Die dankoffer onderhou die band tussen die ontvanger en die Bron van alle goeie gawes

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-08-18
Teks: 
Levitikus 3
Preek Inhoud: 

Preek: Levitikus 3

 

Die boek Levitikus begin met die verskillende soorte offers wat die HERE aan sy volk gegee het.

Elkeen met ‘n spesifieke doel, om die verbondsgemeenskap tussen Hom en sy volk gesond en aangenaam te hou.

Ons het al eerder hierdie jaar, ook toe ons nagmaal gevier het, aandag geskenk aan die brandoffer en die spysoffer, Levitikus 1 en 2.

Vandag kyk ons na die dankoffer.

 

Tema: Die dankoffer onderhou die band tussen die ontvanger en die Bron van alle goeie gawes

1 Wat die dankoffer is

2 Enkele aspekte van die dankoffer

 

1 Wat die dankoffer is

Die dankoffer word ook soms anders vertaal, as vredeoffer, of: gemeenskapsoffer.

As mens na die Hebreeuse woord kyk, is dit verwant aan die woord sjaloom.

En soos u miskien weet, sjaloom beteken vrede.

Die offer het dus met vrede te make.

Nie soseer vrede in politieke sin nie, maar in verbondsmatige sin.

Dat alles goed is tussen die HERE en die persoon wat offer.

 

Levitikus 3 kan mens in drie dele verdeel.

Drie keer lees ons min of meer dieselfde instruksies, telkens vir ‘n ander soort dier.

Dit begin met ‘n bees.

Die instruksies is dan soos volg:

Die dier moet gesond en wel wees.

Die dier kan ‘n mannetjie of ‘n wyfie wees.

Die offeraar moet die dier voor die HERE se aangesig bring.

Dit beteken dat hy dit na die tabernakel of tempel moes bring.

Daar moes hy sy hand op die kop van die dier lê.

Daarna is die dier geslag en die bloed rondom die altar gesprinkel.

Dan lees ons watter liggaamsdele op die altaar verbrand moes word:

Die vet, die niere en die vet daaraan, en die lap aan die lewer.

Die bevoegde persoon, die priester, moes dit op die altaar aan die brand steek, as ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.

Dit was dus in geval van ‘n bees.

 

Vervolgens gaan dit oor kleinvee, byvoorbeeld ‘n skaap.

Die instruksies is identies soos hierbo, met een uitsondering.

‘n Skaap het naamlik, in teenstelling tot ‘n bees, ‘n heerlike vetstert gehad.

Veral in die Midde-Ooste was daar skape wat se sterte soms tot 7 kg kon weeg.

Tot vandag toe is skaapstert onder baie volke ‘n delikatesse.

Ook hierdie vetstert moes op die altaar geoffer word.

Die stert moes naby die stuitjie afgesny word, sodat die hele stert op die altaar kon kom.

Wat was die bedoeling hiervan?

Ek dink dis nie moeilik om dit te raai nie:

Die beste deel was vir God.

Ons moet dit in konteks sien.

By die bring van die offer was die beste deel van dier vir die HERE.

‘n Simboliese toewyding van jou lewe en inkomste aan Hom.

Want elke ander dag, by alle ander skape, het die offeraar die beste deel vir homself gehad.

 

In die derde plek lees ons instruksies vir die offer van ‘n bok.

Ook hier is die instruksies soos in geval van ’n bees of ‘n skaap.

Ek hoef dit nie weer te herhaal nie.

 

Soos ek nounet genoem het: Die beste deel was vir God.

Die vet, niere, lewer en stert.

By die offer is die dier eintlik in drie dele verdeel.

Die beste deel is op die altaar gelê.

Die tweede deel, daaroor het ons in hoofstuk 7 gelees, het na die priesters gegaan.

Dit was veral die bors van die dier.

Hieraan was goeie en vettige vleis.

En die derde deel was vir die offeraar en sy gesin.

Weer eens, so was dit op hierdie dag as die offeraar en sy gesin na die tempel en tabernakel gekom het.

Vir die res, alle ander dae, het hulle die beste vir hulleself gehad.

Maar hierdie offer het hulle bewus gemaak:

Alle beste gawes wat ek elke dag geniet, kom wel uit die hand van die HERE!

 

Die beste vir die HERE.

Die naasbeste vir die priesters.

En die derde deel van die vleis was nog meer as genoeg vir die offeraar en sy gesin om ‘n feesmaal te geniet.

En so was dit inderdaad, gemeente.

Dit was ‘n gemeenskapsoffer, en dus ‘n feesmaal

Saam is daar feesgevier in die bysyn van die HERE.

By die vredeoffer was die aksent op die maaltyd.

‘n Maaltyd waarvan die HERE die Gasheer was.

Jy is ‘n verbondskind van God, en jy mag by Hom aan tafel sit.

Uit alles blyk dat hierdie ‘n vrolike maaltyd moes wees.

Genoeg om te eet, vreugde en dankbaarheid.

 

Ek herhaal nog ‘n keer die tema van die preek:

Die dankoffer onderhou die band tussen die ontvanger en die Bron van alle goeie gawes.

‘n Opvallende detail is dat van hierdie offer slegs op die eerste dag geëet mog word.

En in sommige gevalle maksimaal twee dae.

Maar nie langer nie.

Op daardie dag moes daar dus goed geëet word.

‘n Oorvloedige maaltyd.

Gemeente, soms is daar dae in die lewe wat mens nie suinig mag wees nie!

 

Ons is amper aan die einde van die eerste punt van die preek, waar ons kyk na wat die brandoffer is.

Ek wil net nog wys op wat ons in Levitikus 7 gelees het.

Daar word naamlik nog ‘n onderskeid gemaak tussen verskillende dankoffers.

Ten eerste kon ‘n dankoffer ‘n soort lofoffer wees.

Sê maar ‘n uiting van lof en dank vir ‘n bepaalde seën.

Ten tweede kon ‘n dankoffer ‘n gelofteoffer wees.

‘n Voorbeeld hiervan is Psalm 116.

Ons lees in hierdie Psalm:

“Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my? ... My geloftes sal ek aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk.” (vers 12 – 14)

Hier is sprake van ‘n gelofte aan die HERE, wat nou ingelos word.

Dink byvoorbeeld aan die gelofte wat Hanna by die tabernakel afgelê het.

En ten derde kon ‘n dankoffer ook ‘n vrywillige offer wees.

Hier was dus nie van ‘n bewuste gelofte sprake nie.

Maar ‘n spontane offer as dank vir ‘n ongevraagde seën.

Tot sover gemeente, ‘n globale oorsig van die dankoffer.

 

Ons kom nou by die tweede punt, ek wil nou fokus op enkele aspekte van die dankoffer.

En daaruit gaan ons dan ook die ryke toepassing, die betekenis, vir ons ontvang.

 

2 Enkele aspekte van die dankoffer

Wat was eintlik so spesiaal aan die dankoffer?

Elke tipe offer het naamlik sy unieke doel en betekenis gehad.

Wat hierdie offer veral gekenmerk het, was dat dit ‘n maaltyd was.

‘n Maaltyd, waar die HERE die Gasheer is, en die persoon wat geoffer het, saam met sy gesin, die gaste.

Die Israeliete het die vleis gebring – bees, skaap of bok na gelang van sy welvaart.

Hy het dit aangebied by die tempel, met die besef dat God uiteindelik die verskaffer is van alle vleis, van alle diere op aarde.

Soos Psalm 50 sing:

“Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende ...”  (vers 9- 13)

 

Die dankoffer was dus ‘n maaltyd, ‘n gemeenskapsoffer.

Gemeenskap, samesyn, tussen die offeraar en die HERE as Bron van alle goeie gawes.

Soos ons gelees het, die beste deel van die dier is op die altaar gelê.

Die vet was vir die HERE.

Vet was, veral die Bybelse tyd, die allerbeste produk wat van ‘n dier afgekom het.

Ons lees in Levitikus oor vier soorte vetstukke.

Die nekvet, die kransvet, die niervet, en die vet aan die lewer.

Hierdie keurdele is op die altaar gelê.

 

Die feit dat die beste van die lewer op die altaar gelê is, het ook nog ‘n ander betekenis gehad.

Onder die heidenvolke het die lewer van ‘n offerdier naamlik ‘n spesiale funksie gehad.

Die heidense priesters het die lewer gebruik om die toekoms te voorspel, ongeveer soos sommige mense vandag dit met jou handpalm probeer doen, of met sogenaamde iriskopie.

In die argeologie is daar al ‘n kleimodel van ‘n lewer opgegrawe, waar die oppervlak van die lewer in 55 dele verdeel is.

Die heidenpriesters van Babel het dit gebruik vir hulle waarsêery.

Van hierdie soort bygeloof vind ons ‘n opvallende voorbeeld in Esegiël.

Daar het die koning van Babel voor ‘n T-splitsing gestaan.

Moes hy optrek om die stad Rabba van die Ammoniete aan te val, of moes hy optrek teen Jerusalem?

Hy het toe die lewer geraadpleeg:

Esegiël 21: “Want die koning van Babel gaan staan waar die paaie uitmekaarloop, by die begin van die twee paaie, om van waarsêery gebruik te maak; hy skud die pyle, raadpleeg die huisgode, bekyk die lewer.” (vers 21)

Onder sy eie volk het die HERE hierdie praktyke nie geduld nie.

Daarom was die HERE se offerwetgewing dus beduidend anders.

Geen afgodery met organe van diere nie.

Sy offerwetgewing het die volk beskerm teen sulke heidense praktyke.

Sy volk het nie die lewer van diere nodig gehad om hulle toekoms te voorspel nie.

Hulle kon Hom, die lewende God, maar vertrou wat betref hulle toekoms.

Naby U is God se Woord, het Moses die volk voorgehou.

God het dit aan julle geopenbaar!

God het met julle ‘n verbond gesluit.

 

Dan nog iets oor die niere.

Beide niere en die vet daaraan moes ook op die altaar gelê word.

Hierdie organe, niere en lewer, was vir die mense toe ‘n delikatesse.

Die allerbeste van die dier.

Maar wat was die funksie van die niere?

Ons weet vandag dat niere se funksie is om die bloed skoon te maak.

In die Midde-Ooste van daardie tyd het hulle dit egter nog nie geweet nie.

In die Bybel sien ons dat die die niere toe verbind is met ‘n mens se gevoelslewe.

Dawid sing byvoorbeeld in Psalm 139: “U het my niere gevorm” (vers 13).

Die niere was die sentrum vir jou gevoel, van jou emosies.

Hart en niere word soms saam genoem as die bron van jou diepste gedagtes, jou gewete, jou gevoelens.

Sien byvoorbeeld Psalm 26; “Toets my, HERE, en beproef my, keur my niere en my hart” (vers 2). (sien ook Ps 7:10; Jer 20:12)

Die feit dat die niere op die altaar gelê moes word, was dus simbool dat die offeraar sy diepste wese, sy gevoel, die oorlegginge van sy hart en niere, aan die HERE geoffer het.

Niks steek hy vir die HERE weg nie.

Die band met die HERE is gesond.

Soos die tema sê: Die dankoffer onderhou die band tussen die ontvanger en die Bron van alle goeie gawes.

 

Die aanleiding vir die offer kon uiteenlopend wees.

Hanna het byvoorbeeld ‘n gelofte aan die HERE gedoen.

In 1 Samuël 1 kan ons lees dat die HERE haar versoek verhoor het, sy het ‘n seun gekry.

En dan lees ons in 1 Samuël 1: “sodra sy hom gespreen het, het sy hom met haar saam gebring, met drie bulle en ‘n efa meel en ‘n sak wyn, en sy het hom gebring in die huis van die HERE in Silo.”  (vers 24)

Hier sien ons hoe Hanna en Elkana ‘n gelofteoffer gebring het.

As dank aan die HERE.

En saam het hulle toe ‘n feestelike maaltyd geniet, in teenwoordigheid van God, die Gewer van alle goeie gawes.

 

In die Bybel vind ons nog meer voorbeelde van Israeliete wat by die tempel ‘n dankoffer gebring het.

So het hulle naby die HERE geleef.

In die gang van hulle lewe het hulle die voorsienige hand van hulle Verbondsgod herken en erken.

 

En dit bring ons by die vraag:

Hoe werk dit nou vadag?

Kan ons vandag ook nog so ‘n dankoffer bring?

Kan mens soms ‘n gelofte by die HERE aflê, soos Hanna gedoen het?

Ek dink dat dit vir ons almal duidelik is dat ons nie meer letterlik offers bring nie, offers waar bloed vloei nie.

Danksy Christus het al die offerwette tot vervulling gekom.

Uiteraard kan ons nog baie leer van die inhoud en betekenis van hierdie offerwette.

 

Om maar een voorbeeld te noem: ons moet nie ons troos wat betref die toekoms vind in waarsêery, of dit nou is deur die lewer te lees soos vroeër, of handpalms of die iris van jou oog.

Ons vind ook nie rus oor die toekoms by toekomsvoorspellers, analiste vir toekomsstudies of watter deskundiges ook al nie.

Ons vind rus oor die toekoms by God.

Ons weet vir seker dat alle dinge sal meewerk ten goede vir hulle wat aan Chrisus behoort.

 

Maar wat ons veral uit die dankoffer kan leer, is wat ek al eerder in die preek genoem het.

Soms is daar dae in die lewe waarop mens mag feesvier, ekstra dankbaar mag wees.

Soms is daar dae in die lewe waarop mens nie suinig mag wees nie!

Lewe ons soms nie te vlak nie?

Aanvaar ons maar net elke dag weer dat alle dinge wat ons ontvang ons reg is?

Sien ons nog wel die wonder as ‘n kind hier voor in die kerk die doop ontvang?

Sien ons nog wel die uniekheid daarvan as twee mense in die huwelik tree, in die midde van die gemeente?

Besef ons nog hoe ‘n groot gawe dit is, en dat dit in die teenswoordige wêreld allesbehalwe vanselfsprekend is?

Beskou ons ons werk en inkomste nog as ‘n direkte seën van die HERE?

Of begin ons eers daaroor nadink die dag as ons nie meer werk het nie?

En dan dit wat ons vandag mag doen.

Het ons kerklike lewe ook dalk vlak geraak, dat ons nie meer opgewonde raak oor ‘n nagmaalsviering nie?

Ons mag maar opgewonde wees!

Ons hoef nie te frons nie. Ons mag lag vandag!

Wat ‘n voorreg om by Christus, ons hemelse Gasheer, aan tafel te skuif.

Ja hierdie dankoffer van die Ou Testament is in Christus vervul.

En die nagmaal wat Christus ingestel het, is in sekere sin ‘n voorgang daarvan.

Die dankoffer onderhou die band tussen die ontvanger en die Bron van alle goeie gawes.

So onderhou die nagmaal die kosbare band tussen die bruid op aarde, en die Bruidegom in die hemel.

Dit is werd om gevier te word.

Die nagmaalsformulier noem die skatte en gawes wat ons onverdiend uit sy hand mag ontvang:

Vergewing van sondes.

Versoening met ons Skepper.

Geregtigheid.

Ewige lewe.

Heerlikheid.

 

Vandag mag ons feesvier.

Vandag mag ons nie aan die probleme van die lewe dink nie, altans dit mag nie feesvreugde demp nie.

Want ons vertrou dat Christus ons toekoms bepaal.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 116:1

Wet

Ps 73:9,11

Gebed

Nagmaalsformulier (1e deel) (p14)

Ps 73:12

Nagmaalsformulier (2e deel)

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel: Levitikus 3, Ps 116:5

2e tafel: Levitikus 7:11-21, Ps 116:7,8

3e tafel: Lofverheffing & Dankgebed, Ps 116:9,10

Teks: Levitikus 3

Preek

Ps 50:5-7

Gebed

Kollekte

Ps 16:3

Seën