God stuur dienaars om sy barmhartige heerskappy te bedien sodat die gemeente hulle aan Hom as die Heilige kan onderwerp

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2019-08-25
Teks: 
Númeri 20:1-13
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

God se barmhartigheid straal oor sy volk Israel op hulle omswerwinge in die woestyn en hulle laaste skof na die beloofde land Kanaan. In ons teks gee Hy weereens vir die smagtende en opstandige, twistende dorstige gemeente en hulle vee water in oorvloed om te drink. Maar wanneer Hy dan as genadige God van sy volk misken word, deur Moses en Aäron in hulle eiewillige optrede, word sy heiligheid aangetas.

Hoe dikwels is onsself soos Moses onder druk teenoor hulle vir wie ons verantwoordelik is - ons wil ons handhaaf en vergeet dan wie ons is en wie God is en wie hulle is vir wie ons gestuurdes van God is, en dat ons ook in ons eie swakheid alleen van sy genade voor sy aangesig kan lewe en ons amp uitvoer omdat Hy ons stuur.

God se barmhartigheid aan sy volk waardeur sy genade in Christus vir ons voorgehou word, haal alle rede tot onvergenoegdheid van ons weg, sodat ons Hom alleen eer en sy heiligheid erken. En dit is vir ons wat sy gelowige gestuurdes is, in verskillende verantwoordelikhede wat ons dra teenoor ander eweneens ‘n oproep tot nougesette diens aan die Heer en nooit mag dit wees dat ons in enige situasie onsself bevorder ten koste van God se eer en ten koste van ons naaste nie.

Tema: God stuur dienaars om sy barmhar-tige heerskappy te bedien sodat die gemeente hulle aan Hom as die Heilige kan onderwerp

  1. God se barmhartige heerskappy oor sy gemeente

God is genadig teenoor sy opstandige volk. Sy werk met hulle is sy voortgaande heilswerk vir hullle deur Christus.

Uit die Skrif is dit duidelik die waters van Meriba – dit is waters van twis, is ‘n plek deur God uitgekies, nie net oppad na Kanaan nie, maar spesifiek oppad na Kanaan en na Bethlehem en Jerusalem en Golgota. God is genadig nie net in die gee van water vir ‘n dorstige opstandige volk nie, maar in die gee van die water van die lewe vir ongehoorsame kinders wat so goed as dood is. God is barmhartig nie net in die gee van ‘n rots waaruit water vir dorstige mense en vee kom nie, om hulle tydelik deur te haal nie, maar in die gee van die geestelike rots Jesus Christus (1 Kor. 10:4) wat sy volk gevolg het en waaruit hulle gedrink het, sodat daar lewe in verbond met hom is.

Die jonger geslag was ook nie beter as die ouer geslag nie, wat vanweë ongeloof in die woestyn gesterwe het.

Die water van die lewe kan nie geskei word van die water van die ewige lewe nie. Ons kyk van die perspektief van die Nuwe Testament op Christus as geestelike rots wat hulle gevolg het – van Eks. 17 Rafidim – tot by die rots van Kades, aan die begin van hulle finale reis na Kanaan, Num. 20, na ongeveer 40 jaar. Die rots was nie maar ‘n tipe van Christus nie, maar Christus self, wat lewe uit die dood gee, wat voorsien. Christus wat hulle gevolg het. God se genade ter wille van Christus is aan hulle ryklik geskenk.

God se voorsorg, sy voorsiening kan ons nie begryp nie indien ons nie sy genade sien nie in Christus se lyding en dood vir sondaars. Ons kan God se leiding van sy uitverkorenes in die Ou Testament nooit losmaak van sy geskenk in Jesus Christus aan ons nie. Daarom is dit nie die taak van die klein herdertjie van die skape wat God hom gegee het om hulle vir die groot herder te laat wei, om nie homself uit frustrasie en moedelose bitterheid in God se genade aan sondaars in te meng en sy eie persoonlike oordeel oor hulle te fel nie.

Die genade van die heilige God aan sondaars staan by Kades voorop. Maak ons iets anders daarvan, tas ons sy heiligheid aan. So maklik verkleineer ons ons God wanneer ons sy genade en sy heiligheid met ons maatstaf langs ons neerlê en ons emosies en onvermoë ons laat lei. Dat ons namens Hom ander wil aanpraat met ons sin vir ons klein regverdigheid.

Die rede is in beide geskiedenisse van Eks. 17 en Num. 20 dieselfde – gebrek aan en smagting na water.  Teen Moses en Aäron en soos in Eksodus 17 het die volk ook in Kades  nie in geloof na Moses en Aäron gekom met ‘n nederige versoek tot God nie. Nee hulle twis met Moses. Soos twee persone in ‘n regsaak, en mekaar voor die regter beskuldig. Asof Moses iets kon doen. Waarom het jy die vergadering van die Here in die woestyn gebring? Sodat ons en ons vee moet sterwe? Die vergadering van die Here noem hulle hulleself en hulle is dit ook. Hulle staan egter nie in gelowige afhanklikheid voor die Here, soos ‘n vergadering van die Here sou pas nie.  Hulle haal die verskriklike geskiedenis van Korag en sy mense wat in Num 16 teen Moses en Aäron gerebeleer het en toe met hulle huisgesinne deur ‘n skeur in die grond ingesluk is op. Hulle het die geskiedenis sekerlik van die voorgeslag gehoor. Maar die aanpak is dieselfde as die van Korag en sy meelopers. Uitdagend stel hulle aan Moses: As ons maar gesterf het toe ons broers voor die aangesig van die Here gesterf het. Nie die natuurlike dood nie, maar dood deur deur die aarde ingesluk te word, of vertering deur vuur, of ‘n plaag deur God, kan ons aan dink. Daarna verlang hulle.

Die nuwe geslag wat deur God gered is van ondergang in die woestyn waarin lede van die volk onnatuurlik gesterf het, begeer nie om verder met God te lewe op die pad na Kanaan nie, maar om te sterwe soos hulle broers destyds. Moses is vir hulle die oorsaak. Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek? Om ons in hierdie woestyn te bring? Uiterste onvergenoegdheid. Soveel so dat daar vir hulle geen uitsig op die lewe met God is nie.

Dors is natuurlik verskriklik en vir ‘n veeboer wat sy diere nie kan laat suip nie, is dit bitter om hulle te hoor blêr vir water. In hierdie situasie plaas hulle skuld op Moses en Aäron maar hulle gee geen skuld aan hulle vaders nie en is self nie bereid om skuld te aanvaar nie. As hulle vaders destyds die woorde van die twee verspieders geglo het, dan het hulle, ouers en kinders lankal die beloofde land ingegaan. Om daar die oes van graan en die vrugte van vy, wynstok, en granaat te geniet, en om genoegsaam water te geniet.

Hulle sonde is ten diepste dat hulle die Here hulle God hulle eintlike Hoof van die tog deur die woestyn nie erken het nie. God was teenwoordig elke tree van die pad. Paulus in 1 Kor, 10 verseker ons, die geestelike rots Christus het hulle gevolg. Moses en Aäron was slegs behulpsaam, instrumente by die uitvoering van God se plan. God het hulle beveel om sy volk die woestyn in te lei. Maar Hy in sy genade het voor hulle uitgegaan, en ‘n geestelike rots wat in lewende water voorsien het hulle gevolg.

Die verslaendheid oor die dood van die plaag in die wonder met die staf van Aäron (hoofstuk 17) wat gebloei het, het nie tot waaragtige bekering gelei nie.

Ons teks verhaal die begin van die laaste been van die woestynreis. Nou lei God sy volk direk op die doel af, wel onder allerlei beproewing soos die gebrek aan water by Kades en die ompad om Edom omdat die koning van Edom hulle deurgang weier selfs nadat hulle oor gebruik van Edom se water wou onderhandel. Die geestelike rots wat hulle gevolg het sou water langs ‘n ompad voorsien.

Ons teks verhaal die laaste gedeelte van Numeri. God het die volk vir 38 jaar deur die woestyn van die Sinai skiereiland laat swerf. Hulle was van alle skyn en voorgee gestroop. Hulle was voluit met God se genadige sorg gekonfronteer, met sy heilige teenwoor-digheid in hulle hele bestaan. Daar was geen uitsig vir die ouer geslag om die land Kanaan binne te gaan nie. Weens hulle ongeloof en murmurering op grond van die verslag van die verspieders sou hulle hele geslag in die woestyn sterwe. Mirjam, suster van Moses was die laaste van hierdie geslag. Nou na veertig jaar, die eerste maand van die veertigste jaar is die keerpunt van Israel se lot. En bewys van God se eindelose barmhartigheid.

Daar is weer lig. Ons word nou ook baie meer volledig ingelig oor die reis wat nou regstreeks na Kanaän voer, as die omswerwinge oor die vorige 38 jaar. Dit gaan deur na hoofstuk 34, asook die 36 hoofstukke van Deuteronomium.

Die verhaal van ons teks en die verhaal van water uit die rots in Eksodus 17:1-7 in die woestyn Rafidim stem in ‘n aantal opsigte ooreen. Maar dit is nie een geskiedenis met twee interpretasies nie. By Kades, dit is die geskiedenis van Numeri 20, het tog iets anders gebeur. Want dit is die verhaal van God wat sy volk voortlei van een stadium (Rafidim)na die volgende(Kades) na die groot dag van Christus. Christus wat nog moes kom maar ook reeds was. Soos ons in 1 Kor 10:1-4 gelees het: ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.

God het sy volk uit slawehuis uit en weggelei (naamlik uit bose Egipte). Na Kanaan toe waar die rus geniet sou word in die uitsig op Christus, die Verlosser. Het die volk wat onder God se leiding oppad was na die rus, nie geleer uit die eerste Meriba, die eerste waters van twis? Dat ten spyte van hulle versoeking van die Here Hy aan hulle ryklik uit genade voorsien het, en so gedoen het vir veertig jaar in die woestyn nie? Volg hulle nou in die voetspore van hulle vaders byna 40 jaar gelede? Waar is hulle verwagting van die Here? Maar wanneer Moses en Aäron God aanroep oor die volk se murmurering teen hulle vanwee die dors, verskyn Hy in sy heerlikheid aan hulle en stuur hulle na die rots om aan die volk oorvloed van water te gee.

  1. God se heiligheid word misken deur die dienaars wat hulleself moet red

Soms vaar gelowiges teen mense uit, maar dan is hulle in werklikheid ongelukkig met die wyse waarop God hulle lei en versorg. Dit is makliker om mense uit te sonder, as om voor God ons sondige begeertes en onvermoë in ons verhoudings met ander uit te stort en die saak waarom dit gaan op die tafel te sit.

Moses en Aäron is so deur die volk verteken. Karikature van gemaak. Net soos wat Korag en sy meelopers gedoen het teen Moses en Aäron. Asof die vergadering gedienstig aan die Here is. Jammer dat die vergadering hierdie mislukkings in Moses en Aäron moet hê, dwase wat nie opgewasse vir hulle taak is nie.

Maar hoe dwaas is hierdie volk nie. Hierdie nuwe geslag wat van Egipte niks weet nie, behalwe oorlewering van die vorige geslag.

Ons lees dat Moses en Aäron van die twistende vergadering af weggegaan het na die ingang van die tent van samekoms en op hulle aangesig geval het. Hulle het voor die Here in die voorhof gekom. Sy heerlikheid gesoek. Dat Hy hulle help. En sy heerlikheid het aan hulle verskyn. Hulle het die saak in sy hande gegee. In die geskiedenis voorspel die sigbaar word van die heerlikheid van die Here niks goeds vir die volk, dit was verskyning van sy toorn. Maar hierdie keer kom God nie om die volk te verskrik nie. Hy maak selfs geen verwyte oor hulle ondankbaarheid en wederstrewigheid nie. Al wat Hy sê is dat Moses en Aäron die vergadering by die rots byeen moes laat kom en die rots aanspreek en die rots sou vir die volk en vee water te voorskyn bring.

Die wyse waarop Moses water uit die rots te voorskyn moes laat kom is hier van beslissende belang. God se oordeel sou kon losbrand teen die ondankbare en ongeduldige vergadering. Miskien het Moses en Aäron dit ook verwag. Maar wat volg is openbaring van God se genade. Sonder enige verwyt. Die Here het met Moses gespreek en gesê: Neem die staf…Waarskynlik Aäron se staf. Wat bewaar moes word as ‘n teken vir die wederstrewiges. Saam met Aäron moet hy die gemeente byeenroep. En die rots aanspreek.

Moses word spesifiek opgedra om die rots aan te spreek. Op sy woord sal die rots water gee. Aan die vergadering. Dus aan die volk as geheel.

In Eks. 17 was Moses opgedra om die rots te slaan. Moes hy dan nie maar dieselfde hier doen nie? Het God nie gesê nie: Neem jou staf. Ja. Maar met die staf in die hand moes hy spreek. Verder mag hy dit nie gebruik nie. Aäron staan Moses by. Hier moes dit nie gaan om die krag van die slag nie, maar die woord. Dit beteken Moses moes staan in die vaste geloof, afhanklik van God en vertrouend op God. Dat die Here se woord deur hom tot die rots gespreek, oor soveel mag beskik dat daardeur die rotswand gedwing word om te ontsluit en so die water wat daaragter vergader was, of daaragter gestroom het, uitgestort word vir die dorstige en smagtende Israel en hulle diere.

Ons lees Ps 33:6-9  Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër. Hy versamel die waters van die see soos ‘n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers.  Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees; want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.

Jes. 55: 11  so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

Moses word hier op byna 120 jarige ouderdom deur die Here op die proef gestel. Na soveel jare van troue diens. Daar is die pragtige getuienis Num. 12:3  Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem. Num 12:7  So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou.

Om ‘n amp te beklee soos waartoe Moses geroep was, is ‘n besondere voorreg. Hy het oud geword in die Here se diens. Maar dit beteken nie hy kan geen kwaad meer doen nie. Sy eie hart volg. Verbitterd raak. Deur sy emosies oorval word. Verlei word tot sonde.

Gevaar is altyd dat die betrokke persoon, beklee met die amp, van God af, die ervaring en taak wat hy in die loop van jare verkry het of gehad het, nie aanwend uitsluitend tot die verheerliking van God nie, sy opdraggewer, maar dat hy daarby ook eie aansien en eer by die mense moet bevorder.

Hy bly ampsdraer, te alle tye onderworpe aan die Woord en aan die God van die Woord. Ongeag of dit hom pas of nie. Ongeag of hy lei onder die diens in die amp of onder die mense wat hy bedien.

Op sy leeftyd kon hy toon dat hy in sy ouderdom dit durf waag met die woord van God alleen, omdat God wat hy vertrou by magte is om deur ‘n enkele woord ‘n rots oop te skeur en water van lewe te gee. Die vashou van die staf sou maak dat God se woord agter die woorde van Moses staan, dit gaan om God wat spreek en dit gebeur.

Moses het die staf voor die aangesig van die Here geneem en beide Moses en Aäron het die gemeente voor die rots laat bymekaarkom. Soos die Here hulle opgedra het. Maar dan struikel Moses. Aäron keer hom nie. Moses rig sy woorde tot die kinders van Israel in plaas van tot die rots. En daarmee gaan hy teen God se opdrag in. Hy takel die murmerende twisgierige volk behoorlik. Jy kan sê hy sien hulle reg. Vers 10: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei? Moses neem hier die woord en laat luister die volk wat hy op sy hart het. Moses en Aäron stel hulleself hier op die voorgrond. Hulle rig alle aandag op hulle persoon, as die leiers wat deur God beproef word, wat dag vir dag met so ‘n ellendige klomp mense moet optrek. Laat hulle voel hoe swaar hulle as leiers trek….Maar hulle laat daarmee na om die Heilige te laat sien wat barmhartig is teenoor sy kinders. Hulle vertroebel die volk se sig op God as Heilige.

Bediening van die Woord, diens aan die Woord, word vervang met die lug van eie griewe. Dit is ‘n blywende waarskuwing aan God se dienaars wat geroep is om Christus se gemeente te bemoedig en te vertroos en te vermaan. Bediening is nie bediening van eie gevoelens en eie oplossings nie. Saam met die gemeente staan die ampsdraer onder die hoof, Jesus Christus. Hy bedien die regering en sorg van Christus, Christus staan met sy sorg voor hom en voor die gemeente. Hy gaan nooit in Christus op nie en Christus gee nooit sy gesag af nie.

Maar ons sien Moses se woorde tot die volk het hy opgevolg met die slaan van die rots met sy staf.

Ons lees vers 11: Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee.

Tweemaal. Dit is niks minder as ongehoorsaamheid. Teensinnigheid. Wrewel teen hierdie mense wat dit vir hom so moeilik maak.Maar nou.

Daar kom tog wel baie water uit die rots. Die vergadering met hulle troppe vee kon drink. Die Here bewys nogeens sy genade. Hy is barmhartig en lankmoedig. Die volk het dit nie verdien nie. Nooit het hulle dit verdien nie…….

God is genadig ten spyte van Moses en Aäron. Terwyl God hulle sy goedheid wil toon, wil Moses met sy staf tot hulle deurdring. Hy slaan die rots maar eintlik moet hulle weet dat hy vir hulle op is. Die slaan op die rots was vir die volk bedoel, terwyl God hulle wil lawe en hulle dors les.

  1. God straf die dienaars vir hulle ongeloof

Die Here is toornig op sy dienaars. Moses en Aäron –  Vers 12: Omdat julle in My nie geglo het nie om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.

Die Here reageer om die heiligheid van sy Naam te bewaaak en te bevorder. Sy eer en heiligheid het in gedrang gekom. Hy is nie in sy heiligheid geëer deur sy dienaars nie, wat sy woorde gaan vervang het met Moses se sweepslae op die volk. Hy het wel sy heiligheid openbaar deur die veroordeling van sy dienaars se ongelowige optrede. Want deurdat Moses die Here se opdrag probeer verbeter het om homself te handhaaf, het hy sy gebrek aan vertroue op die Here as sy Redder openbaar. Die gemeente was nie bymekaar geroep om die man Moses te leer ken nie, maar om die Here openbaar te sien in die heerlikheid van sy genade. Want die rots was Christus.

God het vir Moses en Aäron gestraf. So het Moses dit pynlik ervaar. Deut 3:23-28  Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê:  Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U?  Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon!  Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.  Klim op die top van Pisga en slaan jou oë op na die weste en na die noorde en na die suide en na die ooste, en bekyk dit met jou oë; want jy mag oor hierdie Jordaan nie gaan nie.  Gee dan bevel aan Josua, en versterk hom en bemoedig hom, want hy sal voor hierdie volk uit deurtrek, en hy sal hulle die land wat jy sal sien, laat erwe.

Psalm 106 stel dit reguit. Verse 32-33: Hulle het Hom ook vertoorn by die waters van Mériba, en dit het met Moses sleg gegaan om hulle ontwil;  want hulle was wederstrewig teen sy gees, sodat hy onverskillig gepraat het met sy lippe.

In sy verbittering teen die volk het hy onnadenkend gepraat. In woede uitgebars. Die rots twee maal geslaan. En God verwyt Moses en Aäron dat hulle Hom nie geglo het nie. Hulle het geen vertroue gehad in God se wysheid en leiding van hierdie hardnekkige volk nie. God het hier op die vooraand van die voortgang na Kanaan as die Heilige oor sy volk opgetree, maar sonder om teen hulle in toorn uit te vaar. Moses en Aäron moes met die staf wat gebloei het, teken van God se genade, na die rots gaan en daar tot die rots spreek.

Vanuit 1 Kor 10 verstaan ons dit dat die Here sy volk se murmurering en twis oorgesien het. Sien ons die eenmalige slaan van die rots te Rafidim in Eksodus 17 in opdrag van die Here as die regsgrond van God se genade aan sy opstandige en skuldige volk. Christus moes eenmaal geslaan word aan die kruis, sodat God in verdraagsaamheid die sonde kan verbygaan. Sonder om aan sy reg tekort te doen. So kom rots en staf tot sy reg. Die staf van Aäron sien op die seënende priesterskap. Wat ons die vrug van Christus se versoening laat geniet. En die rots, dat vanuit die slaan van Christus eenmaal, maak dat Hy nou vir altyd die lewende water is vir sy volk. Beide wys op die oorvloed van die seën van die Gees as vrug van Christus se hoëpriesterlike bediening op grond van sy offer. Vanaf die waters van Rafidim het Christus die volk as rots van lewende water gevolg

Maar kyk die ongeloof van Moses en Aäron. In plaas van spreek, het Moses geslaan, in plaas van die seën van die genadige God bedien, kry verbitterde Moses en Aäron die aandag van die volk deur die slaan van die rots in driftigheid. Asof ‘n tweede offer van Christus noodsaaklik sou wees. Rafidim het gewys op die water van die lewe uit die geslaande Christus. Kades het gewys op die blywende effek deur die ewige bediening van Christus se hoëpriesterskap.

Die middelaar Moses was nie Christus nie. Alleen maar skaduwee. Maar nou het hy verskriklik gefaal. Die glans van goddelike genade het op die volk gelê. Maar deur Moses se amp sal Israel nie in Kanaan kom nie. En die gevolg van die sonde van die volk is dat hulle sonder Moses die land sou binnegaan. Hulle moes leer selfs op Moses kon hulle nie steun nie, maar op God en sy genade alleen.

En dit moet ons daagliks uit God se Woord leer: gemeente en ampsdraers, ons wat verantwoordelik is vir ander en hulle wat ons leiding volg. Op God alleen, op Christus kan ons steun.

Laat ons mekaar aan ons barmhartige en heilige God hou. En laat ons altyddeur gelowig drink van die geestelike rots, Jesus Christus, ons Heiland.

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 107:1

Gebed

Skriflesing: 1 Korinthiërs 10:1-13, Númeri 20:14-21

Ps 78:1,2

Teks: Númeri 20:1-13

Preek

Ps 149:1-2

Gebed

Apostoliese Geloofbelydenis (SB 71)

Kollekte

Ps 23:1-3 (eerste beryming)

Seën