Die spysoffer is ‘n dankbaarheidsoffer

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-04-21
Teks: 
Levitikus 2
Preek Inhoud: 

Ons bring nie meer offers in letterlike sin nie.

Op Goeie Vrydag en Paassondag herdenk ons dat Christus se offer op Golgota vir eens en vir altyd voldoende was.

Voor in ons kerk staan nie meer ‘n altaar nie.

Hier staan wel ‘n tafel: die nagmaalstafel.

Tog is die woord offer nie ‘n onbekende woord vir ons nie.

Ons ken woorde soos: opoffering of offergawe – ‘n deftige woord vir die kollekte.

 

Vanoggend kyk ons na die spysoffer.

As u goed onthou, het ons ‘n klompie weke gelede na die brandoffer uit Levitikus 1 gekyk.

Dit was toe ons die eerste keer hierdie jaar nagmaal gevier het.

Ek hoop om met elke nagmaalsviering hierdie jaar een van die offers uit Levitikus te behandel, en te kyk hoe elke offer in Christus sy vervulling gevind het.

Vandag kyk ons die spysoffer.

In hoeverre hierdie offer vir ons verlede tyd is, omdat dit in Christus vervul is.

Maar ook in hoeverre die waarheid en ryke inhoud vir ons nog bly bestaan.

 

Tema: Die spysoffer is ‘n dankbaarheidsoffer

 

Kom ons begin om te kyk na die bestanddele van die spysoffer.

Ons vind drie soorte spysoffers.

By elkeen van hulle was die hoofbestanddeel meel, oftewel koring.

Daarom is hierdie offer ook soms die graanoffer genoem.

Kanaän was ‘n egte landbouland en daar is baie koring verbou.

 

By die eerste soort spysoffer is van fynmeel en olie ‘n deeg gemaak en daarvan ‘n handvol op die altaar gelê.

By die tweede soort is van fynmeel en olie ‘n deeg gemaak, wat gebak is tot ‘n koek in ‘n oond of op ‘n bakplaat.

Ook kon mens ‘n groot tert in ‘n pan bak.

En dan was die derde moontlikheid dat daar ‘n offer met koringare gebring is.

Hulle het die vars are gerooster, daarna stukkend gevryf en vervolgens die resultaat met olie gemeng.

Vir al drie tipes het gegeld: ‘n deel daarvan is op die altaar geoffer, terwyl die res vir die priesters was, oftewel die seuns van Aäron.

 

Kom ons kyk nou na die betekenis van die spysoffer.

Dit het u dalk al opgeval dat by hierdie offer daar nie van bloed sprake is nie.

By al die ander soorte offers het bloed gevloei, maar nie by die spysoffer nie.

Graan was die hoofbestanddeel.

Hierdie offer het nie iets uitgebeeld wat God aan die mens gegee het nie, soos bloed die versoening uitgebeeld het.

Maar hierdie offer het uitgebeeld wat die mens aan God teruggee, naamlik die vrug van sy handearbeid.

Soos die tema sê: die spysoffer is ‘n dankbaarheidsoffer.

In die terme wat die Kategismus gebruik: ons goeie werke uit dankbaarheid.

Dit was dus, in kort, die betekenis van die spysoffer.

‘n Blyk van dankbaarheid.

 

Kom ons kyk nou vervolgens na die betekenis van elke afsonderlike bestanddeel.

Hierdie bestanddele was naamlik vol simboliek.

Elke bestanddeel het ‘n simboliese waarde gehad.

Neem byvoorbeeld die olie.

Dit verwys na olyfolie, wat ‘n belangrike plek in die daaglikse lewe in die Midde-Ooste ingeneem het.

Die mense het dit gebruik om hulle vel mee in te smeer, in die droë klimaat.

Om hulle voete na ‘n lang reis te salf, byvoorbeeld.

Vermeng met speserye het olyfolie ook diensgedoen as parfuum.

Ook is olyfolie gebruik by wondversorging.

Om wonde te versag en te genees.

Natuurlik is olyfolie ook gebruik om voedsel voor te berei.

En miskien was die belangrikste gebruik van olyfolie dat dit as brandstof gedien het.

Dink aan olielampies, kandelare ensovoorts.

Kortom, ‘n onmisbare produk vir die daaglikse lewe.

Daarvan is ‘n deel as dankbaarheid dus aan die HERE geoffer.

 

Nog ‘n bestanddeel van die spysoffer was wierook.

Nou verskil smake tussen die Ooste en die Weste.

Maar vir ‘n Oosterling was wierook ‘n heerlike reuk.

Nie toevallig is wierook gebruik as ‘n beeld vir gebed.

Dink aan Psalm 141: “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan” (vers 2).

Reukwerk, dit is wierook.

Dink ook aan Openbaring 8:

“En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê” (vers 3).

‘n Heerlike geur.

Die bedoeling hieragter is, dat die spysoffer die goeie werke van die gelowiges uitgebeeld het.

Dink aan hoe die Kategismus die gebed die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe noem.

Nooit mog wierook by die spysoffer ontbreek nie.

Slegs saam met die heerlike geur van gebed word jou goeie werke voor God aangenaam.

 

En dan die laaste bestanddeel, wat absoluut nie mog ontbreek nie, was sout.

Sout het ook ‘n simboliese waarde gehad.

Die Grieke het byvoorbeeld ‘n seremonie geken waar by ‘n verbondssluiting die partye brood met sout geëet het.

Ook in Levitikus 2 lees ons van die sout van die verbond (vers 13).

Ons lees in die Bybel ook die benaming soutverbond.

Sout het naamlik simbool gestaan vir trou.

Dat jy jou woord hou.

Dat jy trou, lojaal, bly teenoor God.

Geen wonder, as dit die simboliese betekenis van sout is, dat daar in ons teks staan: In geen geval mag die sout ontbreek nie!

Verstaan u die bedoeling van vers 13?

Sout by die offer wil sê: Dat ons aan die HERE trou bly.

Sout het ‘n suiwerende werking.

Dit voorkom bederf.

So staan trou in die lewe in teenstelling tot bederf, in teenstelling tot onreinheid in jou lewe.

 

Tot dusver het ons gekyk na die bestanddele wat absoluut nie in die spysoffer mog ontbreek nie: graan, wierook en sout.

Nou kom ons by vers 11.

Want daar word twee bestanddele genoem wat wel moes ontbreek.

Onder geen omstandighede mog daar suurdeeg of heuning by die offer gevoeg word nie!

Daar bestaan naamlik ‘n simboliese teenstelling tussen sout en suurdeeg.

Net soos daar ‘n werklike teenstelling bestaan tussen – wat die apostel Paulus noem – vlees en Gees.

Oftewel ou en nuwe mens.

 

In die Bybelse tyd was suurdeeg deeg wat letterlik suur geword het.

Die deeg van gister of eergister wat in die warm klimaat al begin sleg word het.

‘n Stukkie van hierdie ou deeg is gebruik om die nuwe deeg te laat rys.

Nou op hierdie werking van suurdeeg dui die simboliese betekenis.

Verwyder die suurdeeg uit julle midde!

Dit beteken: Verwyder die aansteeklike werking van die sonde uit julle midde!

So het Jesus sy dissipels gewaarsku teen die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.

So word ons vandag gewaarsku teen mense wat soos suurdeeg is.

Wat heeltyd oor alles kla en op alles kritiek het.

Hulle dreig om almal suur te maak.

Die oproep vanuit ons teks dus:

Verwyder die suurdeeg uit jou eie lewe.

Verwyder die suurdeeg uit jou geledere.

 

Dit het ook vir heuning gegeld.

Die rede hieragter is waarskynlik dieselfde as by suurdeeg.

Ook heuning het die gistingsproses versnel.

Simbolies laat God dus hier sy afkeer sien van alles wat geruik het na dood en verderf, verrotting, stank. Dit moes volledig verwyder word.

 

Gemeente, al hierdie inligting oor die spysoffer in ons teks kom uit ‘n ander tyd, ‘n ander kultuur, dalk ver weg van ons eie wêreld af.

Waarom sou ons daarom vandag nog aandag skenk aan Levitikus 2?

Kan mens nie eerder ‘n preek oor die Nuwe Testament hou nie?

In hierdie verband is dit goed om aandag te skenk aan wat daar in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 25 staan.

Ek haal aan:

“Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling.”

Hierdie offers was dus simbole.

Danksy Goeie Vrydag en Paasfees hoef ons hierdie simbole vandag nie meer te herhaal nie.

Maar agter hierdie simbole is daar wel, soos ons gehoor het, ‘n betekenis.

En die betekenis, die waarheid en inhoud daarvan, het nog steeds vir ons ‘n ryke boodskap.

 

Ons leer naamlik daaruit dat God toe en vandag dieselfde God is.

En ons leer wat ons as verbondskinders alles van Hom ontvang.

Ons leer hoe die verhouding is tussen God en sy kinders.

Net soos vroeër, is God vandag ook hoogheilig.

Met sonde, bederf, verrotting en dood het Hy niks te make nie.

Dit is alles naamlik gevolge van die sonde.

Daarvoor het suurdeeg en heuning destyds simbool gestaan.

Die tabernakel of tempel was destyds die woonplek van God onder sy volk.

En met al hierdie simboliek is onderstreep hoe heilig daardie plek was.

Niemand mog sommer daar binne gaan, agter die voorhangsel nie.

Nou gemeente, presies dieselfde is vandag ook nog die geval.

Nou gaan offer ons nie meer by die tempel nie.

Maar die gemeente van Christus is nou self die tempel van God.

Soos ons gelees het, die voorhangsel het geskeur.

Die effek van Christus se offer was dat God nou nie meer in afsondering onder sy volk woon.

Elke Christen is persoonlik ‘n tempel van die Heilige Gees.

Ons lewe is erediens, tempeldiens aan die hoogheilige God.

Neem byvoorbeeld wat ons nounet aan die begin van die erediens gedoen het.

Ons het gaan staan toe die seën uitgespreek is – ‘n simbool van eerbied.

Ook het ons gebed soos wierook opgestyg tot God.

Ons het ons hande gevou, ons oë toegemaak – simbool vir ons afhanklikheid.

En as ons nounou ons gawes in die kollekte gee, is dit ook ‘n simboliese handeling.

Aan die een kant sou mens kon redeneer.

Is die kollekte in die erediens nog nodig?

Die grootste bedrag betaal ons naamlik deur die bank.

Tog bly die kollekte in die erediens ook bestaan, omdat dit ‘n simboliese handeling is.

Mens sou die kollekte goed met die spysoffer kon vergelyk.

Ons bring die opbrings van ons handearbeid na die HERE.

Graan vanaf die land, olie uit die wingerd.

Dit was simbole.

Die Israeliet het daarmee bely:

HERE, nie net my lewe is aan U toegewy nie, maar ook my handearbeid wy ek aan U toe, as spysoffer.

Vandag, in die nuwe verbond, is dit nie anders nie.

Die kollekte is ‘n simbool, waarmee ons bely:

HERE, die werk wat ek deur die week doen, die geld wat ek daarmee verdien, die eerstelinge daarvan bring ek vir U.

Ek plaas u diens bo aan my begroting.

Die feit dat ek elke dag my werk kan doen.

Dat ek gesond is.

Dat ek werk het.

Dat ek inkomste het.

Dit alles het ek aan U te danke!

Daarom bring ek ‘n deel daarvan vir U, as ‘n gedenkoffer (vers 2).

Daarmee bely ons: HERE, ek het alles van U ontvang.

‘n Deel daarvan gee ek bewus vir u diens.

Spesiaal afgesonder vir die HERE, toegewy aan die voortgang van die verkondiging van sy Woord.

‘n Spysoffer: fynmeel, olie, wierook, sout.

Simbool hoe my daaglikse lewe in diens staan van God.

Elke dag mag ek in sy skepping werk.

Spysoffer en kollekte, hulle lyk baie op mekaar.

 

Ons leef vandag in ‘n heel ander tyd.

Ons lewe na Christus se kruisiging en opstanding.

Die offerkultus het opgehou.

God het die voorhangsel laat skeur van bo na onder.

Ons bring nie meer spysoffers in letterlike sin nie.

Maar die simboliek is nog dieselfde, tussen spysoffer en kollekte.

Tussen spysoffer en dankgebed.

En so styg daar, veral op hierdie Paassondag, ‘n geur van dankbaarheid op tot God!

 

Die apostel Petrus beskryf die werklikheid van die nuwe verbond, die tydperk vanaf Paasfees, soos volg in 1 Petrus 2.

Eers verwys hy na die feite van Golgota en Paasfees as hy skryf:

“Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is.”

Ja mense, sy eie volk, het Hom verwerp en gekruisig.

Maar God het Hom opgewek uit die dood.

En dan skryf Petrus: “en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestlike huis, ‘n heilige piesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” (vers 4-5)

Ons bring dus geestelike offers.

Dit beteken: offers wat deur die Heilige Gees in ons voorberei is.

Dink vir ‘n oomblik weer aan die teenstelling suurdeeg – sout.

Simbolies die teenstelling tussen ons ou mens en ons nuwe mens.

Aangevuur deur die Gees, mag ons ons daaglikse werk doen vanuit die nuwe mens.

As nuwe mens staan jy met woord en ddad in die lewe, in diens van Christus, elke dag.

En as ons op Sondag kerk toe kom, en as ons ons kollekte bring, en as ons bid, dan bring ons so te sê ons spysoffers.

Daaruit blyk ons dankbaarheid.

Dankbaarheid vir die heilsfeite wat in Christus se lewe werklikheid geword het.

Dankbaarheid dat ons in die lig daarvan ons lewe mag lei.

Dankbaarheid vir vergewing van sondes op grond van sy versoening op Golgota.

Dankbaarheid vir die toekomsperspektief, dat ons ons opgestane Here weer sal terugsien op die wolke van die hemel.

 

Die spysoffer was ‘n blyk van dankbaarheid.

Op hierdie Paassondag, en aan die nagmaalstafel, mag dankbaarheid ook die botoon voer!

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 107:10,18,21

Wet

Ps 40:3

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e Tafel: Levitikus 2; Ps 141:1,2

2e Tafel: Mattheüs 27:45-54; Ps 141:3,4

3e Tafel: Lofverheffing; Ps 141:5

Dankgebed

Teks: Levitikus 2

Preek

Ps 116:8,9,10

Gebed

Kollekte

Ps 118:11,13,14

Seën