

Liturgie: 

Votum en groetseën

Ps 119: 1, 2, 3
Gebed
Lees: Markus 7: 1- 23

Ps. 51: 5

Lees:Sondag 44 vr 113 en 114

SB 26: 10,

Lees: Sondag 44, vr 115

SB 26: 11

Verkondiging oor Sondag 44 HK

Ps 17: 2
Gesonge geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps 139: 1, 12

Seën