Nie ‘n Babelstoring nie, maar ‘n Jakobsleer…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2019-10-06
Teks: 
NGB Artikel 19
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente, broers en susters,

“Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik…” – só het die mense in Genesis 11 vir mekaar gesê. Seuns en dogters, julle onthou mos nog hierdie verhaal? Die onvoltooide en verlate toring van Babel was – en is vandag nog steeds – die stille getuienis van die mens se strewe om na die hemel te reik, om soos God te wees. Maar ag, hoe indrukwekkend hierdie toring van onder-af – in mense-oë – ook al gelyk het, uiteindelik was dit maar ‘n onbeduidende poging om die afstand tussen die aarde en die hemel te oorbrug. Hierdie toring was so klein en pieperig dat die oral teenwoordige God selfs uit die hemel moes neerdaal om dit te kan bekyk (Gen. 11:5). En sonder enige seremonie maak God ‘n einde aan hierdie projek; Hy verstrooi die mensdom oor die hele aarde – nie omdat Hy bang was dat hulle projek sou slaag nie, maar omdat Hy geweet het dat die oorbrugging, die verbinding, nooit van onder-af sou kon kom nie. Nee, die verbinding tussen hemel en aarde, die verbondenheid tussen God en mens, moes van bo-af kom!

Tema: nie ‘n Babelstoring nie, maar ‘n Jakobsleer…

[lees Genesis 28:10-15]

“Daarop het Jakob by ‘n plek gekom waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder” (Gen. 28:11). Broers en susters, dink u dit is ‘n blote tydsaanduiding wat ons hier vind – die son het onder gegaan, dit is nou bedtyd? Met die eerste oogopslag sou ‘n mens waarskynlik so dink. En ons moet natuurlik altyd oppas om in allerhande gewone dinge waarvan die Bybel praat, ‘n dieper geestelike betekenis te wil vind, want dan oorvra ons die Skrif. En tog kan ons sê dat hierdie sonsondergang meer inhou as ‘n gewone tydsaanduiding (ek sal later die rede hiervoor gee). Ons kan sê dat hierdie sonsondergang tekenend was van wat in Jakob se lewe aan die gebeur was…

Tot op daardie stadium het Jakob ‘n goeie lewe gehad. Sy pa was ‘n vermoënde man, en Jakob het geen sorge oor lewensonderhoud en veiligheid gehad nie. Hy was die oogappel van sy ma, Rebekka, en kon haar om sy pinkie draai. Hy het duidelik ‘n voordeel gehad bo sy tweeling-broer Esau… in elk geval by hulle ma. En belangriker as dit alles: Jakob was die bevoorregte draer van God se belofte – hy sou die seën ontvang, hy sou die hoof van die familie word. Dit is wat God gesê het. En toe God, na Jakob se sin, effens te lank vat om hierdie belofte tot uitvoering te bring, het hy dit eenvoudig deur sy eie lis gevát (u onthou mos nog die pot met lensiesop?). Ja, dít was Jakob, die man met die plan, die man van lis, die bedrieër (dis mos wat sy naam beteken). Sy lewenspaadjie was netjies uitgelê, en hy het nie geskroom om hand by te sit met sy eie plannetjies nie…

Maar, gemeente, dit is ook wat hom uiteindelik in die moeilikheid sou bring. Want vir ‘n tweede keer wou Jakob nie wag op God se tyd nie. Deur homself voor te gee as Esau, het hy die eersgeboorte-seën met lis van pa Isak afgeforseer. En hy het sy seën gekry, o ja, maar die prys was hoog. Wat ‘n seën moes gewees het, het ‘n probleem geword. Die verhouding met sy pa het seergekry, broer Esau wou hom doodmaak, en sy ma kon hom nie langer help nie. Dit word so erg dat Jakob moet vlug. Onder die voorwendsel dat hy by die ou familie van Abraham, waar ook Rebekka vandaan gekom het, ‘n vrou moes gaan soek, vertrek Jakob halsoorkop na Laban in Haran. Onthou u nog: Eliëser, Abraham se kneg, het jare gelede presies dieselfde reis onderneem om vir Jakob se pa, Isak, ‘n vrou te gaan soek (Genesis 24). Die geskiedenis herhaal homself. Maar waar Eliëser dit met ‘n karavaan vol met voorraad en rykdom gedoen het, kry Jakob slegs die broodnodige saam. Voor hom lê ‘n reis van omtrent ‘n duisend kilometer, vol met gevare van wilde diere en rowers. Malligheid, om dit op jou eie te wil doen. Maar Jakob het nie werklik ‘n keuse nie. Hy moet gaan. Die son het gesak… in Jakob se lewe.

Daardie nag, waar hy onder die oop hemel gelê en slaap het, kry Jakob ‘n droom. En hierdie droom is nie maar net die gevolg van Jakob se onrustige gees nie; nee, in hierdie droom spreek Gód tot Jakob. Jakob sien ‘n leer wat op die aarde opgerig is, en waarvan die spits tot aan die hemel reik. Letterlik lees ons in die Hebreeus dat daar ‘n leer na die aarde toe geplaas word. Die inisiatief kom dus van bo-af. Die kommunikasie tussen hemel en aarde word van God se kant af geïnisieer. God lê genadiglik ‘n verbinding vanaf die hemel na Jakob se donker bestaan op aarde. Maar daar is meer…

Jakob sien ook nog engele wat langs daardie leer opklim en daarlangs neerdaal. Deur middel van sy engele wys God dus dat Hy nie slegs ‘n verbinding gelê het nie, maar dat Hy via daardie verbinding ook intens betrokke is by Jakob se bestaan. Ons kan sê dat die engele as’t ware aan God se betrokkenheid gestalte gee. En kyk hoe wonderlik is dit: hierdie engele begin nie bo-aan die leer nie; nee, ons lees dat hulle langs die leer opgeklim en neergedaal het. Eers opgeklim, en dan neergedaal – hulle was dus alreeds in Jakob se lewe aan die werk, selfs voordat hy hierdie droom ontvang het. Vanuit Jakob se lewe klim die engele op om alles wat in sy lewe aan die gebeur is voor die Here te bring, en van bo-af daal hulle neer om God se betrokkenheid by Jakob se lewe sigbaar te maak. En die boodskap vir Jakob is baie duidelik: jy hoef nie self jou lewe te bestuur nie, Jakob. Jy het in elk geval al agtergekom dat dit nie werk nie! Nee, in die nag van jou lewe, met net ‘n klip as kussing, mag jy weet dat die engele jou hele lewe voor God se aangesig bring, en dat hulle vervolgens God se bevele aangaande jou lewe getrou sal uitvoer. Jou bestaan het God se volle aandag en sorg. Jy is nie alleen nie.

En dan kom God ook nog self aan die woord… op ‘n verrassende wyse. Hy rig Hom vol liefde en genade tot Jakob. Jakob, die bedrieëer. Jakob, wat homself aan God se seën vergryp het omdat hy nie geduldig genoeg was om op God se tyd te wag nie. Jakob, wat nou met die gevolge van sy dade moet worstel. Jakob, wat in alle opsigte verkeerd gehandel het. En God kom soek hom op, in sy lewensnag, sonder verwyte. God weet baie beter as Jakob hoe verlore hy is, daar op sy klip. ‘n Vlugteling, ‘n balling. Hy het alles verloor.

Maar in hierdie duister nag laat God eenvoudig sy liefde vir Jakob stroom. Hy maak Homself bekend as die God van Jakob se vader, Isak, en van sy oupa, Abraham. Hy maak Homself bekend as die God wat getrou is aan die verbond wat Hy met Abraham en sy nageslag gesluit het, en waarvan Jakob ook deel was. God betoon sy trou, nie omdat Jakob van nature enige goeie eienskappe het nie, maar eenvoudig omdat God so getrou is. Wat ‘n wonderlike sekerheid moes dit nie vir Jakob gebied het nie. God het hom gekies, en daardie keuse gaan Hy nie omdraai nie. En die seën, wat Jakob homself op so ‘n vieslike manier toegeëien het, word nogmaals deur die Here herhaal – rojaal en sonder voorwaardes: “Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee… en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word” (vers 13b en 14b).

Gemeente, is dit nie verstommend nie? Wat ‘n genade en liefde en trou! Die betroubare God neem die bedrieër, die doen-dit-self-spesialis, Jakob, onder sy vlerk wanneer die nag sy lewe duister gemaak het, wanneer Jakob nêrens meer het om na toe te gaan nie. Hy kan nie terug nie, want agter hom is Esau wat hom wil doodmaak; vorentoe is ook nie so rooskleurig nie, want daar wag Laban, die man wat hom in talle opsigte sou uitbuit. Maar dan sê God vir Jakob: “Deur hierdie leer het Ek my hemel onlosmaaklik met jou aarde verbind! En juis daarom sal Ek jou nie verlaat nie! Ek is met jou, Ek sal jou bewaar, Ek sal jou terugbring, Ek sal doen wat Ek gesê het!” Jakob se droom-leer is ‘n verstommende prentjie van God se genadige ingrype in die lewe van ‘n sondige mens!

[Nou goed, om dit nou nader aan artikel 19 van die NGB te bring, kom ons lees saam Johannes 1:48-52]

Broers en susters, in hierdie gedeelte vind ons nie ‘n leuenagtige Jakob nie, maar eerder ‘n opregte Israeliet, ‘n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie (vers 48). Sy naam is Natanael. Hy ontmoet vir die eerste keer die Here Jesus. En wanneer Jesus vir hom wys dat Hy hom alreeds geken het nog voordat Hy hom gesien het, dan spreek Natanael hierdie pragtige belydenis uit: “Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel” (vers 50). Natanael kyk met ontsag op na hierdie Jesus wat geweet dat hy onder die vyeboom gesit het, selfs nog voordat hulle ontmoet het.

Maar dan wys Jesus vir Natanael dat hy nog méér sal sien: “Jy sal groter dinge sien as dit”, sê Hy vir hom in vers 51. Natanael gaan nie slegs die Seun van God sien nie, hy gaan – hoe vreemd dit ook mag klink – ook die Seun van die mens sien: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopen sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens” (vers 52). Die Seun van God, wat in sy goddelike alwetendheid vir Natanael onder die vyeboom sien sit het, Hy is tegelykertyd ook die Seun van die mens wat op aarde onder mense kom woon het.

En juis op dié manier, broers en susters – en hier lê die kruks van die preek – juis in die vereniging van die Goddelike en die menslike natuur in een Persoon, juis só is Jesus Christus die vervulling van Jakob se droom-leer! Jesus Christus is sélf die Jakobsleer, want – sê Hy self in vers 52 – die engele sal op die Seun van die mens opklim en neerdaal! Op die Seun van die mens! As God en mens in een Persoon, as Een wat 100% God is maar daarby ook 100% mens, is Hy die Een wat die verbinding kom lê tussen God en mens. Hy is die Een wat die afstand tussen God en mens, wat die kloof van menslike sonde en skuld, kom oorbrug het. Deur Hom het God sy hemel en ons aarde met mekaar verbind.

Ja, gemeente, Jesus Christus is die leer. Die leer staan met sy onderkant op die aarde, maar sy bopunt reik tot in die hemel. So is Christus, hoewel Hy op aarde gestaan het in die menslike vlees, nogtans die allerhoogste God. Hoewel Hy nooit opgehou om God te wees nie, het Hy nogtans op aarde gestaan as ware mens. Of soos wat Jesus self kort daarna in Johannes 3:13 sal sê: “Niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.” Dit het God en mens in een Persoon gevat om God en mens weer met mekaar te verbind, om ‘n lugbrug te vorm tussen die hemel en die aarde! En selfs die dood kon hierdie leer nie breek nie!

En, gemeente, hierdie leer is gegee om gebruik te word; hierdie leer is bedoel vir lewendige verkeer tussen hemel en aarde! Net soos wat die engele op hierdie leer opgeklim en neergedaal het, so mag ons ook deur Jesus Christus met vrymoedigheid na God toe gaan, want Hy is die enigste weg na God toe (Joh. 14:6). En dit is langs dieselfde leer dat God ook weer by ons kom, want God gaan slegs op een manier met sondaars om, en dit is deur Jesus Christus. En soos wat God bo-aan hierdie leer gestaan en al sy beloftes aan Jakob gemaak het, só kom God se beloftes van genade en vrede na ons toe slegs in Jesus Christus, want in Christus is al God se beloftes ja en amen. Alle goeie dinge kom na ons toe deur Jesus Christus, ons Jakobsleer. En omgekeerd, wanneer ons bid, dan mag ons met daardie selfde leer van beloftes na God toe opklim. Wat Jakob gedroom het, het ‘n werklikheid geword in Jesus Christus – hierdie Seun van die mens is tegelykertyd die Seun van God, en sodoende my en jou Verlosser! In die nag van sonde en gebrokenheid is Hy die verbinding tussen hemel aarde, wat aan ons die lewe gee!

[Ons gaan nog ‘n slag terug na Jakob; kom ons lees saam Genesis 32:24-32]

Ons is nou al baie jare later (twintig jaar om presies te wees – Gen. 31:41) – Jakob het intussen tweemaal sewe jaar vir Lea en Ragel gewerk. Hy het baie kinders van die Here ontvang; hy is ryk aan vee en ander besittings. Waar hy met leë hande by Laban opgedaag het, gaan hy nou as ‘n ryk man terug na die beloofde land, volgens God se belofte. Maar ons kry nog nie die indruk dat daar in Jakob as mens iets verander het nie. Dit is asof hy nog steeds die man met die plan is. Dit is asof hy steeds self die dinge wil reël. Dink maar net aan sy hantering van die saak met die kleinvee – hoe hy Laban bedrieg het met die gestreepte, gestippelde en bont kleinvee. Dink ook aan sy plannetjie om aan Esau se woede te ontkom deur sy laer in twee dele te verdeel (Gen. 32). Dit is nog maar steeds die ou Jakob, die bedrieër, wat op sy eie voetspore terugkeer na waarvandaan hy twintig jaar gelede gekom het. Sy omstandighede het positief verander, maar die mens Jakob was nog steeds dieselfde.

En dan, wanneer Jakob op die punt staan om weer die beloofde land binne te trek, besluit die Here: dit moet verander. Nadat Jakob sy hele gesin en al sy besittings deur die Jabbok rivier laat trek het, bly hy alleen in die nag agter. En dan begin daar ‘n Man met hom worstel. ‘n Nagtelike geveg ontstaan. Wie is hierdie Man? Wel, uit die later verse blyk dat hierdie man God self is. En wanneer ons Hosea 12:4 en 5 lees, dan word dit self nóg duideliker met wie Jakob presies geworstel het; ons lees daar: “… in sy manlike krag het hy met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek.” Die Engel – dit is Jesus Christus in sy Ou Testamentiese gestalte. Waarmee ons dus hier te make het, is ‘n geveg tussen Jakob en Jesus, ‘n geveg tussen die man wat van die leer gedroom het én die leer self! Jakob veg met die leer! En in hierdie geveg sien ons dat die Engel Homself doelbewus by Jakob aanpas, sodat Hy en Jakob as’t ware op gelyke vlak met mekaar kan meeding. Die hele nag deur worstel hulle so, menslike krag teen aangepaste Goddelike krag. En Jakob kan homself oënskynlik goed handhaaf teenoor hierdie opponent; sy menslike krag kom goed te pas. Maar uiteindelik is dit die Engel wat met een hou die geveg beslis – Hy slaan Jakob op die heupbeen, sodat sy heupbeen uit lit raak en Jakob permanent mank word.

En, broers en susters, dit is eers wanneer Jakob se natuurlike krag op dié manier uitgeskakel word dat sy geloofskrag ingeskakel word. Dit is eers wanneer Jakob swak word, dat hy werklik sterk word! Jakob oorwin uiteindelik nie deur sy natuurlike krag nie, maar deur sy gelowige gebed: “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy dat U my seën” (vers 26). Jakob erken nou vir die eerste keer werklik dat hy nie op sy eie krag kan staatmaak nie, dat hy nie deur sy eie plannetjies kan oorwin nie, maar dat hy die Here nodig het. Jakob leer ware afhanklikheid en oorgawe. En dit was nou presies die doel van die geveg – die Engel veg met Jakob, omdat Jakob nog steeds nie geleer het om die leer, wat God twintig jaar gelede in sy droom vir hom aangebied het, in geloof te klim nie. Ten spyte van die leer waardeur God hemel en aarde verbind het, het Jakob nog nie sover gekom om sy oë werklik na die hemel toe op te hef en van God se genade te lewe nie. En dit is presies wat nou wel in hierdie geveg gebeur.

Jakob leer om homself oor te gee aan die Een wat groter is as hy, aan die Een wat hom met een hou mank gemaak het. En wanneer dít gebeur, dan word Jakob se naam verander – hy sal nie meer Jakob, bedrieër, genoem word nie, maar hy sal Israel genoem word. Want hy het geworstel met God en met die mense en het oorwin – nie deur krag of deur geweld of deur bedrieëry nie, maar deur geloof! Jakob het gewen, want hy het geglo! Jakob het as mens verander; hy het gelowige oorgawe geleer aan die God van die beloftes. Die verandering van sy naam is die bewys dat sy menswees verander het – nie meer plannetjies nie, nie meer self-doen nie, maar die Here alleen! Op met die leer, net soos die engele, na God toe: Jakob se hulp is nou in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het!

En lees dan hierdie wonderlike woorde in vers 31: “En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pniël verby was…” Onthou u nog hoe die son in hoofstuk 28 oor Jakob se lewe ondergegaan het, en hoe ons daarin ‘n geestelike betekenis gesien het? Wel, hier het ons die bewys dat ons reg was toe ons dit gedoen het, want hier gaan die son weer vir hom op! Baie spesifiek word daar gesê: die son het vir hom opgegaan! Deur hierdie worsteling en die gevolglike geloofsoorgawe word Jakob deur die Here uit sy lewens nag gebring in die nuwe dag. Die nuwe dag van geloof! Ook al was hy mank aan die heup, hy was kragtig in die gees! Jakob is nou gereed om op ‘n nuwe manier die land van die belofte binne te gaan.
Gemeente, op ons eie manier moet elkeen van ons ook hierdie bekering deurmaak. Jesus Christus word vir ons aangebied as die Middelaar tussen God en die mens. Hy is op ‘n onverklaarbare wyse God en mens in een Persoon, en op dié manier is Hy die leer wat hemel en aarde met mekaar verbind; Hy is die leer wat my aan God verbind. Maar, broers en susters, dit is nie net ‘n dogma nie. Hierdie leer, wat deur God opgerig is, is nie maar net vir die versiering nie. Hierdie leer is daar om beklim te word – op en af.

Almal van ons verkeer van nature in die nag van hierdie lewe; in Adam het vir almal van ons die son onder gegaan. God het sy vriendelike aangesig nie meer oor ons laat skyn nie, maar dit eerder van ons af weggedraai. Maar by hierdie Jakobsleer lê die antwoord vir elkeen wat deur die wêreld-nag omring word. Sonder hierdie Jakobsleer sal ons in die donker bly – ook al het ons hoeveel self bedinkte plannetjies, ook al kan ons onsself hoe mooi deur die moeite van hierdie lewe heen lieg en bedrieg, net soos Jakob. Sonder hierdie leer bly dit donker. En daarom moet ons leer om onsself aan Jesus Christus oor te gee. Ons moet leer om in geloof en oorgawe hierdie leer te klim. Oorgawe, volledig! En ek weet die lewe kan soms duister wees, ek weet dat daar dinge in ons lewens kan gebeur wat ons laat voel asof ons in ‘n pikdonker plek ons weg probeer vind. Ek weet dat hierdie duisternis ons soms so in beslag neem dat dit kan voel asof daar nie tyd is om die leer te klim nie. Maar hoor die stem van die God wat belowe: “Ek sal met jou wees, Ek sal jou nie verlaat nie! Deur Jesus Christus is jy en Ek onlosmaaklik aan mekaar verbonde. En Ek gee my engele aangaande jou bevel om jou te bewaar op al jou weë (Ps. 91:11).”

Een Persoon, twee nature. Een Persoon, met daarin die vereniging van die Goddelike en die menslike natuur. Dit is geen koue leerstuk nie, maar dit is die leer wat my in verbinding bring met die hemel. En só mag ek uitsien om die beloofde land binne te gaan, waar hemel en aarde volmaak herenig sal word. “En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.”

Amen

Liturgie: 

Voor psalm: Ps. 46:1, 4, 6;

Votum en seëngroet;

Sing: Ps 126:1-2;

Gebed;

Teks: NGB art 19;

Preek;
Lees tydens preek: Genesis 28:10-15; Johannes 1:48-52; Genesis 32:24-32;

Amenlied: Ps. 20:1, 2 en 4

Gebed;

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte;

Slotsang: Ps. 42:5 & 43:3;

Seën