Preek: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 2
In artikel 2 van die NGB word saamgevat wat die Skrif ons leer oor hoe ‘n mens sy God kan ken.
Op twee maniere, word dit saamgevat.
Ons fokus vanaand op die eerste manier, die eerste middel.
Kom ons staan eers stil by die woordjie ‘middel’.
Want die NGB skryf: ons ken Hom deur twee middele.
Ek wil dit verduidelik met ‘n voorbeeld.
Sê nou maar ‘n familielid van jou, ‘n kind, of ‘n broer of suster, woon oorsee.
Is daar ‘n manier, is daar middel, waardeur jy daagliks kontak kan hê?
Gelukkig, daar is ja.
Vroeër kon mens deur middel van briewe kontak met mekaar onderhou.
Mens kon ook bel.
Deesdae is daar nog meer middele.
Mens kan byvoorbeeld Skype.
Mens kan whattsapp of e-posse stuur.
Daar is dus verskillende middele waardeur mens kan kommunikeer met iemand wat oorsee woon.
Met ‘n middel soos Skype kan mens selfs mekaar sien.
Tog is die middel, al is dit tegnologies hoe gevorderd, nog steeds nie op dieselfde vlak as die werklikheid nie.
En daarom sit die vliegtuie vol, omdat mense graag hulle familie en geliefdes nog steeds in lewende lywe wil sien, vir mekaar omhels, en in werklikheid mekaar se nabyheid ervaar.
Tema: Die Goddelike stem wat klink in die loflied van die skepping
- In sy genade klink God se stem deur middel van die skepping
- In sy opstand ignoreer die mens God se stem
- In sy genade klink God se stem deur die middele
Nou die vraag waarmee artikel 2 van die NGB homself besig hou, is hoe die kommunikasie met God verloop.
Hoe is daar wedersydse kommunikasie tussen ‘n mens en God?
En artikel 2 vat dan die onderrig van die Skrif saam, oor hoe die kommunikasie van God se kant na mense toe plaasvind.
Op twee maniere.
Nou wat hieraan voorafgaan, is ‘n ander werklikheid, wat ook in die Skrif geopenbaar word.
Naamlik die feit dat daar in die hede nie meer onmiddelikke kommunikasie tussen God en mens kan wees nie.
Die woordjie onmiddelik wil sê: sonder ‘n middel.
Dit wil sê: Direk, oog in oog, soos wanneer jy letterlik na jou oorsese familie toe reis en nie deur middel van iets anders met hulle kommunikeer nie.
Onmiddelike kontak tussen God en mens is nie meer moontlik nie.
Nie dat dit nooit die geval was nie.
Dit openbaar die Skrif ook aan ons.
In die paradys, voor die sondeval, was daar onmiddelike kommunikasie tussen God en mens.
God en Adam en Eva het as ’t ware saam deur die tuin gewandel.
Met die sondeval het daar egter verandering in hierdie situasie gekom.
Die mense is uit die paradys verdryf.
God wat heilig is, en geen onreg kan verdra nie, is soos ‘n verterende vuur vir alles wat sondig is.
Dit was vir die mens se eie beswil dat daardie direkte onmiddelike kontak met God verbreek is.
Geen mens, wat sondig is, sal dit meer oorleef nie.
In sy genade het God egter nie die kontak met die mens volledig verbreek nie.
Sedert die sondeval is daar, soos die NGB noem, steeds twee middele waardeur God duidelik met die mens kommunikeer.
Tussen hakies, al behandel die NGB dit nie hier in artikel 2 nie, God het ook ‘n middel gegee waardeur ons, sondige mense, van ons kant met Hom kan kommunikeer.
Dit is die gebed.
Deur die gebed verloop die kommunikasie van ons kant na God toe.
En, openbaar die Skrif aan ons, as ons die gebed bid in die Naam van sy Seun, ons Here Jesus Christus, dan is daar die absolute sekerheid dat God in die hemel daardie gebed hoor en verhoor.
Ons sal later weer daarby kom.
Vanaand staan dus sentraal die manier waarop die kommunikasie van God na die mense toe plaasvind.
En soos ek genoem het, aan die eerste middel skenk ons vanaand aandag.
Hierdie eerste middel is baie omvangryk.
Die NGB skryf: dit is die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.
Ons praat hier oor die totale werklikheid om ons heen.
Dit is eerstens deur God geskape.
Die feit dat daar so ‘n asemrowende skepping bestaan, dit skreeu in alle toonaarde uit dat daar ‘n Skepper moet wees!
Ek vra soms vir my katkisante: Wat is die mooiste plek waar jy ooit al was?
Mens hoor dan verskillende antwoorde: die see aan die Kaapse kus, of die wildekus, of St. Lucia, of die bosveld, of die Drakensberge, of die Kalahari, en so is daar nog baie voorbeelde.
Nou as mens probeer analiseer hoekom daardie plek vir hulle die mooiste is, dan is dit dikwels so dat dit plekke is waar mens self baie klein en nietig voel, omring deur die grootsheid, die asemrowendheid van die skepping; en dat dit oor ‘n skoonheid gaan wat so oorweldigend is, dat die besef onweerstaanbaar in ‘n mens opborrel dat dit nie toevallig kan wees nie.
Die skepping, veral op sulke plekke, is soos ‘n Halleluja-koor wat juig en galm tot eer van sy Skepper.
En geen mens ontkom aan die indruk daarvan nie.
Dit in die eerste plek.
Maar dan is daar ook nog, skryf die NGB, die onderhouding van die hele wêreld.
Kyk, wanneer ‘n bouer ‘n huis bou, maar daar trek nooit iemand in nie, en die huis bly net daar verlate staan, dan sal die huis vervalle raak.
Sonder onderhoud bly ‘n huis nooit mooi nie.
Nou dit is die tweede ding wat mense agterkom as hulle om hulle heen kyk.
In die skepping, in die wêreld om ons heen, vind daar onderhoud plaas.
Diere bly lewe.
Plante bly groei.
Nuwe diere word gebore.
Nuwe plante kom uit die grond uit op.
En dit alles sonder dat die mens ‘n hand daarin het.
Wie doen al hierdie onderhoud van die skepping?
Dit is ‘n vraag wat op elke mens op aarde afkom.
En veral nou in die lente, ons bevind ons nou in Oktober, soos die ou gedig sê, die mooiste mooiste maand – wie sorg dat dit weer die mooiste mooiste maand word?
Ek staan elke jaar weer verwonderd.
As mens ‘n jakaranda boom in Septembermaand vergelyk met een in Oktobermaand.
In Septembermaand is dit dor en droog en geen lewe is sigbaar aan die boom nie.
In Oktober word die hele boom omgetower tot ‘n skouspel van kleur.
Hoe is dit moontlik?
Ja, natuurkundiges kan vir jou dinge vertel oor grondwater, die boom se wortels, die boom se skakelaar wat as’t ware aangeskakel word sodra die omstandighede reg is, die regte temperatuur ensovoorts.
Mens kan baie verklarings gee, maar aan die einde van die dag bly die vraag oor, wie kon dit alles so ontwerp het, wie sorg elke keer maar weer vir die gunstige omstandighede vir die skepping om te floreer?
Ja daar IS iemand wat wat dit alles moet onderhou.
Geen mens kan om daardie besef heen nie!
Dit in die tweede plek.
En dan in die derde plek noem die NGB ook nog die regering van die hele wêreld.
Dan praat ons, as ons byvoorbeeld terugkyk, na die geskiedenis van die mensheid, die geskiedenis van die diereryk, die planteryk, die geskiedenis van die heelal.
Hoekom verloop dinge soos dit verloop?
Is dit alles net pure toeval?
Jy kan by jouself begin.
Hoekom bestaan jy?
Hoekom lyk jy soos jy lyk?
Hoekom het jy die spesifieke pa en ma gekry wat jou ouers is?
Is dit alles net toevallig?
Ook hier dring onweerstaanbaar die vraag homself aan elke mens op:
Daar moet ‘n hoër hand wees wat die wêreld regeer.
En soos Totius Psalm 19 so treffend berym het, daar is geen mens en geen volk, waar hulle ook op aarde woon en in watter toestand hulle ook al verkeer, wat nie gevoelig is vir daardie boodskap uit die skepping nie:
“Geen volk so onbegaaf, geen oor so onbeskaaf wat nie dié taal verstaan.” (Ps 19:2 – berymd)
(Tema: Die Goddelike stem wat klink in die loflied van die skepping
- In sy genade klink God se stem deur middel van die skepping)
- In sy opstand ignoreer die mens God se stem
Maar hoe is dit dan moontlik, as die skepping sulke duidelike taal praat, dat daar tog soveel mense op aarde is, wat God nie dien nie?
By hierdie vraag kan Romeine 1, wat ons vanaand gelees het, ons verder help.
Daar is naamlik ‘n verskil tussen ken en erken.
Elke mens kan die HERE ken, die skepping spreek boekdele oor sy Skepper.
Maar elke mens erken nie die HERE nie.
Romeine 1 sê: mense onderdruk die waarheid.
Hulle is siende blind.
Hulle sien, ja beslis, maar hulle wil nie krediet gee vir dit wat hulle sien nie.
In Romeine 1:20 gebruik Paulus ‘n woord wat nie net dui op sintuiglik sien, sintuiglik waarneem nie.
Hy gebruik ‘n woord wat ook dui op waarneem met jou gees.
Dis soos wanneer jy die Drakensberge sien, maar jy sien nie net die skouspelagtige berge terwyl dit jou onberoerd laat nie, maar jy word ook oorweldig in jou gees deur sulke skoonheid en grootsheid.
Waartydens mens dan moeilik ‘n ervaring van goddelikheid kan onderdruk.
Maar, skryf Paulus, juis daardie ervaring, dat God tot jou spreek deur sy skeppingsprag, word nou deur die mens onderdruk.
Sodra daardie besef opkom, verdring die opstandige mens daardie gedagte.
Dis nie omdat God self onsigbaar is dat mense Hom nie sien nie, dis omdat hulle weier om Hom die eer te gee, as hulle die werke van sy hande sien.
En dit gaan natuurlik terug op die sondeval, elke mens se opstand teen God sy Skepper.
Sedert die sondeval, soos ek genoem het, is daar nie meer onmiddelike kommunikasie tussen God en mens, van aangesig tot aangesig nie.
Maar dit neem nie weg nie dat God nog steeds duidelik met die mensdom op aarde kommunikeer.
Sy skepping is soos ‘n mooi boek, waarin alle skepselfs, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien.
God se ewige krag en goddelikheid – die NGB haal hierdie woorde uit Romeine 1:20 aan.
Dit is die helder en duidelike boodskap wat uit die skepping spreek tot elke mens, of daardie mens nou in Jerusalem woon, of in Afrika, of in Australië, of in Asië, of in Amerika, of in Athene, of in Rome, soos die mense aan wie Paulus sy brief skryf.
Vir geen mens op aarde is daar ‘n verontskuldiging nie.
Geen mens kan sê: Ek kon God nie ken nie.
Elke mens ontvang tydens sy lewe op aarde daardie oorweldigende getuienis van die Halleluja-koor wat die hele skepping sing.
So die probleem lê nie by God nie.
Die probleem lê elders, en dit maak Romeine 1 aan ons baie duidelik.
Die probleem is naamlik dat die mens op aarde nie meer in God belangstel nie.
Vers 28 sê: “hulle het dit nie die moeite werd geag om God in erkentenis te hou nie ...”
Die Nuwe Vertaling vertaal hier: “omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie”.
Hoekom nie?
Omdat elke mens besef dat as hy God ken, hy ook God se eienaarskap van sy lewe moet erken, en hy ook God, wat die Skepper van die menselewe is, se instruksies moet erken, hoe ‘n mens op aarde behoort te lewe.
Maar daarin stel die mens van nature nie meer belang nie.
Hy wil mos, na sy opstand teen God, nou sy eie koers vaar.
Paulus skryf: Hy stel nie meer in sy God belang nie, maar hy stel wel belang in hoerery, boosheid, hebsug, ondeug, nyd, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid, ja allerhande ongeregtigheid.
En omdat hy verslaaf geraak het aan hierdie dinge, onderdruk hy die magtige boodskap wat uit die skepping tot hom kom.
In sy opstand teen God, gee die mensdom homself oor aan slegte dinge.
En die besef dat daar ‘n oordeel op koms is, onderdruk die mensdom deur ‘n losbandige lewe.
Die etiese en sosiale verval van die mensdom waaroor ons in Romeine 1 lees, dui Paulus as ‘n straf op hierdie ignorering van God.
Dit gaan selfs nog ‘n stappie erger: die mens ignoreer nie net sy God en Skepper nie, hy dink vervolgens vir homself ander gode, afgode, uit om die plek in te neem van die lewende God.
Soos iemand ‘n keer gesê het: die mens op aarde is ‘n fabriek wat die heeltyd afgode produseer.
Romeine 1:23: Die onverganklike God ruil die mens in vir afgode wat soos verganklike mense lyk, of soos voëls of diere.
Toe die HERE aan sy volk by Horeb verskyn het, het Hy hulle gewaarsku, noudat hulle Hom leer ken het, om nie dit te doen soos die heidene steeds doen nie:
“Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele ... sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ‘n gesnede beeld, ‘n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: ‘n afbeelding van man of vrou, ‘n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ‘n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg, ‘n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ‘n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is ...” en “jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie ...” (Deut 4:15v)
Die afgodediens is ‘n straf op die ignorering van die ware God.
En die essensie van afgodsdiens is dat die mens homself op die troon plaas.
Hy doen wat hy wil.
Die afgode dans na sy pype.
Die goeie skeppingsorde soos God dit ontwerp het, keer die mens nou om.
Byvoorbeeld, wat seksueel normaal is, geskape deur God, verdraai die mens in sy teendeel, abnormaal.
Die heteroseksuele skeppingsorde word ingewissel vir onnatuurlike homoseksuele gedrag.
So word die mens se eie optrede sy straf.
God se straf in hierdie geval is dus dat hy die mense aan hulleself oorlaat, met die gevolg dat hulle hulleself op die ou end stukkend maak.
En die ergste is dan dat die mens homself in die tussentyd wysmaak, dat hierdie skewe lewenswyse eintlik normaal is.
So redeneer die mens wat nie van God wil weet nie, ook dat die dood byvoorbeeld normaal is.
Dat die dood maar net ‘n waardige afsluiting van die lewe is.
Ja die mensdom wat homself tot ‘n god geword het, vernietig homself stelselmatig.
En dit omdat hy nie wil sien, luister en erken, dat die lewende God se stem tot hom kom uit die skepping nie.
Artikel 2 van die NGB sê daarom tereg, verwysende na Romeine 1, al hierdie dinge – die gesamentlike stem wat tot ons kom uit die skepping, onderhouding en regering van die wêreld – al hierdie dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.
Die skepping roep ons op om die Skepper te loof.
As die mens dit weier, het God alle rede tot toorn.
God is die Maker van alles en moet daarom gedien en geprys word tot in ewigheid (vers 25).
Hy wil geken en erken word, nie misken en vergeet word nie (vers 28).
Geliefde gemeente, dit was met hierdie besef, en hierdie boodskap, wat die eerste sendelinge hier na Suider-Afrika gekom het.
Die wilde heidene wat hulle hier ontmoet het, was nie onskuldige edele barbare nie.
Hulle was ook mense wat God hulle Skepper kon leer ken uit die skepping om hulle heen.
Hulle was dus ook mense sonder ‘n verontskuldiging.
Die sendelinge het nie gekom met die boodskap van ‘n vreemde God nie.
Hulle het ‘n in wese bekende God aan hulle kom preek.
‘n God wat hulle reeds moes geken het.
Maar die kennis en die erkenning van daardie God het hulle in ongeregtigheid onderdruk, en in plek van Hom het hulle afgode uitgedink.
Net soos Paulus by die Areopagus die heidense Grieke, wat ‘n baie lewendige godsbesef gehad het, agter die afgode weggeroep het na die kennis en erkenning van die enige ware en lewende God, Handelinge 17:
“Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee ... want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Hand 17:24-28).
En geliefde gemeente, ook vandag, as ons van ons God getuig, as ons met bure of kollegas of wie ook al praat oor die God wat ons dien, dan kan ons dit doen met die besef dat Hy nie ‘n vreemde God vir enige mens is nie.
Elke mens behoort Hom alreeds te ken, want die getuienis van die skepping kom al op hulle af, so lank as wat hulle lewe.
Dis net dat hulle geneig is, soos elke in sonde gevalle mens, om daardie kennis te onderdruk.
En dit is nie ‘n onskuldige saak nie.
Dit was nie so wat betref die mense in Rome, toe Paulus die Romeinebrief geskryf het nie, en dit is vandag nog steeds nie so nie.
As ‘n mens sy lewe lank die stem van die skepping, wat spreek oor die lewende God, verdring en nie daarna luister nie, dat sal dit op die oordeelsdag teen hom gehou word.
Geen mens is onpartydig nie, elke mens is van nature ‘n vyand van God.
Nou Paulus skryf hierdie dinge, juis met die begeerte dat hulle wat dit lees gered word.
Romeine 1 begin met die heerlike Evangelie omtrent Jesus Christus.
Die Evangelie van Christus is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.
En as ons oor Christus praat, dan kom ons by die tweede middel waaroor artikel 2 van die NGB skryf.
Uit die tweede middel blyk dat God dubbel genadig is.
God sou volledig in sy reg gestaan het, as Hy die mensheid veroordeel op die aanklag dat hulle die getuienis uit die skepping verdring het.
Maar uit loutere genade het Hy besluit om die mensdom nog ‘n kans te gee.
In Christus, in sy Woord, kom Hy nog soveel duideliker na die aarde.
Aan hierdie twee middel gaan ons in die volgende preek nader aandag skenk.
Maar die eerste en tweede middel is onafskeidelik verbonde.
As ons vanaand weer die kerk verlaat, en môre met ‘n nuwe werkweek begin, laat ons hierdie week met oop oë ingaan.
Ook oop oë van ons gees.
Want orals om ons heen, in sy hele skepping, onderhouding en regering van die wêreld, spreek God tot ons.
En wat is ons bevoorreg, as ons dit erken.
So maak Christus ons ook ‘n suurdeeg in die samelewing.
Ons mag met ons woorde en dade sy Naam bely.
Want dit is slegs en alleen deur sy Naam dat daar redding moontlik is vir ‘n mens op aarde.
En as ons so van Christus getuig, dan mag ons ons gesterk weet deur die boodskap van vandag se preek.
Ons benader mense met ‘n boodskap, nie van ‘n vreemde God nie, maar een wat al besig is om met hulle te praat van die begin van hulle lewe af, deur sy skepping, onderhouding en regering van alle dinge.
As ons van Christus getuig, kom ons nie met ‘n vreemde boodskap nie.
Ons kom met ‘n Evangelie, wat naatloos pas by God se spreke deur sy skepping.
Kom ons loof die HERE saam met sy hele skepping.
Die mens is die kroon van die skepping.
As iemand die Skepper behoort te loof, is dit ons.
Saam met die koor van die natuur.
Loof van die aard die HEER se naam,
o walvis, met die dieptes saam.
Loof, sneeu en damp! Loof, vuur en hael.
Loof, win wat aanstorm oor die velde.
Loof, berg en bult, en boom en vrug.
Loof, wilde dier’ en alle vee.
Loof voëls in die vrye lug.
Maar bowe al:
laat alle mense saam die HERE prys!
Die maagde met die jongelinge.
Sing, oud en jonk, verruk van vreug – wees in die God van heil verheug!
Amen.
Votum
Seën
Ps 19:1
Gebed
Skriflesing: Romeine 1
Ps 19:2,3
Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 2
Preek
Ps 148:3,4,5
Gebed
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 95:1,3
Kollekte
Ps 150:1,2,3
Seën