Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1 (God is oneindig)
As daar twee dinge is, wat mens ‘n bevoel van oneindigheid te binne bring, is dit seker die nagtelike hemel, asook die uitgestrektheid van die oseaan.
In die Psalms kom hierdie gevoel van eindeloosheid ook na vore.
“As ek, o HEER, u nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan -
wat is die mens dan dat U hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!”
(Psalm 8:3,4 – berymd)
En ook Psalm 145
“Die HEER is groot, daar is geen sanggeluid
wat ooit sy lof in volle waarde uit!
Dit is 'n see waar niemand in kan meet,
dit is 'n vloed waar ons geen grond van weet.”
(Psalm 145:2)
Die nagtelike hemel, die heelal waar mens in staar, en ook die oseaan, dis nie toevallig dat God se oneindigheid daarmee vergelyk word nie.
Die afgelope weke het ons al verskeie kere ‘n eienskap van God behandel wat met die voorvoegsel –on begin.
Vanaand staan ons stil by die laaste eienskap in artikel 1 wat met die voorvoegsel –on begin, en dit is dat God oneindig is.
Ons gaan vanaand weer op speurtog deur die Bybel, om agter te kom wat God se oneindigheid is, en dan tweedens, wat dit vir ons beteken.
Tema: God is oneindig in oneindig baie opsigte
Die Skrif openbaar aan ons die werklikheid van sy oneindigheid
Die Skrif openbaar ook aan ons die betekenis van sy oneindigheid
Die Skrif openbaar aan ons die werklikheid van sy oneindigheid
In die eerste plek is die Skrif baie duidelik oor die feit, die werklikheid, dat God oneindig is.
Oneindig in meerdere opsigte.
Oneindig in tyd, soos daar in Openbaring 4 staan: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!” (vers 8, sien ook Openb 11:17)
Ook oneindig in wysheid en kennis.
Sy verstand is oneindig - Ps 147:5.
Verder ook oneindig in vermoë, soos Jesus sy dissipels verseker het:
“Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.” (Matth 19:26)
Oneindig ook in ruimte, in die sin van alomteenwoordig.
Een van die mooiste voorbeelde is toe koning Salomo die tempel ingewy het.
Ons kan in Samuel en Konings lees hoe daar jare lank voorberei is vir die bou van die tempel.
En toe die tempel uiteindelik daar gestaan het, was dit ‘n skitterende gebou.
Baie groot, baie kunssinnig ontwerp, en van die kosbaarste materiale.
Van heinde en verre is absoluut hoogwaardige materiale aangevoer.
Toe die gebou uiteindelik klaar was, was dit iets waarop Salomo met reg trots kon wees.
Duisende derduisende mense was bymekaar vir die inwyding.
Maar, as ons dan Salomo se gebed by die inwyding lees in 1 Konings 8, gebruik hy baie sober woorde.
Uit sy gebed klink die besef dat hierdie manjifieke tempel eintlik niks is vir die HERE, as mens sy grootheid, ja sy oneindigheid, in ag neem.
“... sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.”
Dit is dus die realiteit van God se oneindigheid wat die Skrif ons openbaar.
Wat ‘n voorreg vir ‘n land, as die magtigste man in die land dit besef.
Dit wat hy gebou het, is eintlik niks vergeleke met God nie.
En ook hyself, al is hy hoe magtig, is nietig voor God.
Hierdie woorde word herhaal in 2 Kronieke: “... wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ‘n huis kan bou ...” (2 Kron 2:6 en 6:18)
In hierdie besef het Salomo daar gestaan.
“Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders. Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde ...” (Ps 33:13-14)
Die Skrif sê dit, asof dit vanselfsprekend is.
Maar ons as mense, wat eindig is, hoef maar net ‘n klein bietjie na te dink om te besef, dit is ongelooflik, onverklaarbaar, dat daar dus Iemand is wat in een keer al die bewoners van die aarde kan sien.
Inderdaad, Hy is alomteenwoordig!
Hierdie werklikheid is ‘n basiese vertrekpunt in die Skrif, as dit oor God praat.
Soos ons sing in Psalm 113: “Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid. Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon, wat laag neersien, in die hemel en op die aarde?” (Ps 113:4-6)
Dit is ‘n retoriese vraag.
Inderdaad, is die antwoord, daar is niemand soos die HERE nie, niemand so oneindig nie.
Dit is hierdie boodskap wat Paulus op sy sendingsreise die heidenwêreld ingebring het:
“Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.” (Hand 17:24)
God se alomteenwoordigheid word in Psalm 139 ook treffend onder woorde gebring.
Dawid besef die realiteit dat dit nie sin het om vir God te probeer wegvlug nie.
Dis soos om in die oseaan te soek na ‘n plek waar jy nie water sal sien nie.
Waarheen sal ek vlug van u aangesig af weg?
Klim ek op na die hemel, U is daar.
Maak ek die doderyk my bed, U is daar.
Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan woon ek by die uiteinde van die see.
Selfs daar sal u hand my lei en u regterhand my vashou.
Ook donkerte of lig maak nie ‘n verskil nie.
Want selfs die nag is vir U soos daglig.
Die profeet Jona het dit proefondervindelik ervaar.
Jona was soos ‘n opstroppelis peuter wat net by sy ouers wou wegloop.
Maar letterlik nêrens het die HERE hom uitgelos nie.
Waarheen Jona ook al gevlug het, elke keer was God alreeds daar.
In die skip op see het Hy ‘n storm gestuur.
In die dieptes van die see het Hy ‘n groot vis gestuur.
Op die strand het Hy hom weer gevind.
Net buite Ninevé het Hy vir hom ‘n wonderboom laat groei.
God se alomteenwoordigheid was vir Jona danig irriterend.
Maar Psalm 139 leer vir ons om dit te aanvaar, beseffende dat dit aan die einde van die dag vir ons beswil is.
Hy deurgrond my!
En Hy gebruik alle omstandighede, en alle plekke, en al sy skepsele, om sy kinders op die ewige weg te lei.
Niks ontgaan sy alsiende oog nie.
“Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.” – Spreuke 15:3.
Ja sy grootheid is ondeurgrondelik, sê Dawid in Psalm 145(:3).
En nie net sy grootheid nie, ook sy verstand, dit wil sê sy denke, sy beplanning van alle dinge.
Soos Psalm 147 sing: “Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.” (vers 5)
Die menslike brein is vir die mediese wetenskap vir ‘n groot deel nog ‘n raaisel, wat betref hoe ingewikkeld dit is, en hoe kragtig dit is.
Die menslike brein is soveel kragtiger as enige dierebrein.
Slim diere, soos dolfyne of sjimpansees, kom nog nie naby die mens nie.
Dit kan die mens groot en magtig op aarde laat voel.
Hy is inderdaad in beheer, hy kan alle ander lewende wesens manipuleer soos hy wil.
Maar op sy beurt is die mensebrein niks vergelyke by God se oneindige verstand nie.
Net soos die pottebakker en die klei net nie op dieselfde vlak is nie.
Dit is dus wat die Skrif aan ons openbaar, by herhaling, in alle toonaarde:
God is oneindig.
Ja God is oneindig in oneindig baie opsigte.
Oneindig kwadraat.
In grootheid, in wysheid en verstand, in almag, in tyd, in alomteenwoordigheid.
In God se teenwoordigheid voel die mens nietig, soos in die middel van ‘n oneindige oseaan.
Maar, gemeente, die Skrif openbaar aan ons nie net die feit van God se oneindigheid nie.
Uit die Bybel leer ons ook wat die implikasie daarvan vir ons is, die betekenis vir ons.
Soos die Kategismus dikwels vra: Wat is die nut daarvan vir ons?
Dit is waarna ons nou in die tweed plek gaan kyk.
(Tema: God is oneindig in oneindig baie opsigte
Die Skrif openbaar aan ons die werklikheid van sy oneindigheid)
Die Skrif openbaar ook aan ons die betekenis van sy oneindigheid
Hierdie oneindigheid van God het ook ‘n implikasie, ‘n boodskap, ‘n betekenis.
Jesaja roep die volk, wat die ballingskap in die gesig staar, op om hulle troos by die Oneindige te vind.
“Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.” (Jes 40:28)
Die implikasie van die woorde is: Die land waarheen hulle in ballingskap gevoer gaan word is ook binne sy magsbereik.
In daardie verre land van ballingskap, selfs al is dit aan die einde van die aarde, ook daar sal God wees.
“As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” (Jes 43:2)
Ook die profeet Jeremia kom met ‘n skitterende boodskap.
Jeremia het geleef tydens die ballingskap.
‘n Tyd van groot ontnugtering vir die Jode.
Alle aardse dinge waarop hulle gesteun het, is van hulle weggevat.
‘n Tyd waarin hulle opnuut moes leer om hulle vertroue net op Een te stel.
Hy wat alles gemaak het, in wie se hand alles is – Jeremia 32:17:
“Ag, Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.”
Ja hierdie God is alomteenwoordig.
Dit is ‘n herinnering vir hulle wat van God af probeer wegvlug – hulle sal nêrens heen kan wegvlug nie.
Dis ook ‘n troos vir hulle wat by God skuil – die vyande sal nêrens vir Hom kan wegkruip nie.
“Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE” (Jer 23:24)
“... daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” – Hebreërs 4:13.
En net soos God die Vader alomteenwoordig is, so is sy Seun dit ook.
As dit nie so was nie, sou Christus nie in byvoorbeeld Mattheüs 18 kon sê nie:
“waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” (vers 20)
Wat ‘n heerlike boodskap kom hierin na ons toe.
Christus is in ons midde.
Met hierdie besef hou ons ook vanaand ‘n erediens hier waar ons is, êrens in Afrika.
Ook hier is Christus, Hy wat alomteenwoordig is.
Ook hier is Hy in ons midde.
“Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” - Hebreërs 13:5.
Net iemand wat alomteenwoordig is, kan so ‘n versekering gee.
Die Hebreërskrywer noem dit in die konteks van die feit dat sy lesers vry moet wees van geldgierigheid.
Die bron van geldgierigheid is dikwels ons onsekerheid oor die toekoms.
Hoe meer onsekerder ons oor die toekoms het, hoe meer geld hou ons vas vir onsself.
Dit is aan die een kant verantwoordelike rentmeesterskap.
Maar aan die ander kant, as hierdie houding die plek inneem van ons vertroue op God, dan is iets nie reg nie.
Dit is wat die Hebreërskrywer sy lesers ook voor waarsku.
Sy waarskuwing is tegelykertyd ‘n vertroosting:
“Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Hebr 13:5)
Ook hier waar ons woon in Afrika met al sy uitdagings en onsekerhede, is dit net so waar.
Dit is waar ons ons sekuriteit in die lewe moet soek: die feit dat Christus ons nooit sal verlaat nie.
Soos ons in die Kategismus bely:
“Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie.” (antw. 47)
Artikel 1 van die NGB beskryf God met ‘n aantal woorde wat elkeen met die voorvoegsel –on begin.
Dit is woorde wat aan die Skrif ontleen is.
Dit is opvallend hoe dikwels die Bybel die HERE beskryf met woorde wat aandui dat Hy bo ons grense, bo ons verstaansmoontlikhede uitstyg.
In menslike taal word iets beskryf van die in feite onbeskryflike werklikheid van God.
Alles wat God is en alles wat Hy het, is net soveel groter.
Keer op keer moet die voorvoegsel –on gebruik word.
Hy “wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag.” (1 Tim 6:16)
En soos Paulus byvoorbeeld aan die Efesiërs skryf: Hy is bevoorreg om aan hulle die evangelie te bring van die onnaspeurlike rykdom van Christus (Ef 3:8).
Ja God is oneindig in tyd, wysheid, mag, ruimte, en noem maar op.
God is in feite oneindig in oneindig baie opsigte.
Vir almal wat by Hom skuil, vir ons sy kinders, is dit ‘n groot troos.
Vir sy vyande is dit ‘n waarskuwing.
By alle skepsele roep dit verwondering op.
Dis soos wanneer mens aan die kant van die oseaan staan, en voor jou strek die waters uit, tot verby die horison, oneindig ver, en ook onpeilbaar diep.
Ons kan Hom nie bevat nie.
Ons is maar net bewus van ‘n deeltjie.
Wie God is, in soverre Hy Homself kenbaar gemaak het.
Hoe God is, sy karaktereienskappe.
Wat God op aarde doen.
Ja ook sy raadsplan is onnaspeurlik, onbevatlik, alwys en goed.
En dit alles, openbaar die Skrif, het ‘n betekenis vir ons.
Dit laat ons klein voel, maar ook veilig.
Dit stel ons gerus, want Hy die alomteenwoordige slaap nog sluimer.
Dit moedig ons aan om trou ons diens op aarde vervul.
Want Christus is met ons tot aan die voleinding van alle dinge.
Christus besit oneindige mag en heerlikheid.
En ons behoort aan Christus!
Ons kan maar net in verwondering uitroep saam met die Skrif:
“o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom 11:33-36)
Amen.
Votum
Seën
Ps 113:1,2
Gebed
Skriflesing: 2 Kronieke 2:1-6 & 6:1-19
Ps 147:1,2
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 1
Preek
Ps 145:1-3
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ps 33:7,8
Kollekte
Ps 145:8,10,11,12
Seën